SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Breyten Breytenbach: Revolusionêr, romanties en teenstrydig

Ampie Coetzee

het hierdie lesing op 30 April 2005 gelewer by die Huis der Nederlanden in Pinelands, Kaapstad.

Klik hier en wen!
Klik hier en wen 12 maande af op jou huislening!

Klik op omslae om te bestel by kalahari.net!
Wen Mondmusiek en die Ongedanste Dans!
Vyf gelukkige LitNet-lesers kan elk 'n geskenkpakkie bestaande uit Breyten Breytenbach se versamelbundel Die ongedanste dans (Human & Rousseau) en die CD Mondmusiek (Human & Rousseau / Rhythm Records) wen! Al wat julle moet doen is om 'n haastige e-pos te stuur na sharon@litnet.co.za en vir ons een voorstel vir 'n LitNet-artikel te maak. Die kompetisie sluit op 16 Junie, maar skryf sommer nou in en kom solank in aanmerking!
Bestel nou by kalahari.net!
Bestel nou by kalahari.net!

Ek is genooi om oor 'n baie moeilike onderwerp te praat: Breyten Breytenbach.

Ek probeer dit nietemin doen, omdat ek baie respek en baie bewondering vir hierdie digter het. Daarby is dit ook toevallig dat ek juis nou praat – juis nou wanneer die tweede versameling van sy gedigte pas verskyn het: Die ongedanste dans, die gevangenisgedigte, vanaf 1975 tot 1983. Die eerste was Ysterkoei-blues, die gedigte vanaf 1964 tot 1975. Ek kan dus nou ook u aandag daarop vestig.

Vir diegene van u wat niks van Breyten weet nie, of min weet, dink ek dis nodig om by die begin te begin.

Breyten is gebore op die 16de September 1939. Dit staan in die volgende gedig, in die eerste bundel van 1964 (ek haal slegs 'n paar strofes aan):

geb. 16 Sept. 1939, Bonnievale

vierentwintig jaar gelede het ek uit my ma
se skoot gebeur, in my pa se saad was verderf reeds

my vleis het meer geword en my beenkrukke langer
met die suiers van my sintuie het ek om my begin anker

twee gewasse het my breinbol voortgebring
een is vrees vir alles twee is 'n lus om te bly leef

(en dan die laaste strofe):

langsaam moet ek leer dat ek niks is en moet val
dis dood se doktorsgraad, die verloskunde.

Hy probeer studeer aan die Universiteit van Kaapstad, in die beeldende kunste. Maar omdat hy nie eintlik veel van die akademiese wêreld gehou het nie – en nóú nog nie – en omdat die politieke situasie in die land in die laat vyftigerjare hom nie aangestaan het nie, verlaat hy die land en vestig hom in Parys, Frankryk.

Daar trou hy met 'n Viëtnamese vrou, Hoang Lien Yolande, en verbreek een van die grootste wette van die land van apartheid: om met iemand te trou wat nie as wit geklassifiseer kan word nie. Dit lei dan ook daartoe dat hy 'n balling word – 'n self-balling – en sonder genade die Suid-Afrikaanse politieke stelsel aanval in sy poësie, waar selfs die eerste minister in die bloeityd van apartheid, Balthazar John Vorster, aangespreek word oor die sterftes van gevangenes in aanhouding. Die titel van die gedig is “brief uit die vreemde aan slagter” en dis “vir Balthazar”, en ek lees slegs een strofe daaruit:

en jy, slagter
jy wat belas is met die veiligheid van die staat
waaraan dink jy as die nag haar skelet begin toon
en die eerste babbelende skreeu uit die prisonier
gepers word
soos van geboorte
met die vloeistowwe van baring?
is jy dan ootmoedig vir dié bloederige ding
met al die mensagtige sidderskokke
met die stukkende asem van sterwe
tussen jou hande?
word jou hart in die keel ook styf
wanneer jy aan die gebluste ledemate vat
met dieselfde hande wat oor jou vrou se geheime streel?

