SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Die vryheid alleen is ons koning en die dreuning is magtiger as ooit

Adriaan Basson

Sol Plaatje Diskoers-reeks, Aardklop, September 2002

’n Onderwerp soos vanoggend s’n leen hom daartoe om een van vele rigtings in te slaan. Wie is die stem van jong Suid-Afrika? Hoe lyk die stem van jong Suid-Afrika? Mens sou selfs kon dink dat ’n nuwe gilde vanoggend hier gestig gaan word. Gelukkig is dit nie waar nie.

Wat ons almal wel weet, is dat die titel natuurlik ontleen is aan die eertydse “Lied van jong Suid-Afrika” wat ek en ander wit Afrikaanse jong mense van my generasie op skool tot vervelens toe moes sing terwyl ons op aandag staan, met harte wat sidder en beef, en ons dawerend moes belowe dat ons sal stry vir die land wat ons vaders gekoop het. Goddank is daardie beknellende tyd nou vir goed verby.

Ek dink nie een van vanoggend se sprekers gaan probeer om namens “jong Suid-Afrika” te praat nie. Ons het in elk geval nie die reg om dit te doen nie. En wie is kwansuis die jonges? ’n Vriend het voorgestel dat ek bloot moet sê die stem van jong Suid-Afrika is alle Suid-Afrikaners onder die ouderdom van 25. Dit is dus die ouderdomsbeperking waarby ek gaan hou.

Ek gaan eerstens vir u probeer skets wie jong Suid-Afrika is en hoe hulle lyk. Tweedens gaan ek kyk na die rol wat jong Afrikaanses nog te speel het in die nuwe Suid-Afrika; en derdens wil ek aanvoer dat jong Suid-Afrikaners se stemme nou gehoor word, maar dat daar nie altyd na hulle geluister word nie.


’n Polaroid van jong Suid-Afrika
Voor mens kan begin praat oor jong Suid-Afrika, is dit eers belangrik om perspektief te kry oor wie hierdie mense is en hoe hulle lyk. Kom ons neem ’n polaroid-foto van jong Suid-Afrika. Daarvoor gebruik ek die jongste statistiek uit die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings (SAIRR) se South Africa Survey vir 2001/2002[1].

Indien daar 100 mense op die foto was en die syfers afgerond word, sou daar 78 swart mense, 10 wit mense, 8 bruin mense en 3 Indiër-mense wees. Die geslagsverdeling is bykans gelyk.

Die lewensverwagting van die swart mense is 55,5 jaar, die bruin mense s’n 58,6, die Indiër-mense s’n 61,5 en die wit mense s’n 65,5.

Wat taal betref praat 23,5% van hulle Zoeloe, 17,6% Xhosa, 13,7% Afrikaans, 8,8% Noord-Sotho, 8,5% Engels, 8,3% Tswana, 8,2% Suid-Sotho, 4,1% Tsonga, 2,8% Venda, 2,5% Swazi, 1,5% Ndebele en 0,4% ’n ander taal.

Jong mense tussen die ouderdomme 15 en 24 maak 32% van Suid-Afrika se werkloosheidsyfer uit. Net ’n kort koppie voor hulle is nóg ’n groep wat redelik jonk is: dié tussen 25 en 34. Hulle 41% is die grootste deel van die werkloosheidsyfer.

Wat opvoeding betref, het net ongeveer 36% van jong mense tussen die ouderdomme 20 en 24 ten minste graad 12 geslaag.

En nou vir die Vigs-syfers. Dit is gemeet volgens die aantal swanger vroue wat publieke klinieke besoek. In die ouderdomsgroep jonger as 20 is 16,1% MIV-positief en in die ouderdomsgroep 20 tot 24 is die persentasie 29,1%.

Die stem van jong Suid-Afrika is divers en mense praat in verskillende tonge. Maar die stem van jong Suid-Afrika is ook terselfdetyd benoud weens die hoë werkloosheid- en Vigssyfers. En daarom behoort dit die belangrikste openbare beleidskwessies op die regering se agenda te wees.

