SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Die Afrikaanse gemeenskap en opposisiepolitiek

Anchen Dreyer


Lid van die Gautengse Provinsiale Wetgewer

Die Burger-lesingreeks, KKNK, April 2002


Geagte Voorsitter, dames en here, dis ’n besondere voorreg dat die komitee my genooi het om — as ’n Afrikaanse lid van die amptelike opposisie — aan die lesingreeks van hierdie lewenslustige fees deel te neem.

Die doel is om kortliks op vyf sake te fokus:

  • Wie is die Afrikaanse gemeenskap?

  • Wie praat namens die Afrikaanse gemeenskap?

  • Wend die Afrikaanse gemeenskap hom tans eerder tot regeringspolitiek of tot opposisiepolitiek?

  • Hoe kan ons die verband tussen kultuur en politiek definieer?

  • Op watter wyse beeld regeringspolitiek die opposisiepolitiek tans uit?

    Aan die einde sal ek enkele gevolgtrekkings maak.


    1. Wie is die Afrikaanse gemeenskap?

    Afrikaners, Afrikaanssprekendes, Afrikaanses? Of Africaners, met ’n “c” gespel? Wat maak dit saak? As jy een wil wees, is jy dit. Dit maak nie saak of jy wit of bruin of swart is nie, dit maak nie saak of jy Christen of Moslem of Boeddhis is nie, of geeneen hiervan nie. As jy Afrikaans praat en jy wil een wees, is jy. Vir my geld die beginsel van vrywillige assosiasie ook hier.

    En jy kan ook een wees ongeag die keuse wat jy uitgeoefen het in die sogenaamde gly-of-bly-debat oor emigrasie. Met ander woorde, jy kan nog steeds ’n Afrikaner wees al woon jy in Londen, Sydney of Texas.

    Jy hoef ook nie enige spesifieke politieke party te ondersteun om een te wees nie. Deesdae kry jy mense wat Afrikaans praat in feitlik alle partye. Onlangs tydens ’n teepouse gedurende ’n sitting van die Gautengse Provinsiale Wetgewer gesels ’n groepie van ons kollegas lekker in Afrikaans. Toe ek bewustelik rondkyk na die deelnemers aan die gesprek, besef ek dat tussen die ses van ons daar, ons ses verskillende politieke partye verteenwoordig — die DP, FA, ANC, IVP, VF en NNP. Ek vind dit besonder opwindend.

    Ek wil nie verder tyd bestee met ’n relaas oor wie of wat ’n Afrikaner is nie. Ek sien die begrip wyd en inklusief, gegrond op vrywillige assosiasie. Vir my is dit ook nie belangrik watter spesifieke term gebruik word om na mense wat Afrikaans as moedertaal praat, te verwys nie. Ek gebruik meesal die term Afrikaner, al was dit in die verlede eksklusief aangewend om sekere mense uit te sluit. VroeŽr moes jy mos wit, manlik, ’n NP-ondersteuner en lidmaat van een van die drie susterskerke wees om te kwalifiseer. Dit het my ook uitgesluit, maar ek het geweier om daardie definisie te aanvaar en ander mense vir my te laat besluit wie ek is. As jy Afrikaans as moedertaal gebruik en jy identifiseer met die Afrikaanse gemeenskap, is jy ene.


    Wie praat namens die Afrikaanse gemeenskap?

    Die vraag is: Kan ’n regeringsparty of ’n opposisieparty namens so ’n diverse groep soos die Afrikaanse gemeenskap praat?

    Die NP het dit voorheen vir hulleself opgeŽis, so ook die AWB, die Vryheidsfront en selfs die AEB. Geen een van hierdie partye het egter namens “die Afrikaner” gepraat nie, en in die amptelike opposisie eien ons ons ook nie daardie reg toe nie. Enige politieke party praat slegs namens daardie mense en verteenwoordig die belange van diegene wat vir hulle gestem het. Dus, geen politieke party praat namens “die Afrikaner” nie.

    Afrikaanse mense is vandag in groot aanvraag by omtrent al die politieke partye — ook by die PAC en die ANC. Hulle vry almal deesdae na die Afrikaanse stem. En jy vind ook Afrikaanse mense as ondersteuners en selfs openbare verteenwoordigers by feitlik al hierdie partye, soos my teedrinksessie in die Wetgewer toon.

