SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die skryf van geskiedenis in radikaal nuwe omstandighede

Hermann Giliomee

(Openingspraatjie by die eeufeesviering van die Departement Geskiedenis, Wilcocks-gebou, Stellenbosch, 5 April 2004)

Maar die dames drentel in tabberds rond
Wat sleep-sleep oor die grond; en die manne-broers
gesels met glasies whiskey of cane
Oor sport, politiek, TV en rooi wyn.
Maar wie sal bewaar wat ons opgegaar
En naarstig gebou het oor driehonderd jaar?
— WEG Louw: Drie Vensters op die Vrees (1976)

Inleiding
Hermann GiliomeeDit is vir my ’n groot eer om as oudstudent en ouddosent by die eeufeesviering van die Departement Geskiedenis van die Universiteit van Stellenbosch te praat. Ek praat ook as iemand wat tans ’n parkeerplek en ’n kantoor op kampus het — albei kosbare kommoditeite op Stellenbosch. Hulle sÍ jy kan hůť bekend wees buite Stellenbosch, maar as jy nie ’n parkeerplek en kantoor op die kampus het nie, tel jy nie by die Stellenbossers nie. En dis reg ook so. Die oudste dorp in die land moet sy eie standaarde hÍ, al is dit nie noodwendig altyd die regte standaarde nie.

Dit was nog altyd my lot om onderskat te wees op Stellenbosch en oorskat te wees buite Stellenbosch. Al wat erger is, is om oorskat op Stellenbosch te wees en onderskat in die res van die land.

VoŽlvlug van ’n eeu
Gelukkig het prof Pieter Kapp se oorsig oor die Departement Geskiedenis gedurende die afgelope eeu pas verskyn. Dit maak dit dus vir my onnodig om in hierdie kort praatjie volledig bestek van die werk van die departement te neem. Ek wil volstaan met enkele persoonlike opmerkings en ’n paar algemene opmerkings.

Kapp verdeel die honderd jaar van die departement in vier generasies van 25 jaar elk. My pa was ’n student aan die einde van die eerste en die begin van die tweede generasie. Hy het een van sy dosente uitgesonder vir hoŽ lof. Dit was die Vlaming prof Blommaert, of ou Blommie, die bynaam wat hierdie geliefde dosent gehad het. Ek was student gedurende die derde generasie en dosent in die derde en vierde generasies. Ek is in 1983 weg na die Universiteit van Kaapstad.

Stellenbosch is verreweg die oudste Departement Geskiedenis in die land wat in Hollands en later in Afrikaans gedoseer het. Gedurende die vorige eeu was dit ongetwyfeld die produktiefste, gemeet suiwer aan die getal studente wat die eerste graad met Geskiedenis as ’n hoofvak ontvang het en in magister- en doktorale studente wat gepromoveer het. Dit het verskeie uitstaande historici, en ook een werklik groot historikus, PJ van der Merwe, opgelewer.

Dan was daar ook die geskiedenis wat deur dosente en studente aan ander departement geskryf is, en ek dink hier veral aan die Departement Ekonomie waar prof CGW Schumann and prof Jan Sadie belangrike bydraes gelewer het oor die Afrikaners se ekonomiese ontwikkelinge, en die kerkgeskiedenis wat in die Kweekskool geskryf is.

Afrikaans as die taal van bronne en geskiedskrywing
Daar is ander substansiŽle bydraes. ’n Eerste bydrae is ten opsigte van die ontwikkeling van Afrikaans as die taal waarin alles van die gewone, alledaagse dinge tot die mees abstrakte konsepte of sublieme gedagtes verwoord kan word.

In 1937 het NP van Wyk Louw in ’n praatjie op Stellenbosch gesÍ: “Alles maar ook alles, wat die moderne mens roer, wat sy vreugde of smart maak, moet in ons [Afrikaanse] literatuur sy neerslag kry. Ons mag nie meer terugdeins en sÍ: dit is te gekompliseer vir ons eenvoudige beskawing, dit is te gewaagd of diepsinnig nie. Die Afrikaner is bloot moderne mens in ’n Afrikaanse omgewing.”

Die opdrag om alles in Afrikaans te verwoord, sluit uiteraard ook wetenskaplike geskiedskrywing in. In 1940 het Van der Merwe in ’n voorwoord van een van sy werke geskryf: “Die taak wat daar vir die Afrikaanse historici wag, [sal] nie afgehandel wees voordat die hele geskiedenis van ons land in die taal van ons volk beskrywe is nie.”

Nou was dit natuurlik ’n onmoontlike ideaal, veral vir so ’n klein taalgemeenskap soos die Afrikaanssprekendes. Stellenbosse studente en dosente het oor ’n verbasend wye verskeidenheid onderwerpe geskryf, maar daar is een belangrike leemte. Met die lofwaardige uitsondering van David Botha se Opkoms van die Derde Stand is daar geen omvattende werk in Afrikaans oor die kleurlinggemeenskap van wie 80 persent Afrikaans as moedertaal praat, of oor die komplekse verhouding tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes in die Wes-Kaap sedert die afskaffing van slawerny nie.

Hoe is dit moontlik dat so ’n fundamenteel belangrike onderwerp oorgeslaan is? Dit het waarskynlik meer met die ideologie van segregasie en later diť van apartheid te doen as met enige probleem rondom die navorsing van die onderwerp. Ek is verheug dat die Universiteit van Stellenbosch ’n studieprojek onder leiding van prof Albert Grundlingh van stapel stuur om hierdie tekortkoming, ten minste wat betref die kleurlinggemeenskap van Stellenbosch, reg te stel.

Van der Merwe het al sy werke in Afrikaans geskryf. Dit was die bydrae wat hy en Van Wyk Louw, as buitengewoon begaafde geeste, gemaak het tot die verwesenliking van die enorme projek om Afrikaans as hoogkultuurtaal te vestig. Ek het as jong dosent eenkeer met hom hieroor gepraat. “Skryf in Afrikaans,” was sy standpunt: “As dit goed genoeg is, sal dit vertaal word.”

