SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Die rol van die Afrikaanse skrywer in die postapartheid-tyd


Allan Boesak

Toespraak voor die Afrikaanse Skrywersvereniging
Pinelands, 14 September 2001


Dames en Here

Baie dankie vir die uitnodiging om vanaand met u te praat oor hierdie onderwerp — wat nie net vir skrywers van belang is nie, maar vir almal wat lees en wat belang het by Afrikaans. Elkeen wat Afrikaans liefhet en vir die taal ’n toekoms wens.


I

Voordat ek tot die onderwerp oorgaan, laat my eers ’n paar vooropmerkings toe. Ek vind dit jammer, maar ek is gedwonge om iets te sÍ, oor die onrustige gefladder in die hoenderhok wat deur die uitnodiging van u bestuur veroorsaak is.

Die eerste wat ek wil sÍ, is dit: ek is uitgenooi, ek het nie vir hierdie uitnodiging gehengel nie. Toe ek die uitnodiging uit beleefdheid aanvaar, word ek die teiken van buitengewone venyn gemaak. Dit het my laat dink aan wat my oorgekom het midde-in die tagtigerjare, toe ek as moderator van die destydse NG Sendingkerk deur die jeug van ’n gemeente in die Skiereiland uitgenooi was om as prediker by die jeugdiens op te tree Ö

Wat ek daarmee wil sÍ, is dit: Afrikaans is nie net ’n taal nie, dit is ’n lewenshouding. Dit is welwillendheid, goeie maniere, respek vir ander en vir myself, openheid vir mekaar. Dit is ook strydbaarheid, maar nie onbeskoftheid nie. Dit is ook weerbaarheid, maar die angstige benoudheid wat Afrikaans in sekere kringe vir so lank gekenmerk het, moet ons nou ook ten lange laaste agter ons laat. Daardie dodelike bangheid dat iemand anders iets sal sÍ waarvan ek nie hou nie, wat my dalk verkeerd kan bewys en wat, boweal, my eie kleinlike vooroordele aan skerwe kan slaan. ’n Lewende taal is ’n onbevange taal.

Daar is sommige, so sien ek, wat meen dat ek “ondergekwalifiseerd” is om oor die onderwerp waarvoor u my genooi het, te praat. Ek is dankbaar vir die getemperdheid van die woord, want in die ou dae sal dit sekerlik nog harder uitgekom het. Ek wil nou nie arrogant klink nie, maar ek wil dit sÍ:

Ek is Afrikaans (alhoewel in die oŽ van sommige nou miskien nie so onbeskaamd Afrikaans soos Staggie nie).

Ek het darem al in my lewe een of twee boekies geskrywe.

Ek het die grootste deel van my lewe aan die stryd teen apartheid gewy, die sisteem waaruit die gekwalifiseerdes so onbeskaamd voordeel getrek het.

Ek het ’n beskeie bydrae gelewer en gehelp om van die apartheidstydperk ’n “postapartheidstydperk” te maak. Ek het nie net met die pen in die hand nie, maar met my lewe in die hand apartheid die stryd aangesÍ.

In al daardie jare het ek net een wit Afrikaanse skrywer naas my in ’n egte lewensgevaarlike situasie gesien: Antjie Krog, in ’n kerkdiens en op straat in Kroonstad. Behalwe vir Breyten weet ek van geen wit Afrikaanse skrywer wat ooit met traanrook in hul oŽ tussen ons en sy aan sy gestaan het, saam met ons gemarsjeer het, saam met ons in die tronk was nie. Ek weet nie van een, weer behalwe Breyten, wat hul lewe gewaag het vir die ideale wat hulle so liries in hul boeke besing het nie.

Hulle het vanuit die ongeskonde rustigheid van hul huise langs die strand, in die bos of op die plaas hul lojale protes aangeteken; ons vir ’n glasie wyn uitgenooi en in ons koppe ingeklim; hul pen in die bloed van ons kinders gedoop en oor ons ellende en afsterwe geskrywe asof hulle self by was; en uit ons pyn en gebroke drome geld en faam en naam gemaak.

Nie een van hulle het ooit die beskeidenheid gehad om te dink dat hulle miskien net so ’n bietjie ondergekwalifiseerd was om oor ons lyding en dood te skrywe nie. Toe was ek stil gemaak, was nie een van my boeke in Afrikaans uitgegee nie, en nou, noudat ons stryd, ons geloof, ons hoop en ons liefde die dier verslaan het, word ek weer stil gemaak. Dit is inderdaad om van stil te word en oor die onnadenkendheid na te dink.