Werkskepping vir veral ongeskoolde mense behoort ’n saak van dringendheid vir die regering sowel as die private sektor te wees. Die totale aantal werklose mense in Suid-Afrika het in drie jaar met meer as een miljoen vermeerder van 3,16 na 4,24 miljoen. Dit help nie om berade te hou en beleide te hê wat nie die sogenaamde volhoubare ontwikkeling in die werklike prentjie weerspieël nie.

Dieselfde geld vir MIV/Vigs. Hoewel daar wonderlike projekte deur veral nieregeringsorganisasies aan die gang is om jong mense bewus te maak van die pandemie, naai hulle onbeskermd voort — van Potchefstroom tot in die Paarl. En dan is daar nog wragtag mense wat kla as Pieter-Dirk Uys die gewraakte N-woord op televisie gebruik. Mag die skille spoedig van hierdie sedebewakers se oë afval, veral as die eerste groot groep wit Afrikaanse jong mense wat MIV-positief is begin om uit die kas te kom daaroor.
(4:13)


Englishmen in New York? Afrikaanses in die nuwe Suid-Afrika
Net voor ek Stellenbosch verlede week verlaat het, gaan drink ek ’n loopdop in een van die plaaslike klubs. Toe ek by die bar staan, sien ek die ou langs my se T-hemp waarop daar staan “Ek is blank en ek bly” — kompleet met ’n blokkie en ’n kruisie daardeur soos op ’n stembrief. Ek was, om dit ligtelik te stel, moerse beïndruk en het amper besluit om nog ’n jaar op Matieland te bly. Want dit is die tipe houding wat Afrikaanse jonges moet hê wat hier bly om ’n verskil te maak.

Volgens my was daar na die demokratisering in 1994 twee strome denkrigtings waarvan Afrikaners kon kies om deel te wees. Dit geld ook vir Afrikaanse jong mense wat tans studeer, werk of reis.

Die eerste stroom kan mens die “kuddediere” noem. Dit is die groep wat na 1994 nie die magsverlies kon verwerk nie en nou op ’n ernstige laertrek-mission gaan om die uitverkore volk se belange met vers en kapittel te beskerm. Natuurlik wissel die graad van hierdie “kuddediere” ook tussen ekstreem en louwarm. Hulle is verbitterd oor alles wat in die land gebeur, zoom in op die negatiewe en kritiseer dikwels die swart meerderheidsregering omdat hulle nog nie vrede kon maak met die nuwe bedeling nie. Hierdie groep stel ook dikwels balansstate van apartheid op om te wys dat dit nie rêrig so erg was nie.

Menigte van hierdie “kuddediere” sit reeds oorsee terwyl hulle baie ponde of dollars verdien, biltong en Mrs Ball’s invoer en ’n orgaan sal afstaan om vir Jurie Els live te sien. Dié wat nie genoeg geld het om te emigreer nie, bly maar hier. Verbitterd en hopeloos.

Die tweede stroom waarvan Afrikaanse mense kan deel word, is die “ek’s blank en ek bly”-opsie. Ja, ons is nou in die minderheid. En ja, ons erken dat apartheid ons voorouers se skuld was. Maar ons is proudly South African. Hier wil ons bly en hier sal ons ’n verskil maak. In Afrikaans.

Die laasgenoemde groep is natuurlik nie altyd gelukkig nie. Maar as hulle die regering kritiseer, is dit oor beleidskwessies. Hulle gee die mense nie name soos “Milner” of “Treurnicht” nie, maar beding op ’n opgevoede manier met die beleidmakers sonder om arrogant of meerderwaardig te wees.

Ek beskou die wonderlike nuwe kunstenaars en skrywers wat by hierdie fees is, ook as deel van hierdie stroming. Die Tom Dreyers, Saartjie Bothas, Karen Zoids, Neels van Jaarsvelds, Nicole Holms, Jacques Coetzers, Paul Riekerts en Jackie Nagtegaals is die jong Afrikaanse stemme wat my telkens trots maak om Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika te wees.

