RiemTelegram - warm boekenuusArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Oor miljoene, James Joyce, Alexandre Dumas, Chinua Achebe en meer

Carina Diedericks-Hugo

’n Reaksie is van Helgaard Raubenheimer, hoofbestuurder van Nasboek, ontvang na die vorige riem oor Hannes van Zyl se bedanking as bestuurder van NB-uitgewers. Volgens mnr Raubenheimer het Hannes van Zyl geruime tyd gelede versoek dat sy opvolger nou reeds geïdentifiseer word, aangesien hy vroeër as beplan uit die bedryf wil tree om aan ander belange aandag te kan gee. Hierdie proses is nou aan die gang, en sodra dit voltrek is, sal ’n aankondiging gedoen kan word.

***

James Joyce was toe selfs meer produktief as wat eers vermoed is. Die Ierse Nasionale Biblioteek het voorheen onbekende en ongepubliseerde manuskripte van Joyce gekoop vir $11,7 miljoen. Die manuskripte is ontdek in ’n Franse paartjie se woonstel in Parys. Die paartjie, Paul and Lucie Leon, was glo bevriend met Joyce, en Paul het sy manuskripte vir hom gebêre nadat hy na Switserland gevlug het tydens die Tweede Wêreldoorlog. Paul is egter in hegtenis geneem en na Auschwitz gestuur, waar hy gesterf het. Die Leons se seun het twee jaar gelede, na sy ma se dood, die soldervertrek skoongemaak en op ’n kartondoos vol “ou papiere” afgekom. Praat van ’n lonende vriendskap.

***

Die groslys vir die 2002 Turner-kunsprys is pas aangekondig. Die Britse kunstenaars Fiona Banner, Liam Gillick, Keith Tyson en Catherine Yass ding mee om die gesogte prys wat op 8 Desember vanjaar bekendgemaak word. Verlede jaar se £20 000-prys is toegeken aan die konseptuele kunstenaar Martin Creed vir ’n werk wat bestaan het uit ’n leë galery waar die ligte aan en af gegaan het.

***

Om die skrywer Alexandre Dumas se sterfdatum 200 jaar gelede te vier, het president Jacques Chirac van Frankryk besluit dat Dumas herbegrawe sal word in die Paris Pantheon neffens medeskrywers Victor Hugo en Emile Zola. Die inwoners van Dumas se huidige rusplek, Villers-Cotterets, gaan egter Chirac se besluit teëstaan, aangesien dit ’n Franse wet van 1887 verontagsaam wat burgers die reg gee om self te besluit waar hulle begrawe wil word. Dumas het (destyds) versoek dat hy terugkeer na “future night in the same place where I emerged from life past”.

***

’n Plakkaat van ’n Boeing wat afpyl op ’n fopdosser se bene teen die agtergrond van New York het grootskaalse kritiek uitgelok. Die plakkaat van Tina C (ook bekend as die Britse komediant Chris Green) adverteer ’n hele rits optredes wat handel oor die gebeure van 11 September by vanjaar se Edinburgh Fringe Arts Festival. Volgens Green is die doel van die optredes nie om die draak te steek met die tragedie nie, maar om ’n satiriese blik te gee op die media se hantering van die gebeure.

***

Die Nigeriese skrywer Chinua Achebe het die Duitse Uitgewers- en Boekverkopersassosiasie se literêre vredesprys gewen. Die prys word sedert 1950 toegeken aan ’n skrywer wie se persoonlike waardes getuig van ’n verbintenis tot wêreldvrede en begrip. Volgens die pryskomitee is Achebe “an unchallenged founder of an authentic English-language novelistic tradition in West Africa. His central theme is to create peace in a region engaged in a permanent cultural conflict.” Achebe beplan om die $14 000 prysgeld te gebruik vir die vertaling van wêreldliteratuur in sy moedertaal, Igbo.

