SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Skrywersberaad-argief

Skrywersberaad




  Alexander Strachan
is op 9 Junie 1955 in Ladysmith gebore. Hy matrikuleer in 1972 aan die Hoër Landbouskool Tweespruit en studeer aan die universiteite van die Oranje-Vrystaat en Pretoria. Agter die suikergordyn (Human & Rousseau) is sy mees onlangse publikasie. Hy is ’n vlot spreker van Zoeloe en hou hom deeltyds besig met industriële teater wat hy volledig via die medium van die inheemse tale aanbied. Hy boer tans met wild.

“Die nuus dra”

- noma kanjani -
(hoe ook al)
a celebration of Afrikaans

Ons is besig om wild te vang toe die oproep tot die beraad kom. Dis soggens vroeg op en skemerdonker wanneer ons die laaste bokke van die dag agter op die trok gekalmeer en in lotte gesorteer het. Dan maak ons ’n paar drinks, beplan die volgende dag se vangs en gaan vroeërig slaap. Dis ons program vir die volgende twee weke. Vir referaat skryf is daar dus nie veel tyd nie. Behalwe in die middel van die dag wanneer ons op die groot plaasstoep op matrasse lê en rus. Dis te warm om te vang, die wild in die veld moet in elk geval settle en die vangers kla oor seer lyf. Dis hoe ek my speech aanmekaarsit. Oor hierdie lui, vervelige uur wanneer alles meteens tot stilstand gekom het en die enigste geluid die geroep van die umrabaraba-spelers is wat hul kleingeld in die skadu van die soetdorings verwed. Of iemand wat nie sy slaap op die stoep kan kry nie en opstaan om in die plaaspad te gaan skop om te sien of die wind nie al weer gedraai het nie.

Agter die suikergordyn
Die jakkalsjagter
'n Wêreld sonder grense
Nou te koop
Ons is ’n groot span: Daar is die helikoptervlieënier (bekend as die pilot), die wildvanger, die wildvanger se assistent, dertig vangers en ek. My werk is by die vyfde gordyn. Soos die bokke in die vangtregter af beweeg, word die een gordyn na die ander agter hulle toegetrek sodat hulle nie kan omdraai nie. Die vyfde gordyn is die laaste een. As jy hom getrek het, jaag jy die wild teen die ramp op tot binne-in die vragmotor. En jy roer jou litte, want die bokke moet hulle momentum behou. Die laaste ding wat jy wil hê, is dat hulle omdraai en jou gaffel of trap. In hierdie oomblik van groot adrenalien gryp jy instinktief terug na vergete tye toe jy as kind beeste in die drukgang ingejaag het. Lé phambili! (Doer voor!), Suka la kimi! (Weg hier by my!) en Phakathi! (Binne!) jaag jy die bokke in Zoeloe teen die ramp op.

Dan wag jy dat die tjopper die volgende klompie wild aankeer. Jy kan niks sien nie, jy hoor net die aanhoudende gedruis van die tjopper. Later kan jy die gewag nie meer uitstaan nie.

“Wat doen die fokker?”

“Hy jive,“ roep die wildvanger terug.

Ons kan nie sien nie; ons hoor net. Daarom is dit eers tydens die lui uur van die dag dat ek uitvind wat hy bedoel. As die bokke nie by die bek van die boma wil in nie, dan sak die helikopter tot op hulle vlak; hy hang roerloos in die lug met net sy stert wat heen en weer beweeg, so jive hy.

Die wildvanger se assistent, oorspronklik uit die Oos-Kaap, het Engels grootgeword. Maar dis nie moeilik om af te lei dat die meeste van sy wildvangoperasies op plase geskied waar die eienaars Afrikaans is nie. Op die stoep en saans wanneer ons drinks maak, praat ek en hy Engels met mekaar: hunting expeditions, eco-tourism, match fixing en land claims; Sir Laurens van der Post en Grahamstown. Ek vermoed dis die geluid van die tjopper. Sodra die rotors begin draai en die stof ’n streep in die lug opstyg, slaan hy oor na sy vaktaal — die taal van die boere in die Noordelike Provinsie. Red Hartebeest verander onmiddelik in rooihartbees. Dis gemsbok, blesbok, rooibok en waterbokrooigras, kiepersol, gladde draad en doringdraad.

