SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Skrywersberaad-argief

Skrywersberaad




  Dan Roodt
is in 1957 in Springs gebore. Ná sy matriek aan die Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg studeer hy vir geruime tyd aan Wits. Hy woon agt jaar in Frankryk waar hy filosofie studeer onder Gilles Deleuze en René Scherer, en ook kennis maak met die finansiële markte. Tans is hy ’n onafhanklike konsultant oor afgeleide strukture en buitelandse beleggings. Die afgelope tyd het hy ’n taamlik prominente rol in die taalstryd gespeel. Hy is die leier van PRAAG.

Die nuwe apatriotisme

    “Suid-Afrika is vir my nie in die eerste plek sy berge en vlaktes nie. My wesenlike vaderland, as ek Camus mag aanhaal, is my taal. Ek bestaan net in die taal; net vir die taal ... ”
    - Hennie Aucamp, Enkelvlug

Sedert Afrikaans lingua non grata in Suid-Afrika geword het, het vele mense al die agteruitgang van die taal, sy toenemende gebrek aan status, ensovoorts betreur. Maar miskien het dit tyd geword om staatsvyandigheid anders te interpreteer as ’n verlies. Want is die staat nie in laaste instansie die vader van die volk, die patria nie? Miskien is ons vaderloosheid iets om te vier eerder as om te betreur.

In Rome was daar twee begrippe rondom die staat, die res publica, letterlik die gemene sake of republiek, en dan patria, die vaderland wat via pater verwant was aan die paterfamilias, die huishouding waaroor die vader of patriarg geregeer het. Ons is bekend met die frase, “vroue, kinders en slawe” wat diegene benoem het wat nie kon aspireer na die vaderlike magte nie. Trouens, familias het bowenal betrekking gehad op die huishoudelike bates, wat dan veral die slawe ingesluit het. Patria het egter daarbenewens ’n verbintenis gehad aan die grond of gebied en kon ook ’n streek aandui.

Die evolusie van vaderskap binne die Christelike kerk en godsdiens is ’n lang en ingewikkelde verhaal, dog dit is ’n feit dat die moderne volkstaat ontstaan het uit funksies wat die sekulêre of rewolusionêre staat by die kerk oorgeneem het. Vandag in Suid-Afrika word daar ’n beroep gedoen op ons patriotisme, “nation-building”, “word deel van die meerderheid” en dergelike, maar die vraag is: het ons nog patriotisme nodig? In die geval van state met homogene bevolkings kan geargumenteer word dat die staat ook ’n lokus van kultuur en tradisie is en dat patriotisme dus ’n vorm van kultuurbeoefening kan wees. In Suid-Afrika waar die staat hom herhaaldelik onder Britse beheer as “Engels” gedefinieer het, en in die onlangse verlede weer hierdie tradisie omhels het, is dit duidelik dat patriotisme as sodanig ’n argaïese ritueel geword het. In terme van eietydse ekonomiese teorie is die staat ’n soort parasiet wat transaksiekoste toevoeg aan ’n andersins globaliserende wêreld waar doeltreffendheid en die eliminering van transaksiekostes die wagwoorde is.

Miskien behoort ons dus mnr Mbeki te bedank dat hy ons bevry het van die las van patriotisme. Deur Afrikaanssprekendes te definieer as nie-Suid-Afrikaners, het hy ons ’n guns gedoen. Voortaan kan ons sê “ons haat die staat”, sonder dat dit ons hoegenaamd hoef te kwel. Die moraliteit van die landsvlag, die volkslied, al daardie primitiewe simbole van ’n vergange patria, kan ons van ons afwerp en sodoende ons vryheid bevestig. Onlangs noem iemand aan my dat dit ’n globale fenomeen word dat mense nie meer hul bates hou in die land waarin hul woon nie. As Afrikaanssprekendes behoort ons hierdie neiging ons eie te maak. Logies behels dit die verbrokkeling van die paterfamilias, van die vaderlike mag oor vrou, dogter, seun en slaaf.

