SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Skrywersberaad-argief

Skrywersberaad




Breyten Breytenbach   Breyten Breytenbach
is op 16 September 1939 op Bonnievale gebore. Hy studeer aan die Universiteit van Kaapstad en vertrek in 1960 op ’n uitgebreide oorsese reis. Hy kry permanente verblyf in Parys (Frankryk). Op ’n aanklag van terroristiese bedrywighede onderwyl hy Suid-Afrika besoek, is hy tot nege jaar tronkstraf gevonnis. Na iets meer as sewe jaar word hy uit die gevangenis vrygelaat. Hy en sy vrou vestig hulle daarna weer in Parys. Benewens sy gedigte, is prosatekste, besinnende werk en reisbeskrywings gepubliseer. Hy is ook ’n erkende skilder. ’n Bloemlesing van sy mooiste liefdesgedigte, Lady One, is onlangs deur Human & Rousseau uitgegee.

Die bobbejaan agter die bult

1 Dit is dan sover. Met stamp en stoot en krap en knou is ons midde-in die Groot Gesprek (sonder dat die kleinklets agterweŽ bly). Dis seker uiteindelik gesond as die etter uitkom. Waarop dit dui, is tog, eerstens, dat die Afrikaner se normevormende politieke en kulturele en sosiale en selfs religieuse hegemonie in duisend skerwe lÍ. En dit — die verlies van staatsmag, en nou die bevraagtekening van alle aanvaardes en die rysmier van elke denkbare sekerheid en gewaande waarde — is hťťrlik, hťťrlik, hťťrlik! Wat dit eweneens meebring, is dat iedereen, tot Jan en Sannie Rap, raap en skraap vir ’n skerf om te gebruik as spieŽltjie, hetsy vir die selfpronk of om die buur se oŽ te verblind. Wat natuurlik ook gebeur, is dat baie van ons in die splinters trap. Maar ek is nie bewus van naastenby ’n soortgelyke geraas en ge-eina komende van enige van die ander taalgroepe nie.

1.1 Van groep gepraat. Wie is die “ons” waarna verwys word? Afrikaners? Afrikaanses? Afrikaanstaliges? Afrikaanssprekendes? Afrikaansverbruikers? Afrikaanshebbendes? Afrikaner-Africans? Afrikaanserige Khois? Boere-Afrikaners? Baster Afrikane? Wat het ons in gemeen behalwe dat ons ’n vorm of ’n afleisel van Afrikaans besig, en party van ons nog net tussen volwassenes in die motorkar wanneer die radio op volle blÍr gestel is sodat die kinders ons nie kan hoor nie? Hoekom is die spook (en die duiwel) nou juis tussen “ons” los?

2 Feit is dat ons stukkend is, al dring sommige ook hoe sterk aan op heil en sielevrede. Ons lewe onder die druk maar ook met die opwinding van losgeslaan te wees van ou en nuwe sekerhede. Ons word genoop of geknoop tot self-definiŽring. Of aanvaar dat ander dit vir ons doen. En sal dit help? Help waarmee? Dis egter die diskoers (die van-koers-af) waarbinne ons beweeg.

Die hand vol vere
Boklied
The memory of birds in times of a revolution
Woordwerk
Lady One
Al hierdie titels nou te koop!
3 Ek mik my spoegseltjie vir die kwispedoor uit die skuinstes van oorkant die bult. Van tyd tot tyd moet ek landuit om in ander windstiltes asem te skep. Dit beteken wel ’n onttrekking — waar is my daaglikse hit van roof en bloed, van kwistige korrupsie, van konyn-Christene soos ons krieketkaptein, van onbeskaamde rassisme en barbaarsheid, van afgekapte koppe in bokse en swanger mae oopgesny met snoeiskÍre, van in-jou-gevreet oorvloedige weelde, van kinders in sak onder sinkplaat en karton, van loterykaartjies vir besoeke aan die Heilige se kerker op Robbeneiland, van smaal en swartsmeer, van wraak en die soetmonde wat met die fyn-fyn ydelheid van nederigheid om vergiffenis bid? Ek vind dit eenvoudig te vermoeiend om “normaal” in Moermekaarland te bly. Selfs Antjie Somers kan my nie versoen met die singende daeraad nie. Vanselfsprekend behels dit dat ek my aanspraak op inspraak opsÍ; dit sal weer eens, soos altyd, van alle kante vir my voorgehou word. Net so voorspelbaar sal elkeen van my stellings bestry word (ek nommer juis die paragrawe om dit makliker vir julle te maak) — is ek dan nie die nieu-regse, kommunistiese, terroristiese, anargistiese, aanstellerige, beterwetende, selfbevlekkende, besemkasrassistiese naaldekoker nie? Wel, dit kan ongelukkig nie anders nie. Ek is nie ’n Christen nie. Vir die oorgrote meerderheid Afrikaners is ek nie ’n Afrikaner nie. Maak dit saak? Dis tog net ťťn dimensie van menswees tussen ander. Ek kan my nie beroep op ’n roemryke verlede van opoffering en tydige inkeer nie. Ek is nie ’n vaderlander nie (dalk wel ’n bietjie ’n moederlander ...). Ek glo nie in die demokrasie nie. Ek glo ook nie dat meerderheid mťťr en beter weet en meer reg het as minderheid nie. Ek glo nie dat “lyding” veredelend is of jou wys en verdraagsaam maak nie. Inteendeel. Ek glo nie in die Geskiedenis of in Voortbestemming nie.

