SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Is daar lewe ná Harry Potter? Daar’s haaie in die punch!*

George Weideman

Is daar lewe ná Harry Potter?

Dié vraag het te make met die feit dat ouers, opvoeders en kinderboekskrywers wêreldwyd verstom is oor die sukses wat JK Rowling behaal het met haar reeks. ’n Mens is net so verstom oor die matelose energie wat bestee word aan die bemarkingsveldtog vir die Potters. Jy wonder dus oor die korrelasie tussen “lees” en “bemarking”, en hierdie verwondering dwing jou om te besin oor die situasie in Suid-Afrika, veral wat betref die Afrikaanse boek (want dit gaan by dié kongres tog in eerste en laaste instansie oor die Afrikaanse boek). Ek sê doelbewus: “boek” en nie “kinderboek” nie, want nie net lees kinders dikwels sogenaamde grootmensboeke naas kinderboeke nie, maar kinderboeke is tog ook belangrike en gelykwaardige medespelers op die totale leestoneel (al word hulle eintlik grootliks binne die literêre sisteem afgeskeep).

’n Aspek wat hierby aandag moet kry, is of die Suid-Afrikaanse skrywer (en die Afrikaanse skrywer in die besonder) hom of haar hoegenaamd moet steur aan die hoehaai rondom die Rowling-boeke.

Verder, soos die opskrif sê, is daar ook haaie in die punch. Hierdie toespeling kan u op vele maniere begryp. Ek wil op enkele haaie konsentreer. Kortom: ek wil vlugtig kyk na die verband tussen leeslus en daardie ander soort lus (wat ook met ’n i gespel kan word): die slinkse geneigdheid van die hype-verskynsel om al die klein vissies rondom hom weg te hap.

So van die see gepraat. Stel u die volgende toneeltjie voor: “Hááái!” roep die mooi, rooiharige meisie in die goudkleurige swempakkie. “Ek is die VIP-meisie. Alles wat ek het,” fluister sy skalks, “alles is te danke aan VIP!” ’n Rukkie later staan sy in al haar glorie op die strand, en dan sê sy in ’n pruilstemmetjie: “En ek is gewoon die slaaf van elke man wat VIP gebruik …” Nog ’n toneeltjie toon haar, in dieselfde goue baaipakkie, met ’n vrolike baba op die arm: “Sowaar mense, alles wat ek het, skryf ek toe aan VIP!” Die reklameagentskap wat die VIP-insetsels gemaak het, word oorval met navrae en versoeke vir die produk VIP. Maar daar is ’n klein probleempie: VIP bestaan nie. Die maatskappy het dit maar gemaak om ’n reklameskrywer se rooikop-vriendin aan die lyntjie te hou — toe word dit per ongeluk gebeeldsend. Dit moes nooit gebeur het nie.

Dit is min of meer die verhaalkern van Lover Come Back, ’n film uit 1961 met Doris Day en Rock Hudson in die hoofrolle. Die tema is ultramodern: ’n mens kan van enigiets ’n suksesvolle produk maak. In werklikheid het jy die produk self nie eens nodig nie.

Dié storie verskyn in die NRC Handelsblad, ter inleiding van ’n baie pikante artikel oor hype, die inhoud waarvan ek ook ruimskoots hier gebruik maak.

Die skrywer is Corine Vloet en sy skryf hier na aanleiding van die vraag of boeke nie maar net gewone kultuurprodukte is wat aan dieselfde wette onderworpe is as, sê maar, opwasmiddels of babas se weggooidoeke nie. Die artikelskrywer betoog nou dat dit — dié “ekonomiese wette” — die duidelikste sigbaar is in die geval van ’n boekbohaai of -hype.

Vloet vind die oorsprong van die woord hype in Amerikaanse Neger-Engels van 1938 (volgens die Oxford English Dictionary), maar sê dat dit in die moderne tyd verwys na die intensiewe en selfs buitensporige publisiteitsveldtogte ten bate van ’n saak of persoon wat deur die media of reklame opgeblaas word — en daarin, sê sy tereg, lê die kern: die opblaas self is die belangrikste, die inhoud is bykomstig.

Daar sluimer nog ’n derde betekenis, wat gekoppel kan word aan die streke van die Godfather van die Amerikaanse vermaaklikheidswêreld, die bedrieër PT Barnum. Hype word dus ook met skelmstreke geassosieer. En dis natuurlik presies wat met hype — ophef, reklamegesketter of bohaai, om liefs drie nuttige Afrikaanse woorde te gebruik — kan gebeur: die leser moet om die bos gelei word.

Daar is myns insiens twee soorte: ’n mens moet onderskei tussen “gesonde” en “ongesonde” ophef.

“Gesond” sou min of meer inhou dat alles moontlik gedoen word om ’n boek te bemark — selfs buite die sg “warm” periode (drie maande voor, tydens of na die verskyningstyd). Wanneer ’n boek hom leen tot teatermatige aanbiedinge — wat dikwels die geval is met kinderboeke — behoort ’n uitgewer dalk dramaskole te nader, waar studente dikwels projekte sóék. Wat word gedoen nádat ’n boek ’n prys gewen het? Riana Scheepers se Blinde sambok het die ATKV-toekenning ontvang; die uitgewer het nie juis kik daaroor gesê nie. Waarom nie?

