Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die blokman van Londen

Andries Bezuidenhout

“Ons gaan elke jaar oorsee … Miskien gaan ons volgende jaar twee keer …” Só spot Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band met die stôtusbeswuste Afrikaners in die 1980’s. In daardie dae was ’n reis oorsee nog die uitsondering. Net die drywers van BMW’s kon dit bekostig — en elke keer wat hulle ’n grens moes oorsteek, is hulle deur verwytende kyke herinner aan die grense wat ander mense in hulle eie land nie mog oorsteek nie.

Deesdae is dit baie anders. In plaas van “miskien gaan ons volgende jaar twee keer” is dit nou “ek gaan vir twee jaar”. Waarheen? Londen toe, natuurlik.

Londen is een van my gunstelingstede. Een van die redes is dat dit so ongelooflik kosmopolities is. Meer mense daar eet elke Sondag tikkahoender as die tradisionele roast beef. Die kolonies is besig om die kolonialiseerder kultureel terug te kolonialiseer! Ek hou ook baie daarvan om in die Tate Modern rond te stap. Dan is daar die Saatchi Gallery, met die vreemde installasies van mense soos Damien Hirst en Sarah Lucas. Damien Hirst is die ou wat die koeie, skape en varke opsaag en hulle dan in glaskaste met formalien as kunswerke opdis. Londen is ’n stad waar mense kan eksperimenteer, omdat die underground — dis nou nie die metrostelsel van treine onder die stad nie — groot genoeg is dat selfs die mees alternatiewe kunstenaar ’n lewe kan maak. En as ’n miljoenêr soos Saatchi jou ontdek — soos hy vir Damien Hirst ontdek het — kan jy dalk nog in ’n loft langs die rivier bly en in rus en vrede met jou vleissaag en jou formalien aan jou installasies werk. Die arme diertjies.

Maar met my laaste besoek aan Londen — ugh, dit klink nou vreeslik pretensieus, maar ten minste was ek hierdie jaar net een keer oorsee — het ek ’n ander ou vriend van my gesien. Hy woon ook in Londen en hy het ook ’n vleissaag. Om die waarheid te sê, hy is ’n gekwalifiseerde blokman. En hy maak die lekkerste biltong en droëwors in die hele Londen by ’n slaghuis in Acton. Sy klante is meestal Suid-Afrikaners wat hulle weeklikse fix van gesnyde biltong kom haal. Baie van sy Engelse klante uit Suid-Afrika het vir ’n oomblik langer in die slaghuis bly staan as hulle Afrikaans hoor. Ek weet, want ek het ’n hele dag saam met Piet Planter in sy slaghuis spandeer. ’n Hele paar gebore en getoë Britte word ook nou al bekeer tot hierdie lekkernye. Van hulle begin al om Ouma-beskuite te koop en het selfs al so ver gegaan om dit in hulle koffie te doop! Ek wonder of High Tea nie binnekort ’n bietjie anders gaan lyk nie. Dink net hoe snaaks sal dit wees as Queen Bettie agter ’n gordyn verdwyn om skelmpies haar Ouma te dip. Golly! Oh dear! My word! Ons hoop maar sy betrap nie vir prins Charles in ’n compromising posisie nie …

* * *

Ek het vir Piet Planter al ’n slag of wat vantevore genoem. Ek het hom die eerste keer in die nou legendariese Abelarde Sanction in Brixton ontmoet. Hy het toe op ’n plaas naby Migdol geboer — dis iewers op die vlaktes van die Wes-Transvaal, tussen Sannieshof en Schweizer-Reneke. Ek moet sê, toe ons hoor iemand van Migdol met die naam Piet Planter gaan ’n gig saam met ons doen, was ons heel verbouereerd. Maar Piet was ’n hit met die crowd. Daardie aand het hy ons kom vermaak met die songs wat hy skryf as hy alleen in die aande op sy plaas sit. Sy skerp sin vir humor het die Jo’burgers lekker laat lag. In een van sy songs sing hy heel sinies: “Groen, groen, ons toekoms is groen. Ons toekoms is John Deere groen ...” Hy het die song blykbaar geskryf in ’n poging om ’n borgskap van John Deere te kry. Maar hy het ook in sy arsenaal ’n hele aantal ernstige songs.

