Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Tussen treine en stasies lê baie meer as net die spore …

Andries Bezuidenhout

God he stole the handle
And the train it won’t stop going
No it won’t slow down ...
— Jethro Tull

Treine, treinspore en stasies is deel van ons land se kollektiewe onderbewussyn — dit vorm ’n gemeenskaplike verwysingsveld, alhoewel dit verskillende dinge vir verskillende mense simboliseer. Hierdie teenstrydige betekenisse vind inslag in die woorde en deuntjies wat ons sing. Dink maar aan die Transkaroo — “bring haar huis toe, laat jou ysterwiele rol, bring haar en maak my lewe vol …” Ook die vrolike lokomotief by Matjiesfontein. Dan is daar “shosholoza” se “stimela” — die stoomtrein, waaroor soveel trekarbeiders deur die jare gesing het, vir wie treine harde handearbeid in myne ver weg van die huis beteken het. “Myne” en “treine” — die twee loop al eeue saam. Die een kan nie sonder die ander nie — ’n mynland is ’n treinland.

As ek aan treine dink, dink ek aan Parys. Amper almal wat ek ken het ’n oupa en ouma wat op ’n stadium in Parys gewoon het. Dis ’n wonderlike, slaperige dorpie langs die Vaalrivier, waarvan die registrasienommer OV was. Ons het altyd scones geëet en tee gedrink by die teekamer langs die rivier, en soms met die bootjies al om die eiland in die rivier geroei — ’n kind aan elke spaan en ’n bekommerde oupa wat vanuit die agterkant van die roeiboot probeer navigeer: “Nick, moenie so hard trek nie, Andries kan nie byhou nie. Ons draai die heeltyd links!” ’n Bekommerde ouma roep van die wal af: “Outjie, oppas tog vir die riete!”

My oupa en ouma het mekaar Outjie genoem, maar hulle het dit uitgespreek soos “Uitjie”. Ons kinders kon nooit verstaan hoekom hulle mekaar Uitjie wou noem nie. Dalk maar oor die trane. My ouma was neuroties en my oupa stil en seker ’n bietjie hen-pecked. Hy is eerste dood, en my ouma baie kort daarna. Albei uitjies lê dus lank reeds onder die grond buite Parys.

Iemand het eenkeer beweer dat as jy vir Parys ’n dak opsit, dit waarskynlik een groot ouetehuis sal wees. Maar deesdae bly daar nogal baie trendy stedelike tipes wat naby Johannesburg en Pretoria wil wees, maar steeds in ’n kleindorpie-atmosfeer wil woon. Soos Riebeeck-Wes en Darling in die Kaap, is plekke soos Parys en Cullinan besig om die postverstedelikte Afrikaners se nuwe tuisdorpe te word. Met die N1-snelweg is Parys sowat ’n uur en ’n half se ry van Johannesburg af — heel gerieflik as jy gedoem is om met jou Mercedes CLK500 werk toe te ry.

Toe ek nog baie klein was, was Parys egter baie verder. Ons (my ma en drie, later vier, en uiteindelik vyf kinders — “eendjies, eendjies, stap in ’n ry …”) het altyd met die trein vir my oupa en ouma in Parys gaan kuier. My pa het ons by Germiston se stasie gaan aflaai (“want hy moet werk”), en dan het ons al met die spoor langs padkos geëet, die vensters oop en toe gemaak, die banke op en af geslaan, en ons vergaap aan die vreemde wasbak in die kompartement.

Ongelukkig was die rit so kort dat ons nooit op die trein kon slaap nie. Dis een ding wat ons begeer het, maar eers toe ek in die weermag inklaar sou ek hierdie “voorreg” hê — Kimberley is immers verder as Parys: “So ry die trein, so ry die trein, die Kimberley se trein … Hoor daar hoe stoom hy, stoom hy, stoom hy …” Ek dink nie ek het toe aan hierdie deuntjie gedink nie. Die staalluike voor die trein se vensters is toegemaak vir die duur van die hele rit, “sodat die vyand nie kan sien hoeveel ons magte is nie”. Die werklike rede was waarskynlik eerder dat nuwe rekrute nie in dronkenskap besluit om eerder maar die trein te verlaat nie. Soos Bernoldus Niemand gesing het: “Sal ek weer my cherry sien, as ek van die trein af klim?” Ook André Letoit het waarskynlik toe reeds sy song oor die “Bar op De Aar” geskryf. De Aar is ook ’n Germiston, waar al die spore bymekaarkom — ook dié van Namibië:

