SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Babilon

Lodewyk Brümmer

DIE “SIERAAD ONDER DIE KONINKRYKE”

Op ’n lugfoto1 wat ’n paar jaar gelede geneem is, lê die ruïnes van die antieke stad Babilon, ongeveer 80 kilometer van die hedendaagse Bagdad, in die suidooste van die land wat vandag Irak genoem word. Op die foto is die eens manjifieke stad net ’n verlate rommelspul van vergane roukleistene wat met gedroogde, steriele modder en stof bedek is. Aan die noordwestekant van die ruïnes loop die Eufraatrivier verby. Die Eufraat, wat eens op ’n tyd uit die Tuin van Eden2 gevloei het, het ook eens die midde-stad van Babilon omarm. Later, asof in afkeer, het hy sy loop verander, wég van Babilon af. Aan die noordoostekant op die foto is daar nog die oorblyfsels van die eens glorieryke toegangsweg, waarlangs triomfantelike, seremoniële optogte die poort van Ishtar binnegekom het op pad na die tempel van Marduk. Die poort van Ishtar, die godin van liefde en van oorlog, was ’n argitektoniese pronkstuk wat van bo tot onder versier was met blou geglasuurde teëls, met rooi, wit en geel stene daarin ingebou in die vorm van bulle en drake. Die patetiese oorblyfsels van die toegangsweg waarlangs soveel optogte gemarsjeer het om Babilon en sy god Marduk, die gehoringde draak, te kom vereer, breek stomp af in die droë modderveld, min of meer dáár waar een van die kastele van Nebukadnesar II — daardie Nebukadnesar van die Bybelboek Daniël — destyds gestaan het.
    Verder na die suide, in die barre veld, lê die oorblyfsels van die fondamente van die eens 90 meter hoë toring van Babel. Daardie toring was eens op ’n tyd een van die hoogste ziggoeratte wat ooit in die Ooste gebou is. Nou lê net die oorblyfsels daarvan versonke in die verdroogde modder ... Dit is nou reeds eeue gelede sedert die hoëpriester — of dalk selfs die Koning — en die hoëpriesteres van Babilon in die spesiale kamer bo-op die toring vir die laaste maal die ritueel van vrugbaarheid beoefen het aan die begin van die oes-seisoen.3
    Eens op ’n tyd, lank gelede, was Babilon, die hoofstad van Babilonië, of dan Chaldeë4, Sinear5 — vóór-Asië — die middelpunt van die gebied se handel, kultuur en politieke mag. Nóú lê die ruïnes van Babilon verlate in die dorre woestyn waar daar geen teken meer oor is van die waterryke, bosryke vrugbaarheid van die tyd van lank gelede nie. Van die miljoene mense wat daar in voorspoed gewoon het, is daar net verkrummelde potskerwe en halfvergane kleiteëls oor wat begrawe is in die onvrugbare, harde grond waarop enkele verlate Bedoeïene-tente hier en daar aan die dorre aarde vasklou.
    Maar die sluimerende, versonke ruïnes van die antieke stad Babilon verberg baie geheimenisse van die verre verlede ... én miskien van die toekoms.
    Die Duitse argeoloog Robert Koldewey en sy span het in 1899 begin om sistematies opgrawings daar te doen. Sedertdien is deur die jare baie insiggewende inligting oor die antieke Babilon en die ander verlore stede van die verlede, soos Ur en Ereg, ontdek. Onder meer is die wigskrif op duisende kleiteëls en op stukke muurpanele ontsyfer. Die verslae van die Bybel en ook dié van die Griekse historikus Herodotus oor Babilon is bevestig ... Maar daar is moontlik méér as wat die argeoloë ontdek het. Daar is dalk nog veel méér wat in die toekoms geopenbaar moet word oor Babilon. Daardie verpletterde en verspoelde oorblyfsels in die woestyn van Irak hou halfbedekte, onheilspellende voorspellinge vir die toekoms in ...
    Ons besef nie aldag hoe heg ons hele menswees met Babilon verbind is nie. Ons besef nie aldag hoe ’n lang pad die mensdom alreeds saam met Babilon geloop het, nog steeds loop — en dalk in die toekoms sal loop nie.
    Want die selfverheffing, die sug na mag, die prag en praal waaraan die Babiloniërs al soveel eeue lank verslaaf was, is vandag nog steeds op televisie te sien in die onbeskryflike prag en luuksheid van Saddam Hoessein se talle paleise. Nebukadnesar II, wat ons in Daniël ontmoet, Nebukadnesar wat vanaf 605 tot 562 v.C. in Babilon geregeer het, het die stad ontwikkel tot ’n peil van welvaart en gesofistikeerdheid wat voorheen nooit geken is op aarde nie, en nog nooit weer daarna geëwenaar is nie. Dit was daardie selfde Nebukadnesar II wat God se almag uitgetart het, volgens die beskrywing van Daniël. Dáárdie Nebukadnesar was een van die voorgangers van vandag se Saddam Hoessein. Dáárdie ambisie van Nebukadnesar lê vandag nog en smeul in die ruïnes in die woestyn ...

...

