SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Wie is Willie van der Merwe?

Willie van der Merwe is 'n professor in filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy is 'n redaksionele medewerker van die joernaal Fragmente en spesialiseer in taal-, godsdiens-, en kultuurfilosofie. Hy het al gedigte publiseer in literêre tydskrifte.

Her-

Willie van der Merwe

(Hierdie bydrae is vroeër vanjaar gelewer tydens die Woordfees se gewilde Filosofiekafee in die Dorpstraat Teater Café.)

Willie van der Merwe

Foto deur Naomi Kranholdt

Her- het ’n lang tradisie in die filosofie wat teruggaan tot by die antieke filosoof Her-akleitos. ’n Mens sou dit die tradisie van die her-denke kon noem. Ironies genoeg is dit nie baie bekend nie, omdat die denkers wat daartoe bygedra het, die her-denkers, herhaaldelik verdring is uit die hoofstroom van filosofie. Dié wat hulle verdring het, staan bekend as die be-denkers. Hulle het nie herhaaldelik genoeg na die herdenkers se denke verwys nie, nie daaruit aangehaal nie, dit nooit herdink of herhaal nie; en gevolglik het die hele tradisie in vergetelheid versink. Gelukkig is dit onlangs herontdek deur ’n obskure Franse denker, ’n sogenaamde her-konstruksionis, met die naam van Her-rida. Hierdie ongelukkige verloop, waardeur die hele geskiedenis van die Westerse filosofie van ná Her-akleitos af op ’n dwaalspoor beland het, staan vandag bekend as die “marginalisering van die her-denke” en die eietydse poging om die herbesinning oor her- weer in ere te herstel, soos wat ek ook vanaand wil doen, staan bekend as die “desentrering van die hermarginalisering van die herdenke”, om Her-rida aan te haal. Dit neem die vorm aan van wat genoem kan word ’n her-meneutiek van herdenke, dws ’n herinterpretasie van die geskiedenis van die filosofie waardeur die herhaalde verdringing van die herbesinning oor her- her-roep en her-dink word.

So laat ons weer terugkeer na Herakleitos. Herakleitos wys tereg daarop dat her- vanuit een vorm ’n volgende vorm maak wat anders is as die eerste vorm. Byvoorbeeld, as die eerste vorm die werkwoord vorm is, dan word dit deur her- hervorm tot hervorm, waar die hervormde vorm die betekenis het van “weer” of “nog ’n keer”, dit wil sê “by herhaling”, met die bygedagte dat die herhaalde, hervormde vorm anders is as die voorhervormde vorm.

Maar wat beteken weer, nog ’n keer of by herhaling dan? Dis om die eerste vorm te herhaal in ’n ander vorm, ’n vorm wat verskil van die eerste vorm. Maar dan beteken weer eintlik “nie-weer-dieselfde-nie”, selfs nóóit weer nie, en nog ’n keer beteken dan “die eerste keer” en daarom tegelyk “die laaste keer”. Eintlik is elke keer dus die enigste keer. So, sê Herakleitos, om te herhaal is om keer op keer dieselfde te verdring, te verplaas, te vervang met dit wat anders is; herhaling is verandering, en alles is herhaling, hervorming, omvorming, vervorming; alles ís verandering. Vandaar Herakleitos se bekende uitspraak dat ’n mens nie twee keer deur dieselfde rivier kan loop nie, waarop een van sy leerlinge verbeter het met die opmerking dat ’n mens nie eens één keer deur dieselfde rivier kan loop nie! Hoe dit ook al sy, Herakleitos ontmasker dus enige hoop op vastigheid, sekerheid en waarheid as ’n her-senskim.

Sy opvolger, vandag vergete, maar baie bekend in die antieke wêreld, te wete Hér-krates, voer die her-denke nog ’n stap verder. Hy ontwikkel naamlik ’n metode van gesprekvoering, die sogenaamde Hér-kratiese metode, wat verseker dat die gesprek altyd op niks sal uitloop nie, ongeag hoeveel keer dit herhaal word; ’n metode wat vandag nog met groot sukses deur huweliksmaats en ouers en kinders gevolg word. Gelukkig is dit nie net Hér-krates se metode wat die gewraakte marginalisering van die herdenke oorleef het nie, maar ook sy uitspraak dat die enigste lewe wat die moeite werd is om te lewe, een is wat van her-eksamen tot her-eksamen verloop. Ook dít het deur die eeue heen groot navolging onder studente gevind en so gehelp om die volledige obliterasie van die herdenke te verhoed.

