SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Skrywersberaad-argief

Skrywersberaad




Hierdie is die tweede deel van Hennie Aucamp se bydrae
Hier is die eerste deel

VOORSPEL TOT “DIE BEVEL”

Hennie Aucamp

Die verhaal wat volg — “Die bevel” — het ’n aanloop nodig; en as die leser se reaksie is: “Good wine needs no bush”, is hy volkome reg. Ek twyfel of ek “Die bevel” vir ’n “artistieke” bloemlesing van my eie verhale sal kies; trouens, die verhaal was al uit my besit toe dit onlangs in Charles Fryer se kantoor in ’n vergete lêer met Aucamp-verhale opgeduik het. (Baie onlangs; die moorde op blanke boere op plase in Suid-Afrika het reeds begin toe “Die bevel” ná jare sy herverskyning gemaak het.)
         Hoeveel jaar gelede is “Die bevel” geskryf? Dít kan ek nie presies sê nie, maar dit was beslis in die sestigerjare toe daar gereeld verhale van my in die tydskrif Contrast verskyn het — verhale soos “Tennis om drie” en “When the saints go marching in”. Jack Cope en Jan Rabie, beide in die redaksie van Contrast, was wel vriendelik oor my verhale, maar het tog laat blyk dat hulle graag iets meer “betrokke” van my vir Contrast sou wou ontvang; iets wat “polities relevant” is. “Die bevel” was my reaksie op hul versoek, maar tot my teleurstelling was beide Cope en Rabie se ontvangs van “Die bevel” volkome negatief. Die verhaal is “alarmisties”, het hulle gesê, en nie bevorderlik vir gesonde politieke verhoudinge in die land nie. En die slot is te eksplisiet.
         Ek kom uit die Oostelike Provinsie waar rasse- en kultuurspanninge byna ’n leefwyse is, van die vorige eeu af, sodat die verdoeming van my verhaal “Die bevel” as “alarmisties” my geïrriteer het. Die Mau-Mau-geskiedenis in Kenia in die vroeg-vyftigerjare was nog vars in die geheue, en immigrante uit Kenia kon bloedstollende verhale oor moorde op plase vertel.
         En tans gebeur dieselfde gruwelmoorde op plase in Suid-Afrika. Haas geen week gaan verby nie of nóg ’n moord op ’n plaas word berig. Die demoniese slagspreuk “One settler, one bullet” het ’n plaaslike variasie ontwikkel: “Kill the boer, kill the farmer”.
         Is dit Polities Verkeerd om “Die bevel” aan die vergetelheid te ontruk? Myns insiens nie: hierdie eeu het met die slagting van die Afrikaner begin en die gevaar is groot dat dit met die slagting van talle Afrikaners gaan eindig.
         Moes ek aanspreekvorme uit die jare sestig in pas met heersende gebruik gebring het? Dit sou Polities Korrek gewees het, maar Histories Vals. Ek behou dus — met verleentheid — die aanspreekvorme tussen werkgewer en werknemer wat algemeen gebruiklik was op plase in die Oostelike Provinsie in die jare sestig, naamlik “baas”, “nooi”, “skepsel”, “jong” en so meer.

Die bevel

Die lewe is 'n grenshotel
Kort voor lank
Enkelvlug
'n Bruidsbed vir tant Nonnie
Beeltenis verbode
Hongerblom
Wolwedans
Met permissie gesê
Kommerkrale
Woorde wat wond
Rampe in die ruigte
As die maan oor die lug loop
Die blote storie
Hoorspelkeur
Bolder
Teen latenstyd
Volmink
Gewis is alles net 'n grap
Gekaapte tyd
Die blou uur
Lyflied
Koerier
Ook skaduwees laat spore
'n Baksel in die môre
Papawerwyn

Al hierdie titels nou te koop!
Die skemer word vinnig aand.

Sy staan aan die kant van haar tuin, haar arms oor haar bors gevou; ’n boervrou met ’n voorskoot en ’n kappie.

Daar’s ’n rooi skynsel in die lug waar die son ’n rukkie vantevore agter die vleiberg weggesak het.

    “Sawends rood
    smorgens water in de sloot”

mompel die vrou, nie om sy dié woorde glo nie, maar om sy bang is, en haar vrees wil besweer. Die sipresse wat so dig en swart teen die westerhemel staan, bedruk haar; en die goed wat kort-kort by haar verbyswiep — is hulle swaeltjies of vlermuise?

“Jy moet kom, my kind; dis laat, ons moet ingaan!”

’n Opgewekte meisiestem roep uit die tuin: “Amper klaar, Ma; nog net één bedding!”

Dit het geen sin om die tuin bedags nat te lei nie; die water verdamp só voor jou oë.

“Toe dan maar!” skree die vrou. “Maar opskud, die skepsels wil stroois toe gaan.”

Daar val ’n strook lig by die kombuisdeur uit, val oor die trappies, die werf; skyn deur die draadhekkie en stuit teen die muur van die buitekombuis waar die patroon van die hekkie, grieselrig vergroot, herhaal word.

Op dié oomblik word die hekkie oopgemaak. ’n Jong met ’n emmer melk loop in die ligbaan kombuis toe.

“Is dit jy, Swartbooi?”

“Ja, nooi.”

“Hoe’s julle dan vanaand so laat?”

“Dis die nuwe mannetjie, nooi. Hy loop te laat na die koeie toe.”

“Stuur hom na my toe.”

“Praat sal nie help nie, nooi. Hy luister nie, hy vat nie orders nie.”

“Ek sal met hom praat; en as praat nie help nie, dan moet hy loop. Swartbooi?”

“Ja, nooi?”

“Ons moet die sifdraadrame voor die vensters kry; voor elke venster. Anders vang die hael ons weer.”

’n Oomblik aarsel Swartbooi.

“Hoe sê jy?” vra die boervrou.