Sommige Bybel-eksegete en teoloë beskou die antieke, fisiese stad Babilon as iets van die verlede. Sommige sien verwysings na “Babilon” in die Bybel as ’n blote verwysing na ’n simbool van morele verval en nie as verwysings na ’n werklike stad nie. Ander sien die verwysing na Babilon as ’n simboliese verwysing na Rome, of ’n Europese alliansie6. Vir hulle hou daardie ruïnes van Babilon in die woestyn geen bedreiging in nie.
    Die woord “Babilon” kán simbolies verwys na ’n “wêreld-gees” van morele verval, vernietiging, gewelddadige verwoesting, die Antichris, die werking van die Bose. Maar daar is óók ’n moontlikheid dat al daardie dinge gekoppel kan wees aan ’n fisiese stad wat weer verrys uit die ruïnes van die verlede. Babilon hét al meer as een keer uit die verpoeierde reste van sy geboue en uit die asse verrys. En juis nou in ons tyd is die Irakese besig om Babilon op te grawe en te restoureer7.
    Die voorspellinge van Jesaja8, Jeremia9, en Openbaring10 kan vertolk word as verwysende na ’n stad wat nog in die toekoms in volle glorie moet bestaan. Hulle profesieë verwys na ’n finale11, algehele, ewige vernietiging van die fisiese stad Babilon; en daardie algehele, finale verwoesting van Babilon word deur die Bybel vereenselwig met ’n uiteindelike, wêreldwye verwoesting12 wat van so ’n apokaliptiese omvang moet wees dat dit nie gesê kan word dat dit alreeds plaasgevind het nie. As die stad Babilon nou gerestoureer gaan word, dui dit nog sterker daarop dat die ewige vernietiging van Babilon wat deur die Bybel voorspel word — en die wêreldwye apokalips wat daarmee gepaard sal gaan — nog voorlê13.
    “Babilon” verteenwoordig twee onversoenbare, botsende elemente van menswees. “Babilon” het in die Weste simbool geword van alles wat verderflik en doemwaardig is, van die mens se herhaalde selfverheffing, sy drang om andere te oorheers, en sy herhaaldelike verval; maar die stad Babilon was ook in die verre verlede verteenwoordigend van die beste van die menslike bestaan, die mooiste en die edelste. Die onvermydelike beëindiging van hierdie onversoenbaarheid wat in Babilon beliggaam is, sal uiteindelik wees, óf, enersyds, seëning en verlossing en herstel tot eertydse glorie — selfs groter glorie — óf, andersyds, onontkombare vervloeking en ewige verwoesting; “Babilon” verteenwoordig ’n onoplosbare, onwrikbare konflik: aan die een kant ’n genadige redding en loutering deur vuur heen, en aan die ander kant verdoemenis, vernietiging — algehele, ewige uitwissing.
    Beide Babilon, die stad, en “Babilon”, die konsep in ons bewustheid, bevat sáám daardie onversoenbare, smeulende teenstrydigheid wat wag om tot ’n apokaliptiese, finale uitbarsting — ’n finale Einde — te kom.

...

Babilon — “Ba-bel”: die “uitgang (hek) tot God”.14
    Die bittere ironie van daardie naam!
    Babilon, beeld van die innerlike gewroegdheid van die mens tussen sy verbete selfverheffing en sy vermurwende behoefte om hom aan God te onderwerp en deur Hom aanvaar te word.
    Babilon, stad van die beroemde Hangende Tuine, wat beskou is as een van die destydse Sewe Wonders van die wêreld. Babilon, die skone, die geëerde, een van die juwele van die antieke wêreld, wat deur Jesaja in die Bybel genoem word die “sieraad onder die koninkryke”15. Hier het die talle pragtige hoë openbare geboue in 597 v.C. gepronk as simbole van die welvaart, intellektuele en kulturele standaard en politieke mag van die Babiloniërs en hul stad. Hierdie geboue, ook, soos Ishtar se poort, geteël met pragtige, geglasuurde teëls, het langs breë boomryke lanings gestaan wat deur waterkanale gekruis is.
    Babilon, stad van godsdienstigheid. Daar was in die tyd van Nebukadnesar II minstens twintig tempels waarin die baie gode van Babilon aanbid is.
    Maar dis ook juis in Babilon waar die profeet Daniël sy onheilspellende gesigte oor die eindtye van die huidige skeppingsbestel gesien het. Waar hy daardie grootse gebed van verootmoediging gebid het16 tot Jehova en gesmeek het dat sy volk, wat toe al sewentig jaar lank in ballingskap was in Babilon, vergewe sou word sodat hulle sou kon teruggaan na hulle eie, beloofde, geliefde land. Dáár wou hulle in vrede weer die Tempel vir hulle Enige God oprig en Hom dien.
    Babilon, waar die bekke van die leeus in die leeukuil gesluit is teen God se nederige, getroue, biddende ou profeet Daniël, en waar die vurigste haat nie vir Sadrag, Mesag en Abednego kon verdelg nie, omdat Iemand na Babilon gekom het, en sáám met hulle in die vuuroond was ...
    Babilon, stad van Nebukadnesar II wat ons in die Bybelboek Daniël leer ken as daardie arrogante, verwaande, outokratiese koning, by uitstek beeld van die mens se rasionalisering van die intellek tot enigste norm, sy ydele selfverheffing, en sy vernietigende drang tot oorheersing van andere17. Dit was ook dáárdie Nebukadnesar wat Jerusalem en Salomo se Tempel in 586 v.C. verwoes het, en die Jode toe in hul duisende, saam met hul koning Sedekía, en die profeet Daniël, na Babilon in gevangenskap gevoer het. Dit was daardie Nebukadnesar wat ’n edik uitgevaardig het dat almal sy beeld moet aanbid, of in die vuur moes sterf. En dit was dáárdie Nebukadnesar wat op ’n dag hoog in die lug op een van sy baie praalgeboue gestaan het en toe in soveel woorde gesê het, “Ek is die Heerser van alles wat bestaan. Niemand is groter as ek nie.” Kort daarna is daardie intellek waardeur hy homself verhef het, daardie aggressiewe drang tot oorheersing van andere, toe deur die geestesiekte wat ons vandag “boantropie”18 noem, lamgelê. Juis daardie Nebukadnesar, die “goue kop”19 van die mensdom — is neergewerp tot die vlak van ’n dier, sodat hy sewe jaar lank gras gevreet het, en met sy lang verdikte naels in die grond gedolwe het tussen sy eie afval vir iets om te eet.
    Babilon, waar daardie selfde Nebukadnesar gedroom het van die beeld met die goue kop, sy bors en arms van silwer, sy onderlyf van koper, sy voete van yster en klei. Daardie beeld, volgens Daniël se uitleg, was eintlik ’n ver-béélding van die hele geskiedenis van die mensdom, vanaf sy goue, kosbare, verfynde “kop” — sy intellek en sy gees wat vatbaar is vir die inspraak van die Gees van God wat hom wil ophef ... tot sy voete van yster en klei wat hom die weg van swaksinnige, tevergeefse en desperate, verwoestende gewelddadigheid laat loop. Volgens Daniël se uitleg van die beeld waarvan Nebukadnesar II gedroom het, was Babilon in die tyd van Nebukadnesar verteenwoordigend van die goue era van die mens, ’n era van ’n gehalte wat nooit weer daarna bereik sou word nie. Die ganse verloop van die mens se bestaan — vanaf sy tyd van glorie tot sy tyd van verval en vernietiging — is aan Daniël, die profeet van God, getoon. Daniël het geweet dat Babilon vernietig sou word ... maar ons het geen verslag daarvan dat Daniël ooit vir Babilon, of vir Nebukadnesar, gebid het nie. Vir hom was daar vanuit Babilon geen toegang — geen ope hek — tot God nie.
    Volgens Daniël sien God die verloop van die mensdom se geskiedenis op ’n teenoorgestelde manier as wat ons dit sien: die mensdom se toestand versleg van “goud” tot “klei”. Die mens het nie, soos wat ons, met ons tegnologies gefundeerde trotsheid dink, algaande na ’n beter toestand ontwikkel nie. Gedurende die Persiese oorheersing ná Nebukadnesar, gevolg deur die Griekse heerskappy, is die gehalte van menswees gaandeweg afgetakel, totdat die allesoorheersende, vernietigende Romeinse verdrukking die mens in ’n toestand van morele verval en gewelddadige en sinnelose selfverwoesting gedompel het.
    Dis ook in Babilon waar Bélsasar die skrif wat die mens se ondergang voorspel het, teen die muur gesien het. Terwyl die Babiloniërs hul laaste fees gevier het, het die Hand wat daardie mene, mene tekel eupharsin teen die muur geskryf het, eintlik die begin van die ondergang van die mensdom aangekondig. Terwyl die Babiloniërs, tierend dronk van sterk drank en selfvoldaanheid, daardie nag van 11/12 Oktober 539 v.C. nog besig was om te fuif, het die Perse onder die leiding van Darius die stad binnegeval deur die loop van die Eufraatrivier wat hulle gedeeltelik drooggelê het.
    Daarna het Babilon nog nooit weer sy eertydse glorie teruggewen nie.