Hy het eenkeer verwys na Pieter Geyl, die beroemde Nederlandse historikus, wat aan hom gesÍ het hy sorg dat ten minste een van sy boeke nie vertaal word nie. Geyl wou buitelandse historici verplig om Hollands te leer.

Volgens Kapp het Eric Walker ’n Amerikaanse uitgewer se plan om Van der Merwe se boeke te vertaal met ’n negatiewe keurdersverslag gekelder. Twintig jaar na Van der Merwe se dood het Roger Beck die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing ’n waardevolle diens bewys deur sy Trekboer in die geskiedenis van die Kaapkolonie in ’n Engelse vertaling te publiseer. Maar daar is drie ander belangrike werke van Van der Merwe wat nie vertaal is nie.

Hoe belangrik is Afrikaans as taal van wetenskaplike geskiedskrywing nog?

Daar kom ’n groot vraag by my op as ek die polemiek tussen Jeffrey Peires en Norman Etherington lees oor laasgenoemde se The Great Treks.1 Die vraag is: Wat moet ’n historikus maak wat oor ’n sentrale onderwerp in die geskiedenis van ’n land wil skryf as hy nie die taal goed ken waarin ’n groot deel van die bronne en van die belangrikste historiese werke oor die onderwerp geskryf is nie? Ek praat hier van Afrikaans, die taal waarin die Voortrekkers verreweg die meeste geskryf het en die taal waarin belangrike studies gebaseer op primÍre bronne gepubliseer is. Dit is ’n taal wat Etherington klaarblyklik swak ken of glad nie ken nie.

Daar is in die studie van Etherington een of twee voetnotas wat verwys na Van der Merwe se werk oor die Voortrekkers en die Ndebele en een of twee van die werk van CJF Muller, maar ek betwyfel dit sterk of hierdie studies werklik gelees is. Die werk van Ben Liebenberg oor die Voortrekkers en die Zoeloes in Natal, wat getuig van deurtastende navorsing en onverskrokke eerlikheid en onpartydigheid, is glad nie geraadpleeg nie. Klaarblyklik is die meeste bronne ook nie gelees nie, wat eienaardig is, veral waar Etherington sÍ dat hy so ver as moontlik wou teruggaan na die oorspronklike bronne.

Sy verduideliking is dat die Voortrekkers se dokumentasie van hul bewegings en optredes “surprisingly thin” is en hy voeg by: “It is surprising how many of the footnotes [in the Afrikaans secondary literature on the trek] refer back to English language sources.”

Toe ek Ben Liebenberg op hierdie stelling wys, sÍ hy: “Dit is absolute onsin. ’n Historikus wat nie Afrikaans ken nie, sal sukkel met die Voortrekkers. Andries Pretorius se briewe aan die Goewerneur is in Engels vertaal, maar 80 tot 90 persent van die bronne in my werk Andries Pretorius in Natal is net in Afrikaans. Die notules van die Volksraad in Natal en al die bylaes is net in Afrikaans.”

Ek kry dieselfde indruk van omvangryke bronne in Afrikaans in die werk van Van der Merwe oor die Voortrekkers en die Ndebele.

Natuurlik kan ’n historikus ’n bydrae maak as hy nie Afrikaans ken nie. Ek het nie Etherington se werk sorgvuldig genoeg gelees om ’n oordeel oor sy bydrae te vel nie. Die punt wat ek wil maak is klein, maar nie onbelangrik vir die oordeel oor die integriteit van ’n werk en ’n historikus nie. Dit is beter as die historikus sy tekortkoming openlik erken eerder as om met so ’n flou en inderdaad belaglike rasionalisering soos Etherington s’n te kom.

Die vraagteken oor Afrikaans as publikasiemedium
In 1938 het HB Thom die leiding geneem met die totstandkoming van die Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis/Archives Year Book for South African historici, waarin tesisse gebaseer op wetenskaplike studie gepubliseer is. Tussen 1938 en 1989 is 160 geskiedenistessise hierin gepubliseer, die oorweldigende meerderheid in Afrikaans. Dit verteenwoordig ’n magdom van navorsing en die ontginning van argiefmateriaal. Soveel historici, en ek val onder hulle, het hul eerste publikasie in die Argiefjaarboek sien verskyn.

Ek verwag dat Afrikaans steeds vir die geskiedskrywing belangrik sal bly weens die talle werke gebaseer op primÍre bronne en natuurlik weens die primÍre bronne wat in Hollands of Afrikaans is. ’n Historikus wat nie Afrikaans magtig is nie, het ’n nadeel wat betref ’n aansienlike deel van ons geskiedenis en geskiedskrywing.

Vorentoe lyk die pad vir publikasiemoontlikhede egter glad nie goed nie. Die Argiefjaarboek is beŽindig en dit wil ook lyk of die Annale van die Universiteit van Stellenbosch, waarin sommige belangrike studies verskyn het, nie meer lank gaan leef nie.

Die treurige verhaal hou nie hier op nie. In 1969 het JJ Oberholzer en MCE van Schoor, professore in Geskiedenis aan die Universiteit van OVS, die leiding geneem in die stigting van die Suid-Afrikaanse Historiese Vereniging vir vakhistorici aan alle universiteite. Dit het die blad Suid-Afrikaanse Historiese Joernaal/ South African Historical Journal gepubliseer. Ek was baie geskok om onlangs te verneem dat die redaksie van die tydskrif, as deel van ’n samewerkingsooreenkoms met ’n Amerikaanse universiteitspers, bereid was om in te stem om geen bydraes meer in Afrikaans te publiseer nie.

Ek dink so iets sal kortsigtig wees. Ons moet besef dat sulke optredes ’n streep trek deur die grondwet se verbintenis tot taal- en kulturele diversiteit en slegs die hand sterk van die totalitÍre mentaliteit wat glo in een taal, een kultuur, een politieke ideologie en een party. Natuurlik het dinge baie verander sedert die jare van Van der Merwe, Thom en CFJ Muller wat, so wil dit voorkom, sonder om twee keer te dink in Afrikaans geskryf het. Engels is vandag veel meer die enkele lingua franca van die wetenskappe as twee of drie dekades gelede.

