SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Die Alchemis

Rudi Buys

Klik op boekomslag om by Aardvark Press te bestel!

Bestel nou by Aardvark Press!
Die Alchemis, deur Paulo Coelho.
Afrikaanse Uitgawe, 2003.
Vertaal deur Bennie Naudé
Kaapstad: Aardvark.

Dié verhaal van Coelho slaag daarin om die lyne tussen my werklikheid en die verhaal te vervaag — mistig te maak. Terwyl ek die storie lees, vind ek myself heeltyd vasgevang tussen ’n literêre analise van die karakters en gebeure as konstrukte in ’n teks, en ’n psigologiese analise van die sêgoed van die karakters en hulle interpretasie van gebeure in die verhaal, asof die storie feitelik gebeur het.

Enige storie so uitgebreid en ryk soos dié een sal onvermydelik veel te sê hê oor die betekenis van die lewe, van menswees en van die heelal — die universele aspekte van dié kategorieë in verskillende dissiplines resoneer.

Die Alchemis het egter veel meer met my verrig as om ’n uitnemende metafoor of analogie vir universele temas op my tafel te plaas. Dit het my so ingesuig dat ek met moeite in hart, denke en wese telkens moes terugkeer na die hier en nou.

Nee, ek bedoel nie ek was meegevoer of gefassineer nie. Ek bedoel nie dat ek die boek nie kon neersit nie — want dit kon en het ek. Ook nie dat ek nie bewus was van wat om my aangaan nie.

Ek meen eerder: ek was dáár, man! Terwyl ek ook hiér was.

Ja, waar, dit is nie die eerste teks wat dit met my doen nie, en dit sal sekerlik ook nie die laaste wees nie. Juis dié feit bevestig die bykans empiriese werklikheid dat egte kuns en skoonheid altyd vloei uit "die hart", "die siel van die heelal".

Ek vermoed dat my gesukkel om die onderskeid tussen storie en werklikheid te handhaaf iets te doen het daarmee dat Coelho daarin slaag om sy leser ’n nuwe taal aan te leer ín daardie einste vreemde taal. Ek meen: Hoe leer jy ’n Afrikaanse klong Mandaryns en gebruik net Mandaryns om dit te doen?

Coehlo slaag daarin om ’n spirituele taal en konteks by hierdie leke—leser te vestig terwyl hy woorde en konstruksies gebruik wat heel dikwels nie buite teologiese- en spiritualiteitskringe gelees, gepraat of gehoor word nie.

Dit laat my natuurlik handeklap vir Bennie Naudé se vertaling van die teks.

Alhoewel ek hier en daar van mening was dat ander moontlikhede ter wille van idiomatiese balans vir die vertaling na Afrikaans oorweeg kon word, behou die vertaling egter die eenvoud en krag van die Engelse teks van Coehlo. Dit laat my sommer smag daarna om die teks in Spaans te sien,* alhoewel dié taal ongelukkig ook Mandaryns is vir my.

Om dié verhaal te lees terwyl ’n polemiek heers oor Mel Gibson se Passion of the Christ, bring mee dat baie van die temas van die teks, en ook die enkele Bybelse binnestories daarin, nuwe vrae aangaande spiritualiteit en die Christelike tradisie aan die orde stel.

Nie dat dié boek, wat enkele dekades oud is, dié vrae noodwendig beoog nie.

Coelho sou sekerlik glimlaggend sê dat dit ’n eenvoudige storie is oor ’n seun wat soek na ’n skat en in sy soektog iets meer leer oor die lewe en die heelal. Hy sou selfs toegeeflik wees en iets sê soos: “As jy nou regtig wìl slim voel, kan jy maar sê dat die lewe as ’’n reis met jou roeping’ die oorkoepelende tema is!”

Wie sal weet?

Die feit is egter dat enige teks van dié formaat nie anders kan nie as om met die leser en sy/haar konteks in gesprek te tree.

Santiago, die hoofkarakter, vind homself heeltyd vasgevang in die spanningsvelde tussen teenoorstaande idees. Tussen reis en bestemming, die bekende en die onbekende, tussen waagmoed en vrees, soek en vind, vind en verloor, tussen die stilte en die gedruis en tussen raaksien en miskyk.

Die temas waaroor die karakters egter die meeste sê, handel oor die lewe as ’n reis, die belang daarvan om bewus te wees van tekens en dit te kan lees, die werklikheid van ’n persoonlike roeping vir elke mens en die belang van eenvoud en dankbaarheid.

Die woestyn en sy mense bied ’n uitmuntende en presiese ruimte/stel waarbinne dié temas aan die orde gestel word.

Vir die akademikus sou dit selfs sinvol wees om te let op Coelho se hantering van epistemologie — Santiago en die Engelsman benader kennis verskillend en versinnebeeld die hedendaagse debat tussen die wetenskap en godsdiens aangaande die vraag na kennis.

Die leser wat iets van die verhaal persoonlik wil integreer, moet gevolglik verwag om met die verhaal van Santiago in ’n maalkolk van religieuse, psigologiese, literêre, filosofiese en selfs pseudowetenskaplike (alchemie-) konsepte en verbande te beland.

Daar is darem ’n troos.

Dit wil voorkom asof Santiago, soos die leser ook, op sy reis soos ’n mot om ’n kers op pad na die vlam deur al hierdie klaarblyklik teenoorstaande konsepte en ervarings van mense moet draai en fladder. Op pad na daardie eintlike waarheid wat alles deurbreek, transendeer.

Dié waarheid word in die storielyn egter nie plotseling blootgelê nie en word reeds vroeër in die verhaal bekend gestel.

Die liefde wat tussen Santiago en Fatima sigbaar word, gee die voorsmaak van die kwessie wat uiteindelik tussen Santiago en die heelal, in die hoogtepunt van boek, bepraat word, naamlik die liefde.

Coelho is egter, soos enige outeur, nie bo verdenking nie, en enkele vrae bly my by.

Ek wonder daaroor of Santiago se reis nie té individualisties is nie? Ek wonder of die idee daarvan dat Santiago ’n vaste roeping en ’n voorafbepaalde spesifieke bestemming het, nie die idee van vrye wil teenstaan nie (maktub)? En ek wonder waarom Fatima, die vrou, se hoogste roeping is om vir Santiago, die man, te wag?

Coelho beantwoord egter baie van dié vrae in sy ander werke. So sal Fatima byvoorbeeld na alle waarskynlikheid haar Moses teëkom by die vroue in The Valkyries.

In geheel is Die Alchemis egter ’n teks wat in die Afrikaanse gemeenskap byna vir kategese gebruik kan word. Dit vertaal eenvoudige waarhede wat reeds verskeie millennia aan die mens bekend is, na ons praat- en leertaal. Dié dat Melgisedek so opsigtelike plek in die storie kry.

Vat hom, lees hom, en leer, want  ...

“Wanneer iemand regtig iets begeer, span alles in die heelal saam om daardie persoon te help om sy droom te bewaarheid,” eggo die alchemis die koning se woorde. Die seun verstaan. Iemand anders is daar om hom nader aan sy roeping te help.

 ... en  ...

“Moet niks sê nie,” val Fatima hom in die rede. “’n Mens word liefgehê omdat jy liefgehê word. Daar is geen rede nodig om liefgehê te word nie.”



LitNet: 26 Mei 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.