Wat ek hier skryf, gaan u in die kuberruimte lees. Dit sou verkeerd wees om die kuberruimte as ’n plaasvervanger vir die vaderstaat of patria te sien. Dit is eerder die anti-staat, die nie-vaderlike, die risomatiese, om ’n term van die filosoof Gilles Deleuze te gebruik. Deleuze was sy tyd vooruit om die invloed van netwerke en die spontane verspreiding van koppelings te voorsien. Hy het ’n model daarvoor ontwikkel, sonder om te weet dat dit binne sy leeftyd werklikheid sou word. Soos wat vaderlande kwyn, bestaan daar die gevaar dat ander supranasionale vaderlike entiteite soos “Europa”, “Noord-Amerika” en “Afrika” hul plek kan inneem, dog die kanse hiervoor is nie goed nie, want individue en taalgemeenskappe is besig om meer en meer hul nuutgevonde vryheid uit te oefen.

Ek het iewers geskryf dat Afrikanerskap die vergeet van identiteit behels, die vergeet van én die Europese identiteit én die Afrika-identiteit. Ons behoort selfs nog meer vergeetagtig te word as wat ons reeds is. Net ’n imbesiel kan aan die reënboognasie glo. Laasgenoemde is ’n soort desperate slagspreuk om ons patriotisme op te wek, wat homself ondermyn deur die kleinlike nasionalisme en selfs rassisme wat dit voorstel. Dit is presies dieselfde as “nasionale selfregerende state” onder afsonderlike ontwikkeling. Dit is ’n ironiese dekmantel vir ’n etniese pogrom wat sedert die aankondiging van die reënboognasie teen alle Afrikaanssprekendes gevoer word. Dit is die keersy van “kill a Boer, kill a farmer”.

Ek kan vandag veiliglik sê dat ek minder patrioties as ooit voel, en selfs twintig jaar gelede was ek geensins ’n patriot nie. In ’n sekere sin het die woord “Suid-Afrika” vir my iets vreemds geword, ’n leë teken, ’n soort historiese ongeluk wat weier om te besef dat sy eie toevalligheid hom lankal reeds ondermyn het. Niemand kan homself ernstig ’n Suid-Afrikaner noem nie. Ons is gevange tussen die Amerikaanse droom en die Afrika-nagmerrie, en die enigste werklike tuiste wat ons het, is die Afrikaanse taal. Hoewel ek hierbo vir Hennie Aucamp aanhaal waar hy praat van sy taal as sy vaderland, moet ons dit metafories sien, want soos dit hierbo geblyk het, is patria onlosmaaklik verbind aan die grondgebied, aan die streek of volkstaat. Deur die taal — lingua, wat eintlik tong beteken en verder terug afgelei is van die Sanskrit jihva - voorop te stel, doen die verteller in Aucamp se verhaal eintlik afstand van die vaderland of patria met sy berge en vlaktes.

Hoe leef mens sonder ’n vaderland? Dit is vandag die fundamentele dilemma van die Afrikaner/Afrikaanssprekende. Tradisioneel word die Westerse denke oorheers deur die denke rondom patriotisme en nasionalisme. Nietzsche is waarskynlik die enigste negentiende-eeuse denker wat hiervan afgewyk het, en is daarom ’n beginpunt om ’n apatriotiese bestaan te definieer. Hy priviligeer natuurlik die estetiese, wat aansluit by Aucamp se opmerking in Enkelvlug. Hierby moet ons voeg die virtuele en risomatiese wat die aftakelingsproses van die negentiende-eeuse volkstaat verder voer. Die sogenaamde Afrikadenke rondom die volkstaat kan ons gerus buite rekening laat, aangesien dit bloot die ersatz-weergawe van die Westerse is wat terug te voer is na Rome.

Die afvrot van die staat soos Breytenbach iewers in ’n gedig daarna verwys, is vandag ’n feit, maar dit is moeilik om in te sien hoe die eeue-oue paterfamilias verbrokkel en opgaan in iets anders wat steeds ’n patriargale of kwasi-patriotiese identiteit aan ons voorhou. In baie opsigte is dit die nabootsing of simulakrum van ’n patria.

Wêreldburgerskap of vooruitgang van die wêreldekonomie is een so ’n simulakrum van die vaderland. Pleks daarvan om patrioties te voel oor die klein vaderland, is ons veronderstel om nou geesdriftig te raak oor internasionale welvaart, tegnologiese vooruitgang, ens. In baie opsigte is die globale handelsmerk iets van ’n oorblyfsel van die nasiestaat, ’n verenigende identiteit wat heterogene mense moet saamsnoer.