Een ou lê onder
Een ou lê bo
Maar ek lê langs my cherry
Op die Transkaroo
Die seats stink na rubber
Ek walg in my hangover
En ek dink terug aan laasnag
Toe ek ure moes wag …

In die Bar op De Aar sit ons almal bymekaar
En ons wag op die trein na wie-weet-waar …

Toe Koos met een show lank gelede baie dronk was, het ek gehoor hoe hy van die woorde omruil — “ek lê op my cherry langs die Trans-Karoo …”

Daardie treinbanke stink rêrig na rubber! Baie jare later het ek dit deeglik besef toe ek met ’n hangover en griep deur die nag met die trein van Mosambiek af terug Johannesburg toe moes ry.

Maar terug in die verre verlede. Vir die treinrit Parys toe moes ons altyd by Dover afklim. Dover se stasie was nie eers in ’n dorp nie. Dit was net ’n stowwerige halte tussen mielielande. Ons was altyd bang dat die treindrywer sal vergeet om daar stil te hou. Soos ons Parys nie ’n Eiffeltoring het nie, is daar geen wit kranse by hiérdie Dover nie. Ook geen veerbote oor die Engelse kanaal na Calais toe nie. Nee, my oupa het ons met sy OV-Peugeot kom oplaai — met die grondpad van Parys af. Ná die besoek van gewoonlik ’n week, op pad terug, kon ons die stasies se name saam met die ritme van die treintrokke se wiele oor die laste tussen die spoorstawe soos ’n liedjie sing — Dover, Ywer, Wolwehoek. Daarna was dit Viljoensdrif, wat die metrum ’n bietjie versteur het. Dan weer terug by Germiston, en weer in die geel Volkswagen-bussie huis toe (vyf kinders is baie om te vervoer — die bussie het wel in sy volgende lewe ’n taxi geword).

Wat ek ook van daardie vroeë treinritte onthou, is my eerste kennismaking met armoede. Hoe gepamperlang is die kinders van die middelklas tog nie! Treinspore is anders as paaie — dis moeiliker om die dinge wat jy graag sou wou wegsteek mis te ry. En die trokke van die derde klas (eufemisme vir nieblank) moet ook maar vasgehaak word aan dieselfde trein.

Gewoonlik is treinspore aanvanklik gebou om myne en nywerhede te bedien. Dis hoekom Germiston so ’n spinnekopnes van treine en spore is. Dis juis in die omgewing van hierdie nywerhede waar arm mense beland, waar ’n verskrikte wit seuntjie deur ’n passasierstreinvenster na hulle staar — veral na die ánder kinders. “Mamma, maar hoekom is daardie mense se huise van sinkplate en lap?” Ek kan nie onthou wat my ma se antwoord was nie. Ek kan nie onthou of ek haar eers daaroor gevra het nie. Maar die gevoel van absolute verskrikking kan ek goed onthou. Dis een van my vroegste herinneringe. Later word ’n mens mos maar gewoond aan die idee — en jy is dankbaar dat jy ín die trein sit, en nie langsaan nie. Repos allieurs se voet! Jy weet presies waar jy sou wou wees.

Ek weet dit klink vreemd, en waarskynlik ’n bietjie melodramaties. Maar dis anders vir vandag se middelklaskinders. Daar’s mos die TV wat jou soos ’n treinvenster van ouds met die hele wêreld konfronteer — nie net Germiston se slums nie, maar ook dié van Jerusalem, New York en Kigali. En benewens die slums is daar altyd mense wat meer bevoorreg as jy is, sodat jy vergeleke met Ridge Forester nogal heel gedepriveerd kan voel. Dis seker waaroor die wêreld van die TV gaan — alles is so relatief. Soos Roger Waters gesing het: “This species has amused itself to death.” Of Tanita Tikaram: “Tell me if you want to see the world outside your window, the world outside your window isn’t free …”

Maar ons praat nou oor Suid-Afrika. Op ’n vreemde manier het ons nou by treine en armoede uitgekom. Nietemin, treine was ook ’n groot tema in die Briels se verwysingsveld, ook in hul bekendste treurlied, “Die trein na Pretoria”, waarin hulle vertel van ’n meisie op die trein:

Een aand op ’n trein na Pretoria,
die weer was bitterlik koud —
in ’n hoekie sit ’n meisie
en sy lyk vir my skaam en benoud.