“Ongesond” dui op of word gekenmerk deur die volgende sake: oorhaastige en onoordeelkundige (vooraf)bemarking, toegewings aan die eise van die media-geldmag, toegewings aan die vermeende behoeftes van (jong) lesers, opportunisme aan die kant van uitgewers om ’n bepaalde kontroversiële aspek van ’n boek as stut te gebruik (sê maar die gay-motief in Vlerkdans, die skokkende taalgebruik in Daar’s vis in die punch). (Ek verwys later na die funksionaliteit al dan nie van die taalgebruik in lg werk.)

Vloet noem ’n paar interessante voorbeelde, onder andere die volgende (en ek vertaal maar weer regstreeks).

U het nog nooit van Nic MacDonell gehoor nie, maar hier kom dit. Nic MacDonell is ’n 18-jarige kêrel uit die ryk Upper East Side van Manhattan. Hy het ’n roman geskryf oor sy ryk, blanke, verveelde leeftydgenote — ’n boek met die naam Twelve. Lank voordat die boek verskyn het, begin daar al in tydskrifte soos die invloedryke New Yorker artikels oor MacDonell en sy agtergrond verskyn. Pa werk vir Rolling Stone en Esquire en Ma skryf romans en draaiboeke, en die MacDonells tel mense soos Hunter S, Thompson, Jay McInerney, PJ O’Rourke en Joan Didion onder hul huisvriende, mense wat die jonge Nick se boek op die flapteks ophemel. Resensente was nie te opgewonde oor die boek nie. Maar dis nie die punt nie. ’n Bohaai-boek hoef immers nie gelees te word nie. Solank dit maar net verkoop.

Nog ’n voorbeeld: Dis nie vreemd dat alle groot Amerikaanse koerante luidkeels berig het oor die $8 m-voorskot (u het reg gehoor: agt miljoen dollar) wat Random House aan Charles Frazier, skrywer van Cold Mountain, betaal het vir sy volgende boek nie. Die nuus oor die geld is belangriker as die boek self.

Stephen L Carter — skrywer van The Emperor of Ocean Park — bied ’n nog kommerwekkender voorbeeld van hoe geldmag die Amerikaanse boekebedryf oorheers. Hier is dit veral die rol van die literêre agent en die uitgewer wat ons aandag verg. Carter se agent het naamlik die manuskrip aan twaalf uitgewers voorgelê. Binne enkele dae het vier gereageer (die manuskrip beslaan 900 bladsye). Oor die gebieëry op die manuskrip wat hierna volg, word met groot ophef berig, veral oor die aanbod van $4,2 m waarmee Knopf die knoop deurhaak. Nou volg fotokopieë aan Hollywood, en binne ’n ommesientjie sluit Warner Brothers ’n kontrak vir ’n bedrag met ses nulle.

Normaalweg moet die uitgewer nou die boek redigeer; selfs die skrywer verwag dit. Tot Carter se verbasing vra hulle hom om nog hoofstukke by te skryf — vir ’n egte hype is die boek nie dik genoeg nie. Tensy my afleiding verkeerd is, laat dit my dink aan ’n opmerking van Jackie Nagtegaal oor die rol van haar redakteur met betrekking tot die taalgebruik in Daar’s vis in die punch.

Maar terug na Carter: Die uitgewer begin nou met ’n publisiteitsveldtog. In die geval van The Emperor of Ocean Park word daar al ses maande vóór publikasie glansstukke aan die media gestuur en onderhoude gereël, met die uitdruklike oogmerk om bykans 40 miljoen Amerikaners te bereik. En dít ses maande voor publikasie. Toe lady Laura Bush — wat al bekend en berug geword het vir haar “vryery” na skrywers — se nuwe boekklub op ’n vooraanstaande televisienetwerk vir John Grisham vra om die “Boek van die maand” aan te kondig, was dit nie juis ’n verrassing om te sien dat dit Carter se boek is nie. Die uitgewer het sy eerste oplaag van 250 000 onmiddellik verdubbel. (Interessantheidshalwe: ook boekhandelaars gebruik of misbruik die bohaai: dit kos jou uitgewer ’n rustige £13 000 om die voorste winkelrak — dit moet die een naaste aan die ingang wees, nog vóór die New of die Latest Arrivals — in Britse handelaar WH Smith se winkels te haal!)

Ja, oorsee — en dan veral in Amerika — is boeke groot nuus, met klem op die “groot” én die “nuus”. Soos resensente — en gelukkig is daar nog sulke resensente! — begin uitwys, het die “keiser” van Ocean Park, in die woorde van Corine Vloet, egter geen klere aan nie! Dis gewoon ’n onverdienstelike boek, en die byhaal van die skaakmotief om swart-wit-verhoudinge uit te beeld is klaarblyklik net so gedwonge en ondeurdag as die byhaal van Frida Kahlo in die Nagtegaal-teks.

Vergeleke met die buiteland leef ons eie boekbedryf nog in die Steentyd — so lyk dit. Maar dalk moet ons in sekere opsigte dankbaar wees. Soveel bohaai hou nie noodwendig onvermengde seën in nie; dit dra nie noodwendig by tot die stimulering van ’n werklike leeskultuur nie.

Ek wil André P Brink (soos aangehaal in Rapport, 21 September) gelyk gee dat die establishment nie altyd gunstig reageer op vernuwing nie — maar dan wil ek daarby sê dat vernuwing vir my erg verdag begin lyk as dit met groot bohaai gepaard gaan. ’n Boekebohaai skep alte maklik die illusie dat boek X of boek Y goeie boeke is. Selfs fluisterreklame (“word of mouth”) doen die letterkunde eerder skade aan — en hier gaan dit nie oor die afgesaagde onderskeid tussen “hogere” en “lagere” literatuur nie. Dit lyk wel of niemand meer tussen knolle en sitroene kan onderskei nie.