4 En tog, en tog ... As dit alles tog net nie so wroegend en woedend ernstig was nie, as daar maar net ’n bietjie perspektief kon wees, met die tyd saam en vergelykenderwyse met ander toestande elders waar dit ook mooiweer en warm is, as daar tog asseblief net ’n bietjie nugter en helder denke kon kom, net so ’n titseltjie volwassenheid ... Nou nie wysheid nie. Mens wil nie ’n vraat van jouself gaan staan en maak nie. LÍ dit dan ingebed in ons taal om niť helder en nugter te dink nie, maar rasend histeries en vuil kinderagtig? Want O, Heer, ek is skuldig, jy is skuldig, hy, sy en dit en pa is skuldig, ons is almal skuldig. (Hťťrlik, hťťrlik, hťťrlik!)

5 Nogtans, as skrywer, dit wil sÍ as kykdief, beter mens jou kik en jou kŰk ken, die pad vorentoe is vol duwweltjies en duiwels. Al is daar vir my oorwegings (beginsels en eindsels) wat swaarder weeg as die sogenaamde “realistiese” kompromie. Nie dat wat ek te sÍ mag hÍ enige verskil kan maak nie, al stuit ek ook as gifsnater van die eerste water almal wat hyg en syg teen die bors. Wat ek kan probeer bydra, is ’n soort bestekopname, inskryfsels in ’n besoekersboek. En om so radikaal moontlik te dink en te stink, tťťn die groot doodlÍ van Politieke Korrektheid (die Mieliemondery) in.

4.1 Dis mos daardie polities korrekte vryheid van spraak wat my toelaat, byvoorbeeld, om te sÍ De Klerk is ’n peso — hy leen homself immers daartoe en dan is hy nog blink ook. Maar veral: hy is wit. Terwyl ek nie durf sÍ Thabo is ’n snyfie nie want dit maak my ipso facto ’n rassis, en nie omdat hy wollerig is nie maar oor sy swartheid. Op sy alleruiterste mag ek beweer hy’s ’n pose of ’n epos.

4.2 Nou hoor ek klaar hoe knor Hekwagter: “Sien, daar’s jy al weer ’n maverick. Mense soos jy en Die Rot maak die openbare gesprek ligsinnig en oppervlakkig.”

4.3 My enigste verweer is dat ek as kakofoonspeler maar net die kakofonie probeer vergesel. Want kyk, praat ons dan nie almal saam balke toe in hierdie Gesprekhuis nie? As Piet vir Kalientjie wegja, waarnatoe dan? Hoor jy die magtige dreuning? Oor die veld kom dit wyd gesweef.

