SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Skrywersberaad-argief

Skrywersberaad




  Annari van der Merwe
het aan die Universiteit van Port Elizabeth, Rhodes Universiteit in Grahamstad en die Rijksuniversiteit in Utrecht, Nederland, gestudeer. Nadat sy in verskillende redaksionele hoedanighede by Tafelberg-Uitgewers gewerk het, het sy in 1994 Kwela Boeke vir Naspers begin, ’n uitgewery wat probeer om die lees- en skryfkultuur in die land uit te brei en aanvanklik algemene boeke in enige van die erkende Suid-Afrikaanse tale gepubliseer het. Tans is ongeveer 25% van die twaalf titels wat Kwela jaarliks uitgee in Afrikaans. Die res is in Engels. Sy is ’n trustee van die Zimbabwe International Book Fair, ’n adviseur van die Sentrum vir die Boek in Kaapstad, en as medevoorsitter van die Algemene Uitgewery-belangegroep lid van die uitvoerende komitee van PASA (Publishers’ Association of South Africa).

Ons is van uiteenlopenheid aanmekaargesit

Algemene uitgewery in Suid-Afrika aan die begin van die 21ste eeu

Opsomming

Ons sit in Suid-Afrika met ’n geweldig oneweredige erfenis: onder meer die gevolg van ’n opvoedkundige stelsel wat sommige groepe bevoordeel het en ander nie; ’n kulturele verskeidenheid wat vir sommige ’n boekkultuur vanselfsprekend maak en vir ander nie; ’n taalsituasie waarvolgens dit vir sommige skrywers voor die hand liggend is om in die moedertaal te skryf en in Suid-Afrika uit te gee, en vir ander nie. Hierdie faktore het ewe ernstige implikasies vir uitgewers en skrywers as vir politici en opvoeders. Wat hier volg, is ’n bondige oorsig van dié situasie en ’n redelik oppervlakkige kyk na die implikasies vir die uitgewersbedryf — tov al die tale van die land.

Inleiding

Die Suid-Afrikaanse literatuur is tot nog toe oorheers deur wit skrywers — wit skrywers wat in hulle moedertaal skryf, of dit nou Engels of Afrikaans is. In die pas afgelope eeu (eintlik is die Suid-Afrikaanse letterkunde maar net een eeu oud) was die internasionaal bekende skrywers byvoorbeeld Nobel-pryswenner Nadine Gordimer, J M Coetzee, wat twee maal die gesogte Booker Prize verower het, André P Brink wat met die Franse Légion d’Honneur vereer is en Breyten Breytenbach. Ook ’n volgende generasie wat hulle merk internasionaal aan die maak is, is oorwegend wit: Mike Nicol, Dalene Matthee, Etienne van Heerden, Ivan Vladislavic, Marita van der Vyver, Pamela Jooste, Antjie Krog.

A place called Vatmaar
Vatmaar
Shark's Egg
More than brothers
The long march home
Krotoa Eva
The prodigal husband
Ek, Joseph Marble
Pastoor Scholls trek sy toga uit
’n Paar van Kwela se boeke
Die werk van swart skrywers was minder sigbaar. En dit bring ons onmiddellik by die term “swart skrywers”. Ons is almal vertroud met biskop Tutu se “reënboognasie”, ’n term wat die diversiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing probeer weergee. En Suid-Afrikaners kom inderdaad in wisselende grade van redelik lig (wit) tot redelik donker (swart) voor, en praat ’n verskeidenheid van tale: elf geniet in die “nuwe” Suid-Afrika amptelike erkenning. Tot 1994 was Afrikaans en Engels die enigste twee amptelike tale; sedert 1994 het Engels, die huistaal van minder as 10% Suid-Afrikaners, die taal van dokumentasie geword, en daardeur nie-amptelik die nasionale taal.

Die eerste demokratiese verkiesing van 1994 het ’n einde gebring aan Apartheid, maar hierdie amptelike beleid waarvolgens mense in Suid-Afrika vir meer as veertig jaar volgens kleur geklassifiseer is, sal nog ’n lang nawerking hê. Want tot en met die groot verandering is daar in plaas van ’n reënboog, waar een kleur in die volgende vervloei, vier groepe vier dekades lank streng volgens kleur afgebaken: wittes, “kleurlinge”, Indiërs en “Africans”, en afhangende van jou klassifikasie het jy in ’n bepaalde buurt gewoon en na ’n bepaalde skool gegaan — selfs in ’n bepaalde rigting gestudeer en ’n bepaalde salaris ontvang. Dit was die manier waarop die vorige regime op die multi-kulturele aard van Suid-Afrika gereageer het en probeer het om “aparte ontwikkeling” toe te pas — ’n stelsel wat die wittes die meeste bevoordeel het en die “Africans” die ergste “agtergestel” het.