Maar die reus van die antieke her-denke is natuurlik Her-istoteles. Om Her-istoteles se bydrae te verstaan, moet dit gekontrasteer word met die denke van sy leermeester Manto, van wie hy skerp verskil het. Manto het naamlik geglo dat daar twee wêrelde bestaan. Die een is hierdie wêreld waarin ons ons nou bevind, die wêreld van verandering waarin dinge soos MIV/VIGS ontstaan, vir ’n kort rukkie bestaan en weer vergaan. Dit is dus ’n skynwêreld, leer Manto. Die werklike wêreld, die eintlike wêreld, is ’n onveranderlike, tydlose Ideëryk, ’n ryk van volmaakte vorme wat naatloos by mekaar aansluit, min of meer soos knoffelhuisies in ’n knoffelbol. Die mees volmaakte vorm, die punt waar al die knoffelhuisies as ’t ware bymekaar kom, staan bekend as “Thabo”. Die doel van die lewe, so leer Manto, is dan juis om hierdie skynwêreld van oënskynlike armoede, hongersnood, malaria, tuberkulose, MIV/VIGS en Kubaanse kwaksalwers te ontken en jou gees te rig op die ryk van onveranderlike, onherhaalbare vorme; meer spesifiek om jou armsalige aardse bestaan op te offer ter wille van Thabo. En die beste manier om dit te vermag is dan natuurlik om daagliks knoffel te eet en jou te laat gesel deur die vyandige pers.

Dit het Her-istoteles heftig bestry. Hy wys die bestaan van ’n Mantoniese ryk van ideale vorme af. Die enigste wêreld, volgens hom, is hierdie wêreld van verandering, waarin onvolmaakte vorme voortdurend vervang word met nog meer onvolmaakte vorme, en nog meer onvolmaakte vorme, totdat hierdie proses van noodwendige agteruitgang sy allerlaaste, mees gebrekkige moontlikheid bereik en George W Bush die magtigste man in die wêreld is.

Maar behalwe vir hierdie merkwaardige geskiedenisfilosofie word Her-istoteles vandag ook herwaardeer vir sy deugdeleer wat hy uiteengesit het in sy nou her-ontdekte boek Die Magiese Etiek van Niek. In die boek argumenteer hy dat ’n mens slegs ’n deug kan aanleer, byvoorbeeld die deug van huwelikstrou, as jy herhaaldelik ekstreme sondes pleeg. Dit staan bekend as die leer van die goue middeweg wat vandag nog deur baie middeljarige mans nagevolg word.

Na Her-istoteles het die marginalisering van die her-denke volledig ingetree. Van die groot herdenkers van die Middeleeue, soos Her-quinas, Her-belardus, en Her-manus van Okkam, of die herdenkers van die Europese Verdonkering, soos die Fransman Her-cartes, en die Duitser Herr Kant, was daar vir eeue lank weinig bekend, terwyl hulle denke van onskatbare waarde kan wees. Byvoorbeeld, van Her-cartes het ons die maksime “Feugo ergo sum”, dws “Ek rook, daarom is ek”, wat vandag weer die grondslag kan bied vir ’n omvattende samelewingskritiek. Van Herr Kant het ons byvoorbeeld die drie vrae waarheen alle filosofiese vrae herlei kan word, te wete: “Wie kan my herken?” “Wat moet ek oordoen?” en “Wie moet ek vermy?” Maar so is daar ook ander vergete her-denkers, soos Friedrich Her-tzsche met sy leer van die ewige wederkeer in sy werk, So stotter Zara-Zara-Zarathustra, en Her-kekaard met sy siening dat elke herhaling ’n sprong in die duisternis is, of Ludwig Her-genstein met sy oproep dat ons liewer moet stilbly as daar niks is om oor te skinder nie.

Danksy denkers soos Herrida, Michel Her-kou en Richard Herty se desentrering van die hermarginalisering van die herdenke, weet ons vandag dat daar geen herhaling moontlik is nie. Daar is geen terugkeer moontlik na dieselfde woord, dieselfde gesegde, dieselfde geskrif, dieselfde handeling, dieselfde keuse, dieselfde belewenis, dieselfde hede of dieselfde verlede nie. Elke herhaling is ’n herdenking van wat nooit weer sal wees nie en ’n hervatting van wat nooit voorheen was nie of weer sal wees, soos die hervatting van ’n strelende hand wat reeds in die liefkosende gebaar alle hoop om die oomblik in te palm, prysgegee het.




LitNet: 29 Junie 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.