SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Skrywersberaad-argief

Skrywersberaad




  Johan Degenaar
is ’n filosoof van Stellenbosch. Hy was ’n dosent in die Departement van Filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch vanaf 1950 tot sy aftrede in 1991. Volgens die establishment (universiteit, staat, kerk) het hy in dié periode heelwat kwaad gedoen omdat hy studente gehelp het om deurlopend kritiese vrae te vra oor belangrike aangeleenthede. Die stelreël van sy lewe en werk is die Sokratiese stelling: “’n Ongeëksamineerde lewe is nie die moeite werd om te lewe nie.” Hy het nie die filosofie laat terugbring op die filosofie self nie, maar het dit oopgesluit na verskillende terreine, veral religie, politiek en kuns.

Afrikaans-wees in Afrika en die Wêreld

’n Ongeëksamineerde Afrikaans-wees
is nie die moeite werd
om deel van te wees nie.

I

Inleiding

Indien ons die tema ernstig opneem dan lei dit tot vrae oor betekenis. Wat beteken dit om Afrikaans te wees? Wat beteken dit om in Afrika te wees? Wat beteken dit om in die wêreld te wees? En onthou, wanneer dit om betekenis gaan, moet ons besef dat betekenis nie gegee is nie maar geskep moet word. En as ons deurvra tot die wortel toe, dan vra ons verskillende vrae eintlik die algemene vraag: wat beteken dit om mens te wees? En meer spesifiek: wat beteken dit om mens te wees in hierdie tyd en op hierdie plek? Om betrokke te raak by hierdie wortelvraag beteken ook dat ’n storie vertel moet word oor die avontuur van menswees.

Hierdie insigte is belangrik omdat dit die aandag vestig op die feit dat die vraag na wat dit beteken om die mens te wees wat jy is in jou partikuliere bestaanswyse in ’n bepaalde konteks die sentrale vraag van die lewe is. Om te verhoed dat ons te maklik in algemeenhede verval, moet ons voortdurend die partikuliere en kontekstuele in gedagte hou. Die formulering van die tema is reeds behulpsaam in hierdie verband deurdat dit die kontekste van Afrikaans, Suid-Afrika, Afrika en die wêreld aan die orde stel.

Voordat ons die onderwerp bespreek, is dit nodig om die aandag te vestig op drie wyses waarop die mens die wêreld ervaar en verstaan en gevolglik ook onderwerpe bespreek, naamlik, die premoderne, moderne en postmoderne ervaringswyses. Dit is ’n vereenvoudigende veralgemening en elke spesifieke geval moet op sy eie meriete geanaliseer word, maar indien dit funksioneel toegepas word, kan dit ons in sommige gevalle in staat stel om die kompleksiteit van kulturele situasies en verskille tussen mense beter te verstaan.

Premoderniteit word gekenmerk deur die afwesigheid van individuele vraagstelling wat die tradisionele verhale van die kultuurgemeenskap kan ondermyn. Die betekenis van die lewe bestaan in die deelname aan die rituele praktyke van die bepaalde gemeenskap en in die aanvaarding van die groep se verhale.

Moderniteit ontstaan wanneer die individu metafories gebore word deur krities vrae te begin vra oor die geldigheid van die tradisionele rites en verhale. Die mite as bron van kennis word vervang deur die rede wat alle heilige huisies afbreek ten gunste van die opbou van ’n redelike sisteem wat in staat sal wees om ’n redelike verklaring van alles te gee. Dit is hierdie gebruik van redelikheid wat gelei het tot die opstel van filosofiese sisteme op soek na ’n meesterkode en tot die ontwikkeling van wetenskap en tegnologie. Verskynsels wat saamhang met moderniteit is die volgende: ideologie, imperialisme, monokulturalisme, globalisering, ensovoorts.

Postmoderniteit bestaan in die afwysing van alle meesterkodes, omvattende stories en finale interpretasies. Van die individu word verwag om selfstandige besluite te neem en deurgaans verantwoordelikheid te dra vir die betekenis wat hy aan woorde gee. In plaas van homogeniteit word heterogeniteit beklemtoon en in plaas van eendersheid andersheid.

Hierdie drie benaderingswyses moet in gedagte gehou word by die bespreking van ons onderwerp omdat dit onvermydelik ’n rol speel ook wanneer dit nie spesifiek genoem word nie.

II

Afrikaans-wees

Die konsep van Afrikaans-wees stel die tema van taal aan die orde. En ons moet nie te gou dink dat ons weet wat dit beteken nie. Daar is ’n neiging, veral in die modernisme, om die mens primêr te sien as redelike wese eerder as taalwese, met die gevolg dat die taal gereduseer word tot blote medium van die bewussyn om gedagtes te kommunikeer. Hierdeur gaan verlore die belangrike funksie van die taal om die ervaring van die mens te artikuleer, om my aan myself bekend te stel en om die bewyssyn te help maak wat dit is, naamlik, ’n reservoir en voedingsbron van al die bewussynsfunksies, soos waarneming, denke, gevoel, intuïsie en verbeelding.

Ek beklemtoon hierdie feit van die mens as taalwese omdat ek aandag wil vestig op die uiters belangrike rol van die taal in die lewe van die mens. Taal is nie bloot ’n toevalligheid van menswees nie, maar sentraal tot ons bestaan. Wanneer die lewe en gedrag van die mens bestudeer word, dan blyk duidelik hoe ’n sentrale rol die taal speel sonder dat die mens daarvan bewus is. Wanneer ’n spreker van ’n taal ervaar dat sy eie taal bedreig word, gebeur dit dat hy die belangrikheid van taal in die algemeen ontdek juis deur respek vir sy eie taal te demonstreer en ook daardie respek by andertaliges te verwag.

