RiemTelegram - warm boekenuusArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Ernest Hemmingway, Federico Garcia Lorca, JK Rowling en die Franse boekbedryf

Dit sal Dawid se eerste bad wees sedert 1873. En die “bad” sal sowat ses maande duur. Michelangelo se beroemde Dawid-beeld word tans vir die eerste maal in 129 jaar skoongemaak. Dit het kundiges nagenoeg 11 jaar geneem om voor te berei vir die delikate skoonmaakproses van die vyf meter hoë marmerstandbeeld. Michelangelo is in 1501 deur Florence se wolverkopersgilde opdrag gegee om die beeld te maak. Dawid het tot 1873 in die Piazza della Signoria gestaan voordat hy verskuif is na die Galleria dell’Accademia.

* * *

“A visually stunning work of art.” Dit kan van baie dinge gesê word, maar die feit dat Britse kunstenaar Damien Hirst daarmee verwys het na die 11 September-aanvalle op die VSA, het wenkbroue laat lig. Hirst het in ’n onderhoud met BBC News Online gesê dat “they (die kapers) need congratulating, which a lot of people shy away from, which is a very dangerous thing.” Na ’n geskokte reaksie het Hirst ’n verklaring uitgereik waarin hy apologie aangeteken het. Volgens Hirst was die uitlatings ’n “misrepresentation of my thoughts and feelings”.

* * *

Alhoewel Harry Potter-aanhangers steeds wag op die vyfde boek, gaan die skrywer van dié gewilde reeks, JK Rowling, skynbaar van krag tot krag. In New York het ’n hof ten gunste van Rowling beslis nadat sy aangekla is van plagiaat. Kinderboekskryfster Nancy Stouffer het beweer Rowling het haar idees vir Harry Potter gekry van haar boek The Legend of Rah and the Muggles wat in die 1980’s gepubliseer is. Die hof het bevind dat Stouffer dokumente vervals het om haar saak te versterk en sy is beveel om $30 000 en ’n persentasie van Rowling se regskoste te betaal.

Intussen het ’n meningspeiling deur die opvoedkundige uitgewer Kumon getoon dat Rowling se Harry Potter and the Philosopher’s Stone die gewildste kinderboek van alle tye is. Kumon het drie lyste opgestel: een soos bepaal deur kinders, een deur volwassenes en ’n gekombineerde lys. Die vier Harry Potter-boeke was die enigstes wat die top-posisies op al drie lyste behaal het.

* * *

Douglas Adams se kultuswerk, The Hitchhiker’s Guide to the Galaxy, gaan binnekort verfilm word. Adams het jare lank filmmakers in Hollywood probeer oortuig om sy beroemdste boek te verfilm. Jay Roach, die regisseur van die Austin Powers-flieke, het te kenne gegee dat hy die projek gaan aanpak. Net jammer Adams sal nie die eindresultaat kan sien nie. Hy is onverwags in Mei 2001 op die ouderdom van 49 aan ’n hartaanval oorlede.

* * *

’n Argentynse versamelaar beweer hy is in besit van die enigste stemopname van die digter Federico Garcia Lorca. Die opname is glo gedurende Lorca se toer na Argentinië in die 1930’s gemaak — kort voordat hy deur Franco se soldate in Spanje doodgeskiet is. Die opname sou deur Argentinië se Radio Splendid en Radio Prieto gedoen wees en Lorca lewer kommentaar op stiergevegte, akteurs en literêre kritici. Roberto di Chiari het die opname vir die Lorca Museum in Granada aangebied, maar die museum is skepties oor die egtheid van die opname, aangesien Di Chiari weier dat kundiges daarna luister.

* * *

Die boekbedryf is Frankryk se grootste kulturele industrie. In 2001 alleen is 54 415 titels gedruk, insluitende 26 499 nuwe werke en 360 miljoen boeke met ’n waarde van 2,36 miljard euro is verkoop. Hierdie syfers laat ’n mens onvergenoegd voel oor ons eie substandaard boekebedryf. Goed, die Franse leserskorps staan 60 miljoen sterk, maar onthou, die Franse speel ook rugby …

* * *

Ernest Hemingway se persoonlike en literêre dokumente gaan vir die eerste maal in veertig jaar aan navorsers en belangstellendes beskikbaar gestel word. Die versameling, bestaande uit 3 000 briewe, 9 000 boeke, 3 000 foto’s, gewere, jagtrofeë en verskeie manuskripte, word tans in die kelder van Hemingway se eertydse woning buite Havana gestoor. ’n Biograaf, A Scott Berg, het die vonds ’n “CAT scan of Hemingway’s brain” genoem.

Bronne: Time Magazine, IOL, Yahoo!, Independent, BBC, The New York Times


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.