ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Glimlag! Jy's in Londen!

Voetstoots van Tonder, 2005

Nog 'n grys oggend in Londen. Daar was die laaste tyd baie van hulle gewees; dis regtig nie veel van 'n somer nie.

Gelukkig hou ek van dae soos hierdie; dis my tipe weer, dis tye wat ek weet dat ek my nie hoef te bekommer oor velkanker nie, ek het hoeka te veel in die son gesit by die Wanderers toe ek nog 'n klein seuntjie was. En dis dae wat ek nie hoef te aanskou hoe die gym-tipes met hulle frokkies en kort broekies probeer om hulle bruingebrande spiere af te wys in die park nie - hoe vlak kan 'n mens tog wees.

Maar afgesien van die weer was dit andersins ook maar grys in hierdie dorp van ons oor die laaste maand of wat; die meeste mense sal saamstem dat daar nie juis veel rede was om te glimlag nie.

Vyf weke gelede die eerste klomp bomme, sestig mense dood (of was dit op die ou end nader aan sewentig? - ek het ophou koerant lees vir 'n ruk, het bietjie van 'n oordosis gehad van die drama, die spekulasie, die paranoia, die teorieë van Scotland Yard, die rasionalisasies van die politici, die verontskuldiging van die Moslems).

Twee weke later nog bomme, maar nie een van hulle gaan af nie, wonder bo wonder - of was dit dalk net iemand se idee van 'n siek grap? Miskien maak dit nie saak nie: as jy eers die aanvanklike vrees in mense se harte gesaai het, kan jy seker omtrent ewe veel bereik met 'n amperse aanval as 'n rêrige een? Natuurlik gaan ons hulle ernstig opvat, ons het mos laas gesien wat hulle kan doen …

Die dag daarna word 'n onskuldige jong man uit Brasilië doodgeskiet deur die polisie naby sy huis in Stockwell, sewe skote in die kop, die meeste daarvan terwyl hy blykbaar al op die grond gelê het. Mens sou dink hulle moes baie seker gewees het dat die kêrel 'n gevaar was vir die samelewing voordat hulle sulke rowwe behandeling uitgedeel het. Maar nee, hy was toe op die ou end blykbaar heeltemal onskuldig, benewens die feit dat sy besoekersvisum skynbaar verval het. Asof dit 'n rede is vir sewe skote in die kop; die Engelse koerante sal ook enigiets probeer rasionaliseer.

Blykbaar het die kêrel 'n redelik dik trui aangehad, en dis wat die polisie aanvanklik suspisieus gemaak het. Sien, hulle het nie gedink dat dit so koud was daardie dag nie, en die vermoede was dat die Brasiliaan die trui maar net aangehad het om 'n lyfbom of twee te versteek. Is dit vergesog om dalk nou 'n vinger te wys na die man se ma, en te sê dat sy waarskynlik medepligtig is in sy premature dood, want dis mos maar wat ma's doen: hulle laat jou onnodig truie aantrek? Maar die gedagte maak my nogal bang, want ek is hoeka self nogal 'n koulike kind: mens weet nooit wanneer ek dalk ook een of ander tyd in die moeilikheid beland nie …

Wat sou jy gedoen het as jy êrens in Stockwell rondgeloop het en 'n klomp mans in gewone klere pluk gewere uit en rig dit op jou? Sou jy nie ook laat spaander het nie? Was jy al in Stockwell? Weet jy hoe 'n rowwe deel van die wêreld dit is? Gewone mense daar hardloop elke dag weg van ander wat gewere dra, so tussendeur hulle graanvlokkies en hulle oggendkoffie.

Nou sê die polisie dat hulle hulself tog geïdentifiseer het, en wel deur hulle blou petjies op te sit, die woord POLICE in netjiese geel letters daarop geborduur. Maar hoe op aarde verwag hulle dat enigeen van ons moet besef dat dit hulle amptelike identifikasie is? Hoe weet ek dis nie een of ander skarminkel wat 'n nagemaakte pet in Soho aangeskaf het nie? En wat as ek nie die borduursel op die petjies kan lees van dieselfde afstand af as wat hulle semi-outomatiese gewere kan raakskiet nie?

Die hele storie spook nou nog by my: iemand wat uit Suid-Amerika gekom het na die "eerste wêreld" om sy droom te volg, om 'n lewe te probeer maak, wat blykbaar al sy spaargeld elke maand teruggestuur het na sy ouers toe daar in die verte … Om een of ander rede laat hy my dink aan die hoofkarakter in Paulo Coelho se Alchemist wat ook maar net sy droom gevolg het - die skrywer van die boek is immers ook mos van Brasilië?