Oor wie nou eintlik van wie gesteel het, sal ek liewer nie praat nie — nie terwyl die gronde van my voorouers nog steeds in vreemde hande is en terwyl die landrowers vir die arme Carl Niehaus met sy hartseerlik-kort vergifnislys en al by die deur weggejaag het nie.

Bowendien, hieroor is die houding van die mense om wie dit eintlik gaan, welsprekend genoeg.

En so tussen hakies: dit is buitengewoon interessant om in die pers te lees dat my beskeie poging tot digkuns nou al (ongesiens en ongelese) “’n teer punt” by die gevestigde letterkundiges is. Dit laat mens nogal wonder oor die stand van die veelgeroemde letterkundige objektiwiteit.

Die geskel oor my beskeie honorarium laat ek vir wat dit is.


II

Maar om by ons onderwerp te kom Ö

Uit die talle uitdagings vir die Afrikaanse skrywer in die postapartheid Suid-Afrika is daar twee dinge waarvoor ek u aandag wil vra.


  • Versoening

    Versoening is, sedert 1994, die groot woord in die Suid-Afrikaanse politiek. Dit is sleutelwoord, strydwoord, afweerwoord, towerwoord. Dit word oral opgeŽis, oral hoog geprys, oral en op almal afgedruk. Dit word as nasionale ideologie as deel van ons nasionale besit verkondig, maar is nog byna nÍrens verwerklik nie.

    Dit is soos Jesus se analogie van die wind: dit waai waar hy will, jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy gaan nie. Die feit dat die rykes en die magtiges, die welbedeeldes en die hebbendes sÍ dat dit daar is, neem die feit nie weg dat vir die oorgrote meerderheid van ons land se mense dit pertinent nie waar is nie. Dit maak van ons “reŽnboognasie” ’n onwerklike begrip (om nie te sÍ ’n bespotting nie), ’n produk van wensdenkepolitiek, eerder as van ’n eerlike, deurwrogte proses.

    Laat ons mekaar goed verstaan: versoening is absoluut noodsaaklik. Ons kan daarsonder nie lewe nie, en ons land sal daarsonder ondergaan. Maar dit sal alleen werklikheid word as dit eg is, en dus eg in staat is om die wantroue, die haat en die wraak te vervang. Elders sÍ ek veel meer hieroor, maar vir ons doel ag ek ’n paar opmerkings noodsaaklik, want dit is na my oordeel die taak van die Afrikaanse skrywer om nie aan die illusie te help bou nie, maar om aan die droom gestalte te gee. Versoening is nie ’n boekhouterm nie, ook nie ’n politieke handigheid nie; dit is ’n Bybelse vereiste. Dit is juis vanweŽ die laaste dat Nelson Mandela so sterk daarop gestaan het en geweet het dat dit by ons mense duidelike aanklank sal vind. Laat my dus toe om vir ’n oomblik as teoloog te praat.

    Versoening is nie moontlik sonder berou, vergifnis en bekering nie.

    Versoening is nie moontlik sonder konfrontasie nie — konfrontasie met die kwaad: die objektiewe kwaad en die kwaad binne-in onsself.

    Versoening is nie die versluiering van die kwaad en dit wat sleg is nie, maar die ontmaskering daarvan. Dit is Jeremia se skerp aanklag teen die valse profete wat “vrede, vrede” roep terwyl daar geen vrede is nie.

    By Dietrich Bonhoeffer het ons geleer dat daar nie so iets soos goedkoop genade is nie. God se genade is onmeetlik en wyd, en dieper as die diepste see, maar dit is nie goedkoop nie. Net so is daar ook nie goedkoop versoening nie. As, om versoening van die mens met God te bewerk, dit Jesus Christus se lewe gekos het, wat laat ons dink dat ons met minder as dit sal wegkom?

    Versoening wat plaasvind op die terme van die magtige is geen versoening nie. Versoening bring mense bymekaar; dit bevestig nie bestaande magsverhoudinge nie. Juis om hierdie rede het Jesus hom met die magteloses en die stemmeloses vereenselwig. Hy het arm geword, die gestalte van ’n slaaf aangeneem; was Hy soos een wat geslaan en verag was, soos een op wie mens jou rug wil keer. Hy was bespot, bespuug en gegesel, oorgelewer en van God verlate — die mees meedoŽnlose magteloosheid van almal, sodat Hy as magtelose verlatene die voorwaardes van versoening stel: vergewe mekaar, hÍ jou vyande lief, moenie oordeel nie, dra mekaar se laste, bely mekaar julle sonde en vergewe mekaar, nie sewe maal nie, maar sewentig maal sewe keer.

