SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Die belangrikheid van onverstaanbaarheid

Herman Wasserman

Vier die skeppende skitter van ons mense lui die slagspreuk op die bandrug van die feesgids van vanjaar se Klein-Karoo Nasionale Kunstefees. Dit sou allerlei dinge kon beteken. ’n Mens sou die sinnetjie vanuit verskillende hoeke kon dekonstrueer — wie is byvoorbeeld “ons mense”? En wat kwalifiseer alles as “skeppende skitter”?

Maar ook: wat beteken dit om ’n kunstefees te “vier”? Veronderstel ’n viering altyd pret en plesier? Sou dit dan die rede wees waarom feesgangers jaarliks in al groter getalle die KKNK besoek, omdat ’n viering per se lekker is? Omdat ’n mens die kunste kan vier met ’n tjoppie in die een hand en in die ander hand ’n bier? Is ’n viering altyd veilig en heilsaam? Moontlik is dié veronderstelling dan die rede waarom daar soveel feesgangers is wat as gesinne opruk na woonwa-staanplekke. Behels die viering van die “skeppende skitter van ons mense” slegs en uitsluitlik ’n toewyding aan die eie? Dan sou die KKNK ’n soort jaarlikse kulturele hydro word waar feesgangers al die uitheemshede kan uitsweet in die Karoo-lug om met behulp van boeremusiek en stoepstories ontslae te raak van die Engelse aanpaksels in die ore. Is die viering ter sprake ’n bevestiging, ’n luilekker gepamperlang onder die sonlampe van die bekende? Dan sou ’n mens die KKNK kon sien as ’n plek waar jy “onbeskaamd Afrikaans” kan wees, waar jy vertroos kan word deur die klank van jou eie taal oral om jou. (Wie weet, iewers is daar dalk ’n land van rus en wie weet  …)

As ’n mens die kunste in alle erns vier, is dit nie altyd ’n plesierige ervaring nie. Om die kunste te vier, veronderstel dalk eerder ’n selfbevraagtekening as ’n selfbevestiging. Want as jy die kunste vier, is jy besig om aan jouself vorm te gee. En geboortes gaan met pyn gepaard.

Die skeppende skitter van ons mense. Daar bestaan inderdaad ’n noue verband tussen ’n groep se kunsuitings (skeppende skitter) en hul kulturele identiteit (ons mense). Die estetiese reflekteer nie alleen mense se ervarings en sienings nie, is nie alleen ’n spieël vir die self nie, maar skep hierdie self. Sosiale groepe kom nie ooreen op bepaalde waardes wat dan uitgedruk word in kulturele aktiwiteite nie, maar leer hulself as groepe ken deur middel van kulturele aktiwiteite en estetiese beoefening. Kuns is nie net ’n uitdrukking van idees nie, maar ’n manier om hierdie idees te vorm en uit te leef. In hierdie kunsuitinge is die meganika van in- en uitsluiting ook aan die werk — die staanmaak van kunswerke in galerye en op verhoë is ook ’n totstandbringing van ’n kulturele identiteit.

Wat sê vanjaar se KKNK vir ons in hierdie verband?

Om maar op een voorbeeld te fokus: Vanjaar, soos ’n paar jaar gelede toe Boklied die groot gons op die fees veroorsaak het, was Breyten Breytenbach weer in die kollig op die KKNK. Sy Die Toneelstuk is een van die weinige produksies op vanjaar se fees wat ’n mens werklik iets gegee het om oor na te dink en om oor te stry. Dit het uiteenlopende reaksies uitgelok — sommiges het dit geprys as sy mees toeganklike toneelstuk tot op hede, ander het uitgeloop en agterna in briewe aan die koerante dit onomwonde gestel: Ons is moeg vir Breyten se speletjies; die keiser is kaal.

