ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Obrigada, Madeira!

Magda J van Rensburg, 2006

Besoekers is beslis nie voorbereid op die oorrompelende prag van hierdie Atlantiese Oseaan-eiland nie. Brosjures kan jou net eenvoudig nie op die impak daarvan voorberei nie.

Verskeie legendes bestaan oor die ontdekking van Madeira en die ander eilande van hierdie argipel. Geskiedkundige dokumente bevestig dat die ontdekker van Madeira in 1419, en stigter van Funchal, die Portugese skeepsvaarder Joâo Consalves Zarco was. Dit was glo hy wat die naam Ilha da madeira (“die woudeiland”) aan Madeira toegeken het, beskrywend van sy eerste, blywende indruk.

Een romantiese legende lui egter dat ’n Engelse avonturier, ene Robert Machim, hom in 1346 saam met sy geliefde op die eiland gestrand bevind het en dat die dorpie Machico na hom vernoem is.

Madeira is eintlik die uitstaande punt van ’n berg, diep geanker in die see. Van die wêreld se hoogste pieke word hier aangetref, soos die Pico Ruivo en Pico do Areiro, waarvandaan besoekers panoramiese vergesigte oor die eiland het. Hierdie hoë pieke is in misterieuse miswolke gehul.

’n Bosbrand wat deur ’n bosbouer gestig is en buite beheer geraak het, het glo sewe jaar lank gebrand voordat dit finaal uitgebrand het. Vandag word daar suikerriet, allerlei druifsoorte vir wyn, vrugteboorde, groente en blomme op hierdie vrugbare, vulkaniese eiland verbou.

Daar word dikwels na hierdie pragtige Portugese eiland verwys as “Pêrel van die Oseaan”, want sy milde klimaat, lowerryke plantegroei en omringende blou oseaan dra alles daartoe by om dit as ’n baie besonderse bestemming uit te sonder. Ook die heuwellandskap, met netjiese wingerd-terrasse, diep valleie met vrugbare landerytjies, levadas (waterleidingskanale), piesang- en suikerplantasies, ongekunstelde vissersdorpies. Ons is onmiddellik betower toe ons na ’n vlug van negentig minute vanaf Lissabon op Funchal neerstryk - die senutergende landing op die kort aanloopbaan-aan-see ten spyt!

Fennel (vinkel) groei orals wild en het geblom tot ‘n hoofstad, Funchal. Dié pragtige oukusdorp lê genestel in ‘n skilderagtige baai aan die voet van majestueuse berge. Vandag woon, woeker en werk 100 000 inwoners in die kompakte stad.

Die ou gedeelte van Funchal, Zona Velha, kan maklik te voet verken word. Langs klipstraatjies kan jy draal en ronddwaal en draal tussen ou koloniale-styl geboue, sewentiende-eeuse kloosters en agtiende-eeuse herehuise. Hoogtepunte soos die vyftiende-eeuse Sè-katedraal, St Clara-klooster, Quinta das Cruzes-huismuseum van Zarco (eerste goewerneur van Madeira), ander ou forte en monumente, soos dié van Columbus en prins Hendrik die Seevaarder in St Catharina-park, is ingesluit op die besigtigingsprogram. Die voëlpark, orgideëhuis en teetuin by Jardim Botanico word na ‘n warm busrit besoek vir koelte en lafenis. Hier in die botaniese tuin groei daar selfs ‘n paar Suid-Afrikaanse immigrante – ingevoerde proteas!

Oral langs die pad pryk natuurlike, inheemse en eksotiese plantegroei: krismisrose, aronskelke, strelitzias, agapante, anthuriums, poinsettias, bougainvillea, frangipani, hibiskus en persgetooide jakarandas. G’n wonder dat kaptein James Cook die eiland in 1768 as “die ontvanger van die natuur se vrygewigheid” bestempel het nie. Die Portugese koning Manuel I het die mooi eiland op ’n ander geleentheid as ’n “drywende tuin” beskryf. Op Madeira is daar slegs twee seisoene: lente en somer. Die aangename, milde klimaat werk soos ’n tonikum in op ’n mens se gestel én ingesteldheid.