Dit is natuurlik alles ou nuus, maar tog noodsaaklik om te onthou as jy die huidige situasie in die uitgewery behoorlik wil begryp, en ook waarom die term “swart skrywers” in Suid-Afrika noodwendig ’n inklusiewe term moet wees wat “African”, Indiese Suid-Afrikaanse, en skrywers van gemengde herkoms insluit. So ’n vlugtige terugblik herinner ’n mens ook daaraan dat swart Suid-Afrikaanse skrywers ’n verskeidenheid tale tuis praat; dat Engels die “aangenome” skryftaal van die meerderheid is, hulle tweede of selfs derde of vierde taal; en dat “kleurlinge” en Indiese Suid-Afrikaners tot redelik onlangs beter onderrig geniet het as “Africans”.

’n Oneweredige literêre erfenis

Verskeie kulturele en opvoedkundige faktore het bygedra tot die ongelyke situasie van skrywers en die wisselende aansien wat boeke in Suid-Afrika geniet; net die heel belangrikstes word uitgelig om die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse literêre toneel te belig.

  • Die eerste swart skrywers in Engels het in die 19de eeu na vore getree. Almal van hulle — Sol Plaatje, Toyo Soqa, Vilakazi — het ’n sendingskoolopleiding geniet, met die gevolg dat hulle skryfwerk sterk beïnvloed was deur hulle leermeesters, die sendelinge, wat uit die aard van die saak verwag het dat hulle werk die Christelike leer sou onderskryf eerder as om uitdrukking aan ’n eie kultuur te gee.

  • Die vormende invloed van die enigste koherente groep swart Suid-Afrikaanse skrywers in Engels — die sogenaamde “Drum generation” van die vyftigerjare — was van korte duur. Die strenger toepassing van die Apartheidsbeleid het baie van die joernaliste en skrywers — mense soos Es’kia Mphahlele, Arthur Maimane, Can Themba, Nat Nakasa, Tod Matshikiza — landuit of tot swye gedryf in die jare sestig. Hierdeur is die lewendige swart literêre tradisie wat hulle in Suid-Afrika aan die vestig was, ’n fatale knou toegedien. Dit was besonder tragies omdat:

  • Anders as in die geval van Suid-Afrikaners met ’n Europese of Indiese herkoms, vorm ’n geskrewe literêre tradisie — boeke, met ander woorde — nie deel van die kulturele erfernis van mense met ’n tradisionele Afrika-agtergrond nie. In die tradisionele Afrika sosiale opset is mites, eposse en sagas in orale vorm van een geslag na die volgende oorgedra — dis trouens soms nog die geval. ’n Storieverteller het die stories en geskiedenis van sy of haar mense aan die volgende geslag toevertrou — nie ’n priester of student wat dit op papirus of vel aangeteken het om gelees te word deur geslagte wat nog gebore moes word nie. Skeppende skryfwerk is dus ’n redelik onlangse ontwikkeling in Afrika-gemeenskappe. Om hierdie rede glo die skrywer Amadou Hampate Ba van Mali dan ook dat die dood van elke ou man in Afrika gelykstaan aan die afbrand van ’n biblioteek.

  • Dit spreek vanself dat as boeke nie deel is van jou kulturele erfenis nie, daar nie ’n sterk leeskultuur sal wees nie. Trouens, lees word dikwels in so ’n gemeenskap as anti-sosiale gedrag beskou omdat die inhoud (verhaal) nie met die familie of grotere groep gedeel word nie; in plaas daarvan onttrek die leser hom gewoonlik om die boek op sy eentjie te geniet.