’n Mens staar inderdaad die reŽle moontlikheid in die gesig dat oor 25 jaar Afrikaans as publieke taal, Afrikaans as die taal van wetenskaplike geskiedskrywing en Afrikaners as bepaalde gemeenskap kan verdwyn.

Die opkoms en ondergang van die nasionalistiese geskiedskrywing
Gedurende die 1940’s en 1950’s het HB Thom en baie ander historici dit as ’n uitdaging gesien nie net om goeie geskiedenis in Afrikaans te skryf nie, maar om ’n selfs belangriker opdrag uit te voer, naamlik om die uniekheid en die afsonderlike bestaan van die Afrikanervolk na te vors en te beskryf. Sonder die mite van ’n afsonderlike, unieke Afrikanervolk kon daar nie ’n ideologie van apartheid wees nie. Apartheid het uitgegaan van die veronderstelling dat op dieselfde patroon as die Afrikaners, swart en bruin mense as afsonderlike volke en gemeenskappe moet ontwikkel.

Thom het dus gesoek na beginsels wat die Afrikaners oor geslagte heen gehuldig het. Hy het bevind dat twee beginsels, te wete rassedifferensiasie (eintlik: rassediskriminasie) en apartheid, diep in die Afrikaners se verlede gewortel het en dat die Voortrekkers hierdie beginsels uitgeleef het.

In hierdie poging om ’n unieke Afrikanervolk met duidelike beginsels te “verbeel”, het hy ook ’n besondere band — ’n mens kan sÍ: ’n veels te noue band — tussen historikus en volksgemeenskap gepostuleer. Thom is die groot eksponent van die gedagte dat hierdie noue band ’n positiewe ontwikkeling is. Hy skryf dat die historikus vanuit die “midde van die volk” die historiese waarheid moet soek met die doel om “die geestelike welsyn van die volk te dien”.2

’n Historikus wat nie ’n nasionalis is nie, sal fundamentele probleme met Thom se beskouing hÍ. Die historikus wat vir ’n betreklik klein taalgemeenskap skryf, het lesers met ’n bepaalde wÍreldbeskouing in gedagte. Hierdie wÍreldbeskouing sluit omtrent altyd ’n bepaalde siening van die verlede in. Die historikus kan probeer om daardie siening te wysig of uit te daag, maar dit sal ’n futiele oefening wees om dit totaal te probeer verwerp.

Terselfdertyd kan hy egter nie, soos Thom suggereer, sy werk in diens van ’n nasionalistiese beweging laat staan nie. Hy moet die waarheid wat hy gevind het, meedeel, al is dit ook hoe onverteerbaar vir ’n politieke party of beweging wat ’n sekere doel nastreef.

Die Afrikanernasionalisme en apartheid wat Thom wou bevorder, het in die eerste helfte van die 1970’s in duie begin stort. Dit was alreeds in die vroeŽ 1970’s vir die meeste Afrikaanse historici duidelik dat daar geen toekoms vir ’n Afrikaanse geskiedskrywing is wat heg aan nasionalisme of apartheid verbonde is nie.

Die krisis van die skole van geskiedskrywing
Teen die 1990’s was daar ’n algemene krisis in die geskiedskrywing. Die Kommunistiese wÍreld het in duie gestort en daarmee ’n baie kwaai slag aan die Marxistiese geskiedskrywing toegedien. Saam met die vakuum wat deur die ondergang van Kommunisme gelaat is, het globalisme die weg geopen vir postmodernisme en, soos dit wil voorkom, vir amper bandelose relativisme en die ontkenning van enige onomstootbare historiese waarheid. Selfs die selfversekerde liberalisme van Francis Fukuyama se The End of History lyk tien jaar na die verskyning van die boek veel meer huiwerig.

In Suid-Afrika beleef al die vernaamste “skole” van geskiedskrywing ’n krisis.

(a) Die nasionalistiese skool
Die Afrikaanse geskiedskrywing se krag was dat dit deeglik rekening gehou het met wÍreldbeskouing, wat insluit idees, taal en kultuur, as ’n faktor uit eie reg. Die swakpunt was ’n onvermoŽ om die faktor van klas te erken. In 1937 het AH Murray, ’n Kaapse filosoof, ’n skerpsinnige artikel in Die Huisgenoot geskryf waarin hy die volgende opgemerk het: “Die geskiedenis van Suid-Afrika sal eers verstaanbaar word wanneer ons geskiedskrywers hulle losmaak van die emosionele en kwasi-sielkundige verklaring van ons geskiedenis in terme van ‘sug na vryheid’, ‘stoere individualisme’ of die ‘Calvinistiese drang na onafhanklikheid’.” Die taak van die historikus was om reg te laat geskied aan “die ekonomiese motief in die gang van sake.”3 Hierdie aanklag was nog steeds geldig in die 1970’s en daarom is dit dat Dan O’Meara se werk oor ’n Afrikanernasionalisme so ’n verrassing vir baie was.

Albert Grundlingh het op die ander groot swakheid gewys, die effens naÔewe geloof in ’n objektief-wetenskaplike geskiedskrywing, wat van die veronderstelling uitgaan dat as die geskiedskrywer net “die bronne laat spreek”, hy objektief en wetenskaplik is. Baie keer het dit die dekmantel geword waaronder nasionalistiese geskiedskrywing aangebied is.4

Daar is ’n ongegronde opvatting dat Afrikaans as taal van wetenskaplike geskiedskrywing en van die Afrikaner nasionalistiese geskiedskrywing gelyktydig gesterf het, amper soos in die geval van ’n Siamese tweeling waar daar nie betyds ingegryp is nie.