5 Dis die weloorwoŽ antwoorde van die hoŽpriesters en die huilers; die hekwagters en die hempskeurders; die hedoniste; die hinkepinkers; die hansfasciste; diť wat skuringe met pa het en dink dis ’n politieke probleem van universele omvang; die hensoppers; die bywoners; die wedergeborenes; die Maksimum kopstomers en ander kombuiskosies; die filosotte; die heiliges (soos ek) en mede-ikoonte; diť wat dink hulle is anargiste maar hulle is sommer net kÍffieknorrers; diť met gelobotimiseerde geheuens en wit handjies in vlekkelose moue uitgesteek na die ANC se geld; die onderhonde; die hallelujariges en jagse harlekyne; die suiplappe en die skemerkelkmelkbaarde; die grensknersers; Apartheid se kinders (foei, hulle het ma en pa doodgemaak en vra nou vir versagting omdat hulle wees is); die iepekonters; diť met bruin asseblieftoggesiggies; diť met wit askiestoggesiggies; die honendes; die uitgewekenes en die uitgeworpenes en die verminkte engele en die Jong Geslag; diť wat in Melville bly en slegs met swart sekswerkers omgaan ter wille van Tutu se reŽnboog; die daggadose; die onaantasbares; o selfs die kortbroeke en die boerseuns; diť wat De Kat en Insig bedryf asof private seksuele jagplase; diť wat dreig om geld te gee en / of te publiseer; die ape; diť wat glo dat Franse filosoŲfie in die Bybel staan en verder dat hulle gesalfde profete is, en FoukŰl weet van Barthes of Bart Nel; diť wat kak as kak sien al het dit ook ’n Franse klankie, en hulle verder verlustig in inheemse barbaarsheid; diť wat met budgies boer; die TransvŰlers wat langkrom AfrikŰns praat; diť vannie Kaap (Italianers, Egiptenare, Koreane ...) wat scheme hulle het nou status omdat hulle cheep Engels wheaty in stede van Afferkaans; die sedeprekers; Skelmbos se toegekoekte koekoekťlite; die Americans en die Rough Boys en die Twenty-Sixes en die Twenty-Eights en die Sixty-Threes; die sakkemanne; die ontknateraars; Evita Boesak (don’t cry for me Con-stantia); die Marxiste van Mars; diť wat dink dat alle lesbieters vet van wang is en alle hommelfiele en ander ledemate van die Brotherbonk het harige bobene; die Zuid-Afrikaanse AkkadÍmie van Wetterskap en Koinste; Naspers Broeders Bpk; diť wat gatvol is en hulle wat vol gat is ...

6 Watter inskrywing sal ek probeer neerpen in die Grootboek van Oopmaak en Opmaak? Eerstens, ’n mondskoonmaaksel totaal teenstrydige “feite”, sommer so deurmekaar soos ’n boer se bankrekening.

6.1 Want feit is dat ons almal aan morele Alzheimers ly, salig sinneloos. Ons lewe so koes-koes tussen die vrot en die vuur. Ons kyk na die wind en sug oor die see, en draai ons motorruite op by die verkeersaansluitings. Ons kraai van die wyn en knip laatnag ’n traan van eksistensiŽle angs uit die oog. Wie van ons bruin broers en komraids aanvaar enige verantwoordelikheid van interpretasie vir die volks(self)moord op die Kaapse Vlakte? En onse wit boeties en swetserkies, ons hande is so flinters gebyt deur die boesemadders dat ons nog net lomp die balk in andermansoog kan steek.

6.2 Feit is: Om wit en Afrikaner te wees is klaar ’n beperking. Julle sal moet saamlewe daarmee dat julle nooit weer na vermoŽ hoŽ poste in die openbare lewe gaan beklee nie, al is julle name byvoorbeeld Hanekom of Niehaus of Groskopf of Dirk Coetzee of Krog; en dis nie noodwendig so ’n opoffering of ’n vernedering nie. Is dit dan nie verfrissend om nie meer kripvreters te wees nie (drie uit elke vyf Afrikaners het onder die ancien rťgime vir die staat gewerk, aan die uier gesuie, gekonkel en geplunder) en om julle eie potjies te moet krap? As julle politiek wil bedryf, sal dit waarskynlik op ’n etniese grondslag moet wees, want julle dink tog nie daar is plek vir julle in die ANC nie? Behalwe nou as askari’s? As julle politiek wil bedryf, sal julle van vooraf moet dink en besin, en dis ’n gevaarlike speletjie.

6.3 Feit is: Alle politici is swyne. Party wit en die ander swart. Hulle is van nering misdadigers teen die mensdom. Dis die magshonger en die skaars verdoeselde veragting vir die bevolking wat van hulle varke maak. Party het nie ’n saak gehad nie en hulle totale beleid was gebaseer op die onderdrukking van ’n meerderheid. Ander het aangery gekom op die goeie rug van “bevryding” en moet nou die minderhede uit die pad vee om die “volk” bymekaar te hou.

