SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

  Hein Willemse
Hein Willemse is professor in Letterkunde en hoof van die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria. Hy is hoofredakteur van die Tydskrif vir Letterkunde en ’n direksielid van Naspers. Hy skryf hier in sy persoonlike hoedanigheid.

Op pad na ’n ruim Afrikaans — ’n bydrae oor nierassigheid in Afrikaans


Hein Willemse

(Hierdie toespraak maak deel uit van die Jakes Gerwel-Gesprekkereeks wat plaasgevind het tydens die pas afgelope Die Burger-Suidoosterfees by die Skiereiland Technikon (Pentech) te Bellville.)


1

Ek het dit goed gedink om my voordrag met vier anekdotes te begin. Anekdotes is verleidelik, want dit dra die spore van ’n halfvertelde konteks en dis altyd oop vir interpretasie.

Anekdote een. In 1977 is ek en Cecyl Esau, ’n ou skoolvriend en woelige aktivis, een Sondagoggend op een of ander onheilige missie op pad Kaapstad toe. Ons moes treinkaartjies op Bellville-stasie koop. Ek het ’n swaar elektriese tikmasjien gedra en Cecyl moes die kaartjies koop. Hy vra toe “two returns to Cape Town, third class”.

Die oorgewig kaartjieverkoper het verbaas na hom gekyk. “Wat ’n ! Praat Afrikaans! Wat wil jy hÍ ’n ”

“Two third class returns to Cape Town,” het Cecyl volgehou. Die man het van agter sy kaartjievenster uitgespring en met ’n stok op ons afgestorm. “Praat Afrikaans, jou donder!”

Teen sy natuur het Cecyl hom bedink en toe Afrikaans gepraat. Ons was besig met een of ander ondergrondse doenigheid. Ons kon nie bekostig om by ’n geveg oor taal betrokke te raak wat onnodig die aandag op ons sou vestig nie.

Anekdote twee. Goed ’n dekade of wat gelede vlieg ek en ’n letterkundige kollega, Ampie Coetzee, vanaf Kaapstad na Johannesburg. Tydens die vlug praat ons oor ditjies en datjies, die hoog en laag van die land. Op Johannesburg-lughawe, toe nog Jan Smuts, stap een van ons medepassasiers ons tegemoet. Hy gee my ’n broederlike klap op die skouer, neem my hand en sÍ: “Baie dankie dat jy Afrikaans praat. Ek is so bly dat jy my taal praat.” Dit was nie die eerste of die laaste keer dat dit gebeur het nie.

Anekdote drie. Minder as ’n maand voor sy dood in 1998 besoek ek Achmat Davids, die vermaarde kultuurkundige en ’n bekende Afrikaanse taalnavorser. Achmat was toe ’n bestuurslid van ’n Kaapse gemeenskapsradiostasie, gewy aan die uitbou van Islam. Hulle saai in Afrikaans, Arabies en Engels uit. Op sy lessenaar lÍ ’n uitnodiging om lid te word van die ATKV. Hy het die papier opgetel en van die vereistes voorgelees, onder meer dat diť kultuurorganisasie “gekenmerk word deur sy Christelik-Bybelse grondslag”, maar nie “teen enige persoon op grond van ras of geslag” diskrimineer nie. Hy het die uitnodiging neergesit en gesÍ, “Hulle vattie Slamse of Jore or Communists nie ...”

Anekdote vier. Onlangs verkeer ek met ’n aantal Afrikaanse skrywers en hul vriende om ’n vuur. Dit is gesellig. Laataand, nadat die vleis gesak het en die kele behoorlik natgemaak is, begin ons !xthorro, stuk sny. Grappe en vertellinge. Een van ons gespreksgenote vertel van ’n vakansieplaas waar visse uit ’n rivier se waters spring. Maar, vertel hy, die parkopsigter vang ten spyte van hierdie mildelikheid nie vis nie, want “kaffers kan nie swem nie”. Ons gespreksgenoot is nie ’n wit spreker van Afrikaans nie.

Ja, anekdotes is oop vir interpretasies, maar dit is ook aanduidend van ingesteldhede en persepsies wat ons kumulatiewe ervarings illustreer en selfs verklaar. In elkeen van hierdie gevalle herken ons ingesteldhede wat dikwels met Afrikaans verbind word: brutaliteit, benepenheid, rassisme, oorywerige assosiasie, patronisering, eiendomlikheid, verengde interpretasies van kultuur en gemeenskap. Maar diť ingesteldhede is nie die taal se skuld nie. ’n Taal — as ’n patroon van tekens en ’n veeldimensionele kommunikasiesisteem — kan as sodanig tog nie brutaal of rassisties wees nie ’n Net so min as wat ’n taal as taal kan verdruk ’n Daardie skuld moet deur sy sprekers gedra word. Dit is die praters van Afrikaans wat in my verkapte anekdotes brutaal, benepe en rassisties is.