Nasionalistiese geskiedskrywing was net ’n fase in die Afrikaanse geskiedskrywing. Die werk van die beste historici is nie skeefgetrek deur nasionalistiese opvattings nie, wel deur die beperking van die tyd waarin hulle geskryf het

Vat byvoorbeeld die werk van die drie mees uitstaande historici oor die veeboere en die trekkers. Ek dink hier aan die bydraes van PJ van der Merwe, CFJ Muller en Ben Liebenberg. Hul doel was om geskiedenis te skryf wat aan die hand van die bronne verantwoord kon word. Van der Merwe het wit heeerskappy onderskryf en het ’n groot bewondering vir die trekkers met hul aanpasbaarheid gehad, maar het nie gehuiwer om die slagting van ’n swart stam waarvoor die Voortrekkerleier Hendrik Potgieter verantwoordelik was, te beskryf nie.5 Dit is ’n episode wat aan die tema van Joseph Conrad se roman The Heart of Darkness herinner. Liebenberg vertel sonder omhaal van woorde hoe die Voortrekkers onder Andries Pretorius Zoeloe-kindertjies ontvoer en “ingeboek” het. Dit was ’n praktyk wat baie na aan verslawing gekom het. Selfs Thom, die gesofistikeerde biograaf van Gert Maritz, is nie dieselfde as Thom die teoretikus en ideoloog nie.

(b) Klasse-analise
Die klasse-analise se groot probleem is die weiering van die werkers, wit en swart, om deurgaans in terme van hul klassebelange op te tree. Dit kan nie verklaar waarom die swart versetstryd ’n nasionalistiese stryd eerder as ’n klassestryd geword het nie. Dit sukkel om te verstaan waarom die NP-regering na 1973 op so ’n groot skaal inkomste van die blanke kiesers na die bruin en swart meerderheid oorgedra het. Die vernaamste swakheid van die klasse-ontleding was die onvermoŽ om nasionalistiese en etniese bewegings te verstaan.

(c) Die liberale geskiedskrywing
Die liberale geskiedskrywing in Suid-Afrika staan voor ’n krisis omdat dit as uitgangspunt neem die individu en sy/haar belange en saam daarmee die aanname dat die vrye mark konflik tussen individue van verskillende groepe uit die weg sal ruim as dit toegelaat word om vryelik te funksioneer. In 1959 het Lewis Gann in ’n kritiek op die liberale geskiedskrywing die liberale ideologie so saamgevat: “Provided certain economic, social and political institutions, founded in reason itself can be enforced, and provided men can be made to realise their ‘true interests’ universal happiness must result.”6

Gann se waarskuwing oor die ontoepaslikheid van die liberale gedagteskema het op dowe ore geval. Daar is by liberales steeds die neiging om aan te neem dat daar ’n “rasionele” oplossing vir Suid-Afrika was en dat apartheid heeltemal “onnnodig” was omdat die land daarsonder veel groter ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling sou beleef het. Hulle skryf die optrede van die Afrikaners toe aan ’n argaÔese ideologie en fundamentalistiese teologie. Die onderskeid wat in hierdie werke getref word, is tussen denke en gedagtes wat “waar” is omdat dit dan met die werklikheid sou rym, en idees wat slegs ’n rasionalisasie of ’n valse regverdiging is. (Dunbar Moodie verwys byvoorbeeld na die teologiese regverdiging van apartheid as ’n kettery.) Wat volgens hierdie skrywers moet gebeur, is dat die Afrikaners die “waarheid” moet snap oor hul regte belange en die valsheid van hul rasionalisasies.7

Na die oorgang na ’n inklusiewe demokrasie het Rodney Davenport, een van die leidende liberale historici, gepleit vir ’n terugkeer na ’n liberale historiografie met klem op die welsyn van die individu en die regte van individue in teenstelling met ’n beklemtoning van die regte en belange van groepe. Hy beskryf die aandrang op regstellende aksie en die beskuldigings van “wit rassime” na 1994 as “the promotion of ethnic difference as an irritant in public life, as in the dark days of apartheid”.

Etnisiteit is egter nie, soos Davenport dit sien, ’n blote “irritant” in die openbare lewe nie. In ’n heterogene samelewing is dit in ’n groot mate die dryfkrag van die politiek. Amy Chua het dit in ’n reeks fassinerende artikels en ook in ’n nuwe boek, Worlds on Fire, uitgespel. Sy beskryf hoe in AsiŽ en in Afrika etniese minderhede gefloreer het en hoe die wette hierdie minderhede se belange gedien het. Toe die inheemse meerderheid egter die mag verwerf, het die nuwe regime wetgewing aangeneem wat die meerderheid bevoordeel en die minderheid benadeel. Op sy sagste behels dit ingrypende regstellende aksie en die bemagtiging van die meerderheid in die ekonomie; op sy ergste kan dit nasionalisasie, die uitdrywing van die etniese minderhede en die vernietiging van die demokrasie beteken. Wat in Zimbabwe gebeur, is geen uitsondering nie.

Die les wat Chua onderstreep, is dat in ons soort samelewing mense nie net op individuele grondslag wedywer nie, hulle kompeteer ook intens op die grondslag van etniese groepe. Die mark wat vry is, bevoordeel sekere etniese groep met bepaalde kulturele tradisies en waardes. Meerderheidsregering bevoordeel ander etnies groepe met ander kulturele tradisies. Werklik vrye kompetisie op die vrye mark in ’n heterogene samelewing kan in werklikheid etniese konflik vererger.8 Historici word gedwing om op ’n bepaalde plek staanplek in te neem. Tony Judt, een van die interessantste hedendaagse kommentators, het onlangs opgemerk: “History is a story, a story needs a narrator and a narrator needs to be standing somewhere. The view from nowhere does not work.”9

Liberalisme in Suid-Afrika het na 1939 al meer die uitkyk van Brits-Amerikaanse liberalisme, of wat Lewis Gann “free trade liberalism” genoem het, aangegryp en oplossings uit hierdie denkskool vir Suid-Afrika aangebied. Dit rig hom selde op die bepaalde Suid-Afrikaanse omstandighede, behalwe waar dit apartheid aangeval en die geldigheid van sanksies betwis het

Dit is juis wat ’n mens verwelkom van die klasse-analise: jy weet uit watter hoek dit kom. Met liberale historici het ’n mens soms nogal ’n probleem. In sy minder gesofistikeerde gedaante word liberale werke “the view from nowhere”.

