SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Hierdie resensie is geborg deur Kalahari.net

Die verlede is nog nie dood nie

Theresa Papenfus

Gister se dade, vandag se oordeel
JPJ Coetzer
Uitgewer: JP van der Walt

Met die bevindings van die Waarheids- en Versoeningskommissie nog swaar op die gemoedere van talle Suid-Afrikaners en die stof van die Boetman-wrewel rusteloos aan die warrel, betwyfel ’n eertydse Direkteur-generaal van Justisie die moontlikheid dat die WVK-verslag in ’n Suid-Afrikaanse hof staande sal kan bly. Die WVK, sê hy, het in verskeie opsigte in sy opdrag gefaal en die verslag behoort deur ’n onafhanklike, hoër gesag hersien te word.

Gister se dade vandag se oordeel is die soort boek wat in die huidige Suid-Afrika met minstens ’n mate van ongemak gelees word.

Daar is ’n ander kant van die saak, skryf Coetzer — een wat, wanneer dit kom by die beoordeling van die verlede, maklik uit die oog verloor word. Die “ander kant van die saak”, soos gestel deur iemand wat jare lank deel van die apartheidstelsel was, sal stellig ’n klompie wenkbroue laat lig. Die verskeidenheid en die gesag van die bronne wat hy ter stawing aanhaal, verhoed egter dat Coetzer se betoog sonder meer van die tafel gevee kan word.

Oor die ontstaan van die boek, wat grootliks op sy persoonlike ervarings en waarnemings berus, skryf hy:

    “Ek het vir etlike jare gebroei oor die idee om so ’n boek te skryf en literatuur daaroor bestudeer en versamel. Uiteindelik het ek besluit om maar die verlede agter te laat en slegs vorentoe te kyk.”

’n Preek van Desmond Tutu in ’n NG-gemeente en uitsprake van Afrikaanse kerkleiers oor die skuldlas van apartheid het hom egter mettertyd oortuig dat “ek sou fouteer indien ek sou nalaat om ook dit wat ek self waargeneem en ervaar het en in my studies ontdek het, op skrif te stel.”

Dit is goed, bevestig Coetzer, dat growwe menseregteskendings van die verlede oopgevlek en opgeteken word. “Dit moet egter op ’n regverdige en billike wyse geskied, en dit moet gedoen word op ’n wyse wat die strewe na nasionale eenheid en versoening in die land sal bevorder en nie teenwerk nie.”

Die getuienis waarop die WVK-verslag gegrond is, voer hy aan, is nie getoets nie, maar bestaan hoofsaaklik uit oorvertellings, persepsies of persoonlike indrukke. So ’n praktyk is strydig met die vereistes van die wet wat magte aan die WVK verleen.

Die kommissie het ook nie die “ander sy van die saak” ontleed nie, maar die “aangeklaagde” summier skuldig bevind aan die skending van menseregte. Dit, voer Coetzer aan, is volkome strydig met die reëls van natuurlike geregtigheid.

Deur die bevindings van die WVK is baie onskuldige mense waarskynlik ernstig benadeel. Verder is dit waarskynlik dat swart mense se wrok teenoor wittes eerder sal toeneem, terwyl wit mense wat die verslag lees, so opstandig kan raak oor die onbillike wyse waarop hulle ingeklee is, dat ook hulle geneig kan wees om die rug op versoening te keer.

In sy boek probeer Coetzer die besluite van die vorige regering en die kiesers oor swart mense se politieke regte objektief beoordeel. Die vraag wat hy deurgaans aan die leser voorhou, is: Sou ’n redelike, wit Suid-Afrikaanse kieser van die sestigerjare die besluite wat ten opsigte van ras geneem is, goedgekeur het of nie?

Coetzer gee egter geen beskrywing van die “redelike” Suid-Afrikaanse kieser nie, en verduidelik ook nie waarom die beoordeling uit ’n wit perspektief moet plaasvind nie. Dit is ’n ernstige leemte van die boek.

In 344 bladsye probeer die skrywer ’n voëlvlugperspektief gee oor die geskiedenis van apartheid en die weerstandsbewegings waarmee die regering te kampe gehad het. Strydig met die algemene opvatting, voer hy aan dat apartheid nie die ontwerp van die Nasionale Party was nie. Ter stawing haal hy Joe Slovo aan:

    “Bashing the Afrikaner is a popular pastime among certain English liberals … It stems from a combination of English jingoism and an attempt to evade collective white guilt for our racist inheritance by oiling it all onto the Afrikaners ... If any one group is to blame for the modern foundation of apartheid it is the non-Afrikaner upper strata which dominated the seat of power for more than 75 years before 1948. “

In ’n terugblik op die land se geskiedenis oorweeg hy aansprake dat die Suid-Afrikaanse grondgebied primêr aan die swart mense behoort. Slagspreuke in dié verband, meen hy, was op valse aannames gebaseer. Ten tyde van Van Riebeeck se landing aan die Kaap het hy groepe Boesmans en Hottentotte aangetref wat ’n nomadiese bestaan gevoer en dus nie beskou kan word as volke wat gevestigde belange gehad het nie. “Histories het swart mense derhalwe geen aanspraak op Suid-Afrikaanse grondgebied nie, behalwe dié gebied geleë ten ooste van die Keirivier en miskien gedeeltes tussen die Kei- en die Visrivier.” Indien swart mense aanspraak kan maak op enige grondgebied vanweë verowering, voer hy aan, kan wit Suid-Afrikaners aanspraak maak op die hele Suid-Afrika uit dieselfde oorweging.”