As ek reg onthou, het die hoofkarakter in Alchemist nooit nodig gehad het om hom te bekommer oor paspoorte of besoekersvisums nie - en tog het hy omtrent reg rondom die wêreld gereis … Maar dit laat my wel dink: met al hierdie polisiemanne wat rondloop, tot die tande gewapen, moet ek net nie vergeet om seker te maak dat my werkspermit steeds in orde is nie.

*

Ek het weer begin koerant lees; selfs 'n volstruis trek immers een of ander tyd sy kop uit die gat in die grond uit.

Vir 'n hele paar weke na die bomaanvalle was daar in die Londense dagblaaie huldeblyke vir al die slagoffers. Ek het elkeen van hulle gelees, al het ek nie een van die mense geken nie. Dit het my diep getref, heel moontlik omdat dit juis net so 'n gewone klomp mense was, en nie werklik "helde" in die tradisionele sin van die woord nie.

Soos wat ek huldeblyk op huldeblyk deurgelees het, het ek onwillekeurig teruggedink aan my Latyn-juffrou. Sy het my bykans 'n kwarteeu gelede geleer: "Nil Nisi Mortuis Bene" ("Sê niks behalwe goeie dinge van die dooies nie"). En ek het ook gedink aan Billy Joel, hy wat gesing het dat Only The Good Die Young …

'n Seleksie van die onbenullige, komplimentêre detail - net ter illustrasie: Laura Webb het altyd tyd gehad om ander mense te help, en sy het nooit 'n slegte woord te sê gehad oor enigiemand anders nie. Fiona Stevenson was hardwerkend en talentvol. Giles Hart het T-hemde verkoop vir liefdadigheid. William Wise het elke oggend 'n dubbele espresso saam met sy vriende gedrink in 'n koffiewinkel net om die hoek van waar hy periodiek sy hare gesny het. En Karolina Gluck, wat van Pole af gekom het, het 'n naeltjiering gehad; sy het ook gehou van haar gin & tonic.

Ek het baie gedink oor al die huldeblyke. My hart het uitgegaan na 'n klomp vreemde mense. En ek kon nie help om te dink nie: Is dit nie ongelooflik dat daar nie een Suid-Afrikaner dood is in die aanvalle nie? Na bewering maak my mense immers tussen vyf en tien persent van hierdie stad se bevolking uit; volgens die wet van gemiddeldes behoort daar met ander woorde 'n paar van ons in die slag te gebly het? Ook maar goed nie een van die bomme het in die Suidweste ontplof nie, in die Putney-Richmond-Wimbledon-belt, want dan was dit seker anders …

Toe kry ek 'n artikel onder oë waarin die kultuur van die selfmoord-bomdraers (of is dit -bomplanters?) verduidelik word, en hoe hulle inpas binne die raamwerk van die radikale Moslems. En ek moet sê: ek het my gat toet-en-taal, geheel en al, onvoorwaardelik afgeskrik toe ek dit lees.

Die artikel het my oë laat oopgaan. Ek het altyd geweet hierdie mense dink dat hulle onmiddellik paradys toe gaan die oomblik wanneer die bom geaktiveer word, maar ek het nie besef dat hulle verder glo hulle gaan ook nog kan voorspraak maak vir soveel as sewentig van hulle geliefdes wanneer dié eers eendag by die hemelpoorte opdaag nie. G'n wonder nie dat daar dan ook geen skaarste is aan gretige kandidate vir hierdie tipe missie nie; dis verder te verstane dat een en elk van hulle uitsien na die afhandeling van die projek met die grootste blydskap en afwagting. Hulle is hoegenaamd nie bang om dood te gaan nie; inteendeel, die enigste vrees is dat hulle faal in hulle missie. Die mense verwys nie daarna as selfmoord nie, hulle noem dit heilige ontploffings.

Dis verder ongelooflik maklik om die bomme te maak; ek het selfs 'n lys bestanddele raakgelees. En die oefening is bitter goedkoop; lyk my die trein- of buskaartjie is min of meer die duurste aspek.

Kortom, hierdie artikel was waarskynlik die mees skrikwekkende ding wat ek nog ooit onder oë gehad het.

O ja, nog iets: volgens die artikel het die meeste van die selfmoord-bomdraers blykbaar baarde. As jy my vra, moet Pretoria met ander woorde ligloop in die toekoms; ek dink ek vermy maar die Jakarandastad as ek weer Suid-Afrika toe gaan.