    Regdeur die geskiedenis en in die meeste kulture het ’n geskrewe literatuur geleidelik uit ’n orale grondslag ontwikkel. Of anders gestel: dit is waarskynlik dat ’n orale literatuur met verloop van tyd aanleiding sal gee tot ’n geskrewe literatuur — gegewe genoeg tyd en ander gunstige omstandighede soos algemene geletterdheid. Wat sake egter in Afrika beduiwel, is dat televisie as ’n vorm van vermaak byna gelyktydig ingevoer is as die idee van lees vir afleiding en plesier. Nie alleen is televisie ’n meer toeganklike medium nie, maar in groepsverband is dit baie geselliger as wat die lees van ’n boek deur een persoon ooit kan wees. In sekere opsigte vervul — of vervang — televisie waarskynlik selfs die rol van die tradisionele storieverteller. Dit is daarom dubbeld moeilik om ’n leeskultuur in die tegnologiese eeu in ’n omgewing te bevorder waar ’n leeskultuur nie reeds stewig gevestig is nie.

    Nog ’n belangrike faktor is die hoë graad van ongeletterdheid, veral onder die ouer geslag. Selfs in ’n relatief goed ontwikkelde land soos Suid- Afrika word die ongeletterdheidsyfer so hoog as 30% geskat; sommige meer pessimistiese beramings stel dit selfs so hoog as 50%. Dit beteken dat baie swart ouers op die oomblik nie kan lees nie en dat hulle dus nie die leesgewoonte aan hulle kinders kan oordra nie.

    Die probleem word vererger deur armoede en ’n algemene tekort aan toegang tot boeke.

  • Geletterdheid op sigself is egter nie voldoende nie. In Suid-Afrika is ’n leeskultuur nooit aktief deur die skoolstelsel waaraan die meeste swart kinders onderworpe was, bevorder nie. Anders as by hulle voorgangers die sendelinge, was een van die uitgangspunte van die ontwerpers van Bantoe-onderwys juis om kinders “funksionele” lees en skryf te leer — basies, hoe om goed genoeg te kan lees en skryf om in ’n eietydse werksomgewing te kan funksioneer. Kortom, Bantoe-onderwys het niks gedoen om ’n liefde vir lees en boeke by leerlinge aan te kweek nie. Voorgeskrewe boeke en skryfoefeninge was nie ontwerp om leerlinge met goeie literatuur en skeppende skryfwerk vertroud te maak en so ’n waardering vir ’n boekkultuur te skep nie; dit het slegs ongeletterdheid redelik suksesvol bekamp.

  • Maar ’n verwikkelder struikelblok nog in die pad van ’n breed-gebaseerde lees- en skryfkultuur in Suid-Afrika as ’n ondoeltreffende onderwysstelsel, is die taalsituasie. In die meeste Afrika-lande suid van die Sahara vind ’n mens die merkwaardige situasie dat jong mense nie in hulle moedertaal onderrig word nie, dikwels nie eens op laer skool nie, en sekerlik nêrens op tersiêre vlak nie. Met die uitsondering natuurlik van die moedertaalsprekers van Engels, Frans en Portugees, en dié Afrikane wat hierdie “koloniale” tale as huistaal aangeneem het; die Afrikaanse taalgemeenskap in Suid-Afrika is die een treffende uitsondering. Dit is maklik om in te sien dat vir die meeste mense lees en skryf in ’n tweede of derde taal nie natuurlik of maklik sal kom nie. Om in ’n “vreemde” of aangeleerde taal te skryf is veral moeilik, omdat die skrywer dikwels nie ten volle vertroud is met die subtiliteite en nuanses en emotiewe waarde van woorde nie. Jy is eenvoudig nie so vlot en natuurlik in ’n aangenome taal as in die taal wat jy van jou moeder geleer het nie — tensy jy ’n besonder voortreflike opvoeding ontvang het, verkieslik van ’n moedertaalspreker van daardie taal.

