SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

’n Mors van energie

Adriaan Basson

Adriaan Basson, Hoofredakteur van Die Matie, het die Groep van 63 se byeenkoms op Stellenbosch bygewoon. “Nee dankie, menere,” sê hy ...

John F Kennedy sou verlede Saterdag trots gewees het op die Groep van 63. In sy bekende metafoor van “wat kan ek vir my mense doen …” het hierdie “bende” (soos oa minister Kader Asmal na hulle verwys) in Stellenbosch — eens die bakermat van die Afrikaanse taal — vergader vir die groep se eerste Wes-Kaapse beraad.

Dit was maklik een van die koudste dae in die Boland en ek het die oggend ekstra suiker in my koffie gegooi om wakker en warm te wees vir wat sou kom. Want sien, liewe lesers, hierdie groep filosowe, doktore, professore en selfs “gewone mense” is swaargewigte in die intellektuele dampkring. In fact, ’n bietjie meer as tien jaar terug, toe daar net wit gesigte op die kassie en in koerante verskyn het, sou hulle heel moontlik ook famous gewees het …

Een van Afrikaans se mees belowende jong aktrises, Nina Swart, het onlangs in Beeld die volgende gesê:

Wat die Taalstryd betref, hoe bestaan ’n bende soos die Groep van 63 as hulle nét 63 mense kon kry om deel te wees van die kollektiewe bewussyn, samesyn, noem dit wat jy wil? Al hoekom die Stryd van die ou mans in hul suits nodig is, is om ons te remind hoekom ons nié daarvoor baklei nie, want as jy ’n kontekstuele analise van hul gesprekke oor Afrikaans gaan maak, verstaan ek niks.

“Sterk woorde vir só snuiter,” hoor ek die ou ooms brom. Sorry to say, maar sy was reg. Want om sin te probeer maak van al die verskillende agendas, akademiaanse diskoerse (sommige deurtrek van die denkfoute) en oppervlakkige politiekery wat ek moes aanhoor, is haas onmoontlik.
Dus: ’n indrukstorie deur ’n jong Afrikaanssprekende met ’n ongesonde en oordrewe belangstelling in die openbare debat.

Ek het nog nooit regtig die aard en doel van die Groep van 63 verstaan nie. Ek weet die organisasie/werkgroep/beweging is ongeveer twee jaar gelede by Hammanskraal in die noorde gestig en was sedertdien af en toe in die nuus — meestal as nóg ’n lid besluit het om uit die groep te bedank.

Ná Saterdag se beraad is ek nog meer verward. Soms het dit gevoel soos verkiesingstye in die dae toe die NP aan bewind, die KP die opposisie en die ANC verban was. Al wat gekort het, was die pannekoek, helder rosette en Bles wat sing van rose, duiwe en sterre op Boetie se draadloos.

Ander kere wou mens weer die indruk kry dat hierdie ’n gesonde forum vir debat vir alle Afrikaanses kan wees — net jammer 99,9% van diegene teenwoordig was wit en die gemiddelde ouderdom nie ver van 63 nie.

Danie Goosen noem dit ’n beweging, terwyl Christo Viljoen en van die ander Kapenaars beslis van die begin af op ’n mission was om ’n komitee te stig (’n instinktiewe reaksie van oudbroeders?).

Ironies genoeg is die beraad in ’n lesinglokaal by die Universiteit van Stellenbosch (US) se Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese gehou. Ironies, omdat die US (en spesifiek die rektor) sommer vroeg reeds onder skoot was en ’n elektriese, strydlustige atmosfeer deurgaans geheers het. Carel Boshoff IV het selfs gepraat van die “Afrikaanse revolusie” wat tans besig is om plaas te vind.

’n Aantal sprekers moes elk vir ongeveer ’n halfuur lank ’n voordrag lewer onder die oorhoofse tema: “Wat staan ons te doen?”

Koos Malan, regsgeleerde en een van die groep se hoofseuns, het verwelkom en dadelik die vure begin aansteek: “Die Grondwet slaag nie daarin om beskerming te bied vir alle mense nie.” Volgens hom word “Afrikanisme” eerder as “Suid-Afrikanisme” deur die owerhede nagestreef. Sy definisie vir die Groep van 63: ’n “intellektuele groep met ’n politieke hoek of ideaal”.

