SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Breyten Breytenbach
Breyten Breytenbach
Hierdie artikel het ook in Fragmente. Tydskrif vir Filosofie en Kultuurkritiek (ISSN 1029-2748) verskyn.

Fragmente word tweemaal per jaar uitgegee. Intekengeld is R50 per jaar.

Fragmente Uitgewers Bk
Posbus 12707
Hatfield 0028

Tel: +27 (012) 429-4748
+ 27 (012) 420-2697
Faks: +27 (012) 46-5999
E-pos:  fragmente@mweb.co.za
schoemj@libarts.up.ac.za
goosedp@alpha.unisa.ac.za

Andersheid en andersmaak, oftewel die Afrikaner as Afrikaan

(Berig gerig aan Frederick van Zyl Slabbert)

Liewe Kommandeur

Dis hoog tyd, veral nou hierdie duisend jaar einde toe skuiwe, dat ons (weer eens?) probeer uitmaak wie ons is, waarom ons is, waar ons is en hoekom ons juis daar is. Wat is die verwantskappe tussen identiteit en plek? Wat is die verhouding tussen identiteit en plek en geskiedenis en etiek? Is mens meer vanselfsprekend, meer natuurlik binne jou eie omgewing as in die ‘vreemde’? En is daardie ‘eie omgewing’ slegs die land met haar ruimtes en ritmes en klimate waarbinne jy grootgeword het, of is dit (ook) ’n sosiale en ’n intellektuele ruimte? Sê nou jy is ’n professionele skilder — is jy dan nie meer ‘tuis’ in Parys as in die Kaap nie?

Is jy verantwoordelik vir en teenoor jou plek? Indien wel, waarom en tot welke mate?

Dit is aangeleenthede dié waaroor ons al baie gesels het sonder om ooit uitgepraat te kom, en albei van ons het op eiesinnige maniere (en soms saam-saam) deur die keuses en die toevallighede van ons lewensloop, en partykeer in die weiering om te kies, uiting probeer gee aan bogaande vrae — al was dit dan nou ook nie ’n uitweg nie.

Miskien is dit juis vrae waaroor mens nie eens en vir altyd tot ’n uitsluitsel kan kom nie. Wat ons probeer doen, is om so helder en onbevange moontlik oor hierdie sake (en ’n swetterjoel ander) te besin in die lig van ons huidige begrip en insigte, uiteraard onderhewig aan verdere ontwikkelinge. Soos ek dit elders al gestel het: Wat is die nut van ’n verstand as jy dit nie eens kan verander nie? En wat is die eintlike funksie van konsekwensie?

Hier, vermoed ek, kom ons dalk by uiteenlopende benaderings teenoor die hele ‘ding van denke’. Jy weet dat ek baie waarde heg aan ‘laat los’, ‘spronge’, ‘breuke’, ‘fokops’ ... Maar dis verskille waarby ons later kan stilstaan.

Vir eers wil ek die grond bietjie uitstippel. (En dalk die verskillende grondvlakke!) Hierdie dink-dink so in die loop ontstaan natuurlik nie in ’n lugleegte nie. Dit wat ons kwel, het ook baie ander mense aan die kop en die praat gesit.Want almal van ons is besig om te skuif en te gryp na nuwe vashouplekke in ons opvattings. Wat ons vir mekaar te sê het, is sekerlik nie die essensie van ‘die Afrikaner’ se selfbetragting en posisionering nie, en miskien is dit nie eens voorbeeldig nie — maar ons kan praat vanuit areas van ervaring waar die private en die openbare mekaar oorvleuel en as ’t ware onderskryf, op wyses wat hopelik ook vir ander sin kan maak. Hierdie dink-dink in die loop gebeur binne ’n denkwêreld en ’n omgewing van sosiale en intellektuele verwysings wat self besig is om vinnig te verander — waar ook gepoog word om vloeibaarheid vas te lê in nuwe of ander magsverhoudings en ortodoksies! Een van die gevolge van so te wil lewe in ’n veranderende omgewing, is dat jou insigte en oortuigings juis voortdurend aanpas. Die vuur is op ons! Is dit vandag nog moontlik, waar in die wêreld ook, om te bespiegel slegs binne die omgrensing van ’n ‘eie’ kultuur/taalgebied/geskiedenis?

Daar is egter ook konstante gegewens. Mens se interaksie met die proses van verandering is ’n deurlopende spanning. Verbastering hou nooit op nie. Die stilpunt is in voortdurende beweging. In Boeddhisme het ons die konsep van Middeweg; dit impliseer nie ’n neutrale posisie tussen twee uiterstes nie, maar inteendeel ’n volkome aanklewing van die loop van beweging, ’n deel wees van die ritme — wat, as weerspreking, jou enigste kans op ongebondenheid is.

