SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Kan daar sprake wees van ‘n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse geskiedenis?

Albert M Grundlingh

Lesing gelewer by die Woordfees, Maart 2006

Die woord geskiedenis kan ‘n veelvoud van betekenisse behels. Vir die doeleindes van hierdie bespreking wil ek egter slegs op een aspek konsentreer, naamlik, geskiedenis-as-identiteit.

Geskiedenis as identiteit is nou verwant aan wat ons as “inherente” idees oor die verlede kan beskou. Hierdie idees neem dikwels die vorm van sogenaamde “common sense” aan en kan as ‘n organiserende beginsel in die daaglikse lewe funksioneer. As sodanig kan idees oor die verlede daartoe bydra om ‘n persoon se hedendaagse uitgangspunte en perspektiewe te help vorm. Alhoewel die gewig van so ‘n historiese belading uiteraard individueel na gelang van uiteenlopende kontekste sal verskil, kan weinig individue daarop aanspraak maak dat hulle hoegenaamd geen verlede het nie en ongekontamineerd is deur alle gebeure wat in die verlede voorgekom het. Geskiedenis in ‘n sekere sin kan as die aambeeld van identiteit beskou word.

Idees oor die verlede hoef natuurlik nie slegs van ampsweë oorgedra te word nie, maar kan ook informeel en byna onbewustelik deur eendersdenkende gemeenskappe gegenereer word. Die idees hoef ook nie dieselfde oor tyd te bly nie, en kan na gelang van veranderende omstandighede en breër ideologiese verskuiwings in ‘n samelewing aangepas word. ‘n Praktiese voorbeeld hiervan is die wyse waarop die herinneringe oor die Anglo-Boereoorlog hanteer is: vir jare was dit ‘n integrerende deel van die Afrikaner se lydingsgeskiedenis, maar soos die onlangse honderdjarige herdenking van die oorlog getuig het, het daar in ‘n veranderende konteks ‘n meer genuanseerde en geskakeerde beeld na vore getree waarin swartes en ander groepe meer prominent as vantevore figureer.

Swart politieke organisasies het ook geskiedenis vrylik gebruik ten einde ‘n bepaalde historiese identiteit in lyn met hulle politieke oogmerke te smee. So het die akademikus Tom Lodge voor die ontbanning van die ANC in 1990 oor dié organisasie geskryf:

The ANC has a well-developed sense of its historical identity. The very rhythm of its present day political and military activity demonstrates a deeply etched collective memory expressed through an annual calendar of commemorations and anniversaries. ANC speeches are larded with historical references to pre-colonial societies, to primary resistance, and to its previous campaigning. ANC recruits are drilled with a basic chronology of the ANC’s own development. (Radical History Review, 1991)
Alhoewel die klem op militêre aangeleenthede sedertdien in die ANC se historiese retoriek weggeval het (maar nie volkome nie, te oordeel aan Zuma se onlangse “masjiengeweer”-dreunsang buite die hof) het die kern van hierdie identiteit wat die gedagte van swart bevryding en “struggle” in die algemeen bevat, nog weinig van sy glans verloor. Ofskoon die ANC hoog opgee oor die behoefte en ideologie van nierassigheid, poneer die praktiese alledaagse werklikhede egter ‘n ander ideologiese bestel van Afrikanistiese hegemonie. Veral sedert die organisasie se vyftigste jaarlkongres in Mafikeng in 1997 is daar toenemend hierop klem gelê. Oor die teenstrydighede van dié posisie vis-à-vis nierassigheid het die historikus Colin Bundy soos volg kommentaar gelewer: “The call for African hegemony in the context of a multi-cultural and non-racial society is an oxymoron striving for orthodoxy.” (“New nation, new history?” Ongepubliseerde referaat, 2002)

Die verlede wat nog steeds die luidste tot ons spreek vandag, is een van afsonderlike identiteite wat elk die geskiedenis in ‘n meerdere of mindere mate vir breë politieke doelwitte aangewend het of nog steeds aanwend.

Maar desnieteenstaande wil ek tog vra of ons ons nie by tye te veel vas staar teen die formele politieke domein en nie genoeg ag slaan op die alledaagse, waar mense gereeld met mekaar skouers geskuur het en in weerwil van wesentlike verskille tog ‘n samelewing op grondvlak in stand gehou het nie. Moet ons nie miskien meer indringend kyk na wat al genoem is “the nooks and crannies of everyday historical existence” nie? Sal dit nie miskien vir ons ‘n andersoortige geskiedenis oplewer nie?

Die historikus Charles van Onselen het byvoorbeeld in sy epogmakende werk oor Kas Maine, die deelsaaier in die voormalige Wes-Transvaal, bevind dat verhoudinge in die platteland baie meer interafhanklik was, en dat baie meer kulturele kruisbestuiwing tussen wit en swart plaasgevind het, as wat die stereotipe van die “boer en sy sambok” dikwels wil te kenne gee.

Eweneens het ek, in my werk oor swart betrokkenheid by die Eerste Wêreldoorlog, gevind dat daar tydens die Boererebellie van 1914 aandag geskenk is aan die gedagte om Sotho-steun vir die Boere se saak te werf. Natuurlik moet mens nie te veel in sulke pogings inlees nie, maar dit toon tog op verrassende wyse hoe rasseskeidslyne onder bepaalde omstandighede meer vloeibaar was as wat die oorkoeplende geskiedsbeeld voorhou.

In ‘n ander verband het die skrywer André P Brink hom reeds in 1987 oor ‘n byna “onsigbare” verband tussen wit en swart uitgelaat; hy het dit in Engels soos volg gestel:

History has turned them into enemies. And yet they are probably the two groups of people in South Africa who have the most in common! They share a collective consciousness of a nomadic and peasant existence. Both have been conditioned by tribal experience. Both have chosen Africa as an object of their deepest loyalties and understanding. Both have experienced oppression, and the agonies and acceleration of a struggle for liberation. In the deepest possible sense they belong together. (Dakar-verslae, 1987)
Hierdie tipe uitsprake kan natuurlik oordryf word, maar dit maak ons tog daarop attent dat, benewens die historiese verdelende faktore in die Suid-Afrikaanse samelewing, ons miskien ook moet kyk na daardie elemente wat die samelewing bymekaar gehou het.

Hiermee wil nie voorgegee word dat historici eensklaps met ‘n heel vars oorkoepelende geheel na vore sal kom nie – daarvoor was daar eenvoudig te veel stryd en drama in die Suid-Afrikaanse verlede. ‘n Geskiedenis wat alle groepe in die land eweseer tevrede sal stel, sal waarskynlik bloot ‘n hersenskim bly.

Daar sal altyd verskillende uitgangspunte wees; daar is baie en uiteenlopende stories om te vertel. Die beste waarvoor mens kan hoop, is vir historici om te besef dat hulle hul stories beter sal vertel as hulle dit binne die kader van die breë tafereel van die Suid-Afrikaanse verlede kan plaas, met inagneming van die ideaal, hoe moeilik ook al, van ‘n verlede wat selfs opponerende en strydende groepe in ‘n binêre verband plaas

*Prof Grundlingh is voorsitter van die dept Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch


LitNet: 20 Maart 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.