SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

DJ Opperman-gedenklesing
Universiteit van Stellenbosch


Die DJ Opperman-gedenklesingreeks is deur die Universiteit van Stellenbosch ingestel om die nagedagtenis te eer van die bekende Afrikaanse digter, dramaturg en kritikus DJ Opperman, wat van 1960 tot 1979 professor in die Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch was.

Die agtste DJ Opperman-gedenklesing is op 30 Mei 2001 deur prof André P Brink gehou.


Groot Verseboek: Kanon of haelgeweer?

André P Brink

Rondom die samestelling van Groot Verseboek 2000 het daar ’n nogal heftige polemiek ontstaan wat veral gefokus was op die vraag of so ’n uitgawe in diens van kanonvorming sou staan, en of so iets in ons huidige boeiende tydsgewrig wenslik of onwenslik was. Dit het onder meer die vraag gestel waar so ’n bloemlesing hom (of miskien haar) sou of kon opstel tussen wat gesien is as die pole van die kanon (die monolitiese lees van ’n “Great Tradition”) en die haelgeweer, oftewel ’n min of meer lukrake losbrand in die bondel. Noudat die stof gaan lê het, mag dit interessant — en selfs gesond — wees om ’n keer ’n aantal van die vrae onder die loep te neem wat deur so ’n debat in die gedrang gebring is. Party van hulle is van ’n breë en teoretiese aard; ander is meer spesifiek aan die tyd en plek van hierdie geval gebonde.

1
By wyse van agtergrond, wat — hoe fassinerend uit eie reg ook al — hier net in breë strepe ingevul kan word, is dit verhelderend om te kyk na die groter geskiedenis van bloemlesings in die literatuur. Dit is ’n bedryf wat in Griekeland ontstaan het met die sogenaamde “Anthologia”, ’n naam wat letterlik dieselfde as die Afrikaanse vertaling beteken en dui op ’n versameling van ’n stuk of 6 000 kort gedigte en inskripsies van min of meer elegiese aard deur meer as drie honderd digters tussen die jare 700 vC en die tiende eeu nC. Die eerste uitgawe van dié versameling is in 60 vC onderneem deur ene Meleagros van Gadara (of daar enige verband tussen hom en die Gadareense swyne bestaan, is onwaarskynlik, ofskoon dit ’n paar interessante moontlikhede oproep). Daarna is dit hersien in ’n versameling van Philippus van Thessalonika (40 nC) en van toe af periodiek aangevul en herdink, nie net deur individuele samestellers nie, maar by geleentheid ook, onvermydelik, deur min of meer akademiese komitees, soos die Sirkel van Agathias (570 nC). Teen die tiende eeu het dit ’n naastenby definitiewe vorm aangeneem in ’n uitgawe deur Constantinus Cephalas; maar dit het latere liefhebbers en/of belanghebbers nie daarvan weerhou om dit eeue lank te bly bywerk nie. Die volledigste uitgawes het trouens tussen 1794 en 1814 die lig gesien.

Ten spyte van die opvallende kanoniserende strekking van so ’n lank volgehoue onderneming, was die Anthologia tog nooit ingestel op “die beste” nie en het dit nooit probeer om die grootmeesters van die Griekse literatuur na die kroon te steek nie. Dit was dus altyd ’n soort “alternatief”: die “vlaktes” van die poësie, soos een kritikus dit gestel het, eerder as die bergtoppe waar manne soos Homeros, Aiskulos, Sophokles, Euripides en dies meer (en ’n vrou soos Sappho) met of sonder hul muses, manlik of vroulik, rondgedwaal en hul bokkespronge uitgevoer het.