6.4 Feit is: Boontjie kry sy loontjie. (Met ’n bietjie geluk.)

6.5 Feit is: Die Suid-Afrikaanse staat is nie ’n demokrasie nie, nog is dit ’n meritokrasie; dis georden op “rasse”-lyne. “Suid-Afrika” is ’n historiese verdooldheid, die produk van kolonialisme, verowering en onderwerping. Ek bitterbek nou nie ons bewonderenswaardige grondwet nie, maar praat van die Partystaat. Waarom is ons in ieder geval so verknog aan die begrippe “staat” en “nasie” (soos skape aan ’n kraal)? Maak dit die lewe lekkerder en die dood makliker? Of is dit sommer net ’n opgee van eie verantwoordelikheid?

6.6 Feit is: Julle wat bruin is, gaan ook nie ’n beterder deal kry nie, al noem julle julself nou black tot julle blou in die gesig is. Dalk wel die belofte van verbetering, as stemvee teen verkiesingstyd.

6.7 Feit is: “Nasiebou” was ’n trilling op die woestyn se warm luglyn. Soos “versoening” ook, was dit ’n taktiese skynbeweging om teenstand te verfoes en mag te konsolideer tydens die oorgangsfase, ’n foefie om die ware stryd vir monopolistiese heerserskap soos ’n Salomesdans te versluier. Daardie skuifmeul is nou nie meer nodig nie. Die huidige wekroep is heeltemal logies — verstewig die party se greep op die hefbome van die staat. Ek huil nog steeds oor die verspilde geleenthede en die dood van die droom, maar dis omdat ek domweg gedog het die Freedom Charter was ernstig bedoel.

6.8 Feit is: Gegee die heersende apparaat se Groot Lieg aan die bevolking, naamlik dat daar skole en universiteite en hospitale en werk en huise vir almal gaan wees, brode en visse en manna en motorkarre, en dat al hoe meer mense raaksien dit is nie so nie, sal nuwe gronde vir monstering gevind moet word, en daarom is die volgende wekroep tog seker — jaag die witmense die see in!

6.9 Feit is: Van die wittes in die privaat sektor word verwag dat hulle slegs geldskieters moet wees, en daarbenewens skuldig hulle plekke sal ken, dis nou om die historiese onreg reg te stel.

6.10 Feit is: Jy wat wit is, sal nie gereken word as Afrikaan nie, met uitsondering van ’n Joe Slovo wat in Litaue gebore is.

6.11 Feit is egter helaas: Ons is almal Afrikane. Net so vanselfsprekend as Kader Asmal of Trevor Manuel of Dali Tambo. Of Bouteflika van AlgeriŽ of Moebarak van Egipte. Selfs Mugabe is ’n Afrikaan.

6.12 Feit is: In Moermekaarland is misdaad en eie reg die norm. Wie is die staat of die gereg of selfs die gemeenskap om te wil inmeng met die fundamentele reg op oorlewing? En hoe sou die staat te werk moes gaan indien hy ... indien hy ... ’n ander norm daar wou stel? En waar moet die morele motivering en voorbeeld vandaan kom? Hoe gaan jy die bevoorregte wittes kry om op te hou steel? Op watter hoŽr belang en verbintenis beroep jy jou? Watter argumente gaan jy gebruik in Guguletu en Mamelodi en Winterveld en Kwamashu? En hoe anders moet gelykstelling bewerkstellig word?

6.13 Feit is: Armoede sal geakkommodeer moet word; dis waar ons swaartepunt lÍ. Die huidige rťgime se makro-ekonomiese opsies en vetvreet-ideologie (met die witpraat-regverdiging dat die vreters se mombakkies swart is) gaan op geen wyse ’n verskil maak nie. Jy kan altyd die wittes bly melk, maar ook dit maak net ’n simboliese duik in die probleem van behoeftiges en armlastiges.

6.14 Feit is: Die flenterproletariaat gaan (tereg) die land verswelg.

6.15 Feit is: Identiteit is ’n verdigsel. In groepsverband is dit ’n saamgestelde waan ter gebruik van sosiale en politieke manipulasie. Om mag te bekom / behou / monopoliseer. Of om slagofferskap te verduidelik.

6.16 Feit is: Moedertaal is (ook) basiese bewuswees-van-syn-binne-’n-waarneembare-werklikheid. Met ander woorde, dit is Kultuur (wat tot Natuur by wyse van teenstelling en noem-ken identifiseer). Met ander woorde, dit is deels die uitdeel van identiteit.

6.17 Feit is: Afrikaans word uitgerangeer deur die staat, en verdere feit is waarskynlik dat die Afrikaners veronderstel is om in hulle moer te vlieg.

