SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Eenvoud van visie op Afrika

Hein Willemse

Adriaan van Dis
Palmwyn
Human en Rousseau
(Vertaal deur Abraham de Vries)
105 bll
ISBN 0781 4159 X
R69,95

PalmwynDie novelle Palmwijn is oorspronklik in 1996 gepubliseer as ’n Nederlandse boekeweekgeskenk. Diť feit alleen behoort ’n aanduiding te wees van die statuur van Adriaan van Dis, die skrywer. In Nederland is dit die gebruik dat ’n vooraanstaande skrywer genooi word om ’n boekgeskenk vir die jaarlikse boekeweek te skryf. Die uitnodiging is dus ’n uitsonderlike eer. Van Dis is in sy tuisland ’n bekende televisiepersoonlikheid, ’n gerekende joernalis, en die skrywer van romans en reisboeke soos Nathan Sid, Zilver, Indische duinen, In Afrika en Het beloofde land. Laasgenoemde is ’n kritiese en insiggewende verslag van ’n reis deur Suid-Afrika tydens die laat-apartheidsjare.

Teen hierdie agtergrond dien Abraham H de Vries se Afrikaanse vertaling van Palmwijn in hoofsaak as ’n bekendstelling van ’n belangrike Nederlandse skrywer aan Afrikaanse lesers.

Maar waarom dan nie eerder Het beloofde land nie, het ek gewonder toe ek die eerste aankondigings van hierdie vertaling teŽgekom het. Miskien ’n te kritiese Nederlandse blik op Afrikaners, of miskien te omstrede vanweŽ die aantygings van plagiaat?

Tog is Palmwijn nie ’n slegte keuse as bekendstelling aan Afrikaanse lesers nie; maar laat dit onmiddellik gesÍ word dat die boek nie Van Dis se belangrikste of selfs opspraakwekkendste werk is nie. Sy Indische Duinen het heelwat positiewe kritiek ontvang en by die derduisende verkoop, terwyl Nathan Sid hoog aangeslaan word vir die taalsensitiwiteit en die poŽtiese taalgebruik daarin.

Die verhaalkonstruksie in Palmwyn is eenvoudig. Van Dis skep ’n raamvertelling met ’n ongeÔdentifiseerde ek-verteller, ’n netjiese “burgerman” (11), wat die hooffiguur, ’n ouerige, versukkelde Amerikaanse skilderes, Susan Courtland, in herinnering roep. Daarna kom sy self aan die woord en vertel haar verhaal van aanvanklike afsydigheid tot intuÔtiewe sosiale betrokkenheid. Die novelle eindig met die ek-verteller se besinnende oordeel oor die plek van Westerlinge in Afrika.

Die aanknopingspunt vir die ongeÔdentifiseerde verteller se verhaal is die ontvangs van ’n koerantberig oor Courtland se dood. Sy word voorgestel as ’n eksentrieke kunstenares wat met moeite aansluiting by die plaaslike bevolking op ’n Wes-Afrika-eiland vind. Sy is ’n alleenloper wat “gelyk (het) asof sy ook die Afrikane vermy, sy het afwesig by hulle verby gekyk met daardie vreemde oŽ, grys, maar nie koud nie” (12). Ten spyte van haar afsydigheid kondig die ek-verteller aan dat sy tog uiteindelik ’n uitwerking gehad het, want “[s]onder haar sou die eiland tot vandag toe bly voortsukkel het met ’n eindelose reeks louwarm sonsondergange. Danksy Susan staan dit nou vir almal op die kaart” (10).

Die ongenoemde eiland word deur die skrywer-joernalis-verteller ervaar as ’n stereotipiese Afrika-omgewing met strydende politieke en godsdienstige groeperinge, alomteenwoordige armoede, ’n verslonste en slordige plaaslike bevolking, en wÍreld-verbeteraars soos William, die rooikop-Brit wat aanvanklik “op eie houtjie ’n Ekologiese Sentrum begin het ... gestreef het na ’n skoner omgewing en ... eilandkinders geleer (het) om mooi hul Fanta-blikkies in sy vullismandjies te gooi” (15).

Die verteller bied die opmerking ironiserend aan en die leser word vroeg reeds daarop attent gemaak dat diť vorm van ingryping in Afrika die konseptuele stramien van die verhaal vorm.