In die meer moderne literature was daar uiteraard van taamlik vroeg af al samestellings van keuses en keure, maar dit wil voorkom asof dit wat ons vandag naastenby onder bloemlesing verstaan, in werklikheid eers betreklik laat begin vorm kry het — in die meeste Wes-Europese literature as ’n stimulus tot, en/of ’n uitvloeisel van die Romantiek. In Duitsland het die jong Goethe begin met die versamel van hoofsaaklik mondelinge ouer volkspoësie wat gevaar geloop het om te verdwyn. Dit was deel van ’n soort “reddingsaksie” eerder as blote versamelwoede. En in die loop van die negentiende eeu het dit besondere stukrag verkry in die werk van versamelaars soos Brentano, Von Arnhem, Kieck en andere (mens dink aan ’n sleuteltitel soos Des Knaben Wunderhorn van 1805). Wat begin het as ’n poging om ’n hele ou Nordiese tradisie weer te laat herlewe, verkry algaande ’n veel meer spesifieke fokus op die nasionale. En dat ’n figuur soos Herder, wat ’n min of meer bepalende beslag aan die begrip nasionalisme gegee het, ook een van die groot bloemlesers geword het, is sekerlik nie sonder betekenis nie.

Ook in Italië begin bloemlesingaktiwiteit veral teen die laat agtiende eeu — dáár veral om ’n nasionalistiese teenwig teen Frankryk te begin vorm. Wat mens hier tref, is dat die bloemlesers begin “volk bou” het lank voordat militêre en politieke leiers soos Mazzini, Garibaldi en Cavour dit tot unifikasie deurgevoer het.

Frankryk dra nog ’n betekenisvolle dimensie tot die geskiedenis by. Mens sou miskien verwag dat die bloei van die Renaissance en die Klassisisme hier al vroeg ’n uiting sou gekry het in die saamstel van “florilèges” (wat opnuut “bloemlesing” beteken), maar volgens ’n kenner soos Emmanuel Fraisse was daar toe alreeds so ’n sterk ontwikkelde besef van Franse identiteit, dat bloemlesings nie “nodig” was nie. Dieselfde geld vir die periode direk ná die Revolusie. Dit is betekenisvol dat selfs die nederlaag van Napoleon nie die Franse identiteit genoegsaam geknou het om in bloemlesings te gaan skuiling of uitdrukking vind nie. Eers heelwat later in die negentiende eeu, openbarend genoeg rondom die Franse nederlaag teen die Duitsers in 1871, het daar ’n oplewing in die samestelling van bloemlesings gekom — baie sterk ingestel op skoolgebruik (byvoorbeeld Le Tour de la France par deux enfants in 1877). Die didaktiese en pedagogiese opset hier is onmiskenbaar — vermoedelik (weer volgens hedendaagse interpreteerders) omdat die “volk” hoofsaaklik as “kinders” beskou is.

In die Engelse literatuur is die hele Romantiese beweging eintlik ontvang en gebore uit biskop Percy se Relics of Ancient English Poetry van 1765, wat nes die tydgenootlike werk in Duitsland nog eerder op ’n “reddingsdaad” en “bewaringsaksie” ingestel is, voordat dit in die loop van die negentiende eeu meer hedendaagse kenmerke begin vertoon het — vermoedelik (onder meer) as ’n reaksie op die sterk opkomende Europese nasionalismes van daardie tyd. (Interessant genoeg is dit ook Engeland wat laterig in die negentiende eeu die voortou neem om die opstel van “nasionale bloemlesings” op te dra aan ’n semi-offisiële instansie, in hierdie geval die OUP.)

Om saam te vat: dit wil voorkom, minstens voorlopig, asof die meeste literature ’n neiging tot die saamstel van naasteby “gesaghebbende” bloemlesings vertoon wanneer daar ’n spesifieke behoefte ontstaan om die nasionale identiteit te definieer — des te meer wanneer daardie identiteit onder die een of ander vorm van druk (intern of ekstern) verkeer.