6.17.1 En hulle vou maklik. Feit is: As jy vir die meeste Afrikaners “boe!” skree, veral vir die Joepies, skrik hulle hulself asvaal en bruinbroek en sÍ gou: “Don’t shout at me. I is English.”

6.17.2 Feit is: Vir ’n baie groot persentasie Afrikaanssprekendes is om te erken dat jy Afrikaner is ’n uitdrukking van selfveragting en selfontkenning. Jy dink miskien soms daaraan, soos aan ’n melktand, wanneer die motorkar se radio op volle blÍr gestel is.

6.18 Feit is: Baie van die nuwe taalstryders is ou onwelriekende reaksionÍres wat hulle drome van mag saamsleep soos lam sprinkane, hulle dink nog dit was revolusionÍr om na regs weg te breek van die Nasionale Party, en nou besprinkel hulle hulself met die byderwetse parfuum van “minderheidsregte” en “selfbeskikking” en hoop tog maar almal kom die verskille agter.

6.18.1 Feit is (sommer so tussen al die ander feite deur): Die stywerug regses wat nou die ore so laag trek, wat druip van verontwaardiging terwyl hulle soos wafferse liberale meesmuil oor minderheidsmenseregte, wat die werklike dialektiek tussen enkel-wees en saamwees, tussen groepwees en grootnasie verknoei — het alternatiewe keuses kon maak by elke stap van die afgelope dekades se ontplooiende geskiedenis. Die inligting en die implikasies was altyd voldoende duidelik. Hulle / julle het konsekwent gekies vir “veiligheid” en “normaliteit”, in feite is daar by julle volle positiewe gekies vir onderdrukking, uitbuiting en mensontering. Niemand, in watter vak van die gemeenskap ook, kan beweer ons het nie geweet nie. Ons het veral geweet: daaglikse omgang met die dominee, die magistraat, die skoolhoof, die politigatkus ... het immers geÔllustreer hoe skynheilig en verrot die outoriteitsfigure is. (Op persoonlike noot moet ek erken dat die debat tussen Boetman en HoŽpriester vir my duister boeke is.)

6.18.2 Feit is: Ons huidige situasie is stap vir stap toe te skryf aan die politiek en die moraliteit van al daardie jare. Wat, ek hoop dit spreek vanself, nie impliseer dat ons die verwringings van die huidige bedeling moet miskyk omdat ons wil glo dat dit slegs vertolkbare en verskoonbare afwykings is en nie wil weet dit lÍ ingebed in die kultuur van die ANC nie. HoŽpriesters en hekwagters wat ’n selektiewe moraliteit wil toepas, verveelvoudig net die drogredenasies. Dis eweneens nie genoeg om te wil sÍ ons het almal eweveel fout en daarom moet ons maar vergewe en vergeet nie. Hoekom het ons nog nooit ’n interne Waarheidskommissie kon loods nie?

6.19 Feit is: Van die jonger generasie taalstryders is ook maar rammetjie uitnek. Hulle word nog op die ou-ou manier verblind deur die selfbegogelende slaankrag van die Woord en die gewaande hoŽ Gedagte.

6.19.1 Feit is: Ons lewe nog merendeels in ’n wÍreld gefatsoeneer deur Westerse begrippe en hiŽrargieŽ. So, byvoorbeeld, het ons baie ontsag vir die intellektuele. Dit word selfs baie gou voor jou deur gelÍ dat anti-intellektualisme ’n gevaarlike sjebiensonde sou wees met die veronderstelling dat so ’n houding reŽlreg lei na dosifikasie en fundamentalisme. Maar baie van die gemors waarin ons is, moet toegeskryf word aan die intellektuele en hulle ongebreidelde en onverantwoordelike en onverantwoorde invloed. Die vaardigheid van omgang met woorde en boekbegrippe het as teengang die selfverheerliking en dus die selfverblinding van knolhol arrogansie, dikwels ’n ewe hoogdrawende etiese verval, ’n vervreemding van die grense en die moontlikhede van die “gewone lewe”. G’n wonder Mao het beweer die intellektueel se verstand stink nie!