Ek vertaal andermaal vrylik wat Corine Vloet in NRC Handelsblad skryf: Die vraag duik op of literêre voortreflikheid nog werklik die kans staan om tot die winkels deur te dring as ’n mens die huidige uitgewersklimaat in gedagte hou (en onthou, die rubriekskrywer praat hier van Nederland). Daar word steeds meer boeke verkoop, sê sy, maar al hoe minder titels. Uitgewerye is vir hul voortbestaan nie meer afhanklik van ’n aantal goeie werke wat redelik verkoop nie, maar van ’n jaarlikse mega-topverkoper (dit word geëggo deur iets wat een van NB se bemarkers nou die dag aan my gesê het). En nou móét daar wel groot reklamegesketter oor dié een boek plaasvind, want die verkoopstermometer registreer nie meer rustige temperature nie. Só word die uitgewersbedryf die gevangene van sy eie verkoopstrategie (en dis juis waarom, in Nederland in elk geval, al hoe meer middelgroot uitgewerye toemaak: hulle kan nie meer meeding met die grotes wat op die raasgolf ry nie). Groter, vinniger, meer — dit word die globale slagspreuk. Dit voorspel niks goeds vir die letterkunde nie.

Die hoofbemarker by NB, Marga Collings, beken in ’n brief aan my dat ’n boek soos Daar’s vis in die punch bemark en in die media voorgestoot is ómdat dit ’n kontroversiële boek is (kontroversieel tov inhoud, taalgebruik en die feit dat die skrywer so jonk was). ’n Jaar of wat tevore het ek ’n soortgelyke reaksie van NB ontvang op navrae oor redes vir die publikasie van Allan Boesak se gedigte. En, soos Riana Scheepers tereg in ’n onlangse brief aan my vra, wat word gedoen as daardie “prestige”-boek nie presteer nie? Sy kan sekerlik uit haar ondervinding by uitgewers praat.

Is kunsmatigheid of “ongesonde hype” dan nou alreeds by ons die norm as dit by bemarking kom? Ek herinner my ’n ander kinderboek, geskryf deur ’n nóg jonger skryfster (Ilse Steenberg) wat nie met soveel ophef bemark is nie. Ek herinner my nog ’n tienerskryfster, Annesu de Vos, ’n groen perske wat kennelik te vroeg gepluk is. Verder verwonder ek my daaroor dat ’n boek met ’n verwante tema as Daar’s vis in die punch, te wete Johann de Waal se knap geskrewe !Sit oom Paul, nooit bekroon is nie, skaars aandag ontvang het, en feitlik in die vergetelheid verdwyn het.

Ek wil vervolgens kortliks krities na enkele van die rolspelers in die publikasieproses van die boek kyk. Sommige van hulle mag as visse gesien word, ander is bepaald haaie.

  • Die skrywers

    Kom ons begin met die klein vissies, die dikwels lastige ou klipvissies wat jy maar kan teruggooi of vir aas gebruik — die skrywers. Twee vrae kom hier by my op: (1) Moet Afrikaanse skrywers hulle asvaal skrik wanneer hulle na die Potter-reklamegesketter kyk? (2) Moet die skrywer meer betrokke raak by die bemarking van sy/haar boeke?

    Wat ’n mens dadelik oplet, is dat Harry Potter klassieke status het: nie net kinders of jong volwassenes lees die reeks nie; heelparty ouer mense is ook gewoon versot op Harry se avonture. Skrywers kan hierdeur gerusgestel word. Sorg dat jy die klassieke literêre patrone deur en deur ken; beskou die ontdekking van ’n nuwe storie — ’n goeie storie, nie ’n sielewildernis nie (en dit kan ook wel albei wees: lees maar Margaret Mahy se boeke!) — as ’n uitdaging.

    Daar’s vis in die punch ontlok gemengde reaksie by oud én jonk, maar dis hoofsaaklik enkele tieners wat die boek lees, of dan, geniet; die res blaai deur hom soos wat tieners en sedertdieners desjare deur Kennis van die aand gebláái het. Of die wat die taalgebruik se kunsmatigheid raaksien, sit hom op bladsy drie-vier neer. Daar’s vis in die punch word ook as ’n wroegboek gesien; en ek herinner my ’n gesprek tussen ’n groep graad tiens van die Hoërskool DF Malan en drie skrywers, ongeveer sewe-agt jaar gelede. Daardie kinders, wat nou in hul vroeë twintigs is, het uitdruklik gesê hulle hou nie van boeke waarin daar gewroeg word nie. Die storie, die ontdekking, die avontuur — dit was vir hulle as vyftien-sestienjariges die belangrikste. Dit was sewe jaar gelede. Sou vandag se sestienjariges nog so dink? (Nadat dié referaat gelewer is, het die bydraes van leerders aan twee hoërskole in Kaapstad, in ’n paneelbespreking tydens die konferensie, dié sienswyses grootliks bevestig.)

    Klassieke status word ook bepaal deur die ryk verwysingsveld van ’n boek. Wat die Potter-reeks betref, is daar geen twyfel oor die ongelooflike vlegwerk van oerpatrone wat nog altyd die kern van goeie stories uitgemaak het nie. Kinders wat nie probleme met taalontwikkeling ondervind nie — daaroor kan ’n mens afsonderlik veel sê — verslind die Harry Potters, en word miskien ook gestimuleer om méér en ánder boeke te lees.