2
Gegewe die omstandighede waaronder die Eerste Taalbeweging in Afrikaans ontstaan het — uit die staanspoor gewikkel in ’n oorlewingstryd teen twee gevestigde literature, Nederlands en Engels — kom dit nie as ’n verrassing nie dat bloemlesings van poësie van vroeg af al probeer het om die “state of the nation” te peil. Vanaf 1878 was daar nie minder nie as sewe bundels Afrikaanse gedigte saamgestel uit die Patriot en die Almanak, totdat SJ du Toit teen 1906 sy gesaghebbende versameling uit die vorige dertig jaar gepubliseer het.

En die Tweede Taalbeweging was nog pas op dreef, of die tendens is voortgesit — ál naarstiger nadat Afrikaans in 1925 as amptelike taal erken is en voorgeskrewe tekste op skool nie net ’n kulturele wapen geword het nie, maar ook ’n gewaardeerde bron van inkomste.

Dekades lank het bloemlesers soos MSB Kritzinger, EC Pienaar, DF Malherbe en andere op kenmerkende Afrikaanse manier sappige finansiële vrugte gepluk uit die uitvoering van wat steeds vroom as ’n eerbiedwaardige “volkstaak” voorgestel is. En juis omdat dit kwansuis die volk se heil was wat gedien moes word (Deutschland, Deutschland über alles), het niemand dit ooit nodig geag om ’n sent vergoeding oor te betaal aan digters wie se werk in hierdie bloemlesings opgeneem is nie. (Met spesifieke verwysing na die ongoddelike godsman en oortalige taalman DF Malherbe het Opperman later op sy epigrammatiese manier gesê dat dit vir die oubaas veel eerder om die “sak” as om die “saak” gegaan het.)

Dit was in 1947 dat Opperman saam met WEG Louw deur die Nasionale Pers genader is om ’n nuwe omvattende en gesaghebbende bloemlesing saam te stel wat in die eerste plaas ingestel sou wees op voorskrywing aan universiteite en op skool. Soos Kannemeyer se Opperman-biografie dit omstandig boekstaaf, het die projek heelwat langer geduur as wat beplan was, veral vanweë Louw se kenmerkende swierige indolensie; en uiteindelik het dit uitgeloop op drie afsonderlike bloemlesings: Groot Verseboek, Senior Verseboek en Junior Verseboek, gepubliseer in 1951. (Mettertyd is dié nog aangevul deur Klein Verseboek en Kleuter Verseboek.) Vir die eerste keer in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis is digters vir hul opname in ’n bloemlesing vergoed.

Baie gou het die Verseboeke alle ander mededingers van die baan geveeg en gevestig geraak as die standaardkeuse uit die Afrikaanse poësie, oftewel, volgens TT Cloete, “die barometer van die Afrikaanse poësie”. Om daarin opgeneem te word, was vir enige digter die finale bevestiging van erkenning en “status”. Hoewel verhuisings en ’n verlies aan dokumente dit ongelukkig vandag onmoontlik maak om presiese syfers te bekom oor die verkope van die Verseboeke sedert die eerste uitgawe tot en met die laaste uitgawe waaraan Opperman ’n hand gehad het (dié van 1983), beloop die globale aantal ’n hele paar honderdduisend. Dit alleen dui al, selfs bloot kwantitatief, op die invloed wat die publikasie in die loop van ’n halfeeu op die Afrikaans-lesende gemeenskap moet uitgeoefen het. Daar kan min twyfel bestaan dat dit dié kanon van die Afrikaanse poësie geword het.

Maar daar skuil ’n paradoks in die situasie. Enersyds was Opperman se Verseboek (ek gebruik voortaan maar die enkelvoud selfs wanneer ek al drie uitgawes bedoel) immers daarop ingestel om die “volkstaak” van die ouer Afrikaanse bloemlesings te vervang met ’n ingesteldheid op gehalte: Opperman praat dan ook sonder voorbehoud van “die mooiste Afrikaanse gedigte” in sy eerste inleidings. Maar veral as mens dit saamlees met Van Wyk Louw se ontwikkelende beskouings oor nasionalisme in die middeljare van die twintigste eeu, word dit duidelik dat dit tog ook om ’n “volkstaak” gaan — sy dit dan vanuit ’n nuwe en selfs verskuiwende definisie van wat “volkstaak” uiteindelik beteken.

