SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Skrywersberaad-argief

Skrywersberaad




Foto: Philip de Vos
  Koos A Kombuis
(gedoop André le Roux du Toit) is op 5 November 1954 gebore. Hy het al verskeie digbundels, romans en ’n bundel korrespondensie gepubliseer. Sy mees onlangse boek, Seks & drugs & boeremusiek (sy outobiografie) het pas by Human & Rousseau verskyn.

Gee ons Renaissance ’n kans

Ope Brief Aan Thabo Mbeki deur Koos Kombuis

Hierdie is my bydrae tot Die Groot Afrikaanse Referaat op LitNet. Aangesien ek voel dat dit nie genoeg is dat Afrikaanssprekendes net met mekaar gesels nie, maar voel dat hulle ook met ander Suid-Afrikaners moet praat, neem hierdie bydrae die vorm aan van ’n Ope Brief aan die President van Suid-Afrika, Thabo Mbeki.

Seks & drugs & boeremusiek Koos se blitsverkoper
Hy gaan dit dalk nie lees nie, maar nou ja. Ek besef dat hy ’n baie besige man is. Ek is spyt dat ek nie eerder hierdie brief by hom kan aflewer met behulp van ’n optog Uniegebou toe nie, maar wat sou dit help? Ek weet vir ’n feit Thabo is amper nooit self in die Uniegebou nie. Hy is, sover ek weet, oorsee.

Maar ten spyte van al hierdie dinge wat teen my tel, gaan ek my sê sê. So: Hallo, Thabo. Bly te kenne. Ek hoop jy’s ’n nicer ou as wat P W Botha was. Maar ek is nie seker nie. Ek weet so min van jou af!

Ons ken jou darem al teen hierdie tyd as ’n groot denker, Thabo. Jy het baie dinge uitgedink. Jy het ’n nuwe teorie oor AIDS uitgedink. Jy het iets anders ook uitgedink: die feit dat (volgens jou) die grootste probleem van die Nuwe Suid-Afrika die rassisme van die witmense is. Ja, jy sê dit keer op keer. Ons probleem is (volgens jou), let wel, nie ekonomies van aard nie, nog polities, maar rassisties. En rassisme werk net in een rigting. Volgens jou is slegs witmense in staat tot hierdie aartssonde.

Ek het die laaste ruk begin besef dat ek jou nie vir altyd blindelings sal kan vertrou nie, Thabo.

O, ek het nog lank nie my vertroue in die ANC as party verloor nie. Daar is baie ouens in jou party wat hulle uitstekend van hulle taak kwyt. Kader Asmal en Vali Moosa, om twee te noem. Ek is ook bly oor die Lotto-ding wat julle ingestel het (en ek hoop die geld word reg aangewend), en die huise wat julle so hier en daar laat bou het, en die feit dat daar darem nog persvryheid oral (behalwe in die Nuwe SAUK) is. Ek is in elk geval nie so naïef as om te dink dat daar êrens in die wêreld iets soos ’n foutlose politieke party bestaan nie.

Maar: die affêre met die vervalste Nikes-tekkies het my ’n bietjie ontstel — kon julle nie maar net die labels doodgepaint het en die tekkies vir die arm mense gegee het nie? — maar ’n paar duisend kaalvoet kinders is seker nie die ergste ding wat Afrika nog getref het nie.

O ja, en dan is daar die probleem van al die straat-traders van Johannesburg. Waarom het jy hulle laat verwyder? Wat doen daardie mense sedertdien om te oorleef? Het jy al probeer uitvind?

Daar is ook iets anders wat my pla, iets groter en dieper, en dit was tot nou toe net ’n knaende intuïsie in my binneste, ek kon nie verduidelik waarom ek dit het nie. Maar met elke openbare uitspraak van jou, Ons President, begryp ek die wortels van my onrus beter.

Dis die African Renaissance wat my pla, Thabo. Iets wat jy uitgedink het. Of gesteel het by die witmense van Europa van lank gelede.

Wat presies is hierdie Renaissance-ding waaroor julle so vreeslik praat en wat noodsaak dat jy elke twee weke oorsee moet vlieg in jou nuwe jet?

Sover ek onthou, Thabo, was daar nog net een Renaissance in die geskiedenis van die wêreld. Dit het kort ná die Middeleeue gebeur, en dit was, as ek reg onthou, nie ’n politieke ding nie. Meer iets soos ’n oplewing in die kunste en die wetenskap. Dit is veroorsaak, as ek mag veralgemeen, deur sulke uiteenlopende faktore soos die ontdekking van die drukpers, die vrye bekendstelling van inligting aan alle mense, die verbrokkeling van die houvas van die Kerk, en die spontane verlies aan inhibisies van die denkende geeste van die tyd.

Come to think of it, daar was wel ander tye in die geskiedenis van die mensdom dat iets soos ’n Renaissance gebeur het, al is dit nie altyd by daai naam geroep nie. Die ontploffing van kennis wat gely het tot die stigting van die beroemde Alexandria-biblioteek in die eeue voor Christus was so ’n gebeurtenis. Die Franse Rewolusie was ’n soort Renaissance-beweging (al was laasgenoemde merendeels polities, en ek het juis flussies geskryf dat ’n Renaissance nie primêr polities is nie, is daai rewolusie juis aangewakker deur ’n soort Renaissance-stroming onder Frankryk se filosowe en skrywers).

Was daar egter al ooit ’n Renaissance in Afrika? Ja, tot ’n mate kan ’n mens seker sê die swetterjoel landjies wat in die afgelope eeu onafhanklik geword het, herinner ’n mens aan die Renaissance, want dit was tog seker nie ook bloot polities nie — die onafhanklikwording van Afrika-lande was nie sonder sy gepaardgaande geestelike en intellektuele ontwaking nie. Ons eie Steve Biko is ’n goeie voorbeeld van ’n Afrika-Renaissance-denker, iemand wat hom nie laat voorskryf het deur gevestigde vooroordele en geykte idees nie.