    Dit lyk asof ’n sterk fantasie-element en ’n ewe sterk storie steeds die sogenaamde klassieke jeug- of kinderboek kenmerk. Tog is daar uiteenlopende menings oor die rol van sprokies in die opvoeding. Daar is die een groep wat reken dis hul plig om kinders teen dit wat húlle meen boos of gewelddadig, irrasioneel of angsaanjaend is, te beskerm. Vandaar die talle variante van oorspronklike sprokies, sommige erg afgewater.

    Wat ’n mens wel in gedagte behoort te hou, is dat die reklame-oorwig met betrekking tot fantasie tog ’n negatiewe uitwerking op mense se werklikheidsbelewing mag hê. Barrie Hough voel nogal sterk hieroor.

    Huidige en voornemende skrywers het egter baie uit die Harry Potter-reeks te leer: daar is argetipiese patrone, oerpatrone aanwesig in elke goeie klassieke werk. Die werk met die sensasionele, kontroversiële inslag is van verbygaande aard; mag selfs vanweë sy gebrek aan goeie waardes ’n ontoereikende voorbeeld stel as dit ál is wat as lesenswaardig voorgehou word.

    Een van die waardes wat ’n mens van jongs af toegang tot die lewe gee, is taal. In Daar’s vis in die punch word net so onwetenskaplik en onverantwoordelik met taal omgegaan as in die TV-reeks Manakwalanders. Indien ’n werk ’n spieël van die werklikheid wil wees, moet die spieël self nie ’n kermisspieël word nie. Eben Venter het gelyk wanneer hy dié houding as blote luiheid beskryf; ook Hennie Aucamp en Lina Spies het dit reg wanneer hulle dit koppel aan taalverraad.

    Daar is twee ou beginsels wat in die letterkunde — vir alle letterkundes — geld: die van funksionaliteit en seleksie (wat onder meer meebring dat dit onmoontlik is om gesprekke volledig of getrou weer te gee). As ’n woord nie op sy plek is nie, hoort dit nie daar nie. In Carina Diedericks-Hugo se Koning Henry kom die woord “fokken” vir die eerste — en amper enigste — maal op p 45 voor — ek het daar geen probleme mee nie. Ook haar aanwending van Engelse woorde lyk my verantwoord. In Jackie Nagtegaal se Daar’s vis in die punch stuit die leser letterlik kort-kort op woorde wat (in gedrukte vorm) al gou hul effek verloor, maar wat tog nog die aandag van die hoofhandeling aftrek. Waarom het haar redakteur haar nie teen dié oordaad beskerm nie? In die commendatio vir die toekenning van die MER-prys word spesifiek na die swak taalgebruik verwys.

    Ek stem met André P Brink saam (Rapport, 21 September 2003) dat Nagtegaal se boek vernuwing bring, en dan wel vernuwing wat met betrekking tot die tematiese vergelykbaar is met Francoise Sagan en Michel Houellebecq se werk. Dit ís nodig dat skrywers ’n siek samelewing tot in sy wortels oopvlek; dit ís nodig dat ’n blasé subkultuur in al sy afgestomptheid (en verwatenheid) geteken word. Maar dan kan ’n mens seker selfs van ’n sg “crossover”-boek verwag dat dit darem meer om die lyf moet hê as ’n onverwagte ontknoping en ’n dun “dagboek”-storie wat met ’n kunsmatige sosio- of idiolek aan die gang gehou word. Net soos in Vincent Pienaar se Jo’burg, die blues en ’n swart Ford Thunderbird kon die taalmilieu dan ook ’n (deurslaggewende) rol gespeel het. Ek het wel waardering vir die aanwending van ’n bepaalde sosiolek (wat in Nagtegaal se werk, soos Brink tereg opmerk, dalk tog eerder ’n idiolek is), maar dan moet dit van alle kunsmatigheid en inkonsekwenthede gesuiwer wees. Om in ’n boek oor die 1960’s (soos Pienaar s’n) kort-kort van cool te praat, dui op gebrekkige redigering. (Dieselfde argument kan natuurlik teen die onverwagte “boekwoorde” in die Nagtegaal-boek ingebring word.)

    Maar, soos Helize van Vuuren (Rapport, 14 September) tereg in verband met Pienaar se boek opmerk, het sy ’n melancholie by die lees van die boek ervaar,

    ’n melancholie oor gebrekkige keurders, uitgewers se besluite oor watter boeke hulle uitgee, die houding wat dit impliseer teenoor die veronderstelde behoefte van die Afrikaanse mark, en les bes en bowenal, oor die toekoms van Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde.

    Dan voeg sy die volgende by, met verwysing na Van Wyk Louw wat in “Groot ode” daarop sinspeel dat die mens uiteindelik na ’n soort grotbestaan sal terugkeer — en dit wat Van Vuuren sê, kan net so toegepas word op die stand van die kinderboek binne die literêre sisteem (ás daar nog sprake is van so iets):

    ’n Oorsigtelike blik op die tendense in die Afrikaanse letterkunde (resepmatigheid, soos in die jongste boek van Dalene Matthee, ’n steeds groter wordende lys ligte, populêre boeke, die afwering van uitgewers van hoë, ernstige literêre tekste ten gunste van blitsverkopers en geldmakers soos die populêre, avontuurlike en sensasionele, die inkrimping van boekeblaaie) laat die vermoede ontstaan dat ’n soortgelyke regressie as waaroor Louw dit had, in die Afrikaanse letterkunde gaande is. Uitgewers is op jag na die stemme van gemarginaliseerdes, uitbeeldings van subkulture wat vroeër nie “stem” gekry het nie, dramatiese lewensverhale van onderdruktes. Estetiese oorwegings soos die gehalte van die skryfwerk is oënskynlik nie meer ter sake nie. Manuskripte word nie meer behoorlik geredigeer nie, want die mark wag. Tyd is geld.

