SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Visum vir die vreemde — ’n ritjoernaal

clinton v du plessis

Iewers in April kry ek e-pos uit Nederland.

Stichting Poëziefestival Nijmegen organiseer vir die eerste Saterdag in Junie die vierde poëziefestival, van twee tot twaalf — 10 uur poëzie in Nijmegen. Hulle verneem spoedig of ek sal kan deelneem.

Die vorige jaar moes ek ’n uitnodiging uit Den Haag van die hand wys omdat ek nie oor ’n paspoort beskik het nie, maar dié keer het ek (danksy Peter Snyders se goedige geneul) een aangeskaf en ek laat weet dat ek graag daar sal wil optree.

Exit, 03/06/1999

Ek sit 20 minute lank vas in ’n verkeersknoop buite die lughawe in Johannesburg. Die vlug met Alitalia is ongeveer ’n uur vertraag; in Milaan verloor ek my aansluitingsvlug na Amsterdam en sit vyf verveelde uur in die lughawegebou rond; ek kom uiteindelik om 16:20 in gietende reën op Schiphol aan. Die organiseerders het reeds vroeg die oggend vir Wilma Stockenström gaan haal en my aangesê om die trein na Nijmegen te haal. Ek is uitgeput en senuweeagtig, dis ’n ver eerste reis vanaf Cradock (sonder verkeersligte) tot by Schiphol.

My bagasie is weg!

Ek vul die nodige vorms by die agent in en sy gee my ’n tolvrye nommer om te skakel as ek nie binne 24 uur iets van haar hoor nie. Ek koop ’n kaartjie, daar is geen direkte trein na Nijmegen nie, ek moet op Duivendrecht oorstap en op platform 8 ’n aansluiting kry.

Daar aangekom, besef ek nie dat daar aan die ander kant ’n roltrap is nie, en klim met ’n half verstuite enkel die trap op en af tot by platform 8 en sien die trein die perron uitsnel; 17:15 hier beteken 17:15! Ek vra ’n ouerige man vir aanwysings en hy sê dat daar om 17:28 weer ’n trein vanaf dieselfde perron vertrek. Toe die trein stilhou, klim ek in my haas by die rokersafdeling in, dis egter ’n klein prys om te betaal, besluit ek, en bly sit — ek is uiteindelik op die laaste skof.

Notas uit Nijmegen, 04,05,06/06/1999

(i)

Die taxi laai my net na 19:00 voor die deur van die Hotel Atlanta af. In die eetsaal staan twee vroue by Wilma, ek voel verheug om ’n bekende gesig te sien. Ons besluit dat die eerste item op my agenda vir die volgende dag “klere koop” is. Om my kop oop en my bene los te kry, loop ek op my eie die stad in. Die kelner het aangedui watter roete veilig is en ek verdwaal vir die volgende twee en ’n half uur liederlik. ’n Winkeleienaar gaan haal vir my ’n kaart uit en beduie. Goddank word dit laat donker en teen 22:00 strompel ek die hotel binne, stort en raak sonder pajamas aan die slaap.

(ii)

Tydens ontbyt bied Wilma aan om my te sambreelbegelei na die naaste winkel. Ek kom weer teen 09:00 na onder en ons wag in die eetsaal omdat die winkels eers 09:30 oopmaak. Op die plein voor die hotel het verskeie stalletjies die ruimtes ingeneem; broodrolletjies, vars vis, kaas en horlosies. Dit reën, die stalletjie-eienaars paal en stok geoefend die omgekeerde boggels water van die tente se dakke af. Om 09:20 kom sê die kelnerin daar is ’n oproep vir my. My bagasie is gevind en sal by die hotel afgelaai word ...