’n Postapartheid-geskiedskrywing
Die jaar 1994 verteenwoordig die begin van ’n heeltemal nuwe politieke era en ’n nuwe politieke regime. Tog wil dit nie sÍ dat die geskiedenis en geskiedskrywing ewe radikaal verander het nie. Die pogings van die nuwe regime om ’n fundamenteel nuwe wÍreldbeskouing te verkondig, was tot dusver nie besonder suksesvol nie.

  • “Rainbowism” strek nie veel verder as die uitsprake van die versetstryd se Trojane, Nelson Mandela en Desmond Tutu, of, op ’n baie lae vlak, bieradvertensies nie.
  • Die “African Renaissance” is alles behalwe iets vir historici om oor opgewonde te raak. Dit is waarskynlik die heel eerste renaissance in die geskiedenis wat bitter min met taal, kultuur, geskiedskrywing en die kunste te doen het. Volgens alle aanduidings wek geskiedenis geen besondere belangstelling by swart studente nie.
  • Nierassigheid is in vele opsigte ’n blote skuifmeul vir swart bevordering ten koste van wit en dikwels ook bruin mededingers.

    Die faktor van rasse-identiteit oorheers nog die stemgedrag van sowel wit as swart kiesers Omtrent almal betreur dit, maar soos Lawrence Schlemmer onlangs opgemerk het, sal die hele partypolitiek eers vloeibaar raak as die ANC regstellende aksie en ekonomiese bemagtiging vir swartes afskaf. Dan sal baie meer wittes vir die ANC stem en baie meer swartes vir ander partye. Die doel van die regeringsbeleid is egter “to trap [voters] in racial constituencies”.10 In baie opsigte is al wat in 1994 gebeur het, dat een dominante party deur ’n ander vervang is.

    Maar dit was nie net die radikale regimeverandering wat die land getref het nie. Die Afrikaanssprekende gemeenskap ondergaan ’n dramatiese demografiese transformasie. Mense wat Afrikaanssprekend in die huis is, vorm slegs 13 persent van die totale bevolking en die Afrikaners is slegs ses persent van die bevolking. Slegs 43 persent van die Afrikaanssprekendes is wit. Meer as die helfte van Die Burger se lesers is nie wit nie.

    Binne hierdie konteks is daar tans ’n radikale bevraagtekening van die gebruik van die terme Afrikaans en Afrikaner.

  • Die Universiteit van Stellenbosch is nie meer bereid om te sÍ dat dit ’n Afrikaanse universiteit is nie, alhoewel dit wel ’n bepaalde verbintenis tot Afrikaans as voertaal en taal in die algemeen het.
  • Die Burger wil die term Afrikaner net vir witmense gebruik — dit was in die apartheidsjare Andries Treurnicht se standpunt — en wil volgens gerugte liefs glad nie die term gebruik nie.
  • ’n Mens sou dink KykNet is ’n Afrikaanse kanaal op betaaltelevisie, maar volgens die bestuurder van die kanaal is dit verkeerd. “KykNet is nie ’n Afrikaanse kanaal nie; dis ’n lewenstylkanaal,” sÍ hy aan Business Day.11

    Die amper paniekbevange pogings om nie met Afrikaans of Afrikaner-wees geÔdentifiseer te word nie, is enersyds die produk van markkragte, of liewer die interpretasie deur polities-korrekte besluitnemers van markkragte, en meer nog, van die regering se wense en begeertes.

    Andersyds is dit die gevolg van die regerende party se aandrang dat eintlik net die swart meerderheid die reg het om kollektiewe eise en aansprake te maak. Hier staan die ANC in die tradisie van die Jakobyne van die Franse Rewolusie. In 1789 het hertog Stanislans de Clermont-Tonnerre oor die bestaande diskriminasie teen die Franse Jode verklaar: “Dit is nodig om die Jode as ’n nasie alles te ontsÍ en die Jode alles as individue te gun.”

    Vir my is die vraag of ons ooit enigiets wat vir die Afrikaanse minderheid kosbaar is, soos byvoorbeeld Afrikaans as publieke taal, sal kan behou as daar nie ook instellings is wat dit doen nie. Niemand verwag immers van ’n werker om sy regte sonder ’n vakbond te beskerm en te bevorder nie. Waarom sal ’n taal nie ook kollektiewe beskerming en bevordering nodig hÍ nie? Waarom kan ’n universiteit nie daarop aandring dat dit die Afrikaanse taalgemeenskap verteenwoordig en Afrikaans as publieke taal na die volgende geslag wil oordra nie?

    ’n Mens besef dat die tipe beskerming wat die staat voor 1994 aan Afrikaans en ander minderheidstale gebied het, vir altyd iets van die verlede is. Veel meer as in die verlede is die voortbestaan van Afrikaans as publieke taal ons elkeen se persoonlike verantwoordelikheid. Afrikaans en Afrikaanse instellings het die meeste van ons wat hier vergader is, gemaak wat ons is. Ons is gevorm deur ’n Afrikaanse nasionale beweging wat wreed en hardvogtig was, maar wat ook iets moois en besonders ingehou het — die stryd vir die erkenning van Afrikaans, moedertaalonderwys, kulturele outonomie, die integrering van die Afrikaner-armes in die gemeenskap, en ’n republiek.

    Ek dink ons het ’n ereplig om tot die voortgesette ontwikkeling van Afrikaans as wetenskaplike taal by te dra. Ons behoort onsself vrywillig daartoe te verbind om van tyd tot tyd ook in Afrikaans te publiseer. Ons kan help om Historia as tweetalige vaktydskrif en alle ander tweetalige vaktydskrifte tot die beste en veelsydigste in die veld uit te bou. Ek dink US moet ernstig daaraan dink om die Annale te laat voortleef as ’n publikasie waarin hoŽgehalte Afrikaanse studies kan verskyn.

    Universiteite kan ook help deur daarop aan te dring dat daar geen diskriminasie in die plasing en subsidiŽring van artikels in Afrikaans is nie, op voorwaarde dat keuring net so streng is as in die geval van artikels in Engelse tydskrifte.