Op sy beurt het Piet ons uitgenooi om ’n draai in sy wêreld te kom maak. Ons het toe in Sannieshof en Schweizer-Reneke gaan gig. In Sannieshof het dit heel goed gegaan, maar in Schweizer wou hulle niks van die Brixton Moord & Roof Orkes weet nie. Hulle held was Piet Planter.

’n Paar maande later moes hulle afskeid neem van hulle held. Piet is Londen toe — vir twee jaar.

* * *

Musikaal is daar wonderlike dinge aan die gebeur in Londen — maar ook in Europa in die algemeen. Verskillende musiekstyle van die 1970’s en die 1980’s word op nuwe maniere deur rock bands herinterpreteer. Daar is byvoorbeeld The Darkness, wat die hele “glam rock”-ding van die seventies terugbring. Hulle het pas nommer een op die charts geslaan toe ek daar was.

Maar daar is twee ander heel teenstrydige rigtings wat my meer opgewonde maak.

Aan die een kant is daar White Stripes, wat op hulle CD Elephant nie ’n enkele rekenaar gebruik met die opname, meng en meester nie. Deesdae word die meeste musiek digitaal opgeneem, gemeng en gemeester — dis net doodeenvoudig makliker. Maar White Stripes se musiek word tot op die been gestroop — dit gaan weer oor die skop wat jy kry uit goeie tunes, interessante lirieke en good old-fashioned rock ’n roll. Hulle gaan back to basics. White Stripes het natuurlik al ’n groot aanhang in Suid-Afrika gekry. Plaaslik het ook Valiant Swart, met die opname van Maanhare, sy vorige CD, ’n kombinasie van analoog- en digitale tegnieke gebruik. Soms kan ’n rekenaar net nie die warm klank wat ’n opname op band van ’n kitaar weergee, namaak nie.

Die ander stroom loop in presies die teenoorgestelde rigting. Die voorbeeld wat ek hier wil noem, is ’n baie obskure kunstenaar van Berlyn. Haar naam is Peaches en die CD waarna ek geluister het se naam is The Teaches of Peaches. Sommige mense noem dit Electropunk, en ander weer Electroclash. Wat hier gebeur, is die gebruik van slegs digitale klanke. Nie ’n enkele kitaar, trom, of konvensionele instrument word ingespan nie. Baie van hierdie electropunks kry hulle inspirasie van Kraftwerk, die Duitse band wat bekend geword het vir hulle elektroniese klanke in die 1980’s. Maar Peaches se aanslag is nie om die elektroniese klanke mooi of soet te laat klink, soos baie van die pop bands in die 1980’s gedoen het nie. Haar musiek konfronteer ’n mens en sal waarskynlik heeltemal te kras vir die Suid-Afrikaanse mark wees. Een van haar songs se naam is byvoorbeeld “Fuck the pain away”. Die naaste Suid-Afrikaanse voorbeeld hiervan is seker Die Naaimasjiene, en miskien ook van Battery 9 se nuutste songs.

* * *

So verander tye. Stilletjies het Piet Planter geskiedenis gemaak, maar niemand in Suid-Afrika of in Londen steur hulle aan die ongelooflike ironie daarvan nie. ’n Paar maande gelede het hy die eerste Afrikaanse sanger geword om sy debuut-CD in Londen vry te stel. En die CD is nog nie eers in Suid-Afrika beskikbaar nie!