    Tot sover Helize van Vuuren, wat verder in haar resensie wys op Marlene van Niekerk se vergelykbare roman, Triomf, wat vanweë sy meerdimensionaliteit inderdaad in ’n ander klas is.

    Verder duik die vraag op of veertien- en vyftienjariges wat Jackie Nagtegaal se boek lees, begryp dat daar tóg, sy dit dan hoe onbeholpe, bepaalde eksistensiële vrae in die boek gestel word. Kyk hulle verby die taalbravado? Verby die “pynlike gebrek aan woordeskat”, soos Lina Spies dit noem?

    Lees behoort juis as teenvoeter vir taalarmoede te dien. En mense soos Hennie Aucamp en Lina Spies pleit — dit kyk hul kritici mis — nie vir die verdwyning van dialektiese vorme nie! Die behoud van ’n taal se standaardvorm is, soos Leopold Scholtz en andere al telkens opgemerk het, egter essensieel náás die erkenning van die sg niestandaardvorme.

    Afrikaans word op twee maniere bedreig. Indien die ou beginsel van tweetalige opvoeding só aangepak word dat daar meer formele taalintegrasie sou plaasvind, en indien ’n mengeltaal gevolglik (óf oorsaaklik) as norm — as model — voorgehou word … dán sal gebeur wat HJA Hofland ten opsigte van Nederlands voorspel (en wat tans ook in Namibiese skole aan die gebeur is): die kinders, die jong- en grootmense van môre en oormôre, word met twee soorte koeterwaals opgesaal: “De kinderen spreken geen goed Nederlands meer, en evenmin goed Engels.” Dit lei daartoe, sê Hofland, dat hulle ook die eerste generasie sonder verlede sal wees, omdat die geskiedenis vir hulle ontoeganklik sal wees. Nou: as die klaarblyklike taalarmoede van ’n boek soos Daar’s vis in die punch as norm voorgehou word — as álmal so sou gaan skryf omdat die reklamehaaie dit so wil hê — dan het die jeug- of kinderboek sy ánder belangrike funksie verloor, en dit is om as korrektief op die voorgehoue werklikheid te dien, om kritiese denke te stimuleer, om vir die lewenswerklikheid voor te berei.

    Maar kom ons keer vir ’n oomblik terug na ’n heel praktiese, plat-op-die-aarde-vlak. Daar ís bemarkers — tans byvoorbeeld Miemie du Plessis van LAPA en Carina Diedericks-Hugo van NB — wat hul brood in die sweet van hul aangesig verdien. So ook skrywers wat hulle vergesel — veral LAPA se benadering lyk my vrugbaar: eers bekend stel; dan opvolg. Soos Jaco Jacobs, kinderboekskrywer van Bloemfontein, dit stel:

    Ons doen bemarkingstoere waarvoor ek waardevolle verloftyd moet opoffer. Party dae moet ‘’n mens met amper drieduisend kinders op ‘’n dag gesels, terwyl jy tussendeur bokse dra, aspirant-akteurs (wat tonele uit boeke opvoer) se nonsies opvreet (…) en stres oor padkaarte en die feit dat niemand onthou het dat jy nie eens ontbyt gehad het nie. Maar dis bemarking. Bemarking soos net ‘’n paar jeugboekskrywers in die land bereid is om dit te doen.

    ’n Groep skrywers — twee skryf ook jeugboeke — het wel onlangs dieselfde gedoen (die eerste Woordwals-toer). Dis soos Jaco sê: dis harde werk, maar dis die moeite werd om jou boek na die mense toe te bring. Tog is alle skrywers nie bemarkers nie; hulle is buitendien nie daarvoor opgelei nie. Hul eerste en laaste prioriteit is skryf. Dis net dat kunsmatige — ongesonde — ophef dit vir húl boeke al moeiliker maak om ook ’n plekkie in die son te kry.

  • Die leser

    En dit bring my by die volgende betrokkene in die lees- en bemarkingsproses: die leser.

    Die leser steur hom/haar dalk nie altyd aan resensies nie — veral nie as hulle êrens weggesteek is nie. Maar ás jou boek geresenseer word — want hieroor swaai boekredakteurs (vir koerant en radio) die septer met mag en geweld — skep dit darem die moontlikheid dat ’n voornemende leser dit sal raaksien of hoor. Ek het al skokkende voorbeelde van magsmisbruik deur boekredakteurs onder uitgewers se aandag gebring — sonder enige noemenswaardige reaksie. In een geval het daar van ’n kinderboek (Die geheim van die toringkamer deur Marianna Brandt, wat vir haar Mieliestronkpop ’n ATKV- en in vertaling ’n White Raven-toekenning gekry het) nie ’n enkele resensie verskyn nie! Van Brandt se Stoutsterte het daar net een behoorlike bespreking op FMR (’n plaaslike radiostasie in die Kaapse Metropool) plaasgevind, en daar was verder ’n kort besprekinkie nege maande ná verskyning van die boek in By.

