SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Dit help nie om te veg vir Afrikaans as ons dit só doen nie

Joan Hambidge

Die debat op Stellenbosch oor Engfrikaans het opnuut bewys dat Afrikaanssprekers nie dieselfde voel oor die Taal nie. Verskillende sprekers kon hul kundigheid en onkunde ten toon stel, met die gehoor wat applous lewer. Jackie Nagtegaal, Lezel Amoraal, Lucas Malan, Melvin Whitebooi en Jannie Gagiano was die sprekers. Met ’n gehoor wat luid applous gelewer het, veral as Antjie Krog se uitsprake verdag gemaak is. Of as sy gekapittel was vir haar gebruik van “poetry” in ’n gedig. ’n Bruin spreker se opmerking dat waarom Standaardafrikaans klink en lyk soos sy klink, is beslis ’n gelade politieke vraag. En natuurlik kry dit wat as standaard beskou word, voorkeur deur die Taalkommissie, wat altyd uit ’n bevoorregte posisie praat en skryf.

Die aand het — wat my betref — behoort aan Jackie Nagtegaal, wat ’n uiters intelligente toespraak gelewer het. (Sy is terloops uiters onhoflik behandel deur ’n medespreker wat haar boek afgekraak het in haar teenwoordigheid.) Sy het speels verwys na hoe sy haar in haar kamer toegesluit het met Die laaste Afrikaanse boek en Raka, en die woorde wat hulle gebruik het, nageslaan het in die Afrikaanse Woordeboek. Baie snaaks het sy na Engfrikaans versus Holfrikaans verwys (die taal van haar Hollandse vader) — en ja, ons het beslis ’n nuwe taalmonument nodig: Pramberg.

Die verskillende sprekers het elkeen vanuit hul eie perspektief gepraat: as joernalis, opvoeder of taalsosioloog.

Lezel Amoraal het eweneens gelyk wanneer sy die taalgebruik van die jongelinge identifiseer en erken. Sou ons dalk kan praat van Coolafrikaans? En sy is wel gekritiseer deur ou stryders wat meen dat as jy eers op die sypaadjies geland het, sal dit moeilik wees om weer op die nasionale pad van Standaardafrikaans te land.

Lucas Malan se sieninge was kompleks en gefundeerd. Hy is van mening dat vele mense eerder met lukrake waarnemings en veralgemenings werk, eerder as met feite. Dit is ook nie korrek dat die beskermers van ’n korrekte Afrikaans as die taalpolisie gesien moet word nie. Hy is bewus van die feit dat daar nie so iets as ’n suiwer taal bestaan nie, maar hy voel tog dat die gebruik van Engelse woorde ’n soort kruiperigheid openbaar. Volgens hom is Krog se jongste digbundel bederf deur die gebruik van geforseerde Engelse woorde. Hy sluit dan ook klinkend af met Ina Rousseau se gedig “Die seuns en dogters van die mense 4” (hier onder weergegee), waarin die woorde haai en baai ’n taalarmoede openbaar. Hy vrees ’n geslag wat so taalgestremd is dat hulle net boe en ba kan sê.

Vir Melvin Whitebooi wil Die Son Afrikaans bevry, terwyl Jannie Gagiano se speelse toespraak wys op die bedreiging van die Afrikaanse spreker wat aan ’n soort borrelsiekte ly. Hierdie spreker het ’n nuttige analise gemaak van die bedreigdheid van taalsprekers: dat ons die posisie van mag verloor het.

’n Vraesteller het ook gewys op die ontwikkeling van ou Hebreeus tot moderne Hebreeus. ’n Noodwendige verskynsel volgens prof Johan Cook, ’n kenner van klassieke tale. En Ronnie Belcher se aandoenlike belydenis dat hy Afrikaans geword het omdat dit so ’n mooi taal is, was waarskynlik die mees openbarende oomblik van die aand.

Wat is die nut van so ’n aand? Veral as daar geen Engelse deelnemers aan so ’n debat is nie?

Miskien moet ons ’n Afrikaanse Nasionale Dag uitroep en weer en weer CP Hoogenhout se “Vooruitgang” voordra:
Engels! Engels! alles Engels! Engels wat jy sien en hoor; in ons skole, in ons kerke, word ons moedertaal vermoor.

Verder skryf die digter dat die gevoel van beskawing en vooruitgang “ouderwets en dom” is.

Mooie woorde, holle klanke, vrome praatjies geen gebrek.

Was CP Hoogenhout ’n madame Blavatsky, dat hy in die toekoms in kon sien tot in die Jannasch-saal op Stellenbosch? Met die wete dat ons vandag nog steeds so voel soos hy dig?

Dit help nie om te veg vir Afrikaans as ons dit só doen nie. Ons moet Engelse sprekers of akademici uit die Engelse departemente ook nooi. Hoekom was Annie Gagiano nie daar nie? Sy sou ’n belangrike inset kon lewer. En hoekom was Antjie Krog nie daar nie? Haar naam is die meeste genoem en sy is die verwyt gemaak oor die gebruik van Engelse woorde in haar gedigte. Of nooi ’n linguis soos Roger Lass wat taalverskynsels kan verduidelik.

Anders klink dit net na ’n herhaling van dieselfde emosionele argumente gemaak voor dieselfde toehoorders wat ’n kortstondige oomblik van geluk ervaar. Was dit toevallig dat Jackie Nagtegaal weer Raka gaan lees het?

Inderdaad het ons die gevoel gekry dat iemand die hek teen Raka (oftewel Engels) sal moet sluit. Is Koki se rug werklik gebreek? Ek glo nie. Daarvoor is daar nog te veel lewe oor, en juis die bestaan van verskillende soorte Afrikaans (Engfrikaans, Holfrikaans, Coolfrikaans, Akademifrikaans, Zenfrikaans, Klafrikaans, Digfrikaans) bevestig dit.

Die seuns en dogters van die mense 4

Ina Rousseau

Die mense se jeugdige kinders dwaal rond
oor die globale dorp, in verwondering
oor allerlei ditjies en datjies:
kloktorings, kloosters, Hansa-stadjies,
eksotiese kosse, bosse van berke en lorke.
Maar af en toe keer hulle terug
na hulle geboorteplekke, met sakke
vuil wasgoed, wat hulle neerplak
langs die masjien in die kombuis
voor hulle in die spens
gaan brood sny, en die snye smeer
met varkvet en frambooskonfyt.
Oor ’n baie baie kort rukkie — ná ’n sessie onder die stort —
sal hulle die rugsakke, nou gepak
met kraakskoon klere, weer haak
oor hulle skouers, hulle ouers
goediglik oor dit en dat vermaan
en dan, opnuut gelok deur Milaan
se fraai klanke, ’n winkel in Dubai
of ’n bistro digby die Sorbonne,
die pad vat
vliegveld toe. Ja, die mense se kinders
kom en die mense se kinders gaan.
Hulle sê haai as hulle kom
en baai as hulle gaan.

4 Desember 2003

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.