’n Kwessie van geld

In vergelyking met die meeste Afrika-lande het Suid-Afrika steeds ’n lewenskragtige inheemse boekebedryf, veral wat betref nie-tersiêre opvoedkundige boeke. Geen skoolteksboeke word byvoorbeeld direk ingevoer uit Brittanje, die voormalige koloniale mag nie. ’n Aansienlike getal multi-nasionale uitgewershuise doen wel al dekades lank sake in die land — mense soos Heinemann, Macmillan, Oxford University Press, Longman. Maar naas hulle is volledig Suid-Afrikaanse maatskappye ontwikkel, meestal met Afrikanerkapitaal, wat sowel opvoedkundige as algemene boeke publiseer — boeke wat in Suid-Afrika geskryf, taalkundig versorg, ontwerp, gedruk en gebind word. Party van dié uitgewers bestaan al sewentig, tagtig jaar — die eertydse Nasionale Boekhandel wat vandag onder die imprint Tafelberg sake doen, byvoorbeeld. Tog word daar baie meer Engelse algemene boeke uit Brittanje en die VSA ingevoer as wat plaaslik vervaardig word. Dit is natuurlik die gevolg daarvan dat Engels ’n internasionale taal is en Suid-Afrika ’n voormalige kolonie.

As ’n mens in ’n klein mark sake doen, is die publikasie van gehaltefiksie — romans, kortprosa, drama en poësie — sowel as nie-fiksie met ’n kulturele inslag, selde winsgewend. Die rede: die produksiekoste van boeke wat in klein oplae gedruk word (die gemiddelde oplaag van ’n Engelse literêre roman in Suid-Afrika is 2 000; in Afrikaans kan ’n mens gewoonlik 3 000 waag) skrik uitgewers normaalweg af. Tensy hierdie boeke op een of ander manier gesubsidieer word. Voor 1994 was die uitgee van sekere publikasies (esoteriese digbundels, byvoorbeeld) net moontlik omdat hulle deur die verkoop van groot getalle boeke aan opvoedkundige inrigtings “gekruis-subsidieer” is. Die Suid-Afrikaanse regering het dus as ‘t ware die plaaslike algemene uitgewers tot 1994 in staat gestel om so ’n verskeidenheid inheemse literatuur uit te gee. Want in daardie jare is genoegsame getalle aanvullende skoolleesboeke en biblioteekboeke aangekoop om algemene uitgewery lewensvatbaar te maak, al het hulle ook dikwels boeke uitgegee wat net ’n klein uitgelese gehoor aanspreek.

Soos almal weet, het die situasie drasties verander as gevolg van die nuwe regering se poging om eenvormige onderwys vir al die voormalig verskillende groeperings in te stel. Die uitwerking van die afgelope paar jaar se gebrek aan institusionele boekaankope het die algemene uitgewers gedwing om veral die kommersiële waarde van hulle lys te oorweeg en nie net die literêre of kulturele waarde nie. Baie minder poësie word byvoorbeeld tans gepubliseer — in Engels nog veel minder as in Afrikaans, en in die Afrika-tale word so min romans en kortverhale tans uitgegee dat ’n aantal literêre pryse onlangs nie toegeken kon word nie.

Selfs voor 1994 is Suid-Afrikaanse uitgewers van Engelse fiksie egter al op ’n ander manier gekniehalter — deur die skrywers self. Omdat Engels ’n internasionale taal is; omdat daar histories sterk bande met Britttanje bestaan, en omdat die mark vir plaaslike fiksie hier so klein is, verkies baie skrywers om hulle boeke in Brittanje eerder as in Suid-Afrika uit te gee. Dit beteken dat die werk van Gordimer, Coetzee en Brink, selfs ook Nicol en Jooste se boeke, deesdae in Engeland versorg en uitgegee word en terugingevoer word hierheen. ’n Mens het begrip vir die skrywers se keuse, maar dit beteken wel dat hierdie bekendes wie se werk hier in veel groter getalle as die gebruiklik 2 000 oplaag sou verkoop, nie die sukkelende Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf direk ondersteun nie.

Dit dan is die agtergrond waarteen die inheemse Suid-Afrikaanse uitgewer werk en ’n lewenskragtige en gevariëerde inheemse Suid-Afrikaanse literatuur probeer aanmoedig en uitbou. En boonop ook nog ’n bydrae wil maak om die ongelykhede van die verlede reg te stel.

Hoe lyk die algemene boek wat in die “ou” Suid-Afrika uitgegee is?

’n Mens kan die sinvolste hierop antwoord deur kortliks na die verskillende tale te kyk: Engels, Afrikaans en die Afrika-tale.