“Dis reg, my nooi, sommer more nog.”

Swartbooi gee die melk in die kombuis af; praat gedemp met Soufie.

“Nag, nooi,” sê hy by die hekkie.

“Nag, Swartbooi.”

Die vrou ontspan effens. Wat ’n seën om nog betroubare volk te hê. Net jammer die strooise is so ver. Al skree jy hóé hard, hulle sal jou nie hoor nie.

Die dogter kom staan langs haar ma.

“Met wie’t Ma gepraat?”

“Met Swartbooi. Ek dink nou net: wat sou ek sonder Swartbooi en Soufie gemaak het?”

“Nog net ’n maand, Mammie, dan hou ons vendusie. Die vee moet eers in kondisie kom voor ons verkoop.”

“Ek wens dit was al alles oor. My geloof is so klein. Weet jy, my kind, party dae kan ek nog nie glo jou pa is dood nie. Ek verbeel my hy’s in Kapailand om snyers te loop haal, of Bloemfontein toe vir ’n kongres.”

“In die stad sal Ma regkom. My naam is op die lys vir ’n groter woonstel. Twee slaapkamers, ’n sitkamer, ’n ruim kombuis waar ons sommer kan eet ook, ’n balkon.”

Die ma vat aan haar dogter se arm en sê half jaloers: “’n Mens het soveel moed as jy jonk is. Loop draai nou toe die kraan dat ons kan gaan eet.”

Terwyl sy op haar dogter wag, raak die vrou weer bedruk. “Ons boervrouens van die ou soort deug nie meer nie,” dink sy. “Ons kan nie motor bestuur nie, ons kan nie skiet nie; as ons man wegval, kan ons nie eers ’n tjek teken nie. Ons is só onveilig.”

Die dogter haak by haar ma in. “Ek het my hande sommer onder die kraan gewas,” lag sy.

“En aan jou broek afgevee — ai tog, my kind!” Maar die ma berispe nie eintlik nie; daarvoor klink sy te vertederd.

Hulle stap kombuis toe.

Soufie staan kop onderstebo by die kombuistafel.

“Is die kos klaar, Soufie?”

“Ek hou dit op die praaimer warm, nooi.”

“Jy moet met die nonnatjie raas, dis sy wat ons so opgehou het.”

“Dis niks nie, nooi,” sê Soufie hees.

Die dogter maak die yskas oop. “My wyn vergeet ek nie.”

“Ag, kind,” sê haar ma ontstel, “ek gaan tog nie saamdrink nie; die droë wyn akkordeer nie met my nie.”

“Hy’s nie danig droog nie; taamlik soet, om die waarheid te sê. Kom nou, Ma, moet nie ’n ou square wees nie; jy’s oorspanne, jy’t iets nodig.”

“As alles net verby is,” dink die vrou. “Die kind hou haar dapper, maar sy’s net so oorgehaal soos ek. Vandaar die drinkery. Here, ons moet wegkom — vee in kondisie ofte nie.”

Die dogter skink twee kombuisglase vol wyn. “Soufie, waar’s jou beker?” Soufie sug, en buk by ’n kas om haar beker te kry. Die dogter is verbaas — gewoonlik kap Soufie ’n wilde dans uit as sy ’n onverwagte doppie kry.

Sy neem die wyn en glase na die eetkamer toe.

Soufie bring die kos: omelette met Weense worsies, en tamatieslaai.

Na Soufie die gangdeur agter haar toegetrek het, leun die ma oor na die dogter.

“Het jy gesien, sy het gehuil?”

“Seker rusie by die stroois. Dalk het Swartbooi haar geslaan.” Die dogter eet gulsig; die tuinwerk het haar moeg en honger gemaak.

“Of dalk is sy siek,” sê die ma.

Wanneer Soufie die tee bring, vra die vrou: “Wat is dit, my ousie? Is jou kop seer? Sê net, dan gee ek vir jou medisyne.”

Soufie skud haar kop driftig. “Nee, nooi, ek makeer niks nie,” maar haar stem is dik van die trane.

“Ek sê mos vir Ma: troubles by die stroois.” Die dogter skink haar glas vol en hou die bottel na haar ma.

“Haai, my kind — maar nou ja, dis wérklik ’n soeterige wyn. Net ’n titsie.” Die dogter skink haar ma se glas vol.

“Ons hou die skepsel vreeslik op.”

Die dogter draf kombuis toe. “Gaan maar, Soufie, ek sal opwas.”

Soufie kom sê nag by die gangdeur. Sy’s haastig; net ’n vinnige “Nag, nooi; nag, my nonnatjie,” en dan is sy weg.

Na die aandete sê die vrou: “Kom, vóór jy opwas eers gaan sekermaak.”

Die dogter trek ’n vies gesig agter haar ma se rug: dié middeleeuse besorgdheid tog!

Van kamer tot kamer loop hulle, kyk of die vensters toe, die buitedeure gesluit is. By banke en kaste buk hulle. In die dogter se kamer sê die ma skielik agterdogtig: “Jy slaap nie dalk snags met ’n oop venster nie?”

“Nee, Ma,” lieg die dogter met ’n onskuldige gesig.

“Nietemin,” sê die ma, “ek sal geruster voel as die sif voor die vensters is.”

Sy buig om onder die bed te kyk. Sy kom moeisaam orent, gaan sit op die bedrand.

“Wat’s dit, Mammie?” vra die dogter ontsteld. “Wag, drink ’n bietjie water.”

Om die dogter nie te affronteer nie, drink die vrou ’n bietjie water. “So,” sê sy, “dis verby. Sommer ’n duiseling. ’n Oumens het sy kwale.”

“Moet ek nie vannag by Ma kom slaap nie?”

Die vrou weet dié aanbod is ’n groot opoffering vir die dogter. Die dogter lê tot twee-, drie-uur in die nag en lees.

