SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Voorwaar ’n speelding van formaat

François Bloemhof

Verswêreld
CD-Rom-publikasie
2001

VerswêreldIn ’n wêreld waar daar al minder nuwe digbundels verskyn, is hier ’n ligpunt en sommer ’n grote. Groot Verseboek 2000 is pas saam met die literatuurgeskiedenis Perspektief en profiel op ’n CD-Rom “gebundel”. Oor die gehalte van die werk wat opgeneem is, kan min twyfel bestaan en hierdie resensie/toetsing/waarde-oordeel het daarom net te make met Verswêreld se geslaagdheid as CD-Rom.

Agterop die kartonomhulsel word na die “klankbonus” verwys. ’n Blote bonus is dit nie, want dít is waarskynlik die komponent wat die meeste voornemende kopers die laaste paar tree na die betaalpunt sal laat gee. Die klankaspek maak hierdie publikasie iets besonders — as dit ’n blote skermgooiing was van tekste wat reeds in boekvorm verskyn het, was dit ’n verspeelde geleentheid.

Maar natuurlik is dit nié. Dis ’n speelding van formaat.

’n Uiters gebruikersvriendelike een ook, met stap-vir-stap-aanwysings. In ’n linkerhandse kantlyn, die “Library Browser”, verskyn ’n afrolbare lys opsies (of meesterinhoudsopgawe) wat, as jy daarop klik, jou verdere opsies gee. Klik op ’n digter se naam en jy kry ’n lys van ’n paar van sy of haar gedigte. Klik op ’n betrokke gedig, en beweeg soontoe. Klik dan op die groen dotjie vir ’n foto van die digter — hier kry jy enigiets van oorle’ FW Reitz (1844-1934) in ’n swart togagedoente, tot die duidelik springlewendige Elrika van der Walt (1979-). By digters van wie ’n paar gedigte verskyn, weerspieël meer as een foto die aanstap van die jare.

As jy al ooit wou hoor hoe jou geliefkoosde digters self hul werk voorlees, het jy nou die geleentheid. Klik net op die blou dotjies langs sommige gedigte. Nie alle digters is in die wieg gelê om poësie voor te lees nie, ook nie (soms veral nie?) hul eie nie … maar om te hoor wie kan en wie kan nie, is so ’n lekker oefening dat selfs die aanstellerigheid of oorbewuste loslittigheid wat nou en dan opduik interessant is: dit sê meer van die digter as wat die gedig kon.

Hier is vyf uur se voorlesings. Eervolle vermelding gaan aan Lina Spies, Joan Hambidge en Ronel de Goede, maar daar is vele ander knappes. Dit doen ’n mens ook goed, ná die gedig by soveel eisteddfods moes les opsê, om oplaas by Antjie Krog te hoor hoe “Ma” nou eintlik behoort te klink.

Nie net lewendes is te hore nie: groot geeste soos NP van Wyk Louw, DJ Opperman, Ingrid Jonker en Uys Krige kry hier as ’t ware ’n tweede asem.

En dan is daar gewilde kunstenaars se toonsettings (rooi dotjies) van bekende gedigte. Hierdie snitte kan ook op ’n gewone CD-speler gespeel word. Dit is ’n baie interessante oefening om Hennie se Aucamp se “Die lewe is ’n grenshotel” op die skerm te volg … ná jy na sy foto gekyk het … terwyl jy hoor hoe hy dit voorlees … en dan te luister hoe Laurika Rauch dit interpreteer.

Sommige weglatings val egter op. Waar, byvoorbeeld, is óf Koos du Plessis se eie óf Rauch se opname van “Kinders van die wind”, wat wel hier is in digvorm? Dan weer, ’n skyf kan net ’n eindige hoeveelheid dekodeerbare inligting bevat. En wie het immers nog nie daardie snit nie, in watter weergawe ook al?

Ook op die CD-Rom is Philip de Vos se voortreflike foto’s van boekmense. Vergewe die “ek” wat hier inglip, maar ek kan getuig dat daar min fotograwe is wat jou so gemaklik voor sy lens kan laat voel en jou persoonlikheid so terloops kan vasvang.

Die skyf se Perspektief en profiel-afdeling is ’n effense teleurstelling in die sin dat die tegnologiese moontlikhede, behalwe vir ’n inleidende praatjie deur redakteur HP van Coller, nie werklik benut word nie. Skrywers wie se werk hier bespreek word, kry byvoorbeeld nie nes die Verseboek-digters die geleentheid om gedeeltes van hul werk voor te lees nie. Dit is ’n deeglike stuk werk, gewis, dit baat net nie genoeg by die omskakeling na skyf nie. Maar dalk het jy dit nie reeds op jou rak nie, en dan vorm dit ’n uiters nuttige metgesel vir dié Groot Verseboek-weergawe.

Soos gesê, Verswêreld is ’n lekker speelding. En geskenk.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.