SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Wat is die inhoude van die begrip African renaissance waarvan pres Mbeki praat?

Deur Anton van Niekerk
Gelewer te KKNK
25 Maart 2000
Die Burger se lesingreeks

Afrika: ons liggaam of ons las?
Perspektiewe op die idee van ’n Afrika renaissance

Die belangstelling in die frase “Afrika Renaissance”, soos veral in die laaste twee jaar gepropageer deur pres Thabo Mbeki, is ’n voorbeeld van politici se geloof in die krag van sg “mobiliserende idees”. Die veronderstelling daaragter is dat idees die potensiaal het om die wÍreld te verander, en dat werklik vernuwende (in Afrika word veral gesÍ “bemagtigende”) aksie gebore word uit denke.

Hierdie veronderstelling is natuurlik nie onkontroversieel nie. Daar is ’n baie sterk intellektuele tradisie, veral op dreef gebring deur Karl Marx, wat uiters skepties is oor die voorstelling dat idees die wÍreld kan verander, of, om dit meer geleerd te stel, dat teorie praktyk voorafgaan. Ons onthou Marx se beroemde stelling dat die probleem met sy groot voorganger, Friedrich Hegel, was dat lg die wÍreld “op sy kop laat loop het” met sy aanspraak dat redelike denke die grondslag van alle werklikheid is, en dat hy (Marx) sake sal regstel deur die wÍreld weer “op sy voete te laat loop”. Dit het hy probeer doen deur sterk te argumenteer dat, wat hy genoem het, die “bobou” bepaal word deur die “onderbou”, dit is dat die wÍreld van die gees, van musiek en letterkunde, van kultuur en wetenskap, maar veral ook van idees, niks anders is nie as ’n weerkaatsing van sosiale en veral materieel-ekonomiese verhoudinge. Wat ons dus dink, is basies ’n funksie van wat ons doen, en veral van die verhouding waarin ons staan tot middele wat ons fisies-biologiese voortbestaan in die wÍreld moontlik maak.

’n Marxis is daarom maar bra skepties oor mobiliserende idees, soos die wenslikheid van ’n renaissance in Afrika. Ek self is egter geen Marxis nie, en ek is geneig om die idee dat idees die wÍreld kan verander, ernstig op te neem. Ek stem eerder saam met Karl Popper: “We all have our philosophies [ideas], and often they are not worth very much. But the impact of our philosophies [ideas] on our lives, is often devastating. That’s why it’s so important to improve our philosophies [ideas] through criticism”. Die geskiedenis van kommunistiese staatsvorme in die 20ste eeu is genoegsame bewys van hoe “devastating the impact of our ideas on our lives” kan wees. Daarom, meen ek, moet ons pres Mbeki en andere se nuutste gepropageerde idee ernstig opneem, al is dit ten minste om te help om inhoud daaraan te verleen wat konstruktief en nie destruktief sal wees nie.

Dat Mbeki se idee tans so ernstig oor so ’n wye front opgeneem word, illustreer moontlik iets van Victor Hugo se aanspraak dat “nothing is as powerful as an idea whose time has come”. Ek het die afgelope week of wat geworstel om ’n besonder lywige pak koerantartikels, wat die Instituut vir Eietydse Geskiedenis aan die UOVS al versamel het oor die idee van ’n Afrika Renaissance, deur te werk. Boeke het al daaroor verskyn, om nie te praat van talle vaktydskrifartikels en selfs hele uitgawes van vaktydskrifte nie. Dit slaan uit in feitlik alle hedendaagse politieke retoriek in Suid-Afrika. As ’n retoriese truuk in die partypolitieke arena is dit besonder effektief, want, soos Achmat Dangor in ’n artikel in die Argus aangetoon het, kan politieke partye wat kritiek het op so ’n edele ideaal vir Afrika baie maklik deur die heersende party gediskrediteer word (Cape Argus, 24 Augustus 1998, p. 8). Dit wil bepaald lyk na ’n idee “whose time has come”.