As ons nou aandag skenk aan Afrikaans moet ons in gedagte hou watter deurslaggewende rol taal speel in die wyse waarop die mens ervaar wat dit beteken om mens te wees. Die term “Afrikaans-wees” dui op ’n verskeidenheid aangeleenthede wat aan die orde gestel moet word.

Indien ons Afrikaans ernstig opneem, dan moet ons histories te werk gaan en die wyses waarop Europa, Afrika en die Ooste daarby betrokke is, al is dit op verskillende maniere, nie uit die oog verloor nie. Een van die voordele van so ’n benadering is dat ons taal-elitisme wat soms met ras en klas verbind was, kan afwys ten gunste van alle vorme van die taal. Eksklusiwiteit word verruil vir inklusiwiteit.

Om Afrikaans te wees, beteken ook om Afrikaans se verband met apartheid as deel van ons verlede te beskou. Dit lei tot die besef dat taal soos die lewe self, ook ’n terrein is van stryd tussen onderdrukking en bevryding. Die politieke verandering in Suid-Afrika is moontlik gemaak, onder andere, toe Afrikaner-leiers besluit het dat voortbestaan in geregtigheid verkieslik is bo blote voortbestaan. ’n Keuse dus vir Afrikaans as taal van bevryding eerder as onderdrukking. Voor hierdie keuse gemaak is, het sommige Afrikaanssprekendes oor ’n lang tydperk sterk beswaar gemaak teen die feit dat die apartheidsregering, naas baie ander onreg, Afrikaans beledig het deur dit die taal van apartheid te maak. Danksy die proses van demokratisering het Afrikaans verander van die taal van apartheid tot ’n oop taal.

In die lig van bogenoemde punt kan die vraag gestel word tot watter mate Afrikaans-wees met die term “Afrikaner” aangedui kan word. Geld die bevrydende verruiming van Afrikaans ook vir die benoeming “Afrikaner”? Sommige Afrikaanssprekendes wys dit af, ander aanvaar dit. Slabbert (1999:5-7, 55-64) raak die probleem van benoeminge aan in sy boek Afrikaner Afrikaan en verwys daarna as maatskaplike konvensies waarmee hy hom nie volledig vereenselwig nie. Indien hy, byvoorbeeld, as Afrikaner aangespreek word, aanvaar hy dit voorwaardelik vir die doel van gesprek en nie as onkritiese vereenselwiging met ’n vermeende identiteit nie. Hy vind dit absurd om sy “hele bewuswees om mens te wees op te offer vir een bepaalde maatskaplike identiteit”. En boonop word daar in die naam van Afrikaans-wees as Afrikanerskap soveel opgeëis waarin hy ’n weersin het, dat die verleiding groot is om hom aan die problematiek te onttrek. Omdat hy egter nie in abstraksies wil verval nie maar histories wil dink, besef hy dat sy menswees met Afrikaans-wees verbind is. Wat dit egter beteken, is nie ’n uitgemaakte saak nie. Daarom kan hy beweer: “Om ’n Afrikaner genoem te word, is die begin van ’n gesprek, nooit ’n finale uitspraak nie.” By hierdie belangrike siening dat die gebruik van ’n woord die begin van ’n gesprek is, wil ek voeg die insig in die proseskarakter van kennis en die feit dat die mens verantwoordelikheid moet dra vir die betekenis wat hy aan woorde toeskrywe — ook soos in hierdie geval vir die betekenis van die woord “Afrikaner”.

Slabbert besluit dat hy hom moet distansieer van die betekenis van eksklusiwiteit wat op rassegronde met Afrikaans-wees verbind is en dit vervang met taal-inklusiwiteit en ’n gepaardgaande vereenselwiging met waardes soos vrywillige assosiasie en verdraagsaamheid. En omdat hy meen dat die samelewing ons nie die luukse gun om te sê dat ons nie Afrikaners is nie maar wel Afrikaanses of Afrikaanssprekendes of enige sulke benoeminge, stel hy die volgende voor: “Hoekom moet die begrip ‘Afrikaner’ opgeëis word deur ’n klein groepie mense wat ander Afrikaanssprekendes wegdefinieer? Hoekom kan ‘Afrikaner’ nie dui op alle Afrikaanssprekendes wat Afrikaans as taal wil bevorder deur met Suid-Afrika as nasiestaat en met Afrika as ’n kontinent te identifiseer, sonder om hulle historiese wortels — hetsy Europees, Oosters of uit Afrika — te misken nie?” Wat ’n mens ook al besluit ten opsigte van die gepaste benoeming vir Afrikaans-wees, hierdie uitnodiging tot inklusiwiteit en ruimheid van denke rondom Afrikaans is beslissend vir die toekoms.

Die Boetman-gesprek wat deur Chris Louw se bliksem-brief aan die gang gesit is, dui ook op ’n belangrike besinning wat groter ruimte vir Afrikaans-wees wil bewerkstellig. Dit bestaan, onder andere, uit kritiek op persone wat as vaderfigure hulle volgelinge leiding gegee het in die apartheidsjare en dit nou weer probeer doen deur Afrikaners op te roep om ’n apolitiese houding in te neem en deel van die meerderheid te word. In hierdie konteks word smalend verwys na persone wat probeer om vir Afrikaans ’n beter bedeling te beding as mense wat ’n laer wil trek. Kritiek op hierdie vaderfigure is deel van ’n dieperliggende proses van selfstandige bewuswording wat onvermydelik insluit ’n afwysing van alle vorme van paternalisme: die Vader wat in die hemel is, die eie vader van ’n betrokke persoon of enige vaderfiguur wat in die bepaalde gemeenskap leiding gee. Die gesag van almal moet afgewys word sodat die individu die ruimte kan vind vir sy eie verantwoordelikheid.