Engels:
Dit is ironies dat Suid-Afrikaanse skrywers wat in Engels skryf in die dae van Apartheid baie meer geleenthede gehad het as vandag. Die politieke belangstelling in die land het toe ’n mark geskep vir boeke uit hierdie geweste. Maar die belangstelling het ’n prys gehad: Mense was basies geïnteresseerd in boeke wat die politieke situasie weerspieël het en die diskriminasie waaraan swartes of enigiemand wat die regime aktief teengestaan het, onderworpe was. Met die gevolg dat Engelse skryfwerk op enkele uitsonderings na littérature engagée geword het. Veral oorsese kerkorganisasies het algemene uitgewers soos Ravan Press en Skotaville gul ondersteun sodat hulle die sogenaamde “struggle”-literatuur en nie-fiksie kon uitgee, boeke wat dikwels in Suid-Afrika self verbied was. David Philip, wat ook welbekend was vir sy anti-regeringshouding en uitmuntende publikasies, het nie befondsing ontvang nie, maar kon ’n goeie uitvoernetwerk opbou en daardeur solvent bly.

Die nadeel hiervan was dat skrywers wat nie geïnspireerd gevoel het om politieke issues in hulle werk aan te spreek nie, nie ’n uitgewer kon vind nie. Baie min polities “onskuldige” romans of gedigte het byvoorbeeld die lig gesien. Daar was eenvoudig nie ’n aanvraag daarna nie. Die teenoorgestelde is min of meer vandag waar: daar is min belangstelling in die vroeëre “struggle”-literatuur, en sedert 1994 het Ravan en Skotaville as algemene uitgewers verdwyn, en David Philip het sy fokus verbreed om sy lys kommersieel meer lewensvatbaar te maak.

Afrikaans:
In die konteks van Afrika is die Afrikaanse boekebedryf niks minder nie as ’n wonderwerk. Vir ’n taal wie se amptelike status eers bietjie meer as 75 jaar gelede erken is en wat vandag deur slegs ongeveer vyf miljoen mense gepraat word, spog dit met ’n verstommende literatuur en gesonde uitgewersbedryf. Dit is hoofsaaklik te danke aan die feit dat die taal Europese wortels het en gevolglik ’n ou geskrewe literatuur het om uit te put, terwyl dit terselfdertyd geen mededinging ondervind, soos die geval is met Engels, van oorsese invoere nie. Byna elke denkbare soort boek word in Afrikaans geskryf en uitgegee, van digbundels, kookboeke, toeristegidse, volkleurkoffietafelboeke, literêre fiksie en liefdesverhale tot woordeboeke en kinderleesstof. Al hierdie boeke word vir plaaslike verbruik gepubliseer, en tog is ’n redelike getal Afrikaanse skrywers elders in vertaling beskikbaar.

Maar Apartheid het ook sy uitwerking op die Afrikaanse boekwêreld gehad. Hoewel meer as 60% van Afrikaanssprekendes nie wit is nie, was daar tot baie onlangs opvallend min swart — of meer spesifiek: bruin — Afrikaanse skrywers. Dit kan nie soseer gewyt word aan doelbewuste diskriminasie nie, maar was eerder die gevolg van ’n gebrek aan begrip by die hoofstroom Afrikaanse uitgewershuise vir die sosio-ekonomiese en opvoedkundige agtergrond van die oorgrote meerderheid bruin mense. Dit het daartoe gely dat voornemende bruin skrywers nie welkom gevoel het by die gevestigde Afrikaanse uitgewers waar hulle sou moes aanklop nie; die vervreemding was so erg dat talle individue wat Afrikaans tuis praat dit nooit eens oorweeg het om ’n manuskrip in Afrikaans te skryf en voor te lê nie. Selfs nou, terwyl die meeste wit sakeondernemings in Suid-Afrika die noodsaak voel om swart en bruin en Indiërmense in diens te neem, onder meer om hulle anderskleurige klante op dié wyse te akkommodeer, word die grootste Afrikaanse uitgewerye nog steeds byna eksklusief deur wittes beheer en bestuur. (In alle billikheid moet ’n mens egter byvoeg dat daar tot onlangs drastiese terugsnoeiing in alle sektore van die uitgewersbedryf was as gevolg van die ineenstorting van die skoolboekmark, en dat dit in dié omstandighede uiters moeilik is om regstellende aksies uit te voer.)

