SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

’n Nuwe blik op slawerny

Dr Jan C Visagie

Armosyn van die Kaap. Voorspel tot vestiging, 1415 - 1651.
Karel Schoeman
Human & Rousseau, 1999
(pp 314, prys: R150).

’n Kalahari.net-resensie

Armosyn van die Kaap
Koop nou!
Navorsers se ondersoek na die herkoms van hulle stamouers wat onder die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) na die Kaap gekom het, word op ’n heel vroeë stadium van hulle navorsing daarvan bewus dat die opkoms van Nederland as ’n koloniale moondheid en die uitbreiding van die Nederlandse handel ’n noodsaaklike voorstudie van hulle projek sal moet uitmaak. Spoedig dan spring die eens magtige VOC se menigvuldige bedrywighede in die prentjie. ’n Gewaande “eenvoudige” studietjie oor ’n stamvader word opgesuig in ’n doolhof van uiters interessante, maar miskien ook onnodige besonderhede. ’n Mens wil probeer weergee hoe dit in die beginjare was om aan die Kaap te lewe; waarom die Nederlanders aan die Kaap was en wat hulle uit Europa saamgebring het; hoekom hulle van vroeg af asof vanselfsprekend slawe van Wes-Afrika ingevoer het. Om dit alles te kan beskryf, het skrywer Karel Schoeman in sy Armosyn van die Kaap soos talle navorsers voor hom dit noodsaaklik gevind om terug te gaan na die sestiende eeuse Nederland, die Nederlandse besittings in die Ooste, die wêreld van die VOC, veral die slawehandel en bowenal die alledaagse lewe van die gewone mense in hierdie jare.

Schoeman se taak was dus ietwat anders en selfs moeiliker as die nasporing van, sê nou maar, ’n blanke stamvader. Hy wou uitkom by die ongenoemdes: hoe die gewone mense in Nederland elke dag gelewe het, gebore is, hulle klere gelyk het, hulle struwelinge, hulle voedsel, hulle liefde vir sang en musiek, bruilofs- en begrafnisgebruike, feesvieringe, opvoedingspeil, leesboeke, ambagte, ongewone vryheid van Nederlandse vroue in teenstelling met tydgenote in ander lande, frustrasies van die begaafde en ambisieuse vrouens van destyds, prostitusie, weduweeskap, beroepe van vroue, werkverhoudinge, rang en status in die samelewing en wat nog meer.

Met die deurlees besef ’n mens opeens dat die skrywer in der waarheid besig is om die sewentiende eeuse lewe aan die Kaap te konstrueer aan die hand van beskrywings van hoe dit in Nederland daar uitgesien het. En Karel Schoeman sê dit prontuit: “Wie Suid-Afrika wil verstaan, moet baie dinge probeer verstaan.” In soveel woorde word dit dus vir die leser reeds in die Voorwoord gesê dat om die lewe van ’n eenvoudige slavin aan die Kaap te probeer verstaan, moet ’n magdom agtergrondmateriaal deurgesif word. Daarom dan ook die konsentrasie op die “ongenoemdes” en veral die vroue. Dit alles word in hierdie eerste volume uiteengesit as voorspel tot die tweede deel wat later vanjaar die lig sien.

Ten spyte van die geweldige nadeel van afstand in tyd en gebrekkige beskrywings van die alledaagse lewe aan die Kaap, het Schoeman uitmuntend daarin geslaag om ’n atmosfeer te herskep. In hierdie milieu van ’n ou wêreldse bestaan gaan hy in deel twee voortgaan om die lewe van Armosyn te rekonstrueer: die decor is voltooi en die karakter kan nou haar verskyning maak.

Die boek word in 10 hoofstukke verdeel: Die koms van die Portugese, die slawekus gedurende die 16de en 17de eeue, die Nederlandse handelsryk in die Ooste, die Nederlandse skeepvaart, die VOC, Batavia en ander Nederlandse besettings in die Ooste, die stranding van die Haarlem aan die Kaap, die goue eeu in Holland en veral in Amsterdam, die lewe van die gewone mense in Nederland en ten slotte Jan van Riebeeck se voorbereiding en vertrek na die Kaap.

In bykans al sy hoofstukke hierbo genoem, word die menslike gedrag, gebruike, vermenging met die inheemse bevolking, kleredrag, boustyle ens in die Portugese en Nederlandse handelsposte in Batavia en elders deurgetrek na wat later aan die Kaap aangetref of nagevolg is. Op hierdie wyse slaag Schoeman daarin om die Suid-Afrikaanse leser se blik te verruim. Selfs die ingeligte historikus sal hier insigte en perspektiewe kry wat hom sal verras. Juis daarom is dié werk ook geskik as voorgeskrewe leesstof vir studente wat geskiedenis- en veral kultuurgeskiedenis bestudeer.

Die skrywer se gebruikmaking van inligting wat hy verkry uit skilderye van Nederlandse kunstenaars is ’n leersame oefening vir enige navorser wat dalk neersien op die nugtere en onverfynde kunswerke van die Goue Eeu. Ook hieruit put Schoeman heelwat inligting oor die alledaagse lewe in Nederland en om die lewe aan die Kaap te belig. Soos in sy vorige geskiedeniswerke is sy keuse van illustrasies uitstekend en die uitgewer se reproduksie daarvan van hoë gehalte.

Dis jammer dat so min hedendaagse uitgewers van historiese werke bereid is om bronneverwysings in voetnote te set en eerder van endnote gebruik maak. Juis in hierdie boek moes ek talle kere blaai en blaai en soek na die bron waarna verwys word. Die boek is verder van ’n gebruikersvriendelike en nuttige Bronnelys voorsien, terwyl ’n lys van bronne waaruit die illustrasies geneem is en ’n geselekteerde indeks die werk afsluit.

En van bronne gepraat, die feit dat Schoeman sy navorsing in sekondêre werke gedoen het wat hoofsaaklik in Suid-Afrika voorhande is, doen beslis nie afbreuk aan sy werk nie. Dit is wel jammer dat hy nie eintlik toegang tot oorsese biblioteke gehad het nie. Maar die besluit om nie argivale bronne te gebruik nie, was myns insiens ’n gelukkige een. Gewoonlik sal ’n historikus nie droom om laasgenoemde stelling te maak nie, maar ek doen dit omdat dit gewoon onmoontlik sou wees om hierdie soort inligting binne ’n redelike tyd uit primêre bronne te ontgin. Ek sê dit met ’n volle bewustheid van Karel Schoeman se werkywer en dat ’n rubriekskrywer onlangs gesê het hy kan vinniger skryf as wat sy kan lees!

Schoeman het met hierdie agtergrond waarteen die geskiedenis van veral die Europese vestiging aan die Kaap gesien moet word, baanbrekerswerk verrig. Na die beste van my wete is hierdie onderwerp nog nie vantevore in Afrikaans in een volume saamgevat nie. ’n Mens kan nie verwag dat almal van hierdie tydvak en onderwerpe sal hou nie. Dit is beslis nie ligte leesstof nie. Soos die skrywer ook uitdruklik waarsku, moet hierdie eerste deel plus die tweede wat nog sal verskyn, as ’n eenheid beskou word. Maar hierdie volume op sigself is reeds ’n bydrae wat nie gering geskat kan word nie: veral kultuurhistorici en navorsers oor slawerny sal van hierdie perspektiewe kennis moet neem.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.