Wat veral interessant is, is dat in dié betrokke gesprek dit ook gaan om ’n soeke na ’n groter ruimte vir Afrikaans-wees. In hierdie verband kan ek verwys na my eie pleidooi vir ’n oopsluiting van Afrikaans-wees in my opstel “Afrikaners, kom ons word mondig”. (Degenaar, 1976:1-7). ’n Boeiende aspek van hierdie bewuswordingsproses, individueel en kollektief, is dat dit deur elke individu en elke gemeenskap in elke nuwe geslag herhaal moet word. Om Afrikaans te wees, vrywaar ons gelukkig nie van hierdie noodsaaklike gebeurtenis nie. Soms word hierdie opdrag tot selfstandige denke ongelukkig verkeerd opgevat asof dit ’n vrybrief tot bandeloosheid behels in plaas van ’n oproep tot persoonlike verantwoordelikheid. Hierdie misbruik van vryheid moet ons egter nie die noodsaaklikheid van die proses laat onderskat nie.

III

Suid-Afrikaans-wees

Suid-Afrikaans-wees beklemtoon die feit dat Afrikaans-wees ’n werklikheid is in ’n bepaalde geografiese, historiese en politieke konteks. Hierdie kontekstualisering is van uiterste belang en weerhou ons daarvan om te maklik te romantiseer oor Afrikaans-wees en om in abstraksies te verval waardeur juis die konkrete voorwaardes vir ons bestaan en vir ons selfbegrip geïgnoreer word.

Een van die eerste kenmerke van ons saambestaan in Suid-Afrika wat opval, is die veeltaligheid van die samelewing. Die vraag is of dit positief of negatief beoordeel moet word. Die neiging binne die modernisme is om dit te sien as ’n struikelblok op weg na die inskakeling by die proses van modernisering. Omdat Afrikaans ’n besondere posisie inneem in ons veeltalige opset, in die sin dat dit ’n inheemse taal is wat daarin geslaag het om aan die eise van modernisering te voldoen en te presteer op die gebied van wetenskap en tegnologie, is dit in staat om solidariteit te toon met die ander inheemse tale in hul stryd teen die oorheersing deur Engels. ’n Gesamentlike stryd vir taalregte is dus ’n moontlikheid.

Aangesien taal ’n merker van ’n kultuur is, impliseer veeltaligheid ook multikulturaliteit. Een van die boeiende verskynsels in die 21ste eeu is dat die teenwoordigheid van ’n verskeidenheid van kulture in een land regoor die wêreld nie meer geïgnoreer kan word nie. In ’n ander konteks het ek een van die sentrale probleme van die nuwe eeu saamgevat in die vraag: “How can the human world live its difference?” (Degenaar, 2000b). Die situasie word nog meer kompleks indien ons besef dat premoderne, moderne en postmoderne kulture saam voorkom. Dit is egter maklik om te sê dat die pluraliteit van kulture positief gewaardeer moet word. Die moeilike vraag is om dié pluraliteit te akkommodeer binne dieselfde samelewingsverband. In die politiek gaan dit om mag en hoe om magsverhoudinge, ook tussen kulture, te reguleer op ’n regverdige wyse. Afrikaans-wees kan in hierdie verband ’n positiewe rol speel omdat die kreatiewe teenwoordigheid van Afrikaans in Suid-Afrika reeds ’n kritiek is op die imperialisme van Engels. Afrikaans-wees vorm so een van die noodsaaklike boustene van ’n demokratiese kultuur wat al drie vorme van demokrasie insluit, naamlik liberaal, pluraal en sosiaal.

In my opstel The myth of a South African nation (Degenaar, 1991) het ek aangetoon hoe belangrik dit is om nie Suid-Afrikaans-wees met nasionalisme te verbind nie. Daarom het ek aanbeveel dat ons nie moet strewe na nasiebou nie, maar eerder na die skep van ’n demokratiese kultuur. Nasionalisme vereis dat die hoogste trou van die burger moet toekom aan die nasie eerder as aan regverdigheid, wat insluit regverdigheid teenoor individue en kultuurgemeenskappe. Nasionalisme werk ook op die beginsel van die kongruensie van kultuur en staatsmag — ’n beginsel wat ’n pluraliteit van kulture nie kan waardeer nie omdat die staatsmag prioriteit aan een kultuur moet gee. Hierdie imperialisme van kultuur wat tipies is van nasionalisme moet afgewys word ten gunste van ’n samewerking aan die skep van ’n demokratiese kultuur — ’n skeppende proses wat nooit ten einde loop nie. Dit vereis ’n politieke lewenstyl waarin gedurige waaksaamheid ’n sleutelrol speel. Afrikaans-wees wat gedra word deur ’n gesonde kultuurbesef en wat ingestel is op samewerking kan inderdaad ’n belangrike bydrae lewer tot demokrasie en die skep van ’n “nasie” wat bevry is van nasionalisme.