(iii)

Ek blaai die tyd om deur koerante en tydskrifte. Twee berigte tref my. In KwaZulu-Natal het die OVK se rekenaars per abuis 863 000 stemme aan die ANC toegeken en die gewese Mej. België, ’n advokaat, belowe om haar katelkaalgat uit te trek vir Playboy indien sy 200 000 stemme in die verkiesing kry. Ek wonder hoe sy lyk. Daar is ook berigte oor probleme op veral voorstedelike treine in Amsterdam. Ons het ons Nigeriërs met selfone, hier blyk die skuldige “een opgeschoten Marokkaantjie” met sy “mobiele telefoon” te wees. Ene Becker skryf verder: “Nederland is een democratie en dus ook ‘protestocratie’, wie niet protesteerd, word genegeerd.” Dis alles goed en wel, maar wat bly daar oor om teen te protesteer?

(iv)

Die organiseerders van die fees reël vir ons ’n taxi vanaf die hotel, net ingeval dit weer reën. Die Stadsschouwburg is ’n imposante gebou en in die portaal word ons voorgestel aan van die ander digters. Ons gaan neem ons plekke in in die Nederrijnzaal en ’n koor van 26 lede sing Nkosi sikelel i’Afrika. Ek het vooraf aangeneem die volgorde van die name op die program is ’n aanduiding van die volgorde waarin ons sou optree en maak my dus gemaklik om eers na van die ander digters te luister en die “feel” te kry.

Die aanbieder voel egter dat dit gepas sal wees as een van die SA-digters die geleentheid sou kry om verrigtinge te open en hy roep my vorentoe. Ek begin effe van stryk af omdat die persoon wat die Nederlandse vertalings moet projekteer die gedigte van die middag en dié van die tweede sessie later die aand deurmekaar laat raak. Teen die derde gedig loop alles egter glad en die 15 minute is gouer verby as wat ek verwag het.

Die program het ’n wye verskeidenheid van digters; ’n onopgesmukte, by tye blosende 15-jarige Laura Almagor (’n land met meer konflik kon haar miskien ’n Krog gemaak het?), Nachoem Wijnberg wat al sy gedigte uit die vuis voordra en ook Renate Stoute wie “als lesbische transseksuele vrouw ‘Out & Proud’ ” is.

Ek ontmoet Robert Dorsman en luister net voor 24:00 na Adriaan van Dis se voorlesing. Tien uur van poësie, ek is gedaan.

Berigte uit België, 06,07,08/06/1999

(i)

Ek reis Sondagoggend (weer in die reën) na Maastricht waar Luc Renders my kom oplaai vir Hasselt in België. Hom nog nooit ontmoet nie, maar hy’t gereeld resensies van my boeke gedoen en ook onlangs ’n artikel in TNA geskryf wat sorg dat ek deesdae gunstiger resensies kry en onder meer na Poetry Africa in Durban genooi is!

Hy en sy vrou neem my vinnig deur ’n paar kerke in Maastricht en ons kom laat die middag by sy woonstel aan. Hier voel ek tuis, Gert Vlok Nel is op die cd-speler, ek drink rooibostee en praat in gesellige Afrikaans oor Koos Kombuis, die Afrikaanse letterkunde, ens. Die nuus op die televisie word oorheers deur die “Dioxineschandaal” en die komende verkiesings. ’n Groep betogende boere steek ’n buiteband aan die brand en ek voel al meer tuis. Die politici plakkaatplak ook die landskap vol, ene Mnr. Bril en Me. Smet trek my aandag!

Luc se stokperdjie is Afrikaans en hy is goed op die hoogte van al die jongste verwikkelinge (soms selfs beter as ek). Ek noem dat ek graag vir Jan Deloof sou wou ontmoet, hy bel hom 23:20 en reël dat ek die volgende dag per trein tot by Kortrijk reis waar Jan my sal afhaal en na Zwevegem sal neem. Later blyk dit Jan het net ’n streep deur sy dagboek getrek, die Belge het altyd tyd vir Suid-Afrikaners.

