SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Skrywersberaad-argief

Skrywersberaad




  Chris Louw
is die regisseur van Radio Sonder Grense se programme Monitor en Spektrum. Hy is ’n deurwinterde joernalis en het al artikels gedoen vir verskeie progressiewe publikasies, plaaslik en internasionaal. Sy Boetman is die bliksem in-brief het almal onlangs aan die praat gehad. Dié brief word deur Praag uitgegee.

Disgrace of Renaissance: bly of gly?

Die kort antwoord op die vraag in die titel is ’n ongekwalifiseerde “ja”. Of dan ’n gekwalifiseerde: “Ja, waarom nie?” Maar ek is nie Ouman nie; op 46 het ek onlangs onherroeplik Boetman geword. As ek Ouman was, sou ek ’n stelling kon maak wat ek in dieselfde sin kon weerspreek sonder teenspraak. (My reputasie as woordgoëlaar sou my uit die oënskynlike verknorsing red.) Maar as Boetman het ek geleer dat Ouman lugkastele bou wat hy leedvermakerig omskop die oomblik dat ons hom glo. Daarom heg ek nie meer veel waarde aan Ouman se mooi maar teenstrydige woorde nie.

As Boetman is ek die selfaangestelde Grootoog van die Naeltjiekykers. Verskoon my dus as ek uit naïewiteit — en miskien adolessente moedswilligheid — sowel J M Coetzee as Thabo Mbeki uit my bespreking laat. Wat dit my betref, is die tyd van die Ooms verby; hulle het ons genoeg belieg.

Daarom wil ek “disgrace” oproep in een van sy oorspronklike betekenisse, naamlik “downfall from position of honour”. En “renaissance” wil ek beloer in die gestalte van “wedergeboorte”. In hierdie betekenisse is daar geen teenstelling in die sin van die titel nie. Die erkenning dat ons ons eer prysgegee het, is die voorwaarde vir wedergeboorte. En dan is “bly of gly” maar gewone, liniêre keuses; nie teenoorstaande pole nie.

Laat ek maar net weer my gesondheidswaarskuwing vir die politiek korrektes herhaal: My relaas is (helaas) ’n eensydige relaas. As Boetman kan ek net uit my bepaalde (wit, manlike) perspektief na ons kollektiewe naeltjie kyk; die post-modernistiese benadering lê nog in die verre verskiet.

Kom ons kyk dan hoe ons onsself in die skande gesteek het. In ’n sin is dit ook ’n in-kyk in ons eie blindheid. Dit is vandag byvoorbeeld ’n gemeenplaas dat swart jeugdiges dekades voor ons “staatkundige wonderwerk” al polities meer ingelig was as die “boetmanne” met hulle netjies gekapte hare en die “dametjies” met hul knieë by mekaar. Die rede hiervoor lê nie in die “unique virtues” wat inherent aan “true Africans” is nie (soos ons al meer te lees kry in die SABC se interne tydskrif, Intercom), maar in die feit dat die onreg in die land swart kinders so skreiend in die gesig gestaar het dat hulle blind sou moes wees om dit nie raak te sien nie.

In sy rubriek “Van mens tot mens” op 22 Januarie 1997 in Beeld haal professor Wilhelm Jordaan vir Karl Marx in ’n ander verband aan: “’n Huis kan klein wees of groot. Solank die omliggende huise klein is, word mense se sosiale behoeftes aan ’n eie woonplek bevredig. Maar rig nou ’n paleis langs die klein huisie op en dié huisie word ’n treurige pondok.”

Dit is gewoon menslik, sê Jordaan, dat groepe akuut ’n gaping sal ervaar tussen hulle vlak van behoeftebevrediging en die vlak van bevrediging wat ander, met wie hulle hulself vergelyk, smaak. Swart Suid-Afrikaners se vryheidstrewe het in dié opsig nie juis verskil van dié van hul Afrikaner-landgenote nie.