In die lig van bogenoemde kan ons sê dat Suid-Afrikaans-wees ’n komplekser aangeleentheid is as wat gewoonlik gemeen word. Dit hang, onder andere, saam met die feit van multikulturaliteit. Tot watter kultuur ’n mens ook al behoort, jy kan nie in die huidige tyd jouself opsluit in daardie kultuur nie. Jy moet juis oopstaan vir ander kulture en vir die geheel waarvan almal deel is. Hierdie openheid moet nie verwar word met die oproep om deel te word van die meerderheid nie. Inteendeel, dit is juis ’n afwys van die tirannie van die meerderheid ten gunste van ’n verskeidenheid. Suid-Afrikaans-wees veronderstel juis Afrikaans-wees sowel as die bestaansreg van ander tale en kulture. Die nasie wat so gebou word, ontstaan juis deur respek vir en beskerming van die verskeie kulture. Die rol van Afrikaans-wees in hierdie verband moet nie onderskat word nie — nóg deur Afrikaanssprekendes, nóg deur andertaliges.

Dit is verstaanbaar dat ons Afrikaans-wees primêr verbind met taal en kultuur. Indien dit spesifiek gesitueer word in Suid-Afrika, dan vereis die kompleksiteit van ons bestaan ’n meer holistiese benadering waarin aandag geskenk word aan historiese, ideologiese, politieke, sosiale en ekonomiese aspekte. Wat ek hier in gedagte het, is byvoorbeeld die bevoorregting van blanke Afrikaans-wees deur die vorige regering en die transformasie van hierdie onregverdige politieke bedeling vanaf 1994. Veral belangrik in hierdie verband is die instelling van die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) met die doel om die skending van menseregte tydens die stryd tussen die apartheidsregering en die bevrydingsbeweging aan die orde te stel. So is die ruimte geskep vir die vertel van verhale van lyding en die aanvra van amnestie en die toekenning van reparasie aan die veronregtes.

Wat ook al die kritiek wat teen die WVK ingebring kan word en inderdaad ook gedoen is, kan dit ook positief gewaardeer word. Ek dink hier veral aan die geleentheid wat geskep is deur die daarstelling van ’n publieke forum waarin verhale van geweld en van lyding vertel én gehoor is sodat geen Suid-Afrikaner hierna kan sê dat hy nie bewus is van die onreg wat aan baie mense oor ’n lang tydperk gedoen is nie. Die WVK is dus ’n geleentheid vir Suid-Afrikaners om betrek te word by ’n belangrike bewuswordingsproses waarin ons gekonfronteer word met die skadukant ook van Afrikaans-wees. Indien dit nie sinvol verwerk word nie, sal ons ervaar wat ’n karakter in die rolprent Magnolia soos volg uitdruk: “We may be through with the past but the past is not through with us.”

Ek verwys ook in dié verband na die gedagte van Jesus in die evangelie van Thomas: “As ons tot bewussyn bring wat in ons is, sal dit wat so verwerk word, tot ons redding kom. As ons egter nie tot bewussyn bring wat in ons is nie, sal dit wat ons nie so verwerk nie, ons vernietig.” Dit is te hope dat hierdie “unfinished business” van ons verlede, ook van ons geskiedenis voor apartheid, aan die orde gestel sal word deur voortgaande gesprek, vertelling, historiese navorsing, joernalistiek, letterkunde, toneel en rolprent. Afrikaans- wees kan op al hierdie terreine ’n eie bydrae lewer en op ’n manier wat aan die problematiek van menswees in hierdie tyd en op hierdie plek reg laat geskied.

’n Holistiese benadering tot Suid-Afrikaans-wees sluit natuurlik meer in as dit. Ek het reeds verwys na historiese, ideologiese, politieke, sosiale en ekonomiese aspekte. Die bespreking van die WVK was maar een voorbeeld uit die geskiedenis wat deel is van ons bestaan aan die suidpunt van Afrika. ’n Ruimer perspektief sal moet teruggaan tot 1652 en ook aandag skenk aan die Anglo-Boereoorlog en nagaan wat die rol van “Boer, Brit en Bantoe” in dié verband was. Burgers van ’n land tree nie op in ’n ideologiese lugleegte nie en daarom is insig nodig in die idees wat ons gedrag bepaal in ons ryke verskeidenheid. Insig is ook nodig in die rol van politieke mag in die lewens van mense en groepe van mense en in die gehalte van die proses van demokratisering waarmee ons besig is. Groter betrokkenheid is nodig by die sosio-ekonomiese diskrepansie tussen ryk en arm in die land en die rol van ongetemde kapitalisme in hierdie verband. Voeg by die probleem van armoede ook nog die daaglikse voorkoms van geweld in al sy vorme, korrupsie, wit en swart rassisme, vermorsing van bronne, verspreiding van vigs en versteuring van die ekologie. Noem maar op. Suid-Afrikaans-wees is inderdaad ’n moeilike opdrag.

IV

In Afrika

In my bespreking van Afrikaans-wees en Suid-Afrikaans-wees is die teenwoordigheid van Afrika reeds veronderstel. Die woord “Afrikaans” sê reeds “selfstandige taal van Afrika” en dit sal jammer wees as die klem op ons belangrike band met Nederland deur die taal ons ons band met Afrika laat vergeet. Die wortels van Afrikaans kan nou wel in Nederland wees, maar sy oorsprong is aan die suidpunt van Afrika. Die benoeming “Afrikaner” dui ook op hierdie oorsprong. Gesien die rassistiese ondertone wat die naam begelei, is daar ’n gevoel by sommige of dit nie prysgegee moet word ten gunste van ’n neutraler benoeming soos Afrikaanssprekende nie. Slabbert (1990) stel voor dat die benoeming “Afrikaner” aanvaar moet word binne die maatskaplike konvensie maar dat dit inklusief gebruik moet word in plaas van eksklusief deurdat taal kleur vervang as sentrale maatstaf. Op hierdie wyse kry dit ’n oopsluitende en uitreikende betekenis en funksie.