Die reaksies op Breytenbach se stuk, soos op enige toneelstuk, weerspieël iets van die heersende kunsopvattinge in die gemeenskap waarbinne dit opgevoer word. Kunsuitinge vind nie in isolasie plaas nie, maar binne ’n kulturele en sosiale milieu, binne die konteks van waardes, tradisies, opvattinge, taboes. As gevolg van hierdie konteks en kondisionerings bestaan ’n bepaalde verwagting van wat kuns behoort te wees. Antoinette Kellerman, een van die spelers in Die Toneelstuk, het in hierdie opsig die kritiek teen die stuk toegeskryf aan die feit dat teatergangers nie meer gewoond is daaraan om uitgedaag te word nie. Die klein mark vir toneel in die land vandag het dit volgens haar al hoe meer nodig gemaak vir kunstenaars om aan die publiek voor te sit wat hulle graag wil hê, en in die meeste gevalle beteken dit iets wat maklik verteerbaar is. “Dis wat gebeur as jy heeltyd poeding kry. Dan verloor jy jou lus vir gourmet-kos,” het sy in ’n koerantonderhoud met Stephanie Nieuwoudt gesê.

In die lig van die Afrikaanse kulturele omgewing vandag is dit myns insiens goed dat ’n stuk wat as moeilik en selfs onverstaanbaar beskryf word, sentraal staan op ’n belangrike kunstefees soos die KKNK. As kuns kulturele identiteit vorm, is dit goed dat dit aan die hand van iets “onverstaanbaars” soos Die Toneelstuk gedoen word. Waarom? Om te verhoed dat die Afrikaanse kulturele diskoers slegs gekenmerk word deur óf selfgeregtige bravado en strydlustigheid aan die een kant, óf aan die ander kant ’n totale negering van vraagstukke aangaande kultuur en identiteit, wat uitmond in ’n ontvlugting deur middel van oppervlakkige vermaak of fuifery.

Hierdie twee pole is beide opvallend teenwoordig by die KKNK. Aan die een kant is daar ’n vurige debat oor Afrikaans en die posisie van sy sprekers in Suid-Afrika, aan die ander kant ’n spul rumoerige, soms selfs aggressiewe partytjiehouers wat in weinig meer geïnteresseerd is as om kop te verloor.

Wat eersgenoemde betref: terwyl ’n mens moet erken dat Afrikaanssprekendes waarskynlik die groep in die land is wat die mees volgehoue bemoeienis met kwessies rondom kulturele identiteit openbaar, is dié debat dikwels verstikkend in sy voorspelbaarheid. Selfgeregtigheid wat oorgaan tot woede, onverdraagsaamheid wat byna as ’n reël ontaard in persoonlike aanvalle, reaksionêre aggressie teen diegene wat durf waag om te suggereer dat die waarheid nie so maklik is om te bepaal nie en nie volledig in die teenparty se besit is nie. Of die briewe nou instroom teen Boetman of teen Landman, of dit oor Potter gaan of oor Parmalat, daar word alte gemaklik met sekerhede gesmous. Die aggressiewe aard (ook in hoogs serebrale debatte, nie slegs ten opsigte van die kennelik emosionele argumente nie) spruit moontlik uit die veronderstelling dat Afrikaansheid ’n sekerheid is in die naam waarvan jy kan gaan oorlog maak.

Dit wil voorkom asof kulturele identiteit gesien word as iets wat die vorm aanneem van ’n antwoord eerder as van ’n vraag. Dat dit eerder setel in ’n stuk geskiedenis as in ’n voortdurende proses. En dit is nie slegs kenners van die psigoanalise wat meermale sal kan aanvoel dat hierdie strydvaardigheid iets weerspieël van ’n diepgewortelde krisis, ’n interne ambivalensie wat nie erken word nie. Die vrees is klaarblyklik dat as daar naamlik erken word dat Afrikaansheid ’n baster is, ’n veelvuldige organisme, ’n voortdurend-veranderende, lewenskragtige en veral onvoorspelbare proses, die aarde onder ons voete gaan verdwyn. Dit terwyl ons, in Salman Rushdie se woorde, die aarde onder ons voete behoort te verbeel — die Afrikaanse kultuur was nog altyd dié van die migrant, die swerwer, die randfiguur. Dit is juis waar Afrikaansheid se kreatiewe krag nog altyd gelê het.

