Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Nee rêrig ... Wie is Bernoldus Niemand?

Andries Bezuidenhout

Rockers se verhoudings met die eienaars van clubs, kroeë, teaters en enige plek waar musiek gemaak kan word, is altyd maar moeilik. Tog gebeur dit soms dat dinge net uitwerk — ten minste vir ’n tydjie lank — wanneer daar ’n tipe vibe ontstaan rondom ’n plek waar musiek gereeld gebeur. Genoeg mense kom luister na die bands en in die proses drink hulle genoegsaam om die eienaar se eie drankverbruik tot so ’n mate te subsidieer dat hy gelukkig is. Dit hou nooit lank nie. Maar vir die tydjie wat al die geoliede ratte in die regte rigting draai, gebeur waaroor rock ’n roll rêrig gaan — die underground.

In Brixton was ons vir ’n tyd lank gelukkig om die Abelarde Sanction te hê. In die 1980’s het van die Voëlvry-crowd by die Black Sun uitgehang. Op die oomblik klink dit of die Hidden Cellar in Stellenbosch die happening plek dáár is.

In die 1980’s was daar ’n plek met die naam Jameson’s in Commissionerstaat in Johannesburg se middestad. Die eienaar was ’n Oostenryker met die naam Herbert Scheubmayr. Legende wil dit hê dat hy ’n “Kruger-dranklisensie” gehad het — een van die min wat nog deur Paul Kruger uitgereik is, wat beteken het dat hy drank kon bedien aan mense van verskillende “kleure” en dat die kroeg vir baie langer ure kon oopbly. Baie mense het daar middagete geëet en op Sondae het jazz bands die klante vermaak. Intellektuele, lefties van verskillende oortuigings, studente, en Bohemians het hier uitgehang. Die gehore was meestal wit, maar nie eksklusief nie. Vir sommige van die regulars, soos die joernalis Shaun de Waal, het dit gevoel soos “’n basterkind van Sophiatown”, of ’n “verdraaide embrio van ’n nuwe Suid-Afrika”.

Maar mense onthou Jameson’s waarskynlik eerder omdat ’n band met die naam The Cherry Faced Lurchers in die 1980’s hulle resident gig daar gehad het. Soms hoor jy nog die woorde weergalm teen die wolkekrabbers in Johannesburg se middestad:

I’m a white boy who looked at his life gathered in his hands
And saw it was all due to the sweat of some other man
That one who got shot down in the street.

Nou is die strate skoon. Die metropolisie patrolleer konstant en geslotebaantelevisiekameras beloer die middestad in die hoop dat die besighede op wolke uit Sandton sal terugkeer. Die 1980’s is lank reeds vergete. John Vorster Square het ’n ander naam, al skans die ysterhortjies nog teen denkbeeldige mortiere. Teen die horison verrys die nuwe Nelson Mandela-brug.

* * *

I met a man with broken hands,
His glass as empty as his heart
He got talking about music
And I watched him fall apart
My hero

Who lost something on the road
Light has not followed him home.
As broken as his heart,
Life has not followed him home …

Só sing Matthew van der Want, seker een van Suid-Afrika se mees talentvolle lewende rockmusikante. Hierdie woorde kom uit “Home” op Low Riding, ’n CD wat hy saam met Chris Letcher gemaak het. Dis ’n ondervinding om Matthew en Chris saam te sien kitaar speel — veral by OppiKoppi. Hulle speel selde saam met ’n band. Dis gewoonlik net die twee met hulle akoestiese kitare. Maar die gehoor is altyd sprakeloos na hulle gespeel het. Elke keer het hulle ’n hele aantal nuwe fans.

Matthew het vir lank opgetree met ’n leë kroegstoel met ’n bierbottel op langs hom op die verhoog. Iemand was afwesig. Een van sy helde. Maar hy is lankal reeds dood.