    Hierdie wye politieke verspreiding van Afrikaners is goed en gesond, nie net vir die land en demokrasie nie, maar ook vir die Afrikaanse gemeenskap self. Die rede hoekom ek so sÍ, is dat wanneer enige spesifieke kultuur-, godsdiens- of taalgroep te sterk geassosieer word met enige spesifieke party, dan ontstaan die risiko dat die taal, kultuur of godsdiens van daardie groep gepolitiseer kan word. So iets is gevaarlik omdat dit indiwiduele vryheid van politieke keuse bemoeilik, soos wat gebeur het met Afrikaners en Afrikaans in ’n vorige era.

    ’n Politisering van kultuur-, taal- of godsdiensgemeenskappe deur ’n oorheersing van een groep in ’n spesifieke politieke party kan te maklik ontvlam in byvoorbeeld anti-Joodse of anti-Moslem-gevoelens, of wit teenoor swart gevoelens, wanneer dit eintlik gaan om politieke verskille oor sÍ maar die besteding van die begroting, of oor die beskikbaarstelling van antiretrovirale medikasie, of oor hoe om die matriekslaagsyfer te verbeter.

    In ’n multikulturele land met nog steeds ’n sterk rasseverdeling soos ons s’n, is dit beter om politiek afsonderlik te bedryf van kultuur, godsdiens en taal. Hierdie belange moet sonder twyfel beskerm word, maar dan liewer deur bona fide-kultuurorganisasies, -godsdiensorganisasies en -taalorganisasies.

    Dit beteken nie dat een rassegroep of kultuurgroep hom nie met een regeringsparty of een opposisieparty kan vereenselwig nie. Inteendeel. Dis byna algemene kennis en statistiese feit dat die meeste swart burgers regeringspolitiek steun en die meeste Afrikaanse burgers opposisiepolitiek. Maar — en ook dit is van wesenlike belang — die huidige amptelike opposisie verteenwoordig ook Suid-Afrikaners van baie ander taal-, kultuur- en godsdienstradisies. Om die waarheid te sÍ, in die laaste verkiesing het die DA meer swart stemme gekry as die sogenaamde swart partye soos die PAC en AZAPO saam. Die ondersteuning van die Afrikaanse gemeenskap sowel as ander gemeenskappe plaas ’n groot verantwoordelikheid op die Demokratiese Alliansie as die amptelike opposisie. Almal se taalregte moet byvoorbeeld beskerm word.


    Hoekom verkies die Afrikaanse gemeenskap tans opposisiepolitiek?

    ’n Sleutelvraag is: Hoekom wend so baie Afrikaanstaliges hulle tans tot opposisiepolitiek eerder as tot regeringspolitiek?

    Die feit dat die amptelike opposisie so groot Afrikaanse steun gekry het, dui op ’n duur les wat geleer is nadat die apartheidsera tot ’n einde gekom het. Daardie Afrikaners wat voorheen altyd die regering van die dag ondersteun het, het gewys dat hulle geleer het om onafhanklik politieke besluite te neem; besluite wat nie gegrond is op etniese mobilisering, of op blindelingse navolging van ’n sogenaamde volksleier nie, maar eerder op grond van landsbelang. Die Afrikaanse gemeenskap het in baie opsigte mondig en selfstandig geword.

    Dit dui ook daarop dat die Afrikaanse gemeenskap daarin belang stel dat die land goed regeer word. Ek praat van skoon administrasie sonder korrupsie, ’n uitvoerende mag wat deur die parlement tot verantwoording geroep word, ’n onafhanklike regbank, die bekamping van misdaad en die bevordering van ekonomiese groei sodat meer werksgeleenthede kan ontstaan. Dit beteken die bestaan en uitbou van ’n waaksame en lewenskragtige parlementÍre opposisie wat ’n volgende regering kan word. Dit beteken ’n werklik vrye en onafhanklike pers wat nie altyd polities korrek moet wees nie. Dit beteken ’n lewenskragtige burgerlike samelewing. Dit beteken bo alles ’n verskeidenheid van stemme en menings, en dat verskille in ’n oop gesprek uitgespreek en aangehoor kan word waar almal voel dat hulle met ewe veel waardigheid en respek behandel word.