Wat taal betref, wissel wildvang van totale stilte (wanneer almal in die boma asem ophou terwyl die wild aankom) na groot welluidendheid (sodra die bokke in die boma is). Die dertig vangers kom almal uit die wêreld van die klimop: Hluhluwe. Dis hulle taal wat in die boma domineer: amadube (sebras), umkhombe (witrenoster) en impala (rooibok). Die vangkraal strek oor bykans ’n kilometer met vangers op verskillende punte. Mens roep lekker oor en weer so op Zoeloe, veral as dit ver is: Don-sa-ni! (Trek!), Va-la-ni! (Maak toe!) en Wo-za-ni! (Kom!), trek die vokale deur die dun winterlug.

Pilots is diverse mense. Hulle het baie plekke gesien, ken dikwels ’n paar woorde in die een of ander uitlandse taal. ’n Hele paar van hulle het boonop ’n klap van die bosoorlog in hul agtergeskiedenis weg. Maar ’n pilot se hoofpassie bly sy tjopper. Dis waar jy hom vroegoggend kry, wanneer die ryp wit op die veld lê: aan sy tjopper se sy. Hy het pas die kombers (soos met stoetperde) van sy tjopper afgetrek en is nou besig om hom te poleer (lees roskam). Pilots praat veral maklik Engels. Uit die aard van hul beroep is dit verstaanbaar dat hulle hulself as ietwat bo-heems beskou. Daarom hou hulle daarvan om dinge van bo af te bekyk. Jy sal dus selde kry dat ’n pilot in die vangboma self kom. Sy werk is om die troppie bokke in die veld te gaan haal, af te sny van die hooftrop en hulle aan te keer tot in die bek van die vangtregter. Dan is hy klaar. Hy land op die werf, maak vir hom koffie (ongeraak deur die bedrywigheid wat in die boma afspeel), gaan lê op die stoepmatras, haal ’n stukkie biltong uit sy overall se sak en kerf ingedagte daaraan. Hy is duidelik besig om aan die ver plekke te dink wat vir ons te voeters nie beskore is nie.

Tydens die meeste groot wildvangoperasies sluip daar iewers ’n fokop in. ’n Fokop en vloek gaan gewoonlik hand aan hand. En die taal wat hom by uitstek hiertoe leen, is blykbaar Afrikaans. Die fokop kan hom op verskillende maniere aanbied. Die gordyn word te vinnig getrek en die bokke is nog nie verby nie. Daar was dus ’n probleem met die kommunikasie. Het die pilot te vroeg die sirene getrek? Onthou, die vangers kan nie die bokke sien aankom nie. Hulle sit agter ’n bos en wegkruip met hul rûe na die aankomende wild toe. Of het een van die vangers nie plat genoeg gelê nie en die bokke het hom gewaar? Dis ’n groot fokop, want die wild wat in die bek van die tregter omgedraai het, praat met die ander wild op die plaas. So versprei die geheim van die plasing van die tregter se bek. Dit neem twee vol dae om die boma op te rig. Om hom af te breek is ’n halwe dag se werk en om op ’n ander plek te gaan oprig, is weer twee dae. Dis beslis ’n groot fokop as die aap so uit die mou gelaat word.

Daar is ook ander potensiële fokops. Bulle in plaas van koeie in die boma, blesbokke in plaas van rooihartbeeste, die pilot het die bokke te vinnig gejaag, die vangers raak deurmekaar met die merkery en niemand is skielik seker watter bokke is gekalmeer en watter nie, twee bakleierige bulle beland in dieselfde kompartement, die bokke ontsnap agter uit die vragmotor terug in die boma in …

Die Afrikaanse leksikon bied hier ’n wye spektrum om van te kies. “Fok,” “kont,” en “doos” blyk nietemin gewilde keuses te wees.

Na die fokop kom die uitval. Die wildvanger en die pilot is haaks oor die plasing van die tregter se bek. Dinge lyk anders uit die lug, hou die pilot vol. As die wildvanger net bereid was om vir ’n verkennende vlug te betaal, kon hy vir hulle duidelik uit die lug gewys het hoe die voetpaadjies (die wild se natuurlike roetes) loop. Dis hoekom hy nou so sukkel om die bokke by die bek ingejaag te kry. Nie oor sy onvermoë met die tjopper nie, maar oor hulle wil hê hy moet die wild in ’n onnatuurlike rigting indwing. That’s the bottom line.

In die boma is die assistent en die vangers aan mekaar oor die gordyne wat vashaak. Dis ’n hewige eenverkeerdebat waarin die gebruik van die woorde cha, madoda (nee, manne) nibobheka (julle moet julle oë oopmaak) en sengithukuthele (ek is die moer in) ’n hoë gebruiksfrekwensie het. Wanneer die assistent wegstap, spring die vangers aan mekaar. Kanti ngikutshelile! (Ek het jou mos gesê!).

