SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

’n Uitmuntende beheersing van Afrikaans

Louise Viljoen

StinkafrikanersStinkafrikaners
Tom Dreyer

Tom Dreyer se jongste roman, Stinkafrikaners, handel oor dié soort karakters wat ’n mens meestal op die agterblad en in die snuffelkolomme van koerante aantref.

Daar is byvoorbeeld die twee misdaadkonings, Joe Pereira en Die Baas, wat besig is om met mekaar te wedywer vir die omgewing se enigste dobbellisensie. Hierin word hulle onderskraag deur trawante met name soos Pylstert en Moersleutel. Verder is daar die meisies van die Tropical Flower-bordeel, die oudpolisieman Niklaas Slachter wat sukkel om weer op sy voete te kom, die hondevanger Joep Visagie wat die strate deurkruis in ’n geel paneelwa, en die psigotiese Sybrand Ploff wat besig is om ’n bom te bou waarmee hy die korrupte wêreld rondom hom wil vernietig. Voeg daarby nog ’n paar rare randkarakters soos die slagter Stavros, die restauranteienaar Lorenzo en die kwaksalwer Bobo Gibbro, plaas hulle almal in die omtes van die Kaapse voorstad Parow en daar is volop geleentheid vir aksie.

Dié is daar dan ook oorgenoeg van, veral die soort wat ons al leer ken het uit die geweldsfilms wat Dreyer ook as inspirasie vir sy vorige roman, Erdvarkfontein, gebruik het. Die geweldstonele wat so ’n noodsaaklike deel uitmaak van die gebeure in Stinkafrikaners is trouens intertekstueel verbonde aan die wye repertoire van sulke tonele in geweldsfilms. Die vulstasietoneel eindig byvoorbeeld met die spektakulêre ontploffing van ’n groen Mercedes, die restaurantgeveg eindig met die verwoesting van alles daarin en die bakleiery by die kegelbaan eindig met bloed en pappery.

Lesers wat grootgeword het met dié soort film sal hierdie gestileerde ballet van geweld herken as deel van ’n bepaalde genre wat sy eie voorskrifte het; ander wat hulle tande gesny het op die subtiliteit van Jane Austen en Henry James sal miskien wonder hoe hulle hierdie geweldsdiskoers moet interpreteer. Myns insiens funksioneer die geweldstonele in Dreyer se werk byna as ’n soort troop wat vir die leser aandui dat dit hier gaan om ’n bepaalde genre waarin geweld deel is van ’n voorgeskrewe reeks bewegings eerder as rou realiteit.

Soos wat ’n mens uit bostaande kan aflei, word Dreyer se roman in ’n groot mate gedryf deur die opeenvolging van ’n reeks bisarre gebeure. Die skrywer slaag daarin om die groot verskeidenheid karakters en hulle verskillende verhale te vervleg tot een spannende storielyn waarin allerlei onwaarskynlikhede en toevallighede ’n rol speel. Die verskillende verhaallyne word aan die einde van die roman vernuftig bymekaar gebring en afgebind tydens ’n karnaval met ’n optog van sierwaens in Parow se Voortrekkerweg. Net soos Erdvarkfontein sluit hierdie roman dus ook af met ’n uitbundige fees (die troop van die Bakhtiniaanse karnaval, partytjie of fees word nogal dikwels in postmodernistiese romans gebruik om ’n geleentheid te skep waartydens grense oorskry kan word en dinge getransformeer kan word). Tydens die karnaval bereik die liefdesverhaal van die hondevanger Joep en die prostituut Magriet ’n gelukkige hoogtepunt. Die toneel waarin Magriet “’n speelse hap (vat) van die spookasem wat Joep tussen hulle hou”, is meer as net ’n toevallige stukkie kommentaar op die liefdesverhouding tussen ’n prostituut en haar kliënt wat in films soos Pretty Woman suikersoet geromantiseer word en in die onlangse The Centre of the World greinerig gedekonstrueer word. Op presies dieselfde moment bereik die verhaallyn waarin die misdaadbase figureer ook sy hoogtepunt in ’n finale orgie van geweld. Dat die outeur hom ook goed bewus is van die spannende effek wat die oop einde kan hê, word bewys deur die onheilspellende slotverwysings na Sybrand Ploff wat die strate van Parow patrolleer met sy motor wat teen hierdie tyd “weinig meer as ’n mobiele bom” is.

