SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Ferreira het 'n intelligente boodskap, naamlik dat daar vir elke ding 'n tyd is

Hendrik Venter*

Klik op boekomslag en koop dit nou by Kalahari.net

Klik en koop!Eva ontmoet Einstein deur Annelie Ferreira
Uitgegee deur Protea Boekhuis
ISBN: 1869190777
Prys: R99,95
213 bladsye

Klik hier vir Annelie Ferreira se artikel oor die skryf van Eva ontmoet Einstein.

Hier rondom 1992 stap John Gray ons lewens in met sy Men are from Mars, women are from Venus. (Tien jaar later sukkel ek steeds om sy 100 plus "ways to score with a woman" suksesvol toe te pas.) Maar dit was nie lank nie of iemand sien dit is maar iets van 'n cop-out en maak 'n yskasmagneet: "Men are from earth, women are from earth, deal with it."

In Annelie Ferreira se Eva ontmoet Einstein kry mans en vroue 'n aardse plek wat voorsiening maak vir verskille én ooreenkomste. Die boek handel oor ons spirituele geskiedenis, en veral hoe dit met ons algehele geskiedenis verbind is, watter groot rol verandering voortdurend speel, en wat ons eie posisie daarbinne is.

Dit is 'n heerlike leeservaring vir elkeen wat waardering het vir eerlike konsekwentheid van hart, siel en verstand en moeg is vir al die "lewenswaarhede" of kitsoplossings wat in ons kele afgedruk word maar nie deel is van 'n regte wêreld nie. En ek kan jou waarborg, wat jou omstandighede ook al mag wees, as jy nie 'n hele paar keer hardop gaan lag terwyl jy die boek lees en nie daarna opnuut met ander oë na jou wêreld kyk of daaroor dink nie, het jy ernstige hulp nodig.

Op 'n sekere manier is hierdie boek tans die mees toeganklike geestelike postmoderne werk in Afrikaans. Sonder om haar te herhaal kry Ferreira dit reg om die mens en sy omgewing te integreer in lekkerlees Afrikaans. Sy hanteer 'n oënskynlik swaar onderwerp, godsdiens en spiritualiteit, en die oordra van 'n magdom inligting op 'n baie gemaklike en oorspronklike manier wat 'n vonkel in die oog laat.

Ferreira se besoeke aan die kinesioloog is hoogs humoristies, maar getuig ook van iemand wat die moed het om die vreemde te gaan verken en dan terug te kom en vir ander daarvan te vertel.

'n Vriend van my vra: "Maar wat de hel het Eva en Einstein met mekaar te doen?" Dit sien ons in die hoofstuk oor die twee se kuier by 'n buitelugkafee, waar Eva vir Einstein die formule neerskryf: "Heelheid = vroulik + manlik; Heelheid = yin + yang."

Eva skud haar kop. "Dis tyd dat ons twee daadwerklik begin saamwerk. Die verstand moet die mag van die hart leer begryp en dit benut. Die hart moet leer om die verstand te vertrou, sy geheime te deel. Ons taak is om kopdinge en hartdinge te herwaardeer, om te heroorweeg wat dit beteken en hoe ons daarmee werk. En om nuwe ruimte te skep vir die gawes van die kop en die gawes van die hart, vir die gawes van baie verskillende soorte mense." Eva kruis haar bene, haar langbroek val in sagte voue om haar enkels. "Ons twee is gelykes, Einstein, en dis tyd dat ons só leef. Ek wag al lank vir 'n kans om te vertel wat regtig daardie keer in die paradys gebeur het. Die geskiedskrywer het my verkeerd aangehaal en die storie verdraai. Dit is tyd dat die rekord reggestel word."
Vanaf die skepping vat Eva (en sy was immers een van die eerstes daar) die leser agter die verhoog in, deur die lewens van duisende geslagte. Sy vertel die storie hoe yin as die meer passiewe inwaartse krag en yang as die meer aktiewe uitwaartse krag, in watter sisteem ook al, as teenoorstaandes gebruik is deur die verskille wat die mens daarin gesoek het en nie altyd as komplementerende energieë in balans nie. In haar stilstaan by die oorlewing van primitiewe mense in 'n bestaansekonomie deur Konstantyn en die industriële revolusie tot vandag, gee sy ons 'n kyk in die siel, die essensie van die mens.

Ferreira het 'n intelligente boodskap, naamlik dat daar vir elke ding 'n tyd is, en miskien is die tyd nou om minder op verskille gerig te wees en meer op ooreenkomste.

Sy vertel ons van die teorieë oor die begin van die heelal, die oomblik voor die oerknal (en voeg by dat haar man sê dis makliker om Genesis te glo - soos dit ons praktiese mans betaam) tot die mate waarin dit nodig is om iets te verstaan van die mens se spirituele groei. Sy integreer dit met die mitologieë van die antieke wêreld van beide die Nabye- en Verre-Ooste en vertel wat die god Jahweh van Antieke Israel anders maak. Sy vertel ons ook van Boeddha en Mohammed en die mitologieë rondom hulle. In dieselfde styl verskuif sy die klem van die historiese Jesus na die kosmiese (ewige) Jesus en kry die leser 'n keuse wat hy/sy met Jesus wil maak.

Haar nuwe hantering van 'n oorbekende soos Abraham bring hom as mens nader aan ons en dan verstaan ons weer meer.

Ja-nee, ons ken Abraham.

Dink ons.

Ek het by geleentheid Abraham se verhaal in die Koran opgelees. Dit het my laat voel soos toe ek my oudste kind kleintyd by 'n maatjie gaan oplaai het en dié se ma my gegroet het met: "Jinne, jou kind het darem goeie maniere."

