SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Agaat as kultuurdokumentasie vir die toekoms: 'n reaksie op Johann Rossouw se politieke lesing van Marlene van Niekerk se Agaat in die Vrye Afrikaan

Andries Visagie

Andries Visagie doseer Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van KwaZulu-Natal in Durban.

Naas Chris van der Merwe se LitNet-resensie van Marlene van Niekerk se boek Agaat is Johann Rossouw se artikel in die Vrye Afrikaan tot dusver die volledigste en interessantste leesverslag van Van Niekerk se magistrale roman. In sy gereelde artikels in die pers en in vaktydskrifte het Rossouw hom oor die afgelope jare bewys as 'n besonder kreatiewe en energieke kultuurfilosoof. Op 'n skerpsinnige manier slaag hy daarin om die idees van Franse denkers soos Régis Debray en Bernard Stiegler toe te pas op die Suid-Afrikaanse situasie.

Ek glo egter nie dat sy politieke interpretasie van Marlene van Niekerk se Agaat 'n billike en gebalanseerde siening van Van Niekerk se werk is nie. Verder het ek my bedenkinge oor die lewensvatbaarheid van sy analise van die Afrikanergemeenskap wat sou bestaan uit "nasionaliste", "selfopheffers" en "nuwe Afrikaners".

I
Afrikanernasionalisme is uiteraard nie 'n nuwe verskynsel nie en daar is tans wel 'n beduidende aantal Afrikaanssprekendes, meestal welgestelde mense, wat hulle doelbewus losmaak van hulle Afrikaanse kulturele wortels om hulle heil te vind in 'n Engelstalige omgewing waarin die kultuurnorme van die geglobaliseerde wêreld met sy ekonomiese voorregte die toon aangee. Rossouw noem hierdie laasgenoemde groep die "selfopheffers", wat net soos die nasionaliste "regs" is omdat hulle "die wêreld soos hy is, wil handhaaf". Die nasionaliste wil hulle verskans agter die bestaande grense wat hulle isoleer van die buitewêreld, terwyl die selfopheffers die status quo binne die geglobaliseerde bestel onderskryf wat kulturele verskille dikwels as 'n struikelblok ervaar en daarom net verdraagsaam teenoor kulturele diversiteit is indien dit met ekonomiese gewin versoen kan word.

Volgens Rossouw is die nuwe "linkses" die sogenaamde nuwe Afrikaners wat 'n derde posisie nastreef: "Die nuwe Afrikaners wil sowel die definisie van die eie gemeenskap as van die buitewêreld uitdaag en met ander inhoude vul, en dus wil hulle die wêreld verander." Die nuwe Afrikaners streef na die skepping van "singuliere simbole", vermoedelik nuwe kultuursimbole waarmee die breër Afrikaanssprekende gemeenskap hulle as groep kan identifiseer. Die belang wat Rossouw heg aan die "kleiner politieke gemeenskap" herinner aan Danie Goosen (ook 'n nuwe Afrikaner?) se pleidooi vir 'n rehabilitasie van die "gemeenskap" - 'n begrip wat funksioneer as 'n kultuursimbool of mobiliseringstrategie wat net soos die republikeinse ideaal van die Afrikaner binne die eietydse konteks 'n nuwe relevansie moet verkry (sien Goosen 2000 en 2003).