Selfs al word die verhaal gesitueer op ’n ongespesifiseerde eiland, is dit tog opvallend dat Afrika hier konseptueel as ’n monolitiese entiteit aangebied word, nie net deur die ek-verteller nie, maar ook deur sy hooffiguur en die naasliggende newefigure. Dit is ’n novelle waar die koloniale blik oorheers, selfs al probeer die ek-verteller allerlei korrektiewe inbou, soos byvoorbeeld sy eie nieveroordelende houding of die deelnemende assosiasie van sy hooffiguur.

Die titel van die novelle, Palmwyn, roep natuurlik The Palm-Wine Drunkard (1953) van die Nigeriese skrywer Amos Tutuola op. Reeds in Tutuola se novelle is die hallusinÍre en nagmerrie-agtige nagevolge van palmwyn aan nie-Wes-Afrika-lesers bekendgestel. Van Dis bou sy verhaal juis om die berugte nagevolge van palmwyn.”Palmwyn maak vreemde kragte in jou los. Dit gaan sit in jou bloed. Jy hoor meer, jy sien meer ... dit versterk die goeie ťn die kwade. Jy moet versigtig drink daaraan, sÍ die kenners, want voor jy weet, beleef jy sensasies wat jou hele lewe omkrap” (26); of “Palmwyn jaag ’n ander wÍreld deur jou bloed”; of “Die palmwyn het hulle ’n soort wysheid gegee wat nie gewone nugteres beskore is nie” (48).

Courtland kom van aangesig tot aangesig met haar eie verlede en die nagmerrie van die Afrika-hede wanneer sy vir die eerste maal palmwyn drink. (Later word sy selfs ’n bietjie verslaaf daaraan.) Die palmwyn is die magiese middel wat haar tot insig van haarself bring, veral nadat sy ontsnap het uit ’n burgerlike Amerikaanse omgewing na die dood van haar man. Binne die “beperkinge van die eiland” ontdek sy dat sy haarself ruimte kan gee, “my nie langer laat lei deur die noodlot nie, maar self beheer neem oor my lewe” (53).

Sy raak in haar omswerwinge op die eiland intiem betrokke by ’n tipiese kolonis, Diller, en sy Afrika-teenpool, die godsdienstige en polities-betrokke Sow. Die karakters verteenwoordig nie net verskillende ervaringe vir Courtland nie, maar ook verskillende perspektiewe op sosiale verbondenheid. Diller se houding jeens Afrika is ’n onverskillige afsydigheid: “Afrika is nie menslik nie” (88). Daarteenoor wil sy juis deur Sow betrokke raak: “Dwing my dan om iets te doen” (83), sÍ sy per geleentheid.

Ten spyte van haar natuurlike besluiteloosheid word sy gedwing om uiteindelik tydens ’n opstand kant te kies — ’n gebeurlikheid wat vir die verteller aantoon dat Courtland “die eilandbewoners daaraan herinner dat ’n mens nie passief hoef te bly nie. Dat dit beter is om jou toekoms in jou eie hande te neem as om gelate te wag en die ander die skuld te gee” (101).

Die novelle eindig met die verteller se stigtende refleksie oor sy eie betrokkenheid en sy keuse dat die agtergeblewenes en gekoloniseerdes hul eie lot kan beding: “Deur afstand te doen van die illusie dat ek ander moes red, het ek minder hooghartig geword en het ek myself toegankliker gemaak vir my medemens” (104).

Ten spyte van die beroep op innerlike krag en die voortreflikheid van selfwerksaamheid het die novelle my onvergenoegd gelaat. Dit is nie net die onderliggende beterweterigheid van die koloniale perspektief waarvan die beroep tot innerlike krag so ’n duidelike bevestiging is nie, maar ook die totale gebrek aan relatiwiteit en die eenvoud van visie op Afrika (selfs al is dit die beperkte Afrika van die ongenoemde eiland). Afrika is tog meer dinamies en meer multidimensioneel as die skrale joernalistieke perspektief wat uit Palmwyn blyk.

Alhoewel ek nie ’n vergelykende ondersoek van die oorspronklike teks en De Vries se vertaling gedoen het nie, is die vertaling oorhoofs vloeiend, terwyl daar soms tog enkele strammerige passasies is en glimmeringe van die Nederlandse bronteks deurskemer.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.