Afrika-tale:
Soos die term “afsonderlike ontwikkeling” reeds aandui, was dié beleid gebaseer op die aparte ontwikkeling van al die verskillende etniese en kultuurgroepe in die land, met sterk klem op moedertaalonderrig in die primêre skool. Om dié rede is die uitgee van leesboeke in die verskillende Suid-Afrikaanse swart tale by wyse van skoolvoorskrywing aangemoedig, en ondersteun deur die staat.

Dit is ’n verdere ironie dat skrywers in die Afrika-tale ook beter daaraan toe was voor 1994 as vandag. Weer is dit die gevolg van die tydelike ineenstorting van die skoolboekmark. Daar is op die oomblik eenvoudig nie genoegsame aanvraag na dié boeke nie, en uitgewers bring dus geen nuwe titels op die mark nie. Soos reeds opgemerk, kon party van die literêre pryse wat ingestel is om literatuur in die Afrika-tale aan te moedig en te erken — onder meer sommige van die MNet- en Nasboekpryse — onlangs nie toegeken word nie as gevolg van ’n gebrek aan inskrywings.

Of boeke in die nege erkende Suid-Afrikaanse Afrika-tale weer in die nabye toekoms benodig sal word vir gebruik op skool of nie, die situasie rondom Afrika-taalliteratuur is uiters prikêr. En wel vanweë die houding van die moedertaalsprekers van die verskillende tale self. Baie onderskryf nie die gebruik van die moedertaal op skool en in amptelike plekke nie. Die moedertaal word met vreugde tuis gebruik en vir kommunikasie binne die sosiale groep, maar dit lyk of weinig stedelike swart mense ten gunste is van die moedertaal buite hierdie beperkte konteks.

Uitgewers ondervind dat met die uitsondering van die bekende Zoeloe-digter Mazisi Kunene, dit hoofsaaklik akademici en swart skrywers in landelike gebiede is wat in die Afrika-tale skryf. Daar is voor die hand liggende redes hiervoor. Om net enkeles te noem:

  • die lesers in die moedertaal is uiters beperk, en so is die potensiële boekkopers;

  • om in die moedertaal te skryf het oor die algemeen weinig status omdat boeke in die verlede byna uitsluitlik geskryf is om die Bantoe-onderwysstelsel te ondersteun, of vir ’n godsdienstige doel;

  • daar is nie ’n noemenswaardige geskrewe literêre tradisie om op te steun en terug te val nie.

Maar miskien is die allerbelangrikste rede, al word dit selde openlik erken, die opvatting dat die moedertaal so ’n bietjie agterlik en nie-progressief is. Byna alle stedelike of verstedelikte swart skrywers verkies om in Engels te skryf omdat dit gesien word as ’n taal van sofistikasie; van die handel en sukses. Engels is per slot van rekening ’n internasionale taal en deur daarin te skryf glo hulle, soos talle wit skrywers trouens ook, dat hulle werk onmiddellik wêreldwyd gekoop en gelees sal word. (Dit is natuurlik ’n volslae mite: ’n skrywer vind baie makliker ’n mark in sy / haar eie land as in die groot, wye wêreld — soos Afrikaanse uitgewerye so duidelik bewys.)

Hoe lyk die algemene boek wat in die “nuwe” Suid-Afrika uitgegee word?

Weer eens is dit makliker om die situasie op te som deur na die twee belangrikste tale te kyk.

Engels:
Die meeste prominente skrywers gaan voort om so produktief soos tevore te wees. Ná Boyhood, skryf J M Coetzee Disgrace waarvoor hy vanjaar sy tweede Booker Prize ontvang het; André P Brink is so prolifiek soos tevore, en gee steeds al sy romans gelyktydig in Afrikaans en Engels uit, die jongste heet The Rights of Desire in Engels en Donkermaan in Afrikaans; Pamela Jooste het ná Dancing with a Poor Man’s Daughter en Frieda and Min pas Like Water in Wild Places die lig laat sien. Mike Nicol se mees onlangs roman, The Ibis Tapestry, is soos al die genoemde Engelse titels hierbo deur Stephen Johnson van Random House SA met groot sukses plaaslik bemark. Dit was ook Johnson wat die internasionale trefferboek van Antjie Krog, Country of my Skull, aangelê en (eerste in Suid-Afrika) uitgegee het. Johnson as uitvoerende hoof in Suid-Afrika van ’n multi-nasionale uitgewershuis, se geesdrif vir Suid-Afrikaanse skrywers verdien spesiale vermelding, want hy gebruik die moontlikhede wat sy maatskappy hom bied om die werk van plaaslike skrywers hier en internasionaal te bevorder.