* * *

Suid-Afrika is ’n baie klein landjie. Toe ons die laaste keer getel het, was daar sowat 46 miljoen inwoners. Min van daardie 46 miljoen mense luister na rockmusiek. Baie het doodeenvoudig nie die geld om CD’s te koop of na live gigs toe te gaan nie, maar die meerderheid stel net nie belang in ’n musiekvorm wat waarskynlik deur oningeligte polities korrektes afgemaak sal word as “Eurosentries” of “Yankee kulturele imperialisme” nie. Tog, op die ou end is die gehoor vir Suid-Afrikaanse rockmusiek ’n paar duisend (hoofsaaklik) wit Afrikaans- en Engelssprekendes. Om ’n lewe as voltydse rockmusikant te maak, is dus nogal moeilik, maar gelukkig nie onmoontlik nie!

Dis geen wonder dat suksesvolle rock bands soos Boo! en Seether (“the band formerly known as Saron Gas”) dit juis maak omdat hulle deurbreek na ’n internasionale mark nie. Boo! is suksesvol deels omdat hulle ’n totaal unieke klank het, en Seether omdat hulle soos enige generiese Amerikaanse rock band klink.

Vir Afrikaanse rockers is daar min geleentheid om die groot markte van die VSA en die Verenigde Koninkryk te penetreer. Die expats daar oorkant maak tog dat ’n mens ’n bietjie internasionaal kan voel as jy gigs in Londen gaan doen, en daar is die moontlikheid om ’n gehoor in die Benelux-lande te verower. Maar op die ou end is “Eurosentriese” Afrikaanse rockers stewig in Afrika se grond geplant.

Tog is daar Engelse rockmusiek in Suid-Afrika wat geen verskoning maak vir waar dit vandaan kom nie. Hierdie mense sing met ’n local aksent en probeer nie om Amerikaans te klink nie. Jy kan hoor hulle kom van die middel van die heelal af: van die Oos-Rand — van Springs af, om presies te wees. En al is hulle Engels, sing hulle soms in Afrikaans ook — want Afrikaans is so deel van die Oos-Rand soos Engels en Zoeloe.

* * *

Daar is baie mense wat met meer gesag oor iemand soos James Phillips kan skryf — soos Koos Kombuis, Willem Möller, of Dirk Uys. Hulle was immers in die loopgrawe saam met hom. Tog voel ek, as een van ’n nuwe generasie rockers, dat dit vir my belangrik is om ’n paar dinge te sê oor waar ons vandaan kom. Soos baie ander het hierdie vreemde outjie van Springs baie van die bouwerk gedoen waaraan ’n mens kan verder bou — of selfs afbreek, as jy sou wou.

James Phillips het Corporal Punishment, sy eerste rock band, reeds in 1978 gestig. Andrew Donaldson skryf oor die band:

The Corporals and Phillips pointedly ignored the London of The Clash and the Sex Pistols as a cultural reference and, instead, embraced their own white, working class home-town, Springs, as a source for songwriting material.

Donaldson sê verder dat hulle musiek nie net gegaan het oor rassisme en wit paranoia nie, maar ook oor die jols, girls, inryflieks en shabby hotelkroeë. Corporal Punishment was beslis nie ’n glamorous band nie!

Die band het opgebreek toe die lede na verskillende dele van die land en die wêreld vertrek het. James Phillips is Grahamstad toe om musiek te studeer. Tydens sy studentejare het hy in onder andere Illegal Gathering gespeel. Van die opnames wat deur Illegal Gathering in die vroeë 1980’s gemaak is, is later as The Voice of Nooit vrygestel. Die karakter Willie Smit het legendaries geword na ’n skreeusnaakse “radio-onderhoud” wat op hierdie opname met die “voormalige dienspligtige” gevoer is. Een van OppiKoppi se Easter Festivals is vernoem na Willie Smit. Mense wat hierdie “onderhoud” nie ken nie, kan dit te hore kry op ’n CD Made in South Africa wat deur Tic … Tic … Bang! versprei word.

Phillips het Grahamstad in 1982 verlaat om sy studies by Wits voort te sit. Hier, in Braamfontein, het hy uitgehang saam met die lede van The Worst Blues Band in the World, wat opgebreek het en toe deel geword het van sy volgende band, The Cherry Faced Lurchers. Die Lurchers het seker een van die mees legendariese rock bands in Suid-Afrikaanse rockgeskiedenis geword. In die donker jare van die middel 1980’s het hulle gereelde gigs by Jameson’s gedoen.