Die aanvoorwerk begin, soos ek aangedui het, reeds vóór die oorwinning van die Nasionale Party in die verkiesing van 1948. Maar dwarsdeur die jare dertig, en heel pertinent gedurende die jare veertig, was die geding om die “siel” van die volk — kortom, om “Afrikanerskap” — in volle swang. Eksplisiet mag Opperman se doel as bloemleser “suiwer esteties” gewees het (wat so ’n term vandag ook al mag beteken), maar geoordeel binne sy konteks, kon dit nie ánders nie as om deel te wees van die opstotende nuwe gety, oor ’n breë front, waarbinne “Afrikaner” van nuuts af gedefinieer is: ’n gety wat nie net die Piet Meyers en Geoff Cronjés, die Broederbond en die opkomende generasie van Verwoerds ingesluit het nie, maar ook diegene wat Marx as “kulturele werkers”, selfs as “meelopers” of “bruikbare idiote” gebrandmerk het. (En dat dit primêr ’n patriargale aksie was, is ewe onmiskenbaar — ten spyte van die kumulatiewe pogings, oor die dekades, deur mense soos Marie du Toit, MER, Mabel Malherbe en andere om ’n vroulike dimensie daaraan toe te voeg; Opperman self sal nog in Digters van Dertig Elisabeth Eybers hoogstens as ’n “vroulike aanvulling” beskou.)

Soos in die Europese literature van die negentiende eeu wat hulle om verskillende redes en op verskillende maniere tussen die engtes bevind het, was daar in Afrikaans ’n nood aan ’n bloemlesing wat die nasionale identiteit sowel in sy eenheid as in sy verskeidenheid kon boekstaaf — die beleërde Afrikaner, wat nou nie meer net mede-Suid-Afrikaners van ander tale en kleure as sy “Ander” wou aanvat nie, maar die hele wêreld wat begin het om in ’n postkoloniale sleutel te begin droom.

En daarmee kom dan seker onvermydelik die paradoks wat Groot Verseboek uit wans uit saamgedra het: dat hierdie werk, wat dalk selfs méér as die groep Dertigers gedoen het om die ontvoogding van die Afrikaanse literatuur uit ’n matrys van koloniale denke aan te kondig, juis ook — en inderdaad teen wil en dank — die brandmerk van interne kolonialisering moes dra. Teen wil en dank: want behalwe ’n paar gans onkundige raasbekke in die onlangse polemiek, kon niemand Opperman ooit daarvan beskuldig dat hy byvoorbeeld bepaalde vrouefigure of digters van minder-wit allure uit die Verseboek geweer het nie — dit wil sê, dat hy “opsetlik” ’n oorweldigende indruk van blankheid en manlikheid wou kanoniseer nie. Hy was maar te gretig (enkele blinde kolle soos Wopko Jensma ten spyt) om náás sy onverbiddelike eis ten opsigte van “gehalte”, ook literêr-histories inklusief te werk te gaan — naamlik om “die gedigte so (te) kies en (te) rangskik dat dit enigsins ’n beeld van die ontwikkeling van ons poësie gee”. Dit was die Afrikaanse poësie sélf wat hom, tot en met die jare Tagtig, nie toegelaat het om iets anders saam te stel nie.