Maar van hierdie elementêre sielkundige insig was Afrikaner-Nasionaliste in die sterwensjare van apartheid blykbaar salig onbewus. Die versweë vertrekpunt van die verligte denke was juis dat Afrikaners, weens hul veronderstelde hoër beskawingsvlak, ’n sekere “geroepenheid” het om hul landgenote se lewens te bestuur en te beheer. Wat die onregte soveel skerper omlyn het, is die feit dat die verligtes in die NP in hul futiele pogings om internasionale aanvaarding — of minstens ’n lewensverlenging — te vind, hulle al meer weg van hulle eie brute rassisme van vroeër gekeer het, en hul vasklou aan die mag in demokratiese retoriek probeer regverdig het. Dit is nogal insiggewend om vandag in die Statebondskommissie se Mission to South Africa te lees hoe knaend P W Botha sy drakoniese “hervorminge” verdedig het aan die hand van demokratiese beginsels.

  • Op 25 Januarie 1985 sê Staatspresident Botha byvoorbeeld: “In the constitutional field I want to stress that the Government is resolved to pursue peaceful and democratic solutions that satisfy the requirements of fairness and justice.”

  • En op 15 Augustus 1985: “We believe in democratic institutions of government.”

  • En op 30 September 1985: “Solutions must be democratic, but in this regard I wish to join the ranks of other leaders who agree that solutions are not to be found in cliched models although they could include elements of known models.”

  • En op 31 Januarie 1986: “We believe that a democratic system of government, which must accommodate all legitimate political aspirations of all the South African communities, must be negotiated.”

Om die uitbreiding van die demokrasie moontlik te maak, verklaar die Staatspresident toe in Junie 1986 ’n noodtoestand ingevolge waarvan duisende mense sonder verhoor in tronke en polisieselle aangehou word, algemene sensuur op politieke nuusberiggewing van krag word, en die polisie uitsonderlike magte verkry om bykans na willekeur teen politiek verdagtes op te tree. Dis mos hoe die konsep van “gelyke maar afsonderlike vryhede” onafwendbaar in die praktyk beslag gekry het.

Natuurlik het ons almal PW se kragdadigheid gesteun. Ons is dan juis deur ons intellektuele meningsvormers geleer dat ons oorlewing uitsluitlik in etniese kringetjie-maak lê; dat dit inderdaad ’n soort opdrag van God was, en dat enige optrede wat die vroteier van etniese sluiting bedreig, met alle mag bestry moes word. Om vandag die skuld vir hierdie ondemokratiese optrede voor die deur van ’n militaristiese P W Botha te lê, is bloot oneerlik. Selfs die voorste verligte politikus in Botha se kabinet, Leon Wessels, het die drakewetgewing gesteun, al sou hy later skryf: “Nie eens ek wat later Adjunkminister van Wet en Orde sou word en jare lank die geldigheid van die noodtoestand privaat en in die openbaar uit innerlike oortuiging sou verdedig, weet wat hier gebeur het nie. In 1986 en daarna het mnr Botha geen beweegruimte gehad nie. ’n Noodtoestand was nodig omdat daar nie skouspelagtige politieke inisiatiewe was om die revolusionêre hul morele grondslag te ontneem nie.”

As Boetman behou ek my die reg voor om agterna baie wysneusig te wil wees. Daarom kan ek sê dit is ’n merkwaardige stelling wat op sigself soveel weggee van die innerlike kontradiksies en oneerlikheid waartoe die verligte politiek noodwendig gelei het, dat dit my eintlik sprakeloos laat. Die verligte Adjunkminister van Wet en Orde erken self hy het nie geweet watter onheilige optrede — polisiewreedhede, die opsluit van kinders, politieke moorde — direk deur die noodtoestand geregverdig is nie, maar hy het dit nogtans uit innerlike oortuiging gesteun! Boonop was sy steun gegrond op die “morele argument” dat die NP-regering nie oor voldoende politieke ruimte beskik het om sy politieke teenstanders van hulle morele grondslag te ontneem nie en hom daarom noodwendig tot Wet van die Oerwoud moes wend ... Deur immorele wetgewing skep jy die ruimte vir “onkonvensionele optrede” — ’n vuil oorlog, in die woorde van generaal Constand Viljoen — sodat jou politieke teëstanders die morele onderspit moet delf!