Die vraag is egter in hoeverre hierdie simbole (nuwe simbole asook ou simbole met nuwe inhoude) reeds 'n wyer resonansie het by die breë Afrikaanse publiek. Dit wil voorkom asof die "nuwe Afrikaners" se invloedsfeer beperk is tot 'n groep intellektuele en dat hulle gedagtes nie wyer uitkring as die akademie en die enkele tydskrifte waarin hulle publiseer nie. Indien die "nuwe Afrikaners" wil slaag in hulle projek om nuwe en betekenisvolle simbole vir die Afrikaanssprekendes te ontwerp, sal hulle hulle moet assosieer met 'n politieke beweging om hierdie simbole na die publiek oor te dra. Die "nuwe Afrikaners" sal net 'n beduidende teenwoordigheid kan handhaaf indien hulle ideale 'n populêre aanhang verkry. Die gevaar is egter dat die popularisering van hulle simbole kan saamval op 'n toe-eiening daarvan deur die nasionaliste - dit is te betwyfel of die subtiele nuanses (wat die idees van die "nuwe Afrikaners" onderskei van die nasionalistiese doktrines) sal staande bly binne 'n meer populêre konteks. Hoe sal hulle verhoed dat die ideale van die "gemeenskap" en die "republiek" nie ingesluk word deur die nasionalistiese bemoeienis met die "volk" nie? Anton van Niekerk stel dit selfs sterker in sy LitNet-repliek op Rossouw se artikel oor Agaat: "(d)ie onus lê sterk op hom en sy geesgenote om ons te oortuig dat hul sogenaamde 'derde weg' enigiets anders is as juis 'n teruggryp op die 'nasionalisme' waarvan hy hom retories probeer afgrens."

Rossouw se projek het wel meriete, maar daar wag nog 'n aansienlike stuk intellektuele arbeid en beplanning op hom om die implikasies van sy idees deeglik te deurdink. Indien hy hom as 'n "linkse" politieke denker wil voorstel, sal hy hom vermoedelik ook moet uitspreek oor sake wat gewoonlik op 'n linkse agenda figureer. Wat is byvoorbeeld Johann Rossouw se gedagtes oor armoedeverligting en vigs?

II
In my reaksie op Johann Rossouw se artikel oor Agaat vind ek dit veral belangrik om sy interpretasie van Marlene van Niekerk se roman in oënskou te neem. Ek is hom dankbaar dat hy die inisiatief geneem het om die politieke inhoud van Agaat ter diskussie te stel, maar ek het besware teen sy pogings om Agaat as 'n regse roman voor te stel en om Marlene van Niekerk op grond van enkele uitlatings in die pers as 'n "selfopheffer" te bestempel. Verder is ek ook van mening dat Rossouw se interpretasie van die karakter Jakkie as Marlene van Niekerk se woordvoerder oor die toekoms van die Afrikaner 'n aanvegbare lesing is.

In 1996, toe die meeste Afrikaanssprekende intellektuele nog meegesleur is deur die euforie van die nuwe politieke bedeling in Suid-Afrika, het Marlene van Niekerk haar reeds verset teen die neiging tot "transkulturele assimilasie" wat sy onder meer in die Afrikaanse literatuurwetenskap bespeur het. In 'n artikel in Tydskrif vir letterkunde skaar sy haar by die tradisie in die Afrikaanse letterkunde "om 'n onkritiese, goedgelowige selfonderwerping aan en invoeging by die kalmerende sprokies en gladgepoetste maar hoogs verdagte ideale van die politieke status quo met alle mag teë te gaan" (Van Niekerk 1996:30). Is dit 'n "selfopheffer" wat hier aan die woord is met haar weersin in die neiging tot transkulturele assimilasie by die "Happy Clappy Nuwe Suid-Afrika-kringe" (Van Niekerk 1996:30)? Bepaald nie. Volgens Johann Rossouw kan dié uitgeken word aan hulle selfnivellerende aansluiting by 'n groter magsblok en hulle aanvaarding van die norme van die status quo. En dit is juis teen hierdie verskynsel dat Marlene van Niekerk beswaar maak in haar artikel van nege jaar gelede.