Slabbert (1999:61-62) pleit ook daarvoor dat die benoeming “Afrikaan” inklusief en nie eksklusief gebruik moet word nie. Indien dit slaan op ’n inwoner van Afrika, na analogie van Europeër as inwoner vam Europa en Amerikaner as inwoner van Amerika, dan kan Afrikaners ook Afrikane wees. Hy verwelkom dit dat Mbeki sê dat “whites, coloureds en Asians is ook Africans”, en betreur dit dat daar “’n groeiende en invloedryke groep politici, joernaliste en akademici is wat dit prontuit stel dat African = swart en dat hulle millennium nou aangebreek het.”

Hierdie spanning tussen ras-inklusiwiteit en -eksklusiwiteit is ook vir Afrikaans-wees in Afrika van belang. Die agtergrond vir hierdie spanning is die voortdurende tweespalt in die ANC tussen die Charteriste en die Afrikaniste. Willem van Vuuren wys op hierdie tweespalt in sy artikel “Charteriste en Afrikaniste baklei al lank oor plek van wittes in SA”. (Die Burger, 15/6/2000). Die ANC het reeds in die Vryheidsmanifes van 1955 standpunt ingeneem teen die Afrikaniste ten gunste van rassegelykheid in ’n multikulturele demokratiese Suid-Afrika. Ongelukkig is daar “invloedryke elemente in die huidige ANC” wat ’n ras-eksklusiewe Afrika-nasionalisme voorstaan. Hierteenoor staan Charteriste wat soos Joe Matthews beweer dat die ANC nie die foute van Afrikaner-nasionalisme wil herhaal nie, maar ras-inklusief wil wees en taalregte as noodsaaklike deel van ’n demokratiese samelewing beskou.

Die idee van ’n Afrika-renaissance kan met bogenoemde tweespalt verbind word. Die sleutelvraag is dan of ons daaroor dink soos die Charteriste of die Afrikaniste. Die konsep van Afrika-renaissance is vaag en tel probleme op wanneer gevra word na ’n voorafgaande toestand wat veronderstel is om weer gebore te word. Sover ek kan vasstel, beteken dit nie die “hergeboorte” van die Eurosentriese Sokratiese vraagstelling nie. Die hergeboorte van Sokrates op die kontinent van Afrika is wat ek persoonlik my hele lewe voor pleit omdat dit impliseer die aanvaarding van volle verantwoordelikheid vir wat in Afrika gebeur. Wat wel duidelik is, is dat daar ten minste twee invalshoeke is: die Charteriste se opvatting van ras-inklusiwiteit as een van die sleutelwaardes van Afrikaan-wees en van ’n Afrika-renaissance teenoor die Afrikaniste wat pleit vir ras-eksklusiwiteit en wat gevolglik ’n rasse-konnotasie gee aan die slagspreuk “Afrika vir die Afrikane”. In sover as wat Mbeki die tradisie van die Charteriste volg, moet hy gesteun word. Dit sal ons ook help in ons openhartige versoek gerig aan hom om die charteriste se erkenning van taalregte inderdaad ook toe te pas.

Steun vir hierdie standpunte word duidelik uitgespreek deur Thami Mazwai, voorsitter van die Suid-Afrikaanse afdeling van die Afrika-renaissance, wat met die Afrikanerbond ’n gesprek wil voer met die oog op samewerking. So beweer hy: “Ek kom nie vir iemand sê omdat hy in 1652 in Holland gewoon het, hy is nie ’n Afrikaan nie. Dit is herhaaldelik ook deur president Thabo Mbeki genoem dat die begrip van Afrikaan-wees inklusief is. Dit sluit almal in Afrika in. Daarom moet almal nou hande vat oor die renaissance ... Dit is nie vir my om Zoeloes of Afrikaners te gaan sê hulle kan nie baie besorg wees oor hul regte en taalregte nie. Ek vra wel dat ons almal, Xhosa, Zoeloe, Afrikaner en Hindoe, hande vat en ’n visie vir ons nasie skep.” (Rapport, 25/6/2000).

Wat opval in hierdie uitspraak is die gedagtegang dat, omdat ons almal as Afrikane gesien word, ons opgeroep kan word om by die Afrika-renaissance skeppend betrokke te raak en ons gerusgestel kan word dat die taalregte van die verskillende kultuurgemeen-skappe erken sal word met die oog op die skep van ’n gemeenskaplike nasieskap waarin veeltaligheid gerespekteer word.

Wat betref ons rol in Afrika kan verskillende voorbeelde gegee word van kontak met en hulp aan Afrika vanuit Suid-Afrika. Ek dink hier aan iemand soos Slabbert wat oor ’n lang tydperk kontakte in Afrika gemaak het met die oog op die skep van ruimte vir die demokrasie. Hy vertel in Afrikaner Afrikaan oor sy stigting van IDASA (Instituut vir ’n Demokratiese Alternatief vir Suid-Afrika) wat in die apartheidsjare baanbrekerswerk gedoen het. Danksy hulp van George Soros, wat Slabbert se ondersteuning van die filosoof Popper se idee van ’n oop samelewing heelhartig deel, kon Slabbert daarin slaag om ’n groep Afrikaanssprekendes na Dakar en Gorée te neem om met die ANC-leierskap te praat. Later het verdere buitelandse reise plaasgevind.