“Nee, my kind, dis nie nodig nie. Laat staan net al die binnedeure oop. Het jy die rewolwer?”

“Ja, Ma, nog toegesluit. Ek sal dit oopsluit wanneer ek kom lê.”

By die voorhuistafel sê die dogter: “Nou tóé nou, nog ’n slukkie wyn. Dié wyn kan tog nie hou nie.”

“Nee, my kind,” sê die ma omgekrap, “jy’t genoeg gehad vir een aand.”

Maar die dogter lag uitdagend en skink vir haar nog wyn. “Die arbeider is sy loon waardig; ek swoeg al van vyfuur af in die tuin.”

Na sy die skottelgoed gewas het, gaan sit sy by haar ma. Hulle luister na ’n vervolgverhaal oor die radio, daarna na ’n musiekprogram. Dis die dogter wat die eerste begin gaap.

“Ek sien wie gaan vanaand nie lees nie,” terg die ma.

“Ek dink Ma’s reg.” Die dogter soen haar ma op die wang. Haar ma ruik die drank op die kind se asem en voel vies en bekommerd.

“Laat bly die binnedeure oop!” skree sy agter die dogter aan.

“OK, Ma,” skree die dogter terug.

Die vrou gaan kamer toe. Na sy haar tande geborsel en room aan haar gesig gesmeer het, kniel sy by die bed.

“Ag, Here,” bid sy, “as u nie met ons is nie, wié kan dan met ons wees?”

Sy maak haar oë oop. Sy’s nie tevrede met haar gebed nie. Sy probeer weer: “Here, wees met my man, waar hy ook mag wees, in die grond of in die hemel; wees met my dogter; wees met my. Wees al ons sondaars op dié plaas genadig.”

Eers wanneer sy in die bed is, val dit haar by dat sy nie amen gesê het nie. “Amen,” sê sy in die duister.

Sy verwag ’n slapelose nag, maar die wyn het na haar kop gegaan: ná ’n rukkie slaap sy vas.

Skielik skrik sy wakker. Het sy ’n gil gehoor? Maar die huis is doodstil, sy hoor net die huishorlosie in die eetkamer tik. Moes ’n nagmerrie gewees het. En haar kop is seer; ook dit is van die wyn. Sy gaan nie wéér saam met die dogter drink nie.

Sy skakel die bedlampie aan, want sy wil ’n pil drink.

En so kry Swartbooi haar. Sy staan in haar nagrok voor die medisynekassie, kaalvoet, ’n hand teen haar voorkop.

Sy wil skree, maar bedwing haar: honde ruik as jy bang is, dan být hulle. So kalm as wat sy kan, vra sy: “En toe, is daar siekte by die stroois?”

“Nee, nooi,” sê Swartbooi.

Hóé sou hy binnegekom het? Maar natuurlik — Soufie het die kombuissleutel. Sy kom soggens vroeg om koffie te maak.

Dan gewaar sy ’n mes in die hand wat op sy dy rus.

Haar kalmte begeef haar.

“Die nonnatjie, waar is sy?” skree sy.

Hy hoef nie te antwoord nie; sy weet dadelik. Sy gesig is vertrek van die pyn.

“My kind, my kind — o my God!” Sy kerm soos ’n dier; vou haar hande oor haar bors en wieg in haar eie omhelsing. Deur haar trane sien sy Swartbooi. Dit lyk of hy baie ver is. En hy kyk met groot mededoë na haar. Selfs in dié omstandighede troos dit haar. Droom ek of droom hý? Wie is mal: ek of hy? Of altwee van ons?

“Hoekom?” skree sy. “Hoekom?”

“Ons het die orders gekry, nooi. Die Groot Man het gepraat. En ons moet luister.”

“Was ons nie altyd goed vir julle nie?”

“Die nooi en die baas en die nonnatjie — julle was altyd baie goed vir ons.”

“Nou hoekom dan óns?”

“Almal, nooi; al die wittes. Op elke plaas, op elke dorp. Ek ... ek kan nie anders nie, nooi!”

Die vrou staan terug, bewus van haar dun rok, haar kaal arms. Sy druk haar teen die muur vas. Dit lyk nie of sy vlug nie. Dit lyk of sy wag.

Met een tree is Swartbooi by haar. Sy skree; en wat sy sien terwyl sy skree, die oomblik voor die mes haar tref, drie, vier keer, kort na mekaar, diep in die bors, en die bloed uit haar wegvloei, en haar oë breek, is ’n groot hand wat uit die tonnel van ’n mou kom, ’n hand met vuil, gebreekte naels, en ’n kettinkie wat swaai om ’n sterk, swart pols. En oë. Swartbooi se oë, blind van die trane van ’n óú verdriet.