Ek vermoed dat Rossouw te veel gewig verleen aan haar onlangse uitlating in Rapport oor die "reaktiewe pose" van sommige Afrikaanse "kommentators en kultuurfilosowe" wie se stellinginname sy as "paranoïes" beskryf (Loots en Van Niekerk 2004:36). In Agaat, en ook in Marlene van Niekerk se kosrubrieke in Insig, is dit duidelik dat haar liefdevolle omgang met oorgelewerde tradisies allermins gemik is op 'n opheffing daarvan. Wanneer sy in Agaat met ontsag skryf oor borduurwerk en landboumetodes wat oor geslagte heen deeglik beproef is, is sy besig met 'n bewaringshandeling. Sy beskou haar as 'n dokumenteerder van "'n sekere soort kultuur of erfenis" (Loots en Van Niekerk 2004:36). Dit is weliswaar deels 'n bestekopname van wat alles verloor is met die ineenstorting van die Afrikanerhegemonie, maar dit is terselfdertyd 'n bestendiging van die "kultuur" en "erfenis" vir die toekoms. Indien Agaat die "deeglikste begronding van die posisie van selfopheffing tot nog toe in Afrikaans is", soos Johann Rossouw beweer, is dit vreemd dat juis die eerbiedige bewaring van die Afrikaanse kultuurerfenis met soveel nougesette aandag in die roman voltrek word. Marlene van Niekerk skroom nie om die vroeëre misbruik van die kultuurgoedere vir politieke doeleindes krities te ondersoek nie, maar uiteindelik laat sy haar lesers onder die indruk van die rykdom van volksliedjies, kinderrympies, segswyses, boererate, kunsvlyt, boerderymetodes en ander tradisies wat steeds tot die beskikking van Afrikaanssprekendes is. Wat verlore is, is die vanselfsprekende status en legitimiteit wat hierdie kultuurgoedere in die ideologie van die Afrikanernasionaliste geniet het. In Agaat word die kultuurgoedere uiteindelik, gestroop van hulle ideologiese verpakking, aan die leser uitgestal asof die skrywer wil sê: "Kyk, hier is jou erfenis nou. Onthou dit en herontdek dit op nuwe maniere."

Dit is skerpsinnig van Rossouw om in sy leesverslag van Agaat die beskrywing van die roman as 'n boek "oor verlies, 'n soort treurlied, 'n werk van oorgang en 'n afskeid van 'n verbygaande orde" (Loots en Van Niekerk 2004:36) verder te verken. Hy verwys na "die 'lewenslange treurwerk' van selfopheffing" wat in Agaat neerslag vind. Dit bly vir my egter 'n raaisel waarom die treurwerk vir Rossouw noodwendig met selfopheffing gepaard moet gaan. In die Europese letterkunde word daar nog steeds gerou oor die verliese van die Tweede Wêreldoorlog, maar dit beteken nie dat die Europese skrywers hulle eie kultuuragtergrond in die proses wil ophef nie. In die geval van Agaat word afskeid geneem van die mag wat die kultuurgoed van die Afrikaner in die tweede helfte van die twintigste eeu 'n verhoogde status gegee het en dit dikwels vir onsuiwere doeleindes gemobiliseer het. Sedert die einde van die blanke minderheidsbewind is dié kultuurgoed broos en kwesbaar sonder die onderskraging van die vroeëre magsbestel. Dit het egter nie verdwyn nie, en die skrywer van Agaat is as dokumenteerder en bewaarder allermins bereid om dit op te offer ter wille van 'n nivellerende assimilasie deur die heersende magsblok.

Johann Rossouw se interpretasie van Agaat as Marlene van Niekerk se pleidooi vir die selfopheffing van 'n Afrikaanse identiteit berus in 'n groot mate op die sentrale belang wat hy aan die karakter Jakkie toeken. Jakkie besluit in die Epiloog om Suid-Afrika opnuut te verlaat en om sy Afrikaanse kultuur op 'n afstandelike manier te bestudeer: "Dis nie 'n land vir my om in te woon nie. Om te bestudeer, ja. Die Dik Anna-Seties. Die Stormbergvastrap. Niemand het nog opgeskryf hoe dié musiek presies gewerk het in die identiteitsformasie van die Afrikaner nie" (709). Sy voorneme om lewenslank te rou oor sy Suid-Afrikaanse verlede (709) het Rossouw daartoe verlei om Jakkie se stem met die stem van Marlene van Niekerk te verwar.