    Uitgewers beloof wel baie aan die skrywer: deesdae word bemarkingsplanne voorgelê en bespreek. Ongelukkig kom daar, volgens wat verskeie skrywers my meegedeel het, bittermin van dié planne. Uit die aard van die saak, soos wat Collings aan my skryf in verband met Nagtegaal se boek: die bemarkingsbegroting hang saam met hoeveel aandag die boek in die media gaan trek. Word daar ’n buitengewone ophef voorsien, styg die begroting ook buitengewoon.

    Ek meen werklik dit was nie volledig verantwoordbaar en verantwoordelik om die MER-prys — ’n prys met gravitas, soos Barrie Hough dit stel — aan Daar’s vis in die punch toe te ken nie. Die boek het waarde in soverre dit ’n bepaalde tydgees of lewenshouding realisties, of dalk selfs hiperrealisties, uitbeeld — en dit is al. Hoe moet lesers — en dan veral diegene wat darem waarde heg aan ’n prys wat aan iemand soos MER gekoppel word — nou tussen pynappels en vis onderskei?

  • Uitgewers

    Uitgewers is ’n groep wat in die lees-en-bemarkingsituasie soms soos magsdronkes optree. Dikwels word wedstrydaankondigings en uitnodigings só geplooi dat skrywers in ’n bepaalde politiek-korrekte keurslyf ingedwing word. Moet tog nie aanstoot gee nie! En soms word byna die teenoorgestelde gesuggereer: Skryf cool, skryf soos die jongmense praat. Soms word ’n skrywer aangesê om bepaalde karakters maar liefs uit te haal — ek weet van een geval waar nonne uit die storie gesny moes word, omdat dit kwansuis die Katolieke Kerk sou bevoordeel. Blaas my siel, soos my oom Hendrik sou gesê het. Hier is sensuur al weer gesond en lewend in ons midde!

    Kennis van die verlede — hoe ons tot hier gekom het, eerder as hoe-ons-behoort-te-wees-noudat-ons-tot-hier-gekom-het — is, om Hofland weer by te haal, uiters noodsaaklik. Dit gaan hier nie net om nostalgie nie; maar selfs dít is verkiesliker bo nihilisme. Daarom is dit net so onbegryplik dat kinder- en jeugverhale wat wel ’n egte spieël van die verre of resente verlede voorhou, of wat vertel hoe “verlede” en “hede” aanmekaargesit is, by wyse van spreke nie deur die towerstaf van die mediabohaai aangeraak is nie. Ek dink aan boeke soos Barrie Hough se Droomwa, werke van Franci Greyling, Marzanne Leroux-Van der Boon se Luc en Libertine, selfs Die kind en Is Sagie van Jan van Tonder, en Dis ’n flippen stukkende wêreld, my ou deur Hans du Plessis; en dan veral twee tekste: Johann de Waal se reeds genoemde ! Sit oom Paul en Riana Scheepers se Blinde sambok.

    Maar terug na Harry Potter en boekebohaai. Skrywers wat ek geraadpleeg het, merk teenoor my op dat geen boek deesdae sonder reklamegesketter kan klaarkom nie; tog voel hulle ook almal dat boeke (of skrywers) nie gelykwaardig behandel word nie.

    Wanneer ek ’n skryfslypskool aanbied, is een van die eerste dinge wat ek vir die voornemende skrywers sê — en dit het ek by Charles Fryer geleer: Skryf met durf; moenie wegskram van jou diepste oortuigings nie. Dis iets gans anders as om jou deur die kunsmatige aandrang van die uitgewer of die media te laat lei. Want dit is nou maar eenmaal waar: geld, ongesonde kompetisie, politieke korrektheid en korporatiewe druk het veroorsaak dat die media trends of modeneigings najaag, en nie soseer die waarheid nie. Big Brother, Idols en Pryslyn verkoop die koerant, nie die waardes waarmee ons in onthoubare, knap geskrewe kinderboeke of in digbundels kennis maak nie.

    In die hele debat oor Engfrikaans het één bydrae — die van ’n tiener — dalk die aandag verbygegaan. Onder die opskrif “Gun jonges goeie skrywers” skryf Stefan Malherbe van Durbanville in Die Burger van 5 Julie 2003 onder meer:

    Ek is ’n tiener wat graag lees. Ek was grensloos geïrriteer deur Jackie Nagtegaal se Daar’s vis in die punch. Die boek is so besing dat ek gedink het ek is die enigste mens wat glad nie beïndruk is nie.

    Toe ek hoor dat die skrywer twee pryse gewen het, het ek amper besluit dat ek nie weer Afrikaanse boeke sal lees nie. As Daar’s vis in die punch beskou word as ’n boek van pryswennende gehalte, wat word beskou as ’n swak boek?

    Onlangs het ek Koning Henry, deur Carina Diedericks-Hugo gelees. Dit was een van die beste boeke wat ek in ’n lang tyd gelees het. Dit het my hoop gegee dat daar nog skrywers is wat weet wat tieners wil lees.