6.19.1.1 afskil in die donker
luister nou wat Ouman vir julle sÍ:
dinge moet losgepraat kom van die woorde;
woorde lÍ dinge, goeters, prosesse dood
omdat hulle so naastenby is
soos maanlig se silwer randjie
rondom die skyn

moenie dink as jy ’n wordwoord gebruik
dat jy iets in werking gestel het nie —
die woord is ekkering
’n ringmaak van besetting, besitting en versottering
’n in-die-plek kom staan
om die aarde gelyk te brand
soos die skrywende hand

tensy jy haar kan maak beteken
sodat sy in eie skaduwee ’n dinkding is
maar dis ’n ander storie, ’n ander maannaam
om verdonker te lewe in die heelal van papier

6.20 Feit is: Om met ’n mate van ordentlikheid te lewe in ons komplekse gemeenskappe is ons aangewys op die modernisme (of moderniteit). Ubuntu en Afrika Renaissance is nie haalbare alternatiewe uitgangspunte nie; dit versinnebeeld eerder die gesmag na die heelmaak van ’n ontroosbare vernedering.

6.21 Feit is: Diegene wat beweer Afrikaans sal oorlewe as she is spoken en dis voldoende, dankie, ons sal vir ewig lewe in Lekkerland en dis boonop grusaam om as Afrikaanstaliges op enigiets te wil aandring (kyk ons tog asseblief nie raak nie), en daar is geen verwantskap tussen wil en struktuur en resultaat nie, ruimte sal vanself bly voortbestaan, eet stront want ’n duisend vlieŽ kan nie verkeerd wees nie — foeitog, daardie gene bak mooi broodjies in die begraafplaas.

6.22 Feit is: Die hoŽpriesters (die menere De Klerk en Esterhuyze en Pakendorf en Botha van albei geslagte ...) met die vaderlike glimlaggies van soet en meewarige meerderwaardigheid, verkoop ons trossies kuttels as wyse dadels. Hulle leef op die oer-Afrikaner strewe na status, invloed, gesag, waardigheid (nie mensewaardigheid) nie, hulle is geneties voortbestem om nooit verkeerd te wees nie, God is met hulle, hulle moet met die ydelheid van nederigheid breed genoeg stoel om die skyn van hulle nuwe Mercedesse vol te sit en leiding gee.

6.23 Feit is: Die Afrikaner is veel beter daaraan toe as ooit vantevore. Julle is goed toegerus, gedeeltelik danksy die opgehoopte voordele van bevoorregte onderwys en die eermalige beskutting van wit velle, om bo die ander krappe en krewe in die mandjie uit te klouter.

6.24 Feit is: Ook met Afrikaans as kultuurmedium gaan dit beter as ooit — die KKNK, Aardklop, KykNet, ganse distrikte van webwerwe, die Alternatiewes ...

6.25 Feit is: Diť van ons wat witterig is, is heeltemal utopisties indien ons sou dink die bruiner Afrikaanspraters identifiseer hulself met ons vrese en ons verlangens. Volgens my waarneming stel hulle so-te-sÍ glad nie belang nie, is Afrikaans nie vir hulle ’n issue nie, verkies hulle om so gou moontlik “op te beweeg” na Engels. Ook, die gepoer rondom identiteit word nie met dieselfde dringendheid of intensiteit belewe nie. (Kan mens identiteitsvorming en moraliteit skei?)

6.25.1 Feit is: Dis egter ’n onvermydelike interne debat wat hulle nog baie pyne gaan gee.

6.25.2 Feit is: Daar’s ’n historiese skande wat al van die slawetyd kom en wat nog nooit na behore aangepak en oopgepraat is nie, wat maatskaplike en politieke en ekonomiese en kulturele implikasies het. Hier is ’n geval waar massiewe verootmoediging en regstelling nodig en rťg sou wees. Waarom gebeur dit nie?

6.25.3 Feit is: Die bruinmense wťťt die wittes flikflooi nou na “gedeelde gronde en belange” (soos met die pandoers van ouds), en verseg om saam te speel. Hoekom sal hulle die wittes nou verlos van hulle rassisme? Dit is hierdie magsposisie wat dit moontlik maak vir Hekwagter om ’n bestraffende ogie oor die Lettere te hou. (Bowendien het hy mos in die Heilige se skaduwee gewandel.)

6.25.4 Feit is: Op die platteland waar ek baie tyd deurbring, is die anti-swart gevoel veel sterker onder bruines as onder wittes, en dikwels word dit sommer baie kru uitgedruk.

6.25.5 Feit is: Dis ’n groot verlies en ’n jammerte dat die vooraanstaande toonaangewers onder die verskillende bruin gemeenskappe nooit die waarde van hibriditeit wou insien en propageer nie. Is dit dan nie die ware wedersydse verryking en ontwikkeling van aanpassingsvermoŽ en metamorfose van kulture nie? (Maar diť proses is ook nie die goue oplossing vir alle probleme nie.)