DIE “WILDE-ESEL”

Die ou Mesopotamië (“tussen riviere”20, d.w.s. tussen die Tigris en die Eufraat) het destyds min of meer dieselfde gebied beslaan as die gebied wat vandag Irak uitmaak. Daar word na Mesopotamië verwys as die “wieg”21 van die Westerse beskawing. Dit is nie seker waar die Tuin van Eden geleë was nie, maar die meeste teorieë dui daarop dat daardie Tuin waarin die mens gebore is êrens in Mesopotamië was.22 In Génesis23 staan daar byvoorbeeld dat ’n rivier in Eden ontspring het wat in vier riviere verdeel het, en onder meer die Tigris- en die Eufraatriviere geword het. Hierdie twee riviere loop vandag nog deur Irak. Die feit wat algemeen aanvaar word, naamlik dat een van die oudste beskawings van die wêreld destyds in die sogenaamde Tigris-Eufraat-Vallei — Mesopotamië — voorgekom het, tesame met die feit dat twee van die Edenriviere nog steeds daar loop, maak dit waarskynlik dat Eden daar, êrens in die omgewing waar Babilon later opgerig is, geleë was.24
    Die vraag of daar ’n verband was tussen die antieke Babilon en die ontstaan van die mens is tot dusver nog nie finaal beantwoord nie. Was Babilon se ziggoerat dalk die Bybel se Toring van Babel? En was Adam en Eva dalk die voorsate van die vroegste inwoners van Babilon? Talle argeoloë grawe en soek al sedert die vorige eeu na antwoorde op hierdie vrae. Maar die antwoorde blý verskuil in die barre woestyngrond wat vir die grootste deel van die jaar in die genadelose son lê en skroei sodat die moontlikheid van ’n oplossing van die vraag na die oorsprong van die mens algaande nog verder verpoeier.
    Die destydse Sumerië was tot in die sewende eeu v.C., tesame met Akkadië, Assirië en laastens Babilonië — met sy hoofstad Babilon — deel van die streek waarna verwys word as Mesopotamië. Opgrawings het aangetoon dat daar reeds van 5 000 jaar v.C. af mense in Sumerië gevestig was. Teen ongeveer 2340 v.C. was daar stadstaatjies wat elk oor hul eie gebied geheers het. Een van hierdie stadstaatjies, die een waarna die Bybel verwys as “Ur van die Chaldeërs”25, was die stadstaat waaruit Abraham geroep is om ’n nuwe volk te gaan vestig. Ur was ongeveer 320 kilometer noord van waar die Persiese Golf vandag begin26. Dit was uit die ou stadstaatjies soos Ur in Mesopotamië waaruit die groeperinge van Semitiese Akkadiërs, Siriërs en die Babiloniërs ontwikkel het.
    Babilonië, met sy hoofstad Babilon, het van vroeg af ’n neiging openbaar om te heers oor die omliggende landstreke. Die Babiloniërs was in voortdurende konflik met die volkere om hulle — net soos die Irakese vandag. Reeds in die agtiende eeu v.C., tydens die eerste Babiloniese dinastie van Koning Hammurabi (1792-1750 v.C.), het Babilonië Mesopotamië begin oorheers. Die mag van Babilonië is daarna tydelik verbreek deur die aanvalle van die omringende semitiese volke. Vanaf 1146 v.C. het Nebukadnesar I in Babilon vir 23 jaar geregeer as koning en het die stad ’n opbloei gehad. Maar dit was eintlik Nebukadnesar II (605-562 v.C.), Babilon se grootste koning wat ons in die Bybelboek Daniël leer ken, wat later die Babiloniese (Chaldese) heerskappy tot ’n hoogtepunt gevoer en die stad as die simbool van uitnemendheid gevestig het. Bélsasar, ’n latere Babiloniese troonopvolger, was aan bewind in Babilon toe die Perse daardie nag so lank gelede die mag van Babilonië vernietig het. Ironies genoeg beskou die Bybel die moord op Bélsasar en die vernietiging van die ganse Babiloniese Ryk in 539 v.C., as so onbenullig dat daardie insident deur Daniël in één lakonieke sinnetjie beskryf word: “In dieselfde nag is Bélsasar, die Koning van die Chaldeërs, gedood.”
    Alexander die Grote wou Babilon weer opbou nadat hy die Ooste gedurende sy warrelwind-strooptogte ingeneem het. Maar sy ontydige dood het sy planne saam met hom laat sneuwel. Vir ongeveer 2 000 jaar daarna het die stad Babilon hulpeloos agteruit gegaan onder die stroping van die diewe, wat kosbare aandenkinge gesoek het om te verkoop, en die sloping van die tyd en die elemente.
    Dis belangrik vir enigiemand wat die hedendaagse Irak wil verstaan om te weet wat later, vanaf die agste eeu n.C., met daardie landstreek gebeur het. “Babilon” het uit die stof uit opgestaan, maar hierdie keer as die sentrum van Islam. Die volksgroep wat ons vandag “Arabiere” noem, het hulle in ongeveer 762 n.C. vanuit Bagdad, vandag die hoofstad van Irak, onder die heerskappy van hulle Kalief, ’n Abbasidiese Kalifaat gevestig. Hierdie Kalifaat is tot in 1257 n.C., toe die Mongole Bagdad verwoes het, en toe die streek deel geword het van die Mongoolse Ryk, beskou as een van die mees ontwikkelde sentra van intellektuele ontwikkeling. Dit is ook beskou as dié sentrum van Islam. Want ’n Kalifaat is ’n Islamitiese bewind, en die Kalief is tegelyk geestelike én politieke heerser van ’n staat waarin intellektuele geleerdheid en godsdienstigheid een is.
    In 1917 is die gebied deur die Britte ingeneem. Maar Babilonië — nou in die gedaante van Irak — het in 1932 sy onafhanklikheid teruggekry, eers onder ’n koning; en toe, in 1952, ná die Pan-Arabiese revolusie, is die land tot Republiek verklaar.