Die kondukteur die vra haar haar kaartjie,
sy sê sy’t nie geld om een te koop,
“Maar ek moet gaan na Pretoria,
al moet ek ook daarheen loop.”

Sy is desperaat, want haar moeder “lê op sterwe” en sy is die enigste kind. Sy moet vinnig in Pretoria kom as sy haar moeder nog lewend wil sien. Gelukkig betaal die kondukteur self vir haar kaartjie en neem haar dan sommer ook aan as sy eie kind wanneer die moeder sterf:

In die kerkhof daar in Pretoria
is daar ’n nuwe hopie grond,
onder daardie hopie lê begrawe
’n droewige kindjie se moeder.

Die kondukteur die neem weer haar handjie
en hy sien hoe die kleine meisie ly.
“Ek het nie eers ’n eie kind nie
en nou kan jy maar by my bly.”

In ’n ander hartseerliedjie, “Enjin no. 5”, vertel die Briels ’n storie vanuit die oogpunt van ’n treindrywer. Hy gaan vroeg in die oggend na die wisselplaas om te kyk of sy lokomotief reg is “om uit te gaan”. Toe hy by die kantoor verbystap, sê ’n kondukteur vir hom dat hy sy enjin “koud sal kry”. Hy stap verder, en dan gebeur die volgende:

Ek sien ’n kleine meisie
in haar oë blink ’n traan.
Sy sê, “meneer, as ek mag vra,
met watter enjin u gaan?”

Ek wys haar toe na nommer 5,
die beste op die spoor.
Sy kyk na my en begin te snik
en dis wat ek toe moes hoor:

My vader was u voetman,
of stoker, soos hul sê,
maar laasnag is hy stil dood
en sal nooit weer vir u stook.

My stoker was ’n goeie man,
Godsdienstig, mag ek sê
en laat ons hom ’n eer bewys
deur ’n krans op sy grafsteen te lê.

Al klink “Die trein na Pretoria” en “Enjin no. 5” hartseer, word die spoorweë vir die Briels, soos vir soveel Afrikaners, ’n simbool van medemenslikheid en opheffing. Maar soos die tye verander het, het daardie droom van opheffing stadig vervaag. By ’n stasiekroeg sit die karakter Kobus Le Grange Marais — ’n jammerlike figuur waaroor David Kramer sing. Die woorde is reeds in 1974 deur Christopher Hope geskryf, en dis later deur Kramer getoonset. ’n Opname daarvan, wat in 1983 by Johannesburg se Markteater gemaak is, is te vinde op Klassic Kramer — sy “greatest hits” CD. Marais sit by die kroegtoonbank om sy “short white wine” te bestel. Dan begin hy met homself praat en probeer om nie te hoor hoe die “tired old locos shunt” nie:

“Way back in ’48 we said,
Die koelie uit die land
And kaffir op sy plek, we said,
The poor white wants his share:
They put me in my place all right,”
Said Kobus Le Grange Marais.

Dan verduidelik Kobus Le Grange Marais hoekom hy op sy plek gesit is:

“I was all my life a railway man,
All my life a Boer,
And there’s none unkinder
than a man’s own kind,
I’ll tell you that’s for sure;
I fought in the O.B. ’till I was caught
And I sweated my guts in the camp
For the bombs I threw
And the bridges I blew
And here’s what I get for thanks;
The turning wheels took off my legs
And I’m not going anywhere
But downhill all the way from here,”
Said Kobus Le Grange Marais.

Verder vertel Kobus Le Grange Marais van die lekker lewe toe hy jonger was — van die “dop en dam” en gewillige vroue. Maar hy waarsku teen “Jewish money” en die maklike lewe wat ’n Boerseun ruïneer, want hy kan maklik in ’n dameskroeg in verdwyn, waar mans saam met vroue, “moffies” en “piepiejollers” drink. ’n Mens sal skoon dink sulke Boerseuns is Engelsmanne! Verder sing hy oor Reverend Phillip se spook wat weer kom pla, en dat hy hoor dat die hemel ’n “racially mixed affair” is — “in which case ons gaan kak da’ bo,” sê Kobus Le Grange Marais. Dan mymer hy verder:

“The times are as cruel
As the big steel wheels
That carried my legs away;
Oudstryders like me
Are out on our necks
And stink like the scum on the vlei;
And the white man puts the white man down,
The volk are led astray;
There’ll be weeping at Weenen once again,
No keeping the impis at bay;
And the tears will stream
From the stony eyes
Of Oom Paul in Pretoria Square:
He knows we’ll all be poor whites soon,”
Said Kobus Le Grange Marais.