    Die Afrikaanse gemeenskap verkies politieke verteenwoordigers met senuwees van staal. Dit verskil natuurlik van wat die regeringsparty wil hÍ. Die huidige regeringsparty wil sy eie opposisie kies. So ’n opposisie moet verkieslik lam en tam wees en geen tekens van sterk meningsverskil of aggressie toon nie. ’n Opposisie met permissie! Dis werklik ironies.

    Dis selfs nie tipies van alle Afrika-samelewings nie. Inteendeel. Ek was in 2000 bevoorreg om ure lank die verrigtinge in die parlement in die Wes-Afrika-staat Ghana te beleef. In vraetyd het die opposisielede die betrokke ministers gepeper met vrae en het ’n lewendige debat ontstaan. Ek was verbaas oor die energie en krag waarmee die opposisielede die regering aangevat het en tot verantwoording geroep het. Geagte Voorsitter, u sal verstaan dat die huidige Suid-Afrikaanse amptelike opposisie hou van hierdie styl. Dit pas ook by die Afrikaanse gemeenskap wat die opposisie steun. Wat voorts baie interessant is, is dat die kiesers van Ghana die aggressiewe styl van die opposisieparty, die Nuwe Patriotiese Party, onderskryf het deur die opposisieparty enkele maande later tot regering te kies.


    Die regte van minderhede en belangegroepe

    Interessante verskille en verhoudings bestaan tussen kultuur en opposisiepolitiek.

    Die amptelike opposisie erken die verskeidenheid van ons samelewing en verdedig die beginsel van vryheid van keuse en die reg van elkeen tot volle uitlewing van hulle kultuur, taal en godsdiens; dus: die reg om onderrig te ontvang in jou moedertaal geld vir almal wat daardie reg wil uitoefen. Die opposisie lewer nie net lippediens aan hierdie reg terwyl hy in die praktyk eenvormigheid op almal afdwing nie. Inteendeel! Die amptelike opposisie is ondubbelsinnige demokrate wat die kultuurregte van Khanyile of Ramaposa, Plaatjies of Van der Merwe met dieselfde oortuiging beskerm.

    Dit bring ons dan by die probleem van sekere taalgroepe waar daar nie reeds so ’n sterk bewustheid ontwikkel het oor die belang van byvoorbeeld moedertaalonderrig nie, of wat nie so sterk georganiseerd is soos die Afrikaanse gemeenskap nie. Moet alle taalgroepe teen dieselfde tempo voortgaan en moet diť wat reeds verder gevorder is, vir die ander wag?

    Neville Alexander spreek die mening uit dat die herstandaardisering van Afrikaans gepaard moet gaan met die verdere standaardisering van die ander Afrikatale, omdat die een nie sonder die ander kan gedy nie. Dit is belangrik dat die indruk nie geskep moet word dat die Afrikaanse gemeenskap vir hulleself iets wil opeis wat hulle nie ook ander gemeenskappe gun nie. Wanneer daar egter ’n sterk behoefte by een gemeenskap, in hierdie geval Afrikaans, bestaan om met ’n projek voort te gaan, maar nie noodwendig by ’n volgende gemeenskap nie, kan dit ’n remmende uitwerking op hierdie gemeenskap plaas. Ander taalgroepe voel moontlik nie so sterk oor hulle taal nie en wil nie noodwendig beding vir hulle taal se ontwikkeling nie. Die beginsel van gelyke regte vir alle groepe is reg, maar dit kan nie beteken dat almal saam ewe vinnig moet vorder nie. Die reg behoort aan almal, maar dit is ’n groep se eie verantwoordelikheid hoe en wanneer hulle daardie reg wil uitleef.

    Ek glo Afrikaners kan hulle kultuur- en taalregte uitoefen binne ’n politieke bestel wat erkenning gee aan die verskeidenheid van ons samelewing en almal se regte tot volle uitlewing waarborg. Die punt is egter: ’n Opposisie is nodig wat die beginsel van verskeidenheid verstaan en respekteer en nie bang is om daarvoor op te staan nie.

    ’n Opposisieparty wat slegs een spesifieke minderheidsgroep verteenwoordig, en dus geen kans staan om ooit ’n alternatiewe regering te vorm nie, is aangewese op die bereidwilligheid van die regering van die dag om gunste en gawes vir hulle volgelinge te probeer bekom. Die amptelike opposisie verteenwoordig egter nie slegs een spesifieke minderheidsgroep nie, maar die beginsel van verskeidenheid en die reg tot die uitlewing van hulle grondwetlike regte vir alle mense in Suid-Afrika. Gesteun deur ’n veelheid van minderhede kan so ’n opposisieparty later ’n alternatiewe regering vorm.

