SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Skrywersberaad-argief

Skrywersberaad





Foto: Sarie
  Christa van Louw
is verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy was nege jaar voltyds in die Departement Afrikaans en Nederlands, en is tans direkteur van die IiLwimi Sentrum (UWK) en op nagraadse vlak betrokke in die Departement Afrikaans en Nederlands.

Wie het die hef in die hand?

Die opdrag, Hef aan, dwing my vir die soveelste keer om te besin oor hoe en waarheen nou met Afrikaans. En vir die soveelste keer word ek gekonfronteer met die erfenisse van die vorige bedeling, maar terselfdertyd met die uitdagings van die toekoms.

Die tema kan waarskynlik verskillende reaksies ontlont, maar as sosiolinguis, met ’n spesifieke belangstelling in die taalbeplanningspraktyk en ’n sensitiwiteit vir die sosiaal-ekonomiese konteks, lees ek my opdrag as ’n uitdaging wat gestel word om die nuutaanvaarde taalbeleid ook in die praktyk gestalte te laat vind en daardeur te verseker dat Afrikaans ook in die praktyk haar plek kan opneem.

Die vraag is duidelik: hoe hef ons die diskrepansie tussen teorie en praktyk op? Wat hef ons aan? Hoe hef ons aan? Waarheen hef ons aan? ’n Besinning oor die wat, die hoe en die waarheen dwing ons opnuut tot beplanning. Maar baie belangrik in dié verband is dat beplanning van watter aard ook al doelbewuste keuses impliseer tussen alternatiewe wyses om probleme op te los. Daarom moet ons in ons bemoeienis met Afrikaans altyd krities hiervan bewus bly en moet ons onsself voortdurend afvra: Wat is die probleem of probleme, en wie bepaal dit? Watter keuses word uitgeoefen en wie bepaal die keuses? Watter weg word ingeslaan en wie bepaal die weg?

Ten einde inhoud te gee aan die wat, die hoe, en die waarheen is die kennis van die verlede essensieel, want dit is eers dan dat ’n mens die huidige praktyke kan evalueer en die toekoms effektief kan beplan.

Ten opsigte van die waarheen is die keuse eenvoudig: of jy aanvaar die keuse om te transformeer of jy stagneer. Transformasie vir Afrikaans beteken dat totaal gebreek word met praktyke wat herinner aan die ou orde en dat Afrikaans van sy bagasie van die verlede ontslae moet raak — sy rassisme, sy eksklusiwiteit, sy inherente ondemokratiese kern — en een van die bemiddelaars word vir velerlei kulture, toleransie en respek (Redlinghuis, 1997: 21, in Willemse et al Die reis na Paternoster). In die herdefiniëring van Afrikaans moet ag geslaan word op die waarskuwing wat Brigitte Mabandla (voormalige adjunk-minister van Kuns, Kultuur, Tegnologie en Wetenskap) in 1995 in ’n openingstoespraak tydens die Tweede Swart Afrikaanse Skrywersimposium gerig het: “It will be a sadder comment still if the process of redefining the Afrikaans language, its history, its speakers, its literature and its culture, slides back into the same insularity that has left its mark on all of us in South Africa.” Dit stel aan ons die uitdaging om Afrikaans se rol en funksie te herdefinieer: vanaf ’n taal wat gehandel het ten koste van tot ’n taal wat handel tot voordeel van, ’n uitdaging wat die Departement Afrikaans en Nederlands aan die UWK aanvaar het en gekulmineer het in Suid-Afrika se eerste sentrum vir veeltaligheid en taalprofessies, die IiLwimi Sentrum. Hier word Afrikaans die psigiese ruimte waarbinne verskeidenheid erken word, maar bied dit ook die fisiese ruimte vir die daadwerklike bevordering daarvan. Hef aan!

Die “geraas” en “ge-eina” (om Breyten se terme te gebruik) in ’n poging om Afrikaans se verlies aan status te herstel is te verstane, maar ek moet egter met Kaizer Nyatsuma (redakteur van die Daily News in Durban) saamstem dat dit niks vir die taalkwessie in geheel doen nie. Hy stel dit so: “Ek wil geensins voorstel dat die Afrikaner moet omval en doodspeel nie. Maar as hulle positief raak en sake opper op ’n manier waarop die res van die land sal gaan stilstaan en luister, dan het hulle baie gedoen. Nie net vir hulself en hul eie taal nie. Ook vir ander tale.” (Insig, Augustus 2000: 34). Ons sal almal moet aantree in die rekonstruksie van ons talige wêreld. Hef aan!