6.26 Feit is: Ons getob oor taal en tyd is lagwekkend gesien die veel dieper skaduwees van Aids en armoede en geweld en fundamentalisme. Afrika is besig om sienderoŽ te barbariseer, en dit ten spyte van die glans van selfone en vinnige motors en elektroniese klank. Waaraan is al die morbiede verskynsels toe te skryf — die verminkings, kindersoldate, massa-selfmoord, voodoo, etniese suiwering, sektes en happy-clappy kerke? Omdat ons oorvleuelende “waarde”, die hoogste goed, ’n brutale materialisme is? Net, 95% van ons het nie die wettige middele om ons gemanipuleerde drange en begeertes (wat “menseregte” geword het) te bevredig nie!

6.27 Feit is: Wit en IndiŽr, en tot ’n geringer mate bruin ook, kan nog sy vernuf en vaardigheid landuit vat en elders gaan verkoop. Maar swart sit vas. Het julle enige idee wat dit behels om swart te wees in Europa, in AsiŽ en die Amerikas?

6.27.1 Feit is: Daar lÍ diaspora voor. En exile.

6.28 Feit is: Julle lewe in ’n paradys. (Nou ja, dis waar dat die see gestroop, die lug besoedel en die land vergiftig word.) Dis ook ’n gekkeparadys. Morele besoedeling en Rapport-ontaarding is op julle, korrupsie en nepotisme is die wet, Aids en etniese fundamentalisme (die rassehaat teenoor minderhede, Afrikanisme, African Renaissance) en die komende opstand van die agtergeblewenes trek ’n bloederige sluier oor die toekoms.

6.29 Feit is: Alhoewel groepsverband niks doen vir jou eie identiteit nie — jy sal uiteindelik vingeralleen in dood se hol beland — is daar waarskynlik geen oorlewing sonder ’n mate van erkenning van gesamentlike belange nie. Deel van wat jy is, het al gelewe nog voor jou geboorte, en deel van wat jy was, sal lank nadat jy gewitbeen het nog voortbestaan. ’n Tweede (en groter?) Dood is die uitvee van daardie weet-wie-jy-is en die weet-waar-jy-vandaan-kom.

7 Nou hoe dan vorentoe?

7.1 Op hierdie stadium het niemand die wysheid in pag nie. Die nood leer bid. Op die oog af wil dit lyk asof die keuses sterk aan ons opgedring word, ja, tot selfs die ondenkbares moet onder die oŽ gesien word. Die een kant loop na afskeiding (ook geografies): daar is reeds ’n groeiende de facto privatisering van minderhede se doen en late, ’n soort parallelle bestaan binne die staat. Natuurlik sou my anargistiese hart juig indien die staat as spesifieke uitgroeisel van sosiale beheer verswak word, en as daar meer afwenteling van verantwoordelikhede kon wees, maar daar is geen waarborg dat ons nie langs hierdie weg teruggedryf word in die kraal van die “eie”, van die onwelriekende ramme nie. Maar sal die baas ooit dit toelaat dat jy luiters so ’n stuk eie grond uit sy plaas sny? Die ander tendensie is na wegloop, sommer so ’n vat jou goed en trek Ferreira. Of so niť moet jy onsigbaar word, opgaan in die klein-historiese vergetelheid van tweedeklas Suid-Afrikanerskap. (Geld sal jy wel kan maak: die enigste vereiste is dat jy ondernemend moet wees en nie moet skrik vir onwettigheid nie.)

7.1.1 Nee, ek dink die moontlikhede lÍ opgesluit in ’n kombinasie van opsies. Wat ons in gedagte moet hou, is dat ons uit noodsaak gewikkel is in ’n proses — die omlynings van die finale bedeling is nog nie duidelik nie, ons kan nog langs vreemde paaie en oor gevaarlike bergpasse moet loop (en dis uitdagend en opwindend), maar die mate van ons betrokkenheid sal die invloed wat ons oor ons eie toekoms mag hÍ, help bepaal.

  • Ons moet baklei vir groter geregtigheid asof dit nie ’n smet en ’n diskwalifikasie is om wit of bruin te wees nie. Ons moet, argumentsonthalwe, aanvaar dat ons volledige landsburgers is.