Die CD se naam is Almal Oppie Moltrein, en die titelsnit met dieselfde naam is my gunsteling. Hulle sê as jy nog dink die Underground is wonderlik, woon jy nie lank genoeg in Londen nie. Maar hel, ek sal rêrig nie omgee as Johannesburg so ’n effektiewe treinstelsel kan kry nie. Dan hoef jy nie jou sleutels vir iemand aan die begin van die aand se party te gee nie. Daar’s min plekke wat so jolig is soos daardie laaste treine in Londen net voor 1-uur in die oggend. Die volgende oggend is daardie treine stampvol en glad nie meer so vrolik nie. Oor hierdie moltreine sing Piet Planter:

As die bliksem met die bleskop
hier langs my net wou opskuif
En die pommie wat my stoel vat
uit Londen uit wou wegbly
En jy sê vir die blond met die serp en die hoed
wat jy met haar in jou vryetyd sal doen …

Soos “Jim Comes to Jo’burg”, verstaan baie Suid-Afrikaners wat vir die eerste keer in ’n werklik groot stad soos New York, Londen of Parys aankom, hoe dit voel om anoniem te wees. Op ’n manier is dit vervreemdend, want jy weet byvoorbeeld nog nie mooi om aan die regterkant van die roltrap te staan sodat die haastige mense aan die linkerkant kan verbyhardloop nie. Maar jy leer vinnig, want hulle help jou gou reg. Of jy verstaan nie hoe die donderse masjiene werk waar jy kaartjies vir die trein of die trem kan koop nie.

Aan die ander kant is dit bevrydend, want vir die eerste keer in jou lewe is jy werklik anoniem. In ’n kosmopolitiese omgewing lyk jy soos al die ander mense — behalwe dalk nou vir jou vellies met die rooi veters.

Maar in die konteks van hierdie anonimiteit kan jy jouself soms lelik vasloop:

Die pommie draai toe om,
Sy klap jou dat jy lê
Want sy vertaan toe al die tyd alles wat jy sê
En dink jy is ver, maar eintlik is jy nie
Want buitekant die stasie staan die sneeuman
met sy drie-nul-drie …
En almal op die moltrein kom van Bloemfontein.

’n Klomp Suid-Afrikaanse vriende van Piet het ’n skaap by hom bestel vir ’n spitbraai. Ons moes die skaap die Saterdagmiddag by ’n pub gaan aflewer. Gelukkig was dit nie ver van die slaghuis af nie, en ons stap toe sommer — Piet met die skaap oor sy skouer. Die uitdrukking op die ander voetgangers se gesigte was iets om te aanskou! En die verbasing toe die blokman deur die kroeg stap om die skaap in die agterplaas af te lewer waar die spitbraai al opgeslaan was. Dit was voorwaar beter performance art as wat as wat Damien Hirst al ooit aangepak het.

My ander gunsteling op die CD is ’n hartseer een met die naam “Lolliepop”. Hier sing Piet:

Blouoog-laaitie by die bottelstoor
Jy het jou ma se oë
Dan koop jy vir jou pa sy bottel dop
Met die change koop jy vir jou ’n lolliepop.

Later in die song sing hy oor die laaitie se fiets in die pawn shop, en oor die tandemuis wat ’n IOU op sy kussing los.

Maar al sy songs is nie hartseer nie. Ou Piet kan ’n romantikus wees as hy sing: “Ek dra die t-shirt waarin jy geslaap het …” En soms is hy weer heel bitter: “Daar was heuning in haar mond, maar gal aan haar lyf …”

Maar terug in Londen op die moltrein:

En die omie met die bleskop groet jou in die taal
Sy dogter woon in Londen en hy het haar kom haal …

Kom terug ouens! Alles hier is nie so sleg nie. En Piet Planter is ook nou terug in die land. Dis jammer dat hy nie vir Damien Hirst kon wys hoe om vleis met sout, salpeter en koljander te preserveer, eerder as met formalien nie. Nou is Londen sy beste blokman kwyt. Julle sal maar ’n nuwe slaghuis moet soek. En as julle hom oor die moltrein wil hoor sing, sal julle dit hier moet kom doen. Of die CD koop en in die oggend op pad werk toe op julle oorfone moet luister terwyl julle, soos al die pommies, julle koerante lees:

Want almal op die moltrein kom van Bloemfontein ...

18 November 2003

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.