Om mee te begin, het ek gedog, wil ek eers die ‘abstrakte’ van naderby bekyk. Die groepsidentiteit dan, of sommige aspekte daarvan, soos dit tans bevraagteken word. Later, of verder, wil ek met jou gesels oor die meer intieme; selfs daardie aspekte van my ‘self’ en my persoonlike trajek wat op die oog af niks met Afrikaans en Afrika te doen het nie.

Tog, dis waarskynlik beter, ter stigting van ons verdere gesprek, om sommer van aanvang ’n paar persoonlike penne in die grond te slaan. Natuurlik gaan ek ook die groter omgewing vanuit ’n baie persoonlike hoek benader. Dis ’n onvermydelike kontradiksie. Om in die openbaar te besin oor probleme wat ons almal raak, impliseer ’n voortdurende uitwanning van self en van eie opvattings — en ‘aan die einde van die dag’ (tog so ’n geliefde soetigheidjie op die tong in hierdie Moerland van ons), teen skemertyd, weet jy nie of jy nou bly sit met die koring of die kaf nie.

Kultureel gesproke is ek ’n baster. Nie net omdat ek gereeld in verskillende kulture van die Noorde en die Suide lewe nie, maar ook omdat ek as Afrikaner-Suid-Afrikaanse-Afrikaan van gemengde afkoms is. Ek verkies daardie omskrywing van die term Afrikaner wat daarop aanspraak maak dat dit ’n kreoolse afstamming aandui: Europeër van allerlei oorspronge — Hollander, Duitser, Fransman; Afrikaan deur ondertroue en die verkragting van die inheemse Khoisan mense, dalk met ’n stroopseltjie swart daarby; Oosters as gevolg van die inname van slawe en ambagslui en ballinge uit Indonesië en Maleie en die Indiese kuste; en ’n deeltjie van my sal selfs Malgas wees. (Op Frans sou mens jouself identifiseer as blanc cassé, gelyke aan die Engelse off-white.)

Soos ons geskiedenis, so ook ons tong. Trouens, ek kan beweer my geskiedenis is my taal. Die saamloop en deurmekaarloop word uitgedruk in ons taal, Afrikaans, die lieflike gladde bastertong gebore uit die botsing en die paring van kulture — uit oorheersing en vernedering, van onkunde en van poësie, uit die Bybel en die moskee en die kroeg en die krot en die veld, uit sterwe en aanpassing, en al hoe meer groei dit uit eie bodem — hierdie taal wat tot die dag van vandag nog steeds besig is om haarself te verbeel en te boetseer.

Twee eerste of voorlopige stellings wil ek toelig aan die hand van aanhalings uit ’n vertaalde werk van Edouard Glissant, Poetics of Relation. (Glissant is ’n Franstalige denker van Martinique, dus ’n Kreool, wat baanbrekerswerk verrig in ondersoeke na die verbintenisse, oorgange en breuke tussen kulture, na die rol van taal in identiteitsvorming, en dies meer.) Hy sê: “The root is monolingual.” Dws die wortel van bewuste syn is die moedertaal. Dit is die konseptuele vorming waardeur ons die lewe, en aldus onsself, ervaar. Ek ekstrapoleer verder: enige aantasting of belemmering van die volle gebruik van jou moedertaal is ’n skending van daardie mensereg wat verseker dat jy ’n volwaardige en nuttige burger mag wees, selfs en veral in ’n meertalige gemeenskap. Die kortwiek van ’n moedertaal, eksplisiet of met suikerklontjies in die riet soos die ANC dit doen, vir watter oorweging dan ook, is ’n aan bande lê van jou reg op volledige en verantwoordelike burgerskap.

Die tweede punt gelig uit Glissant se werk verwys terug na die begrip van swerf, van aanhou beweeg en geraas maak, van oorgange tussen kulture, na métissage (vermenging) dus: “The thought of errantry (om te swerwe) is not apolitical nor is it inconsistent with the will to identity, which is, after all, nothing other than the search for a freedom within particular surroundings.” Die beweging na verandering beteken nie dat jy nie ’n identiteit het nie. Die wil na identiteit is ’n strewe na vryheid en verantwoordelikheid binne ’n gegewe kulturele en politieke ruimte. Dit was net so waar vir die onderdrukte swart meerderhede van gister as wat dit vandag vir die minderhede is. Die baster het reg op volle burgerskap.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.