SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Lees ook:
Die nuwe skrywers beoefen ’n realistiese, bestaande straatdekadensie
Geweld, die skewe werklikheid in die jong skrywer se blikbrein

Abses ná protes: die “negentigers” as niegenerasie

Antonia Steyn

    “Dis eintlik ’n bietjie literêr-historiese slordigheid by ons - dat ons in die Afrikaanse letterkunde so met die 10-talle werk: 20-ers, 30-ers ... tot by die 60-ers nou ... Ons het waarskynlik nog nie die ware geledinge in ons sowat 100 jaar letterkundige tradisie ontdek nie,” skryf NP Van Wyk Louw in ’n artikel wat verskyn in die Sestiger van Mei 1964.

Ondanks Van Wyk Louw se opmerking, het dié dekade-indeling van die Afrikaanse letterkunde, steeds voortgegaan. Na die Sestigers volg die Sewentigers en, hoewel meer sinies, word daar tog soms verwys na die Tagtigers. Tot dusver huiwer die kritici nog om die debutante van die jare negentig só te etiketeer.

Een onbewuste oorweging sou kon wees dat die Afrikaanse letterkunde nou ’n tweede eeu betree en die “10-talle” tot herhaling en verwarring sal lei. Of moontlik het die sinisme in die tagtigerjare en die teenkanting teen die groepering van dié debutante onder een naamwoord, die einde van die dekadering ingelei. ’n Derde moontlikheid sou kon wees dat Van Wyk Louw se profetiese woorde waar geword het ...

* * *

Nie elke dekade van skrywers word beskou as ’n skrywersgenerasie nie. Wat is dan die onderskeid? ’n Historiese oorsig oor die twee skrywersgenerasies, die Dertigers en die Sestigers, lei tot die gevolgtrekking dat ’n skrywersgenerasie ’n definitiewe vernuwing bring, tematies en struktureel. Die dekade-indeling word dus gebruik om ’n groep nuwe skrywers, wat tematiese en strukturele ooreenkomste toon, saam te groepeer.

Om vas te stel of die debutante van die jare negentig as ’n skrywersgenerasie bekend kan staan, moet daar eers ’n kort oorsig gegee word oor die Dertigers en Sestigers.

* * *

Die Dertigers, of die “digters van Dertig”, groei veral onder leiding van NP van Wyk Louw tot die eerste skrywersgenerasie van die Afrikaanse letterkunde. Die Dertigers bring vernuwing in die Afrikaanse poësie. Dié deurbraak kom in die jare 1934 — 1936.

    “Die nuwe kunstenaars sien die poësie as ’n bewuste taak en wil ’n vers skep waarin elke woord en beeld suiwer en artistiek bevredigend is. Daarby weier hulle om by ’n klein beperkte koloniale tradisie met net plek vir die lokale en tipiese aan te sluit, en eis hulle die reg op om alle gebiede van die menslike lewe te verken en in hulle poësie tot gestalte te bring.” (Kannemeyer 1988:108).

Nie alleen vind daar vernuwing in tematiek plaas nie, maar ook in vorm en tegniek, veral dan as uitvloeisel van ’n kritiese blik op die tradisie vóór hulle.

Hulle bekwaam hulself as vakmanne en “ ... wat die vorm betref, is die poësie van die Dertigers die resultaat van ’n strenger en verwikkelder vakmanskap wat krities teenoor eie werk staan en die intellek ten volle by die kreatiewe aktiwiteit inspan.” (Kannemeyer1988:109)

Vir die eerste keer in die Afrikaanse literêre geskiedenis ontstaan die behoefte onder die skrywers om groepe te vorm en gedagtes uit te ruil. Hierdie groep digters is ook, in vergelyking met dié voor hulle, meer ontvanklik teenoor die Europese poësie en invloede.

Die tweede skrywersgenerasie is die Sestigers. Soos die Dertigers word hulle ook beskou as skrywersgenerasie, juis as gevolg van die wegbreek en vernuwing wat hulle op tematiese en tegniese vlak bring.