Dis ’n sonderlinge logika, om die minste daarvan te sê. En dat so baie van ons ons willens en wetens hierdeur laat mislei het, strek ons tot ewige skande. Dis ’n fokken disgrace.
Die waarheid is dat die teenstrydigheid tussen vrome politieke retoriek en genadelose politieke praktyk in die opbou tot die afbreek van apartheid al so skreiend geword het dat verligte Afrikaners nie net ’n bespotting in die oë van die buitewêreld geword het nie, maar dat selfs goedgesinde swartmense nie meer deur ons Ooms se kulkuns gebluf is of wou wees nie.

Hierdie algehele onderskatting van swartmense se politieke en intellektuele vermoëns — wat die NP se onderhandelaars uiteindelik baie duur in Kempton Park te staan sou kom! — was ongetwyfeld die gevolg van geïnsoleerde denke, wat op sy beurt ’n gevolg van die self-insolering van apartheid was. Vanuit die beskutte hokkie van ideologiese afgeslotenheid kon Afrikaner-intellektuele staatkundige konstruksies op papier beplan wat later nagenoeg geen verband meer met die politieke en sosiale werklikhede in die land gehou het nie. Ons verligte bloed-ooms was inderdaad so hard aan die staar na hul eie Afrikaner-etniese naeltjies dat die politieke landskap gewoon by hulle verbygegaan het; die behoud van hul onrealistiese projeksies op hul swart landgenote het in al groter mate die brutale domein van die sekuriteitsmagte geword, wat op elke moontlike manier moes sorg dat swartmense “hulle plek ken” sodat politici wat in die praktyk net aan ’n blanke elektoraat verantwoording moes doen, kon voortgaan met hul sosiaal-politieke dagdrome. Hieraan het ons Afrikaanse koerante, verligte intellektuele en saamgesnoerde elite-groep in die Broederbond natuurlik lustig meegedoen.

Dit is onthullend én onthutsend om van die verligte Leon Wessels te verneem hoe min kontak blanke politici nog met die werklikhede van hul eie land gehad het terwyl hulle ingrypende wette in die Parlement aan die deurvoer was. Terwyl koerante soos die destydse Weekly Mail gereeld berig het oor die sosiale verval wat deur trekarbeid en die manlike hostelle in stedelike gebiede teweeggebring is, kon Wessels as Minister van Nasionale Behuising so laat soos Oktober 1991 nog in die waan lewe dat dit nie hostelinwoners self nie, maar gewone huisbewoners in swart gebiede was wat verantwoordelik was vir die endemiese geweld wat hostelle omring het. In Die einde van ’n era vertel Wessels dat hy in dié maand ’n uitgewerkte plan vir die “opgradering en toekoms” van hostelle in swart woongebiede aan die Witwatersrand aan die kabinet voorgelê het. Nadat die plan reeds deur die kabinet goedgekeur is, doen Wessels vir die heel eerste keer die moeite om self ’n hostel aan die Oos-Rand te besoek.

Hy vind dat die polisie huiwerig is om by die hostel in te gaan. “Hulle sê hulle waag dit na sononder nie eens met Casspirs in dié omgewing nie.”

Dit, skryf Wessels, “was die eerste waarskuwing (sic!) dat hostelle erg problematies is en dat die mense so goed bewapen is dat dit selfs die polisie hoofbrekens besorg”. Na jare se nuusberigte in die internasionale media, na hoevele uitsprake van nie-regeringsorganisasies, na talle akademiese ontledings, vind die ongelowige Leon dit nodig om eers persoonlik sy vinger in die hostelsweer te druk voordat hy ’n “eerste waarskuwing” oor die werklike situasie ervaar.