Al was baie van die band se musiek polities van aard, was daar ook ligter musikale oomblikke, soos “Toasted Take Aways” en “Do the Lurch”. In “Toasted Take Aways” kon die gehoor “kos bestel” by die band. Phillips het dan allerhande pittighede vir hulle teruggeskree in ’n Oos-Randse Portugese aksent: “Why you give me fifty rand note? You know I got no change!” en “Get out my shop! You break the machine!” Soos Shaun de Waal skryf: “He liked accents, particularly those of ordinary South Africans — why ape a British one? We are who we are.”

In 1985 het die band Live at Jamesons op plaat vrygestel. Danksy meer moderne tegnologie is hierdie plaat weer vroeër vanjaar op CD vrygestel.

Tussen 1985 en 1989 het The Cherry Faced Lurchers ’n aantal opnames gemaak wat eers in 1992 as The Otherwhite Album vrygestel is. Hierdie plaat het ’n hele aantal briljante songs op, maar ek moet tog “The Branch” uitsonder. Dit gaan oor die Veiligheidspolisie wat in die 1980’s in die skaduwees wegkruip en op ander mense se gesprekke inluister — met hulle koue blou oë. En oor iemand wat van die tiende vloer af “gespring” het, iemand wat “gevind” is waar hy in sy sel gehang het, oor iemand wat in ’n psigiatriese saal vir behandeling moet wag, en oor iemand wat alleen in sy nagmerries moet leef. Hierdie is die geskiedenis wat ons eerder wil vergeet, maar soms is dit nodig om die boeke en ou plate van die rak af te haal en hulle af te stof. The Cherry Faced Lurchers het hierdie geskiedenis op ’n besonderse manier vertel — met haunting kitare wat saam met die woorde sing. Luister maar na “The Branch” — ook na “Detainees”.

Terwyl hy saam met The Cherry Faced Lurchers opgetree het, het James Phillips aan ’n ander projek gewerk wat sou help om die koers van Afrikaanse musiek en kultuur drasties te verander. As Bernoldus Niemand het hy die plaat Wie is Bernoldus Niemand? vrygestel. Dit is natuurlik summier deur die SAUK verban, wat in daardie jare ’n groot eer was. Dit het ook mense soos André Letoit en Johannes Kerkorrel help inspireer om Afrikaanse musiek op ’n heel ander manier te benader. Phillips het só deel geword van die legendariese Voëlvry-beweging. Soos Koos Kombuis jare later skryf:

Byna die helfte van die musikante op die Voëlvry-toer was Engelssprekende Suid-Afrikaners: manne wat later bekend geraak het as Bernoldus Niemand, Piet Pers, en dies meer. Ons het deur die kulturele isolasie gebreek, ons het die tuinhekkie van Afrikanerdom afgebreek en die straat af gehardloop op soek na nuwe vriende om ons eensaamheid en ons woede mee te deel … En sulke vriende was daar. Ons was nie teleurgesteld nie.

Wie is Bernoldus Niemand? bly een van die classics van Afrikaanse musiek, en “Hou My Vas Korporaal” en “Snor City” twee monumentale songs. En dit nogal van ’n Engelse dude van Joodse afkoms van Springs. Dit wys juis dat nie enige van hierdie etikette wat om mense se nekke gehang word, relevant is vir wat hulle kan regkry nie — die impak van Phillips se Afrikaanse plaat is juis dat die “tuinhekkies”, soos Koos Kombuis sê, uiteindelik afgebreek is.

Vir mense soos ek, wat nie die voorreg gehad het om Phillips by die Voëlvry-konserte te sien optree nie, is daar gelukkig nou ’n CD beskikbaar met live opnames wat by die konsert in die Maskerteater by die Universiteit van Pretoria gedoen is. Die kwaliteit van die opnames is uitstekend; drie van Bernoldus Niemand se songs is op die CD: “Hou My Vas Korporaal”, “My Broken Heart”, en “Snor City”. Luister gerus na Hanepoot van Tonder se tromboon op “Snor City”.