Maar die geledere van hierdie wit skrywers is die laaste vyf jaar aangevul deur gekleurde skrywers wat óf deur allerlei amptelike beperkinge aan bande gelê is óf wat ’n tyd lank geswyg het óf wat heeltemal nuut is op die toneel. Almal van hulle verkies gelukkig nog dat hulle werk eerste in Suid-Afrika uitgegee word.

Die bekendste is waarskynlik Achmat Dangor wie se Kafka’s Curse (1997) Nadine Gordimer laat opmerk het: “This is a South Africa you haven’t encountered in fiction before.” En dit is inderdaad so: die Suid-Afrikaanse werklikheid word op ’n meer speelse manier uitgebeeld as wat moontlik was in die ernstige dae van Apartheid.

Bridget Pitt se debuutroman, Unbroken Wing, kyk ook op ’n ligter wyse as wat vroeër denkbaar was na die onlangse verlede en die “struggle”. En in haar debuutnovelle, Shark’s Egg, bemoei Henrietta Rose-Innes haar glad nie met die “openbare” lewe nie, maar met uiters private ontnugtering en groei.

As ’n mens één verskuiwing in die Engelse literatuur van ná 1994 kan aandui, dan sou dit inderdaad wees dat skrywers — wit en swart — nie meer verplig voel om die land se politiek so ernstig op te neem nie. Om polities so korrek te wees nie.

Tog sal dit lank neem vir skrywers om die trauma van ons onlangse geskiedenis uit hulle gestel uit te skryf. Twee skrywers wat byvoorbeeld albei na ’n afwesigheid van byna drie dekades na die land teruggekeer het, ondersoek die verlede in hulle skryfwerk — om die hede beter te kan belig en te begryp. Rayda Jacobs en Arthur Maimane gaan op twee uiteenlopende wyses te werk: Jacobs speur die vermenging van bloed aan die suidpunt van Afrika in drie historiese romans na om tot ’n begrip te kom van wat in die verlede — en hede — van Suid-Afrika se “middle children” lê. Maimane kyk vanuit die splinternuwe Suid-Afrika na die ontmenslikte sestigerjare in Johannesburg en die effek wat dit toe gehad het en die neerslag daarvan nou aan die hand van veral een swart man.

Nog ’n interessante Engelse genre wat sedert 1994 na vore gekom het, sou ’n mens “informele outobiografieë” kon noem — vertellings deur oënskynlik gewone swart mense van op die oog af ware gebeurtenisse. As ’n mense egter dieper op die saak ingaan, beweeg die vertelling dikwels reeds in die rigting van fiksie. Die belangrikste is egter dat al hierdie vertellings — of dit deur Jimmy Matyu, Linda Fortune, Johnny Masilele, Rrekgetsi Chimeloane of Nomvuyo Ngcelwane is — lig werp op aspekte van die Suid-Afrikaanse werklikheid wat nog nie vantevore in boeke ontgin is nie. En veral nie van binne-uit deur mense wat dit intiem ken nie. Dis is weer eens opvallend en betekenisvol dat hoewel elke skrywer se lewe op een of ander manier deur Apartheid geaffekteer is, hulle hulle nie daaroor verknies nie. Die politiek is iewers in die agtergrond, nooit in die voorgrond soos voorheen nie. Dit is ook opmerklik dat dit die ouer skrywers is wat terugkyk na die verlede terwyl die “bad old days” nie as sodanig in die jonger skrywers se werk uitgebeeld word nie.

Nog ’n ironie waarop gewys moet word, is dat ’n hele aantal swart skrywers wat vóór 1994 vir hulle ’n goeie skryfreputasie aan die opbou was, nou in die gunstiger politieke omstandighede byna nie tyd het om skeppend te skryf nie. Hulle is almal naamlik in hoë en verantwoordelike posisies aangestel: Njabula Ndebele, Mandla Langa en Achmat Dangor, om maar ’n paar te noem, sukkel almal dikwels om manuskripte waaraan hulle werk, afgerond te kry.