    Vandag is Irak — al Jumhouriya al ’Iraqia — ’n Republiek waarin ongeveer twintig miljoen mense woon. Ongeveer 97 persent van die bevolking is Islamities. Saddam Hoessein At-Takriti, gebore op 29 April 1937, is President en ook Eerste Minister. Die politieke oriëntasie van die land is sosialisties en die meeste van die nywerhede en bronne is genasionaliseer.
    Saddam Hoessein wil in ons tyd weer poog om te heers oor ander volke, net soos sy voorgangers, Hammurabi, die twee Nebukadnesars en die Kalief. Trouens, Saddam Hoessein se posisie in die Ooste is reeds so sterk dat daar ’n magsvakuum sou ontstaan indien hy deur die huidige konflik met die Verenigde State onttroon sou word.
    Die land Babilonië, wat in moderne tye Irak genoem word, was dus vir al die eeue van sy bestaan immer in ’n stryd gewikkel gewees tussen die twee uiterstes: hy wou homself nog altyd verhef om oor andere te heers en hy is telkens weer deur andere verwoes wat sy mag oor hulle wou verbreek. Die woorde van die engel aan Hagar27 oor haar ongebore seun, Ismael, van wie ’n groot aantal van die Arabiese volkere afstam, is inderdaad oor die inwoners van daardie land bewaarheid: “Hy sal ’n wilde-esel van ’n mens wees: sy hand teen almal en almal se hand teen hom!”
    Die mense van die gebied waarin die stad Babilonië geleë was, was hoogs ontwikkeld en ons het baie te danke aan hulle. Dit word gewoonlik gereken dat wigskrif vir die eerste keer in Sumerië ontwikkel het. Rekords is gevind wat bewys lewer van hulle georganiseerde opvoedingstelsel, mediese kennis, hulle sakekundigheid, en hulle kennis van die astronomie. Die Babiloniërs het ’n uitgebreide kennis van die sterrekunde gehad. Die “Wyse Manne uit die Ooste” wat die Christuskind kom huldig het, het bewys gelewer van die oosterse studie van die sterrekunde en hulle toepassing van hulle kennis van die astronomie as astrologie, want hulle het gereken dat hulle geweet het van Jesus se geboorte op grond van die beweging van ’n “ster”. Geskrifte wat in die puin van Babilon en ander antieke Oosterse stede ontdek is, dui aan dat die Babiloniërs en die omliggende volkere ’n gesofistikeerde lewenswyse gehad het, en dat hulle handel en regspleging, hulle kunste en leefwyse op ’n gesofistikeerde vlak was.
    So het Koning Hammurabi van Babilon (c. 1792-1750 v.C.) byvoorbeeld sy omvattende en gesistematiseerde stel wette gekodifiseer, twaalf eeue voordat die Romeine hulle Twaalf Tafels opgestel het in die vyfde eeu v.C. Ander gedeeltelike kodifikasies is gevind, maar Hammurabi s’n was die mees gevorderde van sy tyd. Hammurabi se kodifikasie bevat 282 paragrawe wat, weens die gevorderde taalgebruik, die omvattende deurdagtheid en formulering, bewys lewer van die regspleging en die hoë lewenstandaard in die algemeen wat reeds in daardie vroeë tyd deur die Babiloniërs gehandhaaf is.
    Een van die hoofkenmerke van Hammurabi se wetgewing was die sogenaamde talio-beginsel: ’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand. Die straf moes soortgelyk wees aan die oortreding, soos byvoorbeeld die doodstraf vir moord. En straf is onverbiddelik toegedien sonder die moontlikheid van vergifnis.
    Die talio-beginsel manifesteer die kern-andersheid van die nie-Joodse, nie-Christelike beginsel van onverbiddelike vergelding teenoor die Joods-Christelike beginsel van vergifnis en kwytskelding. In die tradisionele Joodse geloof het die dier wat jy geoffer het, betaal vir jou skuld. Volgens die Christelike geloof het Jesus met sy dood betaal vir die sonde van die mensdom. Maar vir die Arabiere is vergelding onverbiddelik. ’n Onreg, ’n vernedering, soos die vernedering wat aan Ismael en sy afstammelinge aangedoen is, moet tot elke prys gewreek word.
    Hierdie kernverskil tussen die vermoë om te vergewe en versoen te raak, en die onverbiddelikheid van wraaksug het meer te doen met die vyandskap tussen “Babilon” en die Christelike wêreld as wat mens dalk sou dink.
    Die Bybel verwys na “Babilon” as die “groot hoer”. In die Bybel word “Babilon” simbool vir alles en almal wat téén God is, wat sondig en verfoeilik is ... alles wat uiteindelik die onontkombare vergeldende verdelging van God sal moet deurmaak.
    Hoekom is ’n stad wat moontlik ’n verbintenis gehad het met die ontstaan van die menslike beskawing, wat selfs moontlik in die omgewing waar die Bybelse Tuin van Eden gesetel was, ’n stad wat eeue lank simbool was van die beste in die mens, die goue era van menswees verteenwoordig het — daardie “sieraad onder koninkryke”, die trotse pronkstuk van die “Chaldeërs”, so herhaaldelik en onverbiddelik vervloek? So herhaaldelik verwoes? Die toekomstige verdelging wat deur die Bybel op verskeie plekke voorspel word, sal so vernietigend wees dat, soos byvoorbeeld Jesaja voorspel, Babilon vir ewig van mense verlate sal wees, en slegs bewoon sal word deur wilde diere. Onder meer bevat Jesaja se voorspellinge die spookagtige woorde dat wildehonde “sal huil in sy kastele”.