Met die ys nou behoorlik gebreek, ontstaan daar ’n ligte onenigheid tussen die wildboer en die wildvanger oor die getal bokke op die vragmotor. Die wildvanger en die wildboer se tellings bly konsekwent. Jy kan geld daarop verwed: die wildvanger tel altyd minder en die wildboer meer. Die taal tussen hulle is ingehoue. Dis dié twee spelers in die operasie wat nie kan bekostig om in onmin te verval nie. Daar’s te veel op die spel, te veel kostes reeds aangegaan, te veel energie ingesit.

En dan is daar ’n ander krapperigheid ook: die buitelandse jagter wat intussen opgedaag het en wag om in die veld te kom. Die wildboer flikflooi, want hy wil hê die hele wildvangspan moet laag lê. Hy kan nie bekostig dat die jagter weet hier staan ’n klomp gekalmeerde bokke op hok nie. Wat van die onherbergsaamheid van Afrika, die manlike ervaring, die groot uitdaging van die jag, die kragmeting tussen jagter en prooi? Gedagtig aan sy plaas se eer wat op die spel is, neem hy hom voor om vir die wyle meer inskiklik met die wildvanger te wees.

Met die onenigheid oor gordyne en bokgetalle uit die weg geruim, staan die hele wildvangspan nou soos een man saam teen die wind wat gedraai het. Dis God se hand. In ’n oogwink verskyn die umrabaraba-klippies. Die pilot trek sy tjopper se jas aan. Die wildboer dink oor hoeveel hy die jagter gaan charge. Die rand-dollar maak alles mooier, maar moeiliker om so vinnig in jou kop uit werk. Die wildvanger en sy assistent gooi hul hande in die lug. Time is money! Maar wat kan jy tog doen? Net sodra almal hul lê op die stoep gekry het, draai die wind reg en waai by die tregter se bek in. Die wildvanger en sy assistent vlieg regop, maar onthou dan dat die buitelandse jagter nou in die veld is. En dit terwyl die wind reg waai. “Sê vir die kont hy moet sommer ’n bok in die boma kom doodskiet, die horings is klaar gemeet!” Die vangers sak terug in die skaduwee van die soetdorings.

Die Amerikaanse jagter het sy kleinseun gebring om ’n trofeebok te kom skiet. Hulle lyk almal dieselfde: opryg-boots, swart jeans, langmouhemp, cowboy-hoed. Amal behalwe een is luidrugtig: die nuwe skoonseun (nie die pa van die kind nie). Die oupa (John) en sy kleinseun (John-John) is die meeste opgewonde oor die jag. Tussen die klomp van ons op die vier-by-vier het ons nou net een taal om in te kommunikeer: Amerikaans. Buiten afwys-taal moet die taal nou ook die funksie van skindertaal verrig. Tussen die op en af klimmery deur verseker die oupa my dat daar nie ’n druppeltjie bloed van nuwe skoonseun deur John-John se are vloei nie. Die enigste rede hoekom nuwe skoonseun op hierdie jagtog is, is ter wille van sy dogter, wie se oë na die Afrika-ekskursie hopelik sal oopgaan. Teen my verwagting in skiet John-John die bok met een skoot dood. Die oupa oorreed my om saam met John-John langs die dooie bok vir ’n foto te poseer. So kry elkeen ’n beurt — behalwe natuurlik nuwe skoonseun wat heeltemal geïgnoreer word. Op pad terug na die plaashuis toe, ry John-John wydsbeen oor die dooie bok se rug. Nou is die oupa vrygewig. Het ek enigiets anders op die plaas wat John-John kan skiet? Hy tik-tik met drie vingers teen sy geldsak. Gedagtig aan die wildvangspan wat in ongeduld by die boma wag, is dit maklik om ’n einde aan die sirkus te maak. We call it a day. Geld kan nie alles koop nie, lieg ek vir John oor die werklike rede vir my weiering. Dit vang die oupa op die verkeerde voet. Dit het hy nie verwag nie. Maar so gee ek hom iets om by te las wanneer hy die storie van John-John se merkwaardige prestasie in die buiteland gaan oorvertel.

Die bure, altyd nuuskierig, maak ook ’n draai. In hulle dubbelkajuit-vier-by-vier. Hoekom het ek vir my ’n single cab four-by-four gekoop en nie ’n double cab nie? begin die gesprek. “Ek bedryf ’n wildboerdery, nie ’n taxi rank nie,” antwoord ek. Dis moeilik om hierop te reageer. Die gesprek word dadelik in ’n ander rigting gestuur. Hierdie wildvangers is heeltemal te duur, ons moet ons eie wildvangspanne hê. So kry die geselskap weer koers.