    Dit bring my by ’n ander punt.

  • Moet ons Afrikaans as die taal van wetenskaplike geskiedenis lewend hou as ’n doel op sigself, of is daar iets meer op die spel?
  • Word daar in Afrikaans ook iets anders gesÍ en word dinge anders gesien as wat algemeen in Engelstalige tydskrifte of boeke te vinde is?
  • Is daar nog so iets soos ’n historiese beskouing wat kenmerkend Afrikaans is?
  • Is daar nog hoegenaamd ’n etniese groep met die naam Afrikaners, of het wit Afrikaanssprekendes bloot ’n taalgemeenskap word, of miskien nie eens ’n gemeenskap nie, maar ’n versameling individue wat daarvan hou om Afrikaans te gebruik en te verbruik?

    Is die diskoers van ’n Van Wyk Louw en ’n Johan Degenaar en ’n Andrť du Toit oor die sondes van die vaders en die vereistes vir etiese oorlewing passť of kan ’n mens nog ’n debat oor die saak voer sonder om as aanhanger van ’n “ethnic essentialism” afgeskryf te word?

    Alhoewel dit nooit werklik uitgespel word nie, word met essentialism bedoel ’n sekere etnisiteit met aanhangers wat die volgende glo:

  • Die etnos of etniese karakter van ’n bepaalde gemeenskap bly onveranderd.
  • Hulle is daarop geregtig om allerlei vorme van bevoorregting te eis.
  • Hulle staan onverskillig of vyandig teenoor pogings om ’n vrye samelewing daar te stel.

    Dit beteken, as ek hulle reg verstaan, dat ’n mens ’n bepaalde kulturele erfenis moet verswyg, en saam daarmee die klem op waardes soos vryheid vir die individu en meriete. Ons moet, in kort, nie meer wit en Afrikaners wees nie. Dit sou dan staan vir alles wat steriel, afgelope en verby is.

    Hierdie soort denke, wat aangebied word as progressief, werk in werklikheid ’n totalitÍre en onverdraagsame politiek in die hand. Alhoewel universalisme as iets positiefs opgestel word teen etniese of gemeenskapsbelange, herinner die teenstellings waarmee dit werk aan die tyd toe die Fascisme en die Kommunisme aan die mag gekom het. Die regime se leiers en hul saamlopers het die ancien regime en sy geskiedskrywers as vrot uitgekryt en ’n radikale ideologiese sloping geŽis sodat nuwe geskiedenis gemaak en geskryf kan word. Hier was daar geen plek vir pluralisme en geen plek vir verdraagsaamheid nie. Die kruisvaart teen “essentialism” is in wese ’n poging om pluralisme te vernietig en ’n nuwe ideologiese dwingelandy te help vestig. Die mense wat die beskuldigings van essensialisme slinger, werk egter met ’n totaal verouderde konsepsie van etnisiteit. Niemand kan tog nŠ die werke van Ernst Gellner, Benedict Anderson en Donald Horowitz glo dat etnisiteit iets staties, iets gevries is nie. ’n Etniese groep is in staat om dit binne perke dramaties te vernuwe, met ’n gewysigde selfdefinisie en nuwe strategieŽ wat ontplooi word.

    Wat is die implikasies vir geskiedskrywing?

    Ek self het nogal ’n huiwering om myself as ’n Afrikaner-historikus te bestempel, omdat dit te veel klink na die nasionalistiese historici van ouds. Ek het egter geen beswaar om myself ’n historikus te noem wat ’n Afrikaner of Afrikaans is nie. Afrikaanse historici van vandag wat hulle met ’n bepaalde groep mense vereenselwig, kan dit doen in dieselfde gees as Hannah Arendt, wat aan een van die kritici van haar Eichmann in Jersulem geskryf het: “I do not ‘love’ the Jews nor do I ‘believe’ in them. I merely belong to them as a matter of course, beyond dispute and argument.”12 Ek kan dieselfde sÍ oor my vereenselwiging met die Afrikaners en die breŽr, nierassige Afrikaanse gemeenskap.

    Ek dink daar kan iets soos ’n post-1994 Afrikaanse geskiedskrywing wees, waarmee bedoel word ’n fokus op bepaalde kulturele en klassebelange en kulturele belange en waardes. Die post-1994 Afrikaanse historikus verwerp die ou nasionalistiese historiese beskouing wat kant gekies het vir ’n bepaalde vorm van oorheersing of ’n geÔdealiseerde beeld van die Afrikaners wou opbou.

    In ’n sekere sin verteenwoordig hierdie houding ’n vorm van partikularisme. Dit is geensins ’n verwerping van universalisme nie; dit verteenwoordig wel ’n besondere manier van kyk na sowel die plaaslike as die universele.

    Die Amerikaanse morele filosoof Michael Walzer het dit goed gestel: “Our common humanity will never make a single universal tribe Ö The critical commonality of the human race is particularism.”13

    Johan Degenaar, die Stellenbosse filosoof, het hierdie gedagte baie goed in ’n Suid-Afrikaanse verband gestel met die opmerking dat skrywers hulself in ’n bepaalde kultuur situeer. Die paradoks van taal en kultuur is dat die universele slegs op ’n besondere manier verwoord kan word. Die mees suksesvolle werke uit ’n partikuliere oogpunt verryk, volgens Degenaar, die universele op ’n unieke manier.

    Na my mening kan die Afrikaanse geskiedskrywer die verlede die beste verken deur die benadering van Max Weber in gedagte te hou. Weber werk met sowel klas as status. Klas word bepaal deur die bepaalde ekonomiese struktuur en magsverhoudinge, en status deur afkoms, stand en kultuur. Die belangrike insig van Weber is dat klas en status nie mekaar bepaal nie; elkeen put uit sy besondere bronne. Dit dwing die historikus om kultuur uit eie reg ernstig op te neem en dit nie te sien as bloot die bron waaruit regverdigings geput kan word nie. Die post-Afrikaanse historici ontken nie dat die stryd ook oor materiŽle konflik gaan nie, maar plaas ewe veel klem op wat ’n mens die politieke en kulturele faktore kan noem en aan die konflik tussen groepe en kulture. Hulle sien die samelewing as een waarin mense op die grondslag van groepe en hul kulture teen mekaar wedywer. Hulle definieer kultuur as die somtotaal van mense se subjektiewe persepsie van hulle eie en ander gemeenskappe, die reŽls en morele waardes wat mense glo in die samelewing behoort te geld, godsdiens, ’n siening van die verlede en van die bydrae wat ’n gemeenskap tot ’n gedeelde land gemaak het. In die moderne tyd word die apparaat van die wetenskaplike geskiedskrywing aangewend om verdigsels en verskonings te ontmasker.