Ons akkommodasie was by die moderne Casino Park Hotel, ’n vyfster-hotel met konferensiesale, ’n casino en elke gerief wat gaste mag verlang. Dié ultramoderne gebou (ontwerp deur Oscar Niemeyer, argitek van die moderne stad Brasilia) lyk soos ’n yslike lemoenuitdrukker. By die ontvangstoonbank word brosjures en pamflette uitgestal; ’n groot verskeidenheid besoeke en uitstappies sou ons week lange besoek beslis die moeite werd maak.

Ander vyfster-hotelle sluit in die Tivoli Ocean Park met ‘n spa waar jy heeldag gepamperlang kan word, Crowne Plaza en Pestana Grand, met alle toeriste-fasiliteite waaroor mens kan droom. Vir diegene wat hul hande nie so diep in die sak kan druk nie, is alternatiewe akkommodasie “no problemsh!”.

Die bedrywige vis-, vrugte-, blomme- en groentemark, Mercado dos Lavradores,was darem binne stapafstand van ons hotel in Funchal. Varsuitgestalde seekos het ons monde só laat water dat ons amper nie kon wag vir die eerste proeseltjie calamari en ’n sluk Coral-bier nie. Die espada-visgereg is een van die eiland se smaaklike spesialiteite - ook nie goedkoop nie, want hierdie swart vis word glo met handvislyne uit die diepsee gevang! Presunto-ham en ’n geurige espatada geroosterde biefkebab word voorgesit by seefrontkafeetjies en restaurante met welluidende name soos Estrela do Mar, Caravela en Espadarte, langs Avenida do Mar in Funchal.

Die trots van elke manlike grondeienaar is sekerlik sy wingerd. Vir wynproesessies het ons wynkelders, soos die ou sewentiende-eeuse Fransiskaanse Klooster, Adegas Sao Francisco en Diogosbesoek, waar ons Rainwater-soetwyn uitgesoek het en allerlei kleurvolle wynbottel-etikette van Fidalgo, Sercial, Malmsey Solera, Spinola Boal, Verdelho en dies meer versamel het. Oulike, handgeverfde glasies is gratis bygevoeg by ons bestelling en pryk tuis op ‘n wynrak.

Veel interessanter vir die damesgeslag is die markstalletjies en groter winkelsCasa do Turista en Artecouro met Portugese aandenkings –azulejos-keramiekteëls, handgeborduurde bloese, tafeldoeke, voorskote, vatlappies, petit point-tapisserie en ander handwerk in helder Madeira-kleure. Hierdie tradisionele borduurwerk is die trots van elke huisvrou op Madeira. Groter winkels, soos die Madeira Superbia, het ook ’n verskeidenheid uitgesoekte kunshandwerk te koop gehad.

Casa do Turista in Funchal was baie behulpsaam met die verskaffing van inligting en het ook eilandverkenning gereël wat bergritte deur tonnels, bergpasse, skerp draaie, watervalle en forelplase ingesluit het. Ons het waardering gehad vir die vernuftig-uitgelegde terrasse wingerd en die waterleidingsvore teen die steil berghange. Wandelpaaie langs hierdie koellevadas is netjies uitgelê en gekaart. Die toerbus het by ’n paar miradouros (uitkykplekke) hoog tussen die persblou pieke stilgehou, sodat ons vandaar die mees asemrowende see- en bergpanoramas kon waardeer. ’n Forelplaas was ook op die agenda.

Quinta das Cruzes-villas en tuine langs die Estrada Monumental-pad is ’n oorblyfsel van die welgestelde besoekers van ouds. Daar is egter ook baie eenvoudiger en toegerankte ou Madeira-huisies met tradisionele kleifiguurtjies op hoeke van teëldakke. Die driehoekige Palheiros-strooidakhuisies wat ’n mens teëkom, word eintlik as beesskuilings gebruik, omdat daar gevaarlike klowe en onbegaanbare terrein is. Nie ver van Funchal af nie lê die Santa Clara-nonneklooster verskuil in die kratervallei, Eirado. Nabygeleë Camacha is ‘n vertoonkas van unieke rottangwerk – onweerstaanbare mandjies, onvervoerbare meubels!

Die Toboggan Run, of rottang-slee-rit, vanaf Monte was sekerlik die hoogtepunt van ons besoek aan Madeira. Toeriste sit twee-twee in ’n carro-rottangmandjie (vroeër gebruik vir die vervoer van vragte druiwe) wat vinnig weggestoot word om al langs ’n gladgebruikte paadjie tot ver onder op veilige gelykgrond te gly. Twee stewige mans aan weerskante balanseer die mandjieslee op die keisteenvlak en reguleer die spoed en rigting afwaarts. So ’n jollierit gaan gewoonlik met uitbundige gille gepaard! Gelukkig het die bedagsame gids ons gewaarsku om nie ons elmboë te laat uitsteek nie - die growwe klipmure kan glo geniepsig seermaak.

Die bootrit met Amigos de Mar vanaf Funchal-hawe al met die kus langs was ’n heerlike ondervinding. Die kuslyn bestaan hoofsaaklik uit steil vulkaniese rotskranse en die see is ’n donker asuurblou. ’n Interessante gesig was die touleertjie oor ’n hoë krans, ver af ondertoe na ’n klein landerytjie onder op die grond op seevlak. Die eienaarboer het nou werklik elke duim grond waarop hy kon aanspraak maak, benut vir sy plante. Presies wát dit was, kon ons nie uitmaak nie – heel waarskynlik een of ander soort groente.

Die bootjie vaar langsaam verby die hoë Girão-kaap, die eertydse walvisstasie by Canical, en ’n klein swartsand-strandjie, Prainha. Vanweë die vulkaniese oorsprong van Madeira sal mens tevergeefs soek na mooi wit sandstrande. Besoekers kan egter afkoel in hoogwaterpoele by Porto Moniz. Ons het geleentheid gekry om van die boot af in die koel, blou see in te duik en heerlik te swem en watertrap. Vars vis, Portugese broodjies en ’n kraffie koel Madeira-wyn is aan boord vir middagete voorgesit. Tradisionele Madeira heuningkoek en soet waatlemoen het ons maalter see afgerond. Op die ligte deining in Camara de Lobos se hawetjie het kleurvolle vissersbootjies gewieg; ons het ons daar en dan voorgeneem om weer by hierdie informele waterkantkafeetjies uit te kom.

Die meer energieke garde kan genoeg adrenalien pomp met grootwild-visvang, bergfiets-uitdagings, hangsweef, scubaduik, en dies meer. Saans word volksdanse gedemonstreer, espetata (sappige biefsosaties met speserye gedokter) gebraai en ‘n lewendige aandjie met kontrei-likeur afgerond.

Op Madeira word daar dikwels plesierig feesgevier - blommefeeste, wynfeeste, volksdans-kompetisies, skaapskeer-uitdagings en die gewilde Sentana-gesinsfees, en Nuwejaar word met oorgawe gevier. Madeira-dansgroepe, uitgevat in tradisionele drag tree dikwels by groot hotelle op vir aandvermaak.

’n Week was nie lank genoeg nie. Hierdie pragtige Portugese eiland behoort nie net vir so ’n kort tydjie besoek te word nie; ’n mens sal heelwat langer daar kan kuier sonder om verveeld te raak in mooiste Madeira. Soos promosiebrosjures tereg beweer: Madeira is werklik “iewers spesiaals”! Obrigada! Dankie, Madeira!



LitNet: 18 Julie 2006

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.