Die moontlikheid om ’n instituut vir demokrasie op die slawe-eiland van Gorée te stig om die gesprek tussen Suid-Afrika en die res van Afrika te begin en te bestendig, het hom geïnspireer en die simboliek het hom nie ontgaan nie: “van slawerny tot bevryding in Afrika!” Die Gorée-instituut vir Demokrasie, Ontwikkeling en Kultuur in Afrika is dan ook inderdaad gestig en later maak Soros vir Slabbert voorsitter van die Open Society Foundation of South Africa. Dit lei tot die stigting van die Open Society Initiative for Southern Africa wat nege lande omvat. Die doel van hierdie organisasies is om individue groter vryheid van keuse te gee ter wille van verantwoordelike besluitneming — ’n moeilike opdrag veral in ontwikkelende lande.

Dit is te hope dat die idee van ’n Afrika-renaissance hierdie ideaal van ’n oop samelewing en persoonlike besluitneming insluit en dat die Mbeki-regering ook gebruik sal maak van die inisiatiewe van Slabbert in hierdie verband.

’n Sleutelvraag in die konteks van kontak met en hulpverlening aan Afrika is of die ideaal van openheid en individuele verantwoordelikheid realisties is in lande wat gebuk gaan onder armoede, droogte, geweld, burgeroorlog, ensovoort. Is die eerste taak nie om ’n materiële basis te help skep as grondslag vir die strewe na hoër politieke ideale nie?

Dit blyk dat Mbeki bewus is van hierdie problematiek en daarom die sosio-ekonomiese opheffing van Afrika beklemtoon. “We must do what we have to, with the courage, the tenacity, the humanity and the humility which belong to those (South Africans) who ... genuinely believe that they are their (African) brothers’ and sisters’ keeper.” (Aangehaal deur Terreblanche, 2000:55). ’n Sentrale vraag in hierdie verband is of ons die vermoë het om ’n beter lewe aan ’n groot deel van die 800 miljoen mense in Afrika te verseker terwyl die sosio-ekonomiese opheffing van ’n groot deel van 40 miljoen Suid-Afrikaners nog agterweë bly.

V

In die wêreld

Wanneer ons Afrikaans-wees situeer in die wêreld dan is daar verskillende aangeleenthede wat aandag verdien. Ek dink hier eerstens aan die feit dat die ontwikkeling van die informasie-tegnologie deurlopende kontak tussen Afrikaans-sprekendes oor die wêreld moontlik maak. Die effektiwiteit van die elektroniese media is sodanig dat dit ook ’n verruiming bewerkstellig in Afrikaans-wees. Ek het reeds gewys op die verruiming van Afrikaans danksy die deurbreking van die grense van ras en klas en op die bevryding wat dit bewerkstellig het. Met die elektroniese media gaan dit om ’n verruiming danksy die deurbreking van die afstand wat deur ruimte geskep word. Internet maak dit moontlik dat Afrikaanses, ook oor groot afstande, mekaar gereeld binne die nuwe ruimte van ’n webwerf ontmoet.

Daar is ook ’n ander voorbeeld van hoe taal en letterkunde ’n ruimte skep vir Afrikaans-wees in ander dele van die wêreld. Ek dink hier aan die stigting van “Die Afrikaanse Literêre Kafee” in Londen deur René Taylor. Die eerste byeenkoms het plaasgevind in ’n kerksaal wat omgeskep is in ’n “Afrikaanse literêre broeikas”. Daar is begin met ’n databank van Afrikaanssprekendes in Engeland en die gedagte is om gereeld Afrikaanse skrywers uit te nooi as sprekers. Hierdie strewe word gebaseer op ’n behoefte wat bestaan aan “Afrikaanse gebeure, humor, boeke, musiek, kultuur, selfs ’n kunstefees en skryfskool”.

Taylor stel die behoefte aan oorlewing in die vreemde soos volg: “Afrikaans kan nie in isolasie oorleef nie. Ons moet deel wees van die kommunikasiesisteme wat wêreldwyd gebruik word. Ons is verbind tot die tien ander amptelike tale van Suid-Afrika en leef in respek met die 200 tale wat in Londen gepraat word. Net ons wat Afrikaans praat, wat die taal liefhet, kan die taal werklik vlerke gee — ongeag waar ons ons bevind.” (Die Burger, 20.6.00). Om Etienne van Heerden se gedagte hier ietwat anders aan te wend: “Hulle laat nie toe dat ’n ander tong in hulle mond kom lê nie.” Dit is hierdie tonge wat inderdaad aan Afrikaans vlerke gee — ’n mooi voorbeeld van mense wat kreatief meewerk aan ’n tuiste in eie taal.

Wat die verruiming van Afrikaans in die wêreld betref, is die kontak met Nederland van besondere belang. Ek het reeds verskillende aspekte van die skakeling met die Nederlandse taal bespreek in my opstel oor “Kultuur in ’n veranderende Suid-Afrika” wat in hierdie verband ter sake is. Daar is die siening dat Afrikaans-wees die Eurosentriese band met Nederland moet lossny ten einde meer aandag te skenk aan die realiteite van Afrika. Beide is belangrik en word reeds gedoen en juis daarom kan Afrikaans ook ’n brug wees tussen Afrika en Europa. Dit blyk reeds uit die feit dat Nederlands ’n goeie venster het op Afrika op grond van die kontak met die Afrikaanse kultuur, soos Afrikaans ’n goeie venster het op Europa danksy die band met die Nederlandse kultuur. In hierdie konteks is dit belangrik om, wat Afrikaans betref, ook te beklemtoon dat die Afrikaanse letterkunde voldoende van Afrika is om ’n goeie aansluitingspunt te wees vir Nederlandse belangstelling in die probleme rakende die kontak tussen kulture van Europa en Afrika. (Degenaar, 1995:26).