    Ek kan nie anders as om met Stefan Malherbe saam te stem nie. Hy verwys in sy slotparagraaf na kunsmatigheid; dit dui presies die verskil tussen Diedericks-Hugo en Nagtegaal se boeke aan. In eersgenoemde word die Engels — of dan: tienertaal — funksioneel gebruik. Die één grootmens wat dit ook probeer doen, word as ’n “fake” (dis Stefan se woord) ontmasker. Wanneer Louise Steyn van Tafelberg verklaar dat sy en baie ander grootmense praat soos in Jackie Nagtegaal se boek, doen hulle presies dit wat die Riaan-karakter in Koning Henry doen: hulle probeer cool wees, al is hul oogmerke nie dieselfde nie. Ek het tieners al hoor sê dat wanneer ’n predikant cool van die preekstoel af probeer klink, wil hulle by die kerk uitstap. Ek ook. Wat ’n mens nié moet vergeet nie, is dat slengtaal wel deur tieners as ’n sjibbolet, as afgrensingskode gebruik word. Maar dan moet dit tog deur skrywers met groot oorleg aangewend word. Skryf is ’n verantwoordelike werk.

    Uitgewers gee uit omdat hulle wil geld maak. Die klemverskuiwing van “uit liefde vir die saak” na “gaan die boek verkoop?” is verstaanbaar. Tog het dit meegebring dat skrywers in sekere genres nie meer hul talent wil ontgin nie. Ek praat spesifiek van die prenteboek — juis dáár waar jong en later volwasse boekliefhebbers gevorm word. Die prys van boeke kom hier in die spel. Corlia Fourie sê dat geïllustreerde kinderboeke vir haar al hoe meer van ’n probleem geword het, omdat biblioteke al hoe minder boeke aangekoop en die produksiekoste van hierdie boeke al hoe duurder geword het. “Ek het hulle dus vanself opgehou skryf,” sê sy.

    Dalk moet uitgewers toenemend aan koproduksies dink, of by ons oorsese “taalfamilie” gaan aanklop vir vertaal- en verkoopooreenkomste. Ek meen hier lê nog ’n stuk braakland.

    En wat van BTW? En boeksubsidies, soos in Noorweë? Dis ’n debat op sy eie.

  • Die media

    Die rol van die media is al — uiteraard — in die opnoem van die ander “rolspelers” genoem. Helgaard Raubenheimer van NB deel my mee dat hy ’n stryd met ’n sekere koerantredakteur in die Naspers-stal voer om hoegenaamd nog plek aan boekbesprekings af te staan — wat nog te sê kinderboeke!

    Daar is boekredakteurs wat moeite doen en, wie weet, self die goeie stryd moet stry. Die prinse van die handel sal oor hul voete val om sport te borg; rugby-, krieket- en sokkerhelde (en hul toejuigers) lees seker nie. Ek meen: kan jy jou Bees Benade, nuutste Springbok-stormram, met ’n gedig van Van Wyk Louw of Krog in die hand voorstel?

    Een so ’n redakteur is Francois Smith van Die Burger, wat beslis baie moeite doen om méér lesers by boeke te bring. Ook Sonja Loots verleen heelwat prominensie aan resensies en boekbekendstellings. Dikwels word daar egter meer ruimte aan Engelse boeke afgestaan as aan Afrikaanses — wie bepaal dié beleid? Sekere koerantredakteurs en/of hul regterhande het — so lyk dit — geen kennis van of waardering vir die Afrikaanse letterkunde nie, nog minder die kinderletterkunde. Vir hulle gaan dit nét oor kopie wat advertensies lok.

    Ek het sowat agt maande gelede ’n artikel geskryf oor die belangrikheid van ’n nasionale diktee. Dis in twee koerante gedra. Ek het spesifiek ’n uitdaging gerig aan alle koerantredakteurs en rektore. Geen redakteur — selfs nie die redakteur van Die Burger of van Beeld, waar die stuk verskyn het, het gereageer nie. Wel een rektor: prof Chris Brink van US. Dat daar ’n verband is tussen liefde vir en ’n trots op taal en taalvaardigheid en die latere siening van die letterkunde, is tog onbetwisbaar.

    Aan die ander kant moet die gewone leser — en dit sluit die skrywer as leser in (baie aspirantskrywers dink hulle hoef nie te lees nie!) — help om boeke in die koerante en tydskrifte bekend te stel. Jaco Jacobs vra tereg: “Is daar nuwe Afrikaanse jeugboeke waaroor EK iets in die media kan skryf?” Só kan ons ’n leesklimaat help bevorder.

    ’n Belangrike bydrae word natuurlik deur Storiewerf van Franci Greyling gelewer. Hierdie webwerf bied gewis ’n plek aan kinderboekskrywers en -lesers. Sy kry dan ook reaksie van regoor die wêreld; jy kan verseker wees dat honderde lesers baie gou met jou of jou boek kennis maak as jy tot die werf toetree. En dit is ’n goeie bemarkingsgeleentheid.

  • Ouers en onderwysers

    As ons praat oor die rol van ouers en onderwysers, sit ons met ’n tameletjie. Daar is, na my wete, nog geen onlangse navorsing oor die houding van ouers ten opsigte van leesbevordering gedoen nie. Daar word myns insiens trouens glad te min navorsing oor kinder- en jeugliteratuur gedoen. ’n Mens kry egter uit briewekolomme die gevoel dat jy hoofsaaklik met twee soorte ouers te doen het: die konserwatiewe, dogmatiese en erg voorskriftelike ouer — die soort mens wat die weerlig afroep oor Harry Potter of Daar’s vis in die punch nog voordat hulle die boek gelees het (wat, met die funksie van hype in gedagte, seker ook nie nodig is nie) en die apatiese ouer.

