SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

’n Uitsonderlike liefdesverhaal oor vreugde, hartseer en aanvaarding

Linda Rode

Die slag van die breekbrander
E Kotze
Tafelberg-Uitgewers, 2000

Die rouproses is — soos die lewe — ’n reis met baie stasies. Lesers wat met E Kotze se kortverhaalbundels bekend is, sal die bostaande titel besonder gepas vind — want wat sou haar verlies beter kon beskryf as ’n metafoor ontleen aan die wêreld wat soveel jare vesel en grein van haar en haar man, skipper Willie, se lewe uitgemaak het?

In hierdie ontroerende, soms pynlik eerlike outobiografiese roman maak die leser ’n deel van die skrywer se lewensreis mee — ná Willie se dood, maar ook vóór sy dood. Die stasies van die rouproses, hoe werklik hulle ook in al hul destruktiewe aanslag uitgebeeld word, vervaag telkens voor die kragdadige lewe self: die jare van Willie se vissermansbestaan en die latere, rustiger jare saam met hul vier kinders op die plasie op die Piketberg, alles deurvleg met herinneringsbeelde uit Willie se kinderjare by die Soutpan naby Lambertsbaai. Dis veelseggend dat die boek juis afsluit met voorstellings van Willie as kind: “Dis of hy gestroop tot sy essensie voor my staan, en stukke onthou uit sy kinderdae kry nuwe lewe, omgewe deur die soet pyn van gemis.” Sy wat in die tyd van intensste rou gesukkel het om Willie se gesig te herroep, herskep hom nou moeiteloos as kind. En mens kan nie anders as om kalme aanvaarding te lees in die slotsin van hierdie uitsonderlike liefdesverhaal nie: “Ek sien die wind oor die soutleegtes waai, en oor die water kom joppels in ’n wit warreling aangedans. Die son gooi sy lig oor dit alles, en maak sy genadige oog aan die einde van die dag daaroor toe.”

Maar vóór die skrywer die stil glans van geleidelike aanvaarding bereik en eindelik tuis kom, is daar skreiende stasies van die leed. Hulle verhouding was ’n hegte. Van die eerste keer wat Willie haar na die Soutpan geneem het — sy grootwordwêreld waar hy toe hy agt was, sy pinkie se kop met die sekel afgesny het op die langland, met gebarste hande help sout raap het, en rogbrood met angels geëet het — skryf sy: “Toe ek in sy gesig opkyk, het ek geweet: hierdie man dra die kennis van die aarde in hom, hy kan my maar kry, met hom sal ek graag wil saamloop.” Van hierdie Lang Skipper met die krulhare wat haar op veertien die polka leer dans het, sê sy ook: “Dwarsdeur ons lewe sou hy vir my die kêrel bly op wie ek verlief geraak het, wie se liefde vir my en myne vir hom, nooit verander het nie en selfs die onstuimigste aanslae oorleef het.” Sy seemanskundigheid sou ’n voedingsbron vir haar skryfwerk word. Hy was haar toetssteen. Meer as dit: haar rots. Willem Petrus.

Jare lank was hul bestaan ten nouste verbind met die see. Die Weskus, Walvisbaai, Houtbaai. Lenig, taai en gebrei deur soutwind en son en harde werk, was Willie ’n toonbeeld van krag en onverdrote werkywer, tot klierkanker hom pak. Bestraling, kruiemedisyne, ’n spesiale dieet en sy verbete lewensdrif klop uiteindelik die siekte. Maar die Lang Skipper moes die see groet, en die gesin verhuis na hul plasie op die Piketberg. Daar in die klipperige berg woel en werk Willie mettertyd weer en skep die onwennige grond om tot ’n klein paradys. Dit word ’n skuiling waar geliefde vriende hulle gereeld besoek. Met verlange onthou sy: “Die eenvoudige genot van saam sit om ’n rooster vis onder die sterre, die smaklekker eet wat in dromerigheid oorgaan as die maan oor die pieke opkom en David in vervoering sy wit maanhaarkop lig en deur sy grys baard “Yon rising moon” voordra. Wat aanleiding gee tot ’n spontane stroom poësie wat soos ’n helder fakkel tussen hom en Petra (Grütter) en Martin (Versfeld) aangegee word. Waarna ’n vonkereën ontplof as Willie nog takke pak op ’n laaggebrande vuur.” En Willie, self baasverteller, sou menige aardse verhaal in sy rustige brystem vertel.

Maar ná vyftien jaar slaan die kanker weer toe en hulle moet dié stukkie godgegewe aarde verlaat. Moorreesburg word hul nuwe tuiste en Willie se stryd begin opnuut. Net, dié keer sou die sekelman wen. “Op ’n sagte herfsoggend in die middel van April het die brander my getref.” Eerlik, met geen poging tot ’n dapper front nie, beskryf Sussie Kotze hierdie slag. En die moeisame reis verder. Die interaksie met vriende en familie. Die verskriklike gevoel van alleenheid, ten spyte van salwende vriendskappe. Die ongenadige koue van die eerste winters, sonder die warmte van die lang lyf teenaan haar. Emosioneel en fisiek ontheem trek sy van huis tot huis en dorp tot dorp in hierdie tyd. Nêrens kom sy tuis nie. En die lewe bedreig haar. “Die swart put waarin ek my bevind, herken ek.” Depressie. Nietige situasies waarteen sy nie opgewasse is nie. “Die muis wat snags met militêre stewels op die plafon kattemaai, is nie net ’n rusverstoring nie, maar ’n bedreiging.” Boonop is daar in haar onmiddellike familie ook ernstige probleme wat haar in beslag neem: haar bejaarde moeder se toenemende wegkwyn uit die bewuste wêreld, haar suster se vretende siekte. Moet dit alles ook nog deel uitmaak van ’n boek soos dié wat reeds in die mineur geskryf is? vra ’n leser wat moontlik ongeduldig wag dat die skrywer aan die benouing van neerslagtigheid moet ontsnap. Waarskynlik tog, want is dit nie ’n algemeen-menslike verskynsel dat ’n individuele tragedie byna nooit alleen kom nie?

Sy skryf weer. En Halwe hemel kom klaar. Sy weet “dat ’n skeppende daad, die aanwending van die verbeelding, jou uit die kloue van neerslagtigheid kan lig”. Maar sy is steeds ontheem: “Slegs Velddrif lê nog ongerep aan die mond van die Bergrivier. Daarheen staan my kop.” Hier sou sy uiteindelik vasmeer. En in hierdie halfwoestynland, wat in haar bloed is, ervaar sy opnuut dat skryf die ding is wat sy die graagste wil doen. Sy werk stadig, erken sy — “Maar dis soos met brood knie: hoe meer die deeg gehanteer word, hoe beter kom die brood.” Haar bundel Waterwyfie en ander woestynverhale word hier voltooi.

Die slag van die breekbrander is nie net ’n uitsonderlike elegie vir ’n afgestorwe geliefde nie, dis ook ’n ode aan die lewe self, veral die lewe sáám; en dis ’n besonder insiggewende milieubeeld van die son- en soutgebreide wêreld wat die basis van E. Kotze se verhaalkuns uitmaak. Dis selde dat lesers so ’n eerlike blik in die lewe van ’n geliefde skrywer gegun word.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.