Na 13 jaar, in 1973, kom hy en Yolande Suid-Afrika besoek; hulle reis hier en hy skryf 'n onkonvensionele reisboek (Seisoen in die Paradys). 'n Ironiese titel, want dis nie 'n paradys wat hy hier ervaar nie. 'n Hoogtepunt van die boek is die lesing wat hy gee by die Universiteit van Kaapstad tydens die byeenkoms van die Sestigers. Die Afrikaner-gehoor was verstom en seergemaak, en kwaad, oor uitings soos die volgende:

Ons is 'n bastervolk met 'n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so. Ons moet kompos wees, ontbindend om wéér in ander vorme te kan bind. Net, ons het in die slagyster getrap van die baster wat aan bewind kom. In daardie gedeelte van ons bloed wat van Europa kom, was die vloek van meerderwaardigheid. Ons wou ons mag regverdig. En om dit te kon doen, moes ons ons gewaande stamidenteit stol. Ons moes áfkamp, bekamp, verkramp. Ons moes ons andersheid verskans en terselfdertyd behou wat ons verower het. Ons het van ons andersheid die norm, die standaard gemaak – en die ideaal ... Ons het mure gebou. Nie stede nie, maar stadsmure ... en ons het die begrip van suiwerheid begin aanhang. Dit is apartheid ...

Dit was enkele voorbeelde uit sy poësie en prosa.

Nou, die uitkoms van sy verset – die handeling. Hy keer later – in 1975 – weer terug hiernatoe, maar nou op 'n revolusionêre politieke missie. Die Veiligheidspolisie neem hom in hegtenis, en hy word gevonnis tot nege jaar gevangenisstraf kragtens die Wet op Terrorisme. Sewe jaar daarvan dien hy uit, in eensame opsluiting in 'n maksimumsekuriteit-gevangenis.

Hy en Yolande woon nou in Parys, en Spanje; en soms kom hulle nog Suid-Afrika toe, maar dan praat Beyten nie in die openbaar nie, en ontmoet hy net sekere mense. Hy het nog nie Afrika vaarwel gesê nie, want hy is direkteur van 'n instituut vir demokrasie, in Senegal. Nog dus in die stryd teen oorheersing en rassisme.

Dit dan iets van 'n agtergrond.

Breyten is 'n revolusionêre digter, skilder, intellektueel. Sy politieke optrede was rampspoedig – maar dit het veral bewys gelewer van een van die belangrikste eienskappe van sy menswees: om te doen, te handel, en nie net te praat nie. Skrywers is skrywers en praters, maar selde persone van die daad, die gevaarlike daad. Selfs sy poësie is handeling, daad. In sy eerste gedig, “bedreiging van die siekes” in 1964, skryf hy dat hy sal weier om sy “swart tong” te troos, al moet hy sterf. En die gedigte in hierdie versameling wat in die gevangenis geskryf is, is woordhandelings, handelinge gemaak ter wille van oorlewing. Hier is 450 bladsye poësie – skeppings wat getuig van lewe, 'n wil om te lewe, al is die dood altyd naby. Hierdie verse openbaar weer 'n ontsaglike talent.

Ek praat hoofsaaklik oor sy poësie; maar ek wil net kortliks noem dat sy skilderwerk ook revolusionêr is, in dié sin dat dit, net soos sy poësie, grensdeurbrekend is, soms onverstaanbaar, soms skrikwekkend. Daaroor is verskeie studies gepubliseer, veral van Marilet Sienaert van die Universiteit van Kaapstad. En as intellektueel is hy indrukwekkend genoeg dat 'n vooraanstaande filosoof, Andrew Nash, meer as 'n hoofstuk in sy doktorale studie, The dialectical tradition in South Africa, aan Breyten afgestaan het, en veral tot dié konklusie gekom het: dat Breyten se dialektiese denke onafskeidbaar is van sy poësie; dat sy poëtiese gawe hom die vermoë gegee het om die oomblikke van kontradiksie onmiddellik te kan vasvang in 'n metafoor. Die krag van sy dialektiek en van sy skeppingsvermoë lê dan in sy verhouding tot taal. En, ironies, in Afrikaans – een van die kleinste tale in die wêreld.