Wat besonder ontmoedigend is, is die tendens wat ’n mens in die literatuur optel van volslae onverdraagsaamheid teenoor enigeen wat ’n kritiese geluid maak oor die Afrika Renaissance. Jon Qwelane, in ’n artikel in die Saturday Star, klim bv. pens en pootjies in in die karakters van mense, veral wit Suid-Afrikaners, oor hul “constant bitching” oor wat hy noem “any genuine attempt [soos die idee van die Afrika Renaissance] to find workable and lasting solutions” (Saturday Star, 22 Augustus 1998, p. 8). Howard Barrell waarsku veral teen wat vanoggend hier op Oudtshoorn plaasvind: “Öto make it [die idee van die Afrika Renaissance] the plaything of the sterile intellectuals who lurk around the edges of the political process. These are the Lilliputian types who would sit about contemplating what ‘African renaissance’ is or is not — as if it can be anything other than what we make itÖ” (Mail & Guardian, 27 Augustus 1998, p. 23). Ek sien maar swarigheid vir die demokrasie in SA as ’n politikus se weergawe van ’n mobiliserende idee eenvoudig onkrities vir soetkoek deur almal opgeŽet moet word, of as mense nog so naÔef is om te dink dat die behoorlike verstaan van ’n idee geen invloed kan uitoefen op sy implementering nie.

In wat volg, wil ek twee dinge doen. Eerstens wil ek iets sÍ oor wat dit my lyk Mbeki se bedoeling met die propagering van ’n Afrika Renaissance is, in ooreenstemming met wat ek gevra is om vanoggend hier te doen. Daarna wil ek egter wel die stoute skoene aantrek om ’n kritiese vraag of twee te stel oor die wenslikheid van hierdie soort retoriek in ons huidige tydsgewrig in SA.

Wat Mbeki met die idee bedoel, is, soos dit my uit die literatuur voorkom, nie ’n uitermate komplekse saak nie. Eerstens impliseer die propagering van ’n renaissance vir Afrika die erkenning dat daar iets drasties skort in Afrika. Ons hoef nie vanoggend tyd te spandeer met die uitspel van wat alles skort nie. Afrika is ’n kontinent wat, ten minste oor die afgelope 60 jaar (waarskynlik langer), sigself in ’n staat van permanente krisis bevind. ’n Meerderheid van sy mense leef onder die broodlyn. Die euforie van uhuru het plek gemaak vir wanhoop vanweŽ uitsiglose en skynbaar eindelose militÍre konflikte soos in Angola, die Kongo, Eretria, Rwanda en Burundi, met al die verontmenslikende gevolge van sodanige oorloŽ. Afrika beleef sigself as die teiken en slagoffer van perpetuele rassisme — een van die mees destruktiewe kragte in menslike interaksie. Die kontinent beleef ’n katastrofale afbreek in vlakke van openbare gesondheid; malaria en tuberkulose is, anders as elders in die wÍreld, buite beheer in Afrika. Daarby, soos ons almal weet, is ongeveer 70% van die 30,6 miljoen mense wat wÍreldwyd HIV positief is, woonagtig in sub-Sahara Afrika. Afrika ekonomieŽ word gewurg deur steeds eskalerende buitelandse skuld. En, “to add final insult to injury”, is van die mees kwesbare gebiede in Afrika, veral Mosambiek, tans die slagoffer van buitengewoon destruktiewe natuurkragte.

Om lang argumente aan te voer oor hoe sleg dit in Afrika gaan, klink vir my alte veel daarna om lank te betoog dat daar regtig kwaad en onheil in die wÍreld voorkom. Die getuienis daarvoor is so oorweldigend dat dit hopeloos te pedanties klink om nog argumente daarvoor te probeer ophaal. Wat egter nuut is in Mbeki en geesgenote se retoriek, is die wyse waarop Afrikane dit nou ronduit begin erken en aandui dat hulle self in eerste en laaste instansie die verantwoordelikheid wil aanvaar om iets wesenliks daaromtrent te doen. Dis ’n werklik lofwaardige inset wat die steun van alle welmenende Afrikane, waarby ek myself baie graag insluit, ten volle verdien. Mbeki se soort omgang met die Afrika problematiek behoort daartoe by te dra om ’n irrasionele Afrika xenofobie, wat onder baie (Suid-)Afrikaners steeds voorkom, teen te werk.