3
In ieder geval het Opperman dit van die begin af onomwonde gestel: “Elke geslag stel ... sy eie bloemlesing saam.” En die verskuiwinge wat die Afrikaanse literatuur as deel van (en sekerlik ook as barometer van) die groot politieke omwentelinge in die land sedert 1976 ondergaan het, moes noodwendig mettertyd die oorweging van `n nuwe Verseboek aan die orde stel. Teen die begin van die nuwe dekade, toe Opperman self al sy nuwe hersiene uitgawe tot naasteby 1980 bygewerk het, het sy verswakkende gesondheid dit vir hom onmoontlik gemaak om self daarmee voort gaan. Sy versoek dat ek bygehaal moes word, is deur sy vrou Marié aan my oorgedra. Vantevore al was sy, saam met Canis Scholtz, Boerneef en Fred le Roux (asook, meer indirek, Van Wyk Louw) ’n onmisbare raadgewer by die samestelling; en haar samewerking was vir my sowel ’n inspirasie as ’n openbaring.

Een van die probleme waarmee ons te kampe gehad het, was dat verskeie nuwer stemme wat uit die veranderende politieke omstandighede begin opklink het, nog nie in gebundelde vorm gepubliseer was nie en daarom — volgens een van Opperman se standhoudende uitgangspunte, wat ek ook later veral om praktiese redes sou eerbiedig — nie oorweeg kon word nie. Om hierdie redes was die uitgawe van 1983 in hoofsaak ’n bywerking eerder as ’n beduidende nuwe begin.

Gedurende die jare Tagtig was daar sinistere magte — ’n soort desperate “rearguard action” — aan die werk om die “integriteit” van die Afrikaanse literêre kanon te verskans. Dit was onder meer sigbaar in Standpunte. Met die stadige wegbeweeg van die Grové-era (wat gevolg het op die tydskrif se vroeë “Goue Eeu” onder die geïnspireerde leiding van die Louws, Opperman, Antonissen en ’n paar ander), was daar ’n poging tot vernuwing en verjonging met die aanwys van PG du Plessis as eindredakteur — maar teen die basuin van His Master’s Voice kon hy nie veel hond haaraf maak nie. Kannemeyer het deugsame harde werk verrig, maar Standpunte het onmiskenbaar die literêre “establishment” bly verteenwoordig. Daarna het Piet Cilliers agter die skerms gesorg dat die kanon die vox dei bly — in weerwil van soms geïnspireerde nuwe roeringe onder die vaandel van Ernst van Heerden.

En met my eie aanvaarding van die eindredakteurskap het dit, eerlik gesê, nie juis verander nie. Deels onteenseglik my eie skuld — mea maxima culpa. Maar daar was ’n sware kanonieke hand uit die verlede wat die bevaar van nuwe waters geïnhibeer het. Die één radikale stroomverlegging wat ek aangedurf het (en wat mettertyd ’n proeflopie vir die nuwe Verseboek geword het), was om ’n beduidende gedeelte van ’n nuwe nommer te wy aan die werk van “nuwe stemme” van die Kaapse Vlakte, die Weskus en elders (onder “elders” het ook Matthews Phosa getel). Hierteen het verskeie ouer redaksielede verwoed beswaar gemaak. En voordat daardie uitgawe kon verskyn, terwyl ek in 1986 ’n paar maande in Europa was, is Standpunte sonder enige poging om die eindredakteur uit ordinêre hoflikheid selfs in kennis te stel, nek omgedraai. Die tydskrif was op daardie tydstip inderdaad al aan die wankel, maar daar was nog genoeg geld beskikbaar vir minstens ’n paar nommers; en sonder om te stellig te wil wees, moet ek aflei — in die afwesigheid van enige poging die afgelope vyftien jaar om ’n meer oortuigende rede aan te voer — dat die moontlikheid van ’n aanslag (deur bruin en swart stemme) op die Afrikaanse kanon ’n belangrike rede was waarom Standpunte nie die kans gegun durf word om voort te bestaan nie.

Hierdie klein ekskursus is uitsluitlik bedoel om ’n dubbele feit te illustreer: dat die tyd vinnig aan die ryp word was vir ’n radikale herbesinning oor die hele konsep van ’n kanon; en dat daar ook nog formidabele magte aan die werk was om juis so ’n onderneming teen te werk.