  • Ons moet aanhou skoonmaak na binne toe, die hoŽpriesters en die hekwagters hokslaan.

  • Ons mag ons nie laat verwilder van die noodsaaklikheid om sťlf (en ter wille van die doeltreffendheid ook op georganiseerde manier) om te sien na kulturele en sosiale regte nie. Dit beteken dat ons moet veg vir die oophou en die gebruik van die taal en daarom ook dat ons moet sorg daarvoor dat dit nie uitgeskuif word in die skole of aan die universiteite nie. (En laat die engele met die toe ogies en die gevoude handjies wat vir jou vertel Gods klankies sal vanself in Gods mondjies voortlewe maar sing ...)

  • Ons sal die hand moet bly uitsteek na ander gemeenskappe, al word jy ook bespoeg nadat jou polshorlosie gesteel is, want ons deel dieselfde stuk wÍreld en is saam betrokke by dieselfde landsprobleme.

  • Daar moet dringend en deurlopend werk gemaak word van die Groot Onreg gepleeg teenoor die bruinmense. Dit behels sekerlik dat die familiebande erkenning kry, dat daar nooit weer patroniserend “gekonfiskeer”, “opgevorder”, gemanipuleer of geMorkel mag word nie, dat daar doelbewus help reggemaak word deur opheffingsaksies en ontwikkeling. Dit behels ook dat dit met reg van die bruinmense verwag kan word om helder te praat en self verby die eie pyn aktief betrokke te raak.

  • Ons moet prakties besef dat ons Afrikane is (wat nie ’n eksotiese fatalisme impliseer nie), en dat ons hier — swart en ander — niks weet van die res van die kontinent nie.

  • Ons moet die oog hou op wat in die res van die wÍreld aangaan. Nie om maklike en oppervlakkige vergelykings te tref met die Koerde en die Baske en die Mhuongs en die Laplanders en die Dinkas nie, maar om te weet dat die afwenteling van mag en outonomiteit binne groter samestellings, die wisselwerking en die dialektiek tussen hierdie komponente binne oorkoepelende verbande, oral aan bod (en bot) is.

  • Ons kan ons met vrug hou aan humanistiese waardes.

  • Ons behoort ons persepsies en ons skeppende vermoŽns te verfyn, en aanhou skep en produseer: dis die kreatiewe oplewing in die Afrikaanstalige gemeenskappe wat ons soepel en sterk gaan maak. Hiermee saam loop die bewuste ontwikkeling en aanvoeling vir nomadisme, vir grensbewussyn, vir die bates van prosesgerigtheid, van die voorreg om vrye radikale (vryluise) en agente vir omvorming te wees.

  • Die vetboere met hulle Afrikanerkapitaal moet weggedu word van die trog en “oorgehaal” word om van daardie profyt terug te ploeg in die gemeenskap, en nie net as reklametruuks nie.

  • Ons moet waak teen die verharding van etniese radikalisering.

  • En sommer teen die dooie hand van die boersjwa en die materialis se morele en estetiese barbaarsheid ook.

  • Ons moet ophou soek vir Leiding en vir Leiers. Laat ons die wonderlike voordele van verbrokkeling aangryp. So niť is ons gou weer op ’n dwaalpad Domland toe.

  • Dis deur die helderheid en die skoonhou van ons posisies (wat impliseer dat ons sal moet aanhou gesels) dat ons die vrymoedigheid sal hÍ om te veg vir ordentlikheid. (Terloops, die enigste taal wat die ANC-kommissarisse hulle aan steur, is die realiteit van magsverhoudings.)

  • En hoekom kan ons nie die voortou neem vir die belÍ van ’n groot volks- en volkereberaad nie? ’n Soort Consulta soos die Meksikane dit gedoen het? Want die Kodesas was ’n volksveragtende vrotperdverkoping tussen ongelyke politieke partye. Die met-mekaar-praat via kulture en tale, deur mense wat dalk soortgelyke probleme en aspirasies het, moet nog begin.

    8 Verder weet ek ook nie raad nie.

    9 Met liefdegroete.

    Breyten Breytenbach
    Can Ocells, Junie 2000

    LitNet-leser: Wat dink jy van hierdie bydrae? Twee pryse van R1000 elk word toegeken aan die interessantste reaksies op referate. Stuur jou opinie aan SÍNet by redlitnet@mweb.co.za

    Besoek die beraad se virtuele boekuitstallings en ondersteun ons skrywers deur hul boeke via LitNet te bestel.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.