TWEE MOEDERS, TWEE SEUNS, EEN VADER

Die aggressie van Irak, die herhaalde pogings van Irak om sy buurlande in te neem, sy optrede teen Israel en sy vyandigheid teenoor die Christelike land Amerika, kan gesien word as eintlik maar net deel van ’n eeue lange drang van “Babilon” om te vergeld deur Islamities-Arabiese konformiteit af te dwing, en te heers.
    Die aggressie van Irak is veral teen Israel gemik. Hierdie aggressie van Irak is as gevolg van die eeue oue, onblusbare vyandskap en haat tussen Chaldeë en Israel, tussen Arabier en Jood, en tussen Babilon en Jerusalem. Dit is ’n aggressie en woede — ’n sug om wraak — wat gebore is in die ou, ou verhaal van Abraham, Sara, Hagar en hulle twee seuns, Isak en Ismael.
    In daardie verhaal lê die sleutel tot die fundamentele gewroegdheid van die mens wat vasgevang is in die ewige innerlike stryd tussen sy drang om te vergewe en sy lus om wraak, tussen goed en kwaad, tussen sy smag na onderwerping aan die wil van God, versoen te word met God en sy medemens en sy begeerte om homself te verhef teen God en oor ander te heers.
    Uiteindelik is die verhaal van Abraham, Isak en Ismael die sleutel tot die mens se innerlike begeerte om aanvaar te word deur God en sy gewelddadige wrewel oor sy gevoel van verwerping.
    Die verhaal begin baie vroeg in die mens se geskiedenis, nog vóór Hammurabi en die twee Nebukadnesars. Volgens die gebeure wat in Génesis28 beskryf word, en wat geleerdes dink êrens tussen die jare 1900-1700 v.C. plaasgevind het, het die verbete vyandskap tussen Jood en Arabier begin by Abraham, die stamvader van die Jode, wat twee seuns verwek het: Ismael by sy slavin Hagar; en Isak by sy vrou Sara. Verskeie van die Arabiese volke het van Abraham afgestam deur Ismael en deur die seuns van Ismael. Daar is in die Kora’an talle verwysings na Abraham, wat dit duidelik maak dat hy algemeen as stamvader van die Arabiere aanvaar word. Maar Abraham, deur Isak, en Isak se afstammelinge, is óók die stamvader van die Jode.
    Abraham kon nie wag vir die vervulling van God se belofte dat Sara ’n kind sou baar nie. God se belofte was dat hy en Sara ’n kind sou hê en dat geseënde nasieskap deur daardie kind sou kom. Maar Abraham en Sara se vertwyfeling het met hul vermeerderende jare toegeneem toe hulle steeds kinderloos gebly het. Toe Abraham 86 jaar oud was, het hy met Hagar, sy Egiptiese slavin, gemeenskap gehad en sy het geboorte gegee aan Ismael. Later het Sara wél geboorte gegee aan Isak, nét soos wat God beloof het. Die wederkerige afguns en vyandigheid tussen Sara en Hagar, en tussen Isak en Ismael, was die begin van die vyandskap wat tot vandag toe nog heers tussen die Jode en die Arabiere.
    Dit was Abraham en Sara se vertwyfeling, toe God se belofte oënskynlik onmoontlik geword het, en Abraham se eieregtige pogings om God se belofte sélf tot vervulling te bring, wat die mensdom opgesaal het met ’n onoplosbare polarisasie wat tot vandag toe voortduur.
    Dit is ’n bittere vyandskap wat volgens die Bybel begin het by die jaloerse beskerming van die aartsmoeder, Sara, van haar seun, Isak, se erfregte, en Abraham se venynige verbanning — op Sara se aandrang — van Hagar en Ismael uit die stam van Abraham uit. Die Oosterse gebruik van daardie tyd het bepaal dat die kind van ’n slavin onvervreembare erfregte gehad het in die familiehoof se familie, maar Abraham het vir Ismael geen deel aan die familie-erfenis gegee nie. Die feit dat Abraham vir Hagar en Ismael op die aandrang van Sara so vernederend in die woestyn in weggejaag het — sy hét na alles tog vir hom sy oudste seun gebaar — het sekerlik die verbittering in Hagar, Ismael en hul afstammelinge vererger. Die verbittering is nog verder vererger toe ’n engel Hagar beveel het om terug te gaan na Abraham se tente toe en haar te verneder voor Sara, net om uiteindelik tog maar finaal uit die laer verban te word, sodat sy en haar seun amper van dors in die woestyn omgekom het.
    Die verwerping deur Abraham van sy eersgeborene sou deur die afstammelinge van Ismael gesien kon word as uiterste verraad: ’n vader wat sy eersgebore seun — én sy moeder — téén die aanvaarde gebruik in verwerp en op vernederende wyse, en boonop sonder heenkome, verjaag uit die sy eie bloedfamilie.
    Die vyandskap tussen die twee volke, die Jode en die Arabiere, het geword ’n stryd oor afstamming en die reg op nasieskap, jaloesie oor volksidentiteit, oor grond en goed. In die moderne tyd het olie en ander winsgewende produkte van die grond die stryd verdiep. Daar word byvoorbeeld gemeen dat die Dooie See in Israel chemikalieë kan oplewer wat biljoene rande werd is, terwyl die Arabiere weer ’n amperse monopolie het oor die wêreld se olie. Verder is Israel so geleë dat wie ook al daar woon in werklikheid strategiese beheer kan uitoefen oor Afrika, Asië en Europa. G’n wonder nie dat die Arabiese Bond, onmiddellik nadat die Jode Israel beset het in 1948, begin het met ’n reeks van nimmereindigende vyandige optredes. Die stryd tussen Ismael en Isak het ’n eeue lange magstryd geword tussen twee groepe, ’n verbete, onoplosbare polarisasie.
    Bo alles is dit ’n twis oor wie God se ware volk is — hulle wat God aanbid as Jehova of hulle wat dieselfde God “Ala’a” noem. Dis ’n stryd tussen hulle wat glo dat Jehova vergewe en hulle wat glo aan onwrikbare vergelding. Wat die stryd vererger, is die feit dat geeneen van die twee volksgroepe, die aanhangers van Islam en die aanhangers van Judaïsme, onderskei, soos ons in die Weste doen, tussen Staat en religie nie. Vir hulle albei is die Wet en die religie wat hulle sielegrond is, één. Daar is dus geen moontlikheid van versoening op staatkundige gebied wat die religieuse geskille kan ignoreer nie. Beide Israeliet én Islamiet, beide afstammeling van Abraham, glo dat God die land aan hóm beloof het.
    Hierdie onwrikbare, onoplosbare vyandskap het begin by een vader, sy twee vroue en sy twee seuns. As dit nie ’n les is wat toon dat poligamie probleme veroorsaak nie, weet ek nie wat is nie!
    Die afguns en vyandskap kan nie anders nie as om meer intens te word weens die feit dat die Jode die Messias uit hul geledere verwag en die Moslems nie so ’n verwagting het nie. Die Arabier is dus weer eens uitgesluit van hierdie Judaïstiese verwagting van ’n ewige, wêreldwye, omvattende oplossing, net soos Hagar en Ismael destyds uitgesluit is uit die nasieskap van die volk van Abraham.
    Dis ook net hier waar die Christene deel word van die vyandskap wat begin is deur Abraham en Sara. Want Christene glo óók in ’n Joodse Messias. Méér nog, vir Christene het die Messias, reeds gebore uit die nageslag van Isak, nie alleen die verwagting van ’n ewige toekomstige heilsaamheid gebring nie, maar ook vergifnis, verlossing, aanvaarding deur God en toelating tot Sy volk hier en nou en in ewigheid. Die Christene glo dat die mens uit sy vervallendheid, deur sy “broederskap” met Christus, kind van God kan word en die nasieskap van God kan beërwe. Islam aanvaar nie dat Jesus kindskap van God, en nasieskap met God, bewerkstellig het nie. Jesus is vir hulle slegs ’n profeet naas Noag, Abraham, Moses en Mohammed. Die enigste Goed vir die Islamiete is om die Wet na te kom, ten einde eendag in die Paradys toegelaat te word. En hulle wat nie die Wet nakom nie, moet onverbiddelik gestraf word. Vir hulle is die talio-beginsel, ook in die mens se verhouding tot God, onomstootlik.
    Drie Wyse Manne, gelei deur hulle ster, het uit die Ooste gekom, die Kind gesoek en gevind. Maar hulle en hulle volk het, vandat Abraham vir Hagar en Ismael tot die woestyn verban het tot vandag toe, nog nooit deel geword van die familie van die Messias nie.
    Die eeue oue vervreemding en vyandskap vind uiting in moderne tye in terroristiese optrede teen veral Israel en teen Amerika. Die Arabiese terroris se dade kan gesien word as ’n wanhoopsdaad wat voortspruit uit sy gevoel van verwerping. Die Wyse Manne uit die Ooste het goud, wierook en mirre as huldeblyk vir die Seuntjie gebring, maar die ou-ou wrewel van Hagar en Ismael, die bittere wrewel oor verwerping leef vandag voort in die meer ekstreme fundamentaliste onder die nasate van Hagar en Ismael. Hulle wil Israel en die aanhangers van die Christelike geloof vandag vernietig:

... en nou vat jy die goud
met rente terug ...
 
Jou wierook
is kordiet se bitter brand
 
en salf die mirre uit die koeëlverflarde hart
jou bitterheid?
 
Jou sterre lei jou
na ’n leë krip.
    ’n Nuwe verwikkeling is dat Israel se regering ingestem het dat Islam vir homself ’n moskee kan bou in Nasaret, die plek waar Jesus gebore is.

BABILON IN DIE MODERNE WÊRELD

“Babilon” het in die moderne wêreld méér geword as net die antieke stad se drang om te heers, baie méér as net Irak en Saddam Hoessein.
    Die eeue lange, tragiese, onoplosbare Joods-Arabiese vyandskap skep in die moderne tyd ’n wêreldwye probleem, want die groot vraag is vandag wat die uiteinde van daardie vyandskap is. Die wêreld het net eenvoudig te klein geword vir Jerusalem en Babilon om saam in hierdie verbete vyandskap op een aardbol te bestaan. Kommunikasie het te vinnig, omvattend en openbarend geword, vliegtuie en missiele té snel en met die vermoë om té verreikend verwoesting te saai. Dit sal moeilik wees om ’n volskaalse Arabies-Joodse konflik geïsoleerd te hou. Die Jode en die Arabiere is verder ook oor die hele aardbol versprei, en waar hulle ook al woon, word die lande waarin hulle woon, betrek by die tweestryd. Oral oor probeer die twee strydende volke steun verwerf, elkeen vir sy eie kant van die stryd. Die vete tussen Jerusalem en Babilon kan vir ons almal uiters tragiese, verwoestende gevolge inhou. Dit is nie verniet nie dat die President van Rusland, Boris Jeltsin, wat natuurlik goed bewus is van die lange geskiedenis van die Arabies-Joodse vyandskap, en ook bewus is van die diepliggende wrok en smag na vergelding, onlangs ’n waarskuwing aan Amerika gerig het dat enige vyandige optrede teen Irak ’n wêreldoorlog kan ontketen.
    Die gevaar is dat ander lande van die moderne tyd só betrokke kan raak by die eeue oue stryd dat die ganse wêreld gepolariseer kan raak. ’n Derde wêreldoorlog met vandag se wapentuig kan die hele aarde verskroei. Selfs ook die Afrikalande loop gevaar om betrokke te raak. Egipte, óók lid van die Arabiese Bond, is natuurlik lank reeds betrokke. Maar Islam se gestelde doelwit is om die ganse Afrika — en veral Suid-Afrika — vir Islam te wen. Dus is die onlangse nuusberig dat Irak moontlik wapentuig versteek het in “vriendskaplik gesinde” Afrikalande onrusbarend, in die lig van die herhaalde blyke van vriendskaplikheid jeens die Arabiese lande wat vanaf Suid-Afrika geloods is. En onder Bill Clinton se onlangse besoek aan Afrika is een van die motiewe om Afrika minstens as sakevennoot te behou en nie te verloor aan Islamitiese idealisme nie.
    Verder het Irak en Rusland reeds in 1972 ’n wederkerige ondersteuningsverdrag onderteken en daarna wapentuig oor en weer uitgeruil. Dit lyk ook of die verhouding tussen Sjina en die VSA maar baie wankelrig en vol wederkerige wantroue is. En beide Rusland en Sjina het ’n partydigheid vir Irak geopenbaar toe hulle dit onlangs duidelik gemaak het dat hulle gekant is teen gewelddadige optrede teen Irak.
    Daar is júís ’n voorspelling van Nostradamus dat ’n wêreldoorlog vroeg in die twintigste eeu sal uitbreek, dat “wapens” en “lanse” uit die lug sal kom en dat die land aan die “linkerkant” op die wêreldkaart — d.w.s. die VSA — ernstige skade sal ly. Nostradamus het ook ’n gesig gesien van die stryd tussen twee lande wat volgens sy beskrywing as Amerika en Sjina beskou kan word.
    Mens dink aan Openbaring se voorspelling29 dat miljoene soldate oor die Eufraat teen Israel sal optrek. Dit is nóg ’n Bybelse voorspelling wat nog nooit bewaarheid is nie. Tot nou toe was dit ook nie moontlik dat hierdie voorspelling bewaarheid kon word nie: daar was net eenvoudig nog nooit so ’n groot leër nie. Maar nou is Sjina, met die grootste bevolking op aarde, in die moderne tyd wél in staat om so ’n groot leër op die been te bring.
    Jerusalem is die bittere fokus van hierdie onoplosbare haat en konflik, want Jerusalem is nie alleen die stad van Dawid nie, maar in Jerusalem is ook die allerheiligste reliek van die Moslems, die sogenaamde “Koepel van die Rots” waarvandaan die Moslems glo hulle voorganger Mohammed in die hemele opgeneem is. En Jerusalem is ook die stad waarin Jesus gekruisig is en uit die dood uit opgestaan het. Nêrens is die konflik so duidelik, so ooglopend onoplosbaar, so dreigend as juis in Jerusalem nie. Moet Jerusalem dan heeltemal vernietig word voordat die konflik opgelos word? Mens dink aan die stelling wat die engel aan Daniël30 gemaak het, dat die mag van Israel aan die einde van ons tyd heeltemal vernietig sal word, vóórdat die Einde sal kom. Dui Jesus se onheilspellende woorde, dat “nie een klip op die ander sal bly nie”31, net op die vernietiging van die Tempel deur die Romeine in 70 n.C. of slaan dit op ’n finale, meer volledige — dalk wêreldwye — vernietiging?
    Maar die konflik kan baie wyer uitkring as net ’n geveg tussen Jerusalem en Irak.