WINTERHOEK (1)
’n fragment uit ’n brief aan my ouers

Dorpstraat 99
Stellenbosch
24 November 1958

Liewe Mammie en Pappie

.................................................................
.................................................................
.................................................................
.................................................................
         Dan het daar nog iets gebeur wat my besonderlik opgekikker het. Ek het nl. die afgelope naweek saam met vriende — almal B.T.K.-ners — in die Winterhoekberge gaan deurbring. ’n Pragtige wêreld; ek kan verstaan hoekom oom Martin met soveel heimwee terugdink aan Tulbagh.
         Ons het tot op die plaas Rooiland naby die Winterhoekreeks gery. Dit was Vrydagmiddag teen skemer, in die verdigtende skemer het ons tot by ’n natuurlike bos op die wal van ’n helder bergstroom gestap; elkeen, die meisies in die geselskap inkluis, met ’n swaar pakkaas op die rug: slaapsak en eetgoed vir ’n naweek.
         Tussen die bome het die fluoresserende liggies van vuurvliegies gebewe, die water het onder boomtakke deur oor wit, gladgeskuurde klippe gestroom, en ons eerste vuurtjie het sy rooi lig oor ons gesigte laat flakker. Na ’n blikkie Weense worsies, brood en koffie het ons in die pad geval en in die helder maanlig met ’n kontoerpaadjie langs die berg bestyg. Teen twaalfuur het ons Sneeugat bereik — onaards skoon in die versilwerende lig van die maan. Sommer so tussen graspolle het ons in ons slaapsakke ingekruip en onmiddellik aan die slaap geraak.
          Ná ’n ontbyt bestaande uit pap en koffie het ons na die “Grand Falls” gaan kyk — terloops, nie so “grand” soos ons eie Hol Krans in die reëntyd nie -; daarvandaan na die Groot Winterhoekpiek. Die mis het egter so dig saamgekoek om die berg dat ons leier wyslik besluit het dat ons moet omdraai. Later het die mis weer opgeklaar sodat ons in helder sonlig in ysige water kon baai. Tydsaam het ons na ons kampplek teruggeloop; hier by ’n nôienspypie vertoef, daar ’n malvablom bewonder. Ná ’n koninklike aandmaaltyd — alles uit blikkies — het ons nog lank om die kampvuur gesels en sommer langs die vuur soos Boesmans aan die slaap geraak.
          Sondagoggend staan ek vroeg-vroeg saam met die son op en maak koffie vir die ander. Dit was dan ook ons laaste koffie, want die kraaie het die vorige dag ons brood-, koffie- en suikervoorrade geplunder.
          Sondag se uitstappie was sommer ’n klipgooi van die kampplek af: ’n swemkuil waarin ’n mens teen ’n grasbedekte rotsskuinste afgly — “shute” noem ’n mens die rygly glo. Nog ’n ete; dan die terugtog met ’n bloedige son bo. Maar die hitte het ons nie só afgestomp dat ons nie goudgeel grassade teen ’n groen hang kon bewonder nie; of grys rotse met oranjerooi moete asof met ’n mes daarop aangebring; of rookblou plate hotnoskooigoed — sagte bosse waarvan ’n mens die heerlikste matrasse kan prakseer.
          By Nôiensbos maak ons vir oulaas sop; daarna die laaste halfmyl motors toe.
          En nou is een van die gelukkigste naweke in my lewe net ’n herinnering, maar selfs in herinnering ’n bron van vreugde.

          Liefdegroete
          Hennie

WINTERHOEK (2)
’n fragment uit ’n brief aan my ouers

Dorpstraat 99
Stellenbosch
6 April 1959

Liewe Mammie en Pappie

.................................................................
.................................................................
.................................................................
.................................................................
         Ek was vandeesweek weer Tulbagh toe; Winterhoekberge toe. Ek het reeds verlede jaar gloedvol uitgewei oor daardie mooi kontrei; veel kan ek dus nie sê nie. Vier van ons, dr. Piet Conradie, Fritz Scheffler, Henri Snijders en ek, is Vrydag in die reën per trein weg Tulbaghweg toe (moes eers oorklim op Wellington). Van Tulbaghweg af is ons per taxi Tulbagh toe, waar Theron-vriende ons kom haal het. Ons het in hulle ruim skuur op sakke met strooi geslaap — ’n luukse skuur, met elektriese beligting.
         Saterdagoggend is ons in ’n effense motreëntjie na Sneeugat — omtrent ’n drie uur se klim. Daar het ons skuilgegaan in ’n heerlike ruim grot, waar vorige bergklimmers heerlike beddens van hotnoskooigoed (’n sagte soort bossie) gelaat het. Nóg wind, nóg reën kon ons bykom. Kos — en heerlike kos daarby! — is op ’n oop vuur voorberei, en daarna het ons in ons slaapsakke geklim, na die reën lê en kyk, en stories aan mekaar vertel. Later het die ander aan die slaap geraak; die reën het my egter so geboei dat ek nie wou slaap nie. Voor my was ’n magtige stapelwerk van grys rotse; soms het hulle skerp teen die lug afgeëts gestaan; dan weer het mis en reën gekom en hulle versluier sodat die hele omgewing so geheimsinnig en poëties soos ’n óú Chinese landskap gelyk het. Die rotse naaste aan my het ’n soort ligroos kleur, byna of hulle van binne gloei; asbedekte kole, het ek gedink. En die kleur van die lug het gedurig gewissel: soms héél grys, soms witgrys, soms roomgrys. Alle geluide het gedemp geklink — iewers die gekras van kraaie; die vloei van ’n stroompie digby ons grot.
         Saterdagaand gaan slaap ons vroeg, hopende dat die weer sou opklaar — en dit hét. Reeds gedurende die nag het ons die sterre gesien; Sondag breek skoon en helder aan; die lug ’n harde blou. Na ontbyt — ham en eiers! — gaan ons Groot Winterhoek bestyg. ’n Wonderlike klim en ’n wonderlike uitsig tot daar anderkant in die Sederbergse kontrei. Donkeraand kom ons by ons grot ingestrompel met arms vol hout. Weer ’n feestelike maaltyd — sop, bief, vrugte, koffie.
         En vanoggend het ons Sneeugat verlaat, tot op Tulbagh gestap — darem nie die heelpad nie; ’n vriendelike boer het ons vir ’n lang ent opgelaai — weer per taxi Tulbaghweg toe gery en daar ons trein gehaal terug Stellenbosch toe.
         Baie groete
         Hennie

