ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Waar kom die kar vandaan? (Richtersveld)

Margarethie Bredenkamp, 2005

"Waar kom die kar vandaan? Dit is nie ons wêreld se stof dié nie."

"Nee, ek en die kar kom ver, ons is moeg geloop."

George vat aan die stof, vryf dit tussen sy vingers en kyk my aan. Ek begin verduidelik; gaan haal die pakke foto's in die huis. Hy staar. Kyk op van die pak foto's na die bekendheid van die welige tuin. Vra uit oor die klippe, die min plante, die vreemde kokerbome. Hy kyk en kyk. Toe hy klaar is, gee hy 'n Groot Lelike Vloekwoord "… maar dit is droog daar." En toe wéét ek: ek het in my doel geslaag; ek het leer foto's neem wat dit wat ek gesien en beleef het, kan weergee.

Vir baie jare is ek gefrustreerd omdat die foto's wat ek neem, nie kan vertel wat ek gesien en ervaar het nie. Toe lees ek 'n artikel van Colla Swart, wat daar in Namakwaland fotografie kursusse aanbied.

Na 'n paar jaar kry ek die logistiek van tyd en finansies reg … of so het ek gedink … "Die kursus in blommetyd is vol, ons het nog een of twee plekke vir die Weskus en dan 'n paar vir die Richtersveld."

Weskus val in 'n besige tyd by die werk. Sonder om op die kaart te kyk vul ek die vorms vir Richtersveld in en betaal die deposito. En dit is miskien net hier waar ek iets oor myself moet sê: ek bly in 'n woonstel in Sunnyside, ek is 'n staatsamptenaar, ek is ongetroud, en ek ry met 'n betroubare Toyota Corolla.

Ek begin uitvra oor kameras en lense. 'n Vriendin sê: "Vat sommer my ou kamera … Manlief het vir hom 'n digitale ene gekoop. Ek weet net nie waar is sy boekie nie …"

Ek soek verward rond om iemand te kry om my touwys te maak met die kamera. Dit is 'n Pentax ME Super, wat omtrent agtien jaar oud is. Ek pak ook my mik-en-druk in, 'n Pentax Espio 140. Ek wil eintlik leer om goeie foto's met 'n "gewone" kamera te neem.

Ek spoor die Richtersveld op die kaart op. Besef dit is nie heeltemal waar ek gedink het dit is nie. "The Richtersveld is a rather secret, secluded, mainly inaccessible land tucked away in the north-western corner of Namaqualand." Oeps. Ek sal versigtig moet inpak.

Ek kyk weer op die kaart, tel die kilometers op, laat sit 'n CD-speler in my kar. Praat met mense. Soek die flits en koop batterye.

Die aand voor ek wegtrek, betrap ek my dat ek twee van alles inpak: twee borde, twee messe, twee vurke. Ek dwing myself om die ekstra goed terug te sit. "Jy is alleen tot op Kamieskroon, dan by mense, en dan weer alleen."

Ek pak vriende in – David Kramer, Laurika Rauch, die Soweto-strykorkes, Cesara Evora … Coenie, Lucas, Mozart, Bach … Alain du Botton, Michael Connely …

Ek vat die pad en daar anderkant Sannieshof vertel David al singende vir my van die Karoo.

Ken jy die Karoo
hier bly slang en akkedis
baie jare terug
was daai akkedis 'n vis
nou kry jy skulpe innie rots
jy kry skedels innie klei
hierdie hele droë leegte onnerwater
glo vir my.

Op Kamieskroon aangekom ontmoet ek my medereisigers. Ons is altesaam nege kursusgangers, twee instrukteurs en twee kampkommandante. Daar is twee getroudes, twee geoloë, twee ongetroudes, twee weduwees, ses baie ervare fotograwe en ses voertuie geskik vir rowwe terrein.

My kameratoerusting veroorsaak konsternasie. Almal het die nuutste, groot lense, ligmeters, filters en polariseerders en praat tale wat ek nie verstaan nie. Ek rol nog die film met die hand. Niks is outomaties nie. Niemand sê iets nie, maar ek is nie doof nie.

Voor dagbreek die volgende oggend is ons veld toe om te gaan foto's neem. Moet seker maak die kameras is reg voordat ons Richtersveld toe ry.

Ek onderskei my as baie onervare en bly saam met twee ander beginners in die hotel se tuin agter waar Colla ons een vir een onder hande neem en help. Uiteindelik het ek ook 'n film vol.

Lesings oor lyn, lig, vorm en tekstuur word in die eerste twee dae afgewissel met praktiese werk en evaluering. Elkeen kies ses skyfies op 'n slag wat geëvalueer word en die ervare fotograwe gee raad: "Doen volgende keer dit … probeer om nie dat in die voorgrond te hê nie …"

Die aand voordat ons Richtersveld toe vertrek, kyk ons na verskillende fotograwe se foto’s van die Richtersveld om te sien wat gedoen kan word. Ek gaan slaap met drome van foto's in my kop. Skadu’s teen klippe, 'n kokerboom, geel in die blom teen die blou lug …

Dit is 'n lang pad na die Richtersveld. Ons gaan van Khubus se kant in en die pad is net 'n litteken in die landskap. Ons stop dikwels vir foto's. Almal probeer dieselfde ding afneem en daar in die verlatenheid is 'n vertrapping. By 'n blommende kokerboom neem ek 'n paar uitfokus-foto’s van broeke en boude soos mense voor my inbeweeg.

Teen 'n klipkoppie maak ons die beste van die laaste sonstrale en kom na donker by die kampplek waar die kampvuur al brand en die tente opgeslaan is. Helmut en Maryna se handewerk. Elkeen kry 'n bed, matras en kussing. Dit is donker.

My flits het nie die klipperige reis goed oorleef nie en gaan aan en af na willekeur. My kamera het nie die klipperige reis en geskud goed oorleef nie en daar is rubber op die spieël. Ek sukkel om my goed in die donker te kry. Ek is baie bekommerd dat ek 'n oorlas van myself gaan maak.

Die waswater word uitgedeel in vyfliterkanne. "Dit is vir die week." Myne ruik effens na grenadella.

Die aand gaan slaap ek met baie sorge. Gaan ek regkom? Ek sukkel nog so met die kamera. Gaan ek skoon bly? Is my klere geskik? … En toe, deur 'n skrefie in 'n ander man se tent sien ek die melkweg … Ek sleep my bed buitentoe en slaap net daar onder die sterre.

Voor ligdag drink ons koffie en gaan neem stelling in om dáárdie foto te neem sodra die son opkom, die lig net reg val. Tot so tienuur is ons in die veld en neem foto’s: bome, klippe en wat jou oog ook al vang.

In die hitte van die dag soek elkeen 'n skadukol langs 'n rots en daar is kampstilte. Ons rus, lees, slaap, pak toerusting reg en na middagkoffie gaan ons weer veld toe.

Die Richtersveld is 'n landskap sonder grond, waar diere bewegingloos ineenkrimp teen die aanslag van die dag se hitte. Party plante is dik geswel in 'n poging om elke druppel vog te bewaar, terwyl ander verskrompel staan en wag vir 'n paar druppels reën voordat hulle 'n blomrok aantrek. Maar die strak, onbuigsame kurwes van die kaal, barre landskap is fotogenies. Onbedek staan die geologiese landskap daar in die son. Lig word geabsorbeer en weerkaats.

Springbokvlakte, Tatasberg, Rosyntjieberg ... ons neem stelling in en wag vir die paar oomblikke wat die lig reg val. Die kleure verskuif, verdiep, verdwyn en daar bly net 'n nagloed agter. Sodra die son weg is, kom die bottel sjerrie uit en ons drink op die dag, die grotes wat weggekom het en dié wat vasgevang is.

Ek leer die weerlose plantjies afneem teen die ongenadige natuur. Die klein detail en die groot geheel. Moeder Natuur wat oor jare en jare rustig haar gang gegaan het. Lawa wat opgeborrel het, verweer het. Die Richtersveld is soos die gebeentes van 'n dier – geen grond en gras om dit te bedek nie.

Onverwags daag William Blake op:

To see the World in a grain of sand
And Heaven in a wild flower
Hold Infinity in the palm of your hand
And Eternity in an hour.

Terug op Kamieskroon word die films ontwikkel en elkeen lewer skyfies in vir evaluering. Die kenners gee vir oulaas raad en moedig aan.

En toe die finale afsluiting: met Mozart se musiek in die agtergrond kry elkeen kans om haar tien gunstelingskyfies te wys. Geen kommentaar nie, net daardie foto’s wat vir jou spesiaal is en dit wat jy vir oulaas met die ander wil deel.

Want dit het ek besef: wie jy is, wys in jou foto's. Geen twee mense interpreteer 'n klip, 'n boom, 'n sonsondergang dieselfde nie.

George het die stof van die kar afgewas, maar dit wat ek beleef het en die die foto’s wat ek geneem het, is onuitwisbaar vasgevang.




LitNet: 27 Januarie 2006

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.