Die feit van die saak is dat ons in ’n veeltalige wêreld leef, ons het altyd daar gewoon. Die enigste verskil is dat hierdie Suid-Afrikaanse realiteit tot gister nog juridies misken was — en vandag word ons steeds met die effekte hiervan gekonfronteer. Om maar net ’n paar te noem: Tale word deur Suid-Afrikaners verskillend geëvalueer, Suid-Afrikaners openbaar verskillende houdings teenoor die verskillende tale. Die interne strukture van die verskillende tale is nie ewe goed ontwikkel nie. Wat nou hiermee saamhang, is dat die meeste Suid-Afrikaners nie kan of weet hoe om verskeidenheid as bate te verreken nie. Verskeidenheid word as ’n “probleem” gesien en dienooreenkomstig hanteer. Die oplossing vir die “probleem” word dan gesoek in die miskenning van die “probleem”, dus in monopatrone. Natuurlik tot die nadeel van die groter gros.

Noudat Afrikaanssprekendes hulle toenemend in meertalige kontekste (skool, werk- en speelplek) bevind, is die groot vraag: Hoe dra ons sorg dat Afrikaans naas die ander tale tot haar reg kom? Maar meer as net die taal. Hoe verseker ons dat Afrikaanssprekendes naas ander taalsprekers tot hulle volle potensiaal ontwikkel?

Om die onderwys as voorbeeld te neem. Die meeste skole word tans met ’n veeltalige konteks gekonfronteer. En wanneer jy met onderwysers in gesprek tree, word dit opnuut bevestig dat hulle nie weet hoe om verskeidenheid effektief te hanteer nie — “Ons is nooit hiervoor geskool nie”; “Ek kan nie al my leerders bereik nie, hoe kan ek as ek nie eers die tale van al my leerders kan praat nie, wat nog te sê van lees. Al sou ek dit kan praat en lees, wat van die gebrek aan relevante leermateriaal in die verskillende tale?”

Dan word dit verder bevestig dat nie-onderrigtaalsprekers eenvoudig nie met die onderrigtaalsprekers kan kompeteer nie — nie akademies nie en nié sosiaal-ekonomies nie. Vir nie-onderrigtaalsprekers bly die skool ’n vreemde ruimte en onderwys ’n vreemde gebeurtenis — iets waarmee hulle nie kan identifiseer nie. Die gevolge hiervan is vanselfsprekend: Dít is die kinders wat nie aktief aan die leerproses deelneem nie. Dít is die kinders wie se reeds lae selfbeeld verder afgekraak word. Dít is die kinders wat as die dommes gelees word. Húlle word die “drop outs”. Húlle vul die leemtes in die goedkoop arbeidsmark. En so word die ongelyke magsverhoudinge — sosiaal-ekonomies en talig — versterk.

Dan besef ’n mens opnuut hoe taal as ’n verknegtingsinstrument aangewend kan word: Misken dit en verkneg! Erken dit en bemagtig!

Maar dan kom die vraag: Hoe nou gemaak? Beteken dit dat ons die verskillende taalgebruikers in verskillende klaskamers moet plaas? Sê ons ja, is ons terug by segregasie. Dan oefen ons die keuse uit om te stagneer — om nie eers oor die gevolge hiervan te praat nie! Sê ons nee, waar laat dit ons dan? Dit laat ons met die uitdaging om strategieë te ontwikkel sodat ons veeltaligheid en ook taalverskeidenheid as bate kan hanteer. En daar is baie moontlikhede. Die grootse gevoel as onderwysers uit verskillende taal- en kultuurgroepe ’n tydskrif saamstel en besluit op die naam US, want “Dit is ons tydskrif”; en ons leerders via die weg van veeltalige leermateriaal en tolking toegang tot mekaar se wêrelde kry; as opvoeders wat as individue gewerk het, mekaar in winkelsentrums as vriende ontmoet en etenstye met mekaar in mekaar se tale praat; as ouers vrywilliglik as leerfasiliteerders tot die rypwordingsproses van hul kinders en dié van ander toetree; en as leerders tydens die leeraktiwiteite sorg dra dat stemme in verskillende tale gehoor word. Dan ervaar ’n mens die lekkerte van eenheid in verskeidenheid. Hef aan!

Maar dan die realiteit: ’n vertaal- en tolkkultuur moet gevestig word. Vertalers en tolke moet opgelei word. Hef aan!