(ii)

Jan Deloof het in die tagtigerjare ’n bundel, Skryf asseblief terug, saam met André Letoit saamgestel waarin onder meer gedigte van ’n hele klomp “tagtigers” opgeneem is. Hy ontmoet my hartlik op die stasie en neem my op ’n wandeling terwyl hy die geskiedenis van sy taal en land geesdriftig oorvertel. Ons het middagete by die biblioteek in Zwevegen en later stap ons oor na Frans Debonne by die “Priesterage”. Debonne is mal oor skilderye, klassieke musiek en kuns. Heel eerste moet ek sy gasteboek teken. Wie was al hier? wil ek weet. Hy blaai ’n paar bladsye terug en wys my waar Peter Snyders en André P Brink geteken het.

Tussen Jan en Frans het ek die twee beste toerleiers beskikbaar, ek bring die res van die middag in Brugge, in kerke, in smal stegies, in die reën, in kroeë deur, snel oor die grens na Frankryk en die aand sit Frans agt kaassoorte, wyn en broodrolletjies voor. Ek drink geen alkohol nie, maar hy skink tog vir my ’n glas, net om dit geselliger te maak. Ons praat oor die sotheid van apartheid, Deloof vertel Frans van Jan Rabie se “Droogte” en dra ook Small se gedig voor. “die Here het gaskommel, en die dice het verkeerd gaval vi’ ons, daai’s maar al.” Hoekom is julle bruin skrywers so fatalisties, wil hy weet? Ek het nie vir hom ’n antwoord nie. Hy’s jammer dat hy nooit vir Rabie of Small kon ontmoet nie. Ek kuier lekker en verpas byna die laaste trein na Hasselt; daar wag ’n bekommerde mev. Renders skuins voor 24:00 op my.

(iii)

Ek slaap die volgende oggend laat, lees en luister na ’n Belgiese popgroep wat op hul balladebeste klink soos Johannes Kerkorrel en op hul rumoerigsterock soos Valiant Swart, ek het hul naam vergeet. Ek neem afskeid van die Rendersgesin en beloof om hulle te vergoed vir hul outydse gasvryheid deur aan elkeen ’n gatsak-gedigte, T-shirt met “it’s hip to be afrikaans” oor die bors gebanier, te stuur.

Aantekeninge uit Amsterdam, 09/06/1999

(i)

Holly Johnson sing in een van sy liedjies: “Everything is organised, from crime to leisure time” en dit is die beeld van Nederland wat my bybly. In Amsterdam stap ek by Centraal Station uit die straat af na Madame Tussaud, Teasers bied “beer & babes” en die “babes” is “stacked”, die Sex Museum skok my nie, ’n transvestiet loop helder oordag met erg krom bene, ’n g-string, visnetkouse en ’n bra die straat af en die Japannese skarrel met die Kodaks; in De Telegraaf se classifieds kan jy “lekker wippen” met ’n “blonde tennismeid”. Die jeug het “skatebanen, hangpleken, legale graffitiwalls en basketbalveldjes”.

Iets pla my al sedert ek hier aangekom het, maar ek kan nie my vinger lekker daarop lê nie. Later vind ek my gevoelens gepas verwoord in ’n Nederlandse tydskrif, soortgelyk aan Time, met die titel Elsevier. Die skrywer Herman Brusselmans sê in ’n onderhoud:

“Nederland kent geen underground, want underground bloei op frustrasie. In Nederland mag alles, moet alles. Er is geen tegenstand tegen modieuze trends als turbotaal en dus gaat oma ook, doei, zeggen. Alles en iedereen wordt er gecanoniseerd. En gesubsidieerd. Dan kweek je een heel zwak volk.”
Of soos Macuse gesê het: “A society needs conflict to be creative.”

Aankoms, 10/06/1999

Ek land in Johannesburg. Buite die lughawe, op die snelweg, ’n reuse reklamebord van ’n selfoonmaatskappy. Dit lees: “Howzit John, Hello Jane, Hi Jack!” Ek sluit my deure instinktief. In die Wes-Kaap begin bendes nog ’n winter van waansin, daar is dreigemente van “rolling mass action”.

Dit was goed om weg te wees, maar dit is beter om terug te wees.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.