Verdere besoeke aan hostelle in Alexandra na die mislukking van Kodesa 2 — toe die ANC geëis het dat hostelle omhein en die inwoners ontwapen word — bring mee dat Wessels se “ongekwalifiseerde simpatie met hostelbewoners ingrypend verander het”.
Dit is ’n verdoemende onthulling. As die Minister van Behuising in F W de Klerk se kabinet selfs ten tyde van die onderhandelinge nog so oningelig was oor wat in swart gebiede aangaan, ontstaan die vraag wat ons gewone Afrikaners se kennis van swartmense se lewensomstandighede was. En dit kan nie oorbeklemtoon word nie: deur ons Afrikaanse koerante is ons nie behoorlik hieroor ingelig nie. (Ja, Ouman, Boetman het meegedoen.) Dit was immers amptelike beleid — in die gedaante van Christelike Nasionalisme — dat Afrikaners se politieke en rassevooroordele polities en moreel gesanksioneer moes word.

Dit is juis hierdie georganiseerde weerhouding van feite deur ons ouers — en eintlik ’n wegwens van “onaangenaamhede” — wat daartoe gelei het dat die Afrikanerjeug destyds so beskut was dat ons onkundig was oor die politieke werklikhede van die apartheidsamelewing waarin ons geleef het.

Dit is natuurlik ’n heel ander vraag of hierdie onkundigheid beteken het dat ons “onskuldig” aan die onregte van apartheid was. Die kwessie van “skuld” en “onskuld” is ’n debat op sy eie. Maar kom ons kyk net kortliks daarna; ons is goed geoefen in papier-intellektualisme.

Vandag is dit vir die morele hoëpriesters van destyds (na die Duitse voorbeeld) maklik om te sê ons het almal geweet wat aangaan; daarom is hulle as leiers niks meer skuldig as ons gewone Afrikaners nie — selfs al het hulle die praktyk van geïnstitusionaliseerde rassisme op elke moontlike vlak, ook in die geheim, doelgerig bevorder en geregverdig.
Daarom durf ’n Willem de Klerk, wat in die uitvoerende raad van die Broederbond gedien en die valsheid van Christelike Nasionalisme aktief bevorder het, vandag na die studente wat hy vanuit sy gesagsposisie as professor die grootmenswêreld ingestuur het met die rasse-ideologieë wat hy in Roeping en werklikheid as ewige waarhede verkondig het, as “Pilatusse” verwys. En die Willem de Klerk wat jare lank as koerantredakteur ’n gesaghebbende meningsvormer vir gewone Afrikaners was, kan homself vandag verontskuldig met ’n stelling soos: “Durf die volgelinge van die leiers sê: ‘Ons het nie geweet nie?’”

Dit is presies wat hy doen in Afrikaners: Kroes, kras, kordaat. Noudat Afrikaners die politieke mag verloor het, gaan De Klerk in der waarheid verder en sê: “Die geloof dat al hierdie dinge — en baie, baie meer — God se sanksie gehad het, is om yskoud van te word.”

Dit is inderdaad om yskoud van te word, maar lees Roeping en werklikheid en wonder waarom De Klerk nou eers, ses jaar nadat sy eie politiek-moreel-intellektuele konstruksies deur die nuwe maatskaplike werklikheid aan die kaak gestel word, hom yskoud skrik daarvoor dat hy self nie so lank gelede nie nog God se sanksie vir sy bedenklike saak opgeroep het. (Eers is die Duitse voorbeeld gevolg om ’n uitsluitende rassepolitiek te regverdig; nou word die Duitse voorbeeld deur die ideoloë gebruik om kollektiewe aandadigheid te propageer. Ons word al weer perdedrolle vir vye verkoop. Of hoe?)

’n Enkele voorbeeld van wat dr De Klerk tot diep in die 1980’s nog aan studente op Potchefstroom as die Ewige Waarheid verkondig het: “Die uitstaande en allesbeslissende bydrae wat die staat t o v die kultuur lewer, kulmineer in ons beleid van afsonderlike ontwikkeling. Hierdeur is die juridiese grondslag gelê vir die eie kulturele identiteit van ons verskillende volkere, en die behoud van ons histories waardevolle Christelike kultuur is hierin gewaarborg. Bevordering, offerwilligheid en toewyding t o v hierdie beleid en sy verdere uitvoering is dus wesenlik ’n kulturele opdrag [blykbaar van God] aan owerheid en onderdaan.”