    Hierdie manier om na die samelewing te kyk en die uitdaging om sowel die materiŽle as die ideŽle, die ekonomiese en kulturele faktore te verstaan, het nie na 1994 ongeldig geraak nie. Daar is, inteendeel, nou in die demokratiese samelewing waarin ons leef ’n veel groter dringendheid om die verlede en hede in al sy kompleksiteit te verken.

    Daar behoort ook veel meer van vergelykende studies gebruik gemaak word. Die beste historiese analogie van die Afrikaners is myns insiens die blankes van die Amerikaanse Suide tot ongeveer 1970. C Vann Woodward, self ’n man van die Suide, is die streek se grootste historikus. Hy is die historikus wie se essays my die meeste geÔnspireer het.

    Ek wil graag aanhaal uit ’n rede wat Woodward in 1953 gegee het as president van die Southern Historical Association. Op daardie stadium was die VSA op die kruin van sy mag en het dit meer as 200 jaar van buitengewone sukses en sekuriteit beleef. Die Suide was egter in ’n groot krisis met die aanslag teen segregasie. Woodward verklaar dat mense buite die Suide glo in die uniekheid van die VSA, wie se mense ongeŽwenaarde voorspoed, sekuriteit en sukses beleef. Hy merk op dat die meeste Amerikaners ’n illusie van onskuld koester. Hulle kan nie glo dat dit moontlik is dat die VSA se grootse planne vir die mensdom gefrustreer kan word nie. Hulle weier om te aanvaar dat, soos Woodward dit stel, geskiedenis met Amerika kan gebeur. Hulle het geen goeie aanvoeling vir die ironiese en tragiese aspekte van ’n gemeenskap en ’n nasie se lot nie.

    Daarteenoor stel hy die geskiedenis van die Amerikaanse Suide, wat hy sien as ’n storie van worsteling met groot morele euwels en met mislukking. Die Suide se storie is die storie van intieme blootstelling aan die twee grootste morele euwels wat die Westerse wÍreld geken het, te wete slawerny en segregasie, en dit is ook ’n storie van groot armoede en onsekerheid en van ’n verpletterende nederlaag in ’n oorlog. Die mense van die Suide weet, soos Woodward dit in sy onvergeetlike woorde stel, “history has happened to their people in their part of the world.”

    Woodward maak die belangrike punt dat die mense van die Suide se geskiedenis van frustrasie, mislukking en nederlaag veel meer soortgelyk is aan die geskiedenis van ander streke en gemeenskappe in die wÍreld as aan diť van Amerikaners buite die Suide. Historici wat hierdie geskiedenis goed wil besef en begryp, sal wat Woodward noem “a rare combination of detachment and sympathy” nodig hÍ. Natuurlik kry ’n mens sulke historici nie net van die Suide nie, maar soos Woodward opmerk: ’n mens sal verwag dat daar sulke historici ook uit die Suide sal kom.14

    Dit is treffend hoe soortgelyk die historiese ervaring van die Afrikaners is aan diť van mense in die Amerikaanse Suide: slawerny, armoede, ’n verpletterende nederlaag in die oorlog, die pynlike verstedeliking van die armblankes (’n term wat uit die Amerikaanse Suide kom) en apartheid met die korrupsie van mag wat noodwendig met ’n stelsel van rassediskriminasie gepaard gaan. In die geval van die Afrikaners kan ons nog byvoeg ’n ervaring wat mense van die Suide vrygespring het, naamlik om sprekers te wees van ’n versmaaide taal.

    Geskiedenis het met die Afrikaners gebeur, ook in onlangse tye. Hulle het uitgevind dat hul mag broos en verganklik is. Met die sterkste leŽr in Afrika moes hulle die mag prysgee omdat hulle te lank daaraan vasgeklou het in plaas daarvan om dit te verdeel en te versprei. In plaas daarvan dat hulle beplan het vir magsoordrag het hulle gedink die land kan nooit sonder hulle regeer word nie.

    Terwyl hulle die mag gehad het, het die Afrikaners sekuriteit gesoek met planne en projekte wat die realisering van ware sekuriteit onmoontlik gemaak het. Uit die mag het die Afrikaners gevind dat mense hulle soos ’n King Lear behandel, iemand wat bespot en geminag word omdat hulle magteloos is, selfs ook deur diť wat hulle geloof en geprys het toe hulle nog in die mag was.

    Ook kan ons verwag dat daar in die Suid-Afrikaanse geskiedenis historici sal wees wat die geskiedenis van die Afrikaners met Woodward se kombinasie van “detachment and sympathy” sal benader, en dat daar ook Afrikaner-historici onder hulle sal wees. Een van die werke wat met hierdie woorde beskryf kan word, is Ernst Stals en JJ Fourie se Die Afrikaner in die Goudstad. Stals merk op dat wat hy noem die Afrikaanse historikus se “gevoelsgebondenheid” met die eerste en tweede geslag Afrikaners aan die Rand die eise van ’n wetenskaplike benadering “in die gedrang kan bring”. Daarom was die werk bewustelik ingestel om so geskryf te word dat dit die toets van kritiese beoordeling deurstaan. Dit kyk simpatiek na die ontwortelde Afrikaners, maar daar is geen spesiale pleidooie of apologieŽ vir die Afrikaners nie.