In die kontradiksie, die teenstrydige, die metaforiese lê die krag van sy poësie. En dit is die intuïtiewe gebruik van taal, saam met die teenstrydige, wat die oorsaak is van die dikwels gekompliseerdheid van sy werk. Dit is ook die oorsaak daarvan dat lesers geïrriteerd raak – omdat hulle dit nie kan verstaan nie! Ek gee toe. Hoe verstaan mens reëls soos die volgende: “die mond is té geheim om pyn nie te voel nie”, of “in baie lande is dit vroegaand nog donker”?

Hier moet mens intuïtief lees, sowel as rasioneel. Die eerste voorbeeld kan nie rasioneel begryp word nie, maar die tweede wel: ipv al, die woord nog. Wat dan beteken dat dit in baie lande heeldag donker is. Dus metafories.

In feitlik elke gedig van hom sal daar iets wees wat jy met jou sinne sowel as met jou verstand moet lees – omrede die beelde, metafore, en omrede die paradoksale. Die poëtiese dialektiek. Dan moet mens ook nederig wees en weet: jy kan nie alles ken of verstaan nie.

En wat beteken die titel van sy eerste digbundel, Die ysterkoei moet sweet? Hier vind ons aansluiting by die Zen-Boeddhisme, die wêreldsiening wat dikwels in Breyten se werk voorkom in die sin van “by betekenis verby”, by die nieverbale. Die volle Zen-spreuk is: “Om die groot Niet te vertrap moet die ysterkoei kan sweet” – dus: om die onmoontlike te kan doen.

Ook sy politieke dialektiek het iets te doen met Zen. Weer teenstrydig. Ek haal 'n kort stukkie aan:

Boeddha het my gehelp om Marx te verstaan. Eerstens: dat daar nie Boeddhisme is nie, slegs Boeddhas. Ek is Boeddha. Jy en jy en jy eweseer. Ons, alles, gesamentlik en afsonderlik, is potensieel of geaktualiseer Boeddha. Tweedens: maar as jy Boeddha teëkom, maak hom dood! Derdens: dat my radikalisme (wortelsoeke of wortelwerk) nie geënkapsuleer kan word in 'n dogma, 'n skool of 'n party nie. Op jou eie het jy in die kak getrap, jy het sélf die bodderasie geruik, jy sal sélf die skoen moet ontslagyster.

Vanaf hierdie eerste bundel het hy grense deurbreek, die begrensing van die woord as kommunikasiemiddel oorskry – sodat dit nie net woord-met-betekenis is nie, maar ook woord-as-woord. En vanaf hierdie eerste bundel, in die eerste gedig al, kritici kwaad gemaak het, Afrikaanse poëtiese konvensies verbreek, en woorde gebruik wat jy nie in die heiligdom van die poësie kry nie. Ek lees hierdie eerste gedig, “bedreiging van die siekes”, en vra u: wees sterk en onbevooroordeeld. Die gedig begin ongewoon, opgedra aan die digter self, dan 'n bekendstelling van homself – en dan aan die einde 'n degradering van homself.

bedreiging van die siekes
(vir Breyten Breytenbach)

Dames en Here, vergun my om u voor te stel aan Breyten Breytenbach,
die maer man met die groen trui; hy is vroom
en stut en hamer sy langwerpige kop om vir u
‘n gedig te fabriseer            soos byvoorbeeld:

ek is bang om my oë toe te maak
ek wil nie in die donker leef en sien wat aangaan nie
die hospitale van Parys is stampvol bleek mense
wat voor die vensters staan en dreigend beduie
soos die engele in die oond
dit reën in strate afgeslag en glyerig

my oë is gestysel
hulle/julle sal my op so ‘n nat dag begrawe
as die sooie rou swart vleis is
en die blare en oorryp blomme gekleur en geknak is van nat
voordat die lig hulle kan knaag,          die lug sweet wit bloed
maar ek sal weier om my oë in te hok

pluk my benerige vlerke af
die mond is té geheim om pyn nie te voel nie
trek stewels aan vir my begrafnis sodat ek die modder
aan julle voete kan hoor soen
die spreeus kantel hul gladde lekkende koppe, swart bloeisels
die groen bome is prewelende monnike

plant my op ‘n heuwel naby ‘n dam onder leeubekkies
laat die sluwe bitter eende op my graf kak
in die reën
die siele van kranksinnige maar geslepe vrouens vaar in katte in
vrese vrese vrese met deurweekte kleurlose koppe
en ek sal weier om my swart tong te troos (kalmeer)

Kyk hy is skadeloos, wees hom tog genadig.