Daar staan dit, sowaar as God, in dr De Klerk se eie woorde. Vir jou, Ouman, is dit alles ’n geslote boek. Maar so het die Ooms hulleself in kamers begin toebou totdat hulle uiteindelik “deure en vensters van binne af moes oopskop”.

Die Broederbonders, koerantredakteurs, kerkleiers, NP-politici het almal meegewerk om ’n bepaalde konteks te konstrueer waarin ons, hulle kinders, die lewenslig gesien het. So omvattend was hierdie etniese sameswering dat dit selfs vir sensitiewe jongmense met ’n ingebore gevoel vir regverdigheid ’n pynlike, wroegende proses was om ons daarvan los te wikkel. Pogings om eenkant te staan en analities na die situasie te kyk waarin ons ons sonder ons medewete of instemming bevind het, het beteken dat ons ’n duur prys moes betaal in die vorm van maatskaplike verwerping uit die Afrikaanse gemeenskap, en ’n verdoeming van die Nasionalistiese establishment. (Ja, ek is skeefgetrek van die selfbejammering, oom Willem!)

In sy onderskatte boekie Die sondes van die vaders stel professor André du Toit die vraag of dit vir jong Afrikaners in die jare tagtig te midde van soveel onreg nog hoegenaamd moontlik was om “politiek argeloos en onervare” te kon wees. Mense word gebore in ’n bepaalde sosiaal-politieke konteks waaroor hulle geen beheer het nie. Du Toit gee toe dat die Afrikanerjeug van destyds — vandag se “middeljariges” — uit ’n besonder beskutte agtergrond gekom het en “dikwels basies onkundig omtrent die politieke werklikhede van die apartheidsamelewing” was waarin ons geleef het, in teenstelling met die swart jeug van destyds wat maar te bewus was van die politieke onderdrukking waaraan hulle daagliks blootgestel was.

“Uiteraard ly dit geen twyfel dat, lank voordat daar in enige herkenbare sin van ‘keuses’ sprake kan wees, jong Afrikaners reeds die begunstigdes is van hul bevoorregte posisie as blankes in ’n radikaal ongelyke en verdrukkende rasse-orde.” Dit beteken uiteraard ook dat jong Afrikaners van destyds, hoe ons ook al onse hande in onskuld probeer was, nooit heeltemal aan ’n kollektiewe aandadigheid aan apartheid kan ontsnap nie. Net: Ons het nie oom Willem nodig om dit vir ons te vertel nie.

Volgens Du Toit was daar net een uitweg: die jong geslag van destyds sou verplig wees om met die verlede te breek “deur hul effektief te distansieer van die oorgeërfde maatskaplike en politieke orde”.

Wat hierdie effektiewe distansiëring in die praktyk sou beteken, word later in sy boek in meer besonderhede, en op onverbiddelike toon, deur Du Toit uitgespel: “waar die imperatiewe van Afrikaner-nasionalistiese hegemonie ook al bots met die noodsaak vir sosiale en politieke hervorming, [sal] eersgenoemde moet wyk”. Sosiale en politieke regverdigheid is dus veel belangriker as eng etniese mobilisering ter wille van die oorlewing van die Afrikaanse taal en kultuur.