    Belangegroepe moet duidelik onderskei word van politieke partye en speel ’n noodsaaklike rol in die vestiging van ’n sterk burgerlike samelewing.

  • Belangegroepe kan op verskillende grondslae georganiseerd wees. Hulle kan byvoorbeeld op ras gebaseer wees, soos die Black Lawyers Association, wat ek egter nie aanbeveel nie, omdat ons rasseklowe juis probeer oorbrug en omdat sulke organisasies moontlik selfs ongrondwetlik mag wees. Dit kan ook op taal, godsdiens, sakegrondslag, of enige ander belang gegrond wees. Christen-Afrikaners kan ook deel wees van ’n Christen-belangegroep wat ’n meerderheidsgroep sal wees in SA, terwyl Moslem-Afrikaners ook deel kan wees van ’n Moslem-belangegroep. Afrikaners kan byvoorbeeld saam met sakegroepe druk uitoefen om buitelandse valutabeheer af te skaf, of met misdaadslagoffers ’n drukgroep vorm om ’n trustfonds vir slagoffers te vorm.

  • Die Joodse Raad van Afgevaardigdes in Suid-Afrika en die invloed wat hulle uitoefen namens die Joodse gemeenskap in SA word dikwels voorgehou as ’n model van wat belangegroepe vir die Afrikaanse gemeenskap kan doen. Die Joodse Raad van Afgevaardigdes is egter nie ’n politieke party nie en veg nie verkiesings nie. Hulle tree op as waghond vir die Joodse gemeenskap en bevorder die belange van hulle lede op ander maniere. So ook die National Association for the Advancement of Colored People in die VSA, namens swart Amerikaners. Sulke organisasies oefen dikwels baie invloed uit in belang van hulle lede.

    Afrikaanse kultuurbelangegroepe soos die ATKV, die Groep van 63 en Praag mag en behoort inderdaad druk oefen op politieke partye om hulle sokkies op te trek om minderheidregte daadwerklik te beskerm.

    Die punt wat ek maak, is dat minderhede op verskillende maniere gedefinieer kan word en nie altyd kultuur- of etnies gebonde hoef te wees nie. Daar is baie moontlikhede. Ek praat nie altyd as ’n Afrikaner nie. Soms sal ek my uitspreek as deel van die vroulike geslag saam met ander vroue van ander taalgroepe, of as ’n professionele persoon saam met persone van albei geslagte, ens, ens. Die moontlikhede is legio. Dit is egter goed vir demokrasie om so ’n verskeidenheid van belangegroepe in ’n samelewing te hÍ en die burgerlike samelewing sodoende te versterk. Dit help ook om die regering van die dag in toom te hou.


    Hoe regeringspolitiek opposisiepolitiek probeer brandmerk.

    Die tyd is nou ryp om ’n paar kritiese opmerkings te maak oor die huidige spanning tussen opposisiepolitiek en regeringspolitiek.

    In ’n demokratiese land is dit van kernbelang dat daar ’n lewenskragtige opposisie bestaan wat die beginsels wat ek reeds genoem het, in die parlement kan verteenwoordig. Omdat belangegroepe nie in die parlement dien nie, kan daar sonder ’n sterk opposisie geen demokratiese veelpartystelsel bestaan nie. Suid-Afrikaners beleef tans die sorgwekkende verskynsel dat die regerende party op verskillende maniere besig is om die opposisie te probeer marginaliseer.

    ’n Eerste poging tot neutralisering van opposisiepolitiek is die volgende: ’n Gedagte wat dikwels geopper word, is dat slegs lede van die regeringsparty heropbou en ontwikkeling van die bevolking onderneem. Daar word voorgegee dat deelnemers aan die opposisiepolitiek nie betrokke wil raak nie. Ook dat hulle onverskillig staan teenoor die probleme van die land en hulle selfs daarin verlustig. Die gedagte word geplant dat slegs deur die ANC kan jy jou land dien of medemenslike dade uitvoer.