GAMKASKLOOF-TOER
’n brief aan my ouers

Dorpstraat 99
Stellenbosch
3 Mei 1959

Liewe Mammie en Pappie
Wat ’n heerlike tuiskoms na my B.T.K.-toer! Stapels en stapels pos: briewe van die huis af, briewe van oorsee af. Ja, gráág sou ek hierdie herfs tuis wou wees; herfs is vir my die intensste en rykste van al die seisoene.
         Maar eers oor my toer. In hoofsaak het ons die toerprogram van Sept. 1956 (?) gevolg, maar ons het hierdie toer meer gery as toe; die feit dat ons ’n nag in Gamkaskloof geslaap het, het dit meegebring. Die toerprogram was kortliks soos volg: Ry per bus tot by Kogmanskloof, kort voor Montagu, en slaap daar; ry na Ladismith, ry deur Hoekovallei, oornaweek op Amaliënstein; stap deur Seweweekspoort tot op die mooi plaas Besemfontein; ry hiervandaan ’n entjie per bus en stap dan slaapsak op die rug verder na Gamkaskloof (“Die Hel”) toe; kry by een van die vyf uitgange uit die vallei die busse en ry tot op Prins Albert, begin van die ingang tot die Swartbergpas af stap tot ’n hele entjie ná die kruin, ry verder tot naby die Kangogrotte; ry hiervandaan tot in die Robinsonpas (nie-amptelik Ruyterboschpas genoem) en stap ’n ent, ry dan verder tot op ’n plaas in die Herbertsdalese distrik; ry hiervandaan verby plekke soos Heidelberg en Caledon terug Stellenbosch toe.
         Ek wil nie in herhalings verval nie en sal dus net ’n paar besondere indrukke van die toer gee.

  1. Eerstens wil ek vertel van die kerkdiens wat ons op Amaliënstein bygewoon het. ’n Mooi ou kerkgebou, wat van die goeie smaak van die Rynse sending getuig — ek verbeel my die kerk is reeds in 1853 gebou. Weerskante van die kerk staan kerkklokke. Een van die tokkelokke op toer het die diens waargeneem, maar dis nie sy preek wat ek goed onthou nie, maar wel die gemeentesang. Sommige wysies wat die gemeente gesing het, was erg sentimenteel, en dan het die gemeentelede hul met ’n soort “wellustige triestigheid” (Dr. Con se woorde) aan die lied oorgegee; sommige wysies was egter soberder, en dán het die sang jou beïndruk.
  2. Op Besemfontein het die oom Van Zyl op wie se plaas ons uitgekamp het, ’n besonder mooi toespraak gemaak nadat ons hom en sy gade — ’n gemoedelike ou tannie wat oordeeg aan weerskante van haar stoel — by wyse van sang vir hulle gasvryheid bedank het. Soos ’n profeet het hy gelyk en geklink, die lang, regop ou man wat met sy reguit, eenvoudige woorde bewys het dat ware beskawing nie van geleerdheid afhanklik is nie. Hy neem aan ons is liefhebbers van die natuur, het hy gesê, anders sou ons nie sulke staptoere onderneem nie, maar, het hy voortgegaan, hy neem ook aan dat ons God liefhet, want wie die natuur werklik liefhet, kan nooit daarna kyk sonder om met vrees en respek te dink aan die skeppingskrag agter die natuur nie. Dié gedagte is nie oorspronklik nie, maar dis so mooi eenvoudig en eerlik gestel, dat ek nou nog daaraan dink.
  3. Gamkaskloof. Hier het ons oornag. Op pad na ons kampplek toe, het ek en ’n paar maats en dr. Scheffler by ’n vaal huisie langs die pad verneem of ons droë vrugte te koop kan kry. ’n Fyn beskaafde vrou het ons te woord gestaan — sy is die verpleegster in die vallei, en sy kon ons heelwat oor die probleme en voordele van die vallei inlig. (Ons het op Besemfontein gehoor hoe die mense ook van die inwoners van die vallei as “Klowers” praat.) Trou, doop en dergelike kerksake vind buite die vallei plaas; die leraar van die Prins Albertse gemeente, waaronder hulle eintlik ressorteer, besoek hulle nooit nie — “Maar,” vertel die verpleegster met ’n ironiese laggie, “hy stuur gereeld sy diaken te perd in om vir basaars te kom kollekteer!” Die Calitzdorpse predikant is egter ’n meer simpatieke mens en hy doen die moeite om hulle af en toe te besoek. Die vallei se mense kan ook welsprekend raak oor die wegbelasting wat hulle al jare lank betaal — “voetbelasting”, noem hulle dit! Maar administrateur Otto du Plessis gaan hulle binnekort te perd besoek om die moontlikhede van ’n padverbinding met die buitewêreld te ondersoek, en hulle hoop van ganser harte dat dié besoek nie vrugteloos gaan wees nie. Druk voorbereidings word al vir sy koms getref.
              Die plaaslike onderwyseres is ’n mej. Marina Ehlers wat ek jare gelede goed geken het; sy was ook op Stellenbosch. ’n Baie lewendige entjie mens, dié Marina; ek het gereken sy is teen dié tyd al lankal getroud, en met ’n grote kroos van haar eie. En nou sit sy in die Gamkaskloof, hoof van ’n eenmanskooltjie met vyftien leerlinge. Eenmaal elke drie weke kry die vallei pos: vermake is verder maar min. En tog beweer Marina dat sy die eensaamheid wat haar in die Kaap so geknel het, heeltemal afgeskud het. Sy het ’n definitiewe roeping om te vervul en sy word waardeer.
             Die vrugte in die vallei is voorwaar voortreflik, net jammer dat ek nie veel kon koop nie as gevolg van ’n gebrek aan pakplek. Vir Mammie-hulle stuur ek saamgeperste droë vye wat miskien nie meer heeltemal so aantreklik lyk nie, vanweë talle ontberings, maar wat beslis vorentoe smaak. Kerf dit in dun snye met die broodmes en sit dit op ’n sny brood met botter. Heerlik! Naas suurvytjiekonfyt die wonderlikste “dis” wat ek ken.
  4. Die Kango-hotel. Dis ongeveer 3 myl van die Grotte af geleë — ’n verlate ou gebou met al die tierlantyntjies van ’n paar dekades gelede; ’n stowwerige hole wat tans as stoorplek van uie en ertappels dien, maar ook welkome onderdak aan ’n klomp verkluimde B.T.K.-ners verskaf het.
             Ek en Henri Snijders — hy gaan saam Drakensberge toe — en Piet Conradie het op solder gaan slaap, vanwaar ons ’n mooi uitsig oor die Kangovallei met sy lusernlande, herfsbome en tabakskure had. Verruk was ons toe ons Donderdag wakker word en die Swartberge lê daar met sneeu gekroon. Pure Alpe was dit!
         Volgende week gaan ek inligting omtrent my toere verskaf — Drakensberg- sowel as oorsee-toer. Vir Pappie sal ek die finansiële aspekte daaromtrent uiteensit.          Baie groete en liefde.
         Hennie

