ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Bath, Engeland

Stephan Smit, 2005

Ek sou graag wou sê dat ek soos die Israeliete van ouds met my lendene omgord gewag het, maar dit kan nie. Ons sal maar nie op die mees voor die hand liggende rede ingaan nie, maar dit kan nie hoofsaaklik wees omdat ek moeg en lui en half aan die sluimer uitgestrek lê in Kylee-se-stoel nie. (Niks met eienaarskap uit te make nie, net met voorliefdes.)

Wagtend, onvermydelik, op die skoner geslag, want dis Vrydagmiddag, die begin van ons langnaweek-wegbreek na Bath. In die kombuis is die padkos gepak: lekker broodjies met avo en bloukaas en sampioene en soetrissie en tamaties en blaarslaai en blatjang. G'n wonder ek's flou nie - harde werk om al die kombinasies en permutasies uit te werk. Stanley-flesse vol koffie en tee. (Die tee was 'n fout, kan ek nou bysê: al die dekselse teedrinkers ontpop toe so wraggies op pad in mense van karakter.) En o ja, appels en piesangs en sappies en Wine Gums en tjips en … genoeg kos vir 'n leër - ek kan nie help dat ek geskiedenis op skool gehad en Napoleon se lesse ter harte geneem het nie.

Nou ja, die plan was dat ons halfvier ry, maar ek't my reggemaak vir vieruur, want die inersie van drie vrouens is hoog. Nou nie reële inersie nie (nee, so dapper is nie eens ek nie), net die virtuele inersie. Halfvier storm die drie (Sonja, Kylee, die Australiese OT (dit rym op Engels) en Yolanda, Sonja se vriendin Mia se suster en vriendin uit eie reg) die huis binne. Vol verskonings oor besige verkeer. Bid jou aan, die magtige stad Rainham se spitstyd op 'n Vrydagmiddag drie-uur? (Okay, dit is so dat die skole ook daai tyd uitkom en die bloedjies ook nie deesdae meer kan loop nie; o nee, dit moet voor die skoolhek opgelaai word, verskoning dus aanvaarbaar.) Maar ek dwaal af.

Vieruur stap ons by die deur uit, doodbetyds op my agterkopbeplanning, maar die meisies is klaar op die agtervoet oor my geraas en geblaas dat ons laat is. (Mens moet vuil baklei as jy in die minderheid is.) Bondel in Kylee se Peugeot 106 in. Ek's beïndruk: almal en alles pas, al pas my knieë rondom my ore en al is Sonja die enigste meisie wat weet van min pak. Moet my goeie invloed wees.

Mis darem die ergste van Londen se huis-toe-gaan-verkeer (en sou selfs meer gemis het as die uwe beter gekonsentreer het sodat Kylee nie die A229-afdraai in die verkeerde baan benader en ons 'n 20 myl-draai ry nie). Sjuut daar uit die kombuis. Stop naby Basingstoke by 'n "Welcome Break" en laat mense gaap met ons Checkers-sak vol padkos so tussen al die tafels McDonalds en KFC deur. Who cares? Die meisies laaik my broodjies en koffie.

Ek en Kylee verstaan mekaar nie weer mis oor paaie nie en agtuur ry ons Bath binne. Die soektog na 'n B&B is nie te erg nie, veral as mens in ag neem dat die hele Bath skielik Iers is vir die heilige Patrick se feesdag én die Bath-halfmarathon wat oor die naweek afgedraf gaan word. Mens loop net in die straat af en kyk na al die "No Vacancies"-bordjies tot jy uiteindelik omdraai en teruggaan na die B&B met 'n "Vacancy"-bordjie regoor waar jy geparkeer het. Die weë van 'n vrou is onpeilbaar. En dié weë van drie?

Saterdagoggend verras die meisiekinders my en rapporteer op die minuut vir ontbyt. En ons verras die Sisiliaanse mama wat ontbyt bedien, want Kylee eet nie vleis of eiers nie en Yolanda kan nie besluit of sy Post Toasties wil hê of nie wil hê nie. Why have a mind? En ek dog ek maak 'n wins met al die spek en varkworsies wat in my rigting kom, met klem op "dog", want laatmiddag gee my kop met 'n migraine kennis dat al daai preserveermiddels nie goed is vir mens nie.

Na ontbyt vaar ons die dorp binne. Die dubbelsinnige padpredikante na die Tourist Information-kantoor maak dat ons driekwart van die "Bath Walkabout Tour" doen sommer nog vóór ons die kaart daarvoor het én dit nog op ons vol magies. Maar al die sandsteen en nou straatjies maak die verkenner in die meisies wakker en ek moet my beentjies roer om by te bly. Ek sjarrap en stap saam; sien net al die koffie- en fudgewinkels raak.

Tourist Information gee ons pryse vir bustoere en pamflette van dinge om te doen: genoeg om 'n boek mee te maak. Na 'n blits pow-wow op die plaveisel ruk ons op na die rooi busse vir 'n toer deur Bath. Ons gids doen sy bes om nuwe lewe in sy bejaarde gesegdes en grappies te blaas, en kry dit reg dat die lyk met tye wil-wil roer. Hy ken gelukkig sy geskiedenis (hoe sal ek in elk geval weet as hy spekskiet?) en is eintlik heel onderhoudend. In 'n driekwartier sien ons die belangrikste argitektoniese wonders wat Bath het om te bied: die Circus, geskoei op die Colosseum in Rome, maar binnekant buite gebou, die Royal Crescent met sy 114 Ioniese pilare, Pulteney se Brug, gebou met die Ponte Vecchio van Florence in gedagte, en die Guildhall met 'n atipiese Lady of Justice (sonder haar blinddoek) op die dak. Ons sien ook die toegeboude vensters wat gelei het tot die uitdrukking daylight robbery. (Blykbaar het een of ander vraatsige koning belasting gehef op huise met meer as ses vensters, wat gelei het tot belastingvermyding op 'n heel praktiese, hoewel esteties-onaanvaarbare, metode.)

Die toer in die fris en vars lentelug op die boonste (oop) verdieping van die bus maak 'n onkeerbare koffielus in my wakker en ons ruk op na Pulteney se Brug. Kry 'n oulike klein koffiewinkel op die brug en ek en Sonja kry dit reg om sterk te staan in ons "Lent"-onderneming (g'n sjokolade) en weg te bly van die uiters aanloklike chocolate fudge tart. Maar ons kan kommentaar lewer op die varsgebakte suurlemoensponskoek en gemmerbrood. Hoe-ha!

Wat's besonders aan die brug? Wel, dis gebou in 1769 en dra steeds moderne verkeer. Daar's ook winkeltjies aan weerskante van die brug (dws winkels oor die rivier) en argitektonies heel esteties aanvaarbaar vir my leke-oog.

Op 'n vroeëre aanbeveling van die bustoergids, gaan maak ons via die binnenshuise mark (hei, daar's die drie vrouens saam met my!) 'n draai by die Guildhall om na die drie kandelare (gewaardeer op 'n miljoen pond elk) te gaan kyk. Ek's nie omgepraat dat dit 'n goeie miljoen pond is nie, maar die banketsaal is darem gepas indrukwekkend met sy hoë plafon en beskilderde mure.

Daarna kom die baddens aan die beurt. Wat kan ek sê? Die Romeine kon bou! 1 500 jaar later en die oorspronklike swembad staan steeds. Net skade dat die Engelse, met hulle "nuwe" ontdekking van 'n "third way" nog nie kon uitwerk hoe om al daai warm water (meer as 'n miljoen liter 'n dag) nie ongebruik te laat wegloop nie. (Moet dalk vir Tony Blair as 'n konsultant huur en ontslaan as Eerste Minister, as ek my stuiwer in die armbeurs kan gooi.) Die baddens was tegelyk tempel, wasplek, uithangplek (letterlik en figuurlik, klink my) en ook kuurplek. Die dreineringstelsel vir die baddens dateer ook nog uit die Romeine se dae. Die gebou wat die baddens deesdae omring, is meer modern, eers in die 18de eeu deur 'n sekere Baldwin gebou.

Ook die Bath Abbey kry 'n beurt. 'n Kerk is 'n kerk is 'n kerk; sommiges is net 500 jaar oud. Kon nie help om te glimlag toe ek sien dat dié een gebou is na die biskop 'n droom gehad het waarin hy aangesê is om 'n nuwe kerk te bou nie. Nè. Wat's nuut onder die son?

'n Voetslaantoer na die Circus sluit die dag af en ons keer terug B&B toe vir nog 'n koppie koffie vir die meisies en migraine vir my.

Sondagmôre vat ek die trein Londen toe om 'n vriend van Amerika te ontmoet en 'n kragtoer van Londen in te pas. Hyde- en Green-parke, Buckingham-paleis (want dis soort van op pad na die stasie en Nick weet wragties nie dis die koningin se blyplek nie!), Leicester Square, Covent Garden, Tower of London, Towerbridge, Greenwich en die heilige Paulus se Katedraal. Gelukkig raak ek nou al weer gewoond aan baie voetslaan.

Die meisies gebruik my afwesigheid en durf die Museum of Costumes en Bath se winkels aan. Mmm. Geseënd is ek onder die volke!

Ek mis die trein terug na Bath met enkele sekondes (dit werk net in flieks om die trein in te hol!) en moet myself 'n hele uur op Paddington-stasie met die koerant vermaak. En natuurlik kyk die drie vrouens my met groot oë aan toe ek uiteindelik in Bath aankom. Ek verwag (verdiende) raas, maar nee, hulle het gelukkig te veel spoke opgejaag om te baklei.

Die volgende oggend verwar ons die Sisiliaanse mama toetentaal, want skielik is ons al vier van die vleis af en wil ons eiers hê: nie gebraai nie, maar geroer. Haar hele uitdrukking sê: Gekke vreemdelinge. Maar nou ja, we pay, we say.

Met ons magies vol, pak ons die pad terug huis toe aan, met 'n afdraai na Stonehenge. 'n Heel indrukwekkende plek om te besoek, selfs al is die klippe kleiner as wat ek verwag het. Prentjies kan ook soms jok!

Volgens die argeoloë het bouwerk daar al so 5 050 jaar gelede begin en tipies van priesters, moes dit chronies groter en beter totdat die bouers so 3 500 jaar gelede besluit genoeg is genoeg: hulle staak. Hoekom (beide stop én bou) kan ons maar net raai, maar daar's genoeg teorieë om mens mee te vermaak. Dit is darem so dat op die dag- en nageweninge en die twee sonstilstande die son op besonderse plekke deur die boë val; ek reken dus dat die son vir hulle ook belangrik was. En die ingenieursvernuf was iets besonders. Die ding van Stonehenge is dat iemand anders jou nie eintlik kan vertel hóé dit is nie; mens moet self daar staan en die klippe met jou laat praat.

Na ons toer om die klippe in 'n ysige wind praat die koffielus weer hard! Eindig met koffie en botterbroodjies op die randsteen net toe 'n toerbus sy vrag Amerikaners uitspoeg. En ons staar na mekaar; hulle so raserig soos hulle veralgemeen word en ons smullend soos apies in die dieretuin. Wie kyk vir wie? wonder ek onderlangs.

Maar soos my pa sou sê, die pad is lank en die klippies skerp en ons laat die Pietjoodjie weer kreun onder ons (nou groter) massa. Ek praat minder (en navigeer dus beter, wat natuurlik net die teorie dat vrouens beter is met multi-tasking bevestig) en ons vat die kortpad terug huis toe. Maandagmiddag vieruur ontknoop ons onsself by 98 Maidstone Road, Rainham.



LitNet: 09 September 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.