En ek kan byvoeg: wat vir die jong Afrikaner-intellektueel van die vroeë jare tagtig gegeld het, het eweneens vir die boer, die winkeleienaar, die staatsamptenaar, die dominee en die dominee se kind gegeld. Dit was die plig wat ’n eerlike, kritiese — en pynlike — ontleding van ons situasie aan elke Afrikaner opgedwing het. Skandalig min van ons het daarvoor kans gesien. En terwyl dit tipies van Boetmanne is om verskonings vir hul tekortkominge te bedink: Daarvoor was die kondisionering op skool, in die katkisasieklas, by die huis, die opgedwingde respek vir ons ouers, die aangeleerde “ja-meneer, nee-meneer”-gesindheid, net te sterk. Ons is doelbewus afgerig om te volg; ons is Die Waarheid geleer sonder dat ons dit mog bevraagteken; selfs ons geskiedeniskonsepsie was daarop ingestel om van ons “verraaiers” te maak indien ons nie aan die eise van etniese imperatief wou meedoen nie; enige vorm van rebellie sou opstand teen die Raadsplan van God impliseer; ons sou vir ewig in die hel braai.

In die proses het ons, selfs vanuit ’n oorlewingsoogpunt, boonop strategies kortsigtig en stompsinnig geraak.

Du Toit het in 1983 al verduidelik dat die distansiëring van die oorgeërfde maatskaplike en politieke orde deur die jong Afrikaner binne bepaalde politieke en historiese prosesse verstaan moet word. Die keuses het nie soseer betrekking op “skuld” en “onskuld” in ’n metafisiese of suiwer morele sin van die woord nie (daaroor, sê hy, sal net ’n hemelse waarnemer kon beslis). “Of hy self daartoe bereid is of nie, die jong Afrikaanse intellektueel sal spoedig vind dat andere gereed staan om hom met die sware laste van die Afrikanergeskiedenis op te saal.” Nie-Afrikaners, skryf Du Toit, neig daartoe om die jong Afrikaners met “Afrikaanse” politieke opvattings, instellings en waardes te assosieer sonder om veel op sy persoonlike voorkeure of oortuigings ag te slaan … Of die jong Afrikaner-intellektueel “dit wil weet of nie, en of hy persoonlik daarmee saamstem of nie, dit is ook in sy naam en om sy onthalwe dat die regering besig is om blanke oorheersing en Afrikaner-hegemonie te verskans.”

Ons is deur die buitewêreld en ons swart landgenote binne ’n politieke raamwerk beoordeel, en ons is moreel aandadig gemaak vir wat ons selfaangestelde leiers — ons Ooms — in ons naam en namens ons openlik, maar meer dikwels in die geheim, bekonkel het.

Nasionalistiese Afrikaner-Ooms — die gesmade “muishonde van die wêreld” — het selfs in die voor-onderhandelingstyd waarskynlik intuïtief die waarheid van dié stelling aangevoel. Die halfhartige pogings wat deur P W Botha begin is om Afrikaners in die oë van die buitewêreld en van mede-landgenote te rehabiliteer, is baie kragtiger deur F W de Klerk voortgesit. Uiteindelik sou dit kulmineer in die befaamde toespraak van 2 Februarie 1990 waarin die ontbanning van verbode organisasies en verbanne mense aangekondig is. Agterna gesien, dui alles daarop dat dié stappe eerstens daarop gemik was om persepsies oor Afrikaners te verander, om daardeur beweegruimte vir politieke maneuvrering te skep, en om sodoende die voortbestaan van die Afrikaner as etniese groep te probeer verseker. Dit was ’n oorlewingstrategie eerder as ’n morele imperatief wat aan die werk was.

Opvallend in die aanloop en die eerste fases van die onderhandelinge was Afrikaanse koerante se klem op die feit dat dit juis Afrikaners was wat die inisiatief geneem het vir die nuwe benadering tot die politiek. By meer as een geleentheid het Die Burger (voordat die redakteur ontnugter geraak het toe die Afrikaner-regering beheer oor die proses verloor) byvoorbeeld die eer vir die NP opgeëis daarvoor dat dit juis dié party is wat apartheid afgeskaf het, en nie die liberale wat so lank daaroor gekerm het nie! (Nevermaaind dat die NP eensydig apartheid ingestel, in stand gehou en bevorder het.)
Maar ses jaar na die verkryging van die demokrasie is die dilemma rondom Afrikaans-wees steeds nie opgelos nie, soos blyk uit die intensiteit van die reaksie op Boetman se ope brief aan Willem de Klerk. Selfs nadat op politieke vlak voldoen is aan die vereistes wat André du Toit in 1983 gestel het vir die voortbestaan van Afrikaans; selfs nadat die politieke mag volledig prysgegee is, spartel Afrikaners klaarblyklik nog met ons identiteit en ons rol in ’n demokratiese Suid-Afrika.

