RiemTelegram - warm boekenuusArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

JM Coetzee, moderne kuns, Britney Spears en meer

Die Universiteit van Oxford het op Woensdag 19 Junie 2002 ’n eredoktorsgraad toegeken aan JM Coetzee. Coetzee, wat reeds twee maal met die Booker-prys bekroon is, het saam met die akteur Paul Scofield en die skrywer professor Romila Thapar grade in die lettere ontvang. Die toekenning kom, ironies genoeg, in dieselfde week as wat Debbie Taylor van Mslexia (die tydskrif vir “women who write”) die wenners van die Booker-prys gekritiseer het as skrywers wat konformeer aan “a masculine literary aesthetic”.

***

Bonkbuster, n. Chiefly Brit. (colloq. and humorous). A type of popular novel characterised by frequent sexual encounters between the characters”. Sedert Maandag 17 Junie 2002 is dié woord amptelik deel van die Engelse taal nadat die Oxford English Dictionary dit saam met 1 763 nuwe en verwerkte inskrywings by die woordeboek gevoeg het. Die woord is die eerste maal neergepen deur die Guardian se rubriekskrywer, Sue Limb (“Dulcie Domum”). Sy het daarmee vorendag gekom nadat ’n uitgewer haar gevra het om “a big, thick book with lots of bonking in it” te skryf — amper soos ’n blockbuster.

***

Moderne kuns veroorsaak depressie. Aldus ’n student in kunsteorie en postmodernisme wat ná sy studie sielkundige behandeling moes ontvang vir ’n akute gevoel van “vervreemding”. Scott Reid het na afloop van sy studie gevoel die postmodernistiese teorie wat hy geleer het, het alles gerelativeer en sy lewe “leeg en betekenisloos” gelaat. ’n Reeks antidepressante, onder andere Prozac, is voorgeskryf — en ’n kursus in geskiedenis.

***

Andrew Lloyd Webber se nuutste musiekblyspel, Bombay Dreams, het pas in Londen se West End geopen. Die blyspel handel oor ’n jong seun uit ’n krotbuurt wat daarvan droom om ’n Bollywood-ster te word, en sy verhouding met ’n filmbaas se dogter. Webber hoop dat die stuk ’n treffer sal wees by veral die Indiër-gemeenskap in Londen. Onlangs het Bend It Like Beckham, ’n film oor ’n Sikh-meisie in Londen wat daarvan droom om ’n sokkerster te word, die fliekgangers laat toustaan. Dit is dalk nie ’n goeie tyd vir Mbongeni Ngema om Londen te besoek nie.

***

Met Big Brother II om die draai is dit interessant om te merk dat teoretici en filosowe nou ook toetree tot die “Hoekom-kyk-ons-dit?”-debat. Frankryk se postmodernistiese ghoeroe, Jean Baudrillard, gee ’n verklaring vir dié “enthusiastic consumption of this hallucinogenic banality”. “People are fascinated and terrified,” sê Baudrillard, “by the indifference of Nothing-to-say, Nothing-to-do, the indifference of existence itself. Television has created an insidious global non-event, the ‘complete telemorphosis of society’ in which the spectators are implicated in the spectacle: we have all become Big Brother”.

***

£11,61. Dit was die somtotaal wat ’n Amerikaanse Internetgebruiker vir die 26-jarige Brit Gareth Malham se siel op die veilingswebtuiste, eBay, betaal het. Malham het die idee gekry nadat hy ’n episode van The Simpsons gekyk het waar Bart Simpson iets soortgelyks doen. Sodra die transaksie voltrek is, sal Malham glo ’n regsdokument teken — met sy eie bloed — en sodoende sy siel oordra aan die koper wat sý siel verloor het in ’n “lug-hokkie”-weddenskap.

***

Gratis heroïne! Vanuit ’n worsstalletjie wat omskep is in ’n “kliniek” gaan die omstrede Chileens-gebore kunstenaar Marco Evarista gratis heroïne uitdeel aan Deense dwelmverslaafdes. Hierdie radikale publisiteitsfoefie is daarop gemik om voorbrand te maak vir Evarista se uitstalling in die Vejle-kunsmuseum in Denemarke. Die uitstalling wys ’n versameling werke wat Evarista se nuutste verftegniek weerspieël: ’n mengsel van verf en heroïne vir ’n “interessante” effek. Evarista hoop die uitstalling sal hoog aangeslaan word deur beide die kritici en … kunsliefhebbers.

***

Sy’s blond, twintig jaar oud, beweer sy kan sing en huil steeds oor haar gewese kêrel. Nietemin kon sy mense soos Madonna, Steven Spielberg, Oprah Winfrey en Tiger Woods uitstof in Forbes se Global Celebrity List 2002. Met haar jaarlikse verdienste van $39,2 miljoen en 373 radio- en TV-optredes het Britney Spears die nr 1-posisie ingeneem op Forbes se invloedryke lys. ’n Mens wonder wat sy gaan doen as sy veertig is.

***

Met adviseurs en beskermhere soos André P Brink, Breyten Breytenbach, Desmond Tutu, lord Richard Attenborough, Nadine Gordimer en sir Anthony Sher lyk dit asof ons uiteindelik ’n literêre fees par excellence gaan hê. The South African International Festival of Books — Bookeish! — vind in 2004 in Kaapstad plaas. Plaaslike skrywers, uitgewers en boekhandelaars gaan die geleentheid kry om inheemse werke en talent aan ’n breë internasionale gehoor ten toon te stel. Hopelik is die twee jaar genoeg tyd vir Gert van Beaufort-Wes om sy langverwagte tweede bundel te skryf.


Bronne: Guardian Unlimited, BBC, Yahoo, IOL, The Sunday Times

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.