    Daarom is die versoening, anders as in Suid-Afrika, nie teken van triomfalisme nie, maar teken van die verwondbaarheid. As versoening eg is, dra dit die stempel van die goddelike wondbaarheid, dit staan in die skadu van die kruis, maar wandel in die lig van Gods heerlikheid.

    Omdat in Suid-Afrika ons versoening nie eg is nie, sal dit ook nie hou nie. Dit was versoening sonder konfrontasie, sonder berou en vergewing, en daarom was dit versoening as versluiering. Wat ons nodig het, in die woorde van Hollandse teoloog Herman Wiersinga, is versoening as verandering.

    Om hieroor te praat, te help om die versluiering te keer en die verandering teweeg te bring, is die taak van die Afrikaanse skrywer — deur romans, gedigte, verhale, artikels, vertellings. Dit is dus, in teologiese taal, ’n profetiese taak. Dit sal nie populÍr wees nie, maar sommige van ons is nie geroep om populÍre skrywers te wees nie, maar om ’n spieŽl aan die mense voor te hou. Ek self is diep besorgd dat ons in Suid-Afrika deur Gods genade die rewolusie vrygespring het, net om ons weer in die uitgestelde rewolusie vas te loop.

    Ek sÍ aspris die Afrikaanse skrywer, en ek het redes daarvoor.

    Van die Engelse liberale skrywer in Suid-Afrika moet ons maar nie te veel verwag nie. Hulle is nie daartoe in staat nie. Hulle is nie in staat om verantwoordelikheid te neem vir die historiese waarheid dat apartheid ’n Engelse uitvinding was nie, dat apartheid nie by die Afrikaner begin het nie, maar eerder die breinkind was van Theolophilus Shepstone en sy Natalse beleid. Of dat die eerste “wettige” landroof onder Engelse bewind plaasgevind het nie. Ook nie dat hulle in die naam van blanke solidariteit die Afrikaner slegs toegestaan het om hul beleid tot sy rampspoedige konsekwensies deur te voer nie. Dit was verstommend, maar ook leersaam, om te sien hoe dwarsdeur die proses van die waarheidskommissie, Engelse liberale Suid-Afrikaners uit die water gestaan en saam die skuld, alle skuld, op die Afrikaner gepak het en van buite af erkennings geŽis het waaraan hulle self nooit gedink het om te gee nie. Intussen het hulle daarin behae geskep dat die Afrikaner al hoe meer op hulle begin lyk het.

    Vir my is die Afrikaner dan ook op sy onaantreklikste as hy die Engelse liberal naboots: gemaksugtig, selfregverdigend, lafhartig, arrogant, skynheilig, snobisties en met ’n grendel op sy gewete. Maar hierdie lewenshouding is die Afrikaner in wese vreemd.

    In hierdie na-apartheidstyd is dit my vurige hoop dat dieselfde historiese foute nie weer gemaak sal word nie. Dat die Afrikaner hom nie weer sal laat mislei deur kwalik-bedekte argumente vir wit solidariteit nie, maar eerder dieper vrae sal vra. Weer sal vra wat DF Malan eintlik bedoel het toe hy gesÍ het dat bymekaar gebring moet word wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort. Ons, ek inkluis, het hom miskien nie goed verstaan nie. Ek, sekerlik, was te kwaad om te dink of ek hom miskien misverstaan, en of daar ooit iets te redde sal wees uit die puin van apart-wees om te dink aan bymekaar-hoort. Maar dit gaan by reddingspogings juis om redding uit die puin.

    Maar ek sÍ dit ook om hierdie rede. Versoening in Suid-Afrika sal nooit werklik plaasvind as daar nie versoening met Afrikaans, en onder Afrikaanses kom nie.

    Ek verwys nie nou na Afrikaans as “onderdrukkerstaal” nie. Want vir baie van ons was Afrikaans dit nooit nie, omdat dwarsdeur die stryd teen apartheid ons altyd onthou het dat Afrikaans ons taal was, gebore uit ons dappere, sy dit wankelmoedige pogings om sin te maak uit die wreedheid van ons slawebestaan, toe ons moeisaam ons Khoisan- en Griekwa-tong om die Hooghollandse opdragte gewriemel het om die Baas en die Nooi bly te hou, maar ondertussen iets veel kosbaarders geleer het: om die God van Jesus te leer ken en te aanbid. Ons het altyd geweet dat die stryd om Afrikaans eerste in die kombuis en die skaapkraal gevoer is en dat die oorwinning van 1925 eintlik in ’n voorskoot gestaan het. Vir ons was Afrikaans bevrydingstaal, en ons het ons stryd in Afrikaans gevoer. Wanneer gaan ons erken dat Afrikaans vandag en mŰre sal oorlewe, nie omdat die onderdrukkerstaal so onbreekbaar is nie, maar omdat die veerkrag van die bevrydingstaal so onvernietigbaar is?