Mnr Ton Vosloo, voorsitter van Naspers en Sanlam, skryf in Saterdag se Beeld dat daar ’n aanslag op Afrikaans is en alle Afrikaanssprekendes nou moet saamstaan en nie emosielose poppe moet wees, “verskraal deur ’n vreemde tong wat neerkom op ’n verloëning van jou erfenis nie”. Dit was deel van sy toespraak by die ontvangs van ’n erepenning vir volksdiens van die FAK.

Vosloo maak goeie punte as hy sê Afrikaanses moet besef ons is nou een wat aan ’n tafel van elf sit as dit by taal kom, dat Afrikaanses nog heelwat het om by te dra tot ’n verenigde nasie en dat kleurvooroordeel so gou as moontlik dood gemaak moet word.

Maar dan doen hy ’n hernieude oproep tot eenheid van Afrikaanssprekendes om in te tree vir die behoud van Afrikaans in die skool, universiteit, technikon, staatsdiens en bedryfswese.

Hy sê: “Nooi ons jong mense opnuut na binne deur ons huis vir hulle aantreklik te maak. Gebruik die moderne tegnologie om ons jeug aan te skakel by die veranderende en tegnologies gedrewe wêreld.”

Jammer om te sê, maar in daardie huis gaan baie Afrikaanse jong mense nie tuis voel nie. In fact, baie jong Afrikaanses het reeds in nuwe huise ingetrek saam met mense van ander kulture. Ander het selfs hul eie huise gebou met fondamente wat deur hulle bepaal is. En wat moderne tegnologie betref is die jeug wat toegang tot sulke geriewe het, ligjare voor die oueres. Die meeste tegnologie-junkies by die groot Suid-Afrikaanse maatskappye is in hulle 20’s en oorsee is die jonges net so in aanvraag.

Daar moet wegbeweeg word van die gedagte om Afrikaanses te mobiliseer vir dié of daardie stryd. Laat elkeen toe om vir hom- of haarself te besluit. Dít is selfs cooler as om net Afrikaans te wees.


Om te luister en nie net te hoor nie
Kinders mag deesdae gesien én gehoor word. Wonderlik. Maar luister die besluitnemers — in Suid-Afrika is hulle nog meerendeels middeljarige tot gryse mans — werklik as die jonges praat? Of word die gehoorapparaatjies gerieflik afgeskakel?

Dikwels word daar in openbare debatte gevra waar die jong mense se stemme is; hoekom hulle so stil is. Die stilte word selfs deur sommige mense geïnterpreteer as ’n mandaat om namens die jonges te praat!

Wat mense dikwels vergeet, is dat stilte ook ’n antwoord is. Koos Kombuis noem die afwesigheid van jong stemme die “siniese stilswye” van die jeug. En ek scheme hy’s reg. Maar hierdie stilte tel net so swaar soos die harde geblaf van die groot honde.

Om jong mense aan te spoor om tog ’n verbale bydrae te lewer tot kwessies van die dag, moet die regte kanale bestaan en moet dit vir hulle maklik genoeg wees om hul sê te sê. Een so voorbeeld is die Nasionale Jeugkommissie, wat volgens my non-existent is op hierdie stadium. Hierdie kan ’n uiters effektiewe liggaam wees waar jong mense inspraak kan hê in regeringsbeleid en ander landsake van belang.

Die stem van jong Suid-Afrika is daar buite en Afrikaans is deel daarvan. Luister mooi om te hoor hoe mooi die nuwe koor sing. En hoewel dit soms benoud mag klink, is die potensiaal daarvan oorverdowend. Om die ou “Lied van jong Suid-Afrika” omver te werp: die vryheid alleen is ons koning en die dreuning is magtiger as ooit.


[1]SAIRR. 2001. South Africa Survey. Johannesburg: South African Institute of Race Relations.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.