Maar terwyl daar deur ’n bepaalde segment van die Afrikaanse spraakgemeenskap “geraas” word, is daar ’n baie groot persentasie van dieselfde spraakgemeenskap swyend, vasgevang in ’n “kultuur van stilte”, die soort waarvan Freire praat. Hulle kan nóg die woord nóg die wêreld lees. Wanneer tant Sannie met haar vingers soos ’n blinde oor die letters en nommers van die motor se nommerplaat vryf en die wens verlangend uitspreek om dit te kan lees, en oom Gert die geleentheid kry om sy lewe oor te kies en die realiteit jou soos ’n emmer koue water tref — hy ken geen alternatief nie — daar is eintlik nie ’n keuse nie, en Kerneels onseker nader staan en moeite het om sy foto tussen die ander op die getekende druiwetros te identifiseer, en tant Saartjie beklemmend ’n potlood vir die eerste keer in ses-en-vyftig jaar vasklou, dan word ’n mens intens bewus van die verknegtingsvlak van ons mense. En jy het begrip vir die “asseblieftoggesiggies”, maar jy word ook opnuut kwaad.

Dan word hierdie erfenis ’n ontwikkelingsbehoefte wat skree om hanteer te word. En jy besef dat ’n vaardigheidsontwikkelings- en -geletterdheidsprogram ’n instrument moet word in die totale opheffing van mense.

En wanneer jy ses maande later reflekteer en jy bewus word van die verandering: van ouers wat besig is om die waarde van onderwys te leer en dit aan hul kinders oor te dra; van Gert wat besluit het dat hy na ’n landboukollege toe wil gaan, van tant Sannie wat nie meer haar potlood vasklem nie, maar haar stem laat hoor; wanneer oom Sampie antwoord: Ek wil alles kan lees. Dan kan ’n mens begin praat van bemagtigde individue, van mense wat besig is om beheer oor hul lewens te neem.

Dan vra dit dat ons op ’n groter skaal moet aantree op pad na die ontwikkeling van mense se lewenskwaliteit en daardeur ’n stem gee aan die swyende segment van die Afrikaanse samelewing. En daar is baie om te hoor! Hef aan!

En as jy so ’n bietjie dieper delf, raak jy bewus van skatte wat nie ontgin is nie; van ’n enorme ongeskrewe (orale) letterkunde wat bestaan. Kultuurskatte: vertellings, liedjies, rympies en raaisels wat bedreig word. Hein is reg. Daar is baie stories om te vertel, maar ek wil byvoeg, ook om te skryf . Die Suid-Afrikaanse kulturele produksie het geen verskoning nie. Daar is genoeg om dit verteenwoordigend te maak van die volle spraak- en taalgemeenskappe. Hef aan!

Daar is nog baie plekke waar aangehef kan word, maar dit is veral ten opsigte van die hantering van meertalige kontekste en stemgewing aan ’n swyende segment van die Afrikaanse samelewing dat IiLwimi al hoogs suksesvolle treë gegee het

Vir IiLwimi was daar geen keuse ten opsigte van die hoe nie. Na die bestekopname is daar binne ’n deelnemende benadering toegetree. Dit het ingehou dat die diensgemeenskap saam aanhef in die beplanning, ontwikkeling, implementering en monitering van hul eie konteksgebaseerde ontwikkelingsprogram. Hierdie ervaring het geleer dat suksesvolle organisering en mobilisering grootliks afhang van die mate van deelnemende inagneming van al die verskillende agente wat betrokke is. Die resultaat is gesonde vertrouensverhoudings en mede-eienaarskap van die ontwikkelingsprogram.

Ten slotte: Die IiLwimi Sentrum stel alle Afrikaanses (of hoe sal ek die groep nou noem, Breyten?) voor die uitdaging om die breë spektrum van die spraak- en taalgemeenskappe saam te mobiliseer ten einde te verseker dat teorie en praktyk mekaar ontmoet. Hef aan!

Maar sou u die uitnodiging aanvaar, moenie vergeet om telkens die vrae te vra nie: wie bepaal die probleem, wie bepaal keuses, en wie bepaal die weg? Want laat ons na om krities bewus te bly van dié drie vrae, loop ons die gevaar om met die hef in die hand toe te tree — dan loop ons die verdere gevaar om dalk af te kap in plaas van aan te hef.

LitNet-leser: Wat dink jy van hierdie bydrae? Twee pryse van R1000 elk word toegeken aan die interessantste reaksies op referate. Stuur jou opinie aan SêNet by redlitnet@mweb.co.za

Besoek die beraad se virtuele boekuitstallings en ondersteun ons skrywers deur hul boeke via LitNet te bestel.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.