Hè? Is dit mý kind van wie jy praat?

Is dit mý Abraham wat sulke vreemde spore oor die bladsye van die Koran laat, mý Abraham wat net so deel is van die Judaïese en Islamitiese mitologie as die Christelike verhaalskat?
Ferreira vertel ons ook van die liefde en laat jou opnuut besef van al die geleenthede wat ons gehad het, maar waarvan ons 'n redelike gemors gemaak het.
Indien enigiemand bekommerd is, hierdie gedagte is geensins "New Age" nie. In die "Old Age", baie lank gelede, was daar 'n ou wat inspirasie gaan soek het op 'n berg en teruggekom het met 'n paar voorskrifte, wat soos volg opgesom is:
Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Holy Moses …
Hierdie aanhaling demonstreer haar styl om met skerpsinnige ironie die oue (bekende) en die nuwe (onbekende) te versoen sonder om die leser onveilig te laat.

Sy vertel ook dat liefde deesdae in spirituele kringe as die teenoorgestelde van vrees gedefinieer word, en meteens eggo die eeue-oue woorde wat sê God is liefde van 1 Joh. 4:18 in my oor:

Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.
En so sien ons in die praktyk hoe goed bymekaar kom en hoort.

In die hoofstuk "Die wederkoms van Abraham", waarmee die meeste van ons kan identifiseer, stel Ferreira ons voor aan 'n eietydse Abraham en Sara: Braam en Sarah-Lee en familielede Isak en Jakobus. Weer eens is Braam 'n nomadiese swerwer in die woestyn van sy geestelike lewe, maar dié keer, dink ek, is dit 'n bietjie moeiliker, want Sarah-Lee swerf aktief saam. En alhoewel die twee nie mooi weet waar hulle gaan uitkom nie, gee Ferreira 'n paar rigtingwysers wat hulle help, en waaroor elke leser kan nadink, vanaf die erfsonde waarmee ons die aarde inkom tot die lewe nadat ons die aarde uitgaan.

Ferreira gee ook aan die duiwel sy regmatige plek: minder as een persent van haar ruimte.

Haar inbring van die ekonomie en die wisselwerking daarvan met die mens se spiritualiteit is relevant en gepas en kan gelees word met 'n onlangse standpunt van Christo Lombaard1 . "Kommentaar: Calvyn geen kleingeld nie - akademiese dissiplines ook nie".

Dit verander nie Ferreira se boodskap nie, maar haar oënskynlik onvoorwaardelike gebruik van die Myers-Briggs-persoonlikheidskaal (p 29 en p 126) is jammer, want daar is 'n geldige standpunt dat hierdie skaal as kontrolelys 'n misbruik kan wees van Jung se tipologie,2 en ook die mens se vermoë negeer om oor tyd te verander. Dit sou ook interessant gewees het indien Ferreira gekyk het na 'n moontlike verband tussen Maslow se hiërargie van behoeftes en die sewe primêre chakras. In haar styl sou sy dit binne die bestek van die boek kon gedoen het.

Toe ek op 'n Sondagaand die boek toemaak, het dit gevoel of ek die naweek heerlik saam met Annelie Ferreira, haar man en twee dogters gekuier het. Vrydagaand het ons aan haar man se kerrie gesmul en Saterdagaand aan sy heerlike filet met 'n glas rooiwyn. Daar was geen regrets nie, maar heel menslik het ek tog 'n bietjie Sondagblues gehad met die wegry. En ek het geweet wat my vriende en familie, van my ma van oor die tagtig tot die jongeres, hierdie Kersfees gaan kry.

En soos wat ek die gesels van die naweek deurdink het, het ek besef: tipies Eva - as jy met haar wil gaan staan en verskil, gaan dit 'n lang gesprek wees en het jy 'n goeie kans om tweede te kom.

Ek het 'n gevoel dat die flapteks nie reg laat geskied aan die inhoud van die boek nie en dat dit moontlik die meer ernstige leser kan afskrik.

Ek dink Eva ontmoet Einstein is Ferreira se beste werk nog - in 'n ander klas. Dit is die werk van 'n deurwinterde, welbelese en weldeurdagte skrywer, 'n skrywer wat deur die muur is en nie daarin vaskyk nie, wat tuis is met haar onderwerp en haar taal. Een met haar voete op die grond terwyl sy reik na die sterre.

Vir elke LitNet-gebruiker, van Steve Hofmeyer tot Maryna Blomerus en van Sakkie Spangenberg tot Sonia Cabano, en enigeen tussenin, soos Swys en Anna Vier - o ja, Dan Roodt ook - sal daar iets in Eva ontmoet Einstein wees om saam te vat.

In die huidige gesprek onder Afrikaanses oor kerke en sondes, taal of skool, sal hierdie werk 'n bydrae lewer tot jou denke, of jy nou deelneem aan die gesprek of net jou eie standpunt wil heroorweeg

Afrikaans is bevoorreg om Eva se storie te kon bewoord.


*Hendrik is betrokke by LivinSure en Griffel Media www.griffel.co.za en lewer van tyd tot tyd bydraes op LitNet se geestelike bladsye.

Hierdie resensie het deeltlik verskyn in Die Burger


1 Dr Lombaard is verbonde aan die Fakulteit Teologie,
Universiteit van Pretoria.
2 Daryl Sharp. 1987. Personality Types. Jung's Model of Typology.
Inner City Books. P 92-93.




LitNet: 06 Desember 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.