Uit die kant van my oog sien ek hoe ’n begeesterde Viljoen met sy digitale kamera korrel-korrel om die skare af te neem. Regs is Braam de Vries besig om hom te verlustig in Die Burger se classifieds.

Goosen, ’n filosofie-dosent van Unisa en hoof-koördineerder van die groep, het gesê die groep is nie ’n “politieke party of populistiese groep nie, maar ’n taalbeweging van ’n spesifieke aard”. Volgens Goosen moet ’n taalbeweging egter ’n “politieke dimensie” oor tyd kry om ’n impak te hê. Hy het die gebrek aan mites, waarop baie bewegings geskoei is, uitgewys en gevra vir die skep van nuwe mites vir Afrikaners.

“Afrikaner-nasionalisme is as mite in die verlede gebruik — vandag is dit slegs ’n smerige voetnota.” Verder het Goosen die huidige metapolitieke toestand in Suid-Afrika en globaal bespreek en verduidelik waarom gemeenskappe tans in opstand kom om hul eie, nuwe ruimtes te skep.

Ek ruik vis. Nuwe ruimtes soek? Dit was ook nie lank nie, toe opper Goosen die Dan Roodtiaanse gedagte van ’n Afrikanerraad vir “nuwe Afrikaners” wat nou kwansuis deur die staat “bedreig” word. Aha, dink ek. So dís waarheen die smooth-talking gelei het. Jammer Danie, maar die idee van ’n aparte raad en gebied vir “ons mense”, geskoei op nuwe mites (wat ook al hulle mag wees), klink darem vir my te eksklusief, benoud en ver verwyder van die kosmopolitaanse realiteit waarbinne ek en my vriende dolgelukkig daagliks ons ding doen.

Leopold Scholtz, adjunkredakteur van Die Burger, het gewys op die keuses wat Afrikaners gemaak het voor 1994. Volgens hom staan Afrikaners nou weer voor strategiese keuses: om te kies vir of teen die liberale gedagte, en om te kies of “ons wil oorleef”.

Oor lg het hy gesê: “Dit is ons taak om in hulle jargon en taal vir jongmense te verduidelik waarom oorlewing belangrik is.” Volgens hom lyk dit nie of jong mense “so gretig” is oor die taalstryd nie.

Dr Scholtz, u is reg. Ons is glad nie gretig daaroor nie. Ek is in ’n huis grootgemaak waar Afrikaans die spreektaal was. Ek praat en skryf in Afrikaans. Die meeste van my handboeke is in Engels, maar seminare, toetse en eksamens voltooi ek steeds in Afrikaans (toevallig aan die US). Ek ondersteun Afrikaanse kunstenaars en koop dikwels Afrikaanse boeke en CD’s. Daar is Afrikaanse politici in ál die groot partye en as hulle nie Engels kan verstaan nie, kan hulle bloot die oorfoontjies insit om na die Afrikaanse tolk te luister.

Verstaan u nou beter waarom ek nie “so gretig” is om ’n taalstryd te voer nie? Want waarvoor moet ek veg? Natuurlik het Afrikaans nie meer die status wat onder apartheid daaraan toegeskryf is nie. Daar is nou elf amptelike tale, waarvan Afrikaans en Engels beslis steeds die mees bevoorregtes is. Niemand kan ontken dat Afrikaans en Engels in die verlede ten koste van die ander inheemse tale bevorder is nie. Is die behandeling (let wel: níé mishandeling nie) wat Afrikaans tans van die owerheid ontvang, nie dalk meer regverdig nie, gesien teen haar aantal sprekers?

Wit Afrikaners moet so gou as moontlik afstand doen van die meerderwaardigheidskompleks waaraan baie van hulle nog ly. In geheel gesien, is ons taal en kultuur nie een duim meer belangrik as enige van die ander Suid-Afrikaanse tale en kulture nie. Die uitdaging is eerder om blootstelling te kry aan hierdie ander kulture wat vir só lank met lemmetjiesdraad omhein was.

Prof Albert Grundlingh, voorsitter van die US se Departement Geskiedenis, het gewaarsku dat politieke oorwinnaars dikwels van hul nuwe magsposisie gebruik maak om die “geskiedenis te herskryf”. In hierdie nasionalistiese geskiedskrywing is daar geen ruimte vir foute en kontradiksies nie. Volgens hom word die Afrikaner se geskiedenis nou gereduseer tot die geskiedenis van apartheid.