    Irak het in die moderne tyd al met aggressie opgetree teen Sirië, Iran, Israel, die Koerde, teen Koeweit, die Verenigde State van Amerika en Saoedi-Arabië. Maar Irak se aggressie is in hoofsaak gemik teen Israel, die uitverkore Volk van God. En Irak is met die ander Arabiese lande van die Arabiese Bond verenig in sy begeerte om Israel te verdelg. As daar na ’n katalisator gesoek word vir Arabiese eenheid, is hul gesamentlike vyandskap teen Israel voor die hand liggend. In sy aggressie strewe Irak — net soos die Babilon van destyds — na oorheersing van die ganse gebied wat vandag Arabies is. Hy en die ander Arabiese lande strewe na Islamitiese eenvormigheid om hom te help in sy verwoestende wraaksug teen Israel. Dit was — in meer as een opsig — ’n openbaring dat Irak, tydens die sogenaamde 1991 Persiese Golf-oorlog, die bomme wat op hom gewerp is deur die magte van die Verenigde Volke gedeeltelik geïgnoreer het, maar verbete geprobeer het om Israel skade aan te doen met sy eie Scud-missiele. Irak se onversetlike innerlike bitterheid en verwoestende, gemene drang om te vernietig, blyk verder uit sy gebruik van gifgasse, soos byvoorbeeld ’n dodelike vorm van antraks. Saddam Hoessein se brute, nihilisties vernietigende woede is verder gemanifesteer in die feit dat hy die oliebronne van Koeweit aan die brand laat steek het voordat sy magte hulle onttrek het uit Koeweit ná die Golf-oorlog.
    Daar is nou sprake daarvan dat Irak nog beter ontwikkelde “wapens van massa-vernietiging” het as in 1991, wat kan insluit bomme wat biologiese gifstowwe vrylaat en kernbomme: Dit is trouens waaroor die hele bohaai van UNSCOM gegaan het in aan die begin van 1998. Amerika wil daardie wapentuig, indien dit bestaan, vind en vernietig, maar Saddam Hoessein weier nog steeds, op agterdogwekkende wyse, en nou al agt jaar lank, om enigiemand toe te laat om sy land volledig te deursoek.
    Amerika en Brittanje dreig om Irak te bombardeer. Die VSA het sedert die vorige Golf-oorlog nog meer akkurate bomwerptegnologie ontwikkel. Hulle kan vandag bomme werp met ’n maksimum van ’n afwyking van slegs 40 meter van die teiken af. Maar die selektiewe bomme van die Verenigde Volke sou geensins die wortel van haat en wraaksug kon uitwis nie. Ironies genoeg, is dit juis die akkuraatheid van die bomme wat hulle oneffektief maak. Want Irak moet maar slegs sy wapentuig net ’n raps meer as 40 meter verskuif voordat bomme gewerp word op ’n punt wat deur die VSA se spioenasienetwerk verskaf is aan die loodse. Dit is in werklikheid feitlik onmoontlik om oorlogvoering met gifgasse te verhoed, omdat gasse onsigbaar is. Ook word dieselfde chemiese toerusting wat vir die vervaardiging van gifgasse gebruik word vir die vervaardiging van sekere medisinale stowwe gebruik.
    Die bittere ironie van ’n aanval deur die VSA en Engeland — en moontlik deur Israel — sou wees dat hulle die geweld van Irak met ál groter geweld en verwoesting sou moes beëindig. Skielik kom daar nou berigte uit Irak dat stowwe in die bomme wat deur die Verenigde Volke se vliegtuie op Irak afgegooi is aaklige misvorming en kanker veroorsaak het by duisende toe-nog-ongebore kindertjies.
    En dít is die ware “Babilon” — nie Bagdad of Saddam Hoessein, Jerusalem, Washington of Londen nie, en wie gaan wen nie, maar die onverfloude, onheilige, vernietigende drang van die mens om andere te oorheers en sy wil af te dwing. Daardie drang tot selfverheffing en oorheersing — vernietiging van alles wat teen die wil van die mens is — was aanwesig vanaf Hammurabi, tot by Hoessein, en in alle Julius Caesars en Nebukadnesars, en Hitlers in alle lande van die wêreld. Daardie dodelike haat sal nie stopgesit word nie voordat alles in puin lê.
    Dit is duidelik dat as daardie drang van die mens nie deur ’n grondige innerlike verandering van gesindheid verwyder word nie, die mens homself uiteindelik gaan uitwis.
    Ek sit nou en kyk na die foto wat geneem is van die ruïnes van Babilon. Die oorblyfsels van die fondamente van die ziggoerat — die Toring van Babel — is op die foto halfpad toegespoel deur modder en toegewaai onder eeue se sand.
    Die ruïnes versinnebeeld die drang na wraak en die vernietiging wat altyd daarmee gepaardgaan. Daardie drang is so ver in die verlede gegrond, is so sterk, so verbete, so onverbiddelik dat slegs algehele verwoesting die probleem sal beëindig.
    Jesaja se voorspelling maal deur my gedagtes. Jesaja het gesê dat Babilon in der ewigheid nooit herbou sal word nie. Hy het ook gesê dat die wildehonde in Babilon se kastele sal huil. Daar is op die ou foto geen oorblyfsels van kastele waarin wildehonde sou kon huil nie, net ’n onvrugbare spul droë modder, want die ou Babilon was maar net van aardpik en kleistene gebou. Die rampe wat die ou Babilon getref het, het die geboue baie maklik uitgewis. En al ons moderne geboue, al ons moderne strukture van paaie en brûe, monumente en kerke, masjinerie en filosofiese stelsels en kommunikasienetwerke kan net so maklik uitgewis word.
    Maar as die wildehonde in die kastele van die fisiese stad Babilon moet huil, sal Babilon eers weer herbou moet word, sodat daar weer halfverwoeste kastele kan wees in Babilon vir wildehonde om in te huil. Ek kyk na ’n ander foto wat in 1979 geneem is — die een in die boek van Wiseman32. Ek sien op die latere foto die poort van Ishtar verrys uit die modder en stof van die eeue. Op die mure van die poort pryk die bulle en die gehoringde drake weer eens.
    As Babilon weer herstel sal word, beteken Jesaja en andere se voorspelling dat die groot, finale en ewige verwoesting van Babilon nog in die toekoms lê.     En dit is duidelik dat dit hierdie keer nie alleen Babilon sal wees wat verwoes sal word nie ...

