SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

  Heindrich Wyngaard
is tans assistent-redakteur op Rapport se hoofredaksie in Johannesburg. Hy het voorheen as adjunk-direkteur: mediaskakeling gewerk in die kantoor van die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, en was ook politieke nuusredakteur by Die Burger en artikelredakteur by INSIG.

Nierassigheid in Afrikaans

Heindrich Wyngaard

(Hierdie toespraak maak deel uit van die Jakes Gerwel-Gesprekkereeks wat plaasgevind het tydens die pas afgelope Die Burger-Suidoosterfees by die Skiereiland Technikon (Pentech) te Bellville.)


Dit beteken vir my baie, as ’n trotse oudstudent van die Technikon Skiereiland, dat ek vanoggend die geleentheid gegun word om aan hierdie gesprek deel te mag neem.

En ek vertrou dat ek ’n sinvolle bydrae tot die gesprek sal maak, maar ook — en dalk veral — dat u begrip sal hê daarvoor dat ek, soos wat my skrywer-”Idols” Adam Small en die Amerikaner James Baldwin se gewoonte ook was, altyd maar uit persoonlike ervaring praat.

* * *

Dit is 1993 en ek, ’n Afrikaanse plattelandse outjie, kom die oggend min of meer dié tyd uitasem van die Pentech-stasie op die kampus aan vir die begin van die eerstejaars se oriënteringsweek. En hier, in die Technikon se biblioteek — met my is en are, en my was en were nog erg deurmekaar, kom verdrink ek as ‘t ware in ’n see van Engels ...

Maar dit was ook hier op dié kampus dat ek vir die eerste keer myself in ’n omgewing bevind het waar ek in een klas gesit het saam met wit en bruin en swart, in ’n atmosfeer gevul met die wonderlike klanke van Afrikaans, Engels en Xhosa. Dit is hier op Pentech dat ek geleer het van mense is mense; dat ek gesien het ons almal, ongeag velkleur, maak dieselfde menslike foute; dat ek ervaar het hoe universeel humor kan wees. En dis ook hier waar my beperkte Overbergse politieke bewustheid opgeskerp is.

(En om te dink dat ek toe waaragtig die jaar daarna in die land se eerste demokratiese en — let wel — veelrassige verkiesing vir — let weer op die woordkeuse — FW de Klerk gestem het.)

Nou is dit tien jaar later — en ek is terug op die kampus om saam koppe bymekaar te sit oor hoe dit deesdae staan met nierassigheid in Afrikaans. Hoe lyk en klink dit? En of die einde van Apartheid ’n ruimte geskep het waarin die Afrikaanse leefwêreld vry van rassedenke en -praktyke geword het.

O, ja, as jy my vra, bestaan daardie ruimte wel — maar dié ruimte word nog nie ten volle benut nie, indien dit enigsins benut word. Ons staan voor die aangesig van die tiende herdenking van demokrasie se koms na hierdie wye, droewe, geknelde en tog ook beautiful land — en omtrent al wat ek hoor van bruin Afrikaanse mense is dié woorde uit ’n Taliep Petersen-komposisie vir sy TV-drama Ali Barber:

Ons was eers te swart om wit te wies. Nou te wit om swart te wies.

Maar wat my die meeste onrustig maak, is die magtige dreuning van wit Afrikaanse stemme, gewone mense se stemme, wat ek hoor praat … Nié oor hoe ver ons gekom het om die gemors wat deur die voordemokrasie-regeerders agtergelaat is, reg te stel nie. En nié oor hoe versoenend swart mense dag ná dag teenoor wittes optree nie en wat wittes kan doen om dit verder aan te help nie. Jy hoor hulle ook nie sommer voorstelle maak oor wat gedoen kan word om die ekonomiese ongelykheid in die land — spesifiek ook in die Afrikaanse spraakgemeenskap oor wie dit tog vandag hier gaan — aan te spreek nie. Die meerderheid wit Afrikaanse stemme wat ’n mens hoor, is eerder die van teenkanting, kritiek en die demonisering van die broodnodige transformasieproses, regstellende aksie en die belangrike werk wat die Waarheid-en-versoeningskommissie aan die gang gesit het.

In die afgelope Sondag se Sunday Times gee prof Hermann Giliomee ’n verduideliking vir dié houding oor byvoorbeeld transformasie: hy skryf dit onder meer daaraan toe dat die regering sou nagelaat het om die konsep mooi aan wit mense te verduidelik. Dit is sulke tye dat ’n mens nie kan help om te voel dat baie wit mense hulle baie keer aspris dom hou nie; en dalk moet die skuld daarvoor juis gelê word voor die deur van leiers en denkers uit daardie gemeenskap wat hul eie mense oop oë mislei.

Nie dat ek hiermee probeer voorgee dat die transformasieproses, die toepassing van regstellende aksie en die werk van die WVK nie sonder tekortkominge was nie; dis net dat ’n mens weinig ook ’n woord van waardering vir wat daardeur probeer bereik word, uit wit Afrikaanse geledere hoor.

En dit is dan ook wanneer ’n mens die steeds redelik bevoorregte Afrikaanse wit mense so hoor kla en knaag en knor dat die woorde van ’n kerklied uit jou kinderdae skielik weer helder opklink. “Tel jou seëninge,” het ons destyds gesing, “tel hul een vir een.”

* * *

Ek praat soos wat ek vanoggend hier praat, en ek sê hierdie dinge om geen ander rede nie as dat dit — soos wat prof Jakes Gerwel dit lank terug in ’n ander konteks gestel het — “oneerlik sou wees om die naklanke en erfenis van ons rasgebaseerde geskiedenis te ontken in ons ontledings en besinnende gesprekke”.