NASKRIF
Kort nadat my brief oor Gamkaskloof aan my ouers geskryf is, het die planne vir ’n pad na “Die Hel” ’n stoot vorentoe gekry met dr Otto du Plessis se besoek aan Gamkaskloof. Hy het te perd deur Die Poort gekom, maar moes sy rydier lang ente oor die groot, wit rivierklippe in Die Poort lei. Rykie van Reenen was daar vir die geleentheid en berig daaroor in haar onnabootsbare styl. In werklikheid is haar berig ’n essay-in-die-kleine, kleurryk, volks en aards. Hier volg dit:

Dr. Du Plessis Beloof ’n Pad, en Daar’s Vreugde in Die Hel
Deur RYKIE VAN REENEN

Gamkaskloof het Donderdagaand ’n vrolikheid belewe soos in geen jare nie. “As ek weer kom en die pad kom inwy — ek sal hierdie besoek in my lewe nooit vergeet nie — dan kom hou ek met my motor vlak voor die skool stil!” het dr. Otto du Plessis gesê toe hy aan die Kloof die so lank verbeide pad beloof. Toe kan jy darem hoor hande klap!
         Die byeenkoms was in die eenkamer-kerkskooltjie op Middelplaas: Weeksdae het die juffrou — ’n flukse nooi, Marina Ehlers van Saldanha — net elf meisietjies en twee seuns in die klaskamertjie. Dié aand was die halwe Gamkaskloof daarin, en nog ’n stuk of sestien kuiergaste van “buite”. Hulle het gesit in die knap skoolbankies. Die ligte was kerse staangemaak in klein glasies op die skoolbanke. Die vloer was van grond; die plafon van spaansriet en die balke van Gamkaskloof se eie populiere. Maar geselliger tref jy dit nêrens nie. Te voet of te perd, van myle ver van die kloof op, wie kon was daar!
         Die verrigtinge sou eintlik ’n vleisbraaiery gewees het. Twee skape en drie bokke is keelaf gesny (benewens die bok wat oom Stefaans Swanepoel vir die feestelike middagmaal by sy huis geslag het). Tant Lenie Marais het vyftien groot soetsuurdeegbrode gebak. Dit was ’n papnat dag, maar dit kon die fees glad nie keer nie. Kole is gemaak onder twee skuins staangemaakte sinkplate waarop die reent amper heelaand tst-tst bly spoeg het. In die klaskamer het die Administrateur oor ’n plaat gloeiende kole sy klam sokkievoete laat droog word.
         Hoe lyk dit dan, vra die jong klomp later, kom hier dan nie vanaand musiek nie? Die Kloof se twee voor-musikante is Piet Mostert, wat die kitaar slaan, en Willem Joubert, wat die konsertina kielie. Die twee het nie gereken daar sou op ’n aand van sulke hoë besoek geskoffel word nie. Maar veral die kuiermense se voete het so gejeuk dat Koot Cordier later sy perd gryp en die nag-in verdwyn. Sewe myl tot amper aan die heel boonste punt van die kloof jaag hy. Kort voor lank kom hy terug met ’n natgeswete dier, die konsertina in ’n wit slopie agter sy rug, die kitaar in ’n streepsak in die hand. A ja nee, maar tóé begin die jolyt eers reg!
         Marina en ou Oom Piet Joubert dans voor die los-skop-settees wat die oom nog so goed uit die ou dae ken. Net vir gou is die oop kolletjie voor in die klaskamer vaal van die stof soos oud en jonk die baan vat. Selfs die Administrateur en Prins Albert se burgemeester en Provinsiale Raadslid Fanie van der Merwe kry ’n beurt. En wat lig dans, is die Kloof se tantes.
         Die party het so ’n ligte knak gekry toe die ouer besoekers ná ’n dag in die saal gaan inkruip. Maar die kuiery was nog lank nie uit nie. Die konsertina het so vat-vat verder Kloof-af geklae. By die skoolgebou was daar nog laat en lank lig. Toe die konsertina kort voor eerste hoenderkraai weer daar verby kom, kon hy aan ’n nog steeds jolige jongklomp sê: “Hoe lyk dit met die koffie!”
         As Gamkaskloof só vrolik vier aan die belofte van ’n pad, dan sal daardie inwyding waarnatoe dr. Otto met sy motor wil kom, ’n geleentheid wees wat ons waarlik nie moet misloop nie.