4
Hierdie reaksionêre magte is nog steeds aan ’t woeker. Mens herken hulle aan die drang om Afrikaans te “beskerm” of te “handhaaf” (vergetende dat — in Antjie Krog se gevleuelde woord — Afrikaans eers bevry sal word wanneer dit die dag bevry is van diegene wat dit probeer bevry). Hierdie soort handhawing spruit in sy wortels uit ’n begeerte om gewese bevoorregting te bestendig, en het met die taal as sodanig min te doen.

By wyse van kanttekening: Ek self het nog nooit die kommer oor die taal se voortbestaan gedeel nie. Daar is genoeg sprekers van Afrikaans — en dat die meeste van hulle nie wit is nie, is ’n bykomende waarborg — om te sorg dat die taal sal voortbestaan vir solank as wat dit vir hulle ter sake is. Kunsmatige pamperlang kan ’n mummie hoogstens balsem, nie laat weeropstaan nie. En dis eintlik pateties om te sien watter uiteenlopende vorme so ’n handhawingsmentaliteit aanneem, vanaf PRAAG tot by die speelstyl in Super Twaalf- en Springbok-rugby. Vanslewe was daar nog iets aweregs-heroïes in Don Quichot se veldtog teen windmeulens; maar in die stryd van ’n dun man teen ’n Parmalat-plastiekbottel is daar nie eens vermaaklikheidswaarde nie. (Veel eerder sou ek dink ’n mens behoort te waak teen die slaprug-houding onder Afrikaners wat gedienstig ons openbare uitsaaier se eenogige speletjie saamspeel deur te praat van die “SABC”: ons praat tog nie van “UNO” of die “OAU” nie.)

Wat het dit alles met ’n Verseboek te doen? Steeds dit: solank ons in die ban bly van ’n beheptheid met “handhawing” of selfs “bevordering” eerder as bevryding en bevestiging, gaan ons opgeskeep bly sit met die fossiliserende uitwerking van ’n kanon-mentaliteit. Vir te lank het Afrikaners hulle self gedefinieer (of láát definieer?) in terme van dit waartéén hulle is, in stede van te oorweeg dat daar ook wêrelde van ervaring is waarvóór ’n mens kan wees.

5
Gelukkig het daar oor die afgelope jare ook ’n nuwe gees in Afrikaans vaardig geword wat onvermydelik moes uitloop op ’n herwaardering — en ’n herverbeelding — van die kanon-begrip sélf. Die groot sosiopolitieke grondverskuiwing kon nie anders as om ’n drif tot selfvernuwing en herdefiniëring gaande te maak nie. Natuurlik was en is daar Afrikaners wat hulle steeds in die eerste plaas laat aanvuur deur vrees: die beheptheid met “Donker, donker middernag,/ Nader sluip die Zoeloemag ...” Die ironie is dat diesulkes vergeet dat daar in verhelderende oomblikke selfs in die poësie van ’n Jan Celliers, ’n Totius, ’n DF Malherbe (hetsy van sak- of saaformaat) al blyke was van ’n besef van ’n ander kant, of ’n ander manier van kyk. In Celliers se “Inboorlinge” praat die swart man: “Kyk die os-wa -/ lange ry;/ oemlong kom,/ sal altyd bly,/ neem die land,/ sal nooit weer gee ...” In Malherbe se “Vir Vryheid” is daar ’n besef dat die witman wat hom hier kom vestig het, nie maar net loflike dinge saamgebring het nie, maar dat daar in sy geledere ook uitskot was en “wat sleg is” hier aangedra het.