Revolusionêre poësie. Maar dan kom die teenstrydige weer – die romantiese, met geweldig baie liefdesverse: eroties, en doodgewoon mooi. 'n Hele bundel liefdesverse, op die wyse van Zen, word genoem Lotus, met een van die motto's, van Nietzsche, net dit: “en as die waarheid 'n vrou is?”

Ek lees een van die mooiste liefdesgediggies uit die bundel Lewendood (weer die paradoks). Dis opgeneem in die versamelbundel Die ongedanste dans. En wat beteken dit – 'n dans is nie 'n dans as dit nie gedans word nie? Hierdie gedig vanuit die gevangenis is hoopvol, verwagtend na die dag wanneer hy weer by sy geliefde kan wees.

2.1.1

soethart,

daar sal ‘n dag kom
wanneer die son weer ‘n bruidskleed sal dra
sodat ‘n gulle wind die angeliere hul wieruik laat rook
soos sterfkerse om ‘n katafalk
die berge vol rimpels en vlae

en die spieëls totaal wit word
totdat die oë breek
en die ewebeeld oplaas deur die skerwe ontsnap
ek wil jou gelykenis wees

wanneer die branders met stywe boordjies aan
op die strand kom lê
met ‘n kleindood gekerm

dat die skemer sal kom
soos ‘n swerm blouvlerk duiwe aangevlieg oor die see
en elke duif ‘n duisend blou vlerke

en op ‘n hoë wit bed
sal ons witbrood eet
en ‘n nag

Die prosa wat hy geskryf het in dieselfde periode as Ysterkoei is surrealisties, soms snaaks, soms wel verstaanbaar ook! Die titel van die bundel is Katastrofes (1964). Baie in die trant van Jan Rabie se bundel 21. Europees en eksperimenteel. Ek lees die bekende “Fascistiese pampoen”. Die bundel prosas is opgeneem saam met sy poësie in Ysterkoei-blues – 'n aanduiding dat hy dit as 'n vorm van poësie beskou.

Fascistiese pampoen

’n Man het ‘n pampoen gekoop vir sy verjaarsdag die sestiende september. Hy het die pampoen in ‘n ou koerant gevou en dit sorgvuldig onder sy arm gehou. Op pad huistoe het die reisigers in die bus hom agterdogtig aangekyk en die kondukteur het ontevrede vlak agter hom sy snor kom stryk. Hy weet nie of dit sy verbeelding was nie maar dit was kompleet asof daar ‘n grommende geluid van die pampoen kom. Tuis het die man die eentonige trappe na sy vyfdeverdieping-woonstel blasend opgeklim eb had moeite om die deur oop te sluit want hy moes die pampoen al stywer onder sy blad vasklem. Sy swartoogdogtertjie het hom kom sien en gesê naand pappa wat het jy onder jou arm. Sy vrou het stuurs iets gebrom en gevra wat sou so danig in die vuil ou koerant mag wees en gekla dat sy moeg is. Die man het gesê dis ‘n pampoen wat ek gekoop het vir my verjaarsdag die sestiende september en sit dit met sorg in die yskas sodat dit vars kan bly. Sy vrou het gesê dat daar vis sal wees vir aandete en die kind het nuwe skoene nodig vir die skool. Skielik was daar ‘n kabaal vanuit die yskas en sy vrou het gaan kyk en gegil die verdomde pampoen het die vis opgeëet. Die man het haar probeer gerusstel dis maar net ‘n ou pampoen kom laat ons hom op die vernsterbank in die aandlug sit om af te koel dis vir my verjaarsdag die sestiende september. Maar in die môre was die pampoen weg en van die dogtertjie het slegs haar ou skoene onder die bed oorgebly. Die man se vrou het vir dae aaneen geween. Die maan het kleiner geword soms het brokkies daarvan op die aarde geval en toe opeens een aand was daar ‘n groot rooi rollende grommende bal soos ‘n pampoen in die naglug. Nou het die man geweet sy dogtertjie is die prinses in die maan. Maar hy was diep ongelukkig. Hy het sy kop vasgehou en gekreun my pampoen my pampoen wat sal ek nou hê om aan te smul vir my verjaarsdag die sestiende september.