Rossouw hou egter nie rekening met die slim manipulasie waardeur Van Niekerk haar lesers stuur in die rigting van 'n onsimpatieke beoordeling van Jakkie se perspektief op sy mense nie. Louise Viljoen formuleer haar irritasie oor Jakkie se sinisme soos volg: "Ek het my so ingeleef in die omvang van dit wat tussen Milla en Agaat gebeur het dat ek ná Milla se dood eindeloos geïrriteer was deur haar seun Jakkie se opinies in die proloog [epiloog? - AV]. Ek wou vir hom sê: 'Hou jou mond en gaan weg. Wat wéét jy van wat ek alles saam met hierdie twee vroue deurgemaak het?'" (Viljoen in Loots 2004:28). As die skrywer haar lesers wil ontmoedig om die siniese Jakkie te aanvaar as 'n geloofwaardige kommentator op die verwikkelde lewens van Milla en Agaat, en by uitbreiding die toekoms van die Afrikaner, is dit onwaarskynlik dat sy Jakkie sonder meer as haar politieke spreekbuis sou laat optree. Hoewel Jakkie as verteller in die Epiloog die slotwoord in Agaat spreek, is sy verteltyd (altesaam sowat 26 bladsye) dramaties korter as die uitgesponne vertelling oor die geskiedenis van Milla en Agaat (sowat 692 bladsye). Is dit daarom geregverdig om soveel gewig aan sy visie toe te ken?

Agaat van Marlene van Niekerk is, soos die klassieke werke van skrywers soos C Louis Leipoldt, NP van Wyk Louw en Breyten Breytenbach, 'n teks wat die lewenskragtigheid van Afrikaans en die Afrikaanse kultuur bevestig en bevorder. Met Agaat dra Marlene van Niekerk nie by tot die opheffing van die Afrikaanse kulturele en politieke toekomsvooruitsigte nie. Haar roman is reeds 'n lewende monument vir Afrikaans en dit sal na alle waarskynlikheid uitstyg bo enige beperkende politieke agenda waarteen dit geweeg mag word.

Bronne

Goosen, Danie. 2000. "Wat staan ons te dinke?" Enkele notas rondom die republikeinse gedagte. Fragmente. Tydskrif vir filosofie en kultuurkritiek 6:61-74.
Goosen, Danie. 2003. Oor gemeenskap: die tradisie, nihilisme en vandag. Acta Varia, Mei 2003 (1):1-77.
Loots, Sonja. 2004. Die boekwurms se bestes. Rapport, 12 Desember. Loots, Sonja en Marlene van Niekerk. 2004. Nog in die kielsog. Rapport, 28 November.
Rossouw, Johann. 2005. 'O moenie huil nie, o moenie treur nie, die jollie bobbejaan kom weer': Oor Marlene van Niekerk se Agaat. Vrye Afrikaan, http://www.vryeafrikaan.zo.za/lees.php?id=105.
Van der Merwe, Chris. 2004. Agaat deur Marlene van Niekerk. LitNet (SeminaarKamer), http://www.litnet.co.za/seminaar/agaat.asp.
Van Niekerk, Anton. 2005. Oor die wegbly van die jollie bobbejaan: Wie is dit wat regtig treur? LitNet (SeminaarKamer), http://www.litnet.co.za/seminaar/agaat_avniekerk.asp.
Van Niekerk, Marlene. 1996. Reënboogredenasies: Repliek op 'n intreerede. Tydskrif vir letterkunde XXXIV (4):20-34.
Van Niekerk, Marlene. 2004. Agaat. Kaapstad: Tafelberg.



LitNet: 04 Februarie 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.