    Feit: Dit is ’n moedswillige miskenning van die goedgesindheid van opposisie-ondersteuners om hulle voor te stel as koud en ongevoelig. Tienduisende gewone Suid-Afrikaners, baie van hulle Afrikaanssprekend, is intens betrokke by gemeenskapsorganisasies en -aktiwiteite, waar hulle ’n onmisbare bydrae lewer tot die gesonde funksionering van die burgerlike samelewing. Dink maar aan die bestuursliggame van skole, die gemeenskapspolisieforums, die sportklubs, die vroueverenigings, die kerke en die liefdadigheidsorganisasies, die kultuurverenigings, die professionele en sake-organisasies en die boereverenigings.

    Voorbeeld: Ek het onlangs die slagofferbystandskantoor (victim empowerment office) by die Krugersdorpse Polisiekantoor besoek. Hierdie kantoor word beman deur ’n Afrikaanssprekende vrou en haar seun, wat die kantoor self tot stand gebring het, vrywilligerberaders gewerf het, gesorg het vir borge vir opleiding en nou in die proses is om bykomende kantore in ander polisiestasies in die munisipale omgewing tot stand te bring — sonder enige vergoeding. Voorbeelde van sulke Afrikaners is legio — ware Samaritane wat Suid-Afrikaners van alle rasse en gelowe dien en wel omdat hulle die behoeftes van hulle landgenote eerstehands begryp.

    Die politieke dimensie is hoogs betekenisvol: hierdie Afrikaanssprekendes het in die laaste verkiesing teen die regering en vir die opposisie gestem.

    ’n Tweede poging van neutralisering is die propagering van die wanvoorstelling dat opposisie-ondersteuners nie patrioties is of kan wees nie, en by implikasie dislojaal is aan Suid-Afrika en behae skep in die probleme van die land.

    Feit: Diegene wat hierdie siening verkondig, verwar, soos in outoritÍre state, die land met die regerende party. Net soos in die NP-regering voor 1994 nie die hele ou Suid-Afrika verteenwoordig het nie, verteenwoordig die ANC-regering nie die hele nuwe Suid-Afrika nie. Suid-Afrika is baie meer as die ANC, of enige ander party wat aan bewind mag kom. Soos die voorwoord tot die grondwet tereg lui: Suid-Afrika behoort aan al die mense wat daar woon.

    Wakker opposisiepolitiek speel ’n belangrike rol in die voorspoed en stabiliteit van die land deur die regering te verplig om aan dringende nasionale probleme aandag te gee en deur alternatiewe oplossings voor te stel. Voorts is buitelandse beleggers slegs geneŽ om te belÍ daar waar demokratiese beginsels geld.

    Omdat baie Afrikaners waarsku teen probleme soos wanadministrasie en misdaad, word hulle dikwels verkeerdelik beskuldig van ’n leedvermakerige houding teenoor die land se probleme. Die teendeel is egter waar: die Afrikaanse gemeenskap is diep besorg oor Suid-Afrika. As Afrikaners is ons hier gebore en het hier grootgeword — ons voorvaders is hier gebore en is hier begrawe. Ondanks ’n vlaag van emigrasie wil baie van ons kinders steeds hier bly en ontwikkel. Kortom: Afrikaners het veel meer as eiendom in Suid-Afrika belÍ. Dit is hulle emosionele vaderland. Soos hulle groepsnaam lui, is hulle Afrikaners of Afrikaanses, dit is Afrikane. Die Afrikaners ondersteun doeltreffende opposisiepolitiek dikwels juis omdat hulle so patrioties en so intens verbind is tot Suid-Afrika en sy toekoms.

    ’n Derde poging tot neutralisering is om Afrikaners as tweedeklasburgers voor te stel. Die verdagmakery van ’n suksesvolle opposisie word verder gevoer en spesifiek op opposisiegesinde Afrikaners gekonsentreer. Kabinetslede prys daardie Afrikaanse organisasies wat buite die politiek staan. Maar wee diť Afrikaners wat hulle tot opposisiepolitiek wend!

    Is dit die doel van regeringspolitiek om verskeidenheid te erken slegs binne kultuurverband, maar nie op die politieke speelveld nie? Indien wel, sou dit uiteindelik kan lei tot ’n multikulturele eenpartystaat. Die logiese uiteinde hiervan sou ’n diktatoriale regering wees wat goedgunstiglik kultuurverskeidenheid verdra, maar daardie guns kan terugtrek wanneer hulle so voel. Om hierdie moontlike scenario te vermy is dit noodsaaklik dat ’n veelpartystaat moet voortleef, waarbinne mense hulle taal-, kultuur- en godsdiensregte uitoefen as ’n reg en nie as ’n guns nie.