André P Brink definieer die term Sestiger soos volg:

    “Om iemand ‘sestiger’ te noem ... beteken alleen dat hy deelneem aan ’n duidelike verandering in die literatuur.” (Polley1973:51)

Die Sestigers beoefen en vernuwe spesifiek die Afrikaanse prosa (met die uitsondering van Breyten Breytenbach wat poësie skryf). Tydens die Simposium oor die Sestigers, gehou in 1973, laat PD van der Walt hom soos volg uit oor die renaissance in die prosa van die Sestigers:

    “Die nuwe prosa van Sestig het nie maar net ’n veranderde voorkoms in die sin van urbaniteit en gesofistikeerdheid nie, maar sy hele wese is anders as die tradisionele: struktuur, denkinhoud en styl ... styl in die sin van taalhantering, die gebruik van die basiese materiaal van die woordkunstenaar, wat deur latere geslagte dalk as die belangrikste bydrae van die Sestigers tot die Afrikaanse letterkunde gereken mag word.” (Polley1973:44)

Die Sestigers, soos die Dertigers, is ook ’n groep skrywers wat in die openbaar standpunt inneem ten opsigte van hulle skryfwerk. Ook hulle word beïnvloed deur Europese literêre tendense, soos byvoorbeeld surrealisme.

* * *

Die literatuur van die sewentigerjare word gekenmerk deur ’n sterk Afrika bewussyn. Afrika se moontlikhede word deur die skrywers ontgin, na die sestigerjare se sterk Europese gerigtheid. Hierdie tematiese ooreenkoms is een van die kenmerke van die groep skrywers wat as Sewentigers bekend staan.

Dié gerigtheid op Afrika leef voort in die tagtigs, waar die belangstelling onder sommige skrywers dan spesifiek Suid-Afrika en die politieke toestand is. In hierdie jare verskyn ‘protesliteratuur’, en debatte rondom die betrokkenheid van die skrywer by die gemeenskap en die politiek woed.

Vernuwing tree in deur die openlike integrasie van literêre teorieë in tekste, soos byvoorbeeld postmodernisme, New Journalism en historiografiese metafiksie. Veral die grensliteratuur van die jare tagtig, problematiseer die spel tussen werklikheid en fiksie in die literêre teks. Die kortverhaal as genre kry baie aandag. Tog word dié groep skrywers nie as ’n skrywersgenerasie beskou nie — juis omdat hulle nie radikaal wegbreek van die tradisies voor hulle nie.

* * *

Wat dan nou van die skrywers van die negentigs? Polities kenmerk die negentigs in Suid-Afrika die einde van ’n era. Die nuwe Suid-Afrika word gebore tydens die “posts” van die literêre teorie. Weg is die vyand, maar waar laat dit die jonger skrywers? Dit is asof alle paaie oop is vir vernuwing, maar die vernuwing vind nie plaas nie.

Die jong debutante van die negentigerjare is nie ’n skrywersgenerasie wat literêre vernuwing saam met die vernuwing van die land inlei nie, hoewel daar tog verskille met die literatuur van die tagtigerjare is. In ’n ondersoek wat gebaseer is op onderhoude met agt jonger prosaskrywers wat ná 1994 gepubliseer is, blyk dit dat die meerderheid van díe groep skrywers voel hulle sal nie as ’n skrywersgenerasie bekend staan nie. (Hierdie skrywers was S.P. Benjamin, Jaco Botha, Izak de Vries,Tom Dreyer, Jaco Fouché, Sonja Loots, Anoeschka von Meck en Herman Wasserman.)

Volgens Tom Dreyer is daar egter wel ’n moontlikheid van ’n skrywersgenerasie. In ’n onderhoud laat hy hom soos volg uit:

    “It could be [ ... ] dis nog te vroeg om noodwendig te sê of ons saam ’n nuwe skrywersgenerasie vorm, maar ek dink ons voel gedistansieërd van die ouer skrywers se idee dat Afrikaans under threat is, en hulle verdedigende houding. Die nuwe generasie gaan net weer dinge doen met die taal, dit nie verdedig nie. ’n Nuwe lewenskragtigheid lewer, eerder as om net op die verdediging te wees.”

Sonja Loots voel, aan die ander kant, dat dié groep skrywers eers iets noemenswaardig moet skryf, voordat hulle as ’n skrywersgenerasie bekend sal kan staan.

Jaco Fouché sê die volgende oor die moontlikheid van ’n generasie:

    “Wat ’n generasie betref, is ek aan die een kant bewus (taamlik vaagweg) van, en opgewonde, óf verontwaardig, oor wêreldstrominge (die global village, die internet, die kultuur van samesmelting en kompromie) en aan die ander kant (self)bewus oor ras en nasie (isolasie, selfstandige en eie kultuur, Afrikaans wees teenoor Boerskap.”)