WAENHUISKRANS
’n brief aan my ouers

Dorpstraat 99
Stellenbosch
13 Februarie 1962

Liewe Mammie en Pappie
’n Wonderlike naweek agter die rug. Ek en Paul het na aanleiding van ’n stukkie van Rykie van Reenen die pad Waenhuiskrans toe gekies. Tot op Caledon was die wêreld bekend; dáár het ons toe afgedraai Bredasdorp toe (“Bedaarsdorp”, soos dr. Con sê). Eintlik verander die wêreld nie aanmerklik nie; nog altyd dieselfde heuwelrondinge, wat ’n mens amper lomerig maak; omgeploegde landerye in skakeringe van pers en bruin, wat aan Pierneef herinner: pragtige tekenwerk, formeel ingekleur. Maar die werklikheid is warmer, persoonliker — en mooier. Telkens die volgende toneel: ’n witgekalkte huisie met ’n abbakaggel teen die luglyn — sien skets. Dit is opvallend dat hierdie hele streek nog ’n uniforme boustyl het, sober, byna gestroopte voortsettings van die Kaaps-Hollandse styl: lang, wit huise, dikwels nog met strooidakke.
         Bredasdorp is ’n aan die kant dorp, groter as wat ek vermoed het. Maar dis eers op Arniston — dis nou Waenhuiskrans se amptelike naam; heet na die skip Arniston wat in 1815 aan daardie kus gestrand het — dat ek besef het wát Audrey en Ken só aan hierdie wêreld bind. ’n Ongelooflike groen see, só lou dat ’n mens teen skemer nog kan gaan swem; ’n skilderagtige bruinmensdorpie, Kassiesbaai; en sowat ’n halfuur daarvandaan, M.E.R. se beroemde Hol Krans. As Ma-hulle nie die betrokke verhaal ken nie, kom lees ek hom Junie vir julle.
         Ek hoop die skyfies wat ek en Paul geneem het, kom uit; ek sal dit in my letterkundeonderwys kan gebruik.
         Ek het nog hope nuus wat tot ’n volgende keer moet oorstaan.
         Hennie

VLEESBAAI
’n brief aan my ouers

Dorpstraat 99
Stellenbosch
30 April 1962

Liewe Mammie en Pappie
          “Nog ’n toer is verstreke
          Van die ou B.T.K. ...”
maar dis eintlik ’n bevryding om nie meer sentimenteel te raak oor so ’n afskeid nie. Van my ou toervriende is dit net Flip van der Merwe en Piet Conradie wat oorgebly het, bekendes is daar wel, maar ons het vroeër nooit heeltemal in dieselfde groep beweeg nie. Dit het ook meegebring dat ek die toer meer ontspanne, meer op ’n afstand, kon geniet. Ons het in die elite-kring beweeg — was gedurig in die Erlanks se geselskap en het by oom Theo (dr. Scheffler) in die tent geslaap.
         Dit was hoofsaaklik ’n kustoer — van Heroldsbaai, anderkant Mosselbaai, af, tot by Gouritzriviermond (Avondrust), en met die volgende kampplekke tussenin: Groot Brak, Mosselbaai en Vleesbaai; pragtige kusstappe, met groot verskeidenheid — myle op die wit sand; dan weer op voetpaadjies op ’n heuwelrug, met pragtige veldblomme om ons — felblou lubelias, pienk heide en pienk sewejaartjies, surinkies.
         Op Groot Brak loop ek my mos toe in Ansie Stander vas — hulle was vir die langnaweek in hulle strandhuis. Ek het nogal die moeite gedoen om by hulle te gaan kuier, maar net ’n koppie lou koffie en skinderige uitvra as beloning gekry — en op die koop toe moes ek in die reën terugstap kamp toe, alhoewel hulle motor vóór die huis gestaan het. Nee wat, ’n mens moet nie die verlede probeer terugroep nie; ’n mens durf dit net herskep in die kuns. Veel meer belonend was my kennismaking met oom Gallie en tant Gallie van Vleesbaai.
         Dié 87-jarige oubaas is die ongekroonde koning van Vleesbaai. Hy is dit wat in die veertigerjare ’n “dorpie” begin het op ’n stukkie kusgrond, eiehandig die duinewêreld mak gemaak het. Hy is ’n wandelende ensiklopedie wat plaaslike folklore betref — ken almal en alles, elke plant, elke bossie, van die ghoena en die kaboe tot die kershout toe, wat oranje sade soos dubbeltjies dra: baie mooi teen die groen van duineplantegroei. En alhoewel hy net een oog het, lees hy gereeld koerante en tydskrifte met behulp van ’n vergrootglas. Praat van sêgoed! “Konsertinaweer”, noem hy dié soort weer wat oop- en toetrek, of hy nie kan besluit wat om te doen nie; en vir kleptomania gebruik hy die volksetimologiese vorm klipsalmander. Wou dat ek ’n hele vakansie by hom en sy bedrywige, geselslustige vrou kom kuier. Vroegoggend het sy die “vorentoe” mense in die laer met koffie kom verras. Met haastige treë (op dun, dun beentjies) is sy van tent tot tent, en op ’n eerbiedige afstand agter haar, twee bruinvrouens met ’n mandjie vol bekers en termoflesse.
         Naby Heroldsbaai het ek ’n kontrapsie gesien wat Pa mag interesseer — ’n praktiese manier om oor drade te kom sonder om dit plat te ry. Dit word van geteerde pale gemaak en lyk só:

( ... )

         Op pad terug in die bus het ons die tyd verdryf deur limericke op mekaar te maak. Hier is my limerick op Eitemal:
         ’n Digter-professor van Stellenbosch
          Maak hengel en hekel sy kos.
          Elke woord, elke waan
          Tentatief ingeslaan -
          Maar sonder sy Hettie is sy ankers los!
(Eitemal het in die tentekomitee gedien).