Hierdie klaarblyklike verwarring is ’n verskynsel waaroor baie geskryf word en wat waarnemers blykbaar steeds verbaas. “Waarom nou eers?” is ’n vraag wat telkens gevra word. “Waarom hierdie katarsis ses jaar in die nuwe demokrasie? Waarom het dit nie eerder al gebeur nie?”

Baie redes word aangevoer: Dit is die eerste keer dat iemand verwoord wat talle Afrikaners lankal voel maar nog nie self kon sê nie. Dit is die jaar 2000, en simbolies ’n tyd vir herbesinning en vernuwing; die ANC-regering begin met soveel selfvertroue sy program van politieke en maatskaplike transformasie deurvoer dat die volle omvang van die staatkundige magsverwisseling gewone Afrikaners nou eers tref; dit is tekenend van die “seven year itch”… die romanse van die oorgang is verby, en ons begin mekaar vir die eerste keer reguit en realisties in die oë kyk …

Dit is natuurlik ook moontlik dat gewone Afrikaners bloot deur hul leiers verkul is, en dat die omvang van die bedrog baie goedgelowiges nou vir die eerste keer werklik in die gesig slaan.

Dit is altyd insiggewend om terug te keer na die argumente van ’n suiwer denker soos André du Toit. Hy sê self die individu kan sy mense die beste dien deur “’n skerp insig te ontwikkel om in ’n bepaalde historiese situasie die billike, verantwoordelike en eerbare weg te onderskei, en ook deur die morele moed te hê om die regte keuses gestand te doen”. (Let op: “die individu”.)

Die gevolgtrekking waartoe Du Toit in Die sondes van die vaders kom, is dat mense — individueel en gesamentlik — moet probeer om sin te maak van dit wat hul optredes tot stand gebring het. “Ons moet sowel die laste van die geskiedenis as die risiko’s van die toekoms onder oë probeer sien op wyses wat na die beste van ons vermoëns aan onsself en aan andere verantwoord kan word.”

Dit is juis aan hierdie “sin maak” van Afrikaners se optrede in die tydperk sedert 1948, toe die NP aan die mag gekom en rassisme deur ’n doelgerigte politieke program geïnstitusionaliseer is, dat daar selfs vandag nog ernstige gebrek is. Maar die fokus moet nouer getrek word: na die gebrek aan individuele verantwoordelikheid sedert die politieke oorgang deur ’n groepie selfuitverkorenes namens ons bekonkel is, sonder dat die omvang ooit eerlik aan ons verduidelik is. Selfs al is ons ten gunste van die demokrasie, staan ons neuse nog steeds punt in die rigting waarheen die Ooms ons gelei het. Moontlik was dit onafwendbaar dat die noodsaak vir grondige politieke veranderinge op oneerlike wyse versuiker moes word om dit vir Afrikaners aanneemlik te maak. As Afrikaner-kiesers — die meerderheid van die blanke kiesers wat destyds die stemreg gehad het — in 1990 al besef het hoe deurslaggewend en onomkeerbaar die politieke revolusie voltrek sou word, is dit heel moontlik dat die meerderheid daarteen sou gestem het.

Die gepaardgaande trauma van die geslag Afrikaners wat vandag oorweldig word deur ’n gevoel van “verneuk wees” kan dalk vergelyk word met die trauma van voormalige grensvegters wat nie na hul terugkoms in die siviele samelewing kon aanpas nie, veral ook omdat die Weermag hoegenaamd geen poging aangewend het om diesulkes voor te berei op die abnormale samelewing waarheen hulle moes terugkeer na die brute eerlikheid van die bosoorlog nie.