Afrikaans:
Die mees beduidende ontwikkeling die afgelope paar jaar is die debutering van ’n hele aantal gekleurde skrywers. Verstommend genoeg is al die skoolopleiding van al die belangrikstes wat tot nog toe gepubliseer het, op ’n enkele uitsondering na, op een of ander tyd onderbreek of moes dit gestaak word. Die mees spektakulêre sukses is dié van A H M Scholtz, die “standerdvyf-boytjie” wat sy debuut op 72 gemaak het met Vatmaar, ’n buitenissige roman wat binne ’n jaar met drie literêre pryse bekroon is en met goeie gevolg in Nederlandse en Duitse vertalings uitgegee is, en pas ook in Engels verskyn het.

Dit is interessant dat die werk van al dié nuwe skrywers, selfs dié met ’n baie nederige agtergrond, dadelik deur die Afrikaanse literêre establishment verwelkom is. Waarskynlik omdat die taal en letterkunde deur die nuwe omstandighede bedreig word, en baie Afrikaanssprekendes glo dat net diversifikasie die toekoms kan verstewig. Maar ’n minder siniese verklaring sou wees dat die Apartheidverdeling van die taalgemeenskap in “wit” en “kleurling” kunsmatig was en dat mense wat nooit deur wetgewing geskei moes gewees het nie, uiteindelik weer bymekaargekom het.

Die toekoms?

Dat die algemene uitgewersbedryf in Suid-Afrika deur ontsettende probleme in die gesig gestaar word, is nie altemit nie. Die grootste belemmerings is die gebrek aan ’n breë lees- en boekkoopkultuur, ongeletterdheid en armoede.

Aan die ander kant, Suid-Afrika is aan die voorpunt van die sogenoemde Afrika-renaissance, onder leiding van ’n president wat die waarde van boeke besef en dikwels uit die wêreldliteratuur aanhaal. ’n Mens kan dus aanvaar dat die ineenstorting van die skoolboekmark en die gebrek aan biblioteekaankope tydelik sal wees. Die teken is klaar dat daar spoedig ’n daadwerklike poging gaan wees om lees vir ontspanning en selfontwikkeling op skool aan te moedig: Kader Asmal, Minister van Opvoeding, het onlangs afgekondig dat 2001 amptelik die “Jaar van die Boek” gaan wees. Want die owerhede besef klaarblyklik die nood van die saak.

Maar die heropbloei van die algemene uitgewery — wat sal volg as groot getalle boeke in skole en biblioteke ingevoer word — is vir ’n heel ander rede ook dringend noodsaaklik. Dit is vir baie ’n hartseer saak dat die meeste groot algemene uitgewershuise in Suid-Afrika steeds in wit besit is en onder wit bestuur staan. En dit sal helaas die geval bly tensy daar meer geld te maak is uit uitgewery. Swart entrepreneurs sal eenvoudig nie gemotiveer wees om te belê in ondernemings wat nie ’n behoorlike wins kan toon nie. En ’n boekkultuur sal bedreig bly totdat die besit en bestuur van plaaslike uitgewershuise die samestelling van die totale bevolking weerspieël. Dan eers sal boeke nie meer so ’n bietjie as Eurosentries bejeën word en net noodsaaklik vir een of ander sertifikaat beskou word nie.

Op die oomblik is die mees positiewe tekens vir ’n blink toekoms dus die oplewing van nuwe skrywers en die ontginning van nuwe temas en genres. Skryfwerk wat kom uit histories agtergestelde gemeenskappe, skrywers wat uit ballingskap terugkeer en hulle werk eerste hier plaaslik wil uitgee, gevestigde skrywers wat aangevuur word deur nuwe moontlikhede en die groter intellektuele vryheid wat die wegdoen van Apartheid meegebring het.

Met die heropbloei van die algemene uitgewery sal hulle hopelik ook meer geld kan maak, want hoe meer boeke verkoop word, hoe groter die outeursvergoeding.

Nee wat, voor in die wapad brand ’n lig in al die skakerings van die reënboog. (En dalk wag daar nog ’n pot goud aan die voet van die reënboog ook!)

LitNet-leser: Wat dink jy van hierdie bydrae? Twee pryse van R1000 elk word toegeken aan die interessantste reaksies op referate. Stuur jou opinie aan SêNet by redlitnet@mweb.co.za

Besoek die beraad se virtuele boekuitstallings en ondersteun ons skrywers deur hul boeke via LitNet te bestel.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.