    Maar juis daarom, omdat Afrikaans strydtaal, worsteltaal, onderdrukkerstaal en bevrydingstaal, die mense se taal is, daarom is dit onontbeerlik vir versoening in Suid-Afrika. Die simboliek van Afrikaans as taal, die mense se taal, dra groter gewig vir die versoening as wat Afrikaans gedra het as die magstaal van apartheid. Dit kan geen ander taal in Suid-Afrika ons nasÍ nie. Hoe is ons so traag om dit te besef, en in die krag daarvan die toekoms in te vaar, dit met beide hande aan te gryp en iets daarvan te maak?

    Maar hoe kan dit as die versoening tussen Afrikaans en haar kinders, tussen Afrikaanssprekendes, nie waar gemaak kan word nie? Daarmee het te make die kleurverdeling in hierdie Vereniging wat byna vanself rondom my persoon en die uitnodiging ontstaan het. Daarmee het te make die eensydigheid van die debatte in en rondom Afrikaans, want so belangwekkend as wat die Boetmandebat is, is dit ’n debat onder maar ’n klein deel van ons wat Afrikaans praat. Waar is die ander sake van belang? Die kwessie van die ontwaking onder bruinmense oor hul herkoms, hul land, hul eerste-nasie-status, en die verband daarvan met hul toekoms in Suid-Afrika? Besef ons watter geweldige politieke konsekwensies dit vir ons inhou? En dus ook vir die taal en haar praatgemeenskap?

    Of die kwessie van die taal waaraan die vraag hang: watter taal van die bruin Afrikaansspreker word erken en aanvaar? Slegs die Kaapsevlaktetaal wat alweer dreig om van kuriositeit na jolliehotnotgeit gedegradeer te word? Juis in die lig van die feit dat die Afrikaans van die plattelandse bruinmens, uniek soos dit is, geÔgnoreer word. Of is dit dat omdat die plattelander so lank in Afrikaans net outa, of jong, of meid was dat die gelykberegtiging ’n te groot hap uit die heerserspatroon sal neem? Met ander woorde, as die skeiding tussen wit Afrikaans en bruin Afrikaans verdwyn, dan verdwyn daarmee die reg om gehoor en gelees te word?

    Ek sÍ weer: sonder Afrikaans is versoening in Suid-Afrika nie denkbaar nie. Maar dan moet die skisofrenie in die taal en onder haar sprekers eers eerlik en opreg aangespreek word.

    In hierdie verband moet ons weer dink oor die bemagtiging van Afrikaans. Ek dink ek begryp wat bedoel word, maar dan rys by my tog nog die vraag: waarom praat ons van die bemagtiging van Afrikaans sonder om tegelykertyd te praat van die bemagtiging van die mense wat Afrikaans praat? Diť wat alreeds mag besit, sal vanselfsprekend groter kommer hÍ oor die bemagtiging van die taal. Diť wat steeds magteloos is, kan die bemagtiging van die taal geen duit skeel nie. Want waartoe word die taal bemagtig — net om gepraat te word deur mense wie se magteloosheid deur hul armoede en hul marginalisasie voortdurend onder die neus gevrywe word? Op diť manier word die kloof tussen die Afrikaanssprekendes self alleen maar groter. Op die manier ook kan die versoening nie gedien word nie. En, vind my maar vervelig, maar ek kan dit nie genoeg herhaal nie: Sonder versoening in Afrikaans is versoening in Suid-Afrika nie moontlik nie.


  • Die African Renaissance

    Die tyd is besig om ons in te haal, maar mag ek net hieroor ook twee woorde sÍ? Die Afrika-renaissance is die tema van president Thabo Mbeki se politiek, die hartklop van sy presidensie, die sjibbolet van sy herkenbaarheid, vir nou en vir later. Dit is ook die vlag waaronder Suid-Afrika seil en waaronder ons in die wÍreld geken wil wees. Suid-Afrikaners van alle kleure en geure het drie keuses: om kop-in-die-grond te maak asof dit alles met hulle niks uit te waai het nie; om die gedagte as belaglik en te grandioos af te lag; of om mee te doen en aan die gedagte inhoud en rigting te probeer gee. Dit staan vir my vas dat as die Afrika-renaissance nie deur gewone mense op die grond sin en inhoud gegee word nie, en alleen van bo af gedrywe word, dit as ’n pragtige, maar esoteriese, en essensieel nuttelose gedagte op Thabo se plannebord sal sterf.