Sulke gedigte is ’n halfeeu lank uit Groot Verseboek geweer. Soos ook, hoogs betekenisvol, in ’n ander sleutel, Marais se merkwaardige “Lied van Suid-Afrika”: al die loftuiginge op die land wat dwarsdeur die eerste twee taalbewegings bly galm en later beslag kry in die stem wat dawer uit die blou van onse hemel en die diepte van ons see, word hier met ’n omkeer van die hand verander in ’n skrikwekkende perspektief waar die stereotipe van die liefdevolle, versorgende moeder-land haar kinders oor die berge wegsmyt en in die sandwoestyn versmoor — ’n verbysterende terugkeer na die moment waarin die hele latere Suider-Afrikaanse poësie gekonsipieer is: Camoens se Adamastor-figuur in die Lusiade. Dié eksistensiële ervaring is lank nie meer vrees nie: dit is angs, dit is ontsag; en in sy diepste wese is dit kreatief — ’n nuwe manier van kyk en dink.

Maar ook op veel meer praktiese, onmiddellike maniere het daar verskuiwinge gekom wat dit moontlik — en nodig — gemaak het om weg te beweeg van die kanon. Van hierdie oorwegings is reeds in die voorwoord tot Groot Verseboek 2000 genoem, daarom is uitweiding hier nie nodig nie. Daar was gewoon die eksponensiële groei van die Afrikaanse poësie oor die afgelope dekades — meer as vier honderd bundels in twintig jaar — wat die hele digterlike landskap verander het: berge van vroeër het molshope geword, en omgekeerd. En binne hierdie kwantitatiewe groei was daar ook kwalitatiewe verandering van baie soorte. Vantevore was dit nog moontlik om eenvoudige tematiese keuses te maak; deesdae is dit amper ondoenlik. Letterlik niks in die hemel, of onder op die aarde, of in die waters onder die aarde, niks buite of binne die mens is meer buite bereik van ons poësie nie.

Om byna lukraak van die opvallendste nuwe groeipunte te noem: die dig-oor-die-dig het ál meer van ’n bedryf geword; die liefde het ’n huis van ontelbare wonings geword (die dae, byvoorbeeld, dat ID du Plessis man-alleen die homo-erotiese moes verteenwoordig, is vir goed verby); die maak van poësie uit die reeds gevormde poësie (wát Van Wyk Louw ook al naïef daaroor gemeen het) het in ’n opwindende en veelsinnige spel ontwikkel — en ook nie net binne die Afrikaanse poësie nie (Breyten met Van Wyk Louw met Leipoldt met digters uit die Eerste Beweging; Spies met Eybers; Hambidge met Cloete; Opperman met Marais; Olivier met Jonker ...) maar ver daarbuite (Blum met Dante of Villon; Johann de Lange met Auden; Breyten met Rilke of Amichai of Rimbaud; Krog met Plath; Stockenström met Homeros ...). Wie binne so ’n veelvlakkige wêreld aan die monoliet van ’n kanon wil vashou, moet die kop laat lees. Uit die borrelinge van ons magtige moeras galm daar vandag sange, toesange en teensange op wat die leser lewenslank kan besig hou.

Bowendien het daar oor die afgelope jare ’n paar gedugte nuwe bloemlesings in Afrikaans verskyn wat uit eie reg enige gedagte aan ’n kanon in sy kanon laat vlieg het. Johan van Wyk, Pieter Conradie en Nik Constandaris se SA in Poësie — SA in Poetry (1988) het ’n alternatiewe manier van dink oor die plaaslike poësie (en oor “poësie” überhaupt) aan die orde gestel; Ronél Foster en Louise Viljoen se Poskaarte (1977) het chronologiese verbande op nuwe maniere geaktiveer; en Gerrit Komrij se Die Afrikaanse poësie in duisend en enkele gedigte (1999) het ’n onverwagse — en nogal eiesoortige — Nederlandse perspektief bygebring (’n perspektief, bygesê, wat eerder vir die Afrikaanse leser van waarde is, naamlik as “alternatiewe” of selfs “aweregse” keuse, as vir die Nederlandse leser aan wie dit, sagkens gestel, ’n nogal idiosinkratiese beeld van “die” Afrikaanse poësie tuisbring).

