SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

“Droewig ontuis in die hede” — Aucamp oor herinnering en verlies

Herman Wasserman


“If one no longer has land but has memory of land, then one can make a map.”

Hierdie aanhaling van Anne Michaels, uit haar roman Fugitive Pieces, is een van die motto’s van Hennie Aucamp se nuwe bundel “herinneringe en refleksies”, getiteld In die Vroegte (Tafelberg).

Die kaart wat Aucamp in hierdie opstelle teken, is die van ’n land — ook ’n land van die gees — wat hy aan die verloor is. Die herinnering word ’n reddingspoging om iets te behou, in die hoop dat nie alles verlore sal gaan nie.

“Literatuur is nie ál vorm van geheuebewaring nie, maar dis verreweg die belangrikste. Want sonder geheue het ’n groep sy identiteit verbeur en kollektiewe bewussyn gekanselleer,” sê hy in sy lesing by die bekendstelling van die boek op die pas afgelope Klein Karoo Nasionale Kunstefees.

Hierdie herinnering is aan die een kant ’n hoogs persoonlike een, verduidelik hy as jy met hom daaroor gesels, maar aan die ander kant is dit ook veel groter. Dit spruit enersyds uit die ouderdom wat naderkruip, maar dit het ook baie te make met sy ervaring van die veranderinge in die land.

In die vroegteAs In die Vroegte dus vir hom ’n vorm van “geheuebewaring” is, is dit nie net die herinnering aan ’n Stormbergse jeug (soos in die siklus “Buitetoe”), aan die tydskrifverhale waarmee hy grootgeword het (waarvan hy in die opstel “Onder in die meelkis” vertel), of selfs die buite-kleinhuisie op plattelandse dorpies van weleer (beskryf in “Op die plek rus”) nie. Die herinnering is daar, ja, en dit word in evokatiewe detail voor die gees geroep, so duidelik dat selfs iemand vir wie dié wêreld en tyd volledig vreemd is, homself daarin kon tuisvoel. Maar hierdie herinneringe word nie in isolasie opgeroep en herkou, soos in ’n stoepstorie op ’n Sondagmiddag of ’n sugtende onthou-jy-nog-anekdote nie. Daarvoor kyk Aucamp te fyn, daarvoor is sy wêreld veel groter as die van die platteland en die plaas. Dit is immers een van Afrikaans se groot kortverhaalskrywers wat hier aan die woord is, ingestem op die verskeidenheid en veelheid van menslike ervaring. Boonop is dit iemand wat al formeel as ’n “dekadent” beskryf is, wat ’n aanvoeling en deskundige kennis het van die wêreld van die kunste, wat strek van die kabaretvorm tot Boesmantekeninge. En hoewel jy Aucamp — waarskynlik een van die grootste gentlemen in die somtyds erg bitsige Afrikaanse literêre dampkring — nie sommer as ’n politieke skrywer sou tipeer nie (hy noem homself ’n draadsitter in die apartheidstyd), registreer sy werk ook die sosiopolitieke omstandighede van die tyd.

Dit word dus duidelik uit die lees van In die Vroegte dat dit hier om ’n dubbele onthou gaan — ’n bemoeienis met die verlede wat spruit uit ’n individuele ervaring van tyd wat verbygaan, maar ook ’n herinnering wat verband hou met ’n kollektiewe ervaring van verlies.

Dalk het laasgenoemde te make met wat André P Brink in ’n ander konteks die “spookpyn van die mag” genoem het — daardie fantoomgevoel wat ervaar word deur ’n groot deel van die Afrikaanse gemeenskap van wie allerlei dinge geamputeer is, van taal tot politieke posisie tot ’n manier van lewe, maar dié dinge nog voel pols.

“(D)at ek my aan herinneringskuns sou waag, dit het ek nie voorsien nie,” sit Aucamp hierdie twee strominge uiteen. “Ek wil glo dat my verantwoordelikheid teenoor geheue en herinnering onder historiese druk begin het, soos kennelik ook by my kollegas Jaap Steyn (Hoeke Boerseuns ons was) en Karel Schoeman (Die laaste Afrikaanse boek). Laat historiese druk vir ’n oomblik buite rekening, en dan kom ’n ander aanstigting tot herinneringgeskrifte na vore: leeftydsdruk. Hier van sestig af begin mense, wat natuurlik skrywers insluit, in ’n ander sleutel dink.”

Tog wys hy ook daarop dat herinneringsliteratuur in Afrikaans sedert die jare negentig anders begin lyk het. “Dit het dringender, navranter geword, en al hoe meer verbind geraak met dinge wat bó die individu uitgaan. Dinge soos die voortbestaan van Afrikaans, en kultuur soos uitgedruk in Afrikaans.”

Herinneringsliteratuur in Afrikaans, sê Aucamp, het van die jare negentig “toenemend ook verliesliteratuur geword”.