***

Banksy, Brittanje se beroemdste en ontwykendste graffitikunstenaar, het koningin Elizabeth II se Goue Jubileum op ’n alternatiewe manier in Southwark, sentraal-Londen, gevier. Voor ’n enorme muurskildery van koningin Elizabeth as sjimpansee en die koninklike wagte sans hulle broeke het honderde mense opgedaag om fees te vier onder streng polisietoesig. Banksy het egter sy reputasie gestand gedoen en verdwyn voordat iemand hom kon gewaar. Kopieë van Banksy se nuwe boek Existencilism is by die partytjie verkoop. Van sy vorige boek, Banging Your Head Against a Brick Wall, is 22 000 eksemplare verkoop. Sy kunswerke word vir tot £10 000 van die hand gesit. Banksy het al werksaanbiedinge van Nike, Microsoft en Coca Cola van die hand gewys, sowel as ’n geleentheid om by die Tate-galery uit te stal. Hy het eerder “Mind the crap” op die trappe van die Tate gespuit voor ’n Turner-prysseremonie.

***

Babamelkformule staan tussen skrywers Germain Greer en Jim Crace en die literêre fees in Hay-on-Wye, ook bekend as “Woodstock for the mind”, in Wallis. Greer en Crace het onttrek nadat dit bekend geword het dat Nestlé een van die 98 borge is. Nestlé word deur aktiviste veroordeel vir hulle aggressiewe bemarkingsveldtog van hulle babamelkformule in ontwikkelende lande. Volgens die Wêreld-Gesondheidsorganisasie is die formule skadelik vir babas, omdat dit bemark en verkoop word in gebiede waar daar nie skoon water beskikbaar is nie en waar die ma gewoonlik nie die gebruiksaanwysings kan lees nie.

***

Die Narnia-reeks getuig van blatante religieuse propaganda. Philip Pullman, bekroonde skrywer van die gewilde His Dark Materials, het dié stelling gemaak by die pas afgelope Guardian Hay Festival in Brittanje. Voor ’n gehoor van oorwegend kinders en tieners het Pullman gesê die Narnia-reeks van CS Lewis is rassisties en verkleineer vroue, en Lewis het die reeks doelbewus gebruik as ’n propagandaveldtog vir sy eie godsdienstige idees. Pullman het verlede jaar nuus gemaak toe die derde boek in sy trilogie, The Amber Spyglass, met beide die Whitbread Children’s Award en die Whitbread-toekenning vir fiksie weggestap het. Konserwatiewe kritici meen egter dat Pullman se ateïstiese oortuiging hom “the most dangerous author in Britain” maak.

***

Danksy die ondernemingsgees van ’n knap uitgewer gaan klassieke Engelse werke nou ook in Afrikaans beskikbaar wees. Die Afrikaanse vertaling van die Narnia-reeks word eersdaags deur Human & Rousseau uitgereik. Die reeks is vertaal deur André P Brink en Janie Oosthuysen. Die internasionale topverkoper Artemis Fowl van Eoin Colfer (vertaal deur Janie Oosthuysen) verskyn ook binnekort by Human & Rousseau.

***

“’n Dokument van haat” — dit is die beskrywing van die Duitse skrywer Martin Walser se jongste roman Tod eines Kritikers (Death of a Critic) wat September vanjaar verskyn. Walser, een van Duitsland se bekendste en belangrikste na-oorlogse skrywers, en Heinrich Böll en Günter Grass se literêre tydgenoot, ontken aantygings dat die boek anti-Semities is en die Nazi’s idealiseer. Alhoewel die boek nog nie beskikbaar is nie, het Frank Schirrmacher van die Frankfurter Allgemeine Zeitung wel die boek onder oë gehad en gesê “the book toys with the fiction of finishing off what the Nazis did not accomplish.” Die Duitse kanselier, Gerhard Schröder, het Walser nou uitgedaag tot ’n openbare debat oor sy omstrede idees oor die opkoms van die Derde Ryk.


Bronne: Guardian Unlimited, BBC, Yahoo, IOL, News 24

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.