Miskien is dit juis die probleem met die wit deel van die Afrikaanse gemeenskap in ons strewe na nierassigheid in Afrikaans: dat hulle steeds nie bereid is om hul rol in — en die voordeel wat hulle getrek het uit — die dinge van ons “rasgebaseerde geskiedenis” te erken nie.

James Baldwin het daaroor iets te sê gehad in sy essay “The White Man’s Guilt”, iets wat ek meen relevant is om hier volledig aan te haal:

History, as nearly no one seems to know, is not merely something to be read. And it does not refer merely, or even principally, to the past. On the contrary, the great force of history comes from the fact that we carry it within us, are unconsciously controlled by it in many ways, and history is literally present in all that we do.

It could scarcely be otherwise, since it is to history that we owe our frames of reference, our identities, and our aspirations. And it is with great pain and terror that one begins to realise this. In great pain and terror one begins to assess the history which has placed one where one is, and formed one’s point of view.

Natuurlik bly ’n mens ook alte bewus daarvan, wanneer jy jou oor dié dinge uitlaat, dat Afrikaners, soos seker maar alle groepe, erg kleinserig is wanneer hulle gekritiseer word. Van Wyk Louw het in sy essay oor volkskritiek gesê Afrikaners het kritiek nog altyd ervaar “as ’n aanval teen ons bestaan: as ’n aanval wanneer dit van ’n buitestaander kom, en as verraad wanneer dit een van ons eie mense was wat gepraat het”.

Die kritiek sou dus nooit bedoel wees om die groep te versterk nie, was en is die opvatting. Dit is eerder ’n poging “om ons te vernietig“.

Maar die digter en filosoof Adam Small — hy wat ons geleer het van die oorwinningskrag van broederlike liefde — het ons ook lankal reeds — en heeltemal tereg — daarop gewys dat niemand meer sonder sonde is nie. Ook die bruin Afrikaanse mense is nie daarsonder nie — en daarmee saam: ek, met my slimbekgeit, soos my ma sou sê; en dit is dalk juis deur my slimbekgeit dat ek voortgaan om “rasse-sonde” te pleeg.

En so, as dit dan waar is dat niemand meer sonder sonde is nie, word ek gedwing om ook die vraag te stel wat bruin Afrikaanse mense te doen staan — of waar hulle staan — as dit kom by hierdie strewe na nierassigheid waarna ek ook vroeër verwys het.

’n Moontlike antwoord, voordat ’n mens enige antwoord aan die hand probeer doen, is dat te veel van ons nog alte maklik kla dat ons kwansuis vandag nie swart genoeg is om voordeel uit die nuwe bedeling te trek nie, maar terselfdertyd nie wil erken dat daar in vele opsigte beter na ons as na swart mense omgesien is in die ou bedeling nie.

Ook het ons mos in die verlede daaraan gewoond geraak, soos wit Afrikaanse mense, dat die goewerment sal voorsien — net, in dié geval was die goewerment ’n derderangse swemspan in die Driekamerparlement se Raad van Verteenwoordigers.

Dit is dus ewe skynheilig van bruin Afrikaanse mense om van hul wit taalgenote te verwag om openlik oor hul apartheidsgeraamtes in die kas te praat, terwyl hulle nog nie self bereid is om dit te doen nie.

* * *

Gegewe hul “lotsgebondenheid”, sou ’n mens dus verwag dat wit en bruin Afrikaanssprekers teen dié tyd heelwat vordering moes gemaak het om nierassigheid in Afrikaans ’n werklikheid te maak.

Dit moet egter nie vir een oomblik klink of daar nog niks gebeur het nie. Ofskoon geen van die histories Afrikaanse tersiêre instellings tot nou ’n niewit hoof het nie, is daar darem reeds ’n hele aantal niewit Afrikaanses in sleutelposte by sodanige aanstellings aangestel. En terwyl daar ook nog nie ’n niewit redakteur by enige van die hoofstroom Afrikaanse koerante en tydskrifte aangestel is nie, is verskeie bruin joernaliste reeds tot senior posisies by dié publikasies bevorder.

Ook die direksies van groot Afrikaanse maatskappye en die van Afrikaanse kunstefeeste lyk tans meer verteenwoordigend van die breë Afrikaanse gemeenskap. Of dit genoegsame vordering is, behoort die onderwerp van ’n volgende debat te wees, maar dit is veilig om te sê hoe meer van die genoemde aanstellings gemaak word, hoe groter is die kanse dat Afrikaanse instellings en die Afrikaanse gemeenskap ’n nierassige klank of “kleur” sal aanneem.

En hiermee bedoel ek nie die bespotting wat van nierassigheid gemaak word in sepies soos Sewende Laan en programme soos Pasella en Belboks waar niewit Afrikaanse akteurs en aanbieders gemaak word om soos wit mense te praat nie. Die uitbou van Afrikaans se diverse tongvalle behoort veel eerder — en veel meer — aangemoedig te word.

En net dat dit nie begin klink of ek uitsluitlik op die negatiewe konsentreer en niks positief te sê het nie, wil ek afsluit met die volgende gedagte: ’n Mens sien tog die eerste werklike tekens van nierassigheid in Afrikaans wortel skiet by voormalige wit skole, veral laerskole, waar bruin en wit kinders saam opgevoed word. Of is dit maar net omdat die bruin Afrikaanse kind goed inpas of aanpas by die wit omgewing?

Baie dankie dat u na my geluister het.

Lesers kan via e-pos na Deborah Steinmair by webvoet@yahoo.com op die artikel reageer.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.