Treinspore volg al lank die natuurlike kontoere van rykdom en armoede in ons stede. Om die waarheid te sê, daardie spore het waarskynlik die klasgrense neergelê waar hulle vandag nog is. Soos Johannes Kerkorrel gesing het in “Ry”, wat ’n mens aanvanklik net op die Voëlvry-plaat kon hoor, maar toe Eet Kreef! op CD uitgereik is, was daar darem genoeg plek daarvoor aan die einde:

Party is ryk, party sal vir altyd arm bly,
party sal aan die verkeerde kant
van die treinspoor agterbly …

Ek het jare lank na ’n pad
uit die dorp gesoek
langs die spoor gestaan en gekyk hoe die treine ry
ek het gesien hulle kom
ek het gesien hulle gaan
en ek het gewag en geweet
’n kaartjie kom om saam te gaan …

Die treinspoor as grens, maar die trein as ontsnapping. Met ’n groot draai kom ons trein nou heel voorspelbaar in Beaufort-Wes se stasie aan. Hier vind ons vir Gert Vlok Nel, wat vir Koos du Plessis sê: “Koos jy’t gesing oor vroue die see & myne & ek sing oor vroue die see & treine …” Hoe dan anders as jy van Beaufort-Wes af kom?

Luister gerus na “Hillside Lullaby” op sy CD Beaufort-Wes se Beautiful Woorde. Benewens ’n baie mooi liriek kan ’n mens hier ’n ongelooflike driegesprek tussen kitare hoor. Daar is Gert se teruggetrokke nylonsnaarkitaar, Valiant Swart se staalsnaarkitaar en dan Johann Kotzé, wat met ’n bottelnek teen sy kitaar se snare op en af gly, terwyl Gert sing:

ek bly hier in die dorp waar die treine fluit
& die sjanters nag na nag die treine op spore skuif
& ek is heel allright
onthou die dag toe jy by my sou bly …
hoe het ons storie toe verder verloop?
treine wat sjant, treine wat bly
treine wat altyd hier in kringe ry

droom van my en laat my vry vannag …

Soos die spoorweë nou al hoe meer op besigheidbeginsels moet werk, word duisende kilometers se spore gesluit en werknemers afgedank. Die lewensare wat werk en vervoer aan vele klein dorpies verskaf het, word afgesny omdat dit nie inpas by die beginsels van “cost recovery” nie. In die dae van “just-in-time” is daar nie meer tyd om goedere op treintrokke op en af te laai nie. Die hele ekonomie moet meer “flexible” wees — en daarmee is treine nie baie goed nie.

Soos die treinspore gesluit word, die stasies toegemaak word, en die treintrokke finaal op syspore gaan stilstaan om te verroes, ry groot vragmotors ons paaie vol slaggate. Soms is yster op yster tóg nog meer standhoudend as rubber op teer. Soms wens ’n mens die regering wil daardie spore weer gebruik — en sommer nog duisende kilometers se stawe en dwarslatte na klein dorpies toe aanlê en ’n stasie op elkeen oopmaak. ’n Mens wens dat die Briels se gawe kondukteurs en treindrywers hulle oor baie kinders kan ontferm. Dat die spoorweë nie net “armblankes” nie, maar alle arm mense in diens kan neem. Dat ’n mens op ’n ander spoor kan kom as die koue sneltrein van die mark.

Maar dis seker nie moontlik nie — ek klink soos ’n ou man wat verlang na iets wat lank reeds vergete is. Daardie eerste treinritte van Germiston na Parys was vóór die dae van Haas Das. Miskien is dít wat my absurde lewe definieer:

Die naïewe seuntjie met sy pensie vol padkos wat geskok deur ’n treinvenster loer.




LitNet: 7 Mei 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.