In die mate waartoe globalisering die nasie- of volkstaat, die patria, vernietig, behoort ons dit te verwelkom. Die vorige opmerkings wat ek aangaande globalisering gemaak het, naamlik dat dit draer is van ’n kwasi-Amerikaanse monokultuur, behoort egter gekwalifiseer te word. Die paradoks van globalisering is dat dit juis minderheidseffekte produseer tydens ’n tweede beweging wat die monokultuur in gevaar stel. Die globale onderneming (global corporation) wil graag die monokultuur sien seëvier, maar soos wat post-nasionale belangegroepe tot stand kom, skep dit ’n nuwe heterogeniteit wat in ’n tweede fase lei tot veeltaligheid en polikultuur (ek gebruik hier met opset nie die term “multikultuur” nie, aangesien dit reeds gekleur is as ’n minder totalitêre variant van monokultuur). Dit stel die minderhede vry.

Ek wil dit beklemtoon dat “minderheid” soos ek dit hier gebruik niks te make het met “nasionale minderheid” nie. Diegene wat hul beywer vir “minderheidsregte” doen inderdaad ’n beroep op die volkstaat om vir hulle op morele gronde sekere staatregtelike funksies toe te ken, ’n soort halfwas-selfbeskikking waardeur ons kleiner patriae kan vestig binne ’n oorkoepelende vaderlandskonsep. In die een-en-twintigste eeu is selfbeskikking ’n primitiewe begrip, iets prehistories. Die minderheid waarvan ek praat, is eerder ’n belangegroep, ’n estetiese of taalgemeenskap wat in wese anti-staat en apatrioties is. Op sy eenvoudigste dui minderheid vir my diegene aan wat afvallig geword het van die meerderheid. Nie net verseg hulle om deel te word van die meerderheid nie, hulle probeer selfs die meerderheidskonstruksies soos die staat, die “nasionale kultuur”, sportspan, ens aftakel en ondermyn. Ons behoort briewe van dank aan Duitsland te stuur omdat die sokkerwêreldbekerkompetisie nie in Suid-Afrika aangebied gaan word nie.

Deleuze was baie sensitief vir die rol van taal by die totstandkoming van minderhede. In sy opstel oor Kafka praat hy van sy “minderheidstaal”, die Duits van ’n Tsjeggiese Jood wat in ’n minderheidsverhoudings staan teenoor hoog-Duits . Elders in sy bespreking oor die dramaturg Carmelo Bene wat insgelyks tot ’n etniese minderheid behoort, beweer hy dat daar twee betekenisse van minderheid is:

“Ten eerste, dui minderheid ’n stand van sake aan van ’n groep, wat ongeag sy aantal lede, uitgesluit is uit die meerderheid, of selfs ingesluit, maar as ’n ondergeskikte gedeelte met betrekking tot ’n maatstaf wat die reël maak en wat die meerderheid vasstel. ’n Mens kan sê dat vroue, kinders, die Suide, die derde wêreld, ens, minderhede is, al is hulle ook baie. Maar kom ons neem hierdie eerste betekenis letterlik op. Daar is onmiddellik ’n tweede betekenis: minderheid dui nie meer ’n stand van sake aan nie, maar ’n wording waarby mens betrokke raak. Minderheidswording is ’n doel, en ’n doel wat almal raak, want almal tree na vore by hierdie doel en hierdie wording, in die mate waartoe elkeen sy variasie konstrueer rondom die despotiese maatstaf, en ontsnap, aan die een of die ander kant, vanuit die magsisteem wat van hom ’n deel van die meerderheid maak. Ná hierdie tweede betekenis is dit duidelik dat die minderheid baie talryker is as die meerderheid.”

Selfs binne die meerderheid is daar dus minderhede, en dit is bloot ’n sekere magsisteem, die manipulasie van maatstawwe wat aan die meerderheid sy despotiese karakter en oorheersing verleen. Deleuze verwys verder na die “spesifieke politieke funksie” van die teater en die kuns wat die minderheidswording stimuleer, dog op voorwaarde dat dit nooit streeksgebonde raak nie. As ons dink aan Afrikaans vandag, dan is dit geensins ’n streekstaal nie, dit word oor die hele land gepraat; dit is bloot binne ’n despotiese magsverhouding wat dit tot minderheidstaal gereduseer is.