Selfs toe Afrikaans as taal van die verdrukker, die taal van die baas en die taal van apartheid bestempel is, was dit terselfdertyd die taal van die bevryder en die taal van klaas. Dit is inderdaad ook ’n taal vir ’n ruimer Suid-Afrika.

In ons onlangse geskiedenis is dit ter sake om die anti-apartheidsgeskiedenisse van Kaapse Afrikaanssprekendes in herinnering te roep. Dink byvoorbeeld aan Basil February, wat in 1967 een van die eerste MK-vegters was wat in die stryd om bevryding gesterf het. Dink aan die tragiese geskiedenisse van aktiviste soos Hennie Ferrus, Anton Fransch, Ashley Kriel, Dulcie September en Coline Williams. Dink ook aan Quentin Michels, ’n voormalige onderwyser in Manenberg, wat in 1987 tydens sy hofsaak die noodsaak vir “revolusionÍre stryd” in Afrikaans regverdig het. Of dink aan Cecyl Esau, wat in die loop van sy verklaring in dieselfde hofsaak die volgende woorde van Van Wyk Louw sonder ironie kon aanhaal: “Dis nie ’n skande as ’n rebellie misluk nie, maar dis ’n skande as ’n geslag sonder ’n rebellie verbygaan.” Dit is dus ook hierdie praters van Afrikaans, en mense soos hulle, wat aktief ’n ruimer Suid-Afrikaansheid, ’n nierassigheid as u wil, moontlik gemaak het.


2

Hedendaags vra bekommerde wit Afrikaanse aktiviste dikwels waarom hou swart — hulle praat meesal van “bruin” — Afrikaanse intellektuele hulle so skaars as dit kom by agitasie vir Afrikaans. “Waarom help julle nie om die saak vir Afrikaans te beding nie ’n Waarom verdedig julle nie saam met ons die agteruitgang van Afrikaans in die owerheidsektor nie ’n Dit raak julle tog ook. Waarom staan julle nie saam met ons in die stryd vir Afrikaans nie ’n Waarom die skepsis ’n ”

Die antwoord, dink ek, moet gesoek word in die belange wat Afrikaans verteenwoordig. Ten spyte daarvan dat die taal ’n gedeelde bate is — dat mense vanuit uiteenlopende agtergronde dit praat — verteenwoordig dit vir hoofsaaklik een gedeelte van die Afrikaanse taalgemeenskap politieke, sosiale, emosionele en ekonomiese belange. Afrikaans is vir daardie deel van die taalgemeenskap ’n kernelement in hul kulturele prestasie, hul uniekheid, hul politieke beheer, hul politieke verlies, die triomf voorheen en die teenspoed tans van hul nasionalisme. Afrikaans verteenwoordig die volle omvang van hul identiteit. Dit is die taal van die gesin, van die werk, van die skool, van die kerk, van die sosiale lewe. Die taal omvat meesal ’n volle bestaan.

Vanuit diť hoek word Afrikaans ’n kleinood wat beskerm moet word, ’n kosbaarheid wat bedreig en ondergedompel word deur die aanslae van ’n nuwe Suid-Afrika. In beskerming van hierdie kleinood wat die kern van Afrikanerskap verteenwoordig, word belangegroepe gestig, individue en organisasies opgeroep in ’n “nuwe taalstryd”. Meesal val dit wat Afrikaans verteenwoordig, saam met sosiale en politieke agendas waarmee voorbrand vir “opvolgskikkings” of derglike strategieŽ beding word. Soms word toenadering met individue uit die res van die taalgemeenskap gesoek, maar kort voor lank kristalliseer die subteks in die politieke en ekonomiese begeertes van die Afrikaner. Afrikaans word die teken van die belange wat die “bedreigde Afrikaner” moet verdedig.

Watter belange verteenwoordig Afrikaans vir die oorgrote meerderheid van Afrikaanssprekendes ’n Daar is subgroeperinge vir wie Afrikaans diepgaande kulturele belange verteenwoordig. Belange wat hulle selfs met ’n passie sal verdedig. Vir die meerderheid egter is die kulturele belange gewoon historiese toeval. Hulle praat die taal omdat hul ouers en voorouers dit gepraat het. Daar is ’n emosionele band, maar eintlik dink hulle nie veel daaroor na nie. Afrikaans is gewoon ’n manier om jou uit te druk. Dit sal jammer wees as Afrikaans agteruitgaan, redeneer hulle, maar ons kan nie veel daaraan doen nie. Die meerderheid Afrikaanssprekendes is plattelands, dikwels verarmd, selfs ongeletterd, en in hoofsaak vul hulle die werkersrange van ons suidelike stede en dorpe. Diegene wat kan deurgaan as lede van ’n stedelike middelklas is aan ‘t migreer na Engels. Hulle doen dit vir statusoorwegings of bevind hulle vir jare reeds in ’n proses van ekonomiese migrasie.