In die vroeë 1990’s het Phillips aan ’n nuwe projek begin werk — die resultaat daarvan was Sunny Skies deur James Phillips and the Lurchers, wat in 1993 vrygestel is. Phillips het hier baie sterker invloede uit jazz in sy songs en die verwerkings daarvan ingewerk. Een van Suid-Afrika se beste jazz-pianiste, Paul Hanmer, speel byvoorbeeld op hierdie CD, en Willem Möller van Die Gereformeerde Blues Band-faam speel kitaar.

Sunny Skies is ’n wonderlike CD. Die omslag het ’n skildery van Walter Meyer op — die titel daarvan is “Huis met Witboom”. Soos Meyer se skilderye gaan die CD oor die “bleak” aspekte van Suid-Afrika en van die teleurstellings van die vroeë 1990’s. In “Fun’s Not Over” sing Phillips:

Just when we thought it’s over
We find it’s only just begun.
Just when we thought it’s over
We’re still dying like flies beneath the sun.

It’s still going crazy just like it’s always done
And if you ask me baby, no one is having too much fun
Because when it all comes down the time has come
To pay the bills and count the change ...

Tog is dit ook ’n optimistiese CD — een wat sing oor die moontlikhede wat ’n land soos Suid-Afrika bied. Sunny Skies bly een van die beste CD’s wat nog ooit deur ’n Suid-Afrikaanse rockmusikant gemaak is, juis dalk omdat dit soveel verskillende elemente bevat — rock, jazz, blues en folk. En James Phillips was seker een van die Suid-Afrikaanse rockers met die deeglikste musiekopleiding ooit.

* * *

James Phillips is seker al baie name genoem — soos rooinek, soutpiel, ikey, kafferboetie. Maar vir my was James Phillips ’n briljante musikant. Hy was ook ’n uitstekende Suid-Afrikaner — iemand wat in baie mense se oë ’n held is. Hy het gekies om te sing oor die dinge wat om hom gebeur het, en so bygedra dat dinge verander het — al is dit dalk net op ’n beskeie manier. Hy het nooit ’n glamorous rocker geword nie. Inteendeel, hy het gesing oor dinge wat nie populêr was om oor te sing nie. Gevolglik het die movers en shakers in die hoofstroom-musiekbedryf hulle nie veel aan hom gesteur nie. Weer Matthew van der Want aan die woord:

Envy those whose days are filled
By playing with numbers and tapping on tills.
Those unbroken dancers,
Those with all the answers
Who never

Lost something on the road,
Who have someone to follow them home
Who never break down,
Who have someone to carry them home …

James Phillips is op 31 Julie 1995 oorlede — na ’n motorongeluk by Grahamstad. Musikante is so dikwels op pad om êrens te gaan speel. Of iets jaag hulle sommer net. Soms kom hulle nie weer veilig by die huis aan nie.

* * *

Na sy dood is nog twee CD’s met musiek deur James Phillips uitgereik. Made in South Africa (1995) bevat ’n oorsig van sy loopbaan vanaf 1978 tot 1995. Op Soul Ou (1997) kan ’n mens van die laaste opnames wat hy by Shifty Studios gemaak het, hoor. Ook “Afrika is Dying”, waarvan Vusi Mahlasela later ’n aangrypende weergawe opgeneem het. Die onlangse heruitreiking van Live at Jameson’s op CD maak ook dat ’n mens The Cherry Faced Lurchers se musiek kan herontdek.

Of soos die Springbok Nude Girls sou sê: “Goddank vir klank!” Danksy hierdie opnames het iets vir ons behoue gebly van ’n briljante musikant van die Oos-Rand — musiek wat in Suid-Afrika gemaak is en nie skaam daaroor is nie. Maar ongelukkig word profete soms te laat in hulle eie lande geken.

Toe ek onlangs na ’n kopie van Live at Jameson’s by die CD-winkel vra, sê die winkelassistent so ewe: “The Cherry Faced Lurchers ... Every day you learn about new bands.” En toe ons by die rak kom: “Oh! Is it a South African band?” Ek het maar net geglimlag en gesê: “Ja, it was James Phillips’s band.”

Dit het nie juis gelyk asof daar ’n lig in haar oë opgegaan het nie.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.