Nadat hy vrygelaat is in 1982, skryf hy nog poësie en prosa, veral die bundel prosas Mouroir ('n woord in Oudfrans wat beteken “ouetehuis” en ook “plek van die dood”). Soos sy vroeë bundel prosas, Katastrofes, is die meeste verhale hierin surrealisties, soms snaaks, soms onverstaanbaar – maar met die deurlopende motief van die spieël en die spieëlbeeld. Voorin staan daar: “Hierdie tekste is opgedra aan my ou sel-kameraad en my meester: Don Espejuelo” (Don Espejuelo, Spaans vir “mnr Kleinspieëltjie”). Ek kan lank oor Breyten en spieëls praat, veral teoreties, omdat dit die obsessie van elke skrywer/kunstenaar is: kan die werklikheid in woorde of in verf weerspieël word? En indien nie, waarom dit probeer? Maar ons laat dit daar. Ek volstaan met twee voorbeelde van die problematiek: die een uit sy poësie, die gedig “Ikoon”, en die ander uit Mouroir, die prosa, net die begin van “die man met die kop”:

Ikoon

dieper agter donker lae van velgeworde olie
plat gesmeer teen ‘n houtpaneel
gloei ‘n ingelegde wêreld
bewaar in sy bloed soos perskes in hul stroop

en omdat alle volbringing gesuspendeer is
is die aksie puur en rou afgeskil
tot sinlose stellings (koekkoekklokke in ‘n ruimteskip)

: in die voorgrond byt mense mekaar se strotte uit
die hoë bloed hang verstyf in die leegte
blomknoppe sonder stingels
die pyn onder tande sal eentonig bly priem
‘n soldaat staar met priemende oë na ‘n soplepel
voor sy neus; ‘n wolk buig oor sy skouers
in versteende afwagting; ‘n mier beur
teen die verswikking van sy kuite;

bo dit alles pryk ‘n spykerige jesus teen ‘n kruis
sonder ‘n gejanfiskaalde mossie se hoop op ontbinding
met ‘n gryns tussen baardhare;

dieper agter vir ewig net buite bereik (soos marilyn monroe)
rys ‘n leë koel graf

“die man met die kop” (uit: Mouroir)

Daar was 'n man, ek weet nie of hy van Jafet was of van Nowgorod nie; en hy was baie treurig. Pie-toe-wie! Pie-toe-wie! het die man van treurigheid gesê daar waar hy in die venster sit en kyk hoe die dik blou reën uit die hemel val so baie dat al die blou uit die hemel uitgeval het en pie-toe-wie! het hy weer van triestigheid gekreun want daar was geen tronk in sy land nie. Dit is waarom hy so treurig was. Daar was ou mense en daar was geen tronke om hulle in te sit nie; daar was vet mense en slim mense en mense met brille en knopore en halfdooie mense en kankervogtiges en eiendomseienaars en mense met jurke en liddorings en regte mense en nêrens 'n tronk om hulle in toe te sluit nie. Daar was geen swart mense in sy land nie maar nogtans geen die kleinste en goedkoopste ou gevangenissie of boep of slammer of hoenderhuis of calabuso of clink of mang of koeler waar en hoe dan ook om hulle in af te hok nie. Pie-toe-wie, het die man gesug en van blote radeloosheid sy hande in sy gesig gedruk en begin trek. Hy het gepluk en getrek en skielik het sy gesig padgegee en ewe koel in sy hande bly sit en bewe. Die man het sy gesig op sy skoot neergelê en die twee het na mekaar se mankheid gekyk. Pie-toe-wie! piep die raadop man want hy weet eintlik nie wat anders om te sê nie. En wie-toe-pie! antwoord sy mankolieke gesig ewe kordaat ...

Later hardloop die gesig weg, met die man agterna – en die spieëls en weerspieëling is duidelik.