Die intertekstuele spel met filmtemas word aangevul met die gebruik van verteltegnieke wat herinner aan die kamerategnieke in films. Die belangrikheid van visuele elemente word reeds van vroeg in die roman beklemtoon deur die herhaalde verwysings na oë, spieëls, vensters en verskillende maniere van kyk. Joep Visagie se verwondering oor hoe ’n spieël werk en sy vergelyking daarvan met die “struktuur van die menslike oog” (64) maak die leser bewus van die belangrike rol wat waarneming, perspektief en ook die verwringing van perspektief in die roman speel. Verder word die verteltegniek gekenmerk deur aanhoudende verskuiwings van die waarnemingspunt wat herinner aan die manipulasie van kamerahoeke in ’n film. Daar word byvoorbeeld herhaaldelik gefokus op klein details wat ’n soort ikoniese belangrikheid verkry, soos in die geval van die fokus op die twee mossies wat op ’n stopteken sit en flankeer aan die begin van die roman. Die invloed van film is ook merkbaar in die wyse waarop konkrete, visuele elemente soos die falliese vingers in formalien en die eenhoring op die Clicks-teken omskep word in simbole.

Dreyer openbaar ook in hierdie roman sy uitmuntende beheersing van Afrikaans. In sy taalgebruik klink ’n verskeidenheid registers deur waarvan sommige haas besig is om weg te raak uit ons taal. Die aantreklikste hiervan is die koel afstand waarmee hy ’n soort ouderwets-formele Afrikaans gebruik om die melodramatiese gebeure te beskryf. Hierdeur ontstaan daar ’n komiese kontras tussen die taalgebruik en die omgewing van geweld, korrupsie en verval wat ons bewus maak daarvan dat ons hier met ’n erg ironiese blik op die gebeure te doen het. Die skrywer maak ook bewustelik gebruik van clichés om kitsch effekte te bewerkstellig wat sal pas by sy Parow-melodrama. Dat hy volkome bewustelik omgaan met hierdie effekte, blyk uit die feit dat hy die cliché van die prostituut “met die hartseer oë” opvolg met ’n verwysing na haar medeprostituut wat eers Hallmark-kaartjies geskryf het voordat sy dit gelos het vir die “lonender én lekkerder lewe” in die bordeel.

Met sy uitbeelding van ’n laermiddelklasbestaan sluit Dreyer aan by die werk van skrywers soos Etienne van Heerden (Liegfabriek), Jeanne Goosen (Ons is nie almal so nie en oa Daantjie Dromer), Marlene van Niekerk (Triomf) en Jaco Fouché (Ryk van die rawe). Dat die stinkafrikaners van hierdie roman laerklasmense is, word bevestig deurdat hulle gekontrasteer word met die superafrikaners wat volgens een van Niklaas Slachter se onbekende kroeggenote eintlik “die gevaarlike donners” is. Presies wie die stinkafrikaners van Parow is en hoe die nate van hulle verskil met die superafrikaners lê, moet die leser egter self aflei, omdat die skrywer homself nie werklik toelaat om enige vorm van kommentaar te lewer op hulle bestaan nie. Daar is wel sprake van wonderlike “visuele insigte” in die aard van die suburbiaanse lewe, soos in die toneel waar Joep kyk na die twee meisies by ’n Portapool en die toneel waar Joep se ma in die reën besig is om die omtrek van ’n pampoen te meet. Ten spyte daarvan is daar nie in Dreyer se uitbeelding van hierdie mense sprake van die soort maatskaplike of sosiale onderbou wat ’n mens byvoorbeeld in die werk van Van Heerden, Goosen of Van Niekerk kry nie. Jammer genoeg lyk dit asof die skrywer dit doelbewus vermy om sy verhaal in te bed in ’n bepaalde sosiale of politieke konteks en dat hy ook daarvan wegskram om die morele of filosofiese onderbou van sy karakters se bestaan te probeer peil. Miskien vind Dreyer se roman, naas die verwantskap met die vlot en foutloos vervaardigde films van Hollywood, ook aansluiting by die lakonieke aanslag van skrywers soos Raymond Carver en Richard Ford.

Stinkafrikaners is ’n elegant-uitgevoerde spel met verskillende genres waarin Dreyer weer eens sy vermoë bewys om die kodes van ’n wêreldwye, kontemporêre kultuur in ’n Afrikaanse wêreld in te bed.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.