Wat egter ook duidelik is in die wyse waarop Mbeki die idee van die Afrika Renaissance (AR) propageer, is dat hy wil hÍ dat Afrikane op so ’n wyse verantwoordelikheid vir hul eie predikament moet neem dat dit aanvaarbaar sal wees vir die res van die wÍreld — so aanvaarbaar dat, omdat ons as Afrikane juis op ’n besondere manier met die probleem omgaan, die res van die wÍreld ons te hulp sal snel. Mbeki is ’n vernuftige en intelligent genoeg politikus om te verstaan dat Afrikane hulself as’t ware nie aan hul eie skoenrieme kan optrek nie. Hoe belangrik dit ook al is dat Afrikane self hul situasie ter hand neem en self hul omstandighede en vooruitsigte verbeter, kan dit nie effektief gebeur sonder grootskeepse buitelandse hulp en investering nie. Vandaar Mbeki se volgehoue protes teen alle vorme van nie-demokratiese tirannie op die vasteland, teen die ongebreidelde terugval op geweld ipv onderhandeling om konflik mee te probeer oplos, en veral teen wanbestuur en korrupsie in die staatsmasjinerie. Mbeki, soos ander teoretici, pleit wel dat die AR ’n herstel van Afrikane se trots en selfvertroue sal meebring. Sy idee het ook heelwat te make met die ontdekking van ’n eiesoortige Afrika kultuur wat ’n eie trots en identiteit onder Afrikane kan aanwakker — iets waaraan ek in vorige artikels meer aandag geskenk het. (1) Maar die hoofsaak waarom dit vir hom in die idee van die AR gaan, is ekonomiese herstel — soos hy dit stel: “a better life for the masses in the form of sustainable development”. Mbeki se agenda met die idee van die AR is primÍr en in die eerste plek ekonomies; dit gaan om die bevryding van die massas uit armoede en die verbetering van hul materiŽle welvaart. Mbeki weet beter as enigiemand anders dat dit alleen kan gebeur met behulp van grootskeepse buitelandse investering. Hy word daarom deur sommige van sy meer radikale kritici daarvan beskuldig dat die AR-idee niks anders is nie as ’n truuk “to make the continent ready for capitalism”. Afrika het slegs ’n kans op ekonomiese herstel indien die spelreŽls van die globaliserende ekonomie nagekom word; die AR is die mobiliserende idee wat dit moet help bemiddel.

Wat nie anders kan as om ’n mens hieroor op te val nie, is Mbeki se aandrang daarop om Suid-Afrika se lotgevalle dmv die idee van die AR te knoop aan die lotgevalle van die res van die kontinent. Wanneer het ons ons nuwe president al werklik onbevange slegs oor SA en ons unieke probleme hoor praat? Mbeki praat oor SA as onlosmaaklik deel van Afrika. Ons sal saam met die res van die vasteland dit maak, of saam met die res ondergaan. Daar is ’n trans-nasionale Afrika bewussyn wat hy vaardig wil maak met behulp van die idee van die AR, ’n bewussyn wat onbeskroomd huiwer om Suid-Afrika se uniekheid voorop te stel, en wat ons bestemming te alle koste skynbaar wil terugbind aan die lotgevalle van die kontinent.

Ek het ’n vermoede dat hierdie skuif vir die meeste van ons met ’n bleker velkleur, maar veral met ’n Europees georiŽnteerde opvoeding en daarom ’n bedekte of onbedekte nasionalistiese verstaan van identiteit en politiek, ’n moeilike ding is om na behore te snap. Waarom sou ’n Suid-Afrikaner soveel gemene saak probeer maak met ’n kontinent en mense wat duidelik in ’n veel swakker posisie is en ten opsigte waarvan dit nie sonder meer duidelik is waarom hulle belange ook ons belange is nie?

Ek dink dan ook dat hierdie ’n aspek in Mbeki se mondering is waaroor kritiese vrae gevra moet word. Maar voordat ons dit kritiseer, moet ons eers probeer om dit te verstaan. Ons as oorwegend wit en Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners verstaan moeilik die houvas van die Pan-Afrikanistiese solidariteit wat so ’n sterk invloed uitgeoefen het op die vorming van die denke van ’n beduidende deel van die leierskorps in die teenswoordige ANC. Mbeki en talle van sy naaste luitenante en geesgenote is immers mense wat vir ’n baie groot deel van hul lewens in die buiteland, en wel in ’n ander deel van Afrika, geleef en gewerk het. Hulle het baie weinig van wat ons, by gebrek aan ’n beter term, ’n eiesoortige en ’n outentieke Suid-Afrikaanse ervaring sou kon noem. Hulle het die onreg van apartheid vir ’n baie lang tyd beleef, nie primÍr as iets teenoor hulself in persona nie — daarvoor was hulle te ver weg van die vuur — maar as ’n gruwel wat bedink is teen swartmense in die algemeen en teen Afrikane in die besonder. Ons begryp waarskynlik steeds nie genoeg van hoe die koloniale ervaring, met sy rassistiese dimensies, die idee van ’n gemeenskaplike Afrika identiteit gevoed het nie — ’n identiteit wat nie noodwendig saamval met nasionale grense nie, en wat die oorwinning oor apartheid in SA nie bloot beleef as ’n plaaslike deurbraak nie, maar as ’n prestasie van die ganse kontinent.

Maar hoewel ons hierdie aspek so goed moontlik moet probeer verstaan, is dit nie te sÍ dat ons dit onkrities moet aanvaar of met huidjie en muidjie moet probeer sluk nie. Die ernstige vaag wat hier gevra moet word, is of daar nie ’n opvallende spanning bestaan tussen Mbeki se obsessie met Afrika en sy taak as leier van Suid-Afrika nie. Die vraag wat hier nie vermy mag word nie, is of solidariteit met die res van Afrika werklik soveel in Suid-Afrika se belang is. Of, sagter gestel: hoe bly ons Afrika vriendelik en Afrika verbonde — iets waarmee niemand ’n probleem behoort te hÍ nie — sonder om onvermydelik ingesuig te word in Afrika se ellende? Is Suid-Afrika se uitkoms nie miskien juis om eerder afstand te plaas tussen ons en die res van Afrika nie — afstand wat ons daarteen sal vrywaar om, in die oŽ van buitelandse beleggers, eenvoudig oor dieselfde kam geskeer te word as die Kongo of Rwanda of Burundi wanneer besluite oor buitelandse beleggings geneem moet word? Wil ons werklik in dieselfde asem genoem word as ’n land soos Zimbabwe waar, agv Mugabe se jongste manewales met plaasbesettings, dit duidelik is dat geen buitelandse belegging bloot in terme van eiendomsreg tans meer veilig is nie?

Daarby: moet ons sonder meer aanvaar dat ons geografiese posisie ons ten opsigte van handelsbetrekkinge muilband aan ’n landstreek wat in niemand se oŽ ’n baie opwindende handelsvennoot is nie? Koos Bekker merk tereg in ’n onlangse artikel op dat verbindinge deur middel van landmassas selde in die geskiedenis veel bygedra het tot goeie handelsbetrekkinge. Verbindinge oor water is veel beter vir hierdie doel. Daarom speel KaÔro byvoorbeeld ’n veel belangriker rol in die geskiedenis van Wes-Europa as die hoofstad van Uzbekistan. Al is laasgenoemde bereikbaar per land, was KaÔro se bereikbaarheid via die water veel makliker. Die belangrikste ekonomiese interaksie vandag ter wÍreld, byvoorbeeld tussen die VSA, Europa, Japan en die nuwe Asiatiese tiere, geskied alles oor water heen. Daarby, soos Bekker ook opmerk, mag daar op ’n ideologiese vlak ’n solidariteit tussen slagoffers van kolonialisme op ons kontinent bestaan, maar dit beteken nog allermins dat ons as Afrikane mekaar behoorlik ken, of steeds veel aan mekaar sal hÍ as ons mekaar beter leer ken. Ek is bereid om te wed dat, vir elke 100 Suid-Afrikaners van enige ras- of taalgroep wat jaarliks die buiteland besoek, minder as 20% ander lande in Afrika besoek! Wat weet ons van die nomades in die Sahara, die oorlogsugtige stamme in die Groot Meregebied, of die Oosterlinge op die strate van Mombassa? Wat het ons met hierdie mense in gemeen? Wil ons regtig as Suid-Afrikaners ons lotgevalle geknoop hÍ aan wat met hulle gebeur?

Hierdie soort vrae werp tog ’n sekere kritiese lig op die verstandigheid van die propagering van die idee van ’n AR in ons huidige omstandighede in Suid-Afrika. Daarmee is ek nie op enige manier besig om ’n gek pleidooi daarvoor te lewer dat ons liewer met Europa of wat ook al moet identifiseer nie. Daarmee wil ek ook nie sÍ dat ons ons kan losmaak van die lande in ons streek met wie ons ’n onvermydelike noue verwantskap het nie. Trouens, stabiliteit en ekonomiese voorspoed in ons onmiddellike buurlande is in ons regstreekse belang in Suid-Afrika — al is dit om geen ander rede nie as dat die gebrek daaraan eenvoudig sal beteken dat die stroom onwettige immigrante na SA sal toeneem, met al die ernstige probleme (selfs verset teen mede-Afrikane, soos ons tans sien) wat dit onvermydelik meebring. Sensitiwiteit vir meer verantwoordelikheid teenoor die Suider-Afrikaanse streek — al is dit bloot om te help regstel aan al die ellende wat Suid-Afrika se destabilisering van die streek in die tagtigerjare veroorsaak het — beteken egter steeds nie die omarming van die ideaal van ’n (totale) Afrika Renaissance nie.

Die vraag bly egter of daar nie ’n outentieke Suid-Afrikaanse bewussyn en identiteit is wat ons moet probeer ontgin nie, en of daarin nie vir ons veel meer heil lÍ, ook in terme van die verwerkliking van verbeterde lewensomstandighede vir alle Suid-Afrikaners nie. Baie mense ontken natuurlik dat ons as Suid-Afrikaners genoeg gemeenskaplike ervarings het wat ons aan mekaar kan bind op ’n wyse wat uitdrukking gee aan ’n werklik gemeenskaplike identiteit. Daarvoor, so word gesÍ, verskil ons agtergronde en lewenservarings, ons fundamenteel andersoortige belewenisse van die erkenning van basiese menswaardigheid in hierdie land, eenvoudig te veel. Ons leef intellektueel, ekonomies, sosiaal — en ja, selfs ook fisies-geografies — steeds net te veel in verskillende wÍrelde in SA.

Iets hiervan is natuurlik waar. Maar, en ek sou die punt ten slotte wou maak, die waarheid daarvan slaan toenemend op ’n ouer geslag, en geld al hoe minder van ’n jonger geslag Suid-Afrikaners. Ons moet onthou dat daar in ons midde ’n nuwe geslag jongmense is aan albei kante van die kleurlyn wat SA se apartheidsgeskiedenis nie self beleef het nie, en hul verstand gekry het in ’n tyd toe apartheid in sy doodsnikke, of selfs heeltemal verby, was. In hulle ervaringswÍreld, verdwyn apartheid al hoe meer in die truspieŽl. Die groep studente wat tans eerstejaars aan die universiteit is, is gebore in 1981, en bitter min van hulle onthou ’n tyd toe Nelson Mandela nog nie ’n vry man was nie. As ek hulle soms vertel dat daar ’n tyd was toe wit en swart in hierdie land nie saam in ’n hysbak mog ry of saam ’n drankie kon geniet nie, gaap hulle my in ongeloof aan en raak meesal onbedaarlik aan die giggel. Belangriker: vir feitlik almal van hulle, wit en swart, is Nelson Mandela ongekwalifiseerd ’n held, en is dit onvoorstelbaar dat ’n held van daardie statuur nie ’n swart man sou wees nie. Vandag is hulle saam op skool, kollege en universiteit, worstel hulle saam om die inligtingsera baas te raak, drink hulle saam in die kroeg en hou hulle saam partytjies. Ek probeer nie aanvoer dat ons lewenservaringe totaal gelykgeskakel is in SA nie, of dat dit oornag sal wees nie. Maar ons ken mekaar wel veel beter as wat ons Kongolese, Ugandese of Arabiere ken. Of ons van mekaar hou of nie, ons weet dat ons met mekaar gemene saak moet maak en die land moet deel — dat ons voor- en teenspoed onverbreekbaar verbonde is aan mekaar.

’n Mens sou nog veel meer kon sÍ oor aspekte van hierdie gedeelde Suid-Afrikaanse ervaring — iets wat tyd en ruimte my tans nie toelaat om te doen nie. Laat ek egter net byvoeg: selfs al is dit so dat ons gemeenskaplike Suid-Afrikaanse ervaring nog relatief onderontwikkel is, is dit van die grootste belang dat dit wel so vinnig moontlik ontwikkel moet word. Daarsonder bly ons nuwe demokrasie kwesbaar en broos, want dit ontbeer dan mense se verbondenheid aan die instellings van daardie demokrasie. Anders gestel: sonder ’n werklik gemeenskaplike ervaring van Suid-Afrikaansheid (eerder as soseer ’n “Afrika identiteit) het ons probleme om die gemeenskaplike gedragspatrone wat veronderstel en uitgedruk word in die demokratiese instellings van die nuwe Suid-Afrikaanse staat (vryheid van spraak, respek vir menseregte [waaronder menswaardigheid en eiendom], “rule of law”, parlementÍre regering, ens.) behoorlik gevestig te kry. Die dreigende onstabiliteit wat huidige misdaadvlakke en die “brain drain” veroorsaak, behoort ons daarom sterk aan te moedig om ons gemeenskaplike Suid-Afrikaansheid, indien nie sterker nie, dan ten minste net so sterk te beklemtoon soos ons verbondenheid met die res van Afrika.

Ek is nie besig om te argumenteer dat ons niks met die res van Afrika te doen behoort te hÍ nie — veral omdat, soos vroeŽr betoog is, ons onlosmaaklik verbonde is aan ons onmiddellike bure. Ek waarsku bloot teen die feit dat ’n oormatige globalisering van ons politieke identiteit, soos geÔmpliseer in die idee van die Afrika Renaissance, die gevaar loop om die belang van die ontwikkeling van ’n gesonde Suid-Afrikaanse lojaliteit teenoor en verbondenheid aan die instellings waarop ons jong demokrasie essensieel berus, af te swak. Wat daarby aangetoon sou kon word, is dat ons eers na behore in staat sal wees om iets vir die res van Afrika te beteken as ons die volle potensiaal van die geleenthede wat Suid-Afrika se demokratiese en ekonomiese bestel ons bied, nie alleen verstaan en aanvaar nie, maar ook behoorlik ontgin het. Dis eers wanneer ons identiteit en voorspoed as Suid-Afrikaners behoorlik gevestig en ontwikkel is, dat ons ten beste daarin sal slaag om iets van die voorspoed wat hierdie land ons gebied het, in ’n wyer kontekste vaardig te maak. Ons morele plig teenoor Afrika moet deurentyd opgeweeg word teen ons nasionaal-patriotiese plig teenoor ons eie konteks. Om balans tussen hierdie twee waardes te vind, is geen eenvoudige saak nie, maar iets waaroor ons toenemend diep en kreatief sal moet bly dink. Wanbalans kan ons oor ’n afgrond trek met ’n val waarvan ons sal sukkel om te herstel.


Anton van Niekerk
(Hoof, Departement Filosofie, US)


Vgl AA van Niekerk: “The African Renaissance: lessons from a predecessor”. Critical Arts, 13(2), 1999: 66-80, en “Dink mooi oor wat Afrika-renaissance regtig beteken”, Rapport, 12 Desember 1999.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.