Volgens Herman Wasserman is hulle:

    “ ... ’n internet- en televisiegenerasie [ ... ] ek dink ons is ’n té gefragmenteerde groep om ons te probeer homogeniseer met ’n oorkoepelende ding soos ’n generasie.”

Hoewel nie een van die skrywers definitief glo dat hulle ’n generasie vorm nie, is daar tog ooreenkomste, gemene delers tussen dié gefragmenteerde groep wat sigbaar raak. Kan dit dalk as die moontlike kenmerke van die “Negentigers” beskou word?

Jaco Botha voel dat die enigste samebindende faktor ’n gebrek aan ideologie is. Beide SP Benjamin en Izak de Vries skram weg van die generasie-idee. Albei dié skrywers voel dat dit tyd is om terug te keer na die blote storie, ’n wegskrywing van die literêr teorietiese spel wat kenmerkend is van die literatuur wat in die tagtiger- en vroeë negentigerjare die literêre toneel oorheers het.

In ’n onderhoud met Izak de Vries laat hy hom as volg uit oor die vraag of hierdie groep skrywers as ’n skrywersgenerasie of as die “Negentigers” bekend sal staan:

    “Ek dink nie so nie. Ek persoonlik dink ’n mens gaan terugkyk na die breë Afrikaanse literatuur en die verandering wat gekom het. Wat gebeur het in die Sestigerjare - dit was jong bloed wat skielik anders begin skryf het. Ek dink in die negentigs, veral die laat-negentigs, het die Chris Barnards, die Elsa Jouberts en daai mense, begin anders skryf. Ek dink dis ’n breë verandering wat plaasgevind het.”

Vernuwing bring die groep skrywers dus nie. Weliswaar is dit eerder diversiteit wat kenmerkend is van hulle werk.

Anoeschka von Meck se roman is ’n geestelike soeke na God; Sonja Loots se Spoor is destyds deur resensente beskryf as magiese realisme. Wasserman se kortverhale sluit sterk aan by die New Journalism tradisie, die spel tussen werklikheid en fiksie. Ook Jaco Botha en Izak de Vries se verhale toon kenmerke van dié postmodernistiese spel, hoewel in ’n mindere mate. Volgens Tom Dreyer verval Botha in “’n hiperrealisme”. Benjamin, Fouché en De Vries stel die storie voorop, terwyl Dreyer se roman as “filmies” beskou word.

Ten spyte van die diversiteit, is daar tog ooreenkomste wat sigbaar is. Met die uitsondering van De Vries (wat bewustelik politieke kwessies soos die Waarheids- en Versoeningskommissie aanspreek), staan hierdie groep skrywers en hulle skryfwerk apaties ten opsigte van die politiek. Vernuwend? Miskien wel, ná die talle politiek bewuste stukke literatuur wat vanaf die Sestigerjare sterk op die voorgrond was.

Dit bring ons dan nou by ’n deurlopende tema wat kenmerkend is van dié skrywers se werk: geweld. In al die verhale word die kwessie van geweld ’n plek gegun - of dit humoristies of ernstig aangebied word, verwys na die huis of die samelewing, eksplisiet of geïmpliseer; geweld seëvier! Maar, dit is nie ’n nuwe tema in die Afrikaanse literatuur nie, en dit word nie eksklusief deur die jonger geslag aangespreek nie, inteendeel.

Dit blyk dan dat die afwesigheid van aktiewe protes miskien die gemene deler van die skrywersgroep kan wees. Saam hiermee hang die bordjie van “no commitment” (tot taal, lees, skrywerskap) voor hulle deure. Maar tog bly dit onmoontlik om hierdie groep bonsende jong bloed onder dieselfde dak in te kry ...

* * *

Ons sal dus nie na hulle as die ‘skrywersgenerasie’ van die jare negentig verwys nie, ook sal ons nie die label “Negentigers” om hulle nekke hang nie.

So, kom ons noem hulle solank die ankerlose “Drifting generation” en wag op die die tweede 100 jaar om die “ware geledinge” in ons literêre tradisie te ontdek.


KANNEMEYER, JC. 1988. Die Afrikaanse Literatuur 1652 - 1987. Pretoria: Academica.

POLLEY, J red. 1973. Die Sestigers. Kaapstad: Human & Rousseau.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.