Deur aan te hou skep in Afrikaans is ons besig met ’n minderheidswording, soos Kafka, soos Carmelo Bene of Joyce of enige ander skrywer wat ’n minderheidstaal binne iets anders — iets groters of magtigers — tot stand gebring het. En natuurlik is dit vanuit die perspektief van die meerderheid iets ongewens, gevaarliks, selfs ondermynend. Die meerderheid sal altyd probeer om die minderheid te stigmatiseer, te stereotipeer, in te hok, af te kamp, in ’n ghetto in te druk, hul bestaan te ontken, of watter ander taktiek ookal opduik om die minderheid te onderdruk. Want die hele bestaan van die meerderheid, sy magsbasis, is gegrond op die ontkenning van minderhede in sy eie geledere. Die minderheid moet bloot onderdeel wees van die meerderheid en niks meer nie.

Om terug te keer na die verhouding tot die patria en die paterfamilias, die vaderlike bates binne ’n sekere grondgebied, is dit sekerlik ironies dat Afrikaners wat so sterk aan die grond self veranker was as boere en landbouers, vandag in ’n groot mate in ballingskap verkeer met betrekking tot die vaderland. Daar is ’n groot aantal jongmense wat elders ter wêreld, veral in Engeland, ’n heenkome soek, en alle aanduidings is dat dit slegs die Britse anti-immigrasiewette is wat hulle daarvan weerhou om permanent te emigreer. Maar binne Suid-Afrika self, binne die oud-vaderland, die ex-patria, ervaar vele van ons ons verblyf hier as ’n soort interne eksiel. Dikwels as ek op die snelweg in Johannesburg ry, raak ek bewus van die reusagtige advertensieborde wat Amerikaanse produkte adverteer, die slagspreuke van ’n invallende kultuur wat veronderstel is om ons op die duur as minderheid te laat verdwyn. Kuns, letterkunde, teater, ons taalruimte, is merendeels ’n toevlugsoord waarbinne ons wegkruip vir kulturele en politieke oorheersing. Net onlangs het ek in terme van vlug en wegkruip begin dink, en ja, miskien is dit die enigste strategie wat oorbly. Om jouself af te sonder soos wat Karel Schoeman homself op Trompsburg afgesonder het.

In ’n opgekoppelde wêreld raak afsondering natuurlik meer en meer onhaalbaar, maar dan hoef dit ook nie letterlik begryp te word nie. Ek kan egter sien dat Afrikaans vir ons ten minste ’n breuk in ’n homogeniserende wêreld kan wees, ’n uitkomkans, ’n ander manier van dink en leef, ’n ontsnappingsroete uit die eenselwige dwingelandy van meerderheidstatus. Die eietydse balling ly nie soos voorheen aan die sindroom van fisieke verwydering van sy vaderland nie, maar eerder aan ’n fundamentele ongeborgenheid, ’n ontuisheid binne sy bekende en vertroude omgewing. Ek is geïntrigeer deur ’n onlangse koerantartikel deur Kerneels Breytenbach waar hy hierdie gevoel omskryf as ’n soort depressie. Hy neem sy dogter om na sy eertydse ouerhuis naby Eikenhof te gaan kyk, en alles het verander en eintlik agteruitgegaan. Hy skryf sy terneergedruktheid aan ouderdom toe, maar uiteindelik dink ek die probleem lê nog veel dieper. Die behoefte om weer na die opstal uit vergange se dae te gaan kyk, spruit myns insiens uit ’n ontuisheid wat hy in sy alledaagse lewe ervaar. Die fisieke teken van geborgenheid, die ouerhuis, die herinneringe wat dit sou moes oproep, sou hom nie meer kon gerusstel nie, al was dit ook ongerep.

Die meerderheid beset die volkstaat en die patria, en benader globalisering as wisselwerking met ander patriae, of self die konstruksie van ’n globale patria, ’n wêreldstaat met sy VN, WHO, ens. Die minderheid is egter veel meer blootgestel hieraan, juis omdat dit geen anker het in die vaderland nie. As die golf van globalisering breek, word die minderhede soos sandkorrels op die strand rondgestrooi. In ’n sekere sin is die minderheid daarom op die voorpunt van globalisering, want dit ervaar dit meer intens as enige meerderheid. Die aangewese strategie sou wees om ’n soort dubbele spel te speel deur globalisering teen die meerderheid aan te wend. Pleks daarvan om die taal en kultuur van die meerderheid te probeer teengaan met die minderheidstaal en -kultuur, behoort ons die globale taal en kultuur aan te wend om die meerderheid se patria te verwoes. Ek is nie seker wat dit in die praktyk sou beteken nie, behalwe om te dink dat hierdie proses reeds aan die gang is. As mens daaraan dink, is daar ’n honderd-en-een maniere om nie jou samewerking te verleen nie, om ’n stok in die wiel te steek, om dwars te wees, jou eie ding te doen, jouself af te sonder, ens.