Daar was nog al die jare ander bloemlesings in Afrikaans, van goed (Van Wyk Louw en Lindenberg se Treknet) tot sleg (Malherbe en Lategan se Afrikaanse verse). Dog hierdie drie het nie net ’n ander keuse uit die poësie aangebied nie, maar ’n ander soort keuse; daarby is hulle so omvangryk dat daar voortaan nie sonder meer nog na Groot Verseboek verwys kon word, soos WEG Louw gedoen het, as “die akkolade van erkenning” nie. En dit was ’n gesonde ontwikkeling, omdat dit die moontlikheid van ’n breër blik, van verskillende keuses náás mekaar, en van ’n nooit-finale keur geopen het — waarmee daar as ’t ware teruggekeer kan word na die ou Griekse Anthologia wat byna twee duisend jaar van selfvernuwing ondergaan het.

6
Tot sover oor kanonisering en die oopskryf daarvan. Voortaan hoef daar geen onvervalste evangelie van die Afrikaanse poësie te wees nie: die apokriewe en die vulgaat mag ewe geesdriftig meespreek, in al die tonge en tale wat die konsep van ’n Algemeen-Beskaafde norm bevraagteken en verruim het. (Dit is een rede waarom ek dit belangrik geag het om in Groot Verseboek 2000 vir die ouer gedigte terug te keer na die oorspronklike taal- en spelvorme wat in die konteks van “nasiebou” rondom 1948 nie doenlik was nie.) En die insiggewende is natuurlik dat Opperman eintlik self die idee van ’n “oop kanon” gevestig het, deur sy soms ingrypende hersienings van nuwe uitgawes.

Dit alles beteken egter, ten slotte, nié dat Groot Verseboek 2000 nou maar gesien kan word as ’n haelgeweer waarmee losgebrand kan word volgens die beginsel van “moge het treffen” nie. Enige samestelling bevat ’n kiem van subjektiwiteit: dit kan (getuie Komrij) die swakheid, maar ook (getuie Opperman) die krag van ’n bloemlesing wees. Waarborge is daar nooit; en ook nie die moontlikheid om ooit álmal tevrede te stel nie.

Daarom is dit sekerlik gerade dat enige bloemleser vir raad en aanvulling en terugvoering, en vir tweede, derde en vierde menings gaan aanklop by vertroude en gedeë helpers — soos Opperman hom gewend het tot sy Marié, tot Boerneef, en tot ander. Ook vir Groot Verseboek 2000 het ek dankbaar gebruik gemaak van die gevraagde en ongevraagde advies van staatmakers. Van ’n voorlopige plan om ’n min of meer amptelike advieskomitee saam te stel, is daar vroeg afgesien nadat sommige digters dit ongemaklik gevind het dat dese of gene van hul vriende of vyande op so ’n komitee sou dien. (Geen terrein in Angola of Kosovo lê só vol landmyne as die literatuur nie.) Daarvoor het ek — en Tafelberg — begrip gehad; en waar daar dus konsultasies of gesprekke was, het dit gewoon tussen vriende en kollegas gebeur. In één geval (nie ’n digter nie — juis nie ’n digter nie) was daar ’n dreigement tot afpersing (“Óf So-en-so word uit die paneel geweer óf ek sal sorg dat die werk van Wyk Louw, Opperman, Ernst van Heerden en ander aan Groot Verseboek 2000 onttrek word ...”). Dit het toe natuurlik nie gebeur nie. Maar teen sulke strategieë sal die Afrikaanse literatuur — insluitende die bedryf van bloemlesings maak — ook vorentoe weerbaar moet bly.

Waarborge is daar nog steeds nie. Al kwalifikasie waarmee die samesteller na haar of sy taak kan kom, is eintlik maar nederigheid. En onteenseglik liefde. En hopelik minstens ’n leeftyd van toewyding aan en oopgesteldheid voor die blomste blomme waaruit daar, verkieslik uit baie literature, gepluk kan word. En soos wat die lekkerste perske nog steeds ’n vy is, net so sal die grootste van die deugde nog altyd die liefde bly.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.