    Maar natuurlik sal daar nie net uit die Afrikaanse gemeenskap sulke historici kom nie. Charles van Onselen se werk van die eerste inwoners van Johannesburg, wit en swart, is ’n evokatiewe voorstelling van mense, wit en swart, wat voor felle uitdagings gestaan het. Daar is dieselfde kombinasie van “detachment and sympathy” aanwesig.

    Gedurende die 1970’s en 1980’s was sulke werke nogal skaars. Daar was wat Harrison Wright genoem het “the burden of the present”, die verpligting wat baie historici gevoel het om niks te skryf (al was dit ook waar) wat die apartheidstelsel en die Afrikanernasionaliste kon sterk nie. Vir Wright was dit een van die vernaamste swakhede in die historiografie van Suid-Afrika.

    Onlangs het Irving Hexham, wat met empatie oor die Doppers in die vroeŽ twintigste eeu geskryf het, ’n merkwaardige brief aan ’n Kanadese koerant geskryf. Hy vertel dat toe hy in die 1970’s na Suid-Afrika gekom het om navorsing te doen, hy nie erns wou maak met die verhale wat die Boere-veterane vertel het oor Britse gruweldade nie. Hy skryf: “I was not interested in what we saw as Afrikaner self-pity and rather crude attempts to excuse the horrors of apartheid.” Hy spreek ’n apologie uit namens sy geslag van buitelandse navorsers: “In retrospect we were wrong. Our judgment was clouded by British arrogance and the reality of apartheid that confronted us every day that we worked in South Africa. To us the visible suffering of blacks was a fact we could not ignore, while the past suffering of the Boers was something none of us wanted to confront. Today it is clear that we were wrong. But the legacy of our historical work persists because we failed to document atrocities that did not agree with our liberal and radical sentiments.”15

    ’n Mens sou graag wou dink dat met die einde van apartheid ’n groter onbevangenheid oor die geskiedenis sou intree, en ’n groter bereidwilligheid om aan sowel swart as wit reg te laat geskied.

    Slot
    Die Vlaamse skrywer David van Reybrouck merk in sy werk Die Plaag: die stil geknaag van skrywers, termiete en Suid-Afrika op dat navorsers oor die algemeen skryf oor wat hulle beskou as goed georganiseerde samelewingsvorme. Maar is Suid-Afrika so ’n staat? Van Reybrouck skryf: “Op alle vlakke word ek gekonfronteer met verbrokkeling, disintegrasie,verlies aan struktuur, verlies aan samehang, aan vertroue.”16

    ’n Goeie greep op die geskiedenis is een van die beste maniere om vertroue terug te kry en vir jouself struktuur en samehang te probeer vind. Elie Wiesel, die Joodse geleerde wat in Auschwitz was, het geskryf: “(T)o live wihout a past is worse than to live without a future.”

    Ons sit met politieke, sake- en akademiese leiers wat bang is om enigiets te bewaar omdat dit moontlik as konserwatief in die huidige politieke opset beskou sal word en hul verbintenis tot transformasie in twyfel getrek sal word. Daarom sal die taak by die historici moet begin.

    Sekerlik is daar baie wat nie bewaar hoef te word nie, en veral nie die futiele poging om die konsep Afrikaner as eksklusief en meerderwaardig voor te stel nie. Daar is ’n sterk tradisie in die geskiedenis om die begrip Afrikaner ruim te interpreteer, soos in Jan Hofmeyr se Afrikaner Bond, wat gedurende die 1880’s verklaar het dat die Bond “geen nasionaliteit hoegenaamd ken nie, as diť van die Afrikaners, maar beskou as Afrikaners almal, van watter afkoms ook wat die welvaart van Suid-Afrika beoog as Afrikaners.”

    Hierdie is ’n definisie waarmee ons die nuwe eeu kan ingaan.



    Verwysings

    1 Vir die twee artikels sien Journal of Natal and Zulu History, 20 (2002), pp 75-91.

    2 HB Thom in die Stellenboschse Oudstudent, X11, 1, pp 9-18.

    3 AH Murray, “Hoekom ek nie ’n kommunis is nie”, Die Huisgenoot, 24 September 1937, p 19.

    4 Albert Grundlingh, “Politics, principles and problems of a profession: Afrikaner historians and their discipline”, c1920-c1965, Perspectives in Education, Vol 12, no 1 (1990), pp 1-19.

    5 PJ van der Merwe, “Die Matabeles en die Voortrekkers”, Archives Yearbook of South Africa, 1986, pp 313-20, 408-11.

    6 Lewis Gann, “Liberal interpretations of South African history”, Rhodes-Livingstone Journal, 25, 1959, pp 40-58. Sien ook Martin Legassick se baanbrekende artikel oor die “frontier tradition” in Shula Marks and Anthony Atmore, Economy and Society in Pre-industrial South Africa (Londen: Longman, 1980), pp 44-79.

    7 HF Dickie-Clarke, “Ideological Misconceptions of Afrikaner values”, South Africa International, Julie 1981, pp 283-91.

    8 Amy Chua, “Markets, Democracy and Ethnicity”, Yale Law Journal, 8, no 1 (1998) pp 1-97; Worlds on fire: How exporting free market democracy breeds ethnic hatred and global instability (New York: Doubleday, 2003).

    9 Tony Judt, “The Story of Everything”, New York Review of Books, 21 September 2000, p 66.

    10 Lawrence Schlemmer, “Trapped in racial constituencies”, This Day, 31 Maart 2004.

    11 Business Day, 6 Februarie 2004.

    12 Gabriel Piterberg, “Hannah Arendt in Tel Aviv”, New Left Review, 21 (2001), p 145.

    13 Michael Walzer, “Modern Tribalism”, Dialogue (1993), p 19.

    14 C Vann Woodward, The Burden of Southern History (New York: Vantage Books, 1960), pp 189-91.

    15 Irving Hexham, brief aan die redakteur, National Post (Canada), 11 Oktober 1999.

    16 David van Reybrouck, Die Plaag: die stil geknaag van skrywers, termiete en Suid-Afrika (Pretoria: Pretoria Boekhuis, 2003), p 213.



    LitNet: 28 April 2004

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SÍNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.