Die belangrikste faktor vir hierdie afstandname van Afrikaans, dink ek, is dat die taal vir die meerderheid Afrikaanssprekendes geen ekonomiese belang inhou nie. Diegene wat in die verlede hul talige kundigheid kon gebruik, is uit posisies gehou, mindere posisies aangebied met min of geen invloed. Anders as vir Afrikaners verteenwoordig Afrikaans vir swart Afrikaanssprekendes geen kapitaal of geen potensiŽle kapitaal nie. Op die Afrikaanse platteland mag Afrikaans nog ’n volle lewe omvat, maar in die stedelike gebiede het Afrikaans verskraal tot ’n kleiner faset van ’n identiteit. Van die familielede het opwaarts migreer rigting Engels, die kerk is Engels, die skool word Engels, die werksomgewing het verengels.

Teen die agtergrond van hierdie opmerkings is dit noodsaaklik dat die meerderheid Afrikaanssprekendes Afrikaanse belange verwerf wat betekenisvoller en omvattender is as dit wat hulle tans beleef.


3

Laat ek ’n paar woorde oor die mediabedryf sÍ. Dit is diť bedryf waarin of waarmee persepsies en houdings beÔnvloed of selfs gevorm word. Ons moderne bestaan word deur populÍre kultuur en die media verwoord. Dikwels word wie ons is, of wat ons wil word, deur diť kanale vertolk. Dit is in hierdie representasies van onsself dat Afrikaanssprekendes nierassigheid, ons ruimer belewing van Suid-Afrika, in die openbaar sou kon ervaar.

Hoe word Afrikaanssprekendes in die media gerepresenteer ’n Ek het elders geskryf dat selfs al het die bakens van die verlede effens verskuif, oorheers die wit Afrikaanse ervaring steeds die produksie van Afrikaanse geestesgoedere. Vergelyk die algemene Afrikaanse publikasies, Afrikaanse populÍre kultuur in tydskrifte, televisieprogramme en -verhale of radio. Byvoorbeeld, as ek na Afrikaanse televisieprogramme kyk, hoor en sien ek meesal die verwoording en ervarings van een deel van die Afrikaanse taalgemeenskap. Dit ten spyte daarvan dat wit sprekers hoogstens 42,3 persent — en boonop ’n krimpende 42,3 persent — van eerstetaal-Afrikaanssprekendes vorm. (Sou alle Afrikaanssprekendes in berekening gebring word, sou daardie persentasie nog verder daal.) Die feit is: die perspektiewe, belewinge en versugtinge van die meerderheid Afrikaanssprekendes word nie werklik gehoor of gesien nie. Hul deelname aan televisie of radio word aangebied as gefragmenteerde onderdeeltjies in ’n oorheersend wit Afrikaanse wÍreld. Selfs die televisienuus lyk en klink asof daar net een soort Afrikaanse belewing is.

Dieselfde opvallendhede geld die openbare diskoers rondom Afrikaans. Byvoorbeeld, in die verlede het ek my al uitgespreek oor die afwesigheid van swart Afrikaanse koerant- en tydskrifredakteurs of bestuurders van media-instansies. Byna tien jaar na die vestiging van ons huidige bestel het ons nog geen enkele swart Afrikaanse koerant- of tydskrifredakteur of uitvoerende mediabestuurder nie. Die meerderheid sprekers van Afrikaans vervul in die mediawÍreld dikwels mindere posisies, met gepaardgaande mindere invloed. Dus ook minder moontlikhede om ander perspektiewe bo en behalwe die reeds bekende ervarings van die dominante minderheid te laat hoor.

Hiermee ontken ek nie die deurslaggewende rol van ’n nuwe geslag wit redakteurs nie. Ons Afrikaanse koerante en tydskrifte lyk al heelwat anders as voor 1994. Soms vertel die foto’s en stories in tydskrifte en koerante van ’n omvattender kyk op ons land en die Afrikaanse taalgemeenskap. Selfs die hoofstroom Afrikaanse radiostasies begin al ruimer klink. Die opinies van ’n breŽr worp van meningsvormers word gevra, en ja, daar is ’n linie van swart Afrikaanse adjunk- en assistentredakteurs. Maar is dŪt genoeg vir die werklike ontplooiing van ’n nierassige beeld van Afrikaans ’n