Maar dan is dit natuurlik ’n ope vraag of die NP self besef het watter magte hy loslaat en hoe min beheer hy oor die politieke proses sou hê. Dit was soos ’n bose kringloop wat finaal voltrek is: die obsessie van die Afrikaner-establishment — kerk, party en Broederbond — om etniese Afrikaneroorlewing as hoogste prioriteit te verseker, kon net slaag indien die breë Afrikanergemeenskap doelbewus polities, godsdienstig en kultureel naïef gehou is. In hierdie kondisionering is uitmuntend geslaag deur die sluiting van georganiseerde Afrikanergeledere en die vereniging van Afrikaner elite-groepe binne een ideologiese raamwerk. Dit was juis die sukses van hierdie hegemonistiese selfvertroeteling wat uiteindelik daartoe sou lei dat ons Afrikaners in so ’n mate vervreemd geraak het van die politieke en maatskaplike werklikhede van ons land dat ons totaal onvoorbereid was op die resultate van die onderhandelinge wat in 1990 in die Wêreldhandelsentrum in Kemptonpark begin het. Daar is nooit oop kaarte met gewone Afrikaners gespeel nie. ’n Politieke party wat byna uitsluitlik op die basis van etniese mobilisering gebou is, het hom boonop op die laaste nippertjie probeer omvorm tot ’n party wat — soos sy opponent, die ANC — vir spesifieke waardes en norme staan en daarom breër aansprake op steun buite sy tradisionele steunbasis kon maak. Hiermee het hy hom in ’n liga bevind waarvoor hy hopeloos te lig was. Die teenstrydighede het net te groot geraak.

Die Broederbond-dokument “Basiese staatkundige voorwaardes vir die voortbestaan van die Afrikaner” wat in Desember 1986 as amptelike beleidstuk aanvaar is, is vandag ’n amusante reliek van die verlede: al die plannetjies wat die Ooms in die geheim in ons naam gesmee het om ons (dis nou Afrikaners wie se voortbestaan aan dié “van die Blanke gekoppel is”) vir die toekoms te besmet. Amper niks daarvan het waar geword nie. Om dit maar reguit te stel: Die Ooms het nie net hul volgelinge verneuk nie — hulle het hulself ook met onverskoonbare wensdenkery besig gehou.

Die gevolg is dat min van ons vrede met die demokrasie kon maak; ons het hoogstens vrede gemaak met die illusies wat aan ons voorgehou is en wat nou in die naam van transformasie aan die versplinter is.

Só ver dan wat ons disgrace betref. Laat ek maar verder voorbarig wees: Ons renaissance is net moontlik as ons eers die disgrace aanvaar, en ons losmaak van al die illusies van die leë beloftes wat deur die Ooms aan ons voorgehou is. En dan, Boetie, lê daar vir elkeen van ons ’n eensame paadjie voor. Die hegemonie is verbreek, finaal. Niemand doen meer iets namens ons en in ons naam nie. Nou kan ons maar vir onsself dink. En “bly” of “gly” is bloot persoonlike keuses.

Aanhalings kom uit die volgende bronne:
De Klerk, Prof dr W J, Duvenage, prof dr B, Van Wyk, prof dr J H. 1972. Roeping en werklikheid. Potchefstroom Herald (Edms) Bpk.

De Klerk, Willem. 2000. Afrikaners: Kroes, kras, kordaat. Human & Rousseau.

Du Toit, André. 1983. Die sondes van die vaders. Rubicon-pers.

Wessels, Leon. 1994. Die einde van ’n era. Tafelberg-Uitgewers.

Commonwealth Eminent Persons Group. 1986. Mission to South Africa. A Penguin Special.

LitNet-leser: Wat dink jy van hierdie bydrae? Twee pryse van R1000 elk word toegeken aan die interessantste reaksies op referate. Stuur jou opinie aan SêNet by redlitnet@mweb.co.za

Besoek die beraad se virtuele boekuitstallings en ondersteun ons skrywers deur hul boeke via LitNet te bestel.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.