Geskiedskrywing is ’n komplekse onderwerp op sy eie wat meer as ’n terloopse verwysing noodsaak. Feit is: al die geskiedskrywingskole is voor 1994 beïnvloed deur ’n politieke magstryd waar etnisiteit en ideologie sleutelfaktore was. Die vryhede soos vervat in ons huidige Grondwet bring hopelik ’n nuwe geslag geskiedskrywers na vore wat nie deur die agente van verskillende agendas aan die hals gelei word nie.

Teetyd loop ek vir Hannes en Martie Meiring raak. “Jy moet iets sê dat hulle weet hoe die jongmense ook voel,” vra Martie. Hannes sê hy is lus om namens die sg “Zoid-generasie” te praat. “Nee wat,” sê ek. “Ek luister maar.” Koos Kombuis noem dit die “siniese stilswye” van jongmense. Inderdaad.

In my stryd om ’n koppie tee te probeer kry, voel ek iemand ruk aan my arm. Ek skrik. ’n Middeljarige vrou wil weet of ek met haar sal praat. “Ja,” sê ek. Sy het twee tieners wat nie enige erg meer aan die “Afrikaner-kultuur” het nie en wil by die Groep van 63 weet hoe om hulle “wortels” weer in dié kultuur te vestig. Gmf. Ek probeer verduidelik dat die tye verander het en “Afrikaners” in elk geval nie meer een definieerbare groep is nie. “Gaan vra jou kinders eerder hoe hulle ‘Afrikanerskap’ definieer en waarom hulle so voel.” Ek het duidelik nie vir haar gesê wat sy wou hoor nie. Sy beweer die “verengelsing” van Histories Afrikaanse Universiteite is te danke aan “die Engelse meisies wat vir hulle Boerseuns soek om mee te trou&nbps;...”

Die tweede helfte is ingelui deur prof Lawrence Schlemmer. Volgens hom kan Afrikaans “verkrummel” tussen die behoefte aan ’n alliansie met die regerende party en die deelname aan opposisie-politiek. Hy het gewys op ’n “nuwe etniese groep” wat Engels die afgelope tyd baie versterk. Hierdie groep het ’n “ontsettende behoefte aan Engels” en volgens hom is daar ’n bepaalde simboliek wat dié taal meebring.

Carel Boshoff IV van Orania het gevra dat die Afrikaner sy plek in die geskiedenis moet herwin. Hy het egter een van die belangrikste vrae op die beraad gevra: Is daar nog iets soos ’n “ons” — ’n nasionalisties gemobiliseerde Afrikanerdom? Volgens hom moet ’n kultuurgroep, om ’n plek in die geskiedenis te hê, in die openbaar handel en mites of ’n woordeskat in werking stel.

Vraetyd het gekom en die mense wou nóg hoor oor die sg “diskriminasie teen Afrikaanse universiteite”. ’n Dokument word saamgestel waarin die Groep van 63 die Matie-rektor vra om die “verengelsing” aan die US stop te sit. ’n Begeesterde Viljoen stel ook voor dat “wat hier gebeur het” nie verlore kan gaan nie, en stel die stigting van ’n Wes-Kaapse werkkomitee vir die groep voor. “Ja!” roep die skare en name word dadelik in die lug gegooi. ’n Komitee is gestig! Die beraad was suksesvol! Die stryd het begin!

Ek sug. Afrikaners is lief daarvoor om komitees te stig. En in hierdie komitees lyk, dink, praat en doen almal gewoonlik dieselfde. Afrikaans het nie nóg ’n komitee nodig wat heeltyd téén iets moet wees nie — die geskiedenis is reeds vervuil daarvan. Hierdie energie kan veel eerder gebruik word om Afrikaans op ’n praktiese wyse uit te bou deur bloot die taal te praat (in bv die parlement) en daarin te skryf (akademiese en nie-akademiese werke).

Nee dankie, menere. Julle aggressiewe styl van redevoering, onkritiese houding teenoor die verlede en arrogante aanspraak om nóú dit of dat te kry staan my nie aan nie. Daar is duisend keer meer opwindende dinge aan die gebeur in Afrikaans as die Groep van 63 se gesanik en gekners van tande. So laat staan julle kleinburgerlike aanhitsery en kom join die party. Dis oop vir almal en die vure brand al lank!

Lees Johann Rossouw se reaksie op hierdie artikel

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.