’n Vername formuleerder van eietydse representasie is die advertensiewese. ’n Algemene trek van reklame ůůr Afrikaanssprekendes is die wyse waarop hulle dikwels as agterlik, boertig, gebrekkig en onvolkome voorgestel word. Dit geld alle Afrikaanssprekendes. Die situasie is die gevolg van diep-gesetelde stereotipering, die oorheersing van die reklamewese deur internasionale maatskappye en die institusionele fokus wat metropolitaans, jonk en pueriel aandoen. Ek was onlangs ’n gas tydens die Pendoring-bekronings vir uitstaande Afrikaanse reklame. Wat my getref het, was die relatief eng wÍreld wat bestryk is. In 2003 was daar, sover ek kon oordeel, nie ’n enkele swart Afrikaanssprekende individu deel van enige span nie. Of swart Afrikaanssprekendes hulle hoegenaamd in die bedryf bevind, kon ek ook nie peil nie. Tog verklaar hul afwesigheid die gebrekkige representasie van alle Afrikaanssprekendes in die Suid-Afrikaanse reklamewese.

Op elk van die mediagebiede is dit nie net die representasie van Afrikaanssprekendes wat dringend aangepas moet word nie, maar ook die vlakke van beheer en besluitneming. Kan ons ’n ruimer Afrikaans vestig as die belangrikste instrumente van daardie taal nie werklik deur al sy sprekers gedeel word nie ’n Kan ons ’n ruimer Afrikaans vestig as die grootste deel van die Afrikaanssprekende bevolking se belewing nie verwoord ůf gehoor ůf gesien word nie ’n Ons moet daarom belange vir Afrikaans skep en ’n ruimer Afrikaanse belewing moontlik maak deur individue uit alle vlakke en sektore van ons spraakgemeenskap te trek sodat hulle betrokke kan wees by die skepping, ontwikkeling en implementering van die produksie van Afrikaanse geestesgoedere.


4

In die lig van my opmerkings oor taal vermoed ek dat ons die begrip nierassige Afrikaans wesenlik as ’n omvattende metafoor gebruik. “Nierassige Afrikaans” bestaan nie as ’n afgeronde produk nie. Gegee ons geskiedenisse van gespletenheid verteenwoordig die begrip ’n toekomstige ideaal, ’n omvattende kulturele ingesteldheid, ’n onafgehandelde proses op pad na ’n ruimer Afrikaans. In die proses moet ’n diskoers geskep word wat Afrikaans nie voortdurend verbind met konserwatiewe of rassistiese antagonisme teenoor die huidige Suid-Afrikaanse staat of die meerderheid inwoners nie.

Die ontplooiing van nierassige Afrikaans kan nie eenvoudig aan die toeval oorgelaat word nie. Dit is ook nie ’n toestand wat op grond van toegifte verwerf moet word nie. Daaraan behoort ons individueel en gesamentlik mee te werk. Ek noem ten slotte ’n paar strategieŽ:

  • In ’n situasie waar 57,7 persent van eerstetaal-Afrikaanssprekendes beperkte ekonomiese en kulturele belange in Afrikaans het, is dit kardinaal dat daardie belange aktief uitgebrei moet word. Dit beteken dat bestaande maatskappye of organisasies moet transformeer — of gehelp moet word om te transformeer — om die volle spraakgemeenskap te omvat.

  • Dit is noodsaaklik dat swart Afrikaanssprekendes toegelaat word om uitvoerende rolle in die Afrikaanse mediabedryf — die visuele, druk- en elektroniese mediaomgewing — te speel. Deeglike planne moet gemaak word om die bestaande leemtes te vul. Waar opleiding en mentorskap nodig is, laat dit gebeur.

  • Dit is belangrik dat die belewing van swart Afrikaanssprekendes — in sy bekoorlike diversiteit — behoorlik neerslag in die mediawÍreld kry.

  • Dit beteken ook dat swart Afrikaanssprekendes die inisiatief sal moet neem om organisasies en maatskappy te skep waarin bewustelik ’n ruimer Afrikaanssprekendheid bevorder word.

  • Die Afrikaanse platteland behoort beter en stelselmatig ontgin te word in die werwing van toetreders tot die breŽ Afrikaanse bedryf.

  • Dit is nodig om die verstoke beelde en ervarings van Afrikaans te dokumenteer en aan te bied as deel van ’n bewuste poging om die taal in sy volheid te representeer.

  • Afrikanersentrisme het die afgelope eeu ’n diepgaande uitwerking op die standaardisering van Afrikaans gehad. Dit is dwingend dat die verskeidenheid van Afrikaans op ’n konsekwente en deurlopende wyse in die bereŽling en boekstawing van die taal neerslag kry.

    Alles wat ek gesÍ het, kan in een sin opgesom word: Dat ons nuwe, gedeelde simbole, helde, rituele, waardes en praktyke sal moet vestig om die ideaal van ’n ruim Afrikaans te bewerkstellig.

    Ek dank u.


    Lesers kan via e-pos na Deborah Steinmair by webvoet@yahoo.com op die artikel reageer.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.