    Die reklame-haaie verwelkom die eerste soort reaksie: dit het destyds gehelp om ’n erg middelmatige ’n Pot vol winter in ’n sensasionele, souserige bredie te omskep; dit het, onlangs, gehelp om Francois Bloemhof se Slinger-slinger — wat darem nie ’n té slegte boek was nie — buite verhouding baie rye spore te laat loop; dit het pas meer skop aan die Vis in die punch gegee as wat die arme vis kan hanteer.

    Die probleem lê eintlik by die apatiese ouers. Ek bedoel nie dat ouers tot vervelens toe aan hul kinders moet vertel hoe húlle Drie jong jagters geniet het — en daarom moet die kleingoed dit ook doen nie. Dis eerder die voorbeeld wat saak maak. Maar ons Afrikaanse ouers lees nie; daarom weet hulle nie hoe lees ’n kind se wêreld kan verruim nie.

    Ek twyfel of sekere onderwysbeplanners goeie lesers is — anders sou hulle nie dom besluite rondom leesontwikkeling en leesvaardigheid geneem het nie. En ek is daarvan oortuig dat die meeste skoolhoofde nie lees nie, omdat die grootste gros van hulle eerder boeke uit hul biblioteke smyt om plek te maak vir rekenaars; daar is trouens skoolhoofde wat openlik verkondig dat die dae van die boek getel is. Gelukkig is daar uitsonderings: hier in die Kaap weet ek van minstens een laerskool (Mikro) en een hoërskool (Jan van Riebeeck) wat ruimskoots tyd maak vir lees. (Daar is seker meer.) Van die situasie in histories-benadeelde gebiede práát ek egter nie eens nie.

    Tweedetaalonderwysers met wie ek gepraat het, ervaar ’n groot probleem. Hulle kla deur die bank — sam met hul leerders — oor die soort verhale wat dié kinders moet deurworstel (Feesmaal), of oor die lengte van die tekste (Die verdwyning van Mina Afrika, andersins vir hulle ’n goeie storie). Hier is vir skrywers en uitgewers ’n groot uitdaging: om boeke te skryf wat Engelssprekendes met respek na Afrikaans kan laat kyk.

    Maar ons opvoeders — van wie soms die mees progressiewes skynbaar dink dis regtig nie ’n probleem om boeke te kopieer of wat selfs verwag dat boeke aan hulle en hul skole geskenk behoort te word — steek selde die hand in die sak om boeke aan te koop. Wie van hulle vertel nog met geesdrif aan hul leerders van nuwe boeke? Ek wonder hoeveel skoolhoofde het al in die saal — die o so belangrike saalperiode tog! — positief na ’n nuwe Afrikaanse boek verwys. ’n Gedig aangehaal. Leerders aangemoedig om na toneelopvoerings te gaan kyk.

    Ons weet die sg voorgeskreweboekmark het in duie gestort. Nou word dieselfde boeke voos gelees. Elkarien Fourie (skryfster van Dans op die rand van die krans (Protea), waarvoor sy alle bemarking self moet doen) het hier dalk ’n praktiese voorstel: Moontlik kan skole saamwerk, sê sy. As die geld min is en elkeen 300 van ’n nuwe boek koop wat na twee jaar tussen skole uitgeruil word, verlig jy die druk en skep jy nuwe markte.

    Om dan nou terug te kom na die vraag wat in die opskrif gestel is.

    Nee, ek meen die Afrikaanse skrywer hoef nie te vrees dat daar nié lewe ná Harry Potter gaan wees nie. Dit is maar ’n kwessie van die oerpatrone van ons samelewing — en dan veral ook ons saamleef hier in Afrika — ontdek of herontdek, en met geloof en dapperheid en opregtheid en nie met pretensie nie — en met woordeboeke langs jou — skryf.

    En vir al die “rolspelers” op die kinderleestoneel — uitgewers, akademici, opvoedkundiges, kinders, volwasse lesers, redakteurs en diegene in die regering wat al positiewe uitsprake oor lees gemaak het — wil ek graag ten slotte sê: daar sal gou-gou bymekaargekom moet word om daadwerklik, prakties, aan ’n nuwe leesklimaat te help werk. Ons kan nie die son altyd as verskoning wil voorhou nie: nie net die ryk Australiërs nie, maar ook die arm Suid-Amerikaners mag ons dalk een voor wees wanneer dit by lees kom. Soos Marianna Brandt onlangs in ’n vonkpos aan my skryf: As ons nie kinderlesers kweek nie, nie die kind kry om belang te stel in boeke nie, vir wie gaan uitgewers oor tien jaar boeke uitgee? Vir ’n paar pensioenarisse wat dit nie kan bekostig nie?

    Lesers word uitgenooi om op Weideman se artikel te reageer by egrundling@mweb.co.za. Die reaksies sal op LitNet geplaas word.

    Bronne

    Boomgaard, Karin en andere. 2002. “Drie over archief — Meer lezen door Harry Potter?” TooN, Jg 5, nr 4, Maart 2002.

    Hofland, H J A. “Het product lezen” .

    Vloet, Corine. 2002. “Hype dit!” NRC Handelsblad Boeken: 12 Julie 2002.

    * * Voordrag gelewer tydens die pas afgelope konferensie oor Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur, “Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom”, gereël deur die Eenheid vir Navorsing in Kinderliteratuur te UNISA, olv Thomas van der Walt. Die konferensie het by die Huis der Nederlanden in Pinelands plaasgevind.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.