*

Intussen wil die moeilikheid net nie ophou nie. Nou die dag stop my bus naby Green Park: Picadilly is gesluit, daar's blykbaar 'n verlate kar naby die Royal Academy waaroor die polisie bekommerd is. Ek klim uit en vind 'n ompad werk toe. 'n Halfuur later daag die kar se eienaar op - ek weet nie of hy net in Starbucks was of wat nie - en alles is verby.

Die volgende dag word die gebou waarin ek werk, gesluit en al die strate om ons afgesper. Daar's 'n poskantoor op die grondvloer, en iemand het blykbaar 'n "suspisieuse pakkie" daar gevind. Die polisie se siel het nie gerus voordat hulle 'n "gekontroleerde ontploffing" gedoen het nie, wat dit ook al is; ek vermoed een of ander ou tannie in Cornwall se verjaarsdaggeskenk het dalk in die slag gebly.

So gaan die lewe aan, en elke dag raak ons meer gewoond aan die gevaar; ja, elke dag raak ons meer gatvol, en minder bang. Ek was immers in Johannesburg toe die Ellispark-bom ontplof het, en ek was in Kaapstad toe dit Planet Hollywood se beurt was. Hoekom moet ek nou bang wees?

As ek kyk na al die mense wat dood is in terreuraanvalle hier in Londen oor die afgelope dertig jaar, het ek 'n groter kans om môre op 'n piesangskil te gly en myself 'n fatale slag teen die kop toedien in die proses as om in 'n bomontploffing dood te gaan. Dis eenvoudige wiskunde.

Ja-nee, net as my strepie daar is, sal ek gaan - aldus my liewe moeder. En ek kon dit self nie beter gestel het nie.

Terloops, ek meen dat ek ook min of meer dieselfde kans het om volgende week die lotery te wen as wat ek het om in 'n bomaanval dood te gaan. En jy vra my nog hoekom koop ek dan nie loterykaartjies nie?

Maar tog moet ek bieg, dit was aardig toe ek kort na die bomaanvalle vir die eerste keer weer op 'n bus geklim het, veral aangesien ek net mooi daardie dag teruggekom het van 'n maatskappy-wegbreeksessie af. Met ander woorde ek het bagasie by my gehad - en is ek uitgekyk deur al die ander passasiers! Ek kan hulle nie blameer nie, ek het intussen al 'n hele paar keer dieselfde gedoen met ander passasiers.

Deesdae dink ek ook oor waar ek moet sit wanneer ek van openbare vervoer gebruik maak. Albei die busbomme was mos op die boonste vlak, so per definisie is dit seker veiliger onder. Of is die teendeel eerder waar: Gaan die bomdraers ons juis volgende keer verras en hulle strategie verander? Ek sou dit immers gedoen het as ek hulle was; nie net verhoog jy die spanningsfaktor nie, maar mens kan sekerlik ook meer verwoesting saai aan die onderkant, aangesien deel van die slag in elk geval die dak gaan uitskiet (met ander woorde die ou aan die bokant se vloer, om vir Lucas Maree redelik liberaal te parafraseer).

Een ding is seker, en dit is dat ek nie weer agter in die bus sit nie, want dit lyk my dis waar die meeste van die moeilikheid is. My onderwysers was skynbaar reg toe hulle destyds gewaarsku het: dis die kinders wat agter op die bus sit wat gewoonlik in die moeilikheid kom … alhoewel ek nie kan dink dat hulle self 'n idee kon gehad het oor hoe profeties hulle woorde eendag sou blyk te wees nie.

*

So gepraat van openbare vervoer: iets wat mens nie regtig besef voordat jy eers in Londen bly nie, is die feit dat feitlik elke eiendom in die stad binne hoor-afstand van 'n moltrein af gebou is. En ek praat nie van 'n stasie nie, ek praat van die treinspore self. Gaan kyk maar net na die veelkleurige tube-kaart, en dink bietjie daaroor. Aanvaar verder dat jy vanaf enige eiendom wat binne omtrent vyftig meter aan weerskante van een van die lyne af geleë is, gedurig die kom en gaan van elke trein kan hoor, en jy sal besef dat dit redelik moeilik is om geheel en al van die geraas te ontsnap.

Toe ek destyds my woonstel uitgekies het, het ek glad nie gedink aan die Sirkel- en Distriklyne wat daarnaby verbyloop nie, en met al die ander normale daggeluide het ek aanvanklik ook nie die treine gehoor nie. Maar toe ek op die ou end intrek, en daardie eerste aand eers stil in die bed lê, hoor ek iets wat klink soos 'n wind wat al hoe sterker raak. Ek het gedink dis 'n storm wat skielik opsteek … maar so gou as wat dit gekom het, het dit weer weggegaan, en dit het my 'n rukkie gevat om uit te pluis dat dit maar net die treine is wat so raas.