’n Besige kwartaal lê voor — maar ek tel die weke af.
         Is die platespeler al herstel?
         Hoe vaar dit met Ousie en die onderwys?
         Baie groete.
         Mafoeta

DOOD IN DIE BERGE
’n brief aan my ouers

Dorpstraat 99
Stellenbosch
3 Augustus 1958

Liewe Mammie en Pappie
Voordat die koerantmense die gebeurtenis opraap en daar ’n sensasiestorie van maak, wil ek mý verslag lewer van die bergdrama in Jonkershoek waarby ek as B.T.K-ner ten nouste betrokke was. Teen die tyd dat hierdie brief die huis bereik, sou julle al óf oor die radio óf in die koerant kennis geneem het van die ongelukkige dood van ’n jong eerstejaarstudent teen die hang van die Katedraalpiek.
         Na ’n week van reën en by tye amper stormweer, het Saterdag 2 Augustus helder en feitlik wolkloos aangebreek. Saam met die B.T.K — daar was ±22 mense — het ek na Jonkershoek gefiets. Saam met ons was Tjaain Smith en sy vrou; Tjaain was naamlik al een wat die pad na Katedraal geken het. (Dit is seker dié mooiste piek in die Jonkershoekreeks.)
         Daar was die gebruiklike gelag en gesing. Tussen die ou B.T.K.-ners was daar ook ’n paar nuwe gesigte: ’n vriendin van Maxie Heyns wat spesiaal van Kaapstad af vir die geleentheid gekom het; verder ’n student van wie ek nie die trekke of die vorm van die gesig onthou nie; ek weet net dat hy ’n swart trui aangehad het.
         Die berghang was ’n bietjie klam sodat ons op ’n paar plekke van toue gebruik gemaak het. Dit was feitlik nie nodig nie, want die gevaar was minimaal. Ek wil net beklemtoon dat daar met bergklim nie gewaag word nie.
         En toe die “gevaarplekke” verby was, het dit gebeur — die ongeluk. Ek het derde van voor af geklim en het die ongeluk gelukkig nie gesien nie. Net gehoor. Nooit, nooit vergeet ek dit nie — vyf bonse na mekaar, harde bonse, soos van rots op rots, één deurdringende gil; en toe gooi die klowe die geluid na ons terug. Daarna: stilte. (Dis net die Vrystaatse vriendin van Maxie wat gegil het, want sy was net agter die eerstejaar met die swart trui aan — al die ander het verdwaasd bly stilstaan. Die eerstejaar wou haar help toe sy voet geglip het).
         Die liggaam het by ’n 800 tot ’n 1000 voet afgrond afgeval. Twee bergklimmers, o.a. Henri Snijders, het by die liggaam gaan waak; ’n derde het onmiddellik hulp gaan soek. Die res van die geselskap moes die klim voortsit; terugklim met die pad waarlangs gekom is, sou vir die paniekbevange geselskap te veel gewees het. Die vreemdste was dat niemand oor homself bekommerd was op hierdie oomblik nie, en dis ook goed: die belangstelling in die medemens het as ’n afreagering van eie spanning gedien. Sommige meisies moes feitlik aan die hand die berg afgelei word, met die gevolg dat dit al sterk donker was toe ons weer op gebaande weë was. Op die kontoerpaadjie — nog baie myle van die ongelukstoneel af — het ons die eerste reddingsgeselskap met die draagbaar teëgekom. Nog baie draers was nodig en dit het vir my die regte en die natuurlike ding gelyk om my hulp aan te bied. Ek is toe saam met die ambulansbestuurder met ’n bosboupad wat jou so na moontlik aan die ongelukstoneel bring, want ek was al een wat die pad geken het. Daar in die koue het ons toe sit en wag. (Gelukkig dat my “jeans” in my rugsak was. My kos was egter gedaan — en ek het die oggend laas geëet.)
         Na sowat ’n uur het die tweede reddingsgeselskap opgedaag. Saam met hulle is ek weer die berg uit — maar nie tot heel bo nie. Op ’n afgespreekte plek het ons op die eerste groep met die baar gewag. Ten spyte van die ekstra trui wat Tjaain vir my gebring het, het ek nog gebibber van die koue. Ek het begin styf word en met die spookagtige berglandskap in die lig van die maan, het die skok van die gebeure langsaam tot my deurgedring. Vier uur het ons daar sit en wag in ’n snydende windjie; telkens het ons lanterns en flitse ver bokant ons sien flikker. Na wat ’n ewigheid gelyk het, was die draers by ons. En toe is ons die berg af met die lyk onder ’n kombers op die baar vasgebind. Self het ek die lyk nie gesien nie, maar van die ander het ek gehoor dat daar haas nie ’n been in sy liggaam was wat nie gebreek was nie; in die val is al sy klere van sy middellyf af van hom gestroop, sy skoene ook; sy jong gesig oopgebars.
         Half-ses vanoggend was ons terug op Stellenbosch.
         By Tjaain aan huis het ons soep en toebroodjies gaan nuttig, en toe het ek kom slaap. (Gelukkig het Elsabé van Tjaain tant Lucy gewaarsku dat ek nie die nag tuis sal wees nie.) Nou ja, slaap in die behoorlike sin van die woord was dit nie; dit was rusteloos en ek was kort-kort wakker.
         Vanmiddag het ek beter gerus.
         En nou sit ek en dink aan wat ’n tokkelok gesê het. ’n Meisie wat normaalweg baie kalm is, het op presies dieselfde plek waar Du Preez verongeluk het, ’n gevoel van namelose angs ervaar. Sy het ’n entjie voor hom geklim. Net vir ’n oomblik; toe was dit oor. Hierdie angs, sê die tokkelok, is die Bose waarteen ons behoed wil wees. En tog laat God toe dat die Bose soms oorwin; so word die balans in Sy wêreld behou, leer ons om die Goeie nie as vanselfsprekend te aanvaar nie.
         Die Goeie is ’n daaglikse voorreg; ons lewe elke sekonde in Sy genade. Nooit in my hele lewe het ek dit werklik besef nie; nóú besef ek dit.
         Miskien het ek te veel geskryf, maar ek het in elk geval my hart uitgepraat en nou voel ek baie kalmer.
         Groete en liefde.
         Hennie

LitNet-leser: Wat dink jy van hierdie bydrae? Twee pryse van R1000 elk word toegeken aan die interessantste reaksies op referate. Stuur jou opinie aan SêNet by redlitnet@mweb.co.za

Besoek die beraad se virtuele boekuitstallings en ondersteun ons skrywers deur hul boeke via LitNet te bestel.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.