As die Afrikaanse kulturele identiteit só gesien word, is Breyten Breytenbach se Die Toneelstuk, as ’n moeilik verstaanbare teatergebeurtenis wat in ons koppe bly maal sonder om tot rus te kom, by uitnemendheid ’n indeks daarvan. Want teenoor die borstamboerdery van taalstryde en teen die skouerophalery van diegene wat bloot vermaak wil word, staan die onverstaanbaarheid, die dringende maar onbeantwoorde vraag. Die vraag verhoed ons om vorentoe te storm om oorlog te maak in die naam van idees, die vraag verhoed ons om so houtgerus of kultureel bankrot te wees dat ons alleen maar pret en plesier verlang. Die vraag maak van kuns meer as vryetydsbesteding: dit is ’n appèl wat ons dwing om self betrokke te raak by kuns, eerder as om dit net gade te slaan. Die vraag met sy oop einde dwing ons om in reaksie te kom. Dit dwing ons om te skep.

Die vorming van identiteit is onderworpe aan twee kragte: aan die een kant, daar waar ons vandaan kom, en aan die ander kant, daar waarheen ons op pad is. Kulturele identiteit kan enersyds gesien word as ’n essensie, ’n kollektiewe self, ’n onvervreembare oorsprong, of andersyds as iets wat gefragmenteerd is en voortdurend verander, omdat dit vasgestel word in en deur middel van representasie in taal. Breytenbach se Die Toneelstuk en die reaksie daarop sou ’n mens kon sien as ’n gebeurtenis wat laasgenoemde beklemtoon — dit stel ons nie gerus met sekerhede nie, maar laat ons voor ’n afgrond; dit stop nie betekenisse in ons hand nie, maar laat ons in die lug gryp. Dit is allermins vertroostend of bevestigend; dit daag uit en dit tart.

Breyten se stuk betrek verskeie verwysingsraamwerke: dit vermeng en kruis teks op teks op teks, sodat grense en oorspronge onduidelik word in die palimpses van betekenisse. Dostojewski, Christus, Breyten, die Tarot, die Bybel, die Wet — alles en almal loop in so ’n mate deurmekaar dat dit baie moeilik en waarskynlik selfs onmoontlik of onwenslik is om helderheid te kry oor wat presies gesê word. Wel word religie — in hierdie instansie as ’n rituele viering van verlossende sekerhede — redelik onomwonde vaarwel toegewuif wanneer Mamma Jesus teruggestuur word na die onderwêreld met ’n “gaan en kom nooit weer terug nie.”

Uit die briewe wat in koerantkolomme verskyn het na aanleiding van Breyten se toneelstuk, blyk dit dat ’n enorme verbruikersdrang die feespubliek in sy greep het. “Gee ons wat ons wil hê of jy sien ons nooit weer nie!” blyk die konsensus te wees, asof die dramaturg hom volledig moet onderwerp aan siniese markkragte.

In ’n berig in Die Burger oor die openbare reaksie op Breyten se stuk, sê Andriëtte Stofberg die volgende:

Skok, walging, woede, ontsteltenis — dit is emosies wat mense verwoord as jy hulle om kommentaar vra. Maar die beste manier om vas te stel of jy op die regte plek is as jy soek na die saal waar Die Toneelstuk opgevoer word, is om te kyk of die gesigte van die mense wat daar uitkom, dieselfde lyk: heeltemal oorbluf. Dis die één emosie wat verreweg almal deel: volslae onbegrip oor wat Breytenbach met die werk wil sê.

