ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Ek laat my geel hart agter

Anel Heydenrych, 2001

Ek het van kleins af geweet dat ek anders is, maar toe ek die dag op Tsjiang Kai-sjek Lughawe land, het ek besef: "Boerenooi, jy hoort in 'n hok, jy behoort nie toegelaat te word om vry tussen normale mense rond te beweeg nie." Almal was geel en ek was grys. Grys van twintig ure se vlieg en twee nagte se geen slaap.

Terwyl ek hier in my Taipeise woonstelletjie op die negende vloer vir jou, my geel man, sit en wag, weet ek dat kleur die laaste ding is wat saak maak. My oë beweeg van die geel vlam na my rooigeverfde toonnaels - vier van hulle skree vir nuwe naellak en ek drentel kamer toe om die watte en ander nodiges te gaan haal vir die vervelige werk. Dit lyk altyd vir my asof ander vrouens daarvan hou om hulle toonnaels te verf, die Sjinese poppies met hulle nommer 6-lyfies en nommer 3-voetjies se toonnaeltjies lyk altyd of hulle elke aand minstens 'n uur daaraan spandeer.

"Wat op dees aarde het jy tog in my gesien?" wonder ek terwyl ek vir die soveelste keer die kerrie in die pot doelloos rondroer.

Waar bly jy tog? Die Taipeise verkeer irriteer my vanaand meer as gewoonlik, ek is nie lus vir my eie gedagtes of geselskap nie, en in hemelsnaam nog minder lus vir ligsinnige praatjies oor "Taiwan food" of iets absurds. Kom tog net.

Tewyl ek op die balkon staan en na die malende geel miertjies onder in die night-market kyk, dink ek aan my suster Rika in die Kaap se e-pos-vraag so 'n maand gelede: "Hoe verskillend is Afrika dan nou van Taiwan? Is dit hoofsaaklik die taal, prentjieskrif of voorkoms wat die mense van die Ooste so anders as die Weste maak? Wat is dan die wesenlike verskil?"

Ek dink dis eintlik verbasend dat die twee wêrelddele mekaar met gewone vliegtuie kan bereik. Ek onthou die eerste keer toe ek dit vir jou probeer verduidelik het.

Ons het in een van die substandaard-kafees naby jou skooltjie gesit en biefnoedels eet. So 'n dik noedel-en-beesblokkie-besigheid wat net in Taiwan lekker kan wees. In Suid-Afrika sal enige middelklasmens sy neus daarvoor optrek en vra of die broodwinner van die huis sy werk verloor het. Maar in daardie stadium was ek nog ietwat bewus van jou "face culture" en wou darem nog 'n redelik goeie indruk maak.

Ek onthou wel dat ek dit duidelik gestel het dat dit erg vreemd sal wees in my land as die vrou drie biere drink en die man niks - wat op aarde gaan aan met julle Sjinese mans? Waarop jy uit jou maag gelag het en geantwoord het: "It's not healthy to drink alcohol."

"I know, but what's the use of going into a mental institution healthy - I choose sanity above health … if I don't sometimes drink in this crazy country of yours, I will definitely go insane!" het ek tussen slukke geantwoord.

"Yes, but your country is dangerous, especially for a white woman living all by herself." (Altyd besorgd oor my veiligheid.)

"Danger is in one's mind, my friend. Look at the Americans, they take on the world because they fear the world will take away their comfortable, rich lives … I think they should fear their own thinking …"

En so het ons gewoonlik aangehou, tot die noedelrestaurant-eienaar ons so hoflik as moontlik kom vra het om te gaan.

Wanneer ons ons sitte in 'n nuwe noedelrestaurant of Kantonnese plekkie gekry het, was jou eerste vraag gewoonlik (heel waarskynlik om my van wêreldpolitiek en denke af weg te kry): "So tell me about Africa."

Dit was altyd die lekkerste. Die eerste aand onthou ek goed. Ek het baie bier - Taiwan peedjo - gedrink, en in 'n stadium het die Sjinese kelnerin jou gevra hoe dit moontlik is dat 'n vrou ná so baie bier nog kan regop sit.

En op daardie einste eerste aand raak my tong behoorlik los: "Ons staan nie op ons hurke en piepie nie (behalwe in die veld). Toe ek die eerste dag in Taipei se strate 'n toilet gesoek het, was dit vreeslik - ek storm by 'n haarsalon in ek probeer aan die dames deur middel van my beste mimiek (wat ek met my dramagraad gedink het heel goed was) illustreer dat ek 'n toilet nodig het. Hulle giggel verward en skarrel rond en ek staan vaal, verleë en opgeblaas in die hoek en bid dat daar tog net 'n Engelse engel uit die hemel moet neerdaal sodat ek soos 'n gewone mens die toilet kan gebruik.

"Twee maer Taiwannese meisies skarrel op en af terwyl ek voel hoe my wange van bloedrooi na brulpadda-opgeswolle verander. As daardie poppies nog één skottel bring waarin ek my voete moes was, pieps ek net hier, in die salon met die groot venster wat duisende oë vang wat verbybeweeg, in daai skottel.

"Net toe ek dink nou is dit finaal verby met my face en hier gaan ek nie regkom nie, toe bel 'n kliënt onder haar rollers deur 'n Engelssprekende engel. Ek ruk die selfoon uit haar hand en smeek: 'Please explain to these people that I urgently, desperately need to use the toilet.' Koel kom die antwoord van die ander kant af: 'Oh, just say wc - they will all know, but I will explain to them if you insist.' Ek dink dit was die eerste keer in my lewe dat ek gehuil het van verligting toe ek uiteindelik op die troon neersak - en genadiglik was dit dié keer 'n Westerse een."

Ek onthou hoe jou gesig in rooi vlamme ontplof het terwyl jy jou oë afgevee het soos jy lag. Ek het so goed gevoel oor myself te midde van al die blapse en vernederings en gesigverloor en harde bedslaap in hierdie geel eilandjie - jy het so lekker gelag vir my grappies en my so spesiaal en so goed laat voel. Elke liewe aand na elke moordende onderwysdag met die geel kindertjies het jy dit vir my gedoen.

Dis 10:20 - waar is jy? Hoekom bel jy nie?

Na al jou gesondheidsprekies het ek tog weer begin rook. Ek steek die tweede sigaret vir die aand aan en down die laaste paar slukke van die Budweiser. Ek was nogal soet die afgelope tyd. Het die afgelope ses of sewe maande nogal jou prekies ernstig begin opneem - lekker gevoel omdat ek in die Sjinese poppieklere inpas en soveel meer energie het, soet my groen tee elke dag met oorgawe gesluk. Miskien was dit bloot omdat ek nie een geleentheid om jou vingers op my lyf te voel, wou misloop nie. Omdat daar weer 'n rede was om gesond te wil wees. Om op te staan elke dag, al het ek geweet die dag gaan fel en lank wees. Jou liefde het dit draaglik gemaak.

Dis byna 11:00 - ek voel vaak, lomerig … dronk? Die kerse is die helfte kleiner as toe ek hulle aangesteek het en ek wonder of ek nie tog die rooies moes gekoop het nie - julle "lucky" kleur. Wit is die kleur van dood.

Ek onthou hoe ek die eerste keer regtig skaam gekry het vir my taktlose Afrikaner-arrogansie toe ek op jou geskree het: "Why do you peep through my window? If you want to observe my classes, come inside and do it properly? We don't do it like that!"

Waarop jy met jou geel rustigheid geantwoord het: "I'm not observing your classes, I'm looking at you … I love to look at you when you teach so passionately."

Ek moet bieg, dis darem nie asof ek nooit na jou gekyk het nie. Ek onthou hoe ek eendag by jou verbygestap het en in die verbygaan gesien het hoe grys jou slape geword het, hoe jou normaalweg regop skouers laataand krom sak onder die druk van tien jaar se sewe dae 'n week skoolhou.

"How do you stay so cool when the Chinese parents are so unreasonable?" wou ek die aand tussen die skuim in die bad weet.

"Ah, they are just very serious about their children's education," het jy gesê. "It's their only hope."

Ek onthou dat jy daardie aand ná ons liefde gehuil het.

Dis byna 12:00 - hene, geel man, jy het my enigste hoop geword, waar is jy, vanaand?

"I don't want to die on a scooter in the middle of Taipei traffic! Stop driving like a lunatic!" het ek geskree toe jy my hospitaal toe jaag omdat ek gedehidreer was na dae se diarree van julle kos of water of die jirre alleen weet wat.

"I thought women from Africa were tough" het jy laggend oor jou skouer teruggeskree, waarop ek besluit het om die argument gewonne te gee sodat ek lewend by die hospitaal kon uitkom.

Ons is inderdaad tough, miskien nie almal so tough dat ons 50 kg-bondels hout vyftig kilometers ver op ons koppe kan dra en dan nog teruggaan vir die drinkwater terwyl ons nooit ophou sing nie. Nee, ek het weliswaar nie kaalvoet oor die Drakensberge getrek nie, maar hier in die Ooste besef ons tog Afrika het ons tot aanpasbare wesens gevorm.

Maar nie aanpasbaar genoeg om te aanvaar dat jy nie vanaand gaan kom groet nie. Dat jy nie die moed het om my te face vir 'n laaste keer nie.

Dis byna 2:00. Selfs die night-market-stalletjies begin al toemaak. Die reuk van tofu en gebraaide geelmielies hang nie meer in die lug nie.

Ek staar na my halfgepakte tasse in die hoek van die sitkamer, en ek wonder of die een met die wieletjies en pienk blomme groot genoeg sal wees om my hart in huis toe te vat.

"Stay with me, we can go to Africa together," het jy gesmeek.

"This is your life. I am not Asian, I can never be. I will always miss the call of the fish eagle and you will always have Taipei with its traffic and noise as home. It is our destiny.

Dis 2.30, my pakkie sigarette is leeg, daar is nie meer 'n bier in die yskas oor nie. Miskien moet ek tog probeer slaap.

Jy het seker vrede agter jou vrou se rug gekry. Jy het seker maar besluit dat haar koue rug in die bed veiliger is as my gesig so nat van die huil.

Ek gooi my naellaksak in die pienk tas en trek die ritssluiter met een trek toe. Miskien maak swaerie vir my 'n perlemoenpotjie in die Kaap. Miskien sal die Springbokke nou die All Blacks wen as ek terug is. Miskien sal die Karooveld nog so vol vrede wees en die olifante my weer laat huil omdat hulle so groot, maar tog so weerloos teen die mens se aanslag is.

Miskien smaak 'n Castle in Melville op 'n Vrydagmiddag tog lekkerder as enige ander bier in die wêreld.

Miskien sal Afrika my terugvat - selfs sonder 'n hart.

Ek kyk vir oulaas oor die Taipei-nag se liggies uit en draai dan om, sien my twee pare leerstapskoene eerbiedig langs die deur staan en ek dink … "Ek gaan netnou huis toe."



LitNet: 27 September 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.