Vir mense van my geslag is dit sekerlik moeilik om apatrioties te dink. Ons is geleer om nie vrae te vrae nie, om gedissiplineerd te wees, om die vaderland en sy vaders te respekteer. Dit is wat Chris Louw onlangs aan ons wou oordra met Boetman se brief aan Willem de Klerk. Dog ek is van mening dat dit noodsaaklik is vir ons oorlewing dat ons alle vorme van patriotisme moet afsweer as iets argaïes en bedenkliks. Kom ons word ’n minderheid, nie in die sin van ’n volk nie, maar as ’n anti-volk, as ’n groep wat deur die illusie van groepvorming gesien het en nou ook die identiteit van die meerderheid wil afbreek.

Die feit dat die Afrikaanse letterkunde nie meer erken word as Suid-Afrikaans nie, is ’n positiewe ontwikkeling. Soos die regter in die hof wat aan die wangeklede advokaat vir die verdediging gesê het: “Ek sien u nie,” sê die meerderheidstaat en sy intellektuele lakeie aan ons: “Ons sien julle nie.” In ’n vorige bydrae op Litnet (Die sloping van ’n hegemonie) het ek op hierdie fenomeen ingegaan, en indien die indruk hieruit kon ontstaan het dat dit my kwel, moet dit gekorrigeer word. Ons is uitgeskop uit die Suid-Afrikaanse letterkunde waarop daar ’n soort staatsgreep toegepas is, en hiermee het ons ook ’n literêr-historiese ballingskap binnegegaan. Meer en meer ervaar ons die Suid-Afrikaanse letterkunde — die amptelike kanon wat hoofsaaklik in Engels bestaan — as iets parogiaals en, uiteindelik, vals en kunsmatig.

Om vandag ’n Afrikaanse skrywer te wees, is om nie ’n Suid-Afrikaanse skrywer te wees nie. Dit is sekerlik ironies, want Afrikaans was die eerste taal waarin ’n Suid-Afrikaanse letterkunde tot stand gekom het; in die dertigerjare het Engelse skrywers beweer dat hulle deel is van die Britse letterkunde en net toevallig oor Suid-Afrika skryf. Die betekenis van “Suid-Afrika” het egter oor die afgelope twee dekades radikaal verander. Ek kan aan geen ander land dink wat internasionaal meer gestereotipeer is as Suid-Afrika nie, en soos ons weet, is daar geen letterkunde uit stereotipes te maak nie, behalwe miskien as ’n soort politieke satire. Ook weens hierdie veranderde betekenis van die patria self, kan ons ’n sug van verligting slaak dat ons nie meer die las van stereotipe Suid-Afrikanerskap op die rug hoef te dra nie.

Heelwat groot bewegings in die letterkunde het saamgeval met maatskaplike en tegnologiese veranderings. James Joyce het beweer dat ’n skrywer ballingskap nodig het. Tans staan Afrikaans in die brandpunt van die mees radikale veranderings, beide maatskaplik en tegnologies, wat die wêreld nog gesien het. Weens ons interne eksiel is ek seker wag daar groot skrywers om ontdek te word. Een van die ironieë van rewolusies is dat die georkestreerde kultuurproduksie van die staat gewoonlik op niks uitloop nie. Dit is meermale uit die geledere van die slagoffers van die rewolusie dat die groot skrywers kom. In Vladimir Nabokov het die Russiese rewolusie sy grootste skrywer geproduseer; hy het as émigré in Berlyn, Parys en die VSA geskryf en dit is eers onlangs dat sy boeke in sy eertydse vaderland toegelaat word waar dit nou kultusstatus verwerf het. Maar ons wil geen erkenning van die vaderland hê nie; ons is tevrede om daaruit weg te vlug, om in ons ballingskap en vervreemding ’n tuiste op te soek in woorde, hierdie Afrikaanse woorde.

LitNet-leser: Wat dink jy van hierdie bydrae? Twee pryse van R1000 elk word toegeken aan die interessantste reaksies op referate. Stuur jou opinie aan SêNet by redlitnet@mweb.co.za

Besoek die beraad se virtuele boekuitstallings en ondersteun ons skrywers deur hul boeke via LitNet te bestel.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.