Die Toneelstuk, as sowel dramateks as ’n gebeurtenis wat ’n gesprek onder feesgangers aan die gang gesit het, pas egter binne ’n tradisie van bevraagtekening en ondermyning in die Afrikaanse kunste, sowel as in ’n tradisie van verset vanuit die establishment. Op ’n fees wat dikwels daarvan beskuldig word dat dit ’n karnavaleske “boerebasaar” is wat Afrikaanse mense se nostalgie bevredig eerder as om hulle binne ’n nuwe konteks te posisioneer, is dit van groot waarde. Wederstrewigheid binne die eie kulturele konteks was nog altyd eie aan Afrikaanse kuns.Trouens, kritiek teen die kultuur waaruit die kunstenaar kom en wat sy kuns moontlik maak, sou selfs gesien kon word as deel van sy verantwoordelikheid. André P. Brink sê die volgende reeds in 1974 (opgeneem in Literatuur in die Strydperk, 1985, bl. 64):

Die werk wat nie op die een of ander wyse ’n uitdaging rig aan sy leser/toeskouer/luisteraar nie, is m.i. ’n baie twyfelagtige estetiese produk. Ek sou selfs die moontlikheid wou opper dat die elusiewe “estetiese ervaring” juis die resultaat is van die feit dat jy nie vansélf in so ’n euforiese staat tuimel nie, maar deur die werk moeisaam die weerstande in jouself oorkom sódat jy dit eksistensieel kan “geniet’’. (…) As dit so is, dan sal die intensiteit van die estetiese ervaring toeneem namate die uitdaging wat die werk aan die subjektiewe “ek” stel, groter word: namate sy aanstoot-likheid sterker word.

Kuns behoort ons te stroop van ons sekerhede. Die kunswerk, gaan Brink voort, is die slang binne elke leser of toeskouer se paradys, die slang wat hom of haar uitdaag en lok om die “maklike beskutting van onkunde, kondisionering en verordening te verlaat en die appel te eet”.

Breytenbach se stuk is slegs ten dele verstaanbaar — daar bly gapings tussen die betekenisse. Dit toon onder meer ’n renons in slagspreuke en dogmas. Teenoor die eenduidige duidelikheid van die plakkaat (opgehou deur een van die vroulike karakters) word die gebrabbel met sy veelvuldigheid van moontlike betekenisse (en die onmoontlikheid van enige seker wete oor wat gesê word) gestel. Die religie met sy aanspraak op vaste waarhede word vaarwel geroep, die beperkende aard van ideologiese verklarings (soos Breyten die Tuiste vir Almal-veldtog uitbeeld) ontbloot. Die onthutsende kreet van die nihilisme vorm die leë sirkel waarmee die stuk open en (oop) eindig. Al spelende word betekenis gegenereer en laat vaar, terwyl finaliteit voortdurend uitgestel word à la Derrida se begrip van différance.

Die KKNK moet nie ’n ruimte wees waar ons ons tentpenne gaan inslaan nie — dit moet ’n plek wees waar ons ons tentpenne juis gaan optrek. As ruimte vir die kuns om sy rol in ons identifiseringsproses te kan speel, moet dit ons oorgelewerde en voorveronderstelde idees oor onsself ophef en bevraagteken. Onsekerheid moet hierin ons vertrekpunt en ons eindbestemming wees. Want identiteit is nie iets waaraan jy op ’n gegewe oomblik kan ophou vorm gee nie. Selfs al word dit nodig geag om die proses van oneindige semiosis — die voortdurende uit-ons-hande-glip van betekenis — op ’n sekere stadium te vries ten einde (byvoorbeeld taal-) politieke aksies te loods, is dit nodig om te besef dat ook daardie bevriesing kunsmatig is, en noodwendig tydelik en altyd kontekstueel gebonde. Aan die kern van ons kulturele selfbewussyn behoort daar eerder ’n vraag te wees as ’n antwoord.

In Breyten se Die Toneelstuk is die suggestie dat betekenis nie vasstaan nie, maar dat dit iets is wat “gespeel” word. Selfs die “regisseur” van hierdie spel is nie in beheer nie; selfs nie die karakters weet altyd mooi wat aangaan nie.

Om die kunste te vier is om die vraag te vier. Om die reis te vier eerder as die aankoms. Om saam met Valiant Swart te sing, “Veertig dae en veertig nagte, soek ons die Mystic Boer”, wel wetende dat jy hom nooit gaan vind nie.

Dis wat die kunste is — om die onsekere vreemde aan te durf eerder as om rondom die kampvuur se helder kringetjie te bly kitaarslaan.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.