Dit is egter so dat geen voorafgaande Renaissance nog ooit geheel en al van bo af uitgedink en afgedwing is deur enige regering of outoriteit nie. Hoewel dit soms gesteun is deur sulke elemente — die regering van Alexandria het byvoorbeeld hulle biblioteek geborg en gekoester waar moontlik — was ’n Renaissance nog altyd, in essensie, iets wat op ’n merkwaardige, sporadiese en byna onverklaarbare wyse ontstaan tussen die gepeupel, die common mense, die ouens met breins op straat. Dit is een van die redes waarom ek ietwat skepties staan teenoor jou African Renaissance, Thabo. Maar daar is ook ander redes.

Die heel belangrikste kenmerk van enige Renaissance is die vryelike blootstelling van inligting, met ander woorde vrye assosiasie, die afwesigheid van ’n verdrukkende hiërargie (hetsy van idees of mense) — met ander woorde: ’n Renaissance is ’n vryemarkstelsel van die gees. Dit is gee en neem.

Jy sê, Thabo, dat jy staan vir ’n African Renaissance. Dit klink na ’n wonderlike idee, of soos Anton van Niekerk, ten spyte van sy skeptisisme, skryf, “an idea whose time has come”. En ek stem saam, dis iets wat ons dringend nodig het. Juis om daardie rede, omdat dit so ’n besonder goeie idee is, durf ons dit nie opfok nie.

Dis ook nie dat ek besonder jammer of patronising voel oor die Afrika-kontinent soos so baie politici van Europa nie. Ek dink hierdie idee dat Afrika agterlik en deurmekaar is, meer so as die res van die wêreld, is nie waar nie. So dikwels hoor ons die statement: “Afrikane verstaan nog nie die demokrasie nie”. O ja, en verstaan Iere die demokrasie? En Serbiërs? En Pakistani’s? Afrika is deur die kak, ja, maar nie vreeslik baie erger as die res van die wêreld nie. Dis verkeerd om die hele human condition net so op Afrika te blameer en dan te maak asof dit te wyte is aan die gebrek aan sogenaamde opvoeding of beskawing. Beskaafde en opgevoede mense, so sien ons gereeld, kan net sulke dose wees. Verstaan Bill Clinton die demokrasie? Verstaan hy dit werklik? Ek twyfel. Hy verstaan dan nie eers vir Monica Lewinsky nie.

Nee, Thabo, daai etiket sal ek nooit om jou nek hang nie. As ek sê dat ek jou nie meer blindelings sal vertrou nie, het dit niks te doen met die feit dat jy ’n Afrikaan is nie. Ek sien swartmense nie as kaffers nie en ek sien hulle ook nie as edel barbare nie. Hierdie kritiek kom nie van my as witman, of van my as liberaal nie. Dit kom van my as ’n landsburger van die land wat jy veronderstel is om te regeer. Dis ’n mooi land, Thabo, jy moet ’n slag ’n draai hier maak.

Jy moet dalk kom kyk hoe gaan dit hier op die grondvlak. Het jy nie dalk kontak met die gewone mense verloor nie? Dit gaan beroerd hier, Thabo. Mense vrek aan AIDS en hulle skiet mekaar dood in taxi riots en niemand het jobs nie. En weet jy, Thabo, ten spyte van al hierdie verskriklike dinge het die Renaissance reeds begin, maar dis nie die Renaisance waarvan jy praat nie.

Ja, daar is ’n African Renaissance, en dit gebeur al geruime tyd tussen die shacks en suburbs van Suid-Afrika. Dis deur geen heersende politikus beplan of ingelei nie. Ek praat van die opbloei van die uitvoerende en ander kunste op ons bodem. Ek praat van die oplewings in Afrika-kunste, beeldhou en skilder en danse, die ontploffing in musiek, die swetterjoel kultuurfeeste wat spontaan gebeur op elke tweede dorp, ek praat van skeppende mense wie se stem nie stil gemaak sal word deur die ontploffings, korrupsie, skietery, leuens en dubbele standaarde orals om hulle nie.

As hierdie Renaissance werklik jou erns is, Thabo, sal jy belangstel in wat gewone mense te sê het. Jy sal nie die deur toemaak op enigiemand nie, nie eers Constand Viljoen nie (om van die Dalai Lama nie te praat nie). Jy sal van jou troontjie afklim en by ons aansluit.

Want, Thabo, die Renaissance het lankal begin, en weet jy wat? Jy sal nie deur die geskiedenis onthou word as die ou wat dit aan die gang gesit het nie. Jy sal hoogstens onthou word as die ou wat dit ’n naam gegee het.

Ek hoop en bid vir jou part, en vir almal se part, dat jy nie hierdie pragtige idee opfok nie. Maar tot tyd en wyl jy dit doen of nie doen nie, sal ek jou, al vertrou ek jou nie blindelings nie, die binnevet van die boud gee, en sê:

Ons, die gewone mense, sal met jou saamwerk waar ons moontlik kan, Thabo, maar dat jy nie so ver vooruit loop dat ons mekaar heeltemal verloor nie. Want in die oë van ons Renaissance is daar nie leiers of konings nie, net die wonder van kommunikasie en denke.

LitNet-leser: Wat dink jy van hierdie bydrae? Twee pryse van R1000 elk word toegeken aan die interessantste reaksies op referate. Stuur jou opinie aan SêNet by redlitnet@mweb.co.za

Besoek die beraad se virtuele boekuitstallings en ondersteun ons skrywers deur hul boeke via LitNet te bestel.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.