    Ek sien duidelike tekens van die ANC wat vir hulleself die reg toe-eien om Afrikaners te klassifiseer as aanvaarbaar hoofsaaklik volgens hulle politieke simpatieŽ. So asof net Afrikaners wat die seŽn van die ANC ontvang het, mag voortgaan en met trots hulle plek langs ander Suid-Afrikaners in die samelewing mag inneem.

    In regeringskringe geld dikwels steeds die negatiewe stereotipe van “die Afrikaner” wat voor 1994 ontstaan het. Nimmereindigene regeringsuitsprake wek die indruk dat Afrikaners eintlik slegs op ’n soort tweedeklasburgerskap kan reken, dat hulle nie heeltemal legitiem is nie, omdat hulle hulleself deurlopend behoort te skaam en te verootmoedig. ’n Sielkundige klimaat het ontstaan wat slim deur regeringspolitici gemanipuleer word.

    Vergelyk byvoorbeeld die ervarings van Chris Fismer met diť van Tertius Delport. Hulle het soortgelyke agtergronde in die sin dat albei ministers was in die vorige NP-regering. Tertius Delport sluit by die DP aan, wat hierdeur na bewering besmet word. Maar Chris Fismer buig sy knie in die openbaar voor die regeringsparty, kry volbladartikels wat hom as een of ander held voorhou, en word ook deur die ANC beloon met ’n pos in die Dobbelraad.

    Hierdie onderskeid word selfs toegepas op beginselvaste historiese figure wat ’n bydrae gemaak het in die stryd om ’n nierassige demokrasie. Diegene wat op ’n stadium vir die ANC gewerk het, kry erkenning, maar diegene wat vir ander organisasies gewerk het, word geÔgnoreer.

    Byvoorbeeld: Die ANC loof Afrikaners soos Bram Fischer, maar gee nooit erkenning aan mense soos Sakkies Fourie en Jannie Steytler nie. Beyers Naude word vereer met ’n straatnaam in Johannesburg, wat goed en reg is, maar ’n versoek om vir Helen Suzman, ’n nie-Afrikaner, te vereer, word verwerp. Soveel vir die dubbele maatstawwe van regeringspolitiek!

    Die grondliggende boodskap wat agteraf gefluister en die SABC se agtuurnuus haal, is dat alle goeie Afrikaners saam met die ANC toi-toi. As ’n Afrikaner boonop sy liefde vir die ANC in die openbaar bely en verkieslik in die aand in dieselfde slaapsak klim, kry hy absolusie, word sy sondes dadelik vergewe, en word hy feitlik tot ’n heilige verklaar — selfs al dra hy ’n politieke kortbroek!


    Gevolgtrekkings

    Geagte Voorsitter, ek onderstreep graag ses gevolgtrekkings:

    1. ’n Lid van die Afrikaanse gemeenskap is enige een wat Afrikaans praat en hom of haar vrywillig met die Afrikaanse gemeenskap vereenselwig.
    2. Geen enkele politieke organisasie kan namens die hele Afrikaanse gemeenskap praat nie.
    3. Statisties by verre die meeste lede van die Afrikaanse gemeenskap het in die vorige verkiesing vir die opposisie gestem.
    4. Die redes vir hierdie steun hou verband met die sterk strewe na effektiewe regering en na demokratiese waardes.
    5. Die belange van die Afrikaanse gemeenskap word kreatief bevorder deur Afrikaanse belangegroepe wat buite die regeringspolitiek sowel as buite die opposisiepolitiek staan.
    6. Ondanks blatante propaganda deur regeringspolitici, is die lede van die Afrikaanse gemeenskap wat opposisiepolitiek steun, nie tweedeklasburgers nie maar eersteklasburgers — wat Suid-Afrika liefhet met elke vesel van hulle hart.


    Anchen Dreyer is ’n sweep van die Demokratiese Alliansie in die Gautengse Provinsiale Wetgewer. Sy is die Gautengse DA-woordvoerder vir Taalsake en vir Landbou, Bewaring, Omgewing en Grondsake en dien ook op die Finansieskomitee. Navrae: A Dreyer, 082 375 4400; adreyer@gauteng.gov.za.


    Wat dink jy? Stuur jou reaksie aan SÍNet by katvis22@yahoo.com

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.