Daarbenewens – ná die gevangenis – skryf Breyten heelwat teoretiese werk oor skryf en die problematiek daarvan; en veral twee dramas: Boklied (1998) en Die Toneelstuk (2001). Hierdie toneelstukke het gehore hoegenaamd nie verstaan nie – en daar is uit teaters geloop, veral in Oudtshoorn by 'n KKNK-fees. Hier het Breyten se vervreemding van die Afrikaner gekom. Dis natuurlik aangeblaas deur 'n “opname” wat Die Burger gedoen het, waarvolgens daar glo statisties bewys is dat Breyten nie as 'n Afrikaner beskou behoort te word nie.

Hy het na hierdie debakel nie weer in Afrikaans gepubliseer nie; en ek twyfel of hy ooit weer sal. Ek weet hy het tot verlede jaar nog poësie geskryf, want daar is 'n paar van ons wat die tekste kry; en volgens die gehalte daarvan is dit duidelik dat hy nie uitgeskryf is nie. Hy kan nie sonder poësie bestaan nie – soos wat dit die geval met menige digters en skilders is. En Breyten is tevrede as slegs enkele mense sy nuutste verse lees. Hy het al selfs daarmee gespot: “Ek weet ten minste hoeveel lesers ek het wat wel lees – al is hulle hoe min.”

Hier is 'n Afrikaanse digter wat in die 36 jaar waarin hy poësie gepubliseer het, 22 digbundels laat verskyn het, 1 240 bladsye poësie. En vir iemand soos ek, wat feitlik dieselfde tydsduur poësie gelees het, en op tersiêre vlak daaroor klas gegee het – vir my is daar bitter min swak gedigte in hierdie ongelooflike ontploffing van kreatiwiteit. En ek glo nie enige Afrikaanse digter het soveel poësie gepubliseer nie. Maar ek tel nie, want mens vergelyk nie eintlik poësie in terme van goed, beter, beste nie. Dis nie atletiek of rugby nie.

Maar dit kan mens wel sê: dat 'n taalgemeenskap haar digters moet ag, en lees wat hulle te sê het, en waardering moet hê vir die wêrelde van die woord wat hulle in die taal vir die mens kan oopmaak. Die digter slyp die woord, dis 'n talent wat sy of hy ontvang het – om ons altyd bewus te maak van die gebruik van taal. Ons kan nie bestaan sonder die woord nie

Afrikaners het nog altyd hulle digters waardeer: vanaf FW Reitz tot Zandra Bezuidenhout (die A tot Z van die nuwe Groot Verseboek). Maar Breyten word bitter min gelees, en nog minder gedoseer op skool of universiteit – selfs die universiteite wat nog Departemente Afrikaans het. Die gedig “taalstryd” (bl. 143 in Die ongedanste dans) is ‘n droewige voorspelling van wat hy geskryf het nadat daar op Soweto se kinders geskiet is oor Afrikaans, in 1976.

Ek haal net 'n paar reëls, ten slotte, daaruit aan:

Ons is oud.
Ons taal is ‘n grys reserwis van meer dan honderd jaar.
met die vingers styf om die snellers -
en wie sal soos óns kan sing
wanneer ons nie meer daar is nie?
Soos in die lewe sal ons die aarde verwerp
en die wonderwerke van die vlees wat groei
soos woorde spoel en klop -
Júlle sal die liggame vir ons gedagtes wees
en lewe om ons sterwe te herdenk
en die wysies uit ons beenfluite tower ...

Van die struktuur van ons gewete
en uit die skure van ons liefdadigheid
het ons vir julle swart konstruksies laat bou, bliksems
skole, klinieke, poskantore, polisiestasies -
en nou waai die pluime swart rook
met die klop en die spoel van ‘n hart.

Maar julle het nie mooi verstaan nie
Die Taal moet julle nog bemeester
Ons sal julle die ABC van vooraf voorsê
ons sal julle tou-wys-maak
met die riglyne van ons Christelik Nasionale Opvoeding ...

(...)

En julle sal die Taal asseblief leer gebruik
gehoorsaam sal julle dit gebruik, breek ...
want ons lê reeds met die doodsroggel
se klop en se spoel
aan die lippe ...

Óns is oud ...

Klik hier en wen!
Klik hier en wen 12 maande af op jou huislening!



LitNet: 26 Mei 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.