Toe apartheid as beleid amptelik aanvaar is, voer Coetzer aan, het baie Suid-Afrikaners — wit én swart — eerlik geglo dat dit kon slaag.

’n Groot deel van die boek word gewy aan die bedreiging wat die internasionale Kommunisme vir Suid-Afrika ingehou het. Oor die erns van die destydse bedreiging, haal hy uit ’n wye verskeidenheid van dokumente aan. Sy boek word dan ook opgedra aan “almal wat tydens die vorige bedeling as politici, lede van die veiligheidsmagte, staatsamptenare of gewone landsburgers ’n bydrae gelewer het om te voorkom dat Suid-Afrika deur internasionale Kommunisme oorstroom word.”

Wat apartheid by uitstek omstrede gemaak het, voer Coetzer aan, was die drakoniese wette wat gemaak is om die Kommunisme te stuit. Baie van die veiligheidsmaatreëls wat geneem is, het teen sy eie “grein” gegaan. Uiteindelik was Kommunisme en nie die rassekwessie nie die kernoorsaak van die stryd tussen die regering en die vryheidsbewegings.

Hy meen dat die ANC , wat vroeg reeds bande met die SAKP gehad het, besonder naïef was om te dink dat die Russe hulle bloot sou help om Suid-Afrika oor te neem en daarna “soos soet seuns sou terugstaan sodat die land deur swart nasionaliste bestuur kon word.”

Indien daar nie so ’n noue verbintenis tussen die ANC en die SAKP bestaan het nie, sou ’n oplossing vir Suid-Afrika se probleme veel vroeër vreedsaam bereik word, sonder dat Mandela 27 jaar lank in die tronk sou moes sit. Indien Mandela en ander sou besluit het om dieselfde pad te loop as byvoorbeeld Desmond Tutu en Mangosuthu Buthelezi, sou ’n skikking lank voor 1994 bereik kon word, met veel minder bloedvergieting en minder lyding. Toe dit uiteindelik duidelik was dat die Kommunisme sy tande verloor het, het die vorige regering apartheid inderdaad uit die weg geruim. Indien die regering egter vroeër die handdoek sou ingooi, glo Coetzer, sou Suid-Afrika vandag maar net nog ’n ashoop van die Kommunistiese stelsel gewees het wat talle Suid-Afrikaners, waaronder mense soos Nelson Mandela, sou verswelg.

Vir die leser wat ’n oorsig oor die Suid-Afrikaanse politiek van die grootste deel van die vorige eeu wil hê, is hierdie ’n bondige samevatting.

Coetzer se boek herinner die leser in besonderhede aan die manifestasie van “klein” en “groot “ apartheid, die opkoms en bedrywighede van die swart bevrydingsbewegings en die SAKP en die Rivonia-verhoor waarin Mandela onder meer tot lewenslange gevangenisstraf veroordeel is. Hy stel die leser voor aan openbare figure soos Bram Fischer, Verwoerd, Vorster, Kruger, PW Botha en De Klerk en betoog dat die destydse regering grootliks probeer het om in die belang van al die mense van Suid-Afrika op te tree. ’n Mens lees weer van die impak van prominente gebeure soos die Johannesburgse stasiebom, die dood van Steve Biko, die Soweto-onluste en die toename in voorvalle van terrorisme waarin burgerlikes dikwels die slagoffers was. Opsommend verwys hy na die belangrikste foute wat deur die vorige regering voor en ná 2 Februarie begaan is.

Die styl van die boek is formeel, byna akademies en herinner ’n mens deurgaans aan ’n betoog wat deur ’n regsgeleerde in ’n hof gelewer word. Tog lees dit nie moeilik nie, en Coetzer slaag grootliks daarin om die leser se aandag te behou.

In 1984 het Coetzer uit die diens van Justisie getree en by die Pretoriase balie as senior advokaat aangesluit.

Daar kan nie toegelaat word dat die verslag van die WVK onveranderd gelaat word as die grondslag van die land se geskiedenis nie, sê hy. Die kommissie het gefaal en iets moet gedoen word om die aangeleentheid reg te stel. Gister se dade, vandag se oordeel is sy poging daartoe.

Terwyl die goed gedokumenteerde inligting wat Coetzer voorlê dikwels insiggewend is, en hy sake telkens van verskeie kante bekyk, doen ’n opmerking soos die volgende afbreuk:

    “ ...Tydens my dienstyd by die departement [het ek] geprobeer om onpartydig te bly en objektiewe denke te handhaaf, dog, indien ek wel in daardie tydperk polities beïnvloed geraak het, dink ek dat ek sedert 1 Julie 1984 daarin geslaag het om volkome objektiwiteit ten opsigte van landsake te bereik.”

As Coetzer met hierdie boek die wroeging oor apartheid volledig wou besweer, het hy nie daarin geslaag nie. Wat hy wel regkry, is om die leser van die kant van die “beskuldigde”, en van dokumentasie wat tot dusver grootliks onbekend was, bewus te maak. Ná die lees wonder ’n mens soms onwillekeurig oor ’n opmerking soos dié van Theo van Wijk in die voorwoord:

    “Van hierdie woord oor die verlede sal die toekoms kennis neem.”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.