RiemTelegram - warm boekenuusArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

RiemTelegram

Deborah Steinmair

 

Bill van 'n boek

Gewese Amerikaanse president Bill Clinton (foto onder) het sy lewensverhaal neergepen. Resensente is nie juis entoesiasties oor My Life (wat teen 957 bladsye selfs dikker as LitNet se eie Die Omstrede God is) nie. New York Times se Michiko Kakutani het dit as "slordig, selfbevredigend en dikwels skeelmakend vervelig" beskryf. Newsweek het dit afgemaak as "nou nie juis 'n naelbyt-ervaring nie."

Volgens Bob Wietrak van Barnes & Noble sal hierdie en ander resensies absoluut geen invloed op verkope hê nie. Wietrak het uitgewys dat mense die boek koop om uit te vind wat Clinton te sê het eerder as hoe hy dit sê. Ons sal moet wag om uit te vind of hy uitwei oor die wat en die hoe van me Lewinsky, sy wat so frappant verewig is in die Liquorice Allsorts-advertensie.

Hoe dit ook al sy, vooruitbestellings oorskry reeds die 2 miljoen-kerf. 'n Washingtonse boekhandelaar het hierdie Bill-lustigheid met Harry Potter-manie vergelyk, met boekwinkels wat laat oop bly om teen middernag af te skop met verkope.

 

Praag en praal

Op die plaaslike boekefront is daar helaas nie van manie sprake nie, hoewel 'n redelike skaretjie op Protea Boekhuis in Stellenbosch toegesak het om die bleek esteet Dan Roodt (foto regs) te kom bekyk tydens die bekendstelling van Moltrein op Saterdag 19 Junie. Nie almal was so entoesiasties soos die Kaapse skryfster wat "fascisme" geskree het op Dan se vraag oor wat die toekoms inhou, of die naamlose vrou van Melkbos wat skalks wou weet of apartheid dalk maar bloot 'n misverstand was nie.

'n Wenperd uit die Praag-stal is die onnabootsbare Kleinboer (foto links) wat verlede week hier in ons kontrei gekuier het en met die Rapport/Jan Rabie-boekprys weggestap het.
Geen man is 'n eiland nie: Dan Sleigh het die gesogte M-Net prys verower. Gaan lees hier oor Die Pryse.

 

Hel is ander mense (bron: www.mnet.co.za)

'n Suid-Afrikaanse vrou wat deelnemers aan ons kletsforum, SêNet, na hul toetsborde laat gryp is Marietta Theunissen van die kykNET-program Die Ander Kant. Me Theunissen het die volgende onsterflike woorde te sê oor die hiernamaals: "Die 'Ander Kant' bestaan uit 7 hemele. Daar is ook 'n hel, maar die meeste van die tyd het ons 'n hel op aarde. 'Hel' is 'n vlak waar die baie euwel mense tot in lengte van dae bly." Gaan lees die onderhoud hier.

 

Amanda se koetsier (bron: Rapport)

Op die sprokiesfront gaan dit bedrywig. Die Buksie van Hoopstad het 'n kishou geslaan en gooi haar raket oorboord vir die liefde van 'n Hollywoodse vroetelpappie, Arnon Milchan wat $1,1 miljard (bykans R7 miljard) sterk en die vervaardiger van Hollywood-treffers soos Pretty Woman, JFK, Free Willy, Natural Born Killers, LA Confidential, Fight Club, Runaway Jury en Man on Fire is. Love/stroop vir Amanda Coetzer (foto regs)?

 

Crossing Jordan (bron: Huisgenoot)

Nog 'n Suid-Afrikaanse meisie wat nooit weer skottelgoed hoef te was nie, is die gewese Mej Tiener van Eikenhof in Gauteng, Gina Athans (foto links) wat na 'n segetog op die loopplanke van Parys met 'n vooraanstaande Jordaniër gaan trou. Volgens Huisgenoot sluit die gastelys die koninklikes van Jordanië in, asook popsensasies soos Enrique Iglesias, Dannii Minogue, 50 Cent en Puff Daddy. Gaan lees die hele artikel hier.

'n Sprokie wat helaas nie gelukkig geëindig het nie, is die van Imran Khan, oud-krieketspeler en deesdae politikus van Pakistan en sy Britse Jemima, wie se huwelik been voor paaltjie uitgevang is.

 

Maak hom los, tokkelos

Daar's 'n vis in die bos ... ons Liedjieboer ry nie meer alleen op sy Harley nie ... Bly by my vannag, het skrywer Jeanette Ferreira gefluister, en die res is geskiedenis:

en die meermin en die lorelei
kan my skepe nie meer stuit nie
die hemel is my asem
en die aarde is my fluit.
(Anton Goosen)

Sedertdien ry hulle in 'n wonnerlike wolwielwa.

 

 

 

LitNet: 24 Mei 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.