Die feit dat Afrikaans-wees reeds ’n band is tussen Afrika en Europa verbind ons ook om aandag te skenk aan die rol van Europese lande in die slawehandel oor ’n paar eeue. Diskussies is reeds in Holland aan die gang oor die Hollanders se betrokkenheid in dié verband. Terreblanche (2000:55) verwys na hierdie problematiek in sy pleidooi dat lande in die Ryk Noorde Suid-Afrika moet help met die sosio-ekonomiese opheffing van die mense van Afrika. Die rede waarom hulle die verpligting het, is die feit van hulle betrokkenheid by die slawehandel in Afrika en hulle rol in die kolonialisering van Afrika-lande. So beweer hy: “Oor ’n tydperk van 370 jaar is 12 miljoen slawe van Afrika na die Amerikas afgevoer ... Gedurende die `Scramble for Africa’ aan die einde van die 19de eeu was verskeie lande betrokke by roekelose plundery in Afrika.”

Hierby moet ook die feit gevoeg word dat kolonialisering nie net militêr plaasvind nie, maar ook ekonomies. Dit is daarom dat ons in gesprek moet bly met die ryk lande van die wêreld met die doel om die 800 miljoen mense in die arm lande in Afrika te beskerm. Beide Slabbert en Soros het in die konteks van hulle ideaal van ’n oop samelewing en persoonlike besluitneming hulle bekommernis uitgespreek oor die feit “dat ’n onbeteuelde markekonomie in ’n globaliserende wêreld ellende gaan versprei en die moontlikheid van oop samelewings gaan bedreig.” (Slabbert, 1999:47).

Afrikaans-wees in die wêreld stel ons ook in staat om kennis te neem van die stryd van kultuurgemeenskappe oor die wêreld vir hulle minderheidsregte omdat dit nie erken word deur die nasionale staat nie. Afrikaanssprekendes het ’n taak om groter helderheid hieroor te kry om vas te stel tot watter mate dit aansluit by ons strewe om taalregte in Suid-Afrika erken te kry, ook in die praktyk, as ’n reg van ’n kultuurgemeenskap en nie net as ’n individuele reg nie. Dit geld vir al die tale in Suid-Afrika behalwe Engels wat as wêreldtaal van sy plek verseker is. Hoe meer die staat in gebreke bly in hierdie verband, des te groter is ons verantwoordelikheid om demokrasie ’n werklikheid te help maak in Suid-Afrika en so ’n belangrike bydrae te lewer tot nasiebou bevry van nasionalisme.

Wat ook verband hou hiermee is die feit dat die wêreld gekenmerk word deur die proses van modernisering wat insluit die globalisering van die ekonomie en die verspreiding van informasie-tegnologie. Wat hieruit volg, is egter nie ’n eenvormigheid op alle terreine nie, maar juis die ontdekking van bestaande kultuurverskille. Die groot vraag is nou of die verskille gerespekteer moet word en hoe hulle beskerm kan word teen monokulturalisme en die proses van homogenisering wat dit behels. Dit is ’n probleem wat ons goed ken in Suid-Afrika en Afrikaans-wees, wat bewus bly van sy waarde, kan ’n belangrike rol speel in die vind van ’n oplossing.

VI

Besluit

Die tema van Afrikaans-wees het ek verbind met die idee van menswees en nie in ’n algemene sin nie, maar juis in die partikuliere sin van menswees in hierdie tyd en op hierdie plek. Indien ons Afrikaans-wees ernstig opneem dan kan die boeiende aspek van die moraliteit van menslike bestaan nie uitgelaat word nie. Afrikaans-wees is immers nie net ’n gegewe nie maar ook ’n taak wat ’n groot verantwoordelikheid op ons lê. Dit verplig ons tot sekere waardes. In aansluiting by die voorafgaande analise wil ek ’n paar sake uitlig:

  • Die herdefiniëring van Afrikaans-wees moet duidelik onderskei word van ’n mentaliteit van laertrek. Dit moet ’n sinvolle antwoord wees op die negatiewe oordeel dat taalbesinning agterlik is in die nuwe Suid-Afrika. Vergelyk, byvoorbeeld, die uitspraak van ’n briefskrywer aan ’n koerant: “There is nothing as out of touch with reality as a scared minority in its struggle for survival. These Afrikaners ... are colonial debris left behind in Africa.” (Cape Times, 5.5.2000).

  • Afrikaans-wees moet nie eksklusief nie maar inklusief wees wat ras en klas betref.

  • In aansluiting by bogenoemde verruiming is ’n verdere uitreiking tot alle Suid-Afrikaners nodig met die doel om ’n “reënboognasie” te help vorm wat gebaseer is op ’n volwaardige demokrasie — liberaal én pluraal én sosiaal.

  • Die standpunt dat ’n persoon of ’n gemeenskap eers ’n bydrae kan lewer indien hulle deel van die meerderheid word, moet afgewys word. Hierteenoor wil ek, as filosoof wat die waarde van persoonlike verantwoordelikheid beklemtoon, dit stel dat geen mens die kleinood van selfstandige besluitneming moet prysgee nie — veral nie in die godsdiens en die politiek nie. Selfrespek vereis dat ons juis nie doen wat die meerderheid doen nie, maar die moeilike weg volg om te strewe na wat reg is. Die onvermydelike stryd wat hierdie bevrydende houding impliseer, bring ’n spanning in alle situasies — ’n spanning wat juis nie ontloop moet word nie omdat dit behoort tot die morele karakter van menswees.