    Op KykNET se Dwarsklap het Van Zyl Slabbert, Harald Pakendorf, Tim du Plessis en ek hieroor gesels. Hoewel Tim, tereg, sterk daarop gestaan het dat die plakkerskampbewoner in Alexandra geen ooghare het vir die gedagte van ’n Afrika-renaissance terwyl sy eie ellende so groot is nie, en dit noodsaaklik is om maar eers hier te begin, was ons almal dit eens dat die droom, as dit verwerklik kan word, aan Afrika en haar mense ’n enorme verskil kan maak.

    Die vraag vanaand is: hoe raak dit ons? Wat maak dit aan die skrywer in Afrikaans?

    Eenvoudig dit, dink ek: Afrikaans is die eerste moderne taal wat uit die grond van hierdie land aan die suidpunt van die kontinent gebore is. Meer as enige ander taal is Afrikaans met hart en siel, met bloed en sening, met woord en daad, verbonde aan en vervleg met die geskiedenis van hierdie land, goed of sleg. Die mense van hierdie taal het in elke stryd gestry, soms alleen, soms met mekaar, soms teen mekaar, maar altyd in die taal. Teen wil en dank is ons van Afrika, uit geboorte en uit verwrogte keuse of uit verdiende loon, gebore uit haar geil grond, gesoog aan haar donker bors. Ons verlede is die borrelgat van haar toekoms, die oog van haar lewensfontein. Ons is hier om te bly. Ons vra nie, ons sÍ dit. Ons klop nie skugter-huiwerig aan haar agterdeur nie, ons neem met groot vrymoed besit van ons toekoms.

    Daar is geen manier waarop ons nie aan hierdie debat kan deelneem nie, of aan hierdie droom nie kan bou nie. As Afrika van ons almal is, dan is die wederopstanding van hierdie kontinent ook van ons. En ook dit is die opdrag van die Afrikaanse skrywer in hierdie na-apartheidstyd. Ek ontken ons verbondenheid met Nederlands glad nie, en ek is vir die Europese wortels van die taal glad nie skaam nie: ook dit is deel van die vesel waarvan ek gevleg is. Maar ons wortels lÍ hier. Laat ons saam met die verlede afreken, en met die demone wat ons innerlike rus versteur, en moediger, en vroliker, die toekoms tegemoet gaan.

    Ek wou ook nog oor ’n paar ander dinge praat, soos oor die growwe misverstand dat die bevryding van Afrikaans enkel bevryding van die stywe morele teuels van die NG Kerk beteken. Dat ’n vloekwoord in elke sin, eksplisiete seks op elke bladsy, en om kaalkwas op die tafel te dans terwyl ons Psalms en gesange op spottende jazz-maat sing, beteken dat ons “groot” geword het. Dis nie bevryding nie, dis maar net ’n nuwe vorm van taalimperialisme, ’n slim manier om die taal gevangene van ’n uitverkore groepie te maak wat die res van ons beteuterd, preuts, ouderwets en dikbek aan die kant laat staan. En alweer word ons taal gesteel. Weer eens: Afrikaans is meer as dit, en meer werd as dit.

    Maar daaroor noodgedwonge ’n ander keer.

    Ten slotte. Moenie kwaad word omdat daar mense is van buite die skrywerskring wat ook Afrikaans wil praat, en selfs wil skrywe nie. Ons wil niemand van hul trone afstoot nie, ons wil maar net ook, in ons taal, iets vir ons mense sÍ. Ek wil dit doen in die teologie, vir my mense skrywe en vertel wat en hoe ek glo, oor hoekom die Bybel so oneindig, oneindig fassinerend is, en waarom ek daai Boek nooit uitgelees sal kry nie. Miskien is daar tog sommige wat saam met my wil lees. Ek wil dit doen in my stamelende verse, in die hoop dat die liefde vir my vrou een of ander sal inspireer om die geloof in die liefde nie op te gee nie. En as die storms woed, wil ook ek my taal my skuilplek maak. Moenie my stil maak nie, en laat my saam met Ingrid Jonker sÍ:

      Om myself weg te bÍre soos ’n geheim
      In ’n slaap van lammers en van steggies
      Om myself te bÍre
      In die saluut van ’n groot skip
      Weg te bÍre
      In die geweld van ’n eenvoudige herinnering
      In jou verdrinkte hande
      Om myself weg te bÍre in my woord.

          (L’Art Poetique)

    Dankie dat u geluister het.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.