boontoe


  • Bahn, PG (ed.): The Story of Archaeology, Weidenfeld & Nicolson, London, 1996.
  • Beek, MA: Aan Babilons Stromen, (Third Imprint), NV Uitgevers, Amsterdam, 1955.
  • Bible Dictionary, The New: (Reprint 1972), Inter-Varsity Press, London, 1962.
  • Bondi, H et al: Cradles of Civilization, Marshall Cavendish, London, 1969.
  • Bottéro, J: Mesopotamia, (Transl. Bahrani, Z. and Van de Mieroop, M.) University of Chicago Press, London, 1992.
  • Budge, Sir EA Wallis: Babylonian Life and History, (Second Edition), Religious Tract Society, London, 1925.
  • Bybel, Die (Nuwe Vertaling): Bybelgenootskap van Suid-Afrika, Elfde Druk, Eerste uitgawe, Nasionale Boekdrukkery, Kaapstad, 1983.
  • Cottrell, L: The Land of Shinar, Pan Books, London, 1965.
  • Douglas, JD et al: The New Bible Dictionary, Inter-Varsity Press, London, 1972.
  • Krame, SN: History Begins at Sumer, Thames and Hudson, London, 1961.
  • Lindsey, L: The Late Great Planet Earth, Zondervan, Mochigan, 1970.
  • Rawlinson, G: Seven Great Monarchies Vol. 2.
  • Schmökel, H: Hammurabi von Babylon, Wissenschaftliche Buchgesellschaft, Darmstadt, 1975.
  • Reader’s Digest: Vanished Civilizations, Sydney, 1983.
  • Walvoord, JF: Daniel, The Key to Prophetic Revelation, Moody Press, Chicago, 1971.
  • Wiseman, DJ: Nebukadnezzar and Babylon, (The Scweich Lectures 1983), Oxford University Press, London, 1983.

  1. Reader's Digest 121
  2. Gén. 2:14
  3. Cottrell 106; Gén. 10: 8: “Kus was ook die vader van Nimrod. Hý het begin om 'n geweldenaar op aarde te wees.” (9): Hy was 'n geweldige jagter vorr die aangesig van die Here ...” (10): “En die begin van sy ryk was Babel en Ereg en Akkad en Kalne in die land Sinear.”
  4. Die gebied is “Chaldeë” genoem, vanaf Nebukadnéser II: Wiseman 7
  5. Cottrell 44, 52
  6. Op grond van Openb. 17: 1-5 se dier met sewe koppe en tien horings en die verklaring in vers 9 dat die sewe koppe sewe berge is, terwyl Rome oorspronklik oor sewe koppies uitgesprei het.
  7. Wiseman 55 Plaat 7b
  8. Jes. 13:13: “Ek sal die hemel skud, die aarde sal uit sy plek uit geruk word ...” Die vertaling van Jes. 24: 1: “Die Here gaan die aarde verwoes, vernietig, sy voorkoms verander” kan ook lui, “Die Here ... gaan die oppervlakte van die aarde verwring.”
  9. Jer. 50: 41: “Daar kom ’n volk uit die noorde, ’n groot nasie, baie konings ruk op uit die uithoeke van die aarde teen Babel;” vers 46: “Die aarde sal skud van die dreuining wanneer Babel ingeneem word.”; vers 51: “Ek gaan teen jou optree, verwoestersberg, sê die Here, jy wat die hele aarde verwoes het”; vers 26: “mense sal nie uit jou ’n hoekklip kom vat of ’n fondamentklip nie; jy sal altyd verlate lê”
  10. Openb. 17-18
  11. Jer. 51: 62; Jes. 13: 20-22
  12. Jes. 13; Jer. 51: 10: “Die sterre en die sterrebeelde sal nie meer lig gee nie, die son sal al donker wees wanneer hy opkom, die maan sal ophou lig gee.”
  13. Walvoord 130 reken ook dat die uiteindelike, volle vervulling van hierdie profesieë dalk nog in die toekoms lê.
  14. Wiseman 44: dit is onseker of die woord verwys na 'n toegang (vir die mens) tot God, ’n toegang vir God tot die aarde, of albei.
  15. Jes. 13:19
  16. Dan 9
  17. Die baie inskripsies wat deur argeoloë gevind is bevestig die die uitbeelding van Nebukadnéser se karakter in Daniël: Wiseman: 98 e v
  18. Verskeie gevalle wat vermoedelik die siekte is waaraan Nebukadnéser gely het - ook genoem insania zoanthropica — is gediagnoseer: Walvoord 109-110
  19. Dan. 2: 38
  20. Bottéro 1
  21. Bottéro 1
  22. Bible Dictionary 333
  23. Gen. 2: 10
  24. Mitchell 332 et seq. Cottrell (Shinar) 14
  25. Gen. 11: 28
  26. Die Persiese golf se noordelike kus het deur die eeue suidwaarts geskuif as gevolg van die slik wat deur die Eufraat en die Tigris afgevoer is: Marshall Cavendish 7-8
  27. Gen. 16: 12. (Die ou vertaling gebruik die woord “wilde-esel”, wat hier verkies word teenoor die “wilde-donkie” van die nuwe vertaling.)
  28. Gén. 16-21
  29. Openb. 9: 16: “miljoene der miljoene en nog 'n keer soveel”
  30. Dan. 12: 7
  31. Matt. 24: 2
  32. Wiseman 149

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.