  • Daar moet erns gemaak word met N P van Wyk Louw se beginsel dat voortbestaan in geregtigheid verkieslik is bo blote voortbestaan en met die toepassing van hierdie beginsel op alle kultuurgemeenskappe. En nog verder: ’n verruiming van hierdie beginsel is nodig dat dit ook insluit ’n bemoeienis met die sosio-ekonomiese onreg in die samelewing.

  • Afrikaans-wees moet ook ingestel wees op die toepassing van die inspirerende Afrika-spreuk umntu ngumntu ngabantu — ’n mens is ’n mens deur mense. En dit moet nie net toegepas word op die mense van die eie kultuur nie, maar juis transkultureel in multikulturele situasies. So kan ons ontdek dat die andersheid van die ander — die ander persoon, die ander taal, die ander godsdiens — nie ’n bedreiging is nie, maar ’n uitnodiging, nie ’n gevaar nie maar ’n geskenk en ’n noodsaaklike voorwaarde vir selfkennis en vollediger menswees. Ons respek vir verskillende kulture in multikulturele situasies moet ook insig toon in die wyse waarop kulture betrokke is by premoderniteit, moderniteit en postmoderniteit.

  • Die problematiese term “identiteit” moet as werkwoord opgevat word en dan ook nie net in terme van een proses van identifisering met sekere eienskappe en waardes nie. In Suid-Afrika is ons juis betrokke by verskillende kulture, dit wil sê, by verskillende vloeibare prosesse van identiteitsvorming, soos byvoorbeeld, Afrikaans-wees, Suid-Afrikaans-wees, Afrikaan-wees en wêreldburger wees. Deur die proses-karakter van hierdie identifiseringe te beklemtoon, word aangedui dat ons betrek word by ’n gesprek wat nooit afgehandel kan word nie omdat die sake waarom dit gaan gedurig verander en omdat die vraag na identiteit ook die vraag na menswording is. Dit is die fundamentele vraag wat nooit gestel word nie, maar altyd as konstante voorveronderstelling die lewe van die mens begelei — ’n vraag wat wel deur die filosofie en die letterkunde aan die orde gestel word en daardeur juis ons lewe onskatbaar verryk.

  • Die verantwoordelikheid wat met menswees verbind word, kan saamgevat word in die Sokratiese stelling: ’n ongeëksamineerde lewe is nie die moeite werd om te lewe nie. In die konteks van ons verhaal beteken dit: ’n ongeëksamineerde Afrikaans-wees en Suid-Afrikaans-wees en Afrikaan-wees en in-die-wêreld-wees is nie die moeite werd nie. Twee riglyne vir hierdie deurlopende eksaminering is die integriteit waarmee dit gedoen word en die besef dat ons woorde onvermydelik betrokke is by ’n stryd tussen dominasie en emansipasie.

BIBLIOGRAFIE

  • Degenaar, J J. 1976. Moraliteit en Politiek. Kaapstad: Tafelberg.
  • Degenaar, J. 1991. The myth of a South African nation. IDASA. Occasional Papers, No 40.
  • Degenaar, J. 1995. “Kultuur in ’n veranderende Suid-Afrika”. Pp. 15-36 in H Ester en A van Leuvensteijn (reds): Afrikaans in een veranderende context. Amsterdam: Suid-Afrikaanse Instituut, 1995.
  • Degenaar, J. 1999. Die Spanning tussen Voortbestaan en Geregtigheid. Amsterdam: Nederlands-Zuid-Afrikaanse Vereniging.
  • Degenaar, J. 2000a. “Die keuse vir ’n postmoderne viering van kulturele diversiteit.” Pp 111-127 in A Marais (red): Die Suid-Afrika van die nuwe Millennium. KKNK-lesingreeks.
  • Degenaar, J. 2000b. “Multiculturalism: How can the human world live its difference?” Pp 155-170 in W E Van Vugt and G D Cloete (eds): Race and Reconciliation in South Africa. Lanham: Lexington Books.
  • Duvenage, P. 1999. “The politics of memory and forgetting after Auschwitz and apartheid”, Philosophy and Social Criticism, vol 25, no 3, 1999, pp 1-28.
  • Slabbert, F v Z. 1999. Afrikaner Afrikaan. Anekdotes en Analise. Kaapstad: Tafelberg.
  • Terreblanche, S J. 2000. “Thabo Mbeki se Afrika-beleid”, Zuid-Afrika, Jg 77, nr 5, Mei 2000, p 55.
  • Van Niekerk, A. 2000. “Afrika: ons liggaam of ons las? Perspektiewe op die idee van ’n Afrika Renaissance.” Pp 3-14 in A Marais (red): Die Suid-Afrika van die nuwe Millennium. KKNK-lesingreeks. Kaapstad: Die Burger.
  • Van Vuuren, W. 2000. “Charteriste en Afrikaniste baklei al lank oor plek van wittes in SA”, Die Burger, 15 Junie 2000.
  • Verwoerd, W. 2000. “Towards the recognition of our past injustices.” Pp 155-166 in C Villa-Vicencio and W Verwoerd (eds): Looking Back Reaching Forward. Reflections on the Truth and Reconciliation Commission of South Africa. Cape Town: UCT Press.

    LitNet-leser: Wat dink jy van hierdie bydrae? Twee pryse van R1000 elk word toegeken aan die interessantste reaksies op referate. Stuur jou opinie aan SêNet by redlitnet@mweb.co.za

    Besoek die beraad se virtuele boekuitstallings en ondersteun ons skrywers deur hul boeke via LitNet te bestel.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.