Dis laatmiddag en die pilot bly jive. Ons kan hom nie sien nie, want ons sit met ons rûe na die tregter se bek toe. Die pilot jive, hoor ons. Hoe lank kan mens nou ook dans? wonder ek. Vir die soveelste keer vervat ek my greep op die vyfde gordyn. Hier sit hy hulle nou in, dink ek elke keer. Maar hy bly jive. Ons wag en ons wag. Dan vlieg die pilot met ’n wye boog oor die boma en land in ’n stofstorm op die werf. Vir die eerste keer kom hy self aangestap na die boma toe waar ons onder die seilmure uitpeul. The news has spread, sê die pilot op Ingels en gee ’n verwytende kyk in die rigting van die assistent-wildvanger oor die plasing van die boma se bek.

Fok, sê almal, want niemand weet wat of wie om te glo nie. Maar die manier waarop die pilot sy tjopper op die werf neergesit het en die feit dat hy na al hierdie dae in lewende lywe in die boma staan, laat ons sy woord aanvaar: The news has spread.

Wat nou?

“Nette,” sê die wildvanger, “ons vang hulle nou in nette.”

Die Hluhluwe-span moet tog ’n bietjie Afrikaans verstaan, want toe die wildvanger sê “nette”, toe gaan daar ’n spontane gemurmureer op.

Anders as met seilgordyne, waar jy nie ’n hand op die bok lê nie, werk nette anders. Jy jaag hulle in die nette in en vang hulle met die hand. Vir die vangers beteken dit blou kolle en kneusplekke.

“Nets,” sê die pilot en loop na die veiligheid van sy tjopper toe.

Ons sit gereed vir die blesbokke om in te kom. Alles klink goed. Aan die egalige gedruis van die tjopper hoor ons die pilot het nog nie begin jive nie. Dan kom die boodskap oor die tweerigtingradio. Dis nie blesbokke wat hy bring nie, dis swartwildebees. Al die vangers sit regop. Fok! Wie’s hierdie tyd van die dag lus vir ’n bedonnerde bok? Maar daar is nie nou tyd vir dink nie. Die pilot trek die sirene en die vangers op die eerste gordyn hardloop van die buitekant van die opening na mekaar toe. Die swartwildebeeste storm in die nette vas, party wikkel hulle los en draai om, mis ons rakelings. Dan is die vangers op hulle. Drie per swartwildebees: een op elke horing en een op die stert. As wildboer is ek deeglik daarvan bewus dat ek “van voor af moet lei”. Ek hou dus aan een van die swartwildebeeste se stert vas.

Elke boksoort het sy eie taal. Die hoë roep van die sebras op die vlakte en die swartwildebees se gnou. Toe hulle in die nette vashardloop, klink die swartwildebees egter meer soos ’n trop beeste in ’n kraal.

Met die gebulk in ons ore laai ons. Ons lig hulle een vir een agter op die vragmotor. Een van die vangers los te stadig en die swartwildebees skop. Msun’wenja (hond se kont). Dis moeilik om af te lei of dit op die vanger of op die swartwildebees gemik is. Maar so word drie tale binne een dag ook seksisties broers.

Agter op die trok skommel dit. Die bokke sukkel om hul staan te kry en die drywer skakel die voertuig aan sodat die gedruis van die enjin hulle kalmeer. Die luggie is skielik kouer, die metaalgeluid van die wildtrok se deure skeller. Die dag is verby, ook die twee weke; op die werf brand daar ’n vuur.

Siyabonga, madoda.” (Dankie, manne.).

“It was a tough one.”

“Ek voel hom in my lyf.”

Toe die vrag bokke die nag in ry, wonder ek oor my referaat. Miskien is dit hoe ek Afrikaans ervaar: ’n taal waarvandaan ek gemaklik na twee ander kan oorslaan. Sonder om regtig daaroor te dink.

Behalwe as jy ’n speech moet uitwerk.

14/07/2000

LitNet-leser: Wat dink jy van hierdie bydrae? Twee pryse van R1000 elk word toegeken aan die interessantste reaksies op referate. Stuur jou opinie aan SêNet by redlitnet@mweb.co.za

Besoek die beraad se virtuele boekuitstallings en ondersteun ons skrywers deur hul boeke via LitNet te bestel.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.