Maar hoewel ’n mens moontlik In die Vroegte sal wil groepeer by sy gepubliseerde egodokumente, byvoorbeeld Gekaapte Tyd en Allersiele, wys hy jou daarop dat daar ook fiksionalisering betrokke is wanneer ’n mens begin onthou, en wanneer ’n mens begin neerskryf wat jy dink jy onthou. “Nostalgie is altyd selektief. Herinnering verlei jou, dit laat jou dinge óf mooier óf leliker skryf. Herinnering kan ’n mens pootjie. Daarom hoort die herinneringsboek vir my by fiksie.”

Hy hou nog steeds elke dag dagboek, soos hy reeds as adolessent begin doen het. Dis ook begryplik dat hierdie neerskryf van ervarings op 69-jarige ouderdom ’n melancholiese toonaard begin aanneem. Maar wat is dit in die hedendaagse Suid-Afrika wat hom so ontstel dat hy sy persoonlike herinnering-as-verlies ook op ’n breër doek kan skilder, die spesifieke, individuele koppel aan die algemene, sosiologiese? Is dit deel van die voortslepende pessimistiese debatte oor die toekoms van Afrikaans?

“Afrikaans se idioom het verswak, en almal vind dit maar dolgesellig, dié taaltjie. Maar taal is maar deel van ’n groter ding. Ons sit nou met neo-apartheid. Dis ’n baie kras ding om te sê, maar hoekom gaan so baie jong blanke mans oorsee? Dis die ‘too pale, too male’-ding, ons beweeg al verder weg van ’n meritokrasie. Daar is byvoorbeeld te veel ondergekwalifiseerde onderwysers, terwyl daar niks is wat hierdie land so nodig het soos ouderwetse onderwys nie.”

Maar nes ’n mens wil begin dink dat dit darem baie reaksionêr is, kwalifiseer hy, trek hy homself skuld aan. “Ek was ook maar ’n draadsitter. Ons was soos die Nazi-Duitsers wat gesê het ‘Ons het nie geweet nie.’ ’n Mens raak maklik verknog aan gerief.”

Terselfdertyd wys hy daarop dat van sy kritiek op die hedendaagse bestel juis spruit uit tendense wat hy herken uit die vorige era van vergrype. “Dinge kan nie in ’n land verander as daar nie ’n ‘change of heart’ plaasgevind het nie. En daar is wéér ’n soort ontvlugting van die realiteit. Vergelyk maar Afrikaanse sepies met ’n reeks soos Isidingo wat sosiale realiteite inkorporeer.”

In sy bekendstelling het hy gewys op die letterkunde se rol as die van ’n Janus, as ‘t ware, wat die geskiedenis met die toekoms kan versoen: “Die letterkunde — en dis die wónder van letterkunde — is keer op keer in krisistye in die geskiedenis sy eie terapie. Want groot letterkunde is altyd besig met wins- sowel as verliesberekening; met misdaad sowel as boete; met waarheid sowel as versoening.”

Daarom kan kunstenaars ook gedy in ’n tydperk wat hulle, soos hy in sekere opsigte, as een van agteruitgang of tot niet gaan beskou. “Daar is ’n sekere kreatiwiteit in verval. Die kunstenaar kan altyd nog van verval iets maak,” sê hy.

Maar slegs diegene wat oorhaastig oordeel, wat dink in terme van stereotiepe etikette en hokkies, sal Aucamp as konserwatief kan afmaak. Sy hunkering is miskien nie soseer na die verlede nie, maar na die ideaal: “Ons moet terugkeer na aristokratiese geesteswaardes, al sou dit seker ook weer as ’n nuwe eksklusiwiteit gesien gaan word. Maar dit moet waardes wees wat almal insluit. Ek kan dit nie sterk genoeg beklemtoon nie — álmal.”

En dan onthou ’n mens nie net ’n vorige Aucamp-kabarettitel, Slegs vir Almal nie, maar jy besef dat die werklike skrywer altyd onrustig is. Ook Aucamp swerf grasieus, só elegant, tussen die hede en die verlede, die gegewe en die ideale. Tuis én ontuis tegelyk, in die Stormberge of in Berlyn, in die vorige bedeling of die huidige. Dit kan nouliks beter verduidelik word as deur Aucamp self, wat terloops by die afskeid opmerk dat “skryf ’n manier is om iets aan jouself te verduidelik”. In die pragtige slot van “Op veld en rante” (pp 18-19) klink dit so:

Maar my Veldschmerz — en dis seker natuurlik — word op die allerdiepste vlak gevoed deur die veld en rante van die Stormberge; ook in my slaap. En altyd is daar honde by my in my drome, dikwels onbekende honde, maar opgeruimd en lewensgulsig. Honde wat na pap en melk en vleis ruik. En na bossies en grond. En wanneer een van die honde my hande of wang lek, word ek wakker, droewig ontuis in die hede.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.