Dalk is dit wel 'n windgeluid? Mens voel immers die wind as jy op die perron staan soos wat die logge trein die lug in die tonnel voor hom uitstoot net voordat hy die stasie binnesnel. Of is dit maar net die skril geluid van staalwiel op staalspoor, verdof deur die aardkors? Wat dit ook al is, die geraas het my aanvanklik baie gepla, van sesuur die oggend tot eenuur die nag, elke paar minute, elke dag van die week. Ek het gekla by die eienaar van die woonstel, ek het hom selfs verwyt van latente gebreke. Ek het amper uitgetrek. Maar toe raak ek gewoond daaraan. En kort voor lank het ek lief geword daarvoor: dit het die geluid geword van by-die-huis-wees, amper soos Ma se etensklok, elke aand halfsewe, toe ek nog 'n klein seuntjie was …

Ek onthou nog die eerste keer wat ek Londen toe gekom het, amper agtien jaar gelede, en ek onthou hoe die moltreine my gefassineer het. Dis mos een van daai goed wat 'n Suid-Afrikaner laat besef: nou is jy regtig oorsee, ons het mos nie sulke goed by die huis nie. Dit definieer Londen amper net soveel as Big Ben, St Paul's en Buckingham-paleis.

Partykeer het ek sommer doelloos rondgery, net omdat dit so lekker was, en dit was immers "verniet" met my dagkaart.

Toe ek egter eers hier begin bly, het ek besef dis nie rêrig soveel pret om tube te ry nie. In die pendel-uur is die goed oorvol, vir groot dele van die jaar is dit snikheet, en dikwels ruik dit ook nie te goed nie. En net wanneer jy die diens die nodigste het, is daar dikwels 'n onderbreking, en skielik moet jy alternatiewe reisreëlings begin tref.

Nee wat, die toeriste kan maar die moltreine gebruik; ek verkies dit om eerder bus te ry. Maar ek hou nog steeds van die treingeluide by my huis …

Vir 'n hele paar weke het die treine naby my nie geraas nie. Die Sirkel-lyn het nie geloop ná die Aldgate-bom nie, en die deel van die Distrik-lyn wat by my woonstel verbyloop, het ook stilgestaan terwyl hulle besig was om op te ruim na die skade by Edgware Road se stasie. Maar nou die dag, terwyl ek in die bed lê en met myself onderhandel oor die vraag of dit dalk al tyd is om op te staan, besef ek eensklaps: die geraas is terug, die Distrik-lyn loop weer - amper soos die gekwetter van swaeltjies wat die begin van die lente aankondig na 'n lang, koue winter.

En toe rol ek maar om en wag vir die volgende trein om verby te kom. Ek het immers lank gewag om weer daardie geluid te hoor.

*

Twee Saterdae gelede het al die koerante dieselfde foto op die voorblad gehad: een van die mislukte bomplanters wat kaalbolyf op sy stoep staan, hande in die lug, verslae uitdrukking op die gesig, vet maag, harige bors en al, net voor sy arrestasie die vorige dag.

En sedertdien is die bomme gelukkig nie meer hoofnuus nie. Engeland het begin wen in die krieket, Robin Cook is skielik dood, en British Airways se mense het tog te lekker gestaak - so daar's baie ander brokkies wat nou weer kans staan om die voorblaaie te haal.

So, daar's baie redes om te glimlag vandag. Daar was betreklik lanklaas 'n bom wat afgegaan het. Die polisie glo hulle het die meeste van die skuldiges gearresteer. Geen onskuldige Brasilianers is onlangs doodgeskiet nie. Die stroom huldeblyke vir die bom-slagoffers het opgedroog. Die Distrik-lyn loop weer by my huis verby. En dit is 'n lekker grys dag.

Maar die grootste rede om te glimlag is dat ek nou-nou weer die stad se openbare vervoer gaan gebruik. En ek herinner myself gedurig aan al die geslotebaantelevisie-kameras wat nou teenwoordig is op elke bus, trein, en stasie - dieselfde kameras wat al die bomplanters betrap het oor die afgelope paar weke.

Met ander woorde, ek gaan ook afgeneem word vandag, waarskynlik 'n hele paar keer.

So ek beter